Die Groot Stryd (1911)

19/44

Hoofstuk 17—Tekens van die Wederkoms

Een van die plegtigste en tog heerlikste waarhede wat in die Bybel geopenbaar word, is dié van die wederkoms van Christus om die verlossingswerk te voltooi. Aan die pelgrimsvolk van God, wat vir so lank in “...die land van die skaduwee van die dood...” oorgebly het, word ‘n kosbare, vreugdevolle en inspirerende hoop gegee in die belofte van die verskyning van Hom wat die “...opstanding en die lewe...” is, om “...Sy bannelinge weer tuis te bring.” Die leer van die wederkoms is die werklike kern van die Heilige Skrif. Sedert die dag dat die eerste paar hul treurige treë weg van Eden gegee het, het die kinders van geloof op die koms van die Beloofde Een gewag om die mag van die verwoester te verbreek en hulle weer in die verlore Paradys te herstel. Heilige manne van ouds, het na die koms van die Messias in heerlikheid, as die voleinding van hulle hoop, uitgesien. Henog, slegs die sewende afstammeling van die inwoners van Eden, wat drie eeue lank op aarde met God gewandel het, is toegelaat om die koms van die Verlosser in die verte te sien. “Kyk...” het hy gesê, “...die Here het gekom met Sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal.” (Judas 14,15). Die aartsvader, Job, het in die nag van sy beproewing met onwankelbare vertroue uitgeroep: “Ek weet my Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan ... [Ek sal] nogtans uit my vlees God aanskou; Hom wat ek sal aanskou my ten goede en my oë — en geen vreemde nie — sal sien.” (Job 19:2527). GS 311.1

Die wederkoms van Christus, om die regering van geregtigheid in te lui, het die mees verhewe en passievolle uitsprake van die heilige skrywers geïnspireer. Die digters en profete van die Bybel, het daarby stilgestaan met woorde wat gloei met hemelse vuur. Die psalmis het die mag en majesteit van die Koning van Israel soos volg besing: “Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans. Onse God kom en kan nie swyg nie ... Hy roep na die hemel daarbo en na die aarde om Sy volk te oordeel.” (Ps 50:2-4). “Laat die hemele bly wees en die aarde juig; ... voor die aangesig van die Here; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in Sy trou.” (Ps 96:11-13). GS 311.2

Die profeet Jesaja het gesê: “Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want U dou is ‘n dou van die lig en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk ... U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan ... Hy sal die dood vir ewig vernietig en die Here HERE sal die trane van alle gesigte afvee; en Hy sal die smaad van Sy volk van die hele aarde af wegneem; want die Here het dit gespreek. En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die Here op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor Sy hulp” (Jes 26:19; 25:8,9). GS 312.1

En Habakuk, in ‘n heilige visioen weggevoer, het sy verskyning aanskou: “God kom van Teman en die Heilige van die berg Paran. Sy majesteit bedek die hemel en die aarde is vol van Sy lof. En glans soos sonlig is daar ... Hy tree op en laat die aarde wankel, Hy kyk en laat nasies opskrik; verpletterd lê die ewige berge en neergesink die ou, ou heuwels ... U ry met u perde, ‘u oorwinningswaens ... Die berge sien U en bewe van angs... Die wêreldvloed verhef sy stem en steek sy hande omhoog. Die son, die maan bly in hulle woonplek by die lig van U pyle wat verbyskiet, by die glans van U flikkerende spies ... U trek uit tot redding van u volk, tot redding van U gesalfde.” (Hab 3:3-13). GS 312.2

Toe die Heiland op die punt was om van Sy dissipels geskei 301 te word, het Hy hulle in hul hartseer met die versekering dat Hy weer sou kom vertroos: “Laat julle harte nie ontsteld word nie; GS 312.3

... In die huis van my Vader is daar baie wonings; ... Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem.” (Joh 14:1-3). “En wanneer die Seun van die mens in Sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op Sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word.” (Matt 25:31,32). GS 312.4

Die engele wat ná die Hemelvaart van Christus op die Olyfberg getalm het, het die belofte van Sy wederkoms aan die dissipels herhaal: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” (Hand 1:11). En die apostel Paulus, wat deur die Gees van Inspirasie gepraat het, het getuig: “Die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God.” (1 Thes 4:16). En die profeet van Patmos het gesê: “Kyk, Hy kom met die wolke en elke oog sal Hom sien.” Openb 1:7). GS 313.1

Sy wederkoms gaan gepaard met “...die weder-oprigting van alle dinge waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al Sy heilige profete” (Hand 3:21). Dan sal die langdurende heerskappy van die bose verbreek word en die “...koninkryke van die wêreld...” sal die “...eiendom van onse Here word en van Sy Christus en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” (Openb 11:15). “En die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word en alle vlees tesame sal dit sien ... So sal die Here HERE geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.” Hy sal wees “...tot ‘n sierlike kroon en ‘n pragtige krans vir die oorblyfsel van Sy volk.” (Jes 40:5;61:11;28:5). GS 313.2

