Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 15—Die Bybel en die Franse Revolusie
In die sestiende eeu het die hervorming, wat ‘n geopende Bybel aan die volk gebied het, gestreef om toegang tot al die lande van Europa te verkry. Sommige nasies het die Bybel met blydskap as ‘n boodskapper van die hemel verwelkom. In ander lande het die pousdom in ‘n groot mate daarin geslaag om toegang tot die Bybel te voorkom; en die lig van Bybelkennis, met die verheffende invloede daarvan, was byna heeltemal uitgesluit. In een land, hoewel die lig daar toegang gehad het, het die heersende duisternis dit nie begryp nie. Eeue lank het waarheid en dwaling om oorheersing gestry. Uiteindelik het die boosheid geseëvier en is die waarheid van die hemel verdring. “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig.” (Joh 3:19). Die nasie is oorgelaat om die vrugte van die weg wat hulle gekies het te pluk. Die beperking van God se Gees is van ‘n volk wat die genadegawe van God verag het onttrek. Die bose is toegelaat om volheid te bereik en die hele wêreld het die vrug van die opsetlike verwerping van die lig aanskou. GS 273.1
Die stryd teen die Bybel wat vir soveel eeue in Frankryk voortgeduur het, het op die tonele van die Franse Revolusie uitgeloop. Daardie verskriklike uitbraak was slegs die noodwendige gevolg van Rome se onderdrukking van die Skrif. [Sien bylaag] . Dit het die treffendste voorbeeld van die uitwerking van die pouslike beleid wat die wêreld nog ooit gesien het gebied — ‘n voorbeeld van die gevolge waartoe die leer van die Roomse Kerk vir meer as ‘n duisend jaar geneig het. GS 273.2
Die onderdrukking van die Skrif gedurende die tydperk van pouslike oorheersing is deur die profete voorspel en Openbaring wys ook op die verskriklike gevolge wat uit die heerskappy van “die man van die sonde,” veral in Frankryk sou ontstaan. GS 273.3
Die engel van die Here het gesê: “Hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap. En Ek sal aan My twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisendtweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer ... En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, met hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak; en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is ... Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig het. En ná die drie en ‘n halwe dag het ‘n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan en hulle het op hulle voete gestaan en ‘n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het.” (Openb 11:2-11). GS 274.1
Die tydperke wat hier genoem word — “twee-en-veertig maande,” en “duisend-tweehonderd-en-sestig dae” — is dieselfde en beide verteenwoordig die tydperk waarin die kerk van Christus deur Rome onderdruk sou word. Die 1 260 jaar van pouslike oorheersing het in 538 nC begin en sou dus in die jaar 1798 eindig. [Sien bylaag nota vir bl 54]. In daardie jaar het ‘n Franse leër Rome binnegeval en die pous gevange geneem en hy het in ballingskap gesterf. Alhoewel ‘n nuwe pous kort daarna verkies is, het die pouslike hiërargie sedert daardie tyd nooit weer die mag uitgeoefen wat dit tevore besit het nie. GS 274.2
Die vervolging van die kerk het nie die volle tydperk van 1 260 jaar voortgeduur nie. God het, in genade teenoor Sy volk, die tyd van hulle hewige beproewing verkort. In die voorspelling van die “groot verdrukking” wat die kerk sou tref, het die Verlosser gesê: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar terwille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” (Matt 24:22). Deur die invloed van die hervorming is die vervolging voor 1798 beëindig. GS 274.3
Aangaande die twee getuies het die profeet verder verklaar: “Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan.” (Openb 11:4). “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad...” het die psalmis gesê. (Ps 119:105). Die twee getuies verteenwoordig die Skrifte van die Ouen Nuwe Testament. Albei is belangrike getuienisse van die oorsprong en onverganklikheid van die wet van God. Albei getuig ook van die plan van verlossing. Die tipes, die offerandes en profesieë van die Ou Testament wys almal op ‘n Verlosser wat sou kom. Die Evangelies en Sendbriewe van die Nuwe Testament vertel van ‘n Verlosser wat presies gekom het soos dit deur tipes en profesieë voorspel is. GS 275.1
Hulle sal met sakke beklee “...duisend-tweehonderd-ensestig dae lank profeteer.” Gedurende die grootste gedeelte van hierdie tydperk het die getuies van God ‘n afgeleë lewe gelei. Die pouslike mag het gepoog om die woord van waarheid van die volk te verberg en het valse getuies aan hulle voorgehou om die getuienis daarvan te weerspreek. [Sien bylaag] . Toe die Bybel deur godsdienstige en sekulêre gesag verbied is; toe die getuienis daarvan verdraai is en alle pogings wat deur mense of duiwels bedink kon word om die harte van die volk daarvan af te wend in werking gestel is; toe diegene wat dit gewaag het om die heilige waarhede te verkondig, gejag en verraai is, in kerkers begrawe, vir hulle geloof gemartel is, of gedwing is om na bergvestings en openinge en spelonke van die aarde te vlug, het die getroue getuies, in roukleed geklee, geprofeteer. Tog het hulle hul getuienis gedurende die hele tydperk van die 1 260 jaar voortgesit. In die donkerste tye was daar getroue mense wat die Woord van God liefgehad en ywerig vir Sy eer was. Aan hierdie getroue diensknegte is wysheid, mag en gesag gegee om Sy waarheid gedurende hierdie hele tydperk te verkondig. GS 275.2
