Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 18—'n Amerikaanse hervormer
'n Opregte, eerlike landbouer wat gelei is om die Goddelike gesag van die Skrif te betwyfel, maar tog opreg begeer het om die waarheid te ken, was die man wat spesiaal deur God gekies is om uit te lei in die verkondiging van die wederkoms van Christus. Soos baie ander hervormers, het William Miller in sy jong dae, armoede gely en sodoende die belangrike lesse van arbeidsaamheid en selfverloëning geleer. Die lede van die gesin waaruit hy voortgespruit het, is deur ‘n onafhanklike, vryheidliewende gees, volharding en ‘n vurige vaderlandsliefde gekenmerk, eienskappe wat ook prominent in sy karakter was. Sy vader was ‘n kaptein in die leër van die Vryheidsoorlog en die armoedige toestand van Miller se jeugjare kan aan die opofferings, stryd en lyding van daardie tydperk toegeskryf word. GS 330.1
Hy het ‘n gesonde fisiese gestel gehad en het selfs in sy kinderjare bewys gelewer van meer as gewone intellektuele bevoegdheid. Namate hy ouer geword het, het dit meer prominent geword. Sy verstand was aktief en goed ontwikkel en hy het ‘n groot dors na kennis gehad. Hoewel hy nie die voordele van ‘n kollege-opleiding gehad het nie, het sy liefde vir studie en die gewoonte van deeglike oorweging en noukeurige kritiek, hom ‘n man van gesonde oordeel en omvattende sienings gemaak. Hy het ‘n onberispelike morele karakter en ‘n benydenswaardige reputasie gehad en is in die algemeen beskou as iemand met integriteit, spaarsaamheid en welwillendheid. Vanweë sy energie en toepassing, het hy vroeg reeds ‘n vaardigheid aangeleer, hoewel hy steeds met sy studies volgehou het. Hy het verskeie burgerlike en militêre kantore met lof beklee en die pad na rykdom en eer het geblyk vir hom wyd oop te wees. GS 330.2
Sy moeder was ‘n vrou van deugsame vroomheid en in sy kinderjare was hy aan godsdienstige indrukke onderworpe. In sy vroeë manlikheid, het hy egter in die geselskap van deïste verval, wie se invloed baie sterk was weens die feit dat hulle meesal goeie burgers en manne van ‘n menslike en goedhartige geaardheid was. Soos hulle te midde van Christelike instellings geleef het, is hul karakters tot ‘n mate deur hul omgewing gevorm. Die voortreflikhede wat vir hulle respek en vertroue gewen het, het hulle aan die Bybel te danke gehad; en tog was hierdie goeie gawes so verdraai, dat dit ‘n invloed teen die Woord van God uitgeoefen het. Deur sy omgang met hierdie manne is Miller daartoe gelei om hul sentimente te aanvaar. Die huidige verklaring van die Skrifte op daardie tydstip, het probleme opgelewer wat vir hom onoorkomelik gelyk het; tog het sy nuwe geloof, terwyl hy die Bybel ter syde gestel het, niks beter aangebied om die plek daarvan in te neem nie en hy was vir lank nie tevrede nie. Hy het hierdie standpunte egter vir twaalf jaar gehuldig. Maar op die ouderdom van vier-en-dertig, het die Heilige Gees sy hart met ‘n besef van sy toestand as sondaar beïndruk. Hy het in sy vorige geloof geen versekering van saligheid anderkant die graf gehad nie. Die toekoms was donker en somber. Agterna het hy na sy gevoelens gedurende hierdie tyd verwys en gesê: GS 331.1
“Uitwissing was ‘n koue en kil gedagte en aanspreeklikheid het verseker vernietiging vir almal ingehou. Die hemel was soos koper bokant my hoof en die aarde soos yster onder my voete. Die ewigheid — wat was dit? En die dood — waarom was dit? Hoe meer ek geredeneer het, hoe verder was ek van ‘n oplossing. Hoe meer ek gedink het, hoe meer verward was my gevolgtrekkings. Ek het probeer om op te hou dink, maar my gedagtes kon nie beheer word nie. Ek het waarlik ellendig gevoel, maar het nie die oorsaak daarvan begryp nie. Ek het gemurmureer en gekla, maar nie geweet waaroor nie. Ek het besef dat iets verkeerd was, maar het nie geweet hoe of waar om te vind wat reg is nie. Ek het getreur, maar sonder hoop.” GS 331.2
Ek het vir etlike maande in hierdie toestand voortgegaan.. “Skielik...” het hy gesê, “...is die karakter van ‘n Verlosser helder in my gedagtes ingeprent. Dit het gelyk asof daar moontlik ‘n Wese mag wees, só goed en medelydend, wat self vir ons oortredings versoening sou doen en ons daardeur kon bevry van die straf vir sonde. Ek het dadelik ervaar hoe wonderlik so ‘n Wese moet wees en ek het my verbeel dat ek myself in die arms van so ‘n Wese kon werp en op Sy genade vertrou. Maar die vraag het ontstaan: Hoe kan dit bewys word dat so ‘n Wese bestaan? Afgesien van die Bybel, het ek gevind dat ek geen bewyse van die bestaan van so ‘n Verlosser, of selfs van ‘n toekomstige staat kon vind nie... GS 332.1
“Ek het gesien dat die Bybel presies so ‘n Verlosser as waaraan ek behoefte gehad het, uitbeeld; en ek was verbaas om uit te vind hoe ‘n ongeïnspireerde boek sulke beginsels kon ontwikkel wat so perfek vir die behoeftes van ‘n gevalle wêreld aangepas is. Ek moes noodwendig erken dat die Skrif ‘n openbaring van God moet wees. Dit het my vreugde geword; en in Jesus het ek ‘n vriend gevind. Die Verlosser het vir my die vernaamste onder tienduisend geword; en die Skrifte wat voorheen so duister en teenstrydig voorgekom het, het nou ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad geword. My gemoed het stil en tevrede geraak. Ek het gevind dat die Here God ‘n rots te midde van die oseaan van die lewe is. Die Bybel het nou my vernaamste studie geword en ek kan waarlik sê dat ek dit met groot vreugde ondersoek het. Ek het gevind dat die helfte my nooit vertel is nie. En ek het myself afgevra waarom ek nooit die skoonheid en die heerlikheid daarvan vantevore raakgesien het nie en was verbaas dat ek dit ooit kon verwerp het. Ek het gevind dat alles wat my hart kan begeer en ‘n middel vir elke siekte van die siel aan my geopenbaar is. Ek het alle smaak vir ander leesstof verloor en ek het my daarop toegelê om wysheid van God te verkry.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 65-67. GS 332.2
Miller het in die openbaar sy geloof bely in die godsdiens wat hy geminag het. Maar sy ongelowige metgeselle was nie traag om al die argumente wat hy dikwels teen die Goddelike gesag van die Skrif aangespoor het, weer uit te lig nie. Hy was nie bereid om hulle te antwoord nie; maar hy het geredeneer dat as die Bybel ‘n openbaring van God is, dit in ooreenstemming met homself is; en dat dit, aangesien dit vir die mens tot lering gegee is, vir sy begrip aangepas moes wees sodat hy dit kon verstaan. Hy het besluit om die Skrif vir homself te bestudeer en vas te stel of elke oënskynlike teenstrydigheid nie in ooreenstemming gebring kon word nie. GS 332.3
