Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 22—Profesieë Vervul
Toe die eerste tyd vir die verwagte wederkoms van die Here verstreke was, (in die lente van 1844), was diegene wat in geloof na Sy verskyning uitgesien het, vir ‘n tyd in twyfel en onsekerheid gelaat. Terwyl die wêreld hulle as totaal verslaan beskou het en hulle geblyk het ‘n groot dwaling te koester, was die bron van hulle vertroosting steeds die Woord van God. Baie het voortgegaan om die Skrif te deursoek, die bewyse van hulle geloof opnuut te ondersoek en die profesieë deeglik te bestudeer ten einde verdere lig te bekom. Die Bybelse getuienis ter stawing van hulle standpunt het duidelik en afdoende geblyk te wees. Onmiskenbare tekens het daarop gedui dat die koms van Christus naby was. Die spesiale seën van die Here, beide in die bekering van sondaars en die herlewing van die geestelike lewe onder Christene, het getuig dat die boodskap vanuit die hemel was. En hoewel die gelowiges nie die rede vir hul groot teleurstelling kon verklaar nie, het hulle oortuig gevoel dat God hulle in hul vorige ervaring gelei het. GS 411.1
Verweef met die profesieë wat hulle as van toepassing op die tyd tweede koms beskou het, was daar voorskrifte wat spesiaal vir hul toestand van onsekerheid en spanning aangepas is en wat hulle aangemoedig het om geduldig in geloof te wag, tot wanneer dit wat donker vir hulle begrip was, met tyd duidelik gemaak sou word. GS 411.2
Onder hierdie profesieë was dié van Habakuk 2:1-4: “Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ‘n skansmuur wil ek my stel om uit te kyk en te verneem wat Hy met my sal spreek en wat ek op my klagte moet antwoord. Toe antwoord die Here my en sê: Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle al lopende dit kan lees. Want die gesig sal nog duur tot die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag dan daarop, want alte seker sal dit kom en nie versuim nie. Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” GS 411.3
Reeds in 1842 het die opdrag in hierdie profesie:, “Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle al lopende dit kan lees...” aan Charles Fitch op die gedagte gebring om ‘n profetiese grafiek op te stel om die visioene Daniël en Openbaring te illustreer. Die publikasie van hierdie grafiek is beskou as ‘n vervulling van die opdrag wat aan Habakuk gegee is. Niemand het egter op daardie stadium opgemerk dat daar ‘n skynbare vertraging in die vervulling van die visioen — ‘n verposing — in dieselfde profesie aangebied word nie. Ná die teleurstelling, was die skrif baie duidelik: “Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd: maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie ... Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” (Hab.2:3). GS 412.1
'n Gedeelte van Esegiël se profesie was ook ‘n bron van krag en vertroosting vir die gelowiges: “En die woord van die Here het tot my gekom en gesê: Mensekind, wat is dit vir ‘n spreekwoord wat julle het in die land van Israel, naamlik: Die dae gaan voort en van al die gesigte kom niks nie. Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here HERE: ... Die dae is naby en die woord van elke gesig ... want Ek, die Here, sal spreek — wat Ek as woord spreek, dit sal vervul word, dit sal nie meer uitgestel word nie ... Die huis van Israel sê: Die gesig wat hy sien, is vir baie dae en hy profeteer van tye wat ver is. Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Geeneen van My woorde sal meer uitgestel word nie; wat Ek as woord spreek, dit sal vervul word.” (Eseg 12:21-25,27,28). GS 412.2
Diegene wat gewag het was verheug omdat hulle geglo het dat Hy wat die einde van die begin af ken, deur die eeue heen kyk en, omdat Hy hulle teleurstelling vooruitgesien het, aan hulle woorde van bemoediging en hoop gegee het. As dit nie was vir sulke skrifgedeeltes was wat hulle vermaan het om geduldig te wag en aan hul vertroue in God se Woord vas te hou nie, sou hulle geloof in daardie uur van beproewing gefaal het. GS 412.3
Die gelykenis van die tien maagde van Mattheus 25, illustreer ook die ervaring van die Adventiste. In antwoord op die vraag van Sy dissipels aangaande die tekens van Sy koms en die einde van die wêreld, het Christus in Mattheus 24 na enkele van die belangrikste gebeure in die geskiedenis van die wêreld en die kerk, vanaf Sy eerste koms tot Sy tweede koms gewys; naamlik die verwoesting van Jerusalem, die groot verdrukking van die kerk onder die heidense en pouslike vervolgings, die verduistering van son en maan en die val van die sterre. Daarna het Hy van Sy koms in Sy koninkryk gepraat en die gelykenis vertel, wat die twee klasse van diensknegte wat na Sy koms sou uitsien beskryf het. Hoofstuk 25 begin met die woorde: “Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde...” Hier word gewys op die kerk wat in die laaste dae sal leef, dieselfde wat in die slot van hoofstuk 24 uitgewys word. In hierdie gelykenis word hul ervaring deur voorvalle uit ‘n Oosterse huwelik geïllustreer. GS 413.1
“Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!” (Matt 25:1-6). GS 413.2
Die koms van Christus, soos deur die aankondiging van die eerste engel se boodskap, word verstaan dat dit die koms van die bruidegom voorstel. Die wydverspreide hervorming as gevolg van die verkondiging van Sy spoedige wederkoms, word deur die uittog van die maagde voorgestel. In hierdie gelykenis, net soos in dié van Mattheus 24, word twee klasse verteenwoordig. Almal het hulle lampe, die Bybel, geneem en in die lig daarvan uitgegaan om die Bruidegom te ontmoet. Maar terwyl “...die wat dwaas was, hul lampe [ge]neem, het...” en “...geen olie met hulle saamgeneem [het]nie...” het “...die verstandiges ... olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.” Laasgenoemde klas het die genade van God ontvang, die herskeppende, verligtende krag van die Heilige Gees, wat Sy Woord ‘n lamp vir die voet en ‘n lig op die pad maak. In die vrees van God het hulle die Skrif bestudeer om die waarheid te leer en hulle het ernstig na reinheid van hart en lewe gestrewe. Hulle het ‘n persoonlike ervaring gehad, ‘n geloof in God en Sy Woord, wat nie deur teleurstelling en vertraging omvergewerp kon word nie. Ander weer, het hulle lampe geneem en geen olie saamgeneem nie. Hulle het impulsief opgetree. Hulle vrees was aangewakker deur die plegtige boodskap, maar hulle het op die geloof van hulle broeders staat gemaak, tevrede met die flikkerende lig van aangename emosies, sonder ‘n deeglike begrip van die waarheid, of ‘n opregte werk van genade in hul harte. Hulle het die Here vol hoop met die oog op die onmiddellike beloning tegemoetgegaan; maar hulle was nie voorbereid op vertraging en teleurstelling nie. Toe die beproewinge kom, het hulle geloof gefaal en hulle ligte het verdof. GS 413.3
“En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.” Die talming van die bruidegom word deur die tyd wat verloop het vanaf die datum waarop die Here verwag is, die teleurstelling en die skynbare vertraging verteenwoordig. In hierdie tyd van onsekerheid het die belangstelling van die oppervlakkiges en halfhartiges vinnig begin wankel en hulle pogings het verslap; maar diegene wie se geloof op ‘n persoonlike kennis van die Bybel berus het, het ‘n rots onder hulle voete gehad wat nie deur die golwe van teleurstelling weggespoel kon word nie. “Almal het vaak geword en aan die slaap geraak.” Die een klas met onbesorgdheid en versaking van hulle geloof; die ander klas geduldig, wagtend op duideliker lig. Tog in die nag van beproewing, het dit geblyk asof laasgenoemdes hul ywer en toewyding tot ‘n mate verloor het. Die halfhartiges en oppervlakkiges kon nie langer op die geloof van hul broeders steun nie. Elkeen moes vir homself staan of val. GS 414.1
Omstreeks hierdie tyd het fanatisme begin verskyn. Sommige van diegene wat beweer het ywerige aanhangers van die boodskap te wees, het die Woord van God as die een onfeilbare gids verwerp en beweer dat hulle deur die Gees gelei is en hulself aan die beheer van hulle eie gevoelens, indrukke en verbeelding oorgegee. Sommige het ‘n blinde en bekrompe ywer aan die dag gelê en almal wat nie met hulle saamgestem het nie veroordeel. Hulle fanatiese idees en optredes het geen simpatie van die groot liggaam van Adventiste ontlok nie; tog het hulle gedien om die saak van die waarheid te smaad. GS 415.1
Satan het op hierdie wyse gepoog om die werk van God teë te gaan en te vernietig. Die mense was diep ontroer deur die advent-beweging, duisende sondaars het tot bekering gekom en selfs in hierdie tyd van verposing, het getroue manne hulself aan die taak gewy om die waarheid te verkondig. Die vors van die bose het sy onderdane verloor; en ten einde die saak van God te smaad, het hy gepoog om die skyngelowiges te mislei en hulle tot uiterstes te dryf. Toe het sy werkkragte gereed gestaan om elke dwaling, elke mislukking, elke onbetaamlike daad, aan te gryp en in die mees oordrewe lig aan die volk voor te hou, ten einde die Adventiste en hulle geloof veragtelik te maak. Hoe groter die aantal wat hy dus tot ‘n skyngeloof in die tweede koms kon intrek, terwyl sy mag hulle harte beheer, hoe meer voordeel sou hy trek, deur die aandag op hulle as verteenwoordigers van die hele liggaam van gelowiges te vestig. GS 415.2
