Die Groot Stryd (1911)

18/44

Hoofstuk 16—Die Pelgrimvaders

Hoewel die Engelse hervormers afstand van die leerstellings van Rome gedoen het, het hulle nogtans baie van die vorms daarvan behou. Sodoende is heelwat van haar gebruike en seremonies in die aanbidding van die Kerk van Engeland opgeneem, al is die gesag en geloofsbelydenis van Rome afgekeur. Daar is beweer dat hierdie dinge nie gewetensake was nie ; dat, ofskoon hulle nie in die Skrif beveel word nie en dus onbelangrik was, dit nie wesenlik boos was nie. Die nakoming van hierdie dinge het bygedra om die kloof wat die hervormde kerke van Rome geskei het, kleiner te maak en daar is aangevoer dat dit die aanname van die Protestantse geloof deur die Katolieke sou bevorder. GS 299.1

Vir die konserwatiewes en kompromiste het hierdie argumente afdoende voorgekom. Maar daar was ‘n ander klas wat nie dieselfde oordeel gehad het nie. “Die feit dat hierdie gebruike geneig was om die kloof tussen Rome en die hervorming te oorbrug...” ( Martyn, vol 5, bl 22), was volgens hulle, ‘n beslissende beweegrede teen die behoud daarvan. Hulle het dit as kentekens van die slawerny waaruit hulle verlos is beskou en waarheen hulle geensins geneig was om terug te keer nie. Hulle het aangevoer dat God in Sy Woord die voorskrifte vir Sy aanbidding ingestel het en dat dit die mense nie die vryheid gegee het om hieraan toe te voeg of afbreuk daaraan te doen nie. Die begin van die groot afvalligheid, was die poging om die gesag van God deur die kerk aan te vul. Rome het begin om voor te skryf wat God nie verbied het nie en het geëindig deur te verbied wat Hy uitdruklik beveel het. GS 299.2

Vele wou graag na die suiwerheid en eenvoud wat die primitiewe kerk gekenmerk het terugkeer. Hulle het baie van die gevestigde gebruike in die Engelse kerk, as gedenktekens van afgodediens beskou en hulle kon hulself nie met ‘n rein gewete in haar aanbidding verenig nie. Maar die kerk, wat deur die burgerlike owerheid gesteun is, sou geen afwyking van haar vorms gedoog nie. Die bywoning van die dienste is deur die wet vereis en ongemagtigde byeenkomste vir godsdienstige aanbidding, is op straf van inhegtenisname, verbanning en die dood, verbied. GS 299.3

Aan die begin van die sewentiende eeu was die vors wat pas die troon van Engeland bestyg het, vasbeslote om die Puriteine “...te laat aanpas, of ... hulle uit die land te verdryf, of veel erger.” — George Bancroft, History of the United States of America, vol 1, hfst 12 par 6. Gejag, vervolg en gevange geneem, kon hulle in die toekoms geen belofte van beter dae sien nie en baie was oortuig dat vir diegene wat God volgens die voorskrifte van hul gewete wou dien, “...Engeland nie langer ‘n plek was om in te woon nie.” (J G Palfrey, History of New England, hfst 3, par 43). Sommige het uiteindelik besluit om hul toevlug in Nederland te soek. Probleme, verliese en gevangenisstraf is ervaar. Hulle doelwitte is verydel en hulle is in die hande van hulle vyande verraai. Maar standvastige deursettingsvermoë het uiteindelik oorwin en hulle het skuiling aan die vriendelike oewer van die Nederlandse Republiek gevind. GS 300.1

In hulle vlug het hulle hul huise, besittings en lewensmiddele agtergelaat. Hulle was vreemdelinge in ‘n vreemde land, tussen ‘n volk met verskillende taal en gebruike. Hulle moes hulle noodgedwonge tot nuwe en onbeproefde beroepe wend om hulle brood te verdien. Middeljarige mans wat hul lewens aan die bewerking van die grond bestee het, moes nou meganiese ambagte leer. Maar hulle het hul situasie met blymoedigheid aanvaar en het geen tyd met ledigheid of murmurering verkwis nie. Alhoewel hulle dikwels deur armoede geknyp is, het hulle God vir Sy seëninge wat hulle steeds ontvang het gedank en het hulle vreugde in onverstoorde geestelike gemeenskap gevind. GS 300.2

