Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 20—'n Groot Godsdienstige Ontwaking
'n Groot godsdienstige ontwaking deur die verkondiging van Christus se spoedige wederkoms, word in die profesie van die eerste engel se boodskap in Openbaring 14 voorspel. ‘n Engel wat “...in die middel van die lug ... vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke...” is gesien wat “...met ‘n groot stem...” verkondig: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” (Openb 14:6,7). GS 371.1
Die feit dat daar gesê word dat ‘n engel die aankondiger van hierdie waarskuwing is, is belangrik. Deur die reinheid, die heerlikheid en die krag van hierdie hemelse boodskapper, het dit Goddelike Wysheid behaag om die verhewe karakter van die werk wat deur die boodskap vervul moes word en die krag en heerlikheid wat daarmee gepaard gaan, te verteenwoordig. En die vlug van die engel “...in die middel van die lug...” en “...die groot stem...” waarmee die waarskuwing uitgespreek word en die bekendmaking daarvan aan almal wat op die aarde woon “...aan alle nasies, stamme en tale en volke...” is bewys van die spoed en wêreldwye omvang van die beweging. GS 371.2
Die boodskap self, werp lig op die tyd wanneer hierdie beweging gaan plaasvind. Dit word verklaar as deel van die “ewige evangelie” en dit kondig die aanvang van die oordeel aan. Die boodskap van verlossing is in alle eeue verkondig; maar hierdie boodskap is ‘n deel van die evangelie wat eers in die laaste dae verkondig kon word, want eers dan sou dit waar wees dat die uur van die oordeel aangebreek het. Die profesieë toon ‘n opeenvolging van gebeure wat lei tot die begin van die oordeel. Dit geld veral in die boek Daniël. Maar Daniël is gebied om die deel van sy profesie wat betrekking op die laaste dae het, te verseël “...tot die tyd van die einde.” Eers nadat hierdie tyd bereik is, kon ‘n boodskap oor die oordeel, gegrond op die vervulling van hierdie profesieë, verkondig word. Maar in die tyd van die einde, sê die profeet, sal “...baie ... dit deursoek en die kennis sal vermeerder.” (Dan 12:4). GS 371.3
Die apostel Paulus het die kerk gewaarsku om nie in sy tyd uit te kyk vir die wederkoms van Christus nie. “Eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word...” voordat daardie dag kan kom (2 Thes 2:3). Eers ná die groot afvalligheid en die lang tydperk van die heerskappy van die mens van sonde, kan ons die wederkoms van ons Here verwag. Die “...mens van sonde...” wat ook “...die verborgenheid van ongeregtigheid...” die “...seun van die verderf...” en “...die ongeregtige...” genoem word, verteenwoordig die pousdom wat, soos in die profesie voorspel is, vir 1 260 jaar heerskappy sou voer. Hierdie tydperk het in 1798 geëindig. Die wederkoms van Christus kon nie voor daardie tyd plaasvind nie. Paulus het met sy omsigtigheid, die hele Christelike bedeling tot met die jaar 1798 gedek. Dit is ná hierdie tyd dat die boodskap van die wederkoms van Christus verkondig sou word. GS 372.1
Geen boodskap soos hierdie is ooit in die afgelope eeue gegee nie. Paulus het, soos ons gesien het, dit nie gepreek nie; hy het sy broeders op die destydse verre toekoms van die wederkoms van die Here gewys. Die hervormers het dit nie verkondig nie. Martin Luther het die oordeel ongeveer driehonderd jaar in die toekoms vanaf sy tyd geplaas. Maar sedert 1798, is die boek van Daniël onverseël, die kennis van die profesieë het toegeneem en baie het die plegtige boodskap van die nabyheid van die oordeel verkondig. GS 372.2
Soos die groot hervorming van die sestiende eeu, het die advent-beweging terselfdertyd in verskillende lande van die Christendom te voorskyn gekom. In beide Europa en Amerika is mense van geloof en gebed gelei om die profesieë te bestudeer en nadat hulle die geïnspireerde verslag nagespeur het, het hulle oortuigende bewyse gesien van die einde van alle dinge wat op hande was. In verskillende lande was daar afgesonderde liggame van Christene wat net uit ‘n blote studie van die Skrif, tot die oortuiging gekom dat die Heiland se koms naby was. GS 372.3
In 1821, drie jaar nadat Miller deur sy ondersoek van die profesieë, by die uiteensetting van die profesieë wat op die tyd van die oordeel gewys het gekom het, het dr Joseph Wolff, “die sendeling vir die wêreld”, die koms van die Here wat op hande was, begin verkondig. Wolff is in Duitsland gebore, met Joodse ouers en sy vader was ‘n Joodse rabbi. Hy was reeds op jeugdige ouderdom van die waarheid van die Christelike geloof oortuig. GS 373.1
Hy het ‘n aktiewe, ondersoekende gees gehad en was ‘n ywerige luisteraar na die gesprekke wat in sy vader se huis plaasgevind het wanneer vroom Jode daagliks vergader het om oor die hoop en verwagtinge van hul volk, die heerlikheid van die komende Messias en die herstel van Israel te praat. Op ‘n dag toe hy van Jesus van Nasaret hoor, het die seun gevra wie Hy was. “‘n Jood met die grootste talent...” was die antwoord; “...maar omdat Hy voorgegee het dat Hy die Messias was, het die Joodse hof Hom tot die dood veroordeel ... Waarom...” het die seun gevra, “...is Jerusalem vernietig en waarom het ons in ballingskap gegaan?” “Helaas, helaas!” het sy vader geantwoord, “...omdat die Jode die profete vermoor het.” Die gedagte het dadelik by die kind opgekom: “Miskien was Jesus ook ‘n profeet en het die Jode Hom onskuldig om die lewe gebring.” — Travels and Adventures of the Rev Joseph Wolff, vol 1, bl 6. Hierdie gevoel was só sterk in hom dat, hoewel hy verbode was om ‘n Christelike kerk te betree, hy dikwels buite sou vertoef om na die prediking te luister. GS 373.2