Satan is “...die aanklaer van ons broeders...” en dit is sy gees wat mense besiel om vir die foute en gebreke van die kinders van die Here uit te kyk en dit aan die wêreld voor te hou, terwyl hulle goeie dade verontagsaam en geswyg word. Hy is altyd bedrywig wanneer God aan die werk is om siele te red. Wanneer die seuns van God kom om hulle voor die Here te stel, voeg Satan hom ook by hulle. Met elke herlewing is hy gereed om diegene wat onheilig van hart en ongebalanseerd is, in te bring. Wanneer hierdie partye punte van waarheid aanvaar het en ‘n plek by die gelowiges verkry het, werk hy deur hulle om teorieë wat onbehoedsame mense sal mislei, voor ter stel. Geen mens is bevind ‘n ware Christen te wees omdat hy in gemeenskap met kinders van God gevind word, selfs nie eers in die huis van aanbidding en rondom die Nagmaaltafel van die Here nie. Satan is dikwels by die mees plegtigste geleenthede in die vorm van diegene wat hy as sy werkkragte kan gebruik teenwoordig. GS 415.3
Die vors van duisternis bestry elke sentimeter grond waarop die volk van God op hul reis na die hemelse stad vorder. In die geskiedenis van die kerk was daar nog geen hervorming sonder dat ernstige struikelblokke teëgekom is nie. So was dit in die tyd van Paulus. Oral waar die apostel ‘n kerk opgerig het, was daar sommige wat beweer het dat hulle die geloof aanvaar, maar wat dwaalleringe ingebring het wat, indien dit aanvaar sou word, uiteindelik die liefde vir die waarheid sou verdring. Luther het ook groot verwarring en ellende van dwepers verduur wat beweer het dat God regstreeks deur hulle gepraat het en wat sodoende hul eie idees en standpunte bo die getuienis van die Skrif gestel het. Baie wat ‘n gebrek aan geloof en ervaring gehad het, maar wat heelwat selfgenoegsaamheid aan die dag gelê het en wat graag iets nuuts wou hoor en vertel, is deur aanmatigende nuwe leraars verlei en het by die werkkragte van Satan aangesluit in hul werk om dit wat Luther beweeg het om op te bou, af te breek. En die Wesleys en ander wat die wêreld met hulle invloed en geloof geseën het, het met elke stap die liste van Satan teëgekom, wat dweepsugtige, ongebalanseerde en onheilige mense tot alle vorms van fanatisme gedryf het. GS 416.1
William Miller het geen medelye met invloede wat tot fanatisme gelei het gehad nie. Soos Luther, het hy verklaar dat elke gees deur die Woord van God beproef moes word. “Die duiwel...” het Miller gesê, “...het tans groot mag oor die gemoed van sommige. En hoe sal ons weet van watter gees hulle is? Die Bybel antwoord: ‘Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.’ Daar is baie geeste wat in die wêreld uitgegaan het; en ons is beveel om die geeste te beproef. Die gees wat ons nie beweeg om nugter, regverdig en godvrugtig in hierdie huidige wêreld te leef nie, is nie die Gees van Christus nie. Ek is steeds meer en meer oortuig daarvan dat Satan baie te doen het met hierdie wilde bewegings ... Baie onder ons, wat voorgee om volkome geheilig te wees, volg die tradisies van mense en is blykbaar net so onkundig aangaande die waarheid soos ander wat geen sulke aansprake maak nie. - Bliss, bl 236,237. Die gees van dwaling sal ons van die waarheid weglei; en die Gees van God sal ons in alle waarheid lei. Maar, sê iemand, ‘n persoon mag dwaal en meen dat hy die waarheid het. Wat dan? Ons antwoord: Die Gees en die Woord stem ooreen. As iemand homself volgens die Woord van God oordeel en in perfekte harmonie met die volle Woord bevind, dan moet hy glo dat hy die waarheid het; maar as hy vind dat die gees wat hom lei, nie in die volle sin van die woord met God se Wet of Woord ooreenstem nie, laat hom dan versigtig wandel, sodat hy nie in die strikke van die duiwel gevang word nie. - The Advent Herald and Signs of the Times Reporter, vol 8, nr 23 (15 Jan 1845). Ek het dikwels meer bewys van innerlike vroomheid in ‘n flikkerende oog, op ‘n nat wang en stamelende woorde, gesien as in al die geraas van die Christendom.” — Bliss, bl 236, 237, 282. GS 417.1
In die dae van die hervorming, het die vyande van die beweging, al die euwels van fanatisme op diegene afgedwing wat die heftigste daarteen gestry het. Dieselfde weg is deur die teëstanders van die advent-beweging gevolg. En nie tevrede met ‘n wanvoorstelling en ‘n oordrywing van die dwalings van ekstremiste en fanatici nie, het hulle ongunstige berigte versprei wat nie die geringste sweem van waarheid gehad het nie. Hierdie persone is deur vooroordeel en haat beïnvloed. Hulle vrede was verstoor deur die verkondiging dat die koms van Christus op hande was. Hulle was bevrees dat dit moontlik waar kon wees, maar terselfdertyd gehoop dat dit nie so was nie en dit was die geheim van hul oorlogvoering teen Adventiste en hul geloof. GS 417.2