“Hulle het geweet dat hulle pelgrims was en het nie veel op hierdie dinge gelet nie, maar hulle het hul oë na die hemel opgeslaan, hul mees geliefde land en hulle gemoed gestil.” — Bancroft, vol 1, hfst 12, par 15. GS 300.3

Te midde van ballingskap en swaarkry, het hulle liefde en geloof versterk. Hulle het op die beloftes van die Here vertrou en Hy het hulle nie in tye van nood in die steek gelaat nie. Sy engele was aan hulle sy om hulle aan te moedig en te ondersteun. En toe dit lyk of die hand van God hulle oor die see rig, na ‘n land waar hulle ‘n eie staat kon stig en aan hulle kinders die kosbare erfenis van godsdiensvryheid sou kon nalaat, het hulle sonder om weg te krimp, op die pad van die Voorsienigheid voortgebeur. GS 301.1

God het toegelaat dat beproewings oor Sy volk kom, ten einde hulle voor te berei vir die vervulling van Sy genadige voorneme met hulle. Die kerk is verneder sodat Hy verhoog kon word. God was op die punt om Sy mag ten behoewe van die kerk te openbaar en nog ‘n verdere getuienis aan die wêreld te lewer, dat Hy diegene wat op Hom vertrou, nie sal verlaat nie. Hy het die verloop van gebeurtenisse oorheers om die toorn van Satan en die komplotte van bose mense te ontketen om Sy heerlikheid te verhoog en Sy volk na ‘n plek van veiligheid te bring. Vervolging en ballingskap het die weg na vryheid oopgemaak. GS 301.2

Toe die Puriteine die eerste keer gedwing was om hulle van die Engelse Kerk te skei, het hulle hulself, as a vrye volk van die Here, deur ‘n plegtige verbond “...om in al Sy weë wat aan hulle bekend gemaak is of bekend gemaak gaan word te wandel.” — J Brown, The Pilgrim Fathers, bl 74. Dit was die ware gees van hervorming, die hoofsaaklike beginsel van Protestantisme. Met hierdie doel voor oë het die pelgrims uit Nederland vertrek om ‘n tuiste in die Nuwe Wêreld te vind. John Robinson, hul pastoor, wat deur omstandighede verhinder was om hulle te vergesel, het in sy afskeidsrede aan die ballinge gesê: GS 301.3

“Broeders, eerlank sal ons moet skei en die Here weet of ek sal lewe om julle aangesigte weer te sien. Maar of dit die wil van die Here is of nie, beveel ek julle om voor God en Sy geseënde engele, my nie verder te volg as wat ek Christus gevolg het nie. As die Here iets aan julle deur enige instrument van Hom sou openbaar, wees dan net so gereed om dit aan te neem as om enige waarheid van my bediening aan te neem; want ek is vol vertroue dat die Here meer waarheid en lig het om uit Sy heilige Woord te laat deurskyn.” — Martyn, vol 5, bl 70. GS 301.4

“Wat my betref, kan ek die toestand van die hervormde kerke wat op godsdienstige gebied tot ‘n sekere punt gekom het en wat tans nie verder wil gaan as die instrumente van hul hervorming nie, nie genoeg betreur nie. Die Lutherane kan nie getrek word om verder te gaan as wat Luther gesien het nie ... en die Calviniste bly vassteek, soos julle sien, waar hulle deur daardie groot man van God gelaat is, wat tog nie alles gesien het nie. Dit is ‘n betreurenswaardige toestand; want al was hulle verbrand en skynende ligte in hulle tyd, het hulle nie tot die volle raad van God deurgedring nie, maar sou hulle nou lewe, sou hulle net so gewillig gewees het om meer lig te omhels as wat hulle die eerste keer ontvang het.” — D Neal, History of the Puritans, vol 1, bl 269. GS 302.1

