Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 23—Wat is die Heiligdom?
Die skrif wat bo alle ander die grondslag, sowel as die kernpilaar van die advent-geloof was, was die verklaring: “Tweeduisend driehonderd aande en mores, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.” (Dan 8:14). Dit was bekende woorde vir alle gelowiges in die koms van die Here. Deur die lippe van duisende is hierdie profesie as die wagwoord vir hulle geloof herhaal. Almal was van mening dat hulle grootste verwagtings en mees gekoesterde hoop op die gebeure wat daarin voorspel is, berus het. Daar is aangetoon dat hierdie profetiese dae in die herfs van 1844 sou eindig. Saam met die res van die Christelike wêreld , het Adventiste geglo dat die aarde, of ‘n deel daarvan, die heiligdom was. Hulle het verstaan dat die reiniging van die heiligdom, die suiwering van die aarde deur vuur op die laaste groot dag sou wees en dat dit tydens die wederkoms sou plaasvind. Vandaar die gevolgtrekking dat Christus in die jaar 1844 sou terugkeer. GS 431.1
Maar die vasgestelde tyd het verbygegaan en die Here het nie gekom nie. Die gelowiges het geweet dat God se Woord nooit kon faal nie; dat hulle vertolking van die profesie foutief moes wees; maar waar het die fout gelê? Baie wou ondeurdag die knoop van die probleem ontrafel deur te ontken dat die 2 300 dae in 1844 geëindig het. Hulle kon egter geen rede hiervoor bied nie, behalwe die feit dat Christus nie op die tydstip toe hulle Hom verwag het, gekom het nie. Hulle het aangevoer dat as die profetiese tydperk in 1844 geëindig het, Christus sou gekom het om die heiligdom te reinig deur die aarde met vuur te suiwer; en aangesien Hy nie gekom het nie, kon daardie dae nog nie geëindig het nie. GS 431.2
Om hierdie gevolgtrekking te aanvaar, sou beteken om van die vorige berekening van die profetiese tydperke af te sien. Daar is gevind dat die 2 300 dae begin het toe die gebod van Artasasta vir die herstel en opbou van Jerusalem, in die herfs van 457 vC in werking getree het. Met dit as uitganspunt, was daar volkome eenstemmigheid in die toepassing van al die gebeure wat in die verduideliking van daardie tydperk in Daniël 9:25-27 voorspel is. Nege-en-sestig weke, die eerste 483 jaar van die 2 300 jaar, sou reik tot die Messias, die Gesalfde; en Christus se doop en salwing deur die Heilige Gees 27 nC, het die spesifikasie presies vervul. In die helfte van die sewentigste week sou die Messias afgesny word. Drie en ‘n half jaar na Sy doop, is Christus in die lente van die jaar 31 nC gekruisig. Die sewentig weke, of 490 jaar, was spesifiek op die Jode van toepassing. Aan die einde van hierdie periode het die volk die verwerping van Christus verseël, deur die vervolging van Sy dissipels en het die apostels hulle in 34 nC tot die heidene gewend. Van die eerste 490 jaar van die 2 300 wat toe geëindig het, het daar nog 1 810 jaar oorgebly. Vanaf 34 nC strek 1 810 jaar tot die jaar 1844. “Dan...” het die engel gesê, “...sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.” Al die voorafgaande spesifikasies van die profesie was ongetwyfeld op die vasgestelde tydstip vervul. GS 431.3
Volgens hierdie berekening, was alles duidelik en het ooreengestem, behalwe dat daar nie gesien is dat enige gebeurtenis wat aan die reiniging van die heiligdom beantwoord, in die jaar 1844 plaasgevind het nie. Om te ontken dat die dae op daardie tydstip geëindig het en om standpunte wat deur die onmiskenbare vervulling profesie bereik is te versaak, sou die hele saak in verwarring bring. GS 432.1