Die feit dat ‘n paar fanatici hulle in die geledere van die Adventiste ingewerk het, is geen rede om tot die gevolgtrekking te kom dat die beweging nie van God was nie, net so min as wat die teenwoordigheid van fanatici en bedrieërs in die kerk in die tyd van Paulus of Luther voldoende verskoning was om hul werk te veroordeel. Laat die volk van God uit hulle slaap gewek word en met die werk van bekering en hervorming begin; laat hulle die Skrif ondersoek om die waarheid, soos dit in Jesus is, te leer; laat hulle ‘n algehele toewyding aan God maak en daar sal geen tekort aan bewyse wees dat Satan steeds aktief en waaksaam is nie. Met alle moontlike misleiding sal hy sy mag openbaar en al die gevalle engele van sy ryk tot sy hulp oproep. GS 418.1
Dit was nie die verkondiging van die tweede koms wat fanatisme en verdeeldheid veroorsaak het nie. Dit het in die somer van 1844 verskyn toe die Adventiste in ‘n toestand van twyfel en verwarring aangaande hulle ware posisie verkeer het. GS 418.2
Die prediking van die eerste engel se boodskap en die “middernag-roep” het regstreeks geneig om fanatisme en onenigheid te onderdruk. Diegene wat aan hierdie plegtige bewegings, deelgeneem het was in harmonie; hulle harte is met liefde vir mekaar en vir Jesus gevul, wat hulle binnekort verwag het. Die een geloof en een salige hoop, het hulle bo die beheer van enige menslike invloed uitgelig en was ‘n skild teen die aanvalle van Satan. GS 418.3
“En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.” (Matt 25:5-7). In die somer van 1844, halfpad tussen die tyd wanneer daar eers gemeen was dat 2 300 dae sou eindig en die herfs van dieselfde jaar, waarna agterna gevind is dat dit verder gestrek het, is die boodskap in die einste woorde van die Skrif aangekondig: “Daar kom die bruidegom!” GS 419.1
Wat tot hierdie beweging gelei het, was die ontdekking dat die dekreet van Artasasta vir die herstel van Jerusalem, wat die vertrekpunt vir die periode van 2 300 dae was, in die herfs van die jaar 457 vC in werking getree het en nie aan die begin van die jaar soos vroeër geglo is nie. Vanaf die herfs van 457, eindig die 2 300 jaar in die herfs van 1844. [Sien bylaag nota vir bl 329] . GS 419.2
Argumente wat uit die tipes van die Ou Testament afgelei is, het ook na die herfs gewys as die tyd vir wanneer die gebeurtenis wat deur die ‘reiniging van die heiligdom’ voorgestel word, moes plaasvind. Dit word duidelik as daar gelet word op die wyse waarop die tipes wat verband hou met die eerste koms van Christus vervul is. GS 419.3
Die slagting van die paaslam was ‘n skaduwee van die dood van Christus. Paulus het gesê: “Want ook ons Paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.” (1 Kor 5:7). Die gerf van eerstelinge wat tydens die Pasga voor die Here gewaai is, was ‘n tipe van die opstanding van Christus. Toe Paulus van die opstanding van die Here en van Sy volk praat, het hy gesê: “As eersteling, Christus, daarna die wat aan Christus behoort by Sy koms.” (1 Kor 15:23). Net soos die gerf-offer wat die eerste ryp graan was wat voor die oes ingesamel is, is Christus die eersteling van daardie onsterflike oes van verlostes, wat met die toekomstige opstanding, in die skuur van God versamel sal word. GS 419.4
Hierdie tipes is vervul, nie alleen wat die gebeurtenis betref nie, maar ook ten opsigte van die tyd. Op die veertiende dag van die eerste Joodse maand, die dag en maand waarop die paaslam vir vyftien lang eeue geslag is, het Christus, nadat Hy die Pasga saam met sy dissipels geëet het, die feesmaal ingestel om Sy dood te herdenk as die “...Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Dieselfde nag is Hy deur goddelose hande geneem om gekruisig en gedood te word. As teenbeeld van die gerf-offer, is ons Here op die derde dag uit die dood opgewek “...as eersteling van die wat ontslaap het”, ‘n voorbeeld van die opgestane regverdiges wie se “...vernederde liggaam...” verander sal word “...om gelykvormig te word aan Sy verheerlikte liggaam.” (Filip 3:21). GS 419.5
Op soortgelyke wyse moet die tipes wat verband hou met die tweede koms, op die tyd wat in die simboliese diens aangedui word, vervul word. Onder die Mosaïese stelsel het die reiniging van die heiligdom, of die groot versoendag, op die tiende dag van die sewende Joodse maand plaasgevind, wanneer die hoëpriester, nadat hy versoening vir die hele Israel gedoen en sodoende hulle sondes uit die heiligdom verwyder het, te voorskyn gekom en die volk geseën. (Lev 16:29-34.) So is daar geglo dat Christus, ons groot Hoëpriester, sou verskyn om die aarde te reinig deur die uitwissing van sonde en sondaars en dat Hy Sy wagtende volk met onsterflikheid sou seën. Die tiende dag van die sewende maand, die groot versoendag, die tyd van die reiniging van die heiligdom, wat in die jaar 1844 op die twee en twintigste Oktober geval het, is beskou as die tyd van die Here se koms. Dit was in ooreenstemming met die bewyse wat reeds aangebied is, dat die 2 300 dae in die herfs sou eindig; en die gevolgtrekking was onweerstaanbaar. GS 420.1
