Die Groot Stryd (1911)

23/44

Hoofstuk 21—Waarskuwing Verwerp

William Miller en sy medewerkers het die leerstelling van die tweede koms verkondig met die uitsluitlike doel om mense op te wek om hulle vir die oordeel voor te berei. Hulle het gepoog om die belyers van godsdiens tot die ware hoop van die kerk en hul behoefte aan ‘n dieper Christelike ervaring op te wek en hulle het ook moeite gedoen om die onbekeerdes vir die plig van onmiddellike berou en bekering tot God aan te wakker. “Hulle het geen poging aangewend om mense tot ‘n sekte of ‘n godsdienstige party te bekeer nie. Daarom het hulle onder alle partye en sektes gearbei sonder om met hulle organisasie of dissipline in te meng.” GS 393.1

“In al my werke...” het Miller gesê, “...het ek nooit die begeerte of gedagte gehad om afsonderlike belange van bestaande denominasies te vestig nie, of om dit ten koste van ‘n ander te bevoordeel nie. My idee was om almal te bevoordeel. Omdat ek van die veronderstelling uitgegaan het dat alle Christene hulle oor die vooruitsig van die koms van Christus sal verheug en dat diegene wat dit nie soos ek kon sien nie, diegene wat hierdie leerstelling aangeneem het nie minder sou liefhê nie, het ek nie gedink dat daar ooit enige afsonderlike byeenkomste nodig sou wees nie. My enigste doel was ‘n begeerte om siele tot God te bekeer, om die wêreld in kennis van die komende oordeel te stel en om my medemense aan te spoor om hul harte voor te berei, sodat hulle in staat sou wees om hul God in vrede te ontmoet. Die oorgrote meerderheid van diegene wat as gevolg van my arbeid tot bekering gekom het, het by reeds bestaande kerke aangesluit.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 328. GS 393.2

Aangesien sy werk geneig was om die kerke op te bou, was dit vir ‘n tyd lank gunstig beskou. Maar namate die predikante en godsdienstige leiers teen die advent-leerstellings gekant geraak het en begerig was om alle propaganda aangaande die onderwerp te onderdruk, het hulle nie alleen die werk vanaf die kansel bestry nie, maar hulle het die lidmate van die voorreg ontneem om preke oor die tweede koms by te woon, of selfs van hulle hoop tydens sosiale byeenkomste van die kerk te praat. As gevolg hiervan het die gelowiges hulle in ‘n posisie van groot beproewing en verwarring bevind. Hulle was lief vir hul kerke en was teësinnig om hulle daarvan te skei; maar waar hulle gesien het dat die getuienis van God se Woord onderdruk word en dat hulle reg om die profesieë te ondersoek ontneem is, het hulle gevoel dat lojaliteit aan God hulle verbied het om hulle te onderwerp. Diegene wat gepoog het om die getuienis van God se Woord uit te sluit, kon hulle nie as die kerk van Christus, “...die pilaar en grondslag van die waarheid...”, beskou nie. Daarom het hulle hulself geregverdig gevoel om van hul vorige kerkverband te skei. In die somer van 1844 het ongeveer vyftigduisend hulle aan die kerke onttrek. GS 393.3

Omstreeks hierdie tyd was daar ‘n merkwaardige verandering in meeste van die kerke in die Verenigde State. Vir baie jare reeds was daar ‘n geleidelike, maar toenemende gelykvormigheid aan wêreldse praktyke en gebruike en ‘n ooreenstemmende afname in ‘n ware geestelike lewe; maar in daardie jaar was daar getuienis van ‘n skielike afname in byna al die kerke van die land. Alhoewel niemand die oorsaak kon vasstel nie, is daar oral deur die pers en kansel kennis daarvan geneem en kommentaar daaroor gelewer. GS 394.1

Tydens ‘n vergadering van die ring van Philadelphia, het Mnr Barnes, skrywer van ‘n kommentaar wat algemeen bekend was en leraar van een van die vooraanstaande kerke in die stad, verklaar dat “...hy vir twintig jaar reeds in die bediening was en nooit, tot met die laaste nagmaal, het hy die sakrament bedien sonder om minder of meer nuwe lidmate in die gemeente te ontvang nie. Maar nou is daar geen ontwakings, geen bekerings, nie veel sigbare toename in genade onder die belyers nie en niemand kom na sy studeerkamer om met hom oor die redding van hul siele te praat nie. Met die toename van besigheid en die verbetering van vooruitsigte op die gebied van handel en nywerheid, is daar ‘n toename in wêreldgesindheid. So is dit met al die denominasies.”” — Congregational Journal, 23 Mei 1844. GS 394.2