Maar God het Sy volk in die groot advent-beweging gelei. Sy krag en heerlikheid was met die werk en Hy sou nie toelaat dat dit in duisternis en teleurstelling eindig en as ‘n valse en fanatiese opgewondenheid bestempel word nie. Hy sou nie Sy Woord in twyfel en in onsekerheid laat nie. Alhoewel baie hul vorige berekening van die profetiese tydperke laat vaar en die korrektheid van die beweging daarvan ontken het, was ander wat nie bereid was om punte van geloof en ervaring wat deur die Skrif en die getuienis van die Heilige Gees van God ondersteun is, te verloën nie. Hulle het geglo dat hulle gesonde beginsels van interpretasie in hul bestudering van die profesieë toegepas het en dat dit hulle plig was om vas te hou aan die waarhede wat hulle reeds verkry het en om op dieselfde wyse van Bybelse navorsing voort te gaan. Met ernstige gebed het hulle hul standpunt hersien en die Skrif bestudeer om hul fout te ontdek. Aangesien hulle geen fout met die berekening van die profetiese tydperke kon vind nie, is hulle gelei om die onderwerp van die heiligdom van naderby te ondersoek. GS 432.2
In hul ondersoek het hulle gevind dat daar geen bewyse uit die Skrif is wat die algemene opvatting dat die aarde die heiligdom is, staaf nie; maar hulle het in die Bybel ‘n volledige uiteensetting van die onderwerp van die heiligdom, die aard, ligging en dienste daarvan gevind; die getuienis van die gewyde skrywers was so duidelik en volledig, dat dit die saak bo alle twyfel geplaas het. In sy brief aan die Hebreërs, sê die apostel Paulus: “So het dan die eerste verbond sowel verordeninge vir die erediens asook sy aardse heiligdom gehad. Want die tabernakel is so ingerig: die eerste, waarin die kandelaar was en die tafel en die toonbrode, wat die Heilige genoem word; en agter die tweede voorhangsel die tabernakel wat genoem word die Allerheiligste waarin ‘n goue wierookbak was en die ark van die verbond, rondom heeltemal met goud oortrek, waarin die goue kruik met die manna was en die staf van Aaron wat gebloei het en die tafels van die verbond; en daar bo-op die gerubs van die heerlikheid wat die versoendeksel oorskadu het.” (Heb 9:1-5). GS 433.1
Die heiligdom waarna Paulus hier verwys het, was die tabernakel wat deur Moses op bevel van God as die aardse woonplek van die Allerhoogste opgerig is. “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat ek onder hulle kan woon...” (Ex 25:8) was die opdrag wat aan Moses gegee is toe hy saam met God op die berg was. Die Israeliete het deur die woestyn getrek en die tabernakel is só opgerig dat dit van plek tot plek vervoer kon word; tog was dit ‘n manjifieke struktuur. Die mure het uit regop planke bestaan, wat swaar met goud bedek is en op silwer voetstukke geplaas is, terwyl die dak uit ‘n reeks gordyne of bedekkings bestaan het, waarvan die buitekant uit velle en die binnekant uit fyn linne, wat sierlik met figure van gerubs borduur is, bestaan het. Behalwe die buitenste voorhof, wat die brandofferaltaar bevat het, het die tabernakel self uit twee dele bestaan wat die heilige en die Allerheiligste plek genoem word, geskei deur ‘n ryk en sierlike gordyn of voorhangsel en ‘n soortgelyke voorhangsel wat voor die ingang van die eerste vertrek was. GS 433.2
Aan die suidekant van die heilige plek was die kandelaar met sewe lampe wat die heiligdom bedags, sowel as snags verlig het; aan die noordekant het die tafel met die toonbrode gestaan; en voor die voorhangsel, wat die Heilige plek van die Allerheiligste geskei het, was die goue reukofferaltaar waaruit ‘n geurige wolk van wierook en die gebede van Israel daagliks voor God opgegaan het. GS 434.1
In die Allerheiligste plek het die verbondsark gestaan, ‘n kis van duursame hout wat met goud oorgetrek is, was die bewaarplek van die twee kliptafels waarop God die wet van die Tien Gebooie geskryf het. Bokant die ark en wat as bedekking van die heilige kis gedien het, was die versoendeksel, ‘n werk van sierlike vakmanskap, oorvleuel deur twee gerubs, een op elke punt en alles uit soliede goud vervaardig. Hier is die Goddelike teenwoordigheid in ‘n wolk van heerlikheid tussen die gerubs geopenbaar. GS 434.2
Nadat die Hebreërs in Kanaan gevestig was, is die tabernakel deur die tempel van Salomo vervang, wat, hoewel dit ‘n permanente struktuur was en op groter skaal, het dit dieselfde afmetings gehad en is op dieselfde manier ingerig. In hierdie vorm het die heiligdom voortbestaan — behalwe gedurende die tyd van Daniël toe dit in puin gelê het — totdat dit in die jaar 70 nC deur die Romeine verwoes is. GS 434.3