“Onthou die verbond van julle kerk waarin julle ingestem het om in al die weë van die Here wat aan julle bekendgemaak is, of gaan word, te wandel. Onthou jul belofte en verbond met God en met mekaar om watter lig en waarheid ook al wat aan julle uit Sy geskrewe Woord geopenbaar sal word, te ontvang; maar let op, ek vermaan julle, pas op wat julle vir die waarheid aanneem en vergelyk en bepeins dit met ander tekste van die waarheid voordat julle dit aanvaar; want dit is nie moontlik dat vir die Christelike wêreld wat so onlangs uit sulke stikdonker, antichristelike duisternis gekom het, ‘n volkome en perfekte kennis van die waarheid meteens sou deurbreek nie.” — Martyn, vol 5, bl 70, 71. GS 302.2

Die begeerte na gewetensvryheid het die pelgrims geïnspireer om die gevare van die lang seereis aan te durf, die ontberinge en gevare van die wildernis te verduur en met die seën van God die grondslag van ‘n magtige nasie op die oewers van Amerika te lê. Tog het die pelgrims, eerlik en Godvresend soos hulle was, nog nie die groot beginsel van godsdiensvryheid begryp nie. Die vryheid waarvoor hulle soveel opgeoffer het, was hulle nie ooreenkomstig bereid om aan ander te skenk nie. GS 303.1

“Baie min, selfs van die voorste denkers en moraliste van die sewentiende eeu, het ‘n regverdige begrip van die grootse beginsel, die uitvloeisel van die Nuwe Testament, wat God as die enigste beoordelaar van die menslike geloof erken het, gehad.” — Id, bl 297. Die leerstelling dat God aan die kerk die reg gegee het om die gewete te beheer, om dwaalleer te definieer en te straf, is een van die mees diepgewortelde van alle pouslike dwalings. Terwyl die hervormers die geloofsbelydenis van Rome verwerp het, was hulle nie heeltemal vry van haar gees van onverdraagsaamheid nie. Die digte duisternis waarin die pousdom gedurende die lang eeue van haar heerskappy die hele Christendom omhul het, het selfs toe nog nie heeltemal verdwyn nie. Een van die voorste predikante in die kolonie van Massachusetts-baai het gesê: “Dit was verdraagsaamheid wat die wêreld anti-Christelik gemaak het en die kerk het nooit skade gely deur ketters te bestraf nie.” — Id, bl 335. Die regulasie dat slegs kerklidmate ‘n stem in die burgerlike regering mag hê, is deur die koloniste aanvaar. ‘n Soort staatskerk is gevorm en al die mense moes tot die ondersteuning van die geestelikes bydra; en die magistrate het magtiging gehad om dwaalleer te onderdruk. Die sekulêre mag was dus in die hande van die kerk. Dit het nie lank geduur voordat hierdie maatreëls tot die onvermydelike gevolge gelei het nie - vervolging. GS 303.2

Elf jaar na die aanplant van die eerste kolonie, het Roger Williams na die Nuwe Wêreld gekom. Soos die vroeë pelgrims, het hy gekom om godsdiensvryheid te geniet; maar anders as hulle, het hy gesien — wat so min in sy tyd gesien het — dat hierdie vryheid die onvervreembare reg van almal was, ongeag hulle geloofsoortuigings. Hy was ‘n ernstige soeker na waarheid en saam met Robinson was hy van mening dat dit onmoontlik was dat al die lig uit die Woord van God reeds ontvang is. Williams “...was die eerste persoon in die moderne Christendom wat die burgerlike regering op die leerstelling van vryheid van gewete en die gelykheid van menings voor die wet ingestel het.” — Bancroft, vol 1, hfst 15, par 16. Hy het verklaar dat dit die plig van die magistraat was om misdade te beperk, maar nooit om die gewete te beheer nie. “Die publiek of die magistrate moet beslis...” het hy gesê, “...wat van mens tot mens verskuldig is; maar wanneer hulle poog om die pligte van die mens teenoor God voor te skryf, tree hulle uit hulle plek op en daar kan geen veiligheid daarin wees nie; want dit is duidelik dat as die magistrate die mag sou hê, hulle vandag een stel menings of oortuigings kan bepaal en more ‘n ander; soos in Engeland deur verskillende konings en koninginne en deur die verskillende pouse en rade van die Roomse kerk gedoen is; sodat geloof ‘n hoop van verwarring sou word.” — Martyn, vol 5, bl 340. GS 303.3