Hy het gepoog om alle vooropgestelde opinies opsy te skuif en sonder kommentaar, het hy met behulp van die kantinskrywings en ‘n konkordansie, Skrif met Skrif vergelyk. Hy het sy studies op ‘n gereelde en stelselmatige wyse voortgesit; hy het met Genesis begin en vers vir vers gelees en het nie vinniger te werk gegaan as wat die betekenis van die verskillende gedeeltes so vir hom ontvou het om hom van enige verleentheid te vrywaar. Wanneer hy iets teëgekom het wat nie vir hom duidelik was nie, het hy dit met elke ander teks wat blykbaar enige verwysing tot die onderwerp het verwys. Hy het geleentheid gegee vir elke woord om die onderwerp van die teks behoorlik te beïnvloed en as sy siening daarvan met elke gelykstaande teks ooreengestem het, was dit nie ‘n verdere probleem vir hom nie. Wanneer hy ‘n skrifgedeelte wat moeilik was om te verstaan teëgekom het, het hy ‘n verklaring daarvan in ‘n ander deel van die Skrif gevind. Soos hy met ernstige gebed om Goddelike verligting gestudeer het, is dit wat voorheen vir hom duister was, duidelik gemaak. Hy het die waarheid van die psalmis se woorde ervaar: “Die opening van U woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.” (Ps 119:130). GS 333.1
Met intense belangstelling het hy die boeke van Daniël en Openbaring bestudeer en dieselfde beginsels van vertolking as in die ander geskrifte gebruik en tot sy groot vreugde gevind dat die profetiese simbole verstaan kon word. Hy het gesien dat die profesieë, vir sover dit reeds vervul was, letterlik vervul is; dat al die verskillende figure, metafore, gelykenisse, die sinnebeelde, ensovoort, in hul onmiddellike verband verklaar is, of dat die terme waarin dit tot uitdrukking gekom het in ander tekste gedefinieer is en dat dit letterlik verstaan moes word.. “Ek was dus tevrede...” het hy gesê, “...dat die Bybel ‘n stelsel van geopenbaarde waarhede is, so duidelik en eenvoudig deurgegee, dat selfs die dwalende nie daarin hoef te dwaal nie.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 70. Skakel vir skakel in die ketting van waarheid, is sy pogings beloon namate hy stap vir stap die groot reeks van profesieë ondersoek het. Engele van die hemel het sy verstand gelei en die Skrif vir sy begrip oopgestel. GS 333.2
Deur die wyse waarop die profesieë in die verlede vervul is as maatstaf vir die vervulling van die profesieë in die toekoms te neem, was hy tevrede dat die populêre siening van die geestelike heerskappy van Christus - ‘n tydelike millennium voor die einde van die wêreld - word nie deur die Woord van God gestaaf nie. Hierdie leerstelling wat op ‘n duisend jaar van geregtigheid en vrede voor die persoonlike koms van die Here dui, het die vrees vir die dag van God ver in die toekoms geplaas. Maar, hoe aangenaam dit ook al mag wees, is dit in stryd met die leer van Christus en Sy apostels, wat verklaar het dat die koring en die onkruid saam moet groei tot die oes, die einde van die wêreld. (Sien Mat 13:30,38-41); dat “...goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger; ... dat “...daar sware tye in die laaste dae sal kom...” (2 Tim 3:13,1) en dat die koninkryk van duisternis tot die wederkoms van die Here sal voortduur en deur die gees van Sy mond verteer sal word en deur die helderheid van Sy koms vernietig sal word. (Sien 2 Thess. 2:8). GS 334.1
Die leerstelling van die bekering van die wêreld en die geestelike heerskappy van Christus, is nie deur die apostoliese kerk gehuldig nie. Dit was nie algemeen deur Christene aanvaar tot ongeveer die begin van die agtiende eeu nie. Soos elke ander dwaalleer, was die gevolge boos. Dit het die mense geleer om die koms van die Here ver in die toekoms te verwag en hulle verhinder om op die tekens wat Sy naderende koms voorspel, ag te slaan. Dit het ‘n gevoel van vertroue en veiligheid wat ongegrond was, geskep en dit het baie daartoe gelei om die nodige voorbereiding om hul Here te ontmoet, te verwaarloos. GS 334.2
Miller het gevind dat die letterlike, persoonlike wederkoms van Christus duidelik in die Skrifte geleer word. Paulus sê: “Die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God.” (1 Thes 4:16,17). En die Heiland het verklaar: “En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid ... Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” (Mat 24:30,27). Hy sal vergesel wees van die leërskare van die hemel. “En wanneer die Seun van die mens sal in Sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom...” (Mat 25:31). “...Hy sal Sy engele uitstuur met harde trompetgeluid en hulle sal Sy uitverkorenes versamel... ” (Mat 24:31). GS 335.1
Met Sy koms sal die regverdige dode opgewek word en die regverdige lewendes sal verander word. “Ons sal wel nie almal ontslaap nie...” het Paulus gesê, “...maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.” (1 Kor 15:51-53). En in sy brief aan die Thessalonicense, ná die beskrywing van die koms van die Here sê hy: “Die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug.” (1 Thes 4:16,17). GS 335.2
Nie voor die persoonlike koms van Christus kan Sy volk die koninkryk ontvang nie. Die Verlosser het gesê: “En wanneer die Seun van die mens in Sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op Sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die skaapwagter die skape van die bokke afskei ... en Hy sal die skape aan Sy regterhand en die bokke aan Sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan Sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” (Mat 25:3134). Ons het volgens die geskrewe tekste gesien dat wanneer die Seun van die mens kom, die dooies onverganklik opgewek en die lewendes verander word. Deur hierdie groot verandering is hulle gereed om die koninkryk te ontvang; want Paulus het gesê: “Dit verklaar ek, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie.” (1 Kor 15:50). Die mens in sy huidige toestand, is sterflik en verganklik. maar die koninkryk van God sal vir ewig onverganklik wees. Daarom kan die mens in sy huidige toestand nie in die koninkryk van God ingaan nie. Maar wanneer Jesus kom, skenk Hy onsterflikheid aan Sy volk; en dan roep Hy hulle om die koninkryk, waarvan hulle tot dusver nog net die erfgename was, te beërwe. GS 336.1
Hierdie en verskeie ander Skrifgedeeltes het Miller duidelik daarvan oortuig dat die gebeure wat algemeen voor die koms van Christus sal plaasvind, soos die universele heerskappy van vrede en die oprigting van die koninkryk van God op aarde, eers ná die wederkoms sou plaasvind. Verder, het al die tekens van die tye en die toestand van die wêreld, met die profetiese beskrywing van die laaste dae ooreengestem. Uit ‘n studie van die Skrif alleen, was hy gedwing om tot die gevolgtrekking te kom, dat die aarde, in sy huidige toestand, binnekort tot ‘n einde sou kom. GS 336.2