“En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier doodgemaak word.” (Openb 11:5). Mense kan nie die Woord van God ongestraf vertrap nie. Die betekenis van hierdie vreesaanjaende veroordeling word in die slothoofstuk van Openbaring uiteengesit: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.” (Openb 22:18,19). GS 275.3
So lui die waarskuwings wat God gegee het om mense te waarsku teen enige verandering wat Hy geopenbaar of beveel het. Hierdie plegtige veroordelings is van toepassing op almal wat deur hulle invloed mense daartoe lei om die wet van God gering te ag. Dit behoort diegene wat op ligsinnige wyse verklaar dat dit ‘n saak van min belang is of hulle die wet van God gehoorsaam of nie, te laat vrees en sidder. Almal wat hul eie opinies bo die Goddelike openbaring verhef; almal wat die duidelike betekenis van die Skrif verander om by hulle eie gerief aan te pas of om gelykvormig aan die wêreld te wees, neem ‘n verskriklike verantwoordelikheid op hulleself. Die geskrewe woord, die wet van God, is die maatstaf waarmee die karakter van elke mens gemeet sal word en dit sal almal veroordeel wat nie aan hierdie onfeilbare toets voldoen nie. GS 276.1
“En wanneer hulle hul getuienis voleindig het...” Die tydperk wanneer hierdie twee getuies in roukleed sou profeteer, het in 1798 geëindig. Soos hulle die beëindiging van hulle werk, in geborgenheid verrig, genader het, sou daar oorlog teen hulle gevoer word deur ‘n mag wat as “...die dier wat uit die afgrond opkom...” voorgestel word. In baie van die nasies van Europa is die magte wat kerk en staat regeer het, eeue lank deur middel van die pousdom deur Satan beheer. Maar hier word ‘n nuwe manifestasie van sataniese mag aan die lig gebring. GS 276.2
Dit was Rome se beleid om, onder voorwendsel van eerbied vir die Bybel, dit vir die mense te verberg, opgesluit in ‘n onbekende taal. Onder haar heerskappy, het die getuies in roukleed geprofeteer. Maar ‘n ander mag — die dier uit die bodemlose put — sou verrys om openlik oorlog teen die Woord van God te verklaar. GS 277.1
Die “groot stad” in wie se strate die getuies gedood sou word en waar hulle lyke sou lê, is “geestelike Egipte” genoem. Van al die nasies wat in die Bybelse geskiedenis genoem word, het Egipte die bestaan van die lewende God op die vermetelste wyse ontken en Sy gebooie weerstaan. Geen monarg het ooit op ‘n meer openlike en hooghartige wyse gewaag om in opstand teen die gesag van die Hemel te kom, as die koning van Egipte nie. Toe Moses in die Naam van die Here aan hom die boodskap gebring het, het Farao hooghartig geantwoord: “Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nie en ek sal Israel ook nie laat trek nie.” (Eks 5:2). Dit is Ateïsme; en die volk wat deur Egipte verteenwoordig word, sal ‘n soortgelyke ontkenning van die aansprake van die lewende God en ‘n dergelike gees van ongeloof en uittarting openbaar. Die “groot stad” word “geestelik” met Sodom vergelyk. Die goddeloosheid van Sodom en die skending van die wet van God het veral in losbandigheid tot uiting gekom. En hierdie sonde sou ook die hoofsaaklike kenmerk van die volk wees wat aan die spesifikasies van hierdie Skrif sou voldoen. GS 277.2
Volgens die woorde van die profeet sou daar kort voor die jaar 1798 ‘n mag van sataniese oorsprong en karakter ontstaan om oorlog teen die Bybel te voer. En in die land waar die getuienis van die twee getuies van God stilgemaak sou word, sou die ateïsme van Farao en die losbandigheid van Sodom manifesteer. GS 277.3
Hierdie profesie het op ‘n baie presiese en opvallende wyse in die geskiedenis van Frankryk in vervulling gegaan. Tydens die Franse Revolusie, in 1793, “...het die wêreld vir die eerste keer gehoor hoe ‘n vergadering van mense, gebore en opgelei onder die invloed van ‘n beskawing wat hulself die reg toegeëien het om een van die beste Europese nasies te regeer, hulle verenigde stem verhef het om die mees plegtigste waarheid wat die siel van ‘n mens ooit kan ontvang, te verloën en om eenparig die geloof en aanbidding van die Godheid af te sweer.” — Sir Walter Scott, Life of Napoleon Bonaparte, vol 1, hfst 17. “Frankryk is die enigste nasie in die wêreld aangaande wie die outentieke verslag oorleef het, waarin hulle hul hand in openlike opstand teen die Outeur van die heelal verhef het. Baie godslasteraars en baie ongelowiges het bestaan en bestaan steeds in Engeland, Duitsland, Spanje en elders; maar Frankryk staan apart in die geskiedenis van die wêreld as die enkele staat wat volgens die besluit van haar Wetgewende Raad geproklameer het dat daar geen God is nie en waarvan die hele bevolking van die hoofstad en ‘n oorgrote meerderheid op ander plekke, vroue sowel as mans, wat met die aankondiging van die aanvaarding van die proklamasie, van vreugde gedans en gesing het.” — Blackwood’s Magazine, Nov 1870. GS 277.4