Die bywoning van dienste van die gevestigde kerk, was verpligtend op straf van ‘n boete of gevangenisstraf. “Williams het hierdie wet afgekeur; die slegste bepaling in die Engelse wetgewing was dit wat die bywoning van die wykskerk afgedwing het. Om mense te dwing om hulle met diegene van ‘n ander geloofsoortuiging te verenig, het hy as ‘n openlike skending van hul natuurlike regte beskou; om die ongelowiges en onwilliges te dwing om ‘n openbare erediens by te woon, was niks minder as om huigelary af te dwing nie ... ‘Niemand...,’ het hy gesê, ‘...behoort gedwing te word om teen sy wil te aanbid of aanbidding sonder sy toestemming te handhaaf nie ... Wat? Is die arbeider dan nie sy loon werd nie?’ het sy antagoniste, verbaas oor sy beginsels uitgeroep. ‘Ja...’ het hy geantwoord, ...'van diegene wat hom huur.’” — Bancroft, vol 1, hfst 15, par 2. GS 304.1

Roger Williams was gerespekteer en geliefd as ‘n getroue predikant, ‘n man met seldsame gawes, onwrikbare integriteit en opregte welwillendheid; tog kon sy geduldige ontkenning van die reg van burgerlike magistrate op gesag oor die kerk en sy eis vir godsdiensvryheid nie geduld word nie. Die toepassing van hierdie nuwe leerstelling, het hulle aangedring, “...sou die grondslag van die staat en regering van die land ondermyn.” — Id, par 10. Hy is gevonnis tot verbanning uit die kolonies en uiteindelik, om inhegtenisname te vermy, moes hy te midde van die koue en storms van die winter, na die ongetemde woud vlug. GS 305.1

“Veertien weke lank...” het hy gesê, “...moes ek ten seerste in die bitter koue ronddwaal, sonder om te weet wat brood of bed beteken.” Maar “...die kraaie het my in die wildernis gevoed...” en ‘n hol boom het dikwels as skuilplek vir hom gedien. — Martyn, vol 5, bl 349, 350. So het hy sy pynlike vlug in die sneeu en spoorlose woud voortgesit, totdat hy herberg by ‘n Indiaanse stam gevind het, wie se vertroue en toegeneentheid hy gewen het, terwyl hy gepoog het om die waarhede van die evangelie aan hulle te leer. GS 305.2

Uiteindelik, na maande se moeilike wedervarings en omswerwinge, het hy eindelik op die oewers van Narragansettbaai uitgekom, waar hy die grondslag van die eerste staat van die moderne tyd wat in die volste sin die reg van godsdiensvryheid erken het, gelê het. Die grondbeginsel van Roger Williams se kolonie was, “...dat elke mens die vryheid moet hê om God volgens die lig van sy eie gewete te aanbid.” — Martyn, vol 5, bl 354. Sy klein staatjie, Rhode-eiland, het die toevlugsoord van verdruktes geword en dit het toegeneem en floreer totdat die grondbeginsels van burgerlikeen godsdiensvryheid die hoekstene van die Amerikaanse Republiek geword het. GS 305.3

In daardie grootse ou dokument wat die voorvaders van die Amerikaanse volk as die Handves van Regte uiteengesit het — die Onafhanklikheidsverklaring — het hulle verklaar: “Ons beskou hierdie waarhede as vanselfsprekend, dat alle mense gelyk is; dat hulle Skepper aan hulle sekere onvervreembare regte toegesê het; dat daaronder lewe, vryheid en die strewe na geluk is.” En die grondwet waarborg, in die mees eksplisiete terme, die onaantasbaarheid van die gewete: “Geen godsdienstige toets sal ooit as kwalifikasie vir enige amp of openbare vertroue in die Verenigde State vereis word nie ... Die Kongres mag geen wet maak wat die vestiging van godsdiens, of die vrye beoefening daarvan verbied nie.” GS 306.1