Toe hy slegs sewe jaar oud was, het hy teenoor ‘n bejaarde Christelike buurman gespog met die toekomstige triomf van Israel tydens die koms van die Messias, toe die bejaarde man vriendelik aan hom gesê het: “Liewe seun, ek sal jou vertel wie die ware Messias was: Hy was Jesus van Nasaret ... wat u voorvaders gekruisig het, net soos die profete van ouds. Gaan huis toe en lees die drie-en-vyftigste hoofstuk van Jesaja en jy sal oortuig wees dat Jesus Christus die Seun van God is.” — Travels and Adventures of the Rev Joseph Wolff, vol 1, bl 7. Hy was onmiddellik oortuig. Hy het teruggekeer huis toe en het die skrifgedeelte gelees en was verwonderd om te sien hoe volkome dit in Jesus van Nasaret vervul is. Was die woorde van hierdie Christen waar? Die seun het sy vader om ‘n verduideliking van hierdie profesie gevra, maar hy is met so ‘n streng stilswye beantwoord, dat hy nooit weer gewaag het om na die onderwerp te verwys nie. Dit het egter net sy begeerte verdiep om meer van die Christelike godsdiens te leer ken. GS 373.3
Die kennis waarna hy gesoek het, is sorgvuldig in sy Joodse huis van hom weggehou; maar toe hy net elf jaar oud was, het hy sy ouerhuis verlaat en die wêreld ingegaan om vir homself ‘n opleiding te bekom om sy godsdiens en sy lewenstaak te kies. Hy het ‘n tyd lank ‘n tuiste by familielede gevind, maar is spoedig as afvallig van hulle verdryf en alleen en sonder geld, moes hy sy weg tussen vreemdelinge vind. Hy het van plek tot plek gegaan, ywerig gestudeer en homself onderhou deur Hebreeus te onderrig. Deur die invloed van ‘n Katolieke instrukteur, is hy daartoe gelei om die Katolieke geloof aan te neem, met die voorneme om as sendeling vir sy eie nasie te dien. Met hierdie doel voor oë het hy ‘n paar jaar later sy studies aan die College of the Propaganda in Rome voortgesit. Hier het sy gewone onafhanklike denke en openhartige gesprekke, die toerekening van dwaalleer oor hom gebring. Hy het openlik die misbruike van die kerk aangeval en die noodsaaklikheid van hervorming aangespoor. Alhoewel hy in die begin deur die pouslike hooggeplaastes met spesiale guns bejeën is, is hy na ‘n tyd uit Rome verdryf. Onder toesig van die kerk het hy van plek tot plek gegaan, totdat dit vir hom duidelik geword het dat hy hom nooit aan die slawerny van die Roomse kerk sou onderwerp nie. Hy is onverbeterlik verklaar en is vrygelaat om te gaan waar hy wou. Hy het toe na Engeland vertrek, die Protestantse geloof bely en met die Kerk van Engeland verenig. Na twee jaar se studie, het hy in 1821 op sy sending vertrek. GS 374.1
Hoewel Wolff die groot waarheid van Christus se eerste koms as ‘n “...Man van smarte en bekend met krankheid...” aanvaar het, het hy gesien dat die profesieë Sy tweede koms ewe duidelik met krag en glorie aan die lig bring. En terwyl hy gepoog het om sy eie volk na Jesus van Nasaret as die Beloofde Een te lei en hulle op Sy eerste koms in nederigheid en as Soenoffer vir die sondes van die mense te wys, het hy hulle ook van Sy wederkoms as Koning en Verlosser geleer. GS 375.1
“Jesus van Nasaret, die ware Messias...” het hy gesê, “...wie se hande en voete deurboor is, wat soos ‘n Lam ter slagting gebring is, wat die Man van smarte was en daarmee vertroud was, wat nadat die septer uit Juda weggeneem is en die wetgewende mag onder sy voete uit, die eerste keer gekom het, sal die tweede keer in die wolke van die hemel en met die basuin van die Aartsengel kom.” — Joseph Wolff, Researches and missionary Labors, bl 62. “En Hy sal op die Olyfberg staan; en daardie heerskappy oor die skepping wat een maal aan Adam oorgedra is en deur hom verbeur is ... sal aan Jesus gegee word. Hy sal Koning oor die hele aarde wees. Die gekerm en die klaagliedere van die skepping sal ophou, maar die lofliedere en dankseggings sal gehoor word ... Wanneer Jesus in die heerlikheid van Sy Vader saam met Sy heilige engele kom ... sal die afgestorwe gelowiges eerste opstaan.” (1 Thes 4:16; 1 Kor 15:23.) Dit is wat ons Christene die eerste opstanding noem. GS 375.2
Dan sal die diereryk sy natuur verander (Jes 11:6-9) en aan Jesus onderwerp word. (Ps 8). Universele vrede sal heers. Die Here sal weer op die aarde neerkyk en sê: ‘Kyk, dit is baie goed.’” — Journal of the Rev Joseph Wolff, bl 378, 379, 294. GS 375.3
Wolff het geglo dat die koms van die Here op hande was en sy vertolking van die profetiese tydperke het die groot voleinding binne ‘n paar jaar van die datum wat Miller uitgewys het, geplaas. Aan diegene wat volgens die Skrif aangevoer het dat: “...van dié dag en dié uur weet niemand nie...” en dat mense niks van die nabyheid van daardie gebeurtenis kan weet nie, het Wolff geantwoord: “Het die Here gesê dat daardie dag en uur nooit geken moet word nie? Het Hy ons nie die tekens van die tye gegee sodat ons ten minste die tekens van Sy naderende koms sou ken, net soos wat ‘n mens kan weet dat die somer naby is wanneer die vyeboom bot nie? (Mat 24:32). Moet ons daardie tydperk nooit te wete kom nie, terwyl Hy ons nie alleen vermaan om die profesie van Daniël te lees nie, maar om dit ook te verstaan?; en in daardie einste profesie van Daniël, waar gesê word dat die woorde tot die tyd van die einde opgesluit is (wat die geval in sy tyd was) en dat baie dit sal ‘deursoek', ('n Hebreeuse uitdrukking vir die waarneming daarvan en na te dink oor die tyd), sal ‘die kennis’ (aangaande die tyd), ‘vermeerder’ word. (Dan 12:4.) Daarbenewens is ons Heer nie van plan om hierdeur te sê dat die nadering van die tyd nie bekend sal wees nie, maar van die “...presiese dag en uur weet niemand nie.” Genoeg sal aan die tekens van die tye gesien word om ons aan te spoor om op Sy koms voor te berei, soos Noag die ark voorberei het.” — Wolff, Researches and Missionary Labors, bl 404, 405. GS 375.4