Frankryk het ook die eienskappe wat Sodom veral gekenmerk het, geopenbaar. Gedurende die Franse Revolusie was daar ‘n toestand van sedelike aftakeling en korrupsie, soortgelyk aan dié wat die stede van die vlakte vernietig het. Die geskiedskrywer stel die ateïsme en losbandigheid van Frankryk net soos dit in die profesie uiteengesit is, voor: “Intiem verbonde aan hierdie wette wat die godsdiens beïnvloed het, was die wet wat die huweliksverbintenis - die heiligste band wat mense kan vorm en die bestendigheid wat op die kragtigste wyse bydra tot die versterking van die samelewing — tot die toestand verlaag het van ‘n blote burgerlike kontrak van verbygaande aard, waarby enige twee persone betrokke kon raak en na willekeur kon verbreek ... As demone beoog het om ‘n metode uit te dink om alles wat eerbiedwaardig, grasieus of permanent in die huislike lewe is op die doeltreffendste wyse te vernietig en wat hulle terselfdertyd die versekering sou gee dat die onheil wat hulle van voornemens was om te skep, van een geslag na die ander sou kon voortduur, kon hulle nie ‘n meer effektiewe plan uitgedink het as die degradering van die huwelik nie ... Sophie Arnoult, “...'n aktrise wat bekend was vir haar geestige gesegdes het die republikeinse huwelik as ‘n sakrament van owerspel beskryf.” — Scott vol 1, hfst 17. GS 278.1
“...waar ons Here gekruisig is.” Hierdie spesifikasie van die profesie is ook deur Frankryk vervul. In geen land is die gees van vyandskap teen Christus op ‘n meer treffender wyse geopenbaar nie. In geen land het die waarheid bitterder en wreder teëstand ervaar nie. Met die vervolging waarmee Frankryk die belyers van die evangelie vervolg het, het hulle Christus in die persoon van Sy dissipels gekruisig. GS 279.1
Eeu na eeu is die bloed van die heiliges gestort. Terwyl die Waldense “...ter wille van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus...” in die berge van Piedmont hulle lewens neergelê het, het hulle broers, die Albigense van Frankryk, op dieselfde wyse vir die waarheid getuig. In die dae van die hervorming is die dissipels van die waarheid deur die gruwelikste marteling gedood. Konings en adellikes, vroue uit die adelstand en verfynde dames, die trots en ridders van die nasie, het hulle in die aanskoue van die lyding van die martelare van Jesus verlustig. Die dapper Hugenote wat geveg het vir die regte wat die menslike hart die heiligste hou, het hulle bloed in menige bittere stryd gestort. Die Protestante is voëlvry verklaar, ‘n prys is op hulle hoof geplaas en hulle is soos wilde diere gejag. GS 279.2
Die “kerk in die woestyn”, die paar afstammelinge van die vroeëre Christene wat in die agtiende eeu nog in Frankryk oorgebly het en in die berge van die suide geskuil het, het steeds die geloof van hulle vaders gekoester. Wanneer hulle gedurende die nag gewaag het om teen die berghellings of op die eensame moeras saam te kom, is hulle deur soldate agtervolg en weggesleep na lewenslange slawerny in die galeie. Die reinste, die mees verfynde en mees intelligente van die Franse was vasgeketting en wreedaardig gemartel tussen rowers en sluipmoordenaars. (Sien Wylie, vol 22, hfst 6.) Ander wat meer genadiger behandel is, is koelbloedig doodgeskiet terwyl hulle ongewapen en hulpeloos in gebed op hulle knieë neergesak het. Honderde bejaardes, weerlose vroue en onskuldige kinders is op die plekke waar hulle byeengekom het dood agtergelaat. Wanneer hulle die berghellings of bos waar hulle gewoond was om te vergader deurkruis het, was dit nie ongewoon om “...elke vier treë lyke op die gras te sien lê, of lyke wat aan bome hang nie.” Hierdie land wat deur die swaard, die byl en die brandstapel verwoes is, “...is in ‘n uitgestrekte, somber wildernis omskep.” “Hierdie gruweldade is gepleeg ... nie in die donker Middeleeue nie, maar in die glansryke era van Lodewyk XIV. Die wetenskap het toe ontstaan, die letterkunde het floreer, die godsdienstiges van die hof en die hoofstad was geleerde en welsprekende manne en het die genade van sagmoedigheid en naasteliefde grootliks beïnvloed.” — Id, hfst 7. GS 279.3
Maar die swartste op die swart katalogus van misdade, die aakligste van al die demoniese dade van al die verskriklike eeue, was die Bloedbad van St Bartholomeusnag. Die wêreld word steeds met sidderende afgryse aan die tonele van daardie lafhartigste en wreedste van alle slagtings herinner. Die koning van Frankryk, op aandrang van die Roomse priesters en prelate, het goedkeuring vir hierdie aaklige slagting verleen. ‘n Klok wat in die middel van die nag gelui is, was die teken vir die slagting. Duisende Protestante wat in vertroue op die plegtige erewoord van hulle koning rustig in hulle wonings geslaap het, is sonder waarskuwing na buite gesleep en koelbloedig vermoor. GS 280.1