“Die opstellers van die Grondwet, het die ewige beginsel, dat die mens se verhouding met sy God bo menslike wetgewing is en dat sy reg van gewete onvervreembaar is, erken. Geen redenasie was nodig om hierdie waarheid te bevestig nie; in ons eie gemoed is ons daarvan oortuig. Dit is hierdie wete wat, in weerwil van menslike wette, soveel martelare, te midde van foltering en vlamme staande gehou het. Hulle het geweet dat hulle plig teenoor God bo menslike verordeninge was en dat geen mens gesag oor hul gewete kan uitoefen nie. Dit is ‘n ingebore beginsel wat deur niks vernietig kan word nie.” — Congressional Documents (USA), reeks nr 200, dokument nr 271. GS 306.2

Namate die tyding van ‘n land waar elkeen die vrug van sy eie arbeid kon geniet en die oortuigings van sy eie gewete kon gehoorsaam, deur die lande van Europa versprei het, het duisende na die kus van die Nuwe Wêreld gestroom. Die kolonies het vinnig vermeerder. “Massachusetts het deur middel van spesiale wetgewing, op staatsonkoste, aan Christene wat ‘n tuiste oorkant die Atlantiese Oseaan gaan soek het om van oorloë of hongersnood of van die verdrukking van hulle vervolgers weg te kom, ongeag hulle nasionaliteit...” verwelkom. Sodoende is die vlugtelinge en verstotelinge deur wetgewing, die gaste van die gemenebes gemaak.” — Martyn, vol 5, bl 417. Binne twintig jaar na die eerste pelgrims by Plymouth aan wal gestap het, het net soveel duisende pelgrims hulle in Nieu-Engeland gevestig. GS 306.3

Om die doel wat hulle vir hulleself gestel het te bereik, “...was hulle tevrede om bloot ‘n bestaan te verdien deur ‘n lewe van spaarsaamheid en swoeg. Hulle het niks van die grond geëis nie, behalwe die redelike opbrengste van hul eie arbeid. Geen goue visie het ‘n bedrieglike stralekrans oor hulle pad gegooi nie. Hulle was tevrede met die langsame, maar bestendige vooruitgang van hulle sosiale beleid. Hulle het geduldig die ontberings van die wildernis verduur en die boom van vryheid met hul trane en die sweet van hul voorkop natgelei, totdat dit diep wortelgeskiet het in die land.” GS 307.1

Die Bybel is as die grondslag van geloof beskou, die bron van wysheid en die handves van vryheid. Die beginsels daarvan is ywerig in die huis, in die skool en in die kerk geleer en die vrugte daarvan was duidelik in spaarsaamheid, intelligensie, reinheid en matigheid geopenbaar. ‘n Mens kon jare lank in die Puriteinse nedersettings deurbring, “...sonder om ‘n dronkaard te sien, ‘n vloekwoord te hoor, of ‘n bedelaar teë te kom.” — Bancroft, vol 1, hfst 19, par 25. Daar is getoon dat die beginsels van die Bybel die sekerste waarborg vir nasionale grootsheid is. Die swak en geïsoleerde kolonies het gegroei tot ‘n konfederasie van magtige state en die wêreld het met bewondering, die vrede en welvaart van “...'n kerk sonder pous en ‘n staat sonder koning... ” aanskou. GS 307.2

Maar die kus van Amerika het voortdurend-toenemende getalle getrek wat deur die motiewe wat baie van die eerste pelgrims verskil, aangedryf is. Alhoewel die primitiewe geloof en suiwerheid ‘n wydverspreide en vormende krag uitgeoefen het, het die invloed daarvan al hoe meer afgeneem, namate die getalle van diegene wat slegs op soek was na wêreldse voordeel toegeneem het. GS 307.3