Aangaande die algemene vertolking of verkeerde vertolking van die Skrif het Wolff geskryf: “Die grootste deel van die Christelike kerk het van die duidelike betekenis van die Skrif afgewyk en hulle tot die drogbeeld-stelsel van die Boeddhiste gewend, wat glo dat die toekomstige geluk van die mensdom, daarin bestaan om in die lug rond te sweef en het van die veronderstelling uitgegaan dat wanneer hulle ‘Jode’ lees, hulle dit as ‘heidene’ moet verstaan en wanneer hulle ‘Jerusalem’ lees, hulle dit as ‘kerk’ moet verstaan; en dat die ‘aarde', die ‘lug’ beteken; en as hulle lees van die ‘koms van die Here', hulle die ‘vooruitgang van die sendinggenootskappe’ moet verstaan; en dat ‘opgaan na die berg van die huis van die Here', ‘n ‘deftige samekoms van Metodiste’ beteken.” — Journal of the Rev Joseph Wolff, bl 96. GS 376.1
Gedurende die vier-en-twintig jaar vanaf 1821 tot 1845, het 361 Wolff baie gereis: Hy het Afrika, Egipte en Abessinië besoek; en Asië, deur Palestina, Sirië, Persië, Bokhara en Indië deurkruis. GS 377.1
Hy het ook die Verenigde State besoek en op die reis daarheen het hy op die eiland St Helena gepreek. Hy het in Augustus 1837 in New York aangekom; en nadat hy in daardie stad gepreek het, het hy in Philadelphia en Baltimore gepreek en uiteindelik na Washington gegaan. “Hier...” het hy gesê, “...is daar op ‘n mosie van die oud-president, John Quincy Adams, in een van die huise van Kongres, eenparig besluit om die gebruik van die Kongres-saal aan my toe te staan vir ‘n lesing wat ek op ‘n Saterdag gegee het en wat met die teenwoordigheid van al die lede van die Kongres, die biskop van Virginië en van die geestelikes en burgers van Washington vereer is. Dieselfde eer is aan my bewys deur die lede van die regering van Nieu-Jersey en Pennsilvanië, in wie se teenwoordigheid ek lesings oor my navorsingswerk in Asië gelewer het, asook oor die persoonlike heerskappy van Jesus Christus.” — Journal of the Rev Joseph Wolff, bl 398, 399. GS 377.2
Dr Wolff het in die mees barbaarse lande gereis sonder die beskerming van enige Europese owerheid. Hy het baie ontberings verduur en is met talle gevare omring. Hy is geslaan, uitgehonger, as slaaf verkoop en drie keer ter dood veroordeel. Hy is deur rowers aangeval en het soms byna van dors vergaan. Op ‘n keer was hy van alles wat hy besit het beroof en het honderde kilometers te voet deur die berge getrek, met die sneeu wat teen sy gesig vasslaan en sy kaal voete verdoof van kontak met die bevrore grond. GS 377.3
Toe hy gewaarsku is om nie ongewapen tussen die vyandige stamme in te gaan nie, het hy homself as goed bewapen verklaar - gebed, ywer vir Christus en vertroue in Sy hulp. “Ek is ook...” het hy gesê, “...voorsien van die liefde van God, my naaste in my hart en die Bybel is in my hand.” — W H D Adams, In Perils Oft, bl 192. Oral waar hy gegaan het, het hy die Bybel in Hebreeus en Engels saamgeneem. Aangaande een van sy latere reise het hy gesê: “Ek het die Bybel in my hand oopgehou. Ek het gevoel dat my krag in hierdie Boek was en dat die krag daarvan my sou ondersteun.” — Id, bl 201. GS 377.4
So het hy in sy werk volhard totdat die boodskap van die oordeel na ‘n groot gedeelte van die bewoonde aardbol oorgedra is. Onder Jode, Turke, Oud-Persiërs, Hindoes en baie ander nasionaliteite en rasse, het hy die Woord van God in hierdie verskillende tale versprei en oral die naderende heerskappy van die Messias verkondig. GS 378.1
In sy reise in Bokhara, het hy die leerstelling van die spoedige koms van die Here by ‘n afgeleë en geïsoleerde volk wat dit gehandhaaf het gevind. Die Arabiere van Jemen, het hy gesê, “...is in besit van ‘n boek genaamd ‘Seera', wat die wederkoms van Christus en Sy heerskappy in heerlikheid weergee; en hulle het verwag dat groot gebeurtenisse in die jaar 1840 sal plaasvind. Ek het ses dae saam met die kinders van Regab deurgebring. Hulle drink geen wyn nie, plant geen wingerde nie en saai geen saad nie; hulle woon in tente en onthou van goeie ou Jónadab, die seun van Regab; en in hulle geselskap het ek kinders van Israel, van die stam van Dan gevind ... wat, saam met die kinders van Regab, die spoedige koms van die Messias in die wolke verwag.” — Journal of the Rev Joseph Wolff, bl 377, 389. GS 378.2
'n Soortgelyke oortuiging is deur ‘n ander sendeling in Tartary aangetref. ‘n Tartaarse priester het aan die sendeling die vraag gestel oor wanneer Christus die tweede keer sou kom. Toe die sendeling antwoord dat hy niks daarvan weet nie, het die priester verbaas gelyk oor sulke onkunde by iemand wat beweer dat hy ‘n onderwyser van die Bybel is en self verklaar dat hy, op grond van profesie, glo dat Christus omstreeks 1844 sou kom. GS 378.3