Dit is die enigste heiligdom wat ooit op die aarde bestaan het, waaroor die Bybel enige inligting verskaf. Dit is deur Paulus as die heiligdom van die eerste verbond verklaar. Maar het die nuwe verbond geen heiligdom nie? GS 435.1
Na ‘n verdere ondersoek van die boek Hebreërs, het die soekers na die waarheid gevind dat die bestaan van ‘n tweede, of nuwe-verbond heiligdom, in die woorde van Paulus wat reeds aangehaal is, geïmpliseer word: “So dan het die eerste verbond sowel verordeninge vir die erediens asook sy aardse heiligdom gehad.” En die gebruik van die woord “asook”, dui daarop dat Paulus reeds vantevore van hierdie heiligdom gepraat het. Toe hulle terugkeer na die begin van die vorige hoofstuk, lees hulle: “Die hoofsaak nou van wat ons gesê het, is dit: Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele, ‘n bedienaar van die heilige dinge en van die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ‘n mens nie.” (Heb 8:1,2). GS 435.2
Hier is die heiligdom van die nuwe verbond geopenbaar. Die heiligdom van die eerste verbond is deur die mens opgerig, deur Moses gebou; hierdie heiligdom is deur die Here opgerig en nie deur ‘n mens nie. In die eerste heiligdom het aardse priesters hulle diens verrig; in laasgenoemde, bedien Christus, ons Hoëpriester, aan die regterhand van God. Die een heiligdom was op aarde en die ander een in die hemel. GS 435.3
Verder, is die tabernakel wat deur Moses opgerig is, volgens ‘n patroon gemaak. Die Here het hom beveel: “Volgens alles wat Ek jou laat sien — die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort — so moet julle dit maak.” En weer is die bevel gegee: “En kyk dat jy dit maak volgens die voorbeeld daarvan wat jou op die berg getoon is.” (Ex 25:9,40). En van die eerste tabernakel sê Paulus: “Dit was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word...” dat die heilige plekke “...afbeeldinge van die dinge in die hemele...” was; dat die priesters wat volgens die wet gawes geoffer het, “...'n afbeeldsel en skaduwee van hemelse dinge...” bedien het, en “...Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn.” (Heb 9:9,23;8:5;9:24). GS 435.4
Die heiligdom in die hemel waar Christus vir ons intree, is die grootse oorspronklike waarvan die heiligdom wat deur Moses opgerig is, ‘n skaduwee was. God het sy Gees op die bouers van die aardse heiligdom uitgestort. Die kunstige vaardigheid wat in die oprigting daarvan aan die dag gelê is, was ‘n openbaring van goddelike wysheid. Die mure het soos massiewe goudstrukture gelyk en het die lig van die sewe lampe van die goue kandelaar in alle rigtings weerspieël. Die tafel met toonbrode en die reukofferaltaar, het soos blink goud geglinster. Die pragtige gordyn wat die plafon gevorm het, was met figure van engele in blou, purper en skarlaken geborduur en het tot die prag van die toneel bygedra. En verder na binne agter die tweede voorhangsel was die heilige Sjekina, die sigbare manifestasie van God se heerlikheid, waar niemand anders behalwe die hoëpriester kon ingaan en bly lewe nie. GS 436.1
Die weergalose prag van die aardse tabernakel, het die heerlikheid van die hemelse tempel waar Christus, ons Voorloper, ons voor die troon van God bedien, weerspieël. Die woonplek van die Koning van die konings, waar duisend maal duisend voor Hom dien en tienduisend maal tienduisend voor Hom staan (Dan 7:10); daardie tempel, gevul met die heerlikheid van die ewige troon, waar serafs, Sy skitterende bewakers, hul gesigte in aanbidding bedek, was die pragtigste gebou wat ooit deur menslike hande opgerig is, maar ‘n dowwe weerkaatsing van Sy grootsheid en heerlikheid. Tog word belangrike waarhede aangaande die hemelse heiligdom en die groot werk wat daar vir die verlossing van die mens gedoen word, in die aardse heiligdom en die bediening daarvan, geleer. GS 436.2