“'n Ander soort bewys wat ‘n diep indruk op my gemaak het...” het hy gesê, “...was die chronologie van die Skrif ... Ek het gevind dat die voorspelde gebeure wat in die verlede vervul is, dikwels binne ‘n gegewe tyd plaasgevind het. Die honderden-twintig jaar tot die Sondvloed (Gen 6:3), die sewe dae wat dit voorafgegaan het, met veertig dae voorspelde reën (Gen 7:4); die vierhonderd jaar van die verblyf in Egipte van Abraham se saad (Gen 15:13); die drie dae van die skinker en bakker se drome (Gen 40:12-20); die sewe jaar van Farao se drome (Gen 41:28-54); die veertig jaar in die woestyn (Num 14:34); die drie en ‘n half jaar van hongersnood (1 Kon.17:1; (sien ook Luk.4:25) ... die sewentig jaar gevangenskap (Jer 25:11); sewe tydperke van Nebukadnésar (Dan 4:13-16) en die sewe weke, die tweeen-sestig weke en die een week, wat die sewentig weke wat vir die Jode vasgestel is verteenwoordig (Dan 9:24-27) — al die gebeure wat deur hierdie tydperke bepaal was, was alles ‘n saak van profesie en is volgens die profesieë vervul.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 74, 75. GS 336.3
Toe hy dus in sy studie van die Bybel, verskillende chronologiese tydperke gevind het wat, volgens sy begrip, gestrek het tot by die wederkoms van Christus, kon hy nie anders as om dit as die “...tye wat vooraf bepaal is...” wat God aan sy diensknegte geopenbaar het te beskou nie. “Die verborge dinge...” het Moses gesê, “...is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid.” (Deut 29:29); en die Here het deur die profeet Amos verklaar: “Want die Here HERE doen niks tensy Hy Sy geheimenis aan Sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” (Amos 3:7). Die studente van die Woord van God kan dus met vertroue verwag om hierdie verstommende gebeurtenis wat in die mensegeskiedenis gaan plaasvind, duidelik in die Skrifte van die waarheid vind. GS 337.1
“Aangesien ek ten volle oortuig was...” het Miller gesê, ‘...dat die hele Skrif deur God ingegee en nuttig is...’ (2 Tim 3:16); dat ‘...geen profesie ... ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring [is] nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek...’ (2 Pet 1:21) en geskrywe vir ons lering ‘...sodat ons deur geduld en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê...’ (Rom 15:4), ‘...kon ek die chronologiese dele van die Bybel nie anders as deel van die Woord van God, wat net soos enige ander deel van die Skrif ons ernstige oorweging verdien, beskou nie. Daarom het ek gevoel dat ten einde te verstaan wat God aan ons wou openbaar, ek nie die reg gehad het om die profetiese tydperke oor te slaan nie.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 75. GS 337.2
Die profesie wat die tyd van die wederkoms die duidelikste blyk te openbaar, was Daniël 8:14: “Tweeduisend driehonderd aande en mores, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.” Deur sy reëls te volg om die Skrif sy eie tolk te maak, het Miller ontdek dat ‘n dag in simboliese profesieë ‘n jaar verteenwoordig (Sien Num 14:34; Eseg 4:6); hy het gesien dat die tydperk van 2 300 profetiese dae, of letterlike jare, veel verder as die einde van die Joodse bedeling sou strek en kon dit dus nie na die heiligdom van daardie bedeling verwys nie. Miller het die algemene opvatting aanvaar, dat gedurende die Christelike era, die aarde die heiligdom is en daarom het hy verstaan dat die reiniging van die heiligdom wat in Daniël 8:14 voorspel word, die reiniging van die aarde deur vuur, met die wederkoms van Christus verteenwoordig word. Hy het dus tot die gevolgtrekking gekom dat indien die regte beginpunt vir die 2 300 dae vasgestel kon word, die tyd van die wederkoms maklik vasgestel sou kon word. So sou die tyd van die groot voleinding van alle dinge geopenbaar word, die tyd wanneer die huidige staat met “...al sy hoogmoed en mag, prag en praal, boosheid en verdrukking, tot ‘n einde sal kom”; wanneer die vloek “...van die aarde weggeneem word, die dood vernietig word en die beloning aan die diensknegte van God, die profete en die heiliges en aan hulle wat sy Naam vrees, gegee sal word, terwyl diegene wat die aarde vernietig, vernietig sal word.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 76. GS 338.1
Met nuwe en dieper erns het Miller voortgegaan om die profesieë te ondersoek en dae en nagte aan die bestudering van wat nou van geweldige en algehele absorberende belang vir hom blyk te gewees het, gewy. In die agtste hoofstuk van Daniël kon hy geen leidraad vind vir die beginpunt van die 2 300 dae nie; hoewel die engel Gabriël beveel is om Daniël die visioen te laat verstaan, het hy net ‘n gedeeltelike verklaring aan hom gegee. Toe die verskriklike vervolging wat oor die kerk sou kom, voor die profeet ontvou het, het sy fisiese krag ingegee. Hy kon nie meer verduur nie en die engel het hom vir ‘n tyd verlaat. “En ek, Daniël was gedaan en was dae lank siek ... en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie.” (Dan 8:27). GS 338.2
Maar nogtans het God Sy boodskapper gebied: “Laat hierdie man die gesig verstaan.” Daardie opdrag moes vervul word. In gehoorsaamheid daaraan, het die engel ‘n ruk later na Daniël teruggekeer en gesê: “Daniël, nou het ek uitgegaan om jou insig te gee ... Gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.” (Dan 9:22,23). Daar was een belangrike punt in die visie van hoofstuk agt wat onverklaar gelaat is, naamlik die tydperk van 2 300 dae; daarom het die engel toe hy sy verduideliking hervat, hoofsaaklik by die onderwerp van tyd stilgestaan: GS 339.1
“Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal ... Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die twee-en-sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom ... En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou...” (Dan 9:24 27). GS 339.2
Die engel is na Daniël gestuur met die uitsluitlike doel om die punt wat hy in die visioen van die agtste hoofstuk nie verstaan het nie, te verduidelik, die verklaring met betrekking tot die tyd — “...tweeduisend driehonderd aande en mores, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.” En nadat hy Daniël gebied het: “Gee ag op die woord en verstaan die gesig...” was die heel eerste woorde van die engel: “Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal.” Die woord wat hier as “bepaal,” vertaal is, beteken letterlik “afgesny.” Sewentig weke, wat 490 jaar verteenwoordig, word deur die engel verklaar dat dit afgesny sou word, wat spesifiek op die Jode van toepassing was. Maar waarvan is dit afgesny? Aangesien die 2 300 dae die enigste tydperk was wat in hoofstuk agt genoem is, moes dit die tydperk wees waarvan die sewentig weke afgesny is; die sewentig weke moes dus deel uitmaak van die 2 300 dae en die twee tydperke moes op dieselfde tyd begin. Die sewentig weke sou, volgens die engel, begin met die bevel om Jerusalem te herstel en op te bou. Indien die datum van hierdie bevel dus vasgestel kon word, sou die beginpunt van die lang tydperk van 2 300 dae vasgestel kon word. GS 339.3