Die regulasie wat deur die vroeë koloniste aanvaar is, dat slegs lede van die kerk toegelaat was om te stem of ‘n amp in die burgerlike regering te beklee, het tot die skadelikste gevolge gelei. Hierdie maatreël was as ‘n wyse om die suiwerheid van die staat te bewaar aanvaar, maar dit het tot die korrupsie van die kerk gelei. ‘n Belydenis van geloof, wat die voorwaarde vir stemreg en poste van amptenare was, is deur baie wie se enigste beweegrede ‘n wêreldse beleid was afgelê, wat hulle sonder ‘n hartsverandering met die kerk verenig het. As gevolg hiervan het die kerk tot ‘n groot mate uit onbekeerde persone bestaan; en selfs in die bediening was daar diegene wat nie net leerstellings van dwalings gehad het nie, maar wat ook onkundig aangaande die vernuwende krag van die Heilige Gees was. So is weereens die bose gevolge gedemonstreer, wat so dikwels in die kerk se geskiedenis vanaf die dae van Konstantyn tot vandag toe gesien is, van pogings om die kerk met behulp van die staat op te bou, of om op die hulp van sekulêre mag staat te maak ter ondersteuning van die evangelie van Hom wat verklaar het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” (Joh 18:36). Die vereniging van kerk en staat, hoe gering ook al, hoewel dit blyk asof dit die wêreld nader aan die kerk bring, bring dit in werklikheid die kerk nader aan die wêreld. GS 308.1

Die groot beginsel wat Robinson en Roger Williams op so ‘n waardige wyse bepleit het, dat die waarheid progressief is en dat Christene bereid moet wees om alle lig wat uit die Woord van God mag skyn te aanvaar, is deur hulle nakomelinge uit die oog verloor. Die Protestantse kerke van Amerika en ook die van Europa, wat deur die seëninge van die hervorming bevoordeel was, het geen vooruitgang op die pad van hervorming gemaak nie. Alhoewel daar van tyd tot tyd ‘n paar getroue mense opgestaan het wat nuwe waarhede verkondig het en lankgekoesterde dwalings aan die lig gebring het, was die meerderheid, net soos die Jode in Christus se tyd, of die Roomsgesindes in Luther se dae, tevrede om te glo wat hulle vaders geglo het en om te lewe soos hulle vaders geleef het. Daarom het die godsdiens weer in blote formalisme ontaard en dwalinge en bygelowe, wat verwerp sou gewees het as die kerk in die lig van die Woord van God bly wandel het, het behoue gebly en is gekoester. So het die gees wat deur die hervorming geïnspireer is geleidelik uitgesterf, totdat daar byna net soveel behoefte aan hervorming in die Protestantse kerke was soos in die Roomse kerk in die tyd van Luther. Daar was dieselfde wêreldsheid en geestelike bedwelming, ‘n soortgelyke eerbied vir menslike menings en die vervanging van die leerstellings van die Woord van God, met die teorieë van mense. GS 308.2

Die wye verspreiding van die Bybel in die eerste helfte van die negentiende eeu en die groot lig wat aldus op die wêreld gewerp is, is nie deur ooreenstemmende vooruitgang in kennis van geopenbaarde waarhede of eksperimentele godsdiens opgevolg nie. Satan kon nie, soos in vorige eeue, die Woord van God van die mense weerhou nie; dit is binne almal se bereik geplaas; maar om steeds sy doel te bereik, het hy baie gelei om dit gering te ag. Mense het nagelaat om die Skrif te ondersoek en daarom het hulle voortgegaan om valse vertolkings te aanvaar en leerstellings wat geen grondslag in die Bybel gehad het nie te koester. GS 309.1

Aangesien Satan se pogings om die waarheid deur vervolging uit te roei misluk het, het hy weer die plan van kompromie wat gelei het tot die groot afvalligheid en die vorming van die kerk van Rome, in werking gestel. Hy het Christene beweeg om hulleself te verbind, nie met heidene hierdie keer nie, maar met diegene wat deur hulle toewyding aan die dinge van hierdie wêreld hulself as afgodedienaars bewys het, sodat hulle net so seker afgodedienaars was soos die aanbidders van gesnede beelde. En die gevolge van hierdie verbintenis, was nie minder verderflik as in vorige eeue nie; trots en uitspattighede is onder die dekmantel van godsdiens aangemoedig en die kerke het korrup geword. Satan het voortgegaan om die leerstellings van die Bybel te verdraai en tradisies, wat miljoene sou ruïneer, het diep wortelgeskiet. Die kerk het hierdie tradisies gehandhaaf en verdedig, in plaas daarvan om te stry “...vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” Sodoende is die beginsels waarvoor die hervormers soveel gedoen en gely het, verlaag. GS 309.2