In Februarie van dieselfde jaar het Professor Finney, van Oberlin-kollege, gesê: “Ons het die feit voor oë gehad dat die protestantse kerke in ons land as sulks, onverskillig of vyandiggesind was teenoor al die morele hervormings van die eeu. Daar is gedeeltelike uitsonderings, maar tog nie genoeg om die feit anders as algemeen te weergee nie. Ons het ook ‘n ander bevestigde feit: die byna universele afwesigheid van ‘n invloed vir herlewing in die kerke. Die geestelike onverskilligheid is byna allesoorheersend en is diep gesetel; so word deur die godsdienstige pers van die hele land getuig ... Die kerklidmate word oraloor aanhangers van die mode, neem mekaar se hande in goddeloosheid by plesier-partytjies, danse, feesmaaltye, ens. ... Maar ons hoef nie oor hierdie pynlike onderwerp uit te brei nie. Dit is voldoende dat die bewyse toeneem en swaar op ons druk, om aan te toon dat die kerke oor die algemeen op ‘n treurige wyse ontaard het. Hulle het baie ver van die Here weggedwaal en Hy het Homself van hulle onttrek.” GS 395.1

En ‘n Skrywer in die Religious Telescope het getuig: “Ons het nog nooit so ‘n algemene agteruitgang van godsdiens gesien soos tans nie. Voorwaar, die kerk moet wakker skrik en die oorsaak van hierdie beproewing ondersoek; want elkeen wat Sion liefhet, moet hierdie as ‘n beproewing beskou. As ons in gedagte hou hoe min gevalle van ware bekering daar is, asook die byna ongeëwenaarde onboetvaardigheid en hardvogtigheid van sondaars, moet ons byna onwillekeurig uitroep: ‘Het God vergeet om genadig te wees? Of: Is die deur van genade gesluit?’” GS 395.2

So ‘n toestand bestaan nooit sonder oorsaak in die kerk self nie. Die geestelike duisternis wat oor nasies, oor kerke en individue kom, is nie aan ‘n willekeurige onttrekking van die ondersteuners van Goddelike genade van die kant van God te wyte nie, maar aan die verwaarlosing of verwerping van goddelike lig van die mense. ‘n Opvallende illustrasie van hierdie waarheid word in die geskiedenis van die Joodse volk in die tyd van Christus aangebied. Deur hul toewyding aan die wêreld en hulle verontagsaming van God en Sy Woord, is hulle verstand verduister en het hul harte aards en sensueel geword. Hulle het dus in onkunde aangaande die koms van die Messias verkeer en in hulle hoogmoed en ongeloof het hulle die Verlosser verwerp. Selfs toe het God nie die Joodse volk van ‘n kennis van, of die deelname aan, die seëninge van die saligheid afgesny nie. Maar diegene wat die waarheid verwerp het, het alle begeerte vir die gawe van die hemel verloor. Hulle het “...duisternis vir lig en lig vir duisternis...” aanvaar, totdat die lig wat in hulle was duisternis geword het; en hoe groot was hulle duisternis nie! GS 396.1

Dit pas by die beleid van Satan dat mense ‘n vormgodsdiens handhaaf, wanneer die gees van lewensbelangrike godsaligheid ontbreek. Nadat hulle die evangelie verwerp het, het die Jode ywerig voortgegaan om hul antieke rituele te handhaaf; hulle het hul nasionale eksklusiwiteit noukeurig bewaar, terwyl hulle self nie anders kon as om te erken dat die teenwoordigheid van God nie langer onder hulle gemanifesteer was nie. Die profesie van Daniël het so onmiskenbaar op die tyd van die koms van die Messias gewys en Sy dood so direk voorspel, dat hulle die studie daarvan ontmoedig het en uiteindelik het die rabbi’s ‘n vloek oor almal wat ‘n berekening van die tyd sou probeer doen, uitgespreek het. In blindheid en onboetvaardigheid het die volk Israel gedurende die daaropvolgende eeue, onverskillig teenoor die genadige aanbiedinge van verlossing en die seëninge van die evangelie, ‘n ernstige en vreeslike waarskuwing van die gevaar om lig uit die hemel te verwerp, gestaan. GS 396.2

Waar hierdie beweegrede ook al bestaan, sal dieselfde gevolge volg. Hy wat sy oortuigings van plig doelbewus onderdruk omdat dit met sy neigings inmeng, sal uiteindelik die mag verloor om tussen waarheid en dwaling te onderskei. Die verstand word verduister, die samelewing raak gevoelloos, die hart word verhard en die siel word van God geskei. Waar die boodskap van Goddelike waarheid verwerp en of geminag word, daar sal die kerk in duisternis gehul wees; geloof en liefde koel af en vervreemding en onenigheid tree in. Gemeentelede sentreer hul belange in wêreldse strewes en sondaars verhard in hul onboetvaardigheid. GS 397.1