Reeds in 1826 is die advent-boodskap reeds in Engeland verkondig. Die beweging het hier nie so ‘n duidelike vorm soos in Amerika aangeneem nie; die presiese tyd van die wederkoms was nie so algemeen geleer nie, maar die groot waarheid van die spoedige koms van Christus se bewind en heerlikheid is breedvoerig verkondig. En dit was nie slegs onder die andersdenkendes en nie-konformiste nie. Mourant Brock, ‘n Engelse skrywer, het verklaar dat daar sowat sewehonderd predikante van die Kerk van Engeland besig was om hierdie “...evangelie van die koninkryk...” te verkondig. Die boodskap wat na 1844 as die tyd van die Here se wederkoms verwys, is ook in Groot-Brittanje verkondig. Advent-publikasies uit die Verenigde State is wyd gesirkuleer. Boeke en tydskrifte is in Engeland gepubliseer. En in 1842 het Robert Winter, ‘n Engelsman van geboorte, wat die Advent-geloof in Amerika aangeneem het, na sy geboorteland teruggekeer om die koms van die Here aan te kondig. Baie het hierin met hom saamgewerk en die boodskap van die oordeel is in verskeie dele van Engeland verkondig. GS 378.4
In Suid-Amerika, te midde van barbaarsheid en priesterlike lis, het Lacunza, ‘n Spanjaard en ‘n Jesuïet, sy weg na die Skrif gevind en sodoende die waarheid van Christus se spoedige terugkeer geleer. Aangevuur om die waarskuwing te verkondig, maar ook begerig om die veroordeling van Rome te vermy, het hy sy sienswyses onder die skuilnaam van Rabbi Ben-Ezra gepubliseer en homself as ‘n bekeerde Jood voorgedoen. Lacunza het in die agtiende eeu geleef, maar dit was omstreeks 1825 dat sy boek sy weg na Londen gevind het en in Engels vertaal is. Die publikasie hiervan het die belangstelling in die wederkoms wat reeds in Engeland ontwaak het, verdiep. GS 379.1
In Duitsland is die leer in die agtiende eeu deur Bengel verkondig, ‘n predikant van die Lutherse Kerk, ‘n gevierde Bybelkundige en -kritikus. Na die voltooiing van sy opleiding, het Bengel hom “...aan die studie van teologie toegewy, waartoe die ernstige en godsdienstige aard van sy verstand, wat deur sy vroeëre opleiding en dissipline verdiep is, hom van nature geneig het. Net soos ander nadenkende jongmense voor en na hom, moes hy met twyfel en probleme van ‘n godsdienstige aard worstel en het hy met baie gevoel gesinspeel op die ‘...baie pyle wat sy arme hart deurboor het en sy jeugjare moeilik gemaak het om te dra.’” — Encyclopaedia Britannica, art, “Bengel,” negende uitgawe. Hy het ‘n lid van die kerkraad van Wurttemberg geword en die saak van godsdiensvryheid bepleit. “Terwyl hy die regte en voorregte van die kerk gehandhaaf het, was hy ‘n voorspraak vir alle redelike vryheid wat aan almal verleen moet word wat op grond van gewete verplig gevoel het om van die gemeenskap van die kerk te onttrek..” — Id. Die goeie gevolge van hierdie beleid word steeds in sy provinsie van geboorte gevoel. GS 379.2
Dit was tydens die voorbereiding van ‘n preek uit Openbaring 21 vir die advent Sondag, dat die lig van Christus se tweede koms, tot Bengel se verstand deurgebreek het. Die profesie van Openbaring is soos nog nooit tevore tot sy begrip ontplooi. Oorweldig deur ‘n gevoel van die geweldige belangrikheid en oortreffende heerlikheid van die tonele wat deur die profeet beskryf is, moes hy noodgedwonge ‘n rukkie wegdraai van die oorweging van die onderwerp. Op die kansel het dit hom weer met volle helderheid en krag beetgepak. Vanaf daardie tyd het hy hom aan die bestudering van die profesieë gewy, veral die van die Apokalips en hy het spoedig tot die oortuiging gekom dat hulle na die spoedig naderende koms van Christus gewys het. Die datum wat hy vir die wederkoms vasgestel het, was binne ‘n paar jaar van dit wat later deur Miller voorgehou is. GS 380.1
Bengel se geskrifte is deur die hele Christendom versprei. Sy standpunte aangaande die profesieë is algemeen in sy eie staat van Wurttemberg aanvaar en ook in ander dele van Duitsland ontvang. Die beweging het na sy dood voortgegaan en die advent-boodskap is terselfdertyd in Duitsland en in ander lande waar dit aandag getrek het, gehoor. Van vroeg af het sommige van die gelowiges na Rusland gegaan en daar kolonies gevorm en die geloof van Christus se spoedige koms word steeds deur die Duitse kerke van daardie land gehandhaaf. GS 380.2
Die lig het ook in Frankryk en Switserland geskyn. In Geneve, waar Farel en Calvyn die waarhede van die Hervorming verkondig het, het Gaussen die boodskap van die wederkoms verkondig. Terwyl hy ‘n student op skool was, het Gaussen die gees van rasionalisme teëgekom wat die hele Europa gedurende die laaste deel van die agtiende en die begin van die negentiende eeu deurdring het; en toe hy die bediening betree, was hy nie slegs onkundig aangaande ware geloof nie, maar hy het ook tot skeptisisme geneig. In sy jeug het hy in die studie van die profesieë begin belangstel. Nadat hy Rollin’s Ancient History gelees het, is sy aandag op die tweede hoofstuk van Daniël gevestig en hy is deur die wonderbaarlike presisie waarmee die profesie vervul is, soos deur die geskiedskrywer aangetoon, getref. Hier was ‘n getuienis van die inspirasie van die Skrif wat te midde van die gevare van later jare, ‘n anker vir hom was. Hy was nie tevrede met die leerstellings van rasionalisme nie en deur die bestudering van die Bybel en ‘n soeke na duideliker lig, is hy na ‘n tyd tot ‘n positiewe geloof gelei. GS 381.1