Die bevel word in die sewende hoofstuk van Esra gevind. (Esra 7:12-26). Dit is volledig deur Artasasta, koning van Persië, in die jaar 457 vC uitgereik. Maar in Esra 6:14 word gesê dat die huis van die Here in Jerusalem gebou is “...op bevel van Kores en Darius en Artasasta, koning van Persië.” Hierdie drie konings wat die bevel oorspronklik herbevestig en voltooi het, het dit tot die volmaaktheid wat deur die profesie vereis word om die begin van die 2 300 aan te dui, volbring. As ons die jaar 457 vC, die tyd toe die bevel uitgevoer is, as die datum van die bevel neem, word daar gesien dat elke bepaling van die profesie aangaande die sewentig weke vervul is. GS 340.1
“...van die uitgang van die Woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle...”, naamlik nege-en-sestig weke, of 483 jaar. Die bevel van Artasasta het in die herfs van die jaar 457 vC in werking getree. Vanaf hierdie datum strek daar 483 jaar tot die herfs van die jaar 27 nC. [Sien bylaag]. Die profesie is op hierdie tydstip vervul. Die woord “Messias” beteken “die Gesalfde.” In die herfs van die jaar 27 nC is Christus deur Johannes gedoop en het Hy die salwing van die Gees ontvang. Die apostel Petrus getuig: “...met betrekking tot Jesus van Nasaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag.” (Hand 10:38). En die Heiland self het verklaar: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring.” (Luk 4:18). Na Sy doop “...het Jesus in Galilea gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul.” (Mark 1:14,15). GS 340.2
“En Hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit.” Die “week” wat hier ter sprake gebring word, is die laaste van die sewentig weke; dit is die laaste sewe jaar van die tydperk wat spesifiek vir die Jode bepaal is. Gedurende hierdie tyd, wat vanaf 27 nC tot 34 nC gestrek het, het Christus, eers persoonlik en later deur middel van Sy dissipels, die evangelie-uitnodiging aan veral die Jode gerig. Toe die apostels met die blye tyding van die koninkryk uitgestuur is, was die Heiland se opdrag: “Moenie gaan op pad na die heidene nie en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel.” (Mat 10:5,6). GS 341.1
“En gedurende die helfte van die week sal Hy slagoffer en spysoffer laat ophou.” In 31 nC, drie en ‘n half jaar na Sy doop, is die Here gekruisig. Met die groot soenoffer wat op Golgota gebring is, is daardie offerstelsel wat vir vierduisend jaar vooruit op die Lam van God gewys het, beëindig. Tipe het antitipe ontmoet en al die slagoffers en spysoffers van die seremoniële stelsel is daar opgehou. GS 341.2
Die sewentig weke, of 490 jaar, wat veral oor die Jode bepaal is het, soos aangetoon, in die jaar 34 nC ten einde geloop. Op daardie stadium het die volk, deur die optrede van die Joodse Sanhedrin, die verwerping van die evangelie met die marteldood van Stefanus en die vervolging van die volgelinge van Christus verseël. Van toe af is die evangelieboodskap nie langer tot die uitverkore volk beperk nie, maar is aan die hele wêreld verkondig. Die dissipels, wat weens vervolging gedwing was om uit Jerusalem te vlug, het “...die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig. En Filippus het afgekom in ‘n stad van Samaria en Christus vir hulle gepreek.” (Hand 8:4,5). GS 341.3
Petrus het onder Goddelike leiding, die evangelie aan die hoofman oor honderd van Cesárea, die Godvresende Cornelius, verkondig en die ywerige Paulus, wat vir die geloof van Christus gewen is, “...is ver weggestuur na die heidene...” om die blye tyding te verkondig. GS 342.1
Tot dusver is elke besonderheid van die profesieë treffend vervul en die begin van die sewentig weke is sonder enige twyfel op 457 vC en die einde op 34 nC vasgestel. Met hierdie gegewens was dit geen probleem om die einde van die 2 300 dae vas te stel nie. Die sewentig weke — 490 dae — wat van die 2 300 dae afgesny was, het nog 1 810 dae laat oorbly. Ná die einde van die 490 dae, was die 1 810 dae nog nie vervul nie. GS 342.2
Vanaf die jaar 34 nC sou daar 1810 jaar strek tot 1844. Gevolglik het die 2 300 dae van Daniël 8:14 in 1844 geëindig. Aan die einde van hierdie lang profetiese tydperk sou, volgens die getuienis van die engel van God, “...die heiligdom in sy regte staat herstel word.” So is die tyd van die reiniging van die heiligdom, wat algemeen as die datum van die wederkoms aangeneem was, beslis uitgewys. GS 342.3
Miller en sy medewerkers het eers geglo dat die 2 300 dae in die lente van 1844 sou eindig, terwyl die profesie op die herfs van daardie jaar gewys het. [Sien bylaag] . Die verkeerde begrip van hierdie punt het teleurstelling en verwarring vir diegene wat die vroeër datum as die tyd van die wederkoms van die Here aangeneem het, veroorsaak. Maar dit het nie die minste effek op die krag van die argument, dat die 2 300 dae in die jaar 1844 ten einde geloop het, gehad nie en dat die groot gebeurtenis wat deur die reiniging van die heiligdom voorgestel is, dan sou plaasvind nie. GS 342.4
Toe hy begin het om die Skrif te bestudeer soos wat hy gedoen het, om te bewys dat dit ‘n openbaring van God was, het Miller aanvanklik nie in die minste verwag om tot die gevolgtrekking waartoe hy nou gekom het, te kom nie. Hy kon self skaars die gevolge van sy ondersoek glo. Maar die skriftuurlike bewys was te duidelik en te kragtig om ter syde gestel te word. GS 342.5
Hy het twee jaar aan die bestudering van die Bybel gewy, toe hy in 1818 tot die plegtige oortuiging gekom het dat Christus oor ongeveer vyf-en-twintig jaar sou verskyn om Sy volk te verlos. “Ek hoef nie te praat...” het Miller gesê, “...oor die vreugde wat my hart gevul het met die oog op hierdie heerlike vooruitsig, of van die vurige verlange van my siel om te deel in die vreugde van die verlostes nie. Vir my was die Bybel nou ‘n nuwe boek. Dit was inderwaarheid ‘n fees van rede; alles wat vir my duister, misterieus of onduidelik was, is uit my gedagtes voor die helder lig wat nou deur die heilige bladsye gebreek het verdryf; en o, hoe helder en heerlik het die waarheid geskyn! Al die weersprekings en teenstrydighede wat ek voorheen in die Woord gevind het, was nou weg; en hoewel daar baie gedeeltes was waarvan ek nog nie seker was dat ek hulle ten volle begryp het nie, het daar soveel lig daaruit geskyn om my vorige duistere begrip te verlig, dat dit vir my ‘n vreugde was om die Skrifgedeeltes wat ek voorheen as onverstaanbaar beskou het te ondersoek.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 76, 77. GS 343.1