Dit is dan dat die vreedsame en lank-begeerde koninkryk van die Messias onder die ganse hemel gevestig sal word. “Die Here vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die Here ... Die heerlikheid van die Libanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron ... Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: My welbehae en jou land: Die getroude ... En soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.” (Jes 51:3;35:2;62:4,5). GS 313.3

Die wederkoms van die Here was in alle eeue die hoop van Sy ware volgelinge. Die Here se afskeidsbelofte op die Olyfberg dat Hy weer sal kom, het die toekoms vir Sy dissipels verlig en hulle harte met vreugde en hoop gevul, wat droefheid nie kon uitblus of beproewinge kon verdof nie. Te midde van lyding en vervolging was die “...verskyning van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus ... die salige hoop.” Toe die Christene in Thessalonika met hartseer gevul was toe hulle hul geliefdes, wat gehoop het om te lewe om die koms van die Here te aanskou, begrawe het, het Paulus, hulle leraar, hulle op die opstanding wat met die koms van die Heiland sou plaasvind, gewys. Dan sal die dode in Christus opgewek word en saam met die lewendes sal hulle opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet. “En so...” het hy gesê, “...sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.” (1 Thes 4:16-18). GS 314.1

Op die rotsagtige Patmos het die geliefde dissipel die belofte gehoor: “Kyk, Ek kom gou.” En sy verlangende antwoord het die gebed van die kerk in al haar pelgrimstogte verwoord: “Ja kom, Here Jesus!” (Openb 22:20). GS 314.2

Uit die kerkers, die brandstapel en die skavot, waar die heiliges en martelare vir die waarheid getuig het, kom die stem van hulle geloof en hoop deur die eeue heen. Omdat hulle “...verseker was van Sy persoonlike opstanding en dus ook van hulle eie met Sy wederkoms...” het een van hierdie Christene gesê, “...het hulle die dood verag en was bo dit verhef.” — Daniel T Taylor, The Reign of Christ on Earth; or, The Voice of the Church in all Ages, bl 33. Hulle was gewillig om in die graf te gaan sodat hulle “...vry kon opstaan.” — Id, bl 54. Hulle het na die verskyning uitgesien “...van die Here uit die hemel in die wolke met die heerlikheid van Sy Vader, wat aan die regverdige die tye van die Koninkryk bring.” Die Waldense het dieselfde geloof gekoester. — Id, bl 129-132. Wycliffe het daarna uitgesien dat die Verlosser as die Hoop van die kerk sou verskyn. — Id, bl 132-134. GS 314.3

Luther het verklaar: “Ek oortuig myself waarlik dat die dag van oordeel nie driehonderd jaar weg is nie. God sal nie, kan nie, hierdie goddelose veel langer verdra nie .... Die groot dag kom nader waarin die koninkryk van gruwels oorval sal word.” — Id, bl 158, 134. GS 315.1

“Hierdie verouderde wêreld is nie meer ver van sy einde af nie” het Melanchthon gesê. Calvyn het Christene gebied om “...nie te huiwer nie en om na die dag van die Here se koms as die begeerlikste van alle gebeurtenisse uit te sien;” en hy het verklaar dat “...die hele gesin van die getroues daardie dag voor oë sal hou ... Ons moet dors na Christus, ons moet dit soek en bepeins, tot daardie groot dag aanbreek, wanneer die Here die heerlikheid van Sy koninkryk ten volle sal openbaar.” — Id, bl 158, 134. GS 315.2

“Het ons Here Jesus nie ons vlees na die hemel opgeneem nie?” het Knox, die Skotse hervormer, gesê “...en sal Hy nie terugkom nie? Ons weet dat Hy sal terugkeer en spoedig.” Ridley en Latimer, wat hul lewens vir die waarheid afgelê het, het in geloof na die wederkoms van die Here uitgesien. Ridley het geskryf: “Die wêreld nader, sonder twyfel sy einde — dit glo ek en daarom sê ek dit. Laat ons dan saam met Johannes, die dienskneg van God, in ons hart tot ons Verlosser roep: Kom, Here Jesus, kom.” — Id, bl.151, 145. GS 315.3

“Die gedagtes aan die koms van die Here...” het Baxter gesê, “...is baie soet en vreugdevol vir my.” — Richard Baxter, Works, vol 17, bl 555. “Dit is die werk van die geloof en die karakter van Sy heiliges, om Sy verskyning lief te hê en na daardie salige hoop uit te sien ... As die dood die laaste vyand is wat met die opstanding vernietig sal word, kan ons weet hoe sterk gelowiges behoort te verlang na en te bid vir, die wederkoms van Christus, wanneer hierdie volkome en finale oorwinning behaal sal word.” — Id bl 500. “Dit is die dag waarna alle gelowiges behoort te verlang, waarvoor hulle moet hoop en wag, want dit sal die voleindiging van hulle verlossing wees en van al die begeertes en pogings van hulle siele.” “Verhaas, o Here, daardie salige dag!” — Baxter, Works, deel 17, bl 182, 183. Dit was die hoop van die apostoliese kerk, van die “kerk in die woestyn” en van die hervormers. GS 315.4