Namate hy voortgegaan het met sy ondersoek van die profesieë, het hy tot die oortuiging gekom dat die koms van die Here op hande was. Onder ‘n besef van die plegtigheid en belangrikheid van hierdie groot waarheid, het daar ‘n begeerte by hom ontstaan om dit aan die volk voor te lê; maar die algemene oortuiging dat die profesieë van Daniël verborgenhede was wat nie verstaan kon word nie, was ‘n groot struikelblok in sy pad. Eindelik het hy besluit — net soos Farel voor hom met die evangelisasie in Geneve gedoen het — om by die kinders te begin, deur wie hy gehoop het om die belangstelling van die ouers op te wek. GS 381.2
“Ek wil hê dat dit verstaan moet word...” het hy agterna aangaande sy doel in hierdie onderneming gesê, “...dat dit nie vanweë die onbelangrikheid van die onderwerp is nie, maar inteendeel vanweë die groot waarde daarvan, dat ek dit graag in hierdie bekende vorm wil aanbied en dit aan die kinders voorgelê het. My begeerte was om gehoor te word en ek het gevrees dat dit nie die geval sou wees as ek my tot die volwassenes gewend het nie ... Ek het dus besluit om na die kinders te gaan. Ek bring ‘n gehoor van kinders bymekaar; as die groep groter word en ek opmerk dat hulle luister en tevrede en belangstellend is en dat hulle die onderwerp verstaan en kan verduidelik, is ek verseker dat ek spoedig ‘n tweede groep sal hê en op hulle beurt sal die volwassenes sien dat dit die moeite werd is om te gaan sit en te studeer. Wanneer dit gedoen word, is die saak gewen.” — L. Gaussen, Daniel, the Prophet, vol 2, Voorwoord. GS 381.3
Die poging was geslaagd. Wanneer hy die kinders toegespreek het, het ouer persone kom luister. Die galerye van sy kerk was met aandagtige luisteraars gevul. Onder hulle was manne van aansien en geleerdheid, vreemdelinge en buitelanders wat Geneve besoek het; en sodoende is die boodskap na ander dele oorgedra. GS 382.1
Aangemoedig deur hierdie sukses, het Gaussen sy lesse, in die hoop om die studie van die profetiese boeke in die Franssprekende kerke te bevorder, gepubliseer. “Om onderrig wat aan kinders gegee word te publiseer...” het Gaussen gesê, “...is om aan volwassenes, wat sulke boeke dikwels verwaarloos onder die voorwendsel dat hulle onverstaanbaar is, te sê: ‘Hoe kan hulle onverstaanbaar wees as julle kinders dit kan verstaan?’ ... Ek het ‘n groot begeerte gehad...” het hy bygevoeg, “...om, indien moontlik, ‘n kennis van die profesieë onder ons gemeentes gewild te maak ... Daar is inderdaad geen studie wat volgens my, beter aan die behoeftes van die tyd voldoen nie ... Hierdeur moet ons ons vir die verdrukking wat op hande is voorberei en waak en wag vir Jesus Christus. GS 382.2
Alhoewel Gaussen een van die mees vooraanstaande en geliefde predikers in die Franse taal was, is hy na ‘n tyd uit die bediening geskors en sy grootste oortreding was dat hy, in plaas van die kerk se kategese, ‘n vervelige en rasionalistiese handleiding wat byna heeltemal aan positiewe geloof ontbreek het, die Bybel gebruik het om die jeug te onderrig. Daarna het hy ‘n leraar in ‘n teologiese skool geword terwyl hy op Sondae met sy werk as kategeet voortgegaan het, die kinders toegespreek en hulle in die Skrif onderrig het. Sy werke oor die profesieë het ook groot belangstelling gewek. Vanaf sy stoel as professor, deur die pers en in sy gunsteling beroep as onderwyser van kinders, het hy jare lank voortgegaan om ‘n wye invloed uit te oefen en het hy groot invloed uitgeoefen om die aandag van baie op die bestudering van die profesieë wat getoon het dat die koms van die Here op hande was, te vestig. GS 383.1
Ook in Skandinawië is die advent-boodskap verkondig wat groot belangstelling ontketen het. Baie is uit hul sorgelose sekerheid opgewek, om hul sondes te bely en te versaak en vergifnis in die Naam van Christus te soek. Maar die predikante van die staatskerk het die beweging teëgestaan en deur hulle invloed is sommige wat die boodskap verkondig het, in die gevangenis gewerp. Op baie plekke, waar die predikers van die spoedige koms van die Here op hierdie wyse die swye opgelê is, het dit God behaag om die boodskap op wonderbaarlike wyse deur die kinders te stuur. Aangesien hulle nog nie mondig was nie, kon die reg van die Staat hulle nie keer nie en is hulle toegelaat om ongehinderd te praat. GS 383.2
Die beweging het grotendeels onder die laer klasse ontstaan en dit was in die nederige wonings van die arbeiders waar die mense saamgekom het om die waarskuwing te hoor. Die kinder-predikers het self meestal uit armoedige huise gekom. Sommige van hulle was nie ouer as ses of agt jaar nie; en hoewel hul lewens getuig het dat hulle die Verlosser liefgehad het en probeer het om in gehoorsaamheid aan God se heilige vereistes te leef, het hulle oor die algemeen slegs die intelligensie en vermoë wat gewoonlik van kinders van daardie ouderdom verwag kan word, geopenbaar. Maar, wanneer hulle voor die mense gestaan het, was dit egter duidelik dat hulle deur ‘n Invloed beweeg word wat bo hul eie natuurlike gawes gestrek het. Hulle stem en wyse van optrede het verander en met plegtige krag het hulle van die oordeel gewaarsku deur die woorde uit die Skrif aan te haal: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom.” Hulle het die sondes van die mense bestraf en nie alleen onsedelikheid en ondeug veroordeel nie, maar ook deur teregwysing van wêreldsheid en afvalligheid, hul hoorders gewaarsku om hulle te haas om van die grimmigheid wat aan die kom was weg te vlug. GS 383.3