Soos Christus die onsigbare Leier van Sy volk uit die Egiptiese slawerny was, so was Satan die onsigbare leier van sy onderdane in hierdie afskuwelike werk om die martelare te laat toeneem. Sewe dae lank is die slagting in Parys voortgesit, waarvan die eerste drie met ondenkbare woede geskied het. En dit was nie tot die stad self beperk nie, maar op spesiale bevel van die koning het dit na al die provinsies en dorpe waar Protestante gevind is, uitgebrei. Geen ouderdom of geslag is ontsien nie. Nie die onskuldige kindjie of die grysaard is gespaar nie. Adel en boere, oud en jonk, moeder en kind is saam neergevel. Vir twee maande het die slagting in die hele Frankryk voortgeduur. Sewentig duisend van die room van die volk het omgekom. GS 280.2
“Toe die nuus van die slagting Rome bereik, het die gejuig van die geestelikes geen perke geken nie. Die kardinaal van Lorraine het die boodskapper met ‘n duisend krone beloon; die kanonne van die kasteel van St Angelo het ‘n vreugdevolle saluut afgevuur; en die klokke in elke toring het gelui; vreugdevure het die nag in dag verander en Gregorius XIII, vergesel van sy kardinale en ander kerklike hooggeplaastes, het in ‘n lang optog na die kerk van die heilige Lodewyk gegaan, waar die kardinaal van Lorraine ‘n Te Deum gedreunsing het ... ‘n Medalje is ter herdenking van die bloedbad gemunt en in die Vatikaan kan daar nog drie fresko’s van Vasari gesien word, wat die aanval op die admiraal beskryf en die koning met sy raadgewers terwyl hulle die bloedbad beplan en wat die bloedbad self beskryf. Gregorius het aan Karel die goue roos gestuur en vier maande na die slagting ... het hy selfvoldaan na die preek van ‘n Franse priester ... wat melding gemaak het van ‘...die dag so vol geluk en vreugde, toe die allerheiligste vader die nuus ontvang het en in ‘n plegtige optog sy dank aan God en die heilige St Lodewyk gaan betuig het.’” — Henry White, The Massacre of St. Bartholomew, hfst 14, par 34. GS 281.1
Dieselfde meestergees wat die St Bartholomeus-slagting aangehits het, het ook die tonele van die Revolusie gelei. Jesus Christus is ‘n bedrieër verklaar en die wagwoord van die Franse ongelowiges was “Weg met die Ellendeling”, waarmee hulle Christus bedoel het. Hemeltergende godslastering en gruwelike goddeloosheid het hand-aan-hand gegaan en die laagste onder die mense, die mees losbandigste monsters van wreedheid en sonde, was die hoogste verhewe. In dit alles is die hoogste eerbetoon aan Satan gebring; terwyl Christus met Sy karaktertrekke van waarheid, reinheid en onselfsugtige liefde, gekruisig is. GS 281.2
“Die dier wat uit die afgrond opkom, sal met hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak.” Die ateïstiese mag wat tydens die Franse Revolusie en die skrikbewind in Frankryk geheers het, het ‘n stryd teen God en sy heilige Woord gevoer soos die wêreld nog nooit gesien het nie. Die aanbidding van die Godheid is deur die Nasionale Vergadering afgeskaf. Bybels is versamel en in die openbaar met die grootste minagting verbrand. Die wet van God is onder die voete vertrap. Die instellings van die Bybel is afgeskaf. Die weeklikse rusdag is afgeskaf en in die plek daarvan is elke tiende dag aan verlustiging en godslastering gewy. Die doop en die nagmaal is verbied. En plakkate wat op strategiese plekke in die begraafplase geplaas is, het verklaar dat die dood ‘n ewige slaap is. GS 282.1
Die vrees van God is verklaar so ver van die begin van wysheid te wees, dat dit die begin van dwaasheid was. Alle godsdienstige aanbidding was verbode, behalwe dié van vryheid en van die land. “Die grondwetlike biskop van Parys is na vore gebring om die hoofrol in die mees vermetelste en skandaligste klug wat nog ooit in ‘n nasionale aanbieding verteenwoordig is, te speel... Hy is in ‘n volle optog na vore gebring om aan die Konvensie te verklaar dat die godsdiens wat hy soveel jare verkondig het, priesterlike bedrog was en het geen grondslag in die geskiedenis of die heilige waarheid gehad het nie. Hy het in plegtige en eksplisiete terme die bestaan van die Godheid aan wie se aanbidding hy gewy was verwerp en het hom in die toekoms aan die huldiging van vryheid, gelykheid, deug en moraliteit toegewy. Daarna het hy sy episkopaalse versierings op die tafel neergelê en ‘n broederlike omhelsing van die president van die konvensie ontvang. Verskeie afvallige priesters het die voorbeeld van hierdie prelaat gevolg.” — Scott, vol 1, hfst 17. GS 282.2
“Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat die twee profete die bewoners van die aarde gepynig het.” Die ongelowige Frankryk het die bestraffende stem van die twee getuies van God stilgemaak. Die woord van waarheid het dood in haar strate gelê en diegene wat die bepalings en verordeninge van die wet van God gehaat het, het gejubel. Mense het die Koning van die hemel in die openbaar uitgedaag. Soos die sondaars van ouds het hulle uitgeroep: “Hoe sou God dit weet en sou daar kennis by die Allerhoogste wees?” (Ps 73:11). GS 283.1