Profesie voorspel nie net die manier en doel van die koms van Christus nie, maar bied tekens waardeur mense kan weet wanneer Sy koms naby is. Jesus het gesê: “Daar sal tekens wees aan son en maan en sterre... ” (Lukas 21:25). Die son sal “...duister word, en die maan sal sy glans nie gee nie en die sterre van die hemel sal val en die kragte wat in die hemel is, sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met grote krag en heerlikheid.” (Mark 13:24 26) . Die openbaarder beskryf die eerste tekens wat die wederkoms sal voorafgaan soos volg: “Daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak en die maan het geword soos bloed.” (Openb. 6:12). GS 316.1

Hierdie tekens is voor die aanvang van die negentiende eeu gesien. Ter vervulling van hierdie profesie was daar in die jaar 1755 die mees skrikwekkende aardbewing wat nog ooit opgeteken is. Alhoewel dit algemeen bekend staan as die Lissabon aardbewing, het dit die grootste gedeelte van Europa, Afrika en Amerika geskud. Dit is in Groenland, in die WesIndiese Eilande, op die eiland van Madeira, in Noorweë en Swede, Groot-Brittanje en Ierland gevoel. Dit het ‘n gebied van minstens vier miljoen vierkante myl (tien miljoen vierkant kilometer) aangetas. In Afrika was die skok byna net so geweldig soos in Europa. ‘n Groot gedeelte van Algiers is verwoes; en ‘n entjie van Marokko af, is ‘n dorpie van tussen agt en tienduisend inwoners verswelg. ‘n Magtige golf wat stede oorstroom en groot vernietiging aangerig het, het die kus van Spanje en Afrika getref. GS 316.2

Dit was in Spanje en Portugal waar die grootste geweld van die aardbewing gemanifesteer het. By Cadiz was die golf twintig meter hoog. Berge, “...sommige van die grootste in Portugal, is as’t ware uit hul fondamente geskud en sommige se kruine het op ‘n ontsagwekkende wyse verdeel en oopgeskeur, sodat groot massas grond in die onderliggende valleie neergestort het. Daar word vertel dat vlamme uit hierdie berge gekom het.” — Sir Charles Lyell, Principles of Geology, bl 495. GS 317.1

In Lissabon “...is ‘n dondergeluid ondergronds gehoor en onmiddellik daarna het ‘n geweldige skok die grootste deel van die stad in puin gelê. Binne die verloop van ses minute is ongeveer sestig duisend mense gedood. Die see het eers teruggetrek en die strand drooggelê; toe het dit weer in ‘n vloedgolf, byna vyftig voet (vyftien meter) hoër as die gewone watervlak teruggestroom ... Onder die buitengewone gebeurtenisse wat tydens die ramp in Lissabon plaasgevind het, was die ineenstorting van ‘n nuwe kaai wat teen geweldige koste volkome van marmer gebou is. ‘n Groot samekoms van mense het vir veiligheid, as ‘n plek waar hulle buite die bereik van die ineenstortende geboue kon wees, daar versamel; maar skielik het die kaai met al die mense daarop inmekaar getuimel en nie een van die lyke het ooit na die oppervlak gedryf nie.” — Sir Charles Lyell, Principles of Geology, bl 495. GS 317.2

“Die skok” van die aardbewing “...is onmiddellik deur die ineenstorting van elke kerk en klooster gevolg, byna al die groot openbare geboue en meer as ‘n kwart van die woonhuise. Ongeveer twee ure ná die skok, het daar brande in verskillende dele uitgebreek en dit het vir ongeveer drie dae met sulke geweld gewoed, dat die stad totaal verwoes is. Die aardbewing het op ‘n heilige dag, terwyl die kerke en kloosters vol mense was plaasgevind, waarvan baie min ontsnap het.” — Encyclopaedia Americana, art “ Lisbon,” nota. (1831-uitgawe). “Die verskrikking van die mense was onbeskryflik. Niemand het gehuil nie; dit was te veel vir trane. Hulle het herwaarts en derwaarts gehardloop, waansinnig van afgryse en verbasing, het hulle het op hul gesigte en borste geslaan terwyl hulle uitgeroep het, ‘ Misericordia! die wêreldhet tot ‘n einde gekom! Moeders het van hul kinders vergeet en met kruisbeelde belaai rondgehardloop. Ongelukkig het baie van hulle hul toevlug tot die kerke vir beskerming geneem; maar tevergeefs is die sakrament ten toon gestel; tevergeefs het die arme wesens die altare omhels; beelde, priesters en die volk is in een gemeenskaplike puinhoop begrawe.” Dit word beraam dat negentigduisend mense hulle lewens op daardie noodlottige dag verloor het. GS 317.3