Die mense het sidderend geluister. Die oortuigende Gees van God het tot hul harte gespreek. Baie is gelei om die Skrif met nuwe en dieper belangstelling te deursoek, die onbesadigdes en onsedelikes is hervorm, ander het hul oneerlike praktyke laat vaar en daar is ‘n werk gedoen wat so merkwaardig was, dat selfs die predikante van die staatskerk gedwing was om te erken dat die hand van God in hierdie beweging was. GS 384.1
Dit was die wil van God dat die boodskap van die koms van 368 die Heiland, in die Skandinawiese lande verkondig moes word; en toe die stem van Sy diensknegte stil geword het, het Hy sy Gees op die kinders laat kom sodat die werk voltooi kon word. Toe Jesus Jerusalem genader het, vergesel van die juigende skares wat Hom met krete van triomf en swaaiende palmtakke as die Seun van Dawid aangekondig het, het die afgunstige Fariseërs Hom versoek om hulle stil te maak; maar Jesus het geantwoord dat dit alles ‘n vervulling van profesie was en dat indien hulle sou swyg, die klippe sou uitroep. Die volk, deur die dreigemente van die priesters en owerstes geïntimideer, het hul vreugdevolle uitroepe gestaak toe hulle die poorte van Jerusalem binnegaan; maar die kinders in die tempelhowe het daarna die refrein opgeneem, met palmtakke geswaai en uitgeroep: “Hosanna vir die Seun van Dawid!” (Mat 21:8-16). Toe die Fariseërs, baie ontevrede, vir Hom sê: “Hoor U wat hulle daar sê?” het Jesus geantwoord: “Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?” Soos God deur die kinders tydens Christus se eerste koms gewerk het, so het Hy ook deur hulle gewerk om die boodskap van Sy tweede koms te verkondig. God se woord, dat die verkondiging van die koms van die Heiland aan alle volke, tale en nasies gegee moet word, moet vervul word. GS 384.2
Aan William Miller en sy medewerkers is dit gegee om die waarskuwing in Amerika te verkondig. Hierdie land het die middelpunt van die groot advent-beweging geword. Dit was hier waar die profesie van die eerste engel se boodskap die mees regstreekse vervulling gehad het. Die geskrifte van Miller en sy medewerkers, is na verafgeleë lande geneem. Oral waar sendelinge die hele wêreld deurdring het, is die blye boodskap van Christus se spoedige wederkoms uitgestuur. Die boodskap van die ewige evangelie is wyd en syd versprei: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom.” GS 385.1
Die getuienis van die profesieë wat blykbaar op die wederkoms van Christus in die lente van 1844 gedui het, het die harte van die mense diep geraak. Soos die boodskap van staat tot staat gegaan het, is daar oral groot belangstelling aangewakker. Baie was oortuig dat die argumente uit die profetiese tydperke korrek was en deur hulle hoogmoed te versaak, het hulle die waarheid met vreugde aangeneem. Sommige predikante het hul sektariese standpunte en gevoelens versaak, hul salarisse en kerke laat vaar en verenig om die koms van Jesus te verkondig. Daar was egter relatief min predikante wat hierdie boodskap sou aanvaar; daarom was dit grotendeels aan nederige leke toegewy. Boere het hul landerye verlaat, werktuigkundiges hulle gereedskap, handelaars hulle handelsware en professionele mense hul beroep; en tog was die aantal werkers, in vergelyking met die werk wat verrig moes word, klein. Die toestand van ‘n goddelose kerk en ‘n wêreld in boosheid gehul, het die harte van die siele van die opregte wagte swaar belas en hulle het gewillig geswoeg en verdrukking en lyding verduur, om mense tot bekering en saligheid te bring. Alhoewel Satan die werk teëgestaan het, het dit bestendig voortgegaan en die advent-waarheid is deur duisende aanvaar. GS 385.2
Oral is die ondersoekende getuienis, wat sondaars, beide wêreldlinge en gemeentelede, gewaarsku het om vir die komende toorn te vlug, gehoor. Soos Johannes die Doper, die voorloper van Christus, het die predikers die byl aan die wortel van die boom gelê en almal aangespoor om vrugte wat by bekering pas, voort te bring. Hul roerende oproepe was in opvallende kontras met die versekering van vrede en veiligheid wat vanaf gewilde kansels gehoor is; en oral waar die boodskap verkondig is, is die mense in beroering gebring. Die eenvoudige, direkte getuienis van die Skrif wat deur die krag van die Heilige Gees tuisgebring is, het ‘n oortuigende krag meegebring wat min mense kon weerstaan. Belyers van godsdiens is uit hulle valse veiligheid opgewek. Hulle het onder die besef van hul afvalligheid, hul wêreldsheid en ongeloof, hul hoogmoed en selfsug gekom. Baie het na die Here met berou en ootmoed gesoek. Die geneenthede wat so lank aan aardse dinge gekleef het, was nou op die hemel gevestig. Die Gees van God het op hulle gerus en met harte wat versag en gedemp is, het hulle ook die uitroep laat hoor: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom.” GS 386.1
Sondaars het met ‘n geween uitgeroep: “Wat moet ek doen om gered te word?” Diegene wie se lewens deur oneerlikheid gekenmerk was, was gretig om vergoeding te doen. Almal wat vrede in Christus gevind het, was begerig om die seën met ander te deel. Die harte van ouers is tot hulle kinders gewend en die harte van kinders tot hulle ouers. Die hindernisse van hoogmoed en terughoudendheid is uit die weg geruim. Opregte belydenis is gedoen en die lede van die gesin het hulle vir die redding van die mense wat die naaste aan hulle was, beywer. Dikwels is die stem van ernstige voorbidding gehoor. Oral was siele wat in diepe angs wat met God gepleit het. Baie het die hele nag in gebed geworstel vir die versekering dat hul eie sondes vergewe is en vir die bekering van hulle familielede en naaste. GS 386.2