“Met die plegtige oortuiging dat sulke uiters belangrike gebeure wat voorspel is om in so ‘n kort tydperk vervul te word in die Skrif voorspel is, het die vraag aangaande my plig teenoor die wêreld in die lig van die getuienis wat my denke beïnvloed het kragtig by my opgekom.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 81. Hy het gevoel dat dit sy plig was om die lig wat hy ontvang het, met ander te deel. Hy het verwag om teëstand van die goddelose te kry, maar was vol vertroue dat alle Christene hulle sou verheug in die hoop om die Verlosser, wat hulle beweer het lief te hê, te ontmoet. Sy enigste vrees was dat in hulle groot vreugde in die vooruitsig op die heerlike bevryding wat binnekort sou plaasvind, baie die leer sou aanvaar sonder om die Skrif deeglik te ondersoek om die waarheid daarvan te bewys. Hy het dus gehuiwer om dit aan te bied, vir geval hy verkeerd was en ander sodoende sou mislei. Hy is toe gelei om die bewyse ter ondersteuning van die gevolgtrekkings waartoe hy gekom het, te hersien en om elke probleem wat hom voorgedoen het, deeglik te oorweeg. Hy het gevind dat besware, voor die lig van die Woord van God, soos mis voor die son verdwyn het. Na vyf jaar wat hy op hierdie wyse deurgebring het, was hy ten volle oortuig van die korrektheid van sy posisie. GS 343.2
En nou is die plig om aan ander bekend te maak wat hy so oortuigend in die Skrif geleer het, met nuwe krag op hom afgedwing. “Terwyl ek met my sake besig was...” het hy gesê, “...het dit gedurig in my ore opgeklink: ‘Gaan vertel die wêreld van die gevaar waarin hulle verkeer.’ Die volgende teks het voortdurend by my opgekom: ‘As Ek vir die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg dat hy hom daarvan moet bekeer en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou siel gered.’ (Eseg 33:8,9). Ek was van mening dat as die goddelose duidelik gewaarsku kon word, sou menigtes van hulle berou hê; en dat indien hulle nie gewaarsku word nie, hulle bloed van my hand geëis sou word.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 92. GS 344.1
Hy het sy siening, waar die geleentheid hom voorgedoen het, privaat begin aanbied en gebid dat een of ander predikant die krag daarvan sou ervaar en homself aan die bekendmaking daarvan sou wy. Maar hy kon nie van die oortuiging dat hy ‘n persoonlike plig het om die waarskuwing te gee nie, ontslae raak nie. Die woorde het steeds by hom opgekom: “Gaan verkondig dit aan die wêreld; Ek sal hulle bloed van jou hand eis.” Hy het nege jaar gewag, terwyl die las steeds op sy hart gedruk het, totdat hy in 1831 vir die eerste keer die redes vir sy geloof in die openbaar verkondig het. GS 344.2
Net soos Elisa agter sy osse op die landery weggeroep is om die mantel van toewyding tot die profetiese amp te ontvang, is William Miller ook geroep om sy ploeg te verlaat en die verborgenhede van die koninkryk van God vir die volk oop te stel. Met bewing het hy sy werk betree en sy toehoorders stap vir stap deur die profetiese tydperke gelei tot by die wederkoms van Christus. Met elke poging het hy meer krag en moed bygekry, toe hy die wydverspreide belangstelling sien wat sy woorde opgewek het. GS 345.1
Dit was eers op versoek van sy broeders, waarin hy die roepstem van God gehoor het, dat Miller ingestem het om sy sienings in die openbaar aan te bied. Hy was nou vyftig jaar oud, nie gewoond aan openbare toesprake nie en belas met ‘n gevoel van onbevoegdheid vir die werk voor hom. Maar vanuit die staanspoor is sy werk op ‘n merkwaardige wyse geseën tot redding van siele. Sy eerste lesing is gevolg deur ‘n godsdienstige ontwaking waarin dertien gesinne, met die uitsondering van twee persone, tot bekering gekom het. Daar is dadelik by hom aangedring om op ander plekke ook te praat en op byna elke plek het sy arbeid tot ‘n herlewing in die werk van God gelei. Sondaars het tot bekering gekom, Christene is tot groter toewyding gewek en deïste en ongelowiges is gelei om die waarheid van die Bybel en die Christelike godsdiens te erken. Die getuienis van diegene onder wie hy gearbei het, lui as volg: “‘n Klas van mense is deur hom bereik wat nie deur ander bereik kon word nie.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 138. Sy prediking was daarop gemik om die publiek se aandag op die groot godsdienssake te vestig en die toenemende wêreldsheid en sensualiteit van sy tyd te stuit. GS 345.2
In byna elke stad was daar talle, in sommige gevalle honderde, wat as gevolg van sy prediking tot bekering gekom het. Op baie plekke is Protestantse kerke van byna alle denominasies vir hom oopgestel en die uitnodigings vir sy dienste het gewoonlik van die predikante van die verskillende gemeentes gekom. Dit was sy onveranderlike reël om nie op enige plek waarheen hy nie uitgenooi is te werk nie, tog het hy homself spoedig in ‘n situasie bevind waar hy nie by magte was om aan die helfte van die uitnodigings te voldoen nie. Baie wat nie sy siening oor die presiese tyd van die wederkoms aanvaar het nie, was oortuig van die sekerheid en nabyheid van die koms van Christus en van hul behoefte om hulself voor te berei. In sommige van die groot stede het sy werk ‘n diep indruk gemaak. Drankhandelaars het hulle besighede gesluit en hul winkels in vergadersale omskep; dobbelhuise is opgebreek; ongelowiges, deïste, universaliste en selfs die mees onverskilligste losbandiges is hervorm, waarvan sommige jare lank nie ‘n huis van aanbidding betree het nie. Gebedsbyeenkomste is byna elke uur deur verskillende denominasies in verskillende oorde gereël en sakemanne het in die middag vir gebed en lofprysing byeengekom. Daar was nie buitensporige opgewondenheid nie, maar ‘n byna universele plegtigheid in die gemoedere van mense. Sy werk, soos dié van die vroeë hervormers, het eerder geneig om die begrip te oortuig en die gewete op te wek, as om slegs emosies op te wek. GS 345.3
In 1833 het Miller toestemming van die Baptiste Kerk, waarvan hy ‘n lidmaat was, ontvang om te preek. ‘n Groot aantal van die predikante van sy denominasie het ook sy werk goedgekeur en dit was met hulle formele toestemming dat hy sy arbeid voortgesit het. Hy het gereis en onafgebroke gepreek, hoewel sy persoonlike arbeid hoofsaaklik tot Nieu-Engeland en die Midde-state beperk was. Vir etlike jare het is sy uitgawes uit sy eie beurs voorsien en later het hy nooit genoeg ontvang om die reiskoste na die plekke waar hy genooi is te dek nie. Dus het sy openbare arbeid vir hom geen geldelike voordeel ingehou nie en sy bates swaar belas, wat geleidelik gedurende hierdie tydperk van sy lewe afgeneem het. Hy was die vader van ‘n groot gesin, maar omdat hulle almal spaarsamig en vlytig was, was sy plaas voldoende om in hulle en sy eie behoeftes te voorsien. GS 346.1