In die gelykenis van Mattheus 25 word die tyd van afwagting en sluimering opgevolg deur die koms van die bruidegom. Dit was in ooreenstemming met die redenasies wat reeds aangebied is, beide uit die profesie en die tipes. Die redenasies het ‘n sterk oortuiging van waarheid gehad; en die “middernagroep” is deur duisende gelowiges aangekondig. GS 420.2
Soos ‘n vloedgolf het die beweging oor die land gespoel. Van stad tot stad, van dorp tot dorp en na afgeleë landelike streke het dit gegaan, totdat die wagtende volk van God volkome opgewek was. Fanatisme het voor hierdie proklamasie verdwyn soos die vroeë ryp voor die opgaande son. Die gelowiges het gesien hoe hulle twyfel en verwarring verdwyn en hoop en moed het hul harte geroer. Die werk was vry van daardie uiterstes wat altyd gemanifesteer word waar daar menslike opgewondenheid is sonder die beherende invloed van die Woord en Gees van God. Dit was soortgelyk in karakter met daardie tydperke van vernedering en terugkeer na die Here, wat deur antieke Israel op boodskappe van teregwysing van Sy dienaars gevolg het. Dit het die kenmerke van die werk van God in alle eeue gedra. Daar was weinig ekstatiese vreugde, maar eerder ‘n diepe ondersoek van die hart, sondebelydenis en versaking van die wêreld. ‘n Voorbereiding om die Here te ontmoet, was die las van gepynigde siele. Daar was volhardende gebede en ‘n onvoorwaardelike toewyding aan God. GS 421.1
In ‘n beskrywing van hierdie werk, het Miller gesê: “Daar was geen uitbundige vreugde nie; dit was as’t ware onderdruk vir ‘n toekomstige geleentheid, wanneer die ganse hemel en aarde saam, met onuitspreeklike en heerlike vreugde sal juig. Daar was geen uitroepe nie: dit was gereserveer vir die geroep uit die hemel. Die sangers het geswyg: hulle het gewag om by die engele-leërskare, die koor uit die hemel, aan te sluit ... Daar was geen botsende beskouings nie: almal was een van hart en gedagte.” — S Bliss, Memoirs of W, Miller, bl 270, 271. GS 421.2
Iemand anders wat aan die beweging deelgeneem het, getuig: “Oral het dit die diepste ondersoek van die hart en verootmoediging van die siel, voor die God van die hoë hemel tot gevolg gehad. Dit het ‘n afsterwe van die geneenthede vir die dinge van hierdie wêreld tot gevolg gehad, herstel van alle teenstrydigheid en vyandigheid, belydenis van ongeregtighede, ‘n verbryseling van hart voor God en berouvolle, gebroke smekinge tot Hom om vergifnis en aanvaarding. Dit het selfvernedering en ineenstorting van die siel veroorsaak, soos nog nooit tevore gesien is nie. Soos God deur Joël beveel het, wanneer die groot dag van God sou aanbreek, sou dit ‘n skeuring van harte en nie van klere nie, voortbring en bekering tot die Here met vas, geween en rou. Soos God deur Sagaria gesê het, is ‘n gees van genade en smeking oor Sy kinders uitgestort; hulle het na Hom wat hulle deurboor het, opgekyk; daar was groot droefheid in die land ... en diegene wat die Here verwag het, het hulle siele voor Hom verootmoedig.” — S Bliss, The Advent Shield and Review, vol 1, bl 271 (Jan 1845). GS 421.3
Van al die godsdienstige bewegings sedert die dae van die apostels, was niemand méér vry van menslike onvolmaaktheid en die lis van Satan, as dié van die herfs van 1844 nie. Selfs tans, na verloop van baie jare, ervaar almal wat in daardie beweging gedeel het en standvastig op die platform van waarheid staan, steeds die heilige invloed van daardie geseënde werk en getuig dat dit van God was. GS 422.1
Met die oproep: “Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!” het diegene wat gewag het, opgestaan “...en hulle lampe gereed...” (Matt 25:6,7) gemaak; hulle het die Woord van God met voorheen ongekende intense belangstelling bestudeer. Engele is uit die hemel gestuur om diegene wat ontmoedig was op te wek en hulle voor te berei om die boodskap te ontvang. Die werk het nie in menslike wysheid en geleerdheid geskied nie, maar in die krag van God. Dit was nie die talentvolste nie, maar die nederigste en mees toegewyde wat eerste was om die oproep te hoor en te gehoorsaam. Boere het hulle gesaaides in die lande laat staan, werktuigkundiges het hulle gereedskap neergelê en met trane en blydskap uitgegaan om die boodskap te verkondig. Diegene wat vroeër die saak gelei het, was van die laaste wat tot hierdie beweging toegetree het. Die kerke oor die algemeen, het hulle deure teen hierdie boodskap gesluit en ‘n hele aantal van diegene wat dit aangeneem het, het hulle aan hierdie verbintenis onttrek. In die voorsienigheid van God, het die verkondiging hiervan met die boodskap van die tweede engel verenig en krag aan daardie werk gegee. GS 422.2