Vyf-en-twintig jaar later, het die volgende teken wat in die profesie genoem word, verskyn — die verduistering van die son en die maan. Wat hierdie gebeurtenis nog meer opvallend gemaak het, was die feit dat die tyd vir die vervulling daarvan, spesifiek aangewys is. In die gesprek van die Heiland met Sy dissipels op die Olyfberg, na die beskrywing van die lang tydperk van beproewing vir die kerk - die 1 260 jaar van pouslike vervolging, waarvan Hy beloof het dat die verdrukking verkort sou word — het Hy sekere gebeurtenisse genoem wat Sy koms sou voorafgaan en die tyd wanneer die eerste daarvan gesien sou word vasgestel: “In daardie dae, na die verdrukking, sal die son duister word, en die maan sal sy glans nie gee nie...” (Markus 13:24). Die 1 260 dae of jare het in 1798 geëindig. ‘n Kwarteeu vroeër, is die vervolging byna heeltemal gestaak. Ná hierdie vervolging sou die son, volgens die woorde van Christus, verduister word. Op 19 Mei 1780 is hierdie profesie vervul. GS 318.1

“Byna, indien nie heeltemal alleen nie, as die mees geheimsinnigste en steeds onverklaarbaarste verskynsel van sy soort, staan die donker dag van 19 Mei 170 bekend - ‘n onverklaarbare verduistering van die hele sigbare hemel en atmosfeer in Nieu-England.” — R M Devens, Our First Century, bl 89. GS 318.2

'n Ooggetuie wat in Massachusetts gewoon het, beskryf die gebeurtenis soos volg: “‘In die oggend het die son helder opgekom, maar die lug was gou bewolk. Die wolke het verdonker, sommige van hulle swart en onheilspellend en daar het weerlig uitgeslaan, met donderweer en ‘n bietjie reën wat geval het. Teen nege-uur het die wolke dunner geword en ‘n koperagtige kleur aangeneem; die aarde, rotse, bome, geboue, water en mense is deur hierdie vreemde onaardse lig verander. ‘n Paar minute later, het ‘n dik, swart wolk die hele lug bedek, behalwe ‘n dun strepie op die gesigseinder en dit was so donker soos wat dit gewoonlik teen negeuur op ‘n someraand is ... GS 318.3

“Vrees, angs en ontsag het die gemoedere van die mense geleidelik gevul. Vroue het by die deur gestaan en oor die donker landskap uitgekyk; mans het van hulle arbeid op die lande teruggekeer; die skrynwerker het sy gereedskap laat staan, die smid het sy aambeeld en die handelaar sy toonbank. Die skole het gesluit en die kinders het bevrees huis toe gevlug. Reisigers het by die naaste plaashuis herberg gesoek. ‘Wat is aan die kom?’ was die vraag uit elke mond en hart. Dit het gelyk asof ‘n orkaan gedreig het om oor die land te woed, asof dit die dag van die voleinding van alles was. GS 319.1

“Kerse is aangesteek; die vure in die kaggels het so helder soos ‘n maanlose nag in die herfs geskyn ... Die hoenders het gaan slaap, beeste het op die weivelde bymekaar gekom en gebulk, die paddas het gekwaak, die voëls het hul aandlied gesing en die vlermuise het begin rondvlieg. Maar die mens het geweet dat die nag nog nie aangebreek het nie ... GS 319.2

“Dr. Nathanael Whittaker, predikant van die Tabernakelkerk in Salem, het ‘n diens in die vergaderplek gehou en ‘n preek gelewer waarin hy volgehou het dat die duisternis bonatuurlik was. Op baie ander plekke het gemeentes byeengekom. Die tekste vir die onvoorbereide preke het oor die algemeen gegaan oor dié wat met die duisternis volgens die skriftuurlike profesieë ooreengekom het ... Die duisternis was die digste kort na elfuur.” — The Essex Antiquarian, April 1899, vol 3, nr 4, bl.53, 54. “Op die meeste plekke was dit selfs gedurende die dag só donker, dat die mense nie op hul horlosies kon sien hoe laat dit was nie en ook nie kon eet of met hul huishoudelike take voortgaan sonder die lig van kerse nie ... GS 319.3

“Die omvang van hierdie duisternis was buitengewoon. Dit is tot in die ooste van Falmouth waargeneem. Aan die westekant het dit tot aan die verste deel van Connecticut en Albany gestrek. In die suide is dit langs die seekus waargeneem; en in die noorde tot by die Amerikaanse nedersettings.” — Dr William Gordon, History of the Rise, Progress, and Establishment of the Independence of the USA, vol 3, bl 57. GS 320.1