Die heilige plekke van die heiligdom in die hemel word deur die twee afskortings van die aardse heiligdom voorgestel. Soos die apostel Johannes in die visioen ‘n gesig van die tempel van God in die hemel gekry het, het hy daar sewe vuurfakkels wat voor die troon van God gebrand het, gesien. (Openb 4:5). Verder het hy gesê: “‘n Ander engel het gekom en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê.” (Openb 8:3). Hier is die profeet toegelaat om die eerste afskorting van die heiligdom in die hemel te sien; en daar het hy “...sewe vuurfakkels...” en die “...goue wierookbak...” gesien, verteenwoordig deur die goue kandelaar en die reukofferaltaar in die aardse heiligdom. Weer het hy gesê: “Die tempel van God het oopgegaan in die hemel...” en hy het binne-in die voorhangsel ingekyk, in die Allerheiligste plek. Hier het hy die “verbondsark” gesien, verteenwoordig deur die ark wat deur Moses gemaak is om die wet van God te bewaar. (Openb 11:19). GS 437.1
So het diegene wat die onderwerp bestudeer het, onomstootlike bewys van die bestaan van die heiligdom in die hemel gevind. Moses het die aardse heiligdom volgens ‘n voorbeeld wat aan hom getoon is, gemaak. Paulus leer dat dit ‘n afbeeldsel van die ware heiligdom in die hemel was. Johannes het getuig dat hy die heiligdom in die hemel gesien het. GS 437.2
In die tempel in die hemel, die woonplek van God, is Sy troon in geregtigheid en oordeel gevestig. In die Allerheiligste plek is Sy wet, die groot reël van geregtigheid waarvolgens die ganse mensdom geoordeel word. Die ark wat die tafels van die wet verskans, is met die versoendeksel, waarvoor Christus sy bloed ten behoewe van die sondaar bepleit, bedek. So word die eenwording van geregtigheid en barmhartigheid in die plan van verlossing vir die mens voorgestel. Hierdie eenwording kon alleenlik deur oneindige wysheid beding word en deur oneindige mag bewerkstellig word; dit is ‘n eenheid wat die ganse hemel met verwondering en aanbidding vul. Die gerubs van die aardse heiligdom wat eerbiedig op die versoendeksel neerkyk, verteenwoordig die belang waarmee die hemelse leërskare die verlossingswerk bepeins. Dit is die verborgenheid van genade waarin die engele verlang om insae te hê; dat God regverdig kan wees terwyl Hy die berouvolle sondaar regverdig en Sy omgang met die gevalle oorblyfsel hernu; en dat Christus sou neerbuig om ontelbare menigtes uit die afgrond van ondergang op te rig en hulle met die vlekkelose kleed van Sy eie geregtigheid te beklee om hulle met engele wat nog nooit geval het nie te verenig en om vir ewig in die teenwoordigheid van God te woon. GS 437.3
Die werk van Christus, as Middelaar vir die mens, word in daardie pragtige profesie van Sagaria voorgestel, waar Hy die “Spruit” genoem word. Die profeet sê: “Hy sal die tempel van die Here bou ... Hy sal majesteit verkry en sit om te heers op Sy [die Vader se] troon; ook sal Hy ‘n priester wees op Sy troon en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.” (Sag 6:12,13). GS 438.1
“Hy sal die tempel van die Here bou.” Deur Sy soenoffer en bemiddeling, is Christus die Fondament en die Bouer van die kerk. Die apostel Paulus wys na Hom as “...die Hoeksteen ... in wie die hele gebou, saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word — tot ‘n woning van God in die gees.” (Efe 2:20-22). GS 438.2
“Hy sal majesteit verkry.” Aan Christus behoort die heerlikheid van die verlossing van die gevalle ras. Deur die ewige eeue, sal die lied van die verlostes wees: “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in Sy bloed ... aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Openb 1:5,6). GS 438.3
Hy sal “...sit om te heers op sy troon; ook sal Hy ‘n priester wees op Sy troon.” Maar Hy sit nie tans op die troon van Sy heerlikheid nie; die koninkryk van heerlikheid is nog nie ingelui nie. Eers wanneer Sy middelaarswerk beëindig is, sal God “...aan Hom die troon van sy vader Dawid gee...” ‘n koninkryk waaraan daar “...geen einde [sal] wees nie.” (Luk 1:32,33). Christus sit tans as Priester op Sy Vader se troon. (Openb 3:21). Op die troon saam met die ewige, selfbestaande Een, sit Hy wat “...ons krankhede op Hom geneem, en ons smarte...” gedra het, wat “...in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde...” sodat Hy “...dié [kan] help wat versoek word.” (Jes 53:4;Heb 4:15;2:18). “En as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader.” (1 Joh 2:1). Hy tree vir ons in met ‘n deurboorde en gebroke liggaam, van ‘n vlekkelose lewe. Die verwonde hande, die deurboorde sy, die verskeurde voete, pleit vir die gevalle mens wie se verlossing teen so ‘n oneindige prys gekoop is. GS 438.4