Die oproep: “Daar kom die bruidegom!” was nie soseer ‘n argumentsaak nie, hoewel die bewyse in die Skrif duidelik en afdoende was. ‘n Stukrag wat die siel geroer het, het daarmee gepaardgegaan. Daar was geen twyfel en geen vrae nie. Met die geleentheid van Christus se triomfantlike intog in Jerusalem, het die mense wat uit alle dele van die land saamgekom het om die feesmaal te vier, na die Olyfberg gestroom en toe hulle by die skare wat Jesus begelei het aangesluit het, is hulle in die gees van die uur opgeneem en het bygedra tot die opwellende gejuig: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt 21:9). Op dieselfde wyse het ongelowiges wat na die advent-byeenkomste gestroom het — sommige uit nuuskierigheid, andere bloot om te spot — die oortuigende krag wat die boodskap vergesel het ervaar: “Daar kom die bruidegom!” GS 423.1
In daardie dae was daar geloof wat antwoorde op gebede gebring het — geloof wat uitgesien het na die beloning. Soos reënbuie op die dorstige aarde, het die Gees van genade op die ernstige soekers neergedaal. Diegene wat verwag het om binnekort van aangesig tot aangesig voor hulle Verlosser te staan, het ‘n plegtige vreugde wat onuitspreeklik was, ervaar. Die versagtende, onderwerpende krag van die Heilige Gees, het die hart laat smelt soos Sy seën ryklik op die gelowiges uitgestort is. GS 423.2
Versigtig en plegtig het diegene wat die boodskap aanvaar het, die tyd waarop hulle verwag het om hulle Here te ontmoet versigtig en plegtig genader. Elke oggend het hulle gevoel dat dit hul eerste plig was om bewys van hul aanvaarding deur God te kry. Hulle harte was in noue verbinding met mekaar en hulle het baie saam met en vir mekaar gebid. Hulle het dikwels op afgeleë plekke saamgekom om met God te kommunikeer en die stem van voorbidding het vanaf die lande en bosse na die hemel opgestyg. Die versekering van die Verlosser se goedkeuring was vir hulle meer noodsaaklik as hul daaglikse voedsel; en as ‘n wolk hul gedagtes verduister het, het hulle nie gerus voordat dit weggevoer is nie. Soos hulle getuienis van Sy vergewende genade ervaar het, het hulle daarna verlang om Hom, wat hulle siele liefhet, te sien. GS 423.3
Maar weer eens was hulle tot teleurstelling gedoem. Die tyd van hulle verwagting, het verbygegaan en hulle Verlosser het nie verskyn nie. Met onwrikbare vertroue het hulle na Sy koms uitgesien en nou het hulle soos Maria gevoel, toe sy by die Heiland se graf gekom en dit leeg gevind het en wenend uitgeroep het: “...hulle [het] my Here weggeneem ... en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” (Joh. 20:13). GS 424.1
'n Gevoel van ontsag, ‘n vrees dat die boodskap waar kon wees het vir ‘n tyd lank gedien om die ongelowige wêreld in bedwang te hou. Na die tyd verstreke was, het hierdie gevoel nie onmiddellik verdwyn nie; aanvanklik het hulle nie durf om oor die teleurgesteldes te seëvier nie, maar toe daar geen tekens van God se toorn gesien is nie, het hulle vrees verdwyn en hulle het hul smaad en bespotting voortgesit. ‘n Groot klas wat beweer het dat hulle glo Hy sou binnekort kom, het hulle geloof verloën. Sommige wat baie selfversekerd was, was so in hul trots gekrenk, dat hulle gevoel het om van die wêreld weg te vlug. Soos Jona, het hulle teen God gemurmureer en die dood bo die lewe verkies. Diegene wat hulle geloof op die opinies van ander en nie op die Woord van God gegrond het nie, was nou meer as bereid om van sienswyse te verander. Die spotters het die swakkes en lafhartiges tot hulle geledere oorgewen en hulle het almal saamgestaan en verklaar, dat daar nou geen vrees of verwagting meer kon wees nie. Die tyd het verbygegaan, die Here het nie gekom nie en die wêreld kan nog vir duisende jare dieselfde bly. GS 424.2
Die ernstige, opregte gelowiges, het alles vir Christus prysgegee en het soos nooit tevore Sy teenwoordigheid ervaar. Hulle het, soos hulle geglo het, hul laaste waarskuwing aan die wêreld gegee; en omdat hulle verwag het om binnekort in die samelewing van hul Goddelike Meester en die hemelse engele ontvang te word, het hulle hulself tot ‘n groot mate van diegene wat nie die boodskap aangeneem het nie, onttrek. Met vurige verlange het hulle gebid: “Kom Here Jesus, kom gou.” Maar Hy het nie gekom nie. En om nou weer die swaar las van die sorge en verwarring van die lewe op te neem en die smaad van ‘n wêreld van spotters te verduur, was ‘n verskriklike beproewing vir hulle geloof en geduld. GS 425.1