Die eerste engel se boodskap van Openbaring 14, wat die uur van God se oordeel aankondig en die mense maan om God te vrees, was daarop gemik om die belydende volk van God van die verderflike invloede van die wêreld te skei en hulle te wek om hul ware toestand van wêreldsheid en afvalligheid te besef. In hierdie boodskap stuur God ‘n waarskuwing aan die kerk wat, as dit aanvaar word, die euwels wat hulle van Hom afgesluit het, reg te stel. As hulle die boodskap uit die hemel aanneem, hulle harte voor die Here verootmoedig en in opregtheid voorberei om in Sy teenwoordigheid te staan, sal die Gees en krag van God onder hulle geopenbaar word. Die kerk sal weer die geseënde toestand van eenheid, geloof en liefde bereik wat in die apostoliese tyd bestaan het, toe die gelowiges “...een van hart en siel...” was, “...die woord van God met vrymoedigheid gespreek...” het “...En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” (Hand 4:32,31;2:47). GS 397.2

As God se verklaarde volk die lig sou ontvang soos dit deur Sy Woord op hulle skyn, sou hulle die eensgesindheid bereik waarvoor Christus gebid het, en wat die apostel as “...die eenheid van die Gees ... deur die band van die vrede... ” beskryf het. “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop.” (Efe. 4:3-5). GS 397.3

Dit was die geseënde gevolge vir diegene wat die adventboodskap aanvaar het. Hulle het uit verskillende denominasies gekom en hulle geskille is neergewerp; botsende geloofstandpunte is tot atome geskud; die onskriftuurlike hoop op ‘n tydelike millennium is laat vaar, valse beskouings oor die tweede koms is reggestel en hoogmoed en gelykvormigheid met die wêreld is uit die weg geruim; onregte is herstel; harte was in heerlike gemeenskap verenig en liefde en vreugde het die botoon gevier. As hierdie leerstelling dit kon doen vir die paar wat dit wel aanvaar het, sou dit dieselfde vir almal wat dit aangeneem het gedoen het. GS 398.1

Maar die kerke oor die algemeen, het nie die waarskuwing aanvaar nie. Hulle predikante wat as “...wagters oor die huis van Israel...” die eerste moes gewees het om die tekens van Jesus se koms te onderskei, het die waarheid nie in die getuienis van die profete, óf in die tekens van die tyd onderskei nie. Namate wêreldse hoop en ambisies die hart gevul het, het liefde vir God en geloof in Sy Woord afgekoel; en toe die advent-leerstelling aangebied is, het dit slegs hulle vooroordeel en ongeloof gewek. Die feit dat die boodskap tot ‘n groot mate deur leke verkondig is, is as ‘n argument daarteen aangevoer. Van ouds af is die duidelike getuienis van God se Woord met die vraag begroet: “Het die owerstes en die Fariseërs geglo?” En omdat hulle gevind het hoe moeilik dit was om die argumente uit die profetiese tydperke, te weerlê, het hulle die studie van die profesieë ontmoedig deur te leer dat die profetiese boeke verseël is en dat dit nie verstaan moes word nie. Menigtes wat implisiet op hul predikante vertrou het, het geweier om na die waarskuwing te luister; en ander, hoewel hulle van die waarheid oortuig was, het dit nie durf bely nie, sodat hulle nie “...uit die sinagoge gewerp sou word nie.” Die boodskap wat God vir die toetsing en reiniging van die kerk gestuur het, het maar te duidelik geopenbaar hoe groot die getal was wat hulle harte op die wêreld gestel het eerder as op Christus. Die bande wat hulle aan die aarde gebind het, was sterker as die aantrekkingskrag van die hemel. Hulle het verkies om na die stem van wêreldse wysheid te luister en weggedraai van die hartdeurtastende boodskap van waarheid. GS 398.2

Deur die waarskuwing van die eerste engel te weier, het hulle die middele wat die Hemel vir hul herstel voorsien het verwerp. Hulle het die genadige boodskapper wat die euwels wat hulle van God geskei het sou wegneem verwerp en met groter gretigheid het hulle na die vriendskap van die wêreld gesoek. Dit was die oorsaak van die vreesaanjaende toestand van wêreldsheid, afvalligheid en die geestelike dood wat in 1844 in die kerke geheers het. GS 399.1