“En die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.” Die liefde van die Vader, nie minder as die van die Seun nie, is die fontein van die redding van die verlore ras. Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het Hy aan Sy dissipels gesê: “Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie; want die Vader self het julle lief.” (Joh 16:26,27). “...God [het] in Christus die wêreld met Homself versoen...” (2 Kor 5:19). En in die bediening in die heiligdom daarbo, “...sal die raad van vrede tussen hulle twee bestaan.” “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh 3:16). GS 439.1
Die vraag: Wat is die heiligdom? word duidelik in die Skrif beantwoord. Die term “heiligdom” soos dit in die Bybel gebruik word, verwys eerstens na die tabernakel wat deur Moses gebou is, as ‘n patroon van die hemelse dinge; en tweedens na die “ware tabernakel” in die hemel, waarvan die aardse heiligdom ‘n tipe was. Met die dood van Christus het die tipiese diens geëindig. Die “ware tabernakel” in die hemel is die heiligdom van die nuwe verbond. En soos die profesie van Daniël 8:14 in hierdie bedeling vervul is, moet die heiligdom waarna dit verwys, die heiligdom van die nuwe verbond wees. Toe die 2 300 dae in 1844 ten einde geloop het, was daar al eeue lank geen heiligdom meer op aarde nie. Die profesie, “tweeduisend driehonderd aande en mores, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word...” verwys ongetwyfeld na die heiligdom in die hemel. GS 439.2
Maar die belangrikste vraag moes nog beantwoord word: Wat is die reiniging van die heiligdom? Dat daar so ‘n diens in verband met die aardse heiligdom was, word in die OuTestamentiese Geskrifte vermeld. Maar kan daar enigiets in die hemel wees wat gereinig moet word? In Hebreërs 9 word die reiniging van beide die aardse en die hemelse heiligdom duidelik geleer. “En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie. Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers [die bloed van diere] gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie...” naamlik die kosbare bloed van Christus. (Heb 9:22,23). GS 440.1
Die reiniging, in beide die tipiese en die werklike dienste, moet deur bloed geskied: In eersgenoemde, deur die bloed van diere; en in die tweede geval deur die bloed van Christus. Paulus sê dat die rede waarom hierdie reiniging met bloed moet geskied, is dat daar geen vergifnis sonder bloedvergieting kan wees nie. Vergifnis, of die wegdoen met sonde, is die werk wat gedoen moet word. Maar hoe kan sonde aan die heiligdom, in die hemel of op die aarde, gekoppel word? Die antwoord kan aan die hand van die simboliese diens verkry word; want die priesters wat op die aarde gedien het, het “...'n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge...” bedien. (Heb 8:5). GS 440.2
Die bediening van die aardse heiligdom het uit twee dele bestaan: Die priesters het daagliks in die Heilige plek gedien, terwyl die hoëpriester eenmaal per jaar in die Allerheiligste plek 'n spesiale werk van versoening vir die reiniging van die heiligdom gedoen het. Dag na dag het die berouvolle sondaar sy slagoffer na die ingang van die tabernakel gebring en sy hande op die slagoffer se gelê, sy sondes bely en dit so figuurlik van homself op die onskuldige slagoffer oorgedra. Daarna is die dier geslag. “Sonder bloedvergieting...” sê die apostel, is daar geen vergifnis nie. “Want die siel van die vlees is in die bloed.” (Lev 17:11). Die gebreekte wet van God het die lewe van die oortreder geëis. Die bloed wat die verbeurde lewe van die sondaar voorstel en wie se skuld op die slagoffer oorgedra is, is deur die priester in die Heilige plek ingeneem en voor die voorhangsel gesprinkel, waaragter die ark was wat die wet wat deur die sondaar oortree is bevat het. Deur hierdie seremonie, is die sonde figuurlik deur die bloed, na die heiligdom oorgedra. In sommige gevalle is die bloed nie in die heiligdom ingebring nie; maar die vleis moes dan deur die priester geëet word, soos Moses die seuns van Aaron beveel het en gesê het, “...om die ongeregtigheid van die vergadering te dra.” (Lev 10:17). Beide hierdie seremonies het die oordra van die sonde van die boetvaardige na die heiligdom simboliseer. GS 440.3