Tog was hierdie teleurstelling nie so groot soos wat die dissipels tydens Christus se eerste koms ervaar het nie. Toe Jesus Jerusalem triomfantlik binnegery het, het sy volgelinge geglo dat Hy op die punt was om die troon van Dawid te bestyg en Israel van haar verdrukkers te verlos. Met groot hoop en vreugdevolle verwagtings het hulle met mekaar gewedywer om eer aan hul Koning te betoon. Baie het hulle bokleed as tapyt in sy pad oopgesprei, of die palmtakke voor Hom in die pad neergelê. In hul uitbundige vreugde het hulle in lofprysing verenig: “Hosanna vir die Seun van Dawid!” Toe die Fariseërs, gesteurd en vertoornd deur hierdie uitbarsting van vreugde, versoek het dat Jesus sy dissipels moes bestraf, het Hy geantwoord: “As hulle swyg, sal die klippe uitroep.” (Luk 19:40). Profesie moet vervul word. Die dissipels het die doel van God bereik; maar tog was hulle tot bittere teleurstelling gedoem. Slegs ‘n paar dae sou verloop voordat hulle die pynlike dood van die Heiland sou aanskou en Hom in die graf neerlê. Hulle verwagtings is nie in een enkele opsig verwesenlik nie en hulle hoop het saam met Jesus gesterf. Nie voordat hulle Here seëvierend uit die graf te voorskyn gekom het, het hulle besef dat alles in die profesie voorspel is en “... dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan...” (Hand 17:3). GS 425.2
Vyfhonderd jaar tevore het die Here deur die profeet Sagaria verklaar: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel — op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.” (Sag 9:9). As die dissipels besef het dat Christus op pad na veroordeling en die dood was, sou hulle hierdie profesie nie kon vervul nie. GS 426.1
Op dieselfde wyse het Miller en sy medewerkers die profesie vervul en ‘n boodskap gebring, wat deur Ingewing voorspel is aan die wêreld gebring moes word, maar wat hulle nie sou kon bring indien hulle die profesieë wat na hul groot teleurstelling gewys het, ten volle begryp het en ‘n ander boodskap wat aan alle nasies gebring moes word voordat die Here kom, verkondig het nie. Die eerste en tweede engele se boodskappe is op die regte tydstip gegee en het die werk wat God beplan het om daardeur te verrig, volbring. GS 426.2
Die wêreld het toegekyk en verwag dat as die tyd sou verstryk en Christus nie sou verskyn nie, die hele stelsel van Adventisme prysgegee sou word. Maar terwyl baie, onderhewig aan sterk versoeking, hul geloof versaak het, was daar sommige wat vasgestaan het. Die vrugte van die adventbeweging, die gees van nederigheid en hartsondersoek, van versaking van die wêreld en hervorming van die lewe, wat met die werk gepaard gegaan het, het getuig dat dit van God was. Hulle het nie durf ontken, dat die krag van die Heilige Gees van die prediking van die wederkoms getuig het nie en hulle kon geen fout in die berekening van die profetiese tydperke opspoor nie. Die bekwaamste van hulle teenstanders, het nie daarin geslaag om hul stelsel van profetiese interpretasie omver te werp nie. Hulle kon nie sonder getuienis uit die Bybel instem om van standpunte wat deur ernstige, biddende studie van Skrif bereik is, deur ‘n verstand wat deur die Gees van God verlig is en harte wat met Sy lewende krag gebrand het, afstand te doen nie; standpunte wat die mees ondersoekende kritiek en bitterste teenstand van gewilde godsdienstige leraars en wêreldwyse individue weerstaan het en wat vasgestaan het teen die saamgestelde kragte van geleerdheid en welsprekendheid, sowel as die bespottinge en verwyte van die hoogdrawendes en die laagstes. GS 426.3
Dis waar dat daar teleurstelling was met betrekking tot die verwagte gebeurtenis, maar selfs dit kon hulle geloof in die Woord van God, nie skud nie. Toe Jona in die strate van Ninevé verkondig het dat die stad binne veertig dae verwoes sou word, het die Here die verootmoediging van die Nineviete aanvaar en hulle proeftydperk verleng; tog was die boodskap van God deur Jona gestuur en Ninevé is volgens Sy wil getoets. Adventiste het geglo dat God hulle op dieselfde wyse gelei het om die waarskuwing aangaande die oordeel te bring. “Dit...” het hulle verklaar, “...het die harte van almal wat dit gehoor het getoets en ‘n verlange na die verskyning van die Here gewek; of dit het ‘n haat daarteen gewek, tot ‘n mindere of meerdere mate waarneembaar, maar aan God bekend. Dit het ‘n skeidslyn getrek ... sodat diegene wat hul eie harte ondersoek het, kon weet aan watter kant hulle sou staan as die Here kom — of hulle sou uitroep: ‘Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos...’ of tot die berge en rotse roep: ‘Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit en van die toorn van die Lam.’ So het God, glo ons, Sy volk getoets, hulle geloof beproef en gekyk of hulle in die uur van beproewing sou wegkrimp van die posisie waarin Hy dit goed gevind het om hulle te plaas; en of hulle hierdie wêreld sou versaak en met implisiete vertroue op die Woord van God sou staatmaak.” — The Advent Herald and Signs of the Times Reporter, vol 8, nr 14 (13 Nov 1844). GS 427.1