In 1833, twee jaar nadat Miller die bewyse van die spoedige koms van Christus in die openbaar aangebied het, het die laaste tekens wat deur die Verlosser as aanduiding van sy wederkoms belowe is verskyn. Jesus het gesê: “Die sterre sal van die hemel val...” (Matt 24:29). En in Openbaring het Johannes, terwyl hy in ‘n visioen die tonele wat die dag van God sou inlui gesien het, het verklaar: “En die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom, wat deur ‘n groot wind geskud word, sy na-vye laat afval.” (Openb 6:13). Hierdie profesie is op ‘n opvallende en indrukwekkende wyse deur die wonderlike vertoon van ‘n meteoriese stortreën op 13 November 1833 vervul. Dit was die mees uitgebreide en wonderlikste vertoning van vallende sterre wat nog ooit opgeteken is; “Die hele uitspansel oor die Verenigde State was vir ure in ‘n vlammende beroering. Geen hemelse verskynsel wat met soveel bewondering deur een klas, of met soveel vrees en skrik deur ‘n ander klas aanskou is, het ooit in hierdie land sedert sy eerste nedersetting, voorgekom nie ... Die verhewenheid en ontsaglike skoonheid daarvan bly steeds in die gedagtes van baie mense ... Nog nooit het reën meer dig geval as wat die meteoriete op die aarde neergestort het nie; oos, wes, noord en suid was dit dieselfde. Kortom, dit het gelyk asof die ganse hemel aan die beweeg was ... Die vertoning, soos in Professor Silliman se joernaal beskryf, is oor die hele Noord-Amerika gesien ... Vanaf twee-uur in die oggend tot helder oordag, met die lug heeltemal kalm en wolkloos, was dit ‘n onophoudelike toneel van skitterende, briljante helderheid in die ganse hemelruim.” — R M Devens, American Progress; or, The Great Events of the Greatest Century, hfst 28, par 1-5. GS 347.1
“Inderdaad, in geen taal kan die prag van daardie manjifieke skouspel beskryf word nie ... niemand wat dit nie gesien het nie, kan ‘n behoorlike konsep van die heerlikheid daarvan vorm nie. Dit het gelyk asof die hele sterrehemel op ‘n stadium by ‘n hoogtepunt saamgetrek het en terselfdertyd met die snelheid van weerlig na alle dele van die horison verskiet het; en steeds het hulle nie uitgeput geraak nie — duisende het vinnig op die spore van duisende voor hulle gevolg, asof hulle spesifiek vir daardie doel geskep was. — F Reed, The Christian Advocate and Journal, 13 Des 1833. “‘'n Meer korrekte beeld as dit, van ‘n vyeboom wat sy vye as gevolg van ‘n magtige wind afgooi, was nie moontlik om te aanskou nie.” — “The Old Countryman” in die Portland Evening Advertiser, 26 Nov 1833. GS 347.2
In die New York Journal of Commerce van 14 November 1833, was daar ‘n lang artikel oor hierdie merkwaardige verskynsel, met die volgende stelling: “Geen filosoof of geleerde het van ‘n gebeurtenis vertel of opgeteken, ek veronderstel, soos die een van gister nie. Agtien honderd jaar gelede, het ‘n profeet dit presies voorspel, as ons sou kon verstaan dat sterre wat val, vallende sterre is ... in die enigste sin waarin dit moontlik is om letterlik waar te wees.” GS 348.1
So is die laaste van die tekens van Sy wederkoms, wat Jesus aan Sy dissipels gesê het, getoon: “So weet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” (Mat 24:33). Ná hierdie tekens het Johannes, as die volgende groot gebeurtenis, die hemel soos ‘n boekrol sien wegtrek, terwyl die aarde gebewe het, berge en eilande uit hulle plekke versit is en die goddelose in verskrikking voor die aangesig van die Seun van die mens gevlug het. (Openb 6:12-17). GS 348.2
Baie wat die vallende sterre gesien het, het dit as ‘n voorloper van die komende oordeel beskou, “...'n ontsagwekkende tipe, ‘n gewisse voorloper, ‘n genadige teken, van daardie groot en vreeslike dag.” — “ The Old Countryman ” in die Portland Evening Advertiser, 26 Nov 1833. So is die aandag van die volk op die vervulling van die profesie gevestig en baie is gelei om ag te gee op die waarskuwing van die wederkoms. GS 348.3
In die jaar 1840 het ‘n ander merkwaardige vervulling van profesieë wydverspreide belangstelling gewek. Twee jaar tevore het Josiah Litch, een van die eerste predikante wat die wederkoms verkondig het, ‘n uiteensetting van Openbaring 9 gepubliseer, wat die val van die Ottomaanse Ryk voorspel het. Volgens sy berekeninge, sou hierdie mag “...in Augustus van 1840 nC...” omvergewerp word; en slegs enkele dae voordat dit sou plaasvind, het hy geskryf: “As ons aanvaar dat die eerste tydperk, 150 jaar, presies voor die troonbestyging van Deacozes, met die toestemming van die Turke, vervul is en dat die 391 jaar en vyftien dae aan die einde van die eerste periode begin het, dan sal dit op 11 Augustus 1840 eindig, wanneer die Ottomaanse mag in Konstantinopel na verwagting verbreek sal word. En dit sal, volgens my, die geval wees.” — Josiah Litch in ‘n artikel in die Signs of the Times, and Expositor of Prophecy, 1 Aug 1840. GS 349.1
Op die gespesifiseerde tydstip, het Turkye deur haar ambassadeurs, die beskerming van die geallieerde moondhede van Europa aanvaar en haarself dus onder die beheer van Christelike nasies geplaas. Hierdie gebeurtenis het die voorspelling presies vervul. [Sien bylaag]. Toe dit bekend geword het, was menigtes oortuig van die korrektheid van die beginsels van profetiese interpretasie wat deur Miller en sy medewerkers aanvaar is en ‘n wonderlike stukrag is aan die advent-beweging gegee. Manne van geleerdheid en aansien het met Miller verenig, beide in die prediking en die publisering van sy standpunte en vanaf 1840 tot 1844 het die werk vinnig uitgebrei. GS 349.2
William Miller het oor sterk verstandelike krag beskik, deur denke en studie gedissiplineer; en deur homself met die Bron van wysheid te verbind, het hy die wysheid van die hemel bygevoeg. Hy was ‘n man met hoë waardes, wat nie anders kon as om respek en agting af te dwing waar integriteit van karakter en morele uitnemendheid waardeer is nie. Hy het opregte vriendelikheid met Christelike nederigheid en die krag van selfbeheersing verenig en hy was oplettend en minsaam teenoor almal, gereed om na ander se menings te luister en hul argumente op te weeg. Sonder hartstog of opgewondenheid, het hy alle teorieë en leerstellings aan die Woord van God getoets en sy grondige redenasie en deeglike kennis van die Skrif het hom in staat gestel om dwaling te weerlê en valsheid aan die kaak te stel. GS 349.3
Tog het hy nie sy werk sonder bittere teëstand opgevolg nie. Soos met die vroeëre hervormers, is die waarhede wat hy aangebied het, nie gunstig deur gewilde godsdienstige leraars ontvang nie. Omdat hulle nie hul standpunt deur die Skrif kon handhaaf nie, was hulle genoop om hulle tot die woorde en leerstellings van mense, volgens die tradisies van die vaders te wend. Maar die Woord van God was die enigste getuienis wat die predikers van die advent-waarheid aanvaar het. “Die Bybel en die Bybel alleen” was hulle wagwoord. Die gebrek aan Skriftuurlike bewys vir hul argumente, is met spot en hoon deur hul teëstanders aangevul. Tyd, middele en talente is gebruik om diegene te belaster wie se enigste oortreding was dat hulle met blydskap uitgesien het na die wederkoms van hul Here en daarna gestreef het om heilige lewens te lei en ander te vermaan om hulle vir Sy verskyning voor te berei. GS 350.1
Ernstige pogings is aangewend om die aandag van die mense van die onderwerp van die wederkoms af te trek. Daar is aangevoer dat om die profesieë wat betrekking op die koms van Christus en die einde van die wêreld het te bestudeer, ‘n sonde is waarvoor mense hulle moet skaam. Sodoende het die algemene bediening die geloof in die Woord van God ondermyn. Hulle leer het die mense ongelowig gemaak en baie het van die geleentheid gebruik gemaak om hul eie goddelose begeertes te volg. Toe het die outeurs van die bose al die skuld op die Adventiste geplaas. GS 350.2