In Openbaring 14 word die eerste engel deur ‘n tweede opgevolg wat verkondig: “Geval, geval het Babilon die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery.” (Openb 14:8). Die term “Babilon” is afgelei van “Babel,” wat verwarring beteken. Dit word in die Skrif gebruik om die verskillende vorms van valse of afvallige godsdienste aan te dui. In Openbaring 17 word Babilon as ‘n vrou voorgestel — ‘n figuur wat in die Bybel gebruik word as die simbool van ‘n kerk; ‘n deugsame vrou wat ‘n rein kerk en ‘n slegte vrou ‘n afvallige kerk verteenwoordig. GS 399.2

In die Bybel word die heilige en blywende karakter van die verhouding tussen Christus en Sy kerk deur die huwelik voorgestel. Die Here het Sy volk aan Homself met ‘n plegtige verbond verbind en Hy het belowe om hulle God te wees en hulle het belowe om Syne en Syne alleen te wees. Hy verklaar: “Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in barmhartighede.” (Hos 2:18). En weer: “Ek is Heer oor julle.” (Jer 3:14). En in die Nuwe Testament gebruik Paulus dieselfde figuur waar hy sê: “Ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.” (2 Kor 11:2). GS 399.3

Die ontrouheid van die kerk teenoor Christus, deur toe te laat dat haar vertroue en liefde van Hom afgewend word en dat liefde vir wêreldse dinge van die siel besit neem, word met die skending van die huweliksbelofte vergelyk. Die sonde van Israel deur van die Here af te wyk, word deur hierdie figuur voorgestel; en die wonderlike liefde van God wat hulle aldus verag het, word op ‘n hartroerende wyse uitgebeeld: “Ek het vir jou gesweer en met jou ‘n verbond aangegaan, spreek die Here HERE en jy het Myne geword ... Jy was buitengewoon mooi en so voorspoedig dat jy koninklike waardigheid bereik het. Daarby het daar ‘n naam van jou af uitgegaan onder die nasies vanweë jou skoonheid, want dit was volmaak deur My versiersels wat Ek op jou aangebring het ... Maar jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer vanweë jou naam ... Maar soos ‘n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die Here ... O die vrou wat owerspel bedrywe! Terwyl sy onder haar man staan, het sy vreemdes aangeneem.” (Eseg 16:8,13-15,32; Jer 3:20). GS 400.1

In die Nuwe Testament word soortgelyke taal aan belydende Christene wat die vriendskap van die wêreld bo die guns van God soek gerig. Die apostel Jakobus sê: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” (Jak 4:4). GS 400.2

Die vrou (Babilon) van Openbaring 17, word beskryf as iemand “...bekleed met purper en skarlaken en versier met goud en kosbare stene en pêrels en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.” Die profeet sê: “Ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus.” Babilon word verder beskryf as “...die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.” (Openb 17:4-6,18). Die mag wat vir soveel eeue despotiese heerskappy oor die monarge van die Christendom gehandhaaf het, is Rome. Die purper en skarlakenrooi kleed, die goud, kosbare edelstene en pêrels, gee ‘n duidelike beeld van die prag en meer as koninklike praal wat deur die hoogmoedige pous van Rome beïnvloed word. En geen ander mag kan so waarlik as “...dronk van die bloed van die heiliges...” beskryf word as die kerk wat die volgelinge van Christus so wreed vervolg het nie. Babilon word ook beskuldig van die sonde van onwettige verbintenisse met die “...konings van die aarde.” Dit was deur ‘n wegdraai van die Here en ‘n alliansie met die heidene, dat die Joodse kerk ‘n hoer geword het; en Rome, wat haarself op dieselfde wyse gekorrupteer het deur die steun van die wêreldse magte te soek, ontvang ‘n soortgelyke veroordeling. GS 400.3

Daar word gesê dat Babilon “...die moeder van die hoere... ” is. Haar dogters simboliseer kerke wat aan haar leerstellings en tradisies vaskleef en haar voorbeeld volg om die waarheid en die goedkeuring van God op te offer, om ‘n onwettige bondgenootskap met die wêreld te vorm. Die boodskap van Openbaring 14 wat die val van Babilon aankondig, moet van toepassing wees op godsdienstige liggame wat eens rein was en korrup geword het. Aangesien hierdie boodskap op die waarskuwing van die oordeel volg, moet dit in die laaste dae gegee word; daarom kan dit nie slegs na die Roomse Kerk verwys nie, want daardie kerk verkeer eeue lank reeds in ‘n gevalle toestand. Verder word die volk van God in die agtiende hoofstuk van Openbaring, opgeroep om uit Babilon uit te kom. Volgens hierdie skrif moet baie van God se volk nog in Babilon wees. En in watter godsdienstige liggame is die grootste deel van die volgelinge van Christus tans te vinde? Sonder twyfel in die verskillende kerke wat die Protestantse geloof bely. Ten tye van hul totstandkoming, het hierdie kerke ‘n edele standpunt vir God en die waarheid ingeneem en Sy seën was met hulle. Selfs die ongelowige wêreld was gedwing om die weldadige resultate wat op die aanname van die beginsels van die evangelie gevolg het, te erken. In die woorde van die profeet aan Israel: “Daar [het] ‘n naam van jou af uitgegaan onder die nasies vanweë jou skoonheid, want dit was volmaak deur My versiersels wat Ek op jou aangebring het, spreek die Here HERE.” (Eseg 16:14,15). Maar hulle het as gevolg van dieselfde begeerte geval, wat die vloek en ondergang van Israel was, naamlik die begeerte om die praktyke en vriendskap van Goddelose mense na te streef. “Maar jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer vanweë jou naam.” (Eseg 16:15). GS 401.1