Mense uit alle geledere het na die Adventiste-byeenkomste gestroom. Ryk en arm, hoog en laag was, om verskeie redes, gretig om self die leerstelling van die wederkoms te hoor. Die Here het die gees van teëstand in bedwang gehou terwyl Sy dienaars die rede vir hul geloof verduidelik het. Soms was die instrument swak, maar die Gees van God het krag aan Sy waarheid gegee. Die aanwesigheid van heilige engele is in hierdie byeenkomste ervaar en baie is daagliks by die gelowiges bygevoeg. Terwyl die getuienis van Christus se spoedige wederkoms herhaal is, het groot skares in ademlose stilte na die plegtige woorde geluister. Dit het gelyk of die hemel en die aarde nader aan mekaar gekom het. Die krag van God is deur oud, jonk en middeljarig ervaar. Mense het hul huise met lof op hulle lippe opgesoek en die vreugdevolle geluid het in die stilte van die nag opgeklink. Niemand wat hierdie dienste bygewoon het, het ooit die tonele van hierdie diepste belang vergeet nie. GS 387.1
Die aankondiging van ‘n bepaalde tyd vir die koms van Christus, het groot teenstand uit baie geledere ontlok, van die predikant op die kansel, tot die mees roekeloosste sondaar. Die woorde van die profesie is vervul: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.” (2 Pet 3:3,4). GS 387.2
Baie wat beweer het dat hulle die Heiland liefhet, het verklaar dat hulle geen teëstand teen die leerstelling van die wederkoms het nie; maar dat hulle slegs beswaar maak teen die vasstelling van ‘n bepaalde tyd. Maar die alsiende oog van God het hulle harte gelees. Hulle wou nie hoor van Christus se wederkoms om die wêreld in geregtigheid te oordeel nie. Hulle was ontroue diensknegte; hulle werke sou nie die ondersoek van harte van God kon deurstaan nie en hulle was bevrees om hul Here te ontmoet. Soos die Jode ten tye van Christus se eerste koms, was hulle nie voorbereid om Jesus te verwelkom nie. Hulle het nie net geweier om gehoor aan duidelike argumente uit die Bybel te gee nie, maar het ook diegene wat op die Here gewag het, bespot. Satan en sy engele het gejuig en het die bespotting in die aangesig van Christus en Sy heilige engele geslinger dat Sy verklaarde volk so min liefde vir Hom gehad het, dat hulle nie Sy koms begeer het nie. GS 387.3
“Geen mens weet die dag of uur nie... ” was die argument wat meestal deur die verwerpers van die advent-geloof geuiter is. Die Skrif sê: “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemel nie, maar net My Vader alleen.” (Mat 24:36). Diegene wat na die Here gesoek het, het ‘n duidelike en konsekwente verklaring van hierdie teks gegee en die verkeerde vertolking daarvan deur hul opponente is duidelik aangetoon. Die woorde is deur Christus tydens die onvergeetlike gesprek met Sy dissipels op die Olyfberg geuiter, nadat Hy die tempel vir die laaste keer verlaat het. Die dissipels het gevra: “Vertel ons wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van U koms en van die voleinding van die wêreld?” Jesus het tekens aan hulle gegee en gesê: “So weet julle ook wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” (Mat 24:3,33). Een gesegde van die Heiland mag nie misbruik word om ‘n ander te vernietig nie. Hoewel niemand die dag en die uur van Sy koms weet nie, het ons opdrag ontvang om te weet wanneer dit naby is. Verder word ons geleer dat om die waarskuwing te verontagsaam en te weier of te versuim om te weet wanneer Sy koms naby is, vir ons net so noodlottig sal wees soos vir diegene wat in die dae van Noag geleef het en nie geweet het wanneer die vloed kom nie. En die gelykenis in dieselfde hoofstuk wat die getroue en ontroue diensknegte teenoor mekaar stel en die ondergang van hom wat in sy hart gesê het: “My heer talm om te kom...” weergee, toon in watter lig Christus diegene wat Hy wakend vind en besig is om aangaande Sy koms te leer en diegene wat dit misken, sal beskou. “Waak dan...” het Hy gesê; “...gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind.” (Mat 24:42-51). “As jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.” (Openb 3:3). GS 388.1
Paulus praat van ‘n klas vir wie die Here se verskyning onverhoeds sal kom. “Want julle weet baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval ‘n skielike verderf hulle ... en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.” Maar vir diegene wat ag slaan op die Heiland se waarskuwing, voeg hy by: “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.” (1 Thes 5:2-5). GS 389.1
So is dus getoon dat die Skrif geen volmag aan mense gee om onkundig aangaande die nabyheid van Christus se koms te bly nie. Maar diegene wat slegs na ‘n verskoning soek om die waarheid te verwerp, het hulle ore vir hierdie verduideliking gesluit. Die woorde: “Van dié dag en dié uur weet niemand nie...” is steeds deur die blatante spotter aangehaal en selfs deur beweerde predikante van Christus. Soos die mense opgewek is en navraag aangaande die weg van die saligheid begin doen het, het godsdienstige leraars tussen hulle en die waarheid ingetree en gepoog om hul vrese te stil deur die valse vertolking van die Woord van God. Ontroue wagters het met die werk van die groot bedrieër verenig en geroep: Vrede, vrede! wanneer God nie vrede gespreek het nie. Soos die Fariseërs in Christus se tyd, het baie geweier om self die koninkryk van die hemele binne te gaan en diegene wat wel wou ingaan, te verhinder. Die bloed van hierdie siele sal van hulle hande geëis word. GS 389.2