Die intense duisternis van daardie dag is ‘n uur of twee voor die aand deur ‘n gedeeltelike opgeklaarde lug opgevolg en die son het weer geskyn, hoewel dit steeds deur die swart, swaar mis verduister is. “Ná sononder, het die lug weer bewolk geword en toe het dit baie vinnig donker geword ... Die donkerte van die nag was ook nie minder ongewoon en skrikwekkend as dié van die dag nie; ondanks die feit dat dit byna volmaan was, kon geen voorwerp sonder die hulp van kunsmatige lig onderskei word nie, wat op ‘n afstand uit die naburige huise en ander plekke gesien kon word, soos deur ‘n soort Egiptiese duisternis wat byna ondeurdringbaar vir die strale was.” — Isaiah Thomas, Massachusetts Spy; of American Oracle of Liberty, vol 10, nr 472 (25 Mei 1780). ‘n Ooggetuie van die toneel het gesê: “Ek kon destyds nie help om te wonder nie, dat as elke stralende liggaam in die heelal in ondeurdringbare skakerings gehul was, of uit die weg geruim was, sou die duisternis nie meer volledig kon gewees het nie.” — ‘n Brief deur Dr Samuel Tenney, van Exeter, New Hampshire, Desember 1785, (in Massachusetts Historical Society Collections, 1792, eerste reeks, deel 1, bl 97). Alhoewel die maan om negeuur daardie aand ten volle opgekom het, het dit nie die geringste effek gehad om die doodse skaduwees te verdryf nie. Ná middernag het die duisternis verdwyn en die maan, toe dit die eerste keer sigbaar geword het, het soos bloed gelyk. GS 320.2

In die geskiedenis staan 19 Mei 1780 bekend as “Die Donker Dag.” Sedert die tyd van Moses, was daar nooit ‘n tyd van duisternis van soortgelyke digtheid, omvang en duur aangeteken nie. Die beskrywing van hierdie gebeurtenis, soos deur ‘n ooggetuies weergee, is slegs ‘n weerklank van die woorde van die Here, soos deur die profeet Joël opgeteken, tweeduisend vyfhonderd jaar voor die vervulling daarvan: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die grote en deurlugtige dag van die Here kom.” (Joël 2:31). GS 321.1

Christus het Sy volk gebied om uit te kyk vir die tekens van Sy wederkoms en hulle te verbly as hulle die tekens van hulle komende Koning aanskou. “As hierdie dinge begin gebeur... ” het Hy gesê, “...kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.” Hy het Sy volgelinge op die ontluikende bome van die lente gewys en gesê: “Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.” (Luk 21:28,30,31). GS 321.2

Maar namate die gees van nederigheid en toewyding in die kerk plek aan hoogmoed en formalisme gegee het, het liefde vir Christus en geloof in Sy koms, afgeneem. Die belydende volk van God, opgeneem in wêreldsheid en plesier, was blind vir die Heiland se opdragte aangaande die tekens van Sy verskyning. Die leerstelling van die wederkoms is verwaarloos; die geskrifte in verband daarmee is verdof deur verkeerde uitlegging, totdat dit tot ‘n groot mate verontagsaam en vergeet is. Dit was veral die geval in die kerke van Amerika. Die vryheid en gemak wat deur alle geledere van die samelewing geniet is, die ambisieuse begeerte na rykdom en weelde wat ‘n absorberende toewyding aan jag na wins veroorsaak het, die ywerige gejaag na gewildheid en mag wat blykbaar binne almal se bereik was, het daartoe gelei dat mense al hulle belange en hoop op die dinge van hierdie lewe vestig en die plegtige dag wanneer die huidige orde van dinge sou verbygaan, ver in die toekoms plaas. GS 321.3

Toe die Heiland Sy volgelinge op die tekens van Sy wederkoms gewys het, het Hy die toestand van afvalligheid voorspel wat net voor sy wederkoms sou bestaan. Daar sou, soos in die dae van Noag, groot bedrywigheid in die wêreldse sake en plesier wees — koop, verkoop, plant, bou, trou en uitgee in die huwelik — sonder enige gedagte aan God en die lewe hierna. Aan diegene wat in hierdie tyd sou lewe, is die vermaning van Christus: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie ... Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” (Luk 21:34,36). GS 322.1

Die toestand van die kerk in hierdie tyd, word in die woorde van die Heiland in Openbaring uitgewys: “...dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood” (Openb 3:1). En aan diegene wat weier om uit hulle toestand van valse veiligheid gewek te word, word die ernstige waarskuwing gerig: “As jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.” (Openb 3:3). GS 322.2