Terwyl hy oorvol lokale van intelligente en oplettende hoorders getrek het, is Miller se naam selde deur die godsdienstige pers genoem, behalwe met bespotting of veroordeling. Die onverskilliges en goddeloses, aangemoedig deur die standpunt van godsdienstige leraars, het hulself tot beledigende byname gewend en lae en godslasterlike kwinkslae, in hul pogings om sy werk te smaad. Hierdie grysaard wat ‘n gerieflike huis verlaat het om op eie koste van stad tot stad en van dorp tot dorp te reis en, wat onafgebroke gewerk het om die plegtige waarskuwing van die naderende oordeel na die wêreld uit te dra, is snedig as ‘n fanatikus, ‘n leuenaar en ‘n bespiegelende skurk uitgemaak. GS 351.1
Die bespotting, valsheid en beledigings wat hy moes verduur, het verontwaardigde protes, self van die sekulêre pers uitgelok. “Om ‘n onderwerp van sulke oorweldigende majesteit en sulke skrikwekkende gevolge... ” met ligsinnigheid en bespotting te begroet, is deur wêreldlinge veroordeel as “...nie slegs gekskeerdery met die gevoelens van die verkondigers en voorstanders daarvan nie...” maar ook “... om ‘n grap te maak van die dag van oordeel, om die Godheid self te bespot en die verskrikking van Sy regbank te minag.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 183. GS 351.2
Die aanhitser van alle boosheid wou nie net die effek van die advent-boodskap teëwerk nie, maar ook om die boodskapper self te vernietig. Miller het ‘n praktiese toepassing van die waarheid van die Skrif op die harte van sy toehoorders gemaak, hulle sondes bestraf en hulle selfvoldaanheid versteur; en sy duidelike en snydende woorde het hul vyandskap gewek. Die teëstand wat kerklede teenoor sy boodskap geopenbaar het, het die laer klasse aangemoedig om verder te gaan; en vyande het beplan om hom om die lewe te bring sodra hy die plek van byeenkoms sou verlaat. Maar daar was heilige engele onder die skare en een van hulle, in die gedaante van ‘n man, het hierdie dienskneg van die Here aan sy arm geneem en hom in veiligheid weg van die toornige skare gelei. Sy werk was nog nie voltooi nie en Satan en sy gesante is in hul voorneme gestuit. GS 351.3
Ondanks alle teëstand, het belangstelling in die adventbeweging steeds toegeneem. Die gemeentes het van honderde tot duisende toegeneem. Groot toenames is tot die ledetal van verskillende kerke gemaak, maar na ‘n tyd is die gees van opposisie selfs teenoor hierdie bekeerlinge geopenbaar en die kerke het dissiplinêre stappe teen diegene wat Miller se siening aanvaar het, begin neem. Hierdie optrede het ‘n antwoord van sy pen uitgelok en in ‘n toespraak aan Christene van alle denominasies het hy aangedring dat indien sy leerstellings vals was, die dwaling aan hom uit die Skrif getoon moet word. GS 352.1
“Wat het ons geglo...” het hy gevra, “...wat ons nie deur die Woord van God beveel is om te glo nie, wat julle self erken het die maatstaf te wees, die enigste maatstaf van ons geloof en praktyk? Wat het ons gedoen wat sulke kwaadwillige veroordelings teen ons vanaf die preekstoel en die pers uitlok en aan julle die regmatige rede gee om ons [Adventiste] uit julle kerke en gemeenskap uit te sluit? ... As ons verkeerd is, wys dan vir ons waar ons verkeerd is. Toon ons uit die Woord van God dat ons dwaal; ons het genoeg bespotting verduur; dit kan ons nooit oortuig dat ons verkeerd is nie; die Woord van God alleen kan ons sienings verander. Ons het doelbewus en biddend tot ons gevolgtrekkings gekom, soos ons die getuienis in die Skrif gesien het.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 250, 252. GS 352.2
Die waarskuwings wat God van eeu tot eeu deur Sy diensknegte aan die wêreld gestuur het, is altyd met dieselfde bedenkinge en ongeloof begroet. Toe die ongeregtigheid van die mense voor die sondvloed Hom beweeg het om ‘n vloed oor die aarde te bring, het Hy eers Sy doel aan hulle bekendgemaak, sodat hulle die geleentheid sou hê om hulle van hul bose weë te bekeer. Honderd-en-twintig jaar lank is die waarskuwing om tot inkeer te kom aan hulle gegee, sodat die toorn van God nie in hulle vernietiging geopenbaar sou word nie. Maar die boodskap was vir hulle soos ‘n ydele sprokie en hulle het dit nie geglo nie. Vermetel in hulle boosheid, het hulle die boodskapper van God bespot, sy smekinge ligtelik opgeneem en hom selfs van vermetelheid beskuldig. Hoe durf een man teen al die groot manne van die aarde opstaan? As Noag se boodskap waar was, waarom het die hele wêreld dit nie gesien en geglo nie? Een man se bewerings teen die wysheid van duisende! Hulle het die waarskuwing nie geglo nie en het ook nie skuiling in die ark gaan soek nie. GS 352.3
Spotters het op die dinge van die natuur gewys — na die onveranderlike opeenvolging van die seisoene, na die blou lug wat nog nooit reën uitgegiet het nie, na die groen velde wat snags deur dou bevogtig is — en hulle het uitgeroep: “Spreek hy nie deur gelykenisse nie?” Met minagting het hulle die prediker van geregtigheid as ‘n wilde entoesias bestempel en hulle het voortgegaan, meer en meer ywerig in hul strewe na plesier en meer ingestel op hul bose weë as voorheen. Maar hulle ongeloof het nie die voorspelde gebeurtenis verhoed nie. God het hulle goddeloosheid lank verdra en genoeg geleentheid aan hulle gegun om tot bekering te kom; maar op die vasgestelde tyd is Sy oordele oor die verwerpers van Sy genade besoek. GS 353.1
Christus het verklaar dat soortgelyke ongeloof aangaande Sy wederkoms sou bestaan. Soos die mense van Noag se tyd “...nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie...” net so, in die woorde van die Verlosser, “...sal ook wees die koms van die Seun van die mens.” (Mat 24:39). Wanneer die beweerde volk van God hulle met die wêreld verenig, leef hulle soos die wêreld leef en sal saam met hulle in verbode plesier deel; wanneer die weelde van die wêreld die weelde van die kerk word; wanneer die huweliksklokke lui en almal na baie jare van wêreldse welvaart uitsien — dan skielik, soos ‘n weerligstraal uit die hemel, sal die einde van hulle heerlike verwagtings en bedrieglike hoop kom. GS 353.2
Soos God sy dienskneg gestuur het om die wêreld oor die komende Vloed te waarsku, het Hy Sy gekose boodskappers gestuur om die nabyheid van die finale oordeel bekend te maak. En net soos Noag se tydgenote die voorspellings van die prediker van geregtigheid belaglik gemaak het, so het baie, selfs van die beweerde volk van God, in Miller se tyd met die woorde van waarskuwing die spot gedryf. GS 354.1