Die mees nederigste en toegewydste in die kerke was gewoonlik eerste om die boodskap te aanvaar. Diegene wat die Bybel self bestudeer het, kon nie anders as om die onskriftuurlike aard van die gewilde standpunte van profesieë raak te sien nie; en oral waar die mense nie deur die invloed geestelikes beheer is nie en waar hulle die Woord van God self ondersoek het, was dit net nodig om die advent-leerstelling met die Skrif te vergelyk om die Goddelike gesag daarvan vas te stel. GS 390.1
Baie is deur hulle ongelowige broeders vervolg. Ten einde hulle posisie in die kerk te behou, het sommiges ingestem om aangaande hulle hoop te swyg; maar ander het gevoel dat lojaliteit aan God hulle verbied het om die waarhede wat Hy aan hulle toevertrou het te verberg. Heelwat van hulle is van die gemeenskap is, om geen ander rede as dat hulle hul geloof in die koms van Christus bely het, van die kerk afgesny. Vir diegene wat hierdie beproewing van hul geloof verduur het, was die woorde van die profeet kosbaar: “Julle broers, julle haters wat julle verstoot om My Naam ontwil, sê: Laat die Here heerlik word, dat ons julle vreugde kan aanskou! Maar hulle sal beskaamd staan!” (Jes 66:5). GS 390.2
Engele van God het met die grootste belangstelling die gevolge van die waarskuwing gadegeslaan. Toe daar ‘n algemene verwerping van die boodskap deur die kerke was, het die engele hartseer weggedraai. Maar daar was baie wat nog nie met die advent-waarheid getoets was nie. Baie is deur eggenote, eggenotes, ouers of kinders mislei en het dit as ‘n sonde beskou om selfs net na sulke dwaalleringe soos deur die Adventiste geleer, te luister. Engele is gebied om getrou oor hierdie siele te waak, want ‘n ander lig sou nog vanaf die troon van God oor hulle skyn. GS 390.3
Met onuitspreeklike verlange het diegene wat die boodskap aangeneem het, na die koms van hulle Verlosser uitgesien. Die tyd wat hulle verwag het om Hom te ontmoet, het nader gekom. Hulle het hierdie uur met ‘n kalm plegtigheid genader. Hulle het in soet gemeenskap met God en ernstig oor die vrede wat in die helder hiernamaals hulle s'n sou wees gerus. Niemand wat hierdie hoop en vertroue ervaar het, kan daardie kosbare ure van wag vergeet nie. Vir ‘n paar weke voor die tyd is wêreldse sake meestal opgeskort. Die opregte gelowiges het elke gedagte en elke emosie van hul harte sorgvuldig ondersoek asof hulle op hul sterfbed was en binne enkele ure hul oë vir aardse tonele sou sluit. Daar is geen “hemelvaart-klere” gemaak nie [Sien bylaag].; maar almal het ‘n behoefte aan ‘n inwendige versekering dat hulle gereed was om die Verlosser te ontmoet gehad; hulle wit klere was reinheid van siel — karakters wat van sonde gereinig is deur die versoeningsbloed van Christus. Sou daar maar net vandag nog onder die beweerde volk van God hierdie selfde gees van hartsondersoek en dieselfde ernstige, vasberade geloof wees! As hulle so voortgegaan het om hulself voor die Here te verootmoedig en hul versoeke by die versoendeksel aan te bied, sou hulle ‘n veel ryker ervaring hê as wat hulle tans het. Daar is te min gebed, te min ware oortuiging van sonde en die gebrek aan ‘n lewende geloof, wat baie verlate van die genade wat so ryklik deur ons Verlosser voorsien word laat. GS 390.4
Dit was die plan van God om Sy volk op die proef te stel. Dit was Sy hand wat die fout in die berekening van die profetiese tydperke bedek het. Die Adventiste het nie die fout ontdek nie en dit is ook nie deur die mees geleerde van hul teëstanders ontdek nie. Laasgenoemde het gesê: “Julle berekening van die profetiese tydperke is korrek. Een of ander groot gebeurtenis staan op die punt om plaas te vind; maar dit is nie wat Mnr Miller voorspel nie; dit is die bekering van die wêreld en nie die tweede koms van Christus nie.” [Sien bylaag]. GS 391.1
Die tyd van afwagting het verbygegaan en Christus het nie vir die bevryding van Sy volk verskyn nie. Diegene wat met opregte geloof en liefde na die koms van hulle Heiland uitgesien het, het ‘n bittere teleurstelling beleef. Tog is die voorneme van God bereik; Hy het die harte van diegene wat beweer het dat hulle op Sy koms wag, getoets. Daar was baie onder hulle wat deur geen hoër beweegrede as vrees aangedryf was nie. Hulle belydenis van geloof het nie hul harte of hul lewens beïnvloed nie. Toe die verwagte gebeurtenis nie plaasgevind het nie, het hierdie mense verklaar dat hulle nie teleurgesteld was nie; hulle het nooit geglo dat Christus sou kom nie. Hulle was van die eerstes wat die spot gedryf het met die hartseer van die opregte gelowiges. GS 391.2
Maar Jesus en al die hemelse leërskare het met liefde en medelye na die beproefde en getroue, dog teleurgestelde mense gekyk. As die sluier wat die sigbare van die onsigbare skei, gelig kon gewees het, sou daar gesien kon word dat engele naby hierdie standvastiges was en hulle teen die pyle van die Satan beskerm het. GS 392.1