Met ongelooflike godslasterlike vrymoedigheid, het een van die priesters van die nuwe orde gesê: “God, as U bestaan, wreek U geskende Naam. Ek daag U uit! U bly stil: U durf nie U donderweer loslaat nie! Wie sal hierna in U bestaan glo?” — Lacretelle, History, vol 11, bl 309; Sir Archibald Alison, History of Europe, vol l, hfst 10. Wat ‘n eggo was dit van Farao se eis: “Wie is die Here na wie se stem ek moet luister? ... Ek ken die Here nie.” GS 283.2
“Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.” (Ps 14:1). En van hulle wat die waarheid verdraai, sê die Here: “Hulle dwaasheid sal vir almal duidelik wees.” (2 Tim 3:9). Nadat Frankryk die diens van die lewende God, “...die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon...” afgesweer het, het dit nie lank geduur voordat hulle in ‘n degraderende afgodsdiens verval het nie, deur die Godin van Rede, in die persoon van ‘n sedelose vrou, te aanbid. En dit in die verteenwoordigende vergadering van die volk en deur die hoogste burgerlike en wetgewende owerhede! Die geskiedskrywer het gesê: “Een van die seremonies van hierdie waansinnige tyd was ongeëwenaard in belaglikheid, gekombineer met goddeloosheid. Die deure van die konvensie is vir ‘n groep musikante oopgegooi, wat deur die lede van die stadsraad in ‘n plegtige optog voorafgegaan is en lofsange ter ere van vryheid gesing het en as voorwerp van hul toekomstige aanbidding, begelei is deur ‘n gesluierde vrou, wat hulle die Godin van Rede genoem het. Nadat sy in die balie ingebring is, is sy met groot plegtigheid ontsluier en aan die regterkant van die president geplaas, toe sy algemeen as ‘n danseres uit die opera herken is... Aan hierdie persoon, as die geskikste verteenwoordiger van die rede wat hulle aanbid het, het die Nasionale Konvensie van Frankryk openbare hulde gebring.” GS 283.3
“Hierdie goddelose en belaglike maskerade het ‘n mode geword en die wyding van die Godin van Rede is deur die hele volk vernuwe en nageboots op plekke waar die inwoners hulleself graag aan al die hoogtepunte van die revolusie gelyk wou stel.” — Scott, vol 1, hfst 17. GS 284.1
Die redenaar wat die aanbidding van Rede ingelei het, het gesê: “Wetgewers! Fanatisme het plek gemaak vir rede. Sy glasige oë kon die helderheid van die lig verduur nie. Op hierdie dag het ‘n ontsaglike skare onder die gotiese gewelwe vergader, wat vir die eerste keer weer die stem van waarheid herhaal het. Daar het die Franse die enigste ware godsdiens gevier, naamlik van Vryheid en van Rede. Daar is wense vir die voorspoed van die wapens van die Republiek uitgespreek. Daar het ons die lewenslose afgode met Rede vervang, met daardie lewendige beeld, die meesterstuk van die natuur.” — M.A. Thiers, History of the French Revolution, vol 2, bl 370, 371. GS 284.2
Toe die godin in die konvensie ingebring is, het die redenaar haar aan die hand geneem en terwyl hy hom tot die vergadering wend, het hy gesê: “Sterflinge, hou op om vir die magtelose donders van ‘n God wat deur u vrees geskep is te beef. Erken voortaan geen god behalwe rede nie. Ek bied julle sy edelste en reinste beeld aan; as julle afgode moet hê, offer dan slegs aan een soos hierdie ... Val neer voor die deurlugtige Senaat van Vryheid, o Sluier van Rede!” GS 284.3
“Nadat die godin deur die president omhels is, is sy op ‘n pragtige sierwa geplaas en te midde van ‘n ontsaglike skare na die katedraal van Notre Dame gelei om die plek van die Godheid in te neem. Daar is sy op die hoë altaar geplaas en die aanbidding van almal wat teenwoordig was, ontvang.” — Alison, vol 1, hfst 10. GS 285.1
Nie lank daarna nie, is dit opgevolg deur die openbare verbranding van die Bybels. Met een geleentheid het lede van die “Popular Society of the Museum“” die saal van die munisipaliteit binnegekom en uitgeroep: “Vive la Raison!” en op die bopunt van ‘n paal is die half verbrande oorblyfsels van verskeie boeke, waaronder Katolieke gebedeboeke, misboeke en Ou en Nuwe Testamente gedra wat, soos die president gesê het, “...in ‘n groot vuur verval het, vir al die onsin wat hulle die menslike geslag laat pleeg het.” —Journal of Paris, 1793, nr 318. Aanhangsel in Buchez-Roux, Collection of Parliamentary History, vol 30, bl 200, 201. GS 285.2
Dit was die pousdom wat met hierdie werk begin het, wat deur ateïsme voltooi is. Die beleid van Rome het die sosiale, politieke en godsdienstige toestande wat Frankryk se ondergang verhaas het, teweeggebring. Skrywers, met verwysing na die skrikbewind van die Franse Revolusie, het gesê dat hierdie buitensporighede, direk aan die troon en die kerk toegeskryf moet word. [Sien bylaag]. Maar in alle regverdigheid, moet dit aan die kerk toegeskryf word. Die pousdom het die denke van die konings teen die hervorming as vyand van die kroon vergiftig, ‘n element van konflik wat noodlottig vir die vrede en harmonie van die land sou wees. Dit was die genialiteit van Rome wat op hierdie wyse die gruwelikste wreedheid en mees bitterste verdrukking deur die troon geïnspireer het. GS 285.3