Dit was nodig dat die mense wakker geskud moes word vir die gevaar waarin hulle verkeer en dat hulle hul vir die plegtige gebeure wat verband hou met die sluiting van die genadetyd moes voorberei. Die profeet van God het verklaar: “Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik en wie kan dit verdra?” Wie sal bly staan wanneer Hy verskyn, “...wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie?” (Joël 2:11; Hab 1:13). Vir diegene wat uitroep: “My God, ons ... ken U...” maar wat nogtans “...My verbond oortree het en teen My wet gesondig het ... wat ‘n ander god met gawes vereer...” (Hos 8:2,1; Ps 16:4), vir hulle “...is die dag van die HERE ... duisternis en geen lig nie...” (Amos 5:20.) “En in dié tyd...” sê die Here, “...sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die Here doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie.” (Sef 1:12). “Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder.” (Jes 13:11). “Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die Here te red nie ... en hulle rykdom sal geplunder word, en hulle huise verwoes word.” (Sef 1:18,13). GS 322.3

Die profeet Jeremia wat hierdie vreeslike tyd vooruitgesien het, het uitgeroep: “O my ingewande, my ingewande, ek bewe van angs ... Ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeluid gehoor, oorlogs-geskreeu! Verwoesting op verwoesting word uitgeroep.” (Jer 4:19,20). GS 323.1

“Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolke-nag, ‘n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu.” (Sef 1:15,16). “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg.” (Jes 13:9). GS 323.2

Met die oog op daardie groot dag, roep die Woord van God in die mees plegtige en indrukwekkendste taal, Sy volk op om uit hul geestelike lusteloosheid wakker te word en Sy aangesig met berou en nederigheid te soek: “Blaas die basuin op Sion en blaas alarm op My heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die Here kom, want hy is naby ... Heilig ‘n vasdag, roep ‘n vergadering saam! Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suigelinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek. Laat die priesters, die dienaars van die Here, tussen die voorportaal en die altaar ween ... Bekeer julle tot My met julle hele hart en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid en Een wat berou het oor die onheil.” (Joël 2:1,15-17,12,13). GS 323.3

Om ‘n volk voor te berei om op die groot dag van God te staan, moes groot hervormingswerk bewerkstellig word. God het gesien dat baie van Sy verklaarde volk nie vir die ewigheid gebou het nie en in Sy genade was Hy op die punt om ‘n boodskap van waarskuwing aan hulle te stuur om hulle uit hul sluimering te wek en hulle te lei om vir die koms van die Here gereed te maak. GS 324.1

Hierdie waarskuwing word in Openbaring 14 gesien. Hier is ‘n drieledige boodskap wat deur hemelse wesens verkondig word en wat onmiddellik deur die wederkoms van die Seun van die mens gevolg word “...om die oes van die aarde in te samel.” Die eerste van hierdie waarskuwings kondig die naderende oordeel aan. Die profeet het ‘n engel “...in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” (Openb 14:6,7). GS 324.2

Hierdie boodskap word verklaar as deel van die “...ewige evangelie.” Die werk om die evangelie te verkondig, is nie aan engele opgedra nie, maar aan mense toevertrou. Heilige engele wat gebruik is om hierdie werk te rig, is in beheer van die groot bewegings vir die redding van die mens; maar die werklike verkondiging van die evangelie, word deur die dienaars van Christus op die aarde uitgevoer. GS 324.3

Getroue mense wat gehoorsaam aan die besieling van die Gees van God was en die leringe van Sy Woord gehoorsaam het, moes hierdie boodskap van waarskuwing aan die wêreld gee. Dit is hulle wat ag geslaan het op die “...profetiese woord, wat baie vas is...” die “...lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan.” (2 Pet 1:19). Hulle het na die kennis van God, meer as na verborge skatte gesoek en “...die verkryging daarvan is beter as dié van silwer en die verwerwing daarvan, meer as na goud.” (Spr 3:14) En die Here het aan hulle die groot dinge van Sy koninkryk geopenbaar. “Die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom vrees en sy verbond om hulle dit bekend te maak.” (Ps 25:14). GS 324.4

Dit was nie die geleerde teoloë wat hierdie waarheid begryp en verkondig het nie. As hierdie getroue wagters die Skrif ywerig en biddend ondersoek het, sou hulle die tyd van die nag geken het; die profesieë sou die gebeure wat sou plaasvind vir hulle opgestel het. Maar hulle het nie hierdie posisie beklee nie en die boodskap is deur nederiger mense verkondig. “Wandel solank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie.” (Joh 12:35). Diegene wat hulle wegdraai van die lig wat God gegee het, of wat nalaat om dit te soek wanneer dit binne hulle bereik is, word in duisternis gelaat. Maar die Heiland verklaar: “Wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (Joh 8:12). Elkeen wat die enkele doel om die wil van God te doen nastreef en ernstig ag gee op die lig wat reeds gegee is, sal groter lig ontvang; na daardie siel sal een of ander ster met hemelse glans, gestuur word om hom in die volle waarheid te lei. GS 325.1