Baie van die Protestantse kerke volg Rome se voorbeeld van ongeregtige verbintenisse met die “...konings van die aarde... ” — die staatskerke deur hulle verhouding met sekulêre regerings; en ander denominasies deur die guns van die wêreld te soek. Die benaming “Babilon” (verwarring) kan met reg op hierdie liggame toegepas word, wat almal beweer dat hulle leerstellings uit die Bybel afkomstig is, maar tog in byna ontelbare sektes, met wyd-uiteenlopende geloofsbelydenisse en teorieë, verdeel is. GS 402.1

Behalwe ‘n sondige verbintenis met die wêreld, bied die kerke wat van Rome geskei het, ook van haar ander karaktertrekke aan. GS 402.2

'n Rooms-Katolieke boek voer aan dat “...as die Kerk van Rome ooit aan afgodsdiens in verband met die heiliges skuldig was, dan staan haar dogter, die Kerk van Engeland, net so skuldig, wat tien kerke het wat aan Maria gewy is, vir een wat aan Christus gewy is.” — Dr Challoner, The Catholic Christian Instructed, Voorwoord, bl 21, 22. GS 402.3

En Dr. Hopkins verklaar in sy werk, A Treatise on the Millennium: “Daar is geen rede om aan te neem dat die antiChristelike gees en praktyke alleen, tot die kerk wat vandag as die Kerk van Rome bekend is, beperk is nie. Die Protestantse kerke het net soveel antichriste in hulle en is nog lank nie heeltemal hervorm ... van die korrupsie en goddeloosheid nie.” — Samuel Hopkins, Works, vol 2, bl 328, 1854-uitgawe. GS 402.4

Aangaande die skeiding van die Presbiteriaanse Kerk van Rome, skryf Dr Guthrie: “Driehonderd jaar gelede het ons kerk, met ‘n oop Bybel op haar vaandel, asook hierdie leuse: ‘Deursoek die Skrif, ‘op haar boekrol, by die poorte van Rome uitgestap.” Dan vra hy hierdie betekenisvolle vraag: “Het ons heeltemal uit Babilon uitgekom?” — John Guthrie, The Gospel in Ezekiell, bl 237. GS 403.1

“Die Kerk van Engeland...” het Spurgeon gesê, “...lyk asof dit deur en deur met sakramentarisme deurdrenk is; maar dit lyk asof afgeskeidenheid byna net so met filosofiese ontrou deurtrek is. Diegene van wie ons beter dinge verwag het, het een vir een van die grondbeginsels van die geloof afgewyk. Ek glo dat die hart van Engeland deur en deur met ‘n verdoemende ongeloof deurtrek is, wat dit nog waag om die kansel te bestyg en homself Christelik te noem.” GS 403.2

Wat is die oorsprong van die groot afvalligheid? Hoe het die kerk in die eerste plek van die eenvoud van die evangelie afgewyk? Deur te voldoen aan die praktyke van die heidendom, om die aanvaarding van die Christendom vir die heidene te vergemaklik. Die apostel Paulus het selfs in sy tyd verklaar dat “...die verborgenheid van die ongeregtigheid ... al aan die werk...” is. (2 Thes 2:7). Gedurende die leeftyd van die apostels het die kerk relatief rein gebly. Maar “...teen die einde van die tweede eeu het meeste van die kerke ‘n nuwe vorm aangeneem; die oorspronklike eenvoud het verdwyn en ongemerk, soos die ou dissipels in hul grafte afgetree het, het hul kinders, tesame met nuwe bekeerlinge, na vore getree en ‘n nuwe vorm aan die saak gegee.” — Robert Robinson, Ecclesiastical Researches, hfst 6, par 17, bl 51. Om bekeerlinge te verseker, is die verhewe maatstaf van die Christelike geloof verlaag en as gevolg daarvan, het “...'n heidense stroom die kerk binnegevloei en daarmee saam hul gewoontes, gebruike en afgode.” — Gavazzi’s Lectures, bl 278. Namate die Christelike godsdiens die guns en steun van die sekulêre heersers verkry het, is dit nominaal deur die menigtes aanvaar; maar hoewel hulle skynbaar Christene was, het baie “...in werklikheid heidene gebly, wat veral hul afgode in die geheim aanbid het.” — Gavazzi’s Lectures, bl 278. GS 403.3