Die Gees van vryheid het met die Bybel gepaard gegaan. Oral waar die evangelie aangeneem is, het die mense ontwaak. Hulle het die boeie wat hulle slawe van onkunde, sonde en bygeloof gemaak het, afgewerp. Hulle het as mense begin optree en dink. Die monarge het dit gesien en gevrees vir hul despotisme. GS 285.4
Rome was nie traag om hulle jaloerse vrees aan te blaas nie. Die pous het in 1525 aan die ryksbestuurder van Frankryk gesê: “Hierdie waansin [Protestantisme] sal nie alleen die godsdiens in verwarring bring en tot niet maak nie, maar ook alle owerhede, adel, wette, ordes en geledere. — G de Felice, History of the Protestants of France, vol 1, hfst 2, par 8. ‘n Paar jaar later het ‘n pouslike gesant die koning gewaarsku: “U majesteit, moenie mislei word nie. Die Protestante sal alle burgerlike sowel as godsdienstige orde omverwerp ... Die troon verkeer in net soveel gevaar soos die altaar ... Die bekendstelling van ‘n nuwe godsdiens moet noodwendig ‘n nuwe regering teweegbring.” — D'Aubigne, History of the Reformation in the Time of Calvin, vol 2, hfst 36. En teoloë het hulle op die vooroordeel van die volk beroep deur te verklaar dat die Protestantse leer “...mense tot nuwighede en dwaasheid verlei; dit beroof die koning van die toegewyde geneentheid van sy onderdane en vernietig beide die Kerk en die Staat.” Sodoende het Rome daarin geslaag om Frankryk teen die hervorming te stel. “Dit was om die troon staande te hou, die Adel te beveilig en die wette te handhaaf, dat die swaard van vervolging vir die eerste keer in Frankryk uit sy skede getrek is.” — Wylie, vol 13, hfst 4. GS 286.1
Min het die heersers van die land die gevolge van hierdie noodlottige beleid voorsien. Die leer van die Bybel sou die beginsels van geregtigheid, matigheid, waarheid, billikheid en welwillendheid, wat die hoeksteen van die welvaart van ‘n nasie is, in die gedagtes en harte van die mense ingeplant het. “Geregtigheid verhoog ‘n volk...” daardeur “...word die troon bevestig.” (Spr 14:34;16:12). “Die werking van die geregtigheid sal vrede wees en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid.” (Jes 32:17). Wie die wet van God gehoorsaam, sal inderwaarheid ook die wette van sy land eerbiedig en gehoorsaam. Wie God vrees, sal die koning in die uitoefening van alle regverdige en geregtelike gesag eer. Maar die ongelukkige Frankryk het die Bybel verbied en Sy dissipels verban. Eeu na eeu, het mense van beginsel en opregtheid, mense van intellektuele skerpsinnigheid en morele krag, wat die moed gehad het om hul oortuigings te bely en die geloof om vir die waarheid te ly, as slawe in die galeie geswoeg, op die brandstapel gesterf, of in kerkers verrot. Duisende en duisende het veiligheid in ander lande gevind; en dit het tot tweehonderd-en-vyftig jaar na die begin van die hervorming voortgeduur. GS 286.2
“Daar was skaars ‘n generasie van Franse gedurende hierdie uitgestrekte tydperk, wat nie getuig het van hoe die dissipels van die evangelie voor die kranksinnige woede van die vervolger moes vlug nie en die lande waarin hulle asiel gevind het met hulle intelligensie, die kunste, die industrie, die orde waarin hulle by uitstek uitgeblink het, verryk het. En namate hulle ander lande met hierdie goeie gawes aangevul het, het hulle hul eie land daarvan ontneem en verarm. Indien alles wat toe uitgedryf was in Frankryk behoue gebly het; indien die industriële vaardigheid van die ballinge gedurende hierdie driehonderd jaar vir die bewerking van die grond aangewend was; indien hulle kunstige neigings gedurende hierdie driehonderd jaar hulle nywerhede bevorder het; indien hulle kreatiewe genialiteit en analitiese vermoë gedurende hierdie tydperk, aangewend was om hul literatuur te verryk en hul wetenskap te ontwikkel; indien hul wysheid haar rade gelei het, hul dapperheid haar gevegte geveg het, hul geregtigheid haar wette opgestel het en die godsdiens van die Bybel die intellek versterk en die gewete van haar volk aangespreek het, watter heerlikheid sou Frankryk nie vandag omring het nie! Wat ‘n grootse, voorspoedige en gelukkige land, ‘n voorbeeld vir die nasies, sou sy nie gewees het nie! GS 287.1
“Maar ‘n blinde en onverbiddelike dwaasheid het elke leraar van deug, elke kampvegter van orde en elke eerlike verdediger van die troon verdryf. Aan die manne wat hulle land ‘n ‘roem en glorie’ op die aarde sou gemaak het, is gesê: Kies wat julle wil hê, die brandstapel of verbanning. Uiteindelik is die ondergang van die staat volbring; daar was geen gewete meer om voor te skryf nie; geen godsdiens om na die brandstapel te sleep nie en geen patriotisme om in ballingskap te verdryf nie. ” — Wylie, vol 13, hfst 20. En die Franse Revolusie met sy skrikbewind was die noodlottige gevolg. GS 287.2
“Met die vlug van die Hugenote het ‘n algemene agteruitgang in Frankryk plaasgevind. Florerende nywerheidstede het verval; vrugbare distrikte het in hul natuurlike wildheid verval; intellektuele agteruitgang en sedelike verval het ‘n tydperk van ongekende vooruitgang opgevolg. Parys het ‘n groot huis van armoede geword en daar is beraam dat tweehonderdduisend armlastiges tydens die uitbreek van die rewolusie liefdadigheid van die koning geëis het. Slegs die Jesuïete het in die vervalle nasie gefloreer en met vreesaanjaende tirannie oor kerke en skole, die gevangenisse en galeie regeer.” GS 288.1