Ten tye van Christus se eerste koms, was die priesters en skrifgeleerdes van die heilige stad, aan wie die Woord van God toevertrou was, in staat gestel om die tekens van die tye te onderskei en die koms van die Beloofde Een te verkondig. Die profesie van Miga het Sy geboorteplek aangedui. (Sien Miga 5:1). Daniël het die tyd van Sy koms voorspel. (Sien Dan 9:25). GS 325.2

God het hierdie profesieë aan die Joodse leiers oorgedra; hulle was sonder verskoning as hulle nie geweet en nie aan die volk verkondig het, dat die koms van die Messias naby was nie. Hulle onkunde was die gevolg van sondige nalatigheid. Die Jode was besig om monumente vir die gesneuwelde profete van God op te rig, terwyl hulle, deur hulle eerbetoon aan die groot manne van die aarde, aan die diensknegte van Satan hulde gebring het. Geabsorbeer deur hul ambisieuse strewe na posisie en mag onder die mense, het hulle die Goddelike eerbetoon wat die Koning van die hemel aangebied het, uit die oog verloor. GS 325.3

Met diepe en eerbiedige belangstelling moes die ouderlinge van Israel die plek, die tyd en die omstandighede waaronder hierdie grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die wêreld sou plaasvind, naamlik die koms van die Seun van God om die verlossing van die mens te bewerkstellig, ondersoek het. Al die mense moes gewaak het en gewag het om die eerstes te wees wat die wêreld se Verlosser sou verwelkom. Maar kyk, in Betlehem het twee moeë reisigers van die heuwels van Nasaret, tevergeefs in die smal strate tot in die oostelike deel van Nasaret gesoek na ‘n plek van rus en herberg vir die nag. Geen deure was oop om hulle te ontvang nie. In ‘n ellendige skuur wat vir vee ingerig was, het hulle eindelik skuiling gevind en daar is die Verlosser van die wêreld gebore. GS 326.1

Hemelse engele het die heerlikheid wat die Seun van God met die Vader gedeel het, voordat die wêreld was, aanskou en het met intense belangstelling daarna uitgesien dat Hy op aarde sou verskyn as ‘n gebeurtenis belaai met die grootste vreugde vir alle mense. Engele is aangestel om die blye tyding aan diegene wat gereed was om dit te ontvang te bring en wat dit met vreugde aan die bewoners van die aarde bekend sou maak. Christus het Hom neergebuig om die menslike natuur aan te neem; Hy moes ‘n eindelose las van ellende dra, omdat Hy ‘n offer vir sonde van Sy siel moes maak; tog het engele begeer dat die Seun van die Allerhoogste, selfs in Sy vernedering, voor die mense met ‘n waardigheid wat by Sy karakter pas, sou verskyn. Sou die vername manne van die aarde in die hoofstad van Israel byeenkom om Sy koms te begroet? Sou legioene engele Hom aan die verwagtende menigte voorstel? GS 326.2

'n Engel het die aarde besoek om te sien wie bereid was om Jesus te verwelkom. Maar hy kon geen tekens van verwagting sien nie. Hy het geen stem van lof en triomf gehoor dat die tyd van die Messias se koms op hande was nie. Die engel het vir ‘n tyd oor die uitverkore stad en die tempel waar die Goddelike teenwoordigheid al eeue lank gemanifesteer is gesweef; maar selfs hier was daar onverskilligheid. Die priesters, het in hul prag en praal hul besoedelde offers na die tempel gebring. Die Fariseërs het met luide stemme die mense toegespreek of op die uithoeke van die strate spoggerige gebede gedoen. In die paleise van die konings, in die byeenkomste van die filosowe, in die skole van die rabbi’s, was almal ewe onbewus van die wonderbare feit wat die ganse hemel met vreugde en lof vervul het, naamlik dat die Verlosser van die mens, op die punt was om op die aarde te verskyn. GS 327.1

Daar was geen bewyse dat Christus verwag word nie en geen voorbereiding vir die Vors van die Lewe nie. Met verbasing was die hemelse boodskapper op die punt om na die hemel met die skandelike tyding terug te keer, toe hy ‘n groep herders opmerk wat snags oor hulle kuddes gewaak het en, terwyl hulle na die sterrehemel opgekyk het, gedink het aan die profesie van ‘n Messias wat na die aarde sou kom en verlang het na die koms van die wêreld se Verlosser. Hier was ‘n groep wat gereed was om die hemelse boodskap te ontvang. En skielik het die engel van die Here wat die goeie tyding van groot blydskap verkondig aan hulle verskyn. Hemelse heerlikheid het die hele vlakte oorstroom, ‘n ontelbare skare van engele het verskyn en asof die vreugde te groot vir een boodskapper was om uit die hemel te bring, het daar ‘n menigte stemme in ‘n lofsang, wat eendag deur al die nasies van die wat gered is gesing sal word, uitgebreek: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” (Luk 2:14). GS 327.2