Is dieselfde proses nie in byna elke kerk wat homself Protestants noem herhaal nie? Namate die stigters daarvan, diegene wat met die ware gees van hervorming besiel was gesterf het, het hulle nageslag na vore getree en “...'n nuwe vorm aan die saak gegee.” Terwyl hulle blindelings aan die geloofsbelydenis van hulle vaders vasgehou en geweier het om enige waarheid te aanvaar, behalwe wat hulle gesien het, het die kinders van die hervormers ver van die voorbeeld van nederigheid, selfverloëning en versaking van die wêreld afgewyk. Op hierdie wyse “...het die eerste eenvoud verdwyn.” ‘n Wêreldse vloed het die kerk binnegestroom met “...sy gewoontes, praktyke en afgode.” GS 404.1

Helaas, in hoe groot mate word die vriendskap van die wêreld wat “...vyandskap teen God...” is, nou onder die beweerde volgelinge van Christus gekoester! Hoe wyd het die gewilde kerke dwarsdeur die Christendom afgewyk van die Bybelse maatstaf van nederigheid, selfverloëning, eenvoud en godsaligheid! John Wesley het oor die regte gebruik van geld gesê: “Moenie enige deel van so ‘n kosbare talent verkwis, net om die begeerte van die oog deur oorbodige of duur klere of deur onnodige ornamente te bevredig nie. Verkwis geen deel daarvan aan die versiering van julle huise of aan duur huisraad, prente, skilderye en vergulding nie ... Bestee niks om die trots van die lewe te bevredig, of om die bewondering en lof van mense te verkry nie ... ‘Solank julle goed aan julself doen, sal die mense van julle goedpraat.’ Solank julle in ‘purper en fyn linne geklee’ is en elke dag weelderig lewe, sal daar ongetwyfeld baie wees wat julle smaak, julle vrygewigheid en gasvryheid sal prys. Maar moenie hulle applous so duur koop nie. Wees eerder tevrede met die eer wat van God kom.” — Wesley’s Works, Preek 50, “The Use of Money.” Maar in baie kerke van ons tyd word hierdie leer buite rekening gelaat. GS 404.2

'n Skyn-godsdiens het by die wêreld gewild geword. Regeerders, staatkundiges, wetgeleerdes, geneeshere en handelaars sluit by die kerk aan om die respek en vertroue van die samelewing te verseker en om hulle eie wêreldse belange te bevorder. Sodoende poog hulle om al hul onregverdige transaksies onder ‘n skyn van Christelikheid te dek. Die verskillende godsdienstige liggame, versterk deur die rykdom en invloed van hierdie gedoopte wêreldlinge, bied ‘n nog hoër bod vir populariteit en beskerming. Pragtige kerkgeboue, op die mees oordadigste wyse versier, word langs hoofpaaie opgerig. Die aanbidders klee hulself in die duurste en mees modieuse drag. ‘n Hoë salaris word aan ‘n begaafde predikant betaal om mense te vermaak en te lok. Sy preke mag nie gewilde sondes aanraak nie, maar hulle moet strelend en aangenaam vir modieuse ore wees. Op hierdie wyse word modieuse sondaars in die boeke van die kerk geregistreer en modieuse sondes word onder ‘n voorwendsel van godsaligheid verberg. GS 405.1

In ‘n kommentaar oor die huidige houding van beweerde Christene teenoor die wêreld, skryf ‘n toonaangewende sekulêre tydskrif: “Die kerk het ongemerk aan die gees van die tyd toegegee en sy het die vorm van aanbidding by moderne behoeftes aangepas ... Alle dinge wat bydra om die godsdiens aantreklik te maak, word nou deur die kerk as middel tot die doel gebruik.” En ‘n skrywer in die New York Independent praat van Metodisme soos volg: “Die skeidslyn tussen die Goddelike en goddelose verdof tot ‘n soort halfskadu en ywerige mense aan albei kante werk hard om alle verskille tussen hulle wyses van optrede en genot uit te wis ... Die gewildheid van die godsdiens neig tot die grootste toename in die aantal mense wat die voordele daarvan wil geniet sonder om hul pligte regstreeks na te kom. GS 405.2