Die evangelie sou aan Frankryk die oplossing vir die politieke en maatskaplike probleme wat die vaardigheid van haar geestelikes, haar koning en haar wetgewers verwar het en die nasie uiteindelik in anargie en ondergang gedompel het gebring het. Maar onder die heerskappy van Rome het die volk die Heiland se geseënde lesse van selfopoffering en onselfsugtige liefde verloor. Hulle is van die beoefening van selfverloëning ten behoewe van ander weggelei. Die rykes is nie vir hulle onderdrukking van die armes tereggewys nie en die armes het geen verlossing van hul slawerny en agteruitgang gevind nie. Die selfsug van die welvarendes en magtiges het meer en meer duidelik en onderdrukkend geword. Eeue lank het die hebsug en losbandigheid van die adel die uitmergelende uitbuitery van die boer tot gevolg gehad. Die rykes het die armes veronreg en die armes het die rykes gehaat. GS 288.2
In baie provinsies is die landgoed deur die adel besit en die werkersklasse was slegs huurders; hulle was onder die genade van hulle landhere en moes hulle noodgedwonge aan hul buitensporige eise onderwerp. Die las van die ondersteuning van die kerk, sowel as die staat, het op die middelen laerklasse geval, wat swaar deur die burgerlike en geestelike owerhede belas is. “Die plesiere van die adel is as die hoogste gesag beskou; die boere en die landbewoners kon maar van die honger omkom vir sover hul verdrukkers omgegee het ... In alles moes die volk noodgedwonge die eksklusiewe belange van hul landhere in ag neem. Die lewe van die landbouers was ‘n lewe van onophoudelike geswoeg en ellende sonder verligting; hulle klagtes, indien hulle dit gewaag het om te kla, is met onbeskaamde minagting behandel. In die geregshowe is die woord van die adel altyd bo die van die landbouer geneem; regters was berug vir hul aanvaarding van omkopery; en die grootste onheil van die aristokrasie het, op grond van hierdie stelsel van universele korrupsie, die mag van die wet gehad. Van die belasting wat deur die burgerlike owerhede aan die eenkant en die geestelikes aan die anderkant uit die gemeenskap gewring is, het nie die helfte daarvan ooit in die koninklike of episkopaalse skatkis beland nie; die res is in losbandige selfbevrediging verkwis. En die mense wat hul onderdane op hierdie wyse verarm het, was self van belasting vrygestel en het volgens die wet of die gebruike, reg op alle aanstellings in die staat gehad. Die bevoorregte klasse het sowat honderd-envyftigduisend getel en om hulle te bevredig, is miljoene tot ‘n hopelose en verlaagde lewensbestaan gedoem.” [Sien bylaag] . GS 289.1
Die koninklike hof was aan weelde en losbandigheid oorgelewer. Daar was weinig wedersydse vertroue tussen die volk en die heersers. Die volk het al die maatreëls van die regering as arglistig en selfsugtig gewantrou. Vir meer as ‘n halfeeu voor die Revolusie, is die troon deur Lodewyk XV beset, wat selfs in daardie bose tye as ‘n onversorgde, ligsinnige en wellustige vors onderskei is. Met ‘n verdorwe en wrede aristokrasie en ‘n verarmde en onkundige laer klas, die Staat in finansiële in verleentheid gebring en die volk woedend, het hy geen profetiese oog nodig gehad om ‘n verskriklike dreigende uitbarsting te voorsien nie. Op die waarskuwings van sy raadgewers, was die koning gewoond om te antwoord: “Probeer om sake aan die gang te hou vir solank ek leef; na my dood kan daar maar gebeur wat wil.” Dit was tevergeefs om op die noodsaaklikheid van ‘n hervorming aan te dring. Hy het die euwels opgemerk, maar het nie die moed of krag gehad om dit te konfronteer nie. Die onheil wat op Frankryk gewag het, is maar te duidelik in sy onverskillige en selfsugtige antwoord uitgebeeld: “Ná my die vloed!” GS 289.2
Deur op die jaloesie van die koning en die heersende klasse te werk, het Rome hulle beïnvloed om die volk in slawerny te hou, welwetende dat dit die Staat sou verswak en met die bedoeling om beide heersers en mense aan haar te verslaaf. Deur ‘n beleid van versiendheid het hulle besef dat om ‘n mens effektief te verslaaf, jy hul siel aan bande moet lê; dat die sekerste manier om te verhoed dat hulle van slawerny ontsnap, was om hulle nie in staat te stel om vry te wees nie. Die morele agteruitgang was duisendvoudig erger as die liggaamlike lyding wat uit haar beleid voortgespruit het. Van die Bybel ontneem en oorgegee aan leerstellings van dwepery en selfsug, is die mense in onkunde en bygeloof gehul en het hulle so ver in sonde versink, dat hulle geheel en al ongeskik was om hulself te regeer. GS 290.1