Dit was die werk wat dag vir dag deur die loop van die jaar voortgeduur het. Die sondes van Israel is aldus in die heiligdom oorgedra en ‘n spesiale werk was nodig om dit te verwyder. God het beveel dat daar versoening vir elkeen van die heilige dele gedoen moes word. “So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle onder hulle onreinhede woon.” Daar moes ook vir die altaar versoening gedoen word om dit te “...reinig en [te] heilig van die onreinhede van die kinders van Israel.” (Lev 16:16,19). GS 441.1
Eenkeer per jaar, op die groot versoendag, het die hoëpriester die Allerheiligste plek binnegegaan om die heiligdom te reinig. Die werk wat daar verrig is, het die jaarlikse kringloop van bediening voltooi. Op die versoendag is twee bokke na die ingang van die tabernakel gebring en die lot is oor hulle gewerp, “...een lot vir die Here en een lot vir Asásel.” (Lev 16:8). Die bok waarop die lot vir die Here geval het, is as sondoffer vir die volk geslag. Die priester moes die bloed van die bok agter die voorhangsel inneem en dit op en voor die versoendeksel sprinkel. Die bloed moes ook op die reukofferaltaar wat voor die voorhangsel was, gesprinkel word. GS 441.2
“En Aaron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur ‘n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur.” (Lev 16:21). Die sondebok het nooit weer na die kamp van Israel teruggekeer nie en die man wat hom weggelei het, moes homself en sy klere met water was voordat hy na die kamp kon terugkeer. GS 442.1
Die hele seremonie was bedoel om die Israeliete met die heiligheid van God en Sy afsku vir sonde te beïndruk; en hulle verder te wys dat hulle nie met sonde in aanraking kan kom sonder om besoedel te raak nie. Daar is van elkeen verwag om sy siel te verootmoedig terwyl hierdie versoeningswerk voortgeduur het. Alle sake moes opsy gesit word en die hele vergadering van Israel, moes die dag in plegtige nederigheid voor God, met gebed, vas en ‘n diepe hartsondersoek deurbring. GS 442.2
Belangrike waarhede rakende die versoening, word deur die tipiese diens geleer. ‘n Plaasvervanger is in die plek van die sondaar aanvaar; maar die sonde is nie deur die bloed van die slagoffer uitgekanselleer nie. ‘n Middel is op hierdie wyse voorsien waardeur dit na die heiligdom oorgedra is. Deur die offer van die bloed, het die sondaar die gesag van die wet erken, sy skuld bely en sy begeerte om vergifnis deur geloof in ‘n Verlosser wat sou kom, uitgespreek; maar hy was nog nie volkome van die veroordeling van die wet gevrywaar nie. Op die Groot Versoendag het die hoëpriester, nadat hy ‘n offergawe van die vergadering geneem het, die Allerheiligste met die bloed van hierdie slagoffer binnegegaan en dit op die versoendeksel, direk oor die wet, gesprinkel om te voldoen aan die eise daarvan. Dan het hy, in sy hoedanigheid as middelaar, die sondes op homself geneem en dit uit die heiligdom uitgedra. Deur sy hande op die kop van die sondebok te lê, het hy al hierdie sondes oor hierdie bok bely en dit sodoende figuurlik van homself na die bok oorgedra. Die sondes is dan deur die bok weggedra en die sondes is beskou as vir ewig verwyder van die volk. GS 442.3
Dit was die diens wat gedoen is “...as afbeeldsel en skaduwee van hemelse dinge.” En wat in soort vir die bediening van die aardse heiligdom gedoen is, word in werklikheid in die bediening van die hemelse heiligdom gedoen. Na Sy Hemelvaart, het ons Verlosser met Sy werk as ons Hoëpriester begin. Paulus sê: “Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn.” (Heb 9:24). GS 443.1