Soos Howard Crosby sê: “Dit is ‘n saak van groot kommer dat ons so min vind dat die kerk van Christus aan die doel van die Here beantwoord. Net soos die eertydse Jode toegelaat het dat familiêre omgang met die afgodiese nasies hulle harte van God weglei, so is die kerk van Jesus nou deur valse vennootskappe met ‘n ongelowige wêreld besig om die Goddelike beginsels van die ware lewe prys te gee en hulself aan verderflike, hoewel dikwels aanneemlike gewoontes van ‘n samelewing sonder Christus oor te gee, deur die argumente te gebruik en tot gevolgtrekkings te kom, wat vreemd aan die openbaring van God is en direk antagonisties teenoor alle groei in genade is.. ” — The Healthy Christian: An Appeal to the Church, bl. 141, 142. GS 406.1

In hierdie gety van wêreldsheid en genotsug, is selfverloëning en selfopoffering ter wille van Christus, byna heeltemal verlore. “Sommige mans en vroue wat tans aktief in ons kerke is, is as kinders opgelei om opofferings te maak om hulle in staat te stel om iets vir Christus te gee of te doen.” Maar “...as daar tans fondse verlang word ... moet daar geen beroep op iemand gedoen word om te gee nie. O nee! Hou ‘n kermis, ‘n dramatiese vertoning, ‘n skyn verhoor, antieke eetmaal of iets om te eet, enigiets om die mense mee te vermaak.” GS 406.2

Goewerneur Washburn, van Wisconsin, het in sy jaarlikse boodskap op 9 Januarie 1873 verklaar: “Dit wil voorkom asof wetgewing nodig is om die skole waar dobbelaars opgelei word, te sluit. Hulle is oral. Selfs die kerk (ongetwyfeld onbewustelik), word soms gevind dat hulle die werk van die duiwel doen. Geskenk-konserte, geskenk-ondernemings en loterye, soms ten bate van godsdienstige of liefdadigheids doeleindes, maar dikwels vir minderwaardige doeleindes, loterye, pryspakkette, ens, dien alles om geld, sonder toevoeging van waarde, te ontvang. Niks is so demoraliserend of bedwelmend, veral vir jongmense, as die verkryging van geld of eiendom sonder arbeid nie. Omdat respektabele mense by hierdie gelukskootondernemings betrokke raak en hul gewete sus met die idee dat die geld vir ‘n goeie doel aangewend word, is dit nie vreemd dat die jeug van die staat so dikwels in die gewoontes verval wat amper seker deur die opwinding van dobbelspel gegenereer word nie.” GS 406.3

Die gees van wêreldse gelykvormigheid, dring die kerke dwarsdeur die Christendom binne. In ‘n preek in Londen, skilder Robert Atkins ‘n donker prent van die geestelike agteruitgang wat in Engeland heers: “Die ware regverdiges op die aarde verminder en niemand neem dit ter harte nie. Die belyers van die hedendaagse godsdiens in alle kerke, is liefhebbers van die wêreld, in ooreenstemming met die wêreld, liefhebbers van aardse gemak en strewe na eer. Hulle word geroep om saam met Christus te ly, maar hulle krimp selfs van smaad weg ... Afvalligheid, afvalligheid, afvalligheid, is aan die voorkant van elke kerk gegraveer; en indien hulle dit geweet of ervaar het, sou daar hoop wees; maar, helaas! hulle roep uit: ‘Ons is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie.’” — Second Advent Library, Traktaat nr 39. GS 407.1

Die groot sonde waarvan Babilon beskuldig word, is dat sy “...al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery.” Hierdie beker van bedwelming wat sy aan die wêreld voorhou, verteenwoordig die valse leerstellings wat sy as gevolg van haar onwettige verbintenis met die grotes van die aarde aanvaar het. Vriendskap met die wêreld het haar geloof besoedel en op haar beurt, oefen sy ‘n verderflike invloed op die wêreld uit deur leerstellings te leer wat teenstrydig met die duidelikste uitsprake van die Heilige Skrif is. GS 407.2

Rome het die Bybel van die mense weerhou en vereis dat alle mense haar leerstellings in die plek daarvan moet aanvaar. Dit was die werk van die Hervorming om die Woord van God aan die mense terug te gee; maar is dit nie te waar, dat mense in ons tyd in die kerke geleer word om hul geloofsbelydenis op die leerstellings van hulle kerk te grond eerder as op die Skrif nie? Charles Beecher het met verwysing na die Protestantse kerke gesê: “Hulle krimp weg van enige growwe woord teen hulle geloofsbelydenisse met dieselfde sensitiwiteit waarmee daardie heilige vaders sou wegkrimp het vir ‘n growwe woord teen die toenemende verering van heiliges en martelare wat hulle gekoester het ... Die Protestantse evangeliese denominasies het mekaar en hul eie hande so vasgebind dat tussen hulle almal geen man ‘n prediker kan word sonder om een of ander boek naas die Bybel te aanvaar nie. Daar is niks denkbeeldig in die verklaring dat die mag van ‘n geloofsbelydenis die Bybel begin verbied, net so gewis soos wat Rome dit gedoen het, hoewel op ‘n meer subtiele wyse. — Preek oor “The Bible a Sufficient Creed,” gelewer te Fort-Wane, Indiana, 22 Feb 1846. GS 407.3