O, wat ‘n les is in hierdie wonderbare verhaal van Betlehem! Hoe bestraf dit nie ons ongeloof, ons hoogmoed en ons selfvoldaanheid nie! Hoe waarsku dit ons nie om op te let dat ons nie ook deur onverskoonbare onverskilligheid sal versuim om die tekens van die tye te onderskei nie en nie die dag van besoeking sal ken nie! GS 327.3

Dit was nie alleen op die heuwels van Judea en nie net onder die nederige herders, dat die engele die wat op die koms van die Messias gewag het, gevind het nie. In die land van die heidene was daar ook diegene wat uitgekyk het vir Hom; hulle was wyse manne, ryk en edel, die filosowe van die Ooste. Studente van die natuur, het die wyse manne God in Sy handewerk gesien. Uit die Hebreeuse Geskrifte het hulle geleer dat die Ster uit Jakob sou ontstaan en met gretige begeerte het hulle op Sy koms gewag, wat nie net die “...Vertroosting van Israel...” sou wees nie, maar ook “...'n Lig tot verligting van die nasies...” en “...tot redding sal wees tot aan die eindes van die aarde.” (Luk 2:25,32; Hand 13:47). Hulle was soekers na lig en die lig van die troon van God, het die pad vir hulle voete verlig. Terwyl die priesters en die rabbi’s van Jerusalem, die aangestelde bewakers en verklaarders van die waarheid, in duisternis verkeer het, het die Hemel-gestuurde ster, hierdie heidense vreemdelinge na die geboorteplek van die pasgebore Koning gelei. GS 328.1

Dit is “...aan die wat Hom verwag...” dat Christus “...vir die tweede maal sonder sonde [sal] verskyn.” (Heb 9:28). Soos die tyding van die geboorte van die Heiland, is die boodskap van Sy wederkoms nie aan die godsdienstige leiers van die volk toevertrou nie. Hulle het versuim om hulle verbintenis met God te handhaaf en het die lig uit die hemel geweier; daarom het hulle nie onder diegene getel wat soos volg deur die apostel Paulus beskryf is nie: “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.” (1 Thes 5:4,5). GS 328.2

Die wagte op die mure van Sion moes die eerste gewees het om die boodskap van die Heiland se koms te verneem; die eerste om hulle stem te verhef om te aan te kondig dat Hy naby is; die eerste om die mense te waarsku om vir Sy koms voor te berei. Maar hulle was gerus en het van vrede en veiligheid gedroom, terwyl die mense in hulle sondes aan die slaap was. Jesus het sy kerk soos die onvrugbare vyeboom gesien, bedek met pretensieuse blare, maar sonder kosbare vrugte. Daar was ‘n spoggerige nakoming van die vorme van godsdiens, terwyl die gees van ware nederigheid, boetvaardigheid en geloof, wat alleen die diens vir God aanvaarbaar kon maak, ontbreek het. In plaas van die genade van die Gees, was daar hoogmoed, formalisme, selfverheffing, selfsug en verdrukking. ‘n Afvallige kerk het hul oë vir die tekens van die tye gesluit. God het hulle nie verlaat of versuim in Sy getrouheid nie; maar hulle het van Hom afgewyk en hulself van Sy liefde geskei. Omdat hulle geweier het om aan die voorwaardes te voldoen, is Sy beloftes nie aan hulle nagekom nie. GS 328.3

Dit is die gewisse gevolge van versuim om die lig en voorregte wat God skenk te waardeer uit te brei. Tensy die kerk in sy aanvanklike voorsiening voortgaan, elke ligstraal aanvaar en elke plig wat geopenbaar mag word nakom, sal godsdiens noodwendig ontaard in die handhawing van vormgodsdiens en die gees van lewensbelangrike godsaligheid sal verdwyn. Hierdie waarheid is herhaaldelik in die geskiedenis van die kerk geïllustreer. God vereis van Sy volk werke van geloof en gehoorsaamheid wat met die seëninge en voorregte wat Hy bied ooreenstem. Gehoorsaamheid vereis ‘n offer en behels ‘n kruis; en dit is waarom so baie van die beweerde navolgers van Christus geweier het om die lig uit die hemel te ontvang en, soos die Jode van ouds, nie die tyd van hulle besoeking geken het nie. (Luk 19:44.) As gevolg van hulle hoogmoed en ongeloof het die Here hulle oorgeslaan en Sy waarheid aan diegene, wat soos die herders van Betlehem en die wyse manne van die Ooste, ag geslaan het op al die lig wat hulle ontvang het, geopenbaar. GS 329.1