En waarom was die leer en prediking van Christus se wederkoms so onwelkom in die kerke? Terwyl die wederkoms van die Here wee en verwoesting vir die goddelose bring, is dit belaai met vreugde en hoop vir die regverdiges. Hierdie groot waarheid was die troos van God se getroues deur alle eeue. Waarom het dit dan, soos die Outeur daarvan “...'n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling...” vir Sy beweerde volk geword? Dit was die Here self wat Sy dissipels belowe het: “As Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem.” (Joh 14:3). Dit was die deernisvolle Verlosser wat, gedagtig aan die eensaamheid en droefheid van Sy volgelinge, aan die engele opdrag gegee het om hulle met die versekering dat Hy persoonlik weer sou kom net soos Hy na die hemel opgevaar het, te vertroos. Terwyl die dissipels stip na die hemel gestaan en kyk het om ‘n laaste blik van Hom wat hulle liefgehad het te kry, is hulle aandag deur die volgende woorde in beslag geneem: “Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” (Hand 1:11). Die engel se boodskap het nuwe hoop in hulle harte laat ontvlam. Die dissipels het “...na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap. En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank.” (Luk 24:52,53). Hulle was nie verheug omdat Jesus van hulle geskei is en hulle oorgelaat het om met die beproewinge en versoekings van die wêreld te worstel nie, maar omdat die engel hulle verseker het dat Hy weer sou kom. GS 354.2
Die verkondiging van Christus se koms behoort nou, soos deur engele aan die herders van Betlehem verkondig is, ‘n goeie tyding van groot blydskap te wees. Diegene wat die Heiland regtig liefhet, kan nie anders as om die aankondiging, gegrond op die Woord van God, met blydskap te ontvang dat Hy in Wie hulle hoop op die ewige lewe gevestig is, weer sal kom, nie om beledig, verag en verwerp te word soos tydens Sy eerste koms nie, maar in krag en heerlikheid om Sy volk te verlos. Diegene wat die Heiland nie liefhet nie, wil hê Hy moet wegbly en daar kan nie geen sterker afdoende bewys wees dat die kerke van God afgewyk het, as die irritasie en vyandigheid wat deur sy Hemels-gestuurde boodskapper ontketen is nie. GS 355.1
Diegene wat die advent-leerstelling aanvaar het, is tot die noodsaaklikheid van bekering en ootmoed voor God opgewek. Baie het vir lank tussen Christus en die wêreld gehuiwer; en nou het hulle gevoel dat die tyd aangebreek het om standpunt in te neem. “Die dinge van die ewigheid het vir hulle ‘n buitengewone werklikheid geword. Die hemel het naby gekom en hulle het hulself skuldig voor God bevind.” — S Bliss, Memoirs of Wm Miller, bl 146. Christene is tot ‘n nuwe geestelike lewe opgewek. Hulle is gedring om te besef dat die tyd min was en dit wat hulle vir hul medemens moes doen, vinnig moes geskied. Die wêreld het verdwyn en die ewigheid het geblyk voor hulle oop te gaan en die belange van die siel, met alles wat op die ewige welvaart of wee betrekking het, het die tydelike dinge oorskadu. Die Gees van God het op hulle gerus en krag is aan hulle ernstige oproepe op hul broeders sowel as op sondaars om vir die dag van God voor te berei, gegee. Die stille getuienis van hulle daaglikse lewe was ‘n voortdurende teregwysing vir die formele en ongewyde lidmate. Hierdie mense wou nie in hul strewe na plesier, hul toewyding aan winsbejag en hul strewe na ambisie en wêreldse eerbetoon verhinder word nie. Vandaar dat die vyandigheid en teenstand teen die advent-geloof en diegene wat dit verkondig opgewek is. GS 355.2
Aangesien daar bevind is dat die argumente wat op die profetiese tydperke gegrond onweerlegbaar was, het die teenstanders gepoog om die ondersoek na die onderwerp te ontmoedig deur te leer dat die profesieë verseël is. So het Protestante in die voetspore van die Katolieke gevolg. Terwyl die pouslike kerk die Bybel van die mense weerhou het [sien bylaag], het die Protestantse kerke beweer dat ‘n belangrike deel van die Heilige Woord, wat die waarhede wat spesifiek op ons tyd van toepassing is, nie verstaan kon word nie. GS 356.1
Predikante sowel as die volk het verklaar dat die profesieë van Daniël en Openbaring onbegryplike verborgenhede was. Maar Christus het die aandag van Sy dissipels op die woorde van die profeet Daniël aangaande gebeure wat in hulle tyd sou plaasvind gevestig en gesê: “Laat hy wat lees, oplet.” (Mat 24:15). En die bewering dat Openbaring ‘n verborgenheid is wat nie verstaan kan word nie, is deur die titel van die boek self weerspreek: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur ... Salig is hy wat die woorde van die profesie lees en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.” (Openb 1:1-3). GS 356.2
Die profeet het gesê: “Salig is hy wat lees...” Daar is diegene wat nie wil lees nie; die seën is nie vir hulle nie. “...en die wat dit hoor...” Daar is ook sommige wat weier om enigiets aangaande die profesieë te hoor; die seën is ook nie vir hulle nie. “...en bewaar wat daarin geskrywe is.” Baie weier om ag te slaan op die waarskuwings en bevele in die boek van Openbaring; nie een van hulle kan aanspraak op die beloofde seën maak nie. Almal wat met die onderwerpe aangaande die profesieë en die simbole wat plegtig daarin gegee word spot en almal wat weier om hulle lewens te hervorm en hulle op die koms van die Seun van die mens voor te berei, sal nie die seën ontvang nie. GS 356.3
Hoe durf mense, in die lig van die getuienis van Inspirasie, leer dat die Openbaring ‘n verborgenheid buite die bereik van menslike begrip is? Dit is ‘n verborgenheid wat geopenbaar is, ‘n boek wat oopgemaak is. Die studie van Openbaring lei die gedagtes na die profesieë van Daniël en albei bied die belangrikste opdrag, wat God aangaande die gebeure wat aan die einde van hierdie wêreld se geskiedenis moet plaasvind aan die mens gegee het, GS 357.1
Aan Johannes is tonele van diep en opwindende belangstelling in die ervaring van die kerk geopenbaar. Hy het die posisie, gevare, konflik en finale bevryding van die volk van God gesien. Hy beskryf die slot boodskappe wat die oes van die aarde moet laat ryp word, óf as gerwe vir die hemelse skuur, óf as bondels vir die vuur van vernietiging. Onderwerpe van groot belang is aan hom geopenbaar, veral vir die laaste kerk, sodat diegene wat van dwaling tot waarheid moet draai, opdrag kan ontvang aangaande die gevare en konflikte voor hulle. Niemand hoef in die duister te verkeer met betrekking tot wat oor die aarde gaan kom nie. GS 357.2
Waarom dan hierdie groot onkunde rakende ‘n belangrike deel van die Heilige Skrif? Waarom hierdie algemene onwilligheid om die leringe daarvan te ondersoek? Dit is die gevolg van deurdagte pogings van die vors van duisternis om die dinge wat sy misleiding openbaar, vir die mense te verberg. Om hierdie rede het Christus, die Openbaarder, wat die oorlogvoering wat teen die studie van Openbaring gevoer sou word voorsien het, ‘n seën uitgespreek oor almal wat die woorde van die profesie sou lees, hoor en onderhou. GS 357.3