Die gevoelens van diegene wat steeds geglo het dat God hulle in hul vorige ervaring gelei het, kom tot uitdrukking in die woorde van William Miller: “Sou ek my lewe weer kon herleef met dieselfde getuienis as destyds, sou ek, om eerlik met God en die mens te wees, weer moes optree soos ek gedoen het ... Ek hoop dat ek my klere van die bloed van siele gereinig het. Ek voel dat ek, sover as dit in my vermoë was, myself van alle skuld aan hulle veroordeling vrygemaak het ... Alhoewel ek al twee keer teleurgestel is...” het hierdie man van God geskryf, “...is ek nog nie teneergedruk of ontmoedig nie... My hoop op die koms van Christus, is nog steeds so sterk soos voorheen. Ek het slegs gedoen wat ek, na jare se plegtige oorweging, as my plig beskou het om te doen. As ek ‘n fout begaan het, was dit aan die kant van liefde, liefde vir my medemens en ‘n oortuiging van my plig teenoor God ... Een ding weet ek, ek het niks anders gepreek as wat ek geglo het nie; en God was met my; Sy krag is in my werk geopenbaar en baie goed het daaruit voortgespruit ... Duisende mense is, volgens alle menslike voorkoms, gelei om deur die prediking van daardie tyd, die Skrif te bestudeer; en op daardie wyse is hulle deur geloof en besprinkeling van die bloed van Christus met God versoen.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 256, 255, 277, 280, 281. “Ek het nooit die guns van die hovaardiges gesoek of teruggedeins wanneer die wêreld gefrons het nie. Ek sal nie nou hulle guns koop nie en sal ook nie die perke van plig oorskry om hulle haat uit te lok nie. Ek sal nooit my lewe van hulle hande afsmeek en ook nie wegkrimp om dit te verloor as God dit in Sy goeie voorsienigheid so beskik nie .” — J White, Life of Wm Miller, bl 315. GS 427.2
God het nie Sy volk verlaat nie; Sy Gees het steeds by diegene gebly wat nie die lig wat hulle ontvang het, onbesonne ontken het en die advent-beweging veroordeel het nie. In die brief aan die Hebreërs is daar woorde van bemoediging en waarskuwing vir die beproefde, wagtende mense in hierdie krisis: “Werp dan julle vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ‘n klein tydjie en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het My siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoudenis van die siel.” (Heb 10:35-39). GS 428.1
Dat hierdie vermaning in die laaste dae aan die kerk gerig is, blyk uit die woorde wat wys op die nabyheid van die koms van die Here: “Want nog ‘n klein tydjie en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie.” (Heb 10:37). En dit word geïmpliseer dat daar ‘n skynbare vertraging sal wees en dat dit sal voorkom asof die Here talm. Die opdragte wat hier gegee word, is veral toepaslik op die ervaring van Adventiste in hierdie tyd. Die mense tot wie hierdie woorde gerig is, het gevaar geloop dat hulle geloof skipbreuk sou ly. Hulle het die wil van God gedoen deur die leiding van Sy Gees en Sy Woord te volg; tog kon hulle nie Sy doel in hul vorige ervaring begryp nie en kon ook nie die weg voor hulle onderskei nie en was hulle in die versoeking om te twyfel of God hulle wel gelei het. Op hierdie tydstip was die volgende woorde van toepassing: “Die regverdiges sal uit die geloof lewe.” Terwyl die helder lig van die “middernag-roep” op hulle pad geskyn en hulle die profesieë onverseël en die vinnigvervulde tekens van die nabyheid van die koms van Christus gesien het, het hulle as’t ware op sig gewandel. Maar nou, neergebuig deur teleurgestelde hoop, kon hulle slegs deur geloof in God en sy Woord staande bly. Die spottende wêreld het gesê: “Julle is mislei. Doen afstand van julle geloof en erken dat die advent-beweging van Satan was.” Maar God se Woord het verklaar: “As hy hom onttrek, het My siel geen welbehae in hom nie.” (Heb 10:38). Om nou hulle geloof en die krag van die Heilige Gees wat die boodskap vergesel het te verloën, sou ‘n terugkeer na verdoemenis wees. Deur die woorde van Paulus, is hulle hulle aangemoedig om standvastig te wees: “Werp dan julle vrymoedigheid nie weg nie ... julle het lydsaamheid nodig ... want nog ‘n klein tydjie en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie.” Hulle enigste veilige weg was om die lig wat hulle reeds van God ontvang het te koester, vas te hou aan Sy beloftes, voort te gaan om die Skrif te deursoek en geduldig te wag en op die uitkyk te wees om verdere lig te ontvang. GS 429.1