Maar die uitwerking hiervan was baie anders as wat Rome beoog het. In plaas daarvan om die massas blindelings onderhewig aan haar dogmas te hou, het haar optrede veroorsaak dat hulle ongelowiges en rewolusioniste geword het. Hulle het Romanisme as priesterlike listigheid verag. Hulle het die geestelikes as deelgenote in hul verdrukking beskou. Die enigste god wat hulle geken het, was die god van Rome; haar leer was hul enigste godsdiens. Hulle het die hebsug en wreedheid as die wettige vrug van die Bybel beskou en hulle wou niks daarmee te doen hê nie. GS 290.2
Rome het die karakter van God verkeerd voorgestel en Sy vereistes verdraai en nou het die mense die Bybel, sowel as die Outeur daarvan verwerp. Sy het ‘n blinde geloof in haar dogmas vereis onder die skynbare goedkeuring van die Skrif. In reaksie het Voltaire en sy gesante God se woord heeltemal verwerp en oral die gif van ontrouheid versprei. Rome het die volk onder haar ysterhak vertrap; en nou het die massas, verlaag en wreedaardig in hul weerwraak teenoor haar tirannie, alle selfbeheersing weggewerp. Woedend oor die skreiende bedrog waaraan hulle so lank hulde gebring het, het hulle beide waarheid en leuen verwerp; en deur losbandigheid vir vryheid aan te sien, het die slawe van sonde hulle in hulle vermeende vryheid verlustig. GS 291.1
Met die aanvang van die Revolusie, deur ‘n vergunning van die koning, is daar ‘n verteenwoordiging aan die volk toegestaan, wat die adel en geestelikes gekombineer, oorskrei het. So was die magsbalans in hulle hande; maar hulle was nie gereed om dit met wysheid en matigheid aan te wend nie. Hulle was begerig om die onreg wat hulle gely het reg te stel en was vasbeslote om die heropbou van die samelewing self te onderneem. ‘n Ontstoke bevolking, wie se gedagtes met bitterheid en lank gekoesterde herinneringe van onreg gevul was, het besluit om die toestand van ellende wat ondraaglik geword het te verander en hulle op diegene wat hulle as die outeurs van hulle lyding beskou het, te wreek. Die verdruktes het die les wat hulle onder tirannie geleer het, nou uitgeoefen en het die verdrukkers van diegene wat hulle verdruk het, geword. GS 291.2
Die ongelukkige Frankryk het van die bloed wat sy gesaai het, bloed gemaai. Verskriklik was die gevolge van haar onderwerping aan die beherende mag van Rome. Waar Frankryk, onder die invloed van Romanisme, die eerste brandstapel tydens die aanvang van die hervorming opgerig het, het die Revolusie sy eerste guillotine opgerig. Op dieselfde plek waar die eerste martelare van die Protestantse geloof in die sestiende eeu verbrand is, is die eerste slagoffers in die agttiende eeu aan die guillotine onderwerp. Deur die verwerping van die evangelie wat vir haar genesing sou bring, het Frankryk die deur vir ontrouheid en ondergang oopgemaak. Waar die beperkende mag van God se wet verontagsaam is, is gevind dat die wette van die mens onvoldoende was om die kragtige gety van menslike passie in toom te hou; en die volk het oorgegaan tot opstand en anargie. Die oorlog teen die Bybel het ‘n tydperk ingewy wat in die wêreldgeskiedenis bekend staan as “Die Skrikbewind”. Vrede en geluk is uit die huise en harte van mense verban. Niemand was veilig nie. Die een wat vandag geseëvier het, is more verdink en veroordeel. Geweld en wellus het onbetwiste heerskappy gevoer. GS 291.3
Koning, geestelikes en adellikes is aan die wreedhede van ‘n ontstoke volk wat tot raserny gedryf is, onderwerp. Die teregstelling van die koning het slegs hulle dors na wraak aangevuur; en diegene wat sy dood bepaal het, het hom spoedig na die skavot gevolg. ‘n Algemene slagting van almal wat van vyandigheid teenoor die rewolusie verdink was, is op besluit. Die tronke was oorvol en het op ‘n stadium meer as tweehonderdduisend gevangenes bevat. Die stede van die koninkryk was met afgryse gevul. Die een party van rewolusioniste was teen ‘n ander party en Frankryk het ‘n uitgestrekte veld van strydende massas geword, wat deur die woede van hul passies aangevuur is. “In Parys het die een oproer ‘n ander opgevolg en die burgers was in ‘n mengsel van faksies verdeel, wat niks anders as wedersydse uitwissing blyk te gewees het nie.” En om die algemene ellende nog verder te verhoog, was die volk in ‘n langdurige en verwoestende oorlog met die groot moondhede van Europa gewikkel. “Die land was byna bankrot, die soldy vir die leërs het agterstallig geraak, die Parysenaars het honger gely, die provinsies is deur struikrowers verwoes en die beskawing is as gevolg van anargie en losbandigheid byna uitgedoof.” GS 292.1
Die volk het maar te goed die lesse van wreedheid en marteling waarin Rome hulle so ywerig onderrig het, geleer. Uiteindelik het ‘n dag van vergelding aangebreek. Dit was nie nou die volgelinge van Jesus wat in die kerkers gegooi en na die brandstapels gesleep is nie. Hulle was lank reeds dood of in ballingskap. Nou het meedoënlose Rome die dodelike mag van diegene wat sy opgelei het om hulle in dade van bloedvergieting te verlustig, ervaar. “Die voorbeeld van vervolging wat die geestelikes van Frankryk soveel eeue lank aan die dag gelê het, is nou met buitengewone krag op hulle teruggewerp. Die skavotte was rooi van die bloed van priesters. GS 293.1
Die galeie en tronke wat eens vol Hugenote was, was nou met hulle vervolgers gevul