Wanneer getroue leraars die Woord van God uitlê, staan manne van geleerdheid op, predikante wat beweer dat hulle die Skrifte verstaan, wat die gesonde leer as kettery veroordeel en sodoende ondersoekers na die waarheid wegwys. Was dit nie dat die wêreld hopeloos met die wyn van Babilon bedwelm is nie, sou menigtes deur die eenvoudige, snydende waarhede van die Woord van God oortuig en bekeer kon word. Maar dit wil voorkom asof godsdienstige geloof so verward en onoordeelkundig is, dat die mense nie weet wat om vir die waarheid aan te neem nie. Die sonde van die wêreld se onboetvaardigheid kan voor die deur van die kerk gelê word. GS 408.1

Die boodskap van die tweede engel van Openbaring 14 is die eerste keer in die somer van 1844 verkondig en toe was dit meer direk van toepassing op die kerke van die Verenigde State, waar die waarskuwing teen die oordeel, die wydste verkondig en mees algemeenste verwerp is en waar die afvalligheid in die kerke die vinnigste was. Maar die boodskap van die tweede engel het nie in 1844 volledig in vervulling gegaan nie. Die kerke het toe ‘n sedelike verval as gevolg van hulle verwerping van die lig van die advent-boodskap ervaar; maar die val was nog nie volkome nie. Namate hulle die spesiale waarhede vir hierdie tyd verwerp het, het hulle al hoe laer en gesink. Maar daar kon egter nog nie toe gesê word dat Babilon geval het nie, “...omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery...” nie. Sy het toe nog nie al die nasies van haar wyn laat drink nie. Die gees van wêreldgesindheid en onverskilligheid teenoor die beproefde waarhede vir ons tyd, bestaan steeds en neem al hoe meer in die Protestantse geloof in al die lande van die Christendom toe; en hierdie kerke is ingesluit by die skrikwekkende veroordeling van die tweede engel. Maar die werk van afvalligheid het nog nie sy hoogtepunt bereik nie. GS 408.2

Die Bybel verklaar dat Satan voor die koms van die Here “...met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan...” sal werk, “...omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie...” en dat hulle “...die krag van die dwaling... ” sal aanneem “...om die leuen te glo.” (2 Thes 2:9-11). Eers wanneer hierdie toestand bereik is en die vereniging van die kerk met die wêreld in die hele Christendom verwesenlik is, sal die val van Babilon volkome wees. Die verandering is geleidelik en die volkome vervulling van Openbaring 14:8 is nog in die toekoms. GS 409.1

Ondanks die geestelike duisternis en vervreemding van God, wat in die kerke wat deel van Babilon uitmaak bestaan, is die groot liggaam van Christus se ware volgelinge steeds in hul gemeenskap te vinde. Daar is baie van hulle wat nog nooit die spesiale waarhede vir hierdie tyd raakgesien het nie. Baie van hulle is ontevrede oor hul huidige toestand en verlang na helderder lig. Hulle soek tevergeefs na die beeld van Christus in die kerke waarvan hulle lidmate is. Namate hierdie kerke al hoe verder van die waarheid afwyk en hulself al nouer met die wêreld verbind, sal die verskil tussen die twee klasse groter word en sal dit uiteindelik skeiding tot gevolg hê. Die tyd sal aanbreek wanneer diegene wat God bo alles liefhet, nie langer in verbinding kan bly met diegene wat “...meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God...” is nie en “...wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën.” GS 409.2

Openbaring 18 wys op die tyd aan wanneer die kerk, as gevolg van die verwerping van die drieledige waarskuwing van Openbaring 14:6-12, uiteindelik die toestand wat die tweede engel voorspel het ten volle sal bereik en die volk van God wat nog in Babilon is, geroep sal word om van gemeenskap met haar te skei. Hierdie boodskap is die laaste wat ooit aan die wêreld gegee sal word; en dit sal sy werk volbring. Wanneer diegene “...wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid...” (2 Thess. 2:12), oorgelaat sal word om kragtige dwaling te ontvang en die leuen te glo, sal die lig van waarheid op almal skyn wie se harte oop is om dit te ontvang en al die kinders van die Here wat in Babilon agtergebly het, sal aan die oproep gehoor gee: “Gaan uit haar uit, my volk.” (Openb 18:4). GS 410.1