Die bediening van die priester in die eerste afdeling van die heiligdom gedurende die jaar, “...binnekant die voorhangsel...” wat as deurgang gedien en die Heilige plek van die voorhof geskei het, stel die werk van bediening voor wat Christus met Sy hemelvaart begin het. Dit was die taak van die priester in sy daaglikse bediening om die bloed van die sondoffer voor God, asook die wierook wat saam met die gebede van die kinders van Israel opgegaan het, aan te bied. So het Christus ook met Sy bloed voor die Vader, ten behoewe van sondaars, gepleit en ook deur die kosbare geur van Sy eie geregtigheid, die gebede van die boetvaardige gelowiges aangebied. Dit was die werk van bediening in die eerste deel van die hemelse heiligdom. GS 443.2
Daarheen het die geloof van Christus se dissipels Hom gevolg toe Hy van hulle af opgevaar het. Hierop was hulle hoop gesentreer, die hoop wat ons het, soos Paulus gesê het: “...'n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het...” ja, “...Hy wat ... ‘n hoëpriester geword het ... vir ewig ... ook nie deur die bloed van bokke en kalwers nie, maar deur sy eie bloed, eenmaal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige versoening teweeggebring.” (Heb 6:19,20;9:12). GS 444.1
Vir agtien eeue het hierdie bediening in die eerste gedeelte van die heiligdom voortgeduur. Die bloed van Christus, wat ten behoewe van boetvaardige gelowiges gepleit, het hulle vergifnis en aanvaarding deur die Vader verseker, maar hulle sondes het steeds in die rekord-boeke gebly. Soos daar in die tipiese diens ‘n werk van versoening aan die einde van die jaar gedoen is, so ook moet daar, voordat Christus se verlossingswerk vir die mens voltooi is, ‘n versoeningswerk vir die verwydering van die sondes uit die heiligdom gedoen word. Dit is die diens wat ‘n aanvang geneem het aan die einde van die 2 300 dae. Op daardie tydstip, soos deur die profeet Daniël voorspel is, het ons Hoëpriester die Allerheiligste betree om die laaste deel van Sy plegtige werk te verrig - om die heiligdom te reinig. GS 444.2
Soos van ouds, die sondes van die volk op die sondoffer geplaas is en dit deur sy bloed, figuurlik in die aardse heiligdom oorgedra is, so ook word die sondes van die berouvolle sondaar in die nuwe verbond deur geloof op Christus geplaas en in werklikheid na die hemelse heiligdom oorgedra. En net soos die tipiese reiniging van die aardse heiligdom van die sondes waardeur dit besoedel is plaasgevind het, so moet die werklike reiniging van die hemelse heiligdom geskied deur die sondes wat daar opgeteken is te verwyder of uit te wis. Maar voordat dit kan geskied, moet die rekord-boeke ondersoek word om te bepaal wie deur berou oor sonde en geloof in Christus geregtig is op die voordele van Sy versoening. Die reiniging van die heiligdom behels dus ‘n werk van ondersoek — ‘n werk van oordeel. Hierdie werk moet voor die wederkoms van Christus om Sy volk te verlos gedoen word; want wanneer Hy kom, kom Hy met Sy loon om almal te vergeld volgens hulle werke (Openb 22:12). GS 444.3
Sodoende het diegene wat die profetiese lig van die Woord gevolg het, gesien dat, in plaas van na die aarde aan die einde van die 2 300 dae in 1844 terug te keer, Christus die Allerheiligste van die hemelse heiligdom betree het om die afsluitingswerk van die versoening ter voorbereiding van Sy koms te verrig. GS 445.1
Daar is ook gesien dat, terwyl die sondoffer na Christus as die Soenoffer gewys het en die hoëpriester Christus as Middelaar voorgestel het, die sondebok Satan, die outeur van die sonde tipeer, op wie die sondes van al die opregte boetvaardiges eindelik geplaas sal word. Toe die hoëpriester, kragtens die bloed van die sondoffer, die sondes uit die heiligdom verwyder het, het hy dit op die sondebok geplaas. Wanneer Christus, op grond van Sy eie bloed, die sondes van Sy volk uit die hemelse heiligdom aan die einde van Sy bediening verwyder, sal Hy dit op Satan plaas wat, in die voltrekking van die oordeel, die finale straf moet dra. Die sondebok is na ‘n onbewoonde land weggestuur om nooit weer in die vergadering van Israel in te kom nie. So ook sal Satan vir ewig uit die teenwoordigheid van God en Sy volk verban word en hy sal tydens die finale vernietiging van die sonde en sondaars uitgewis word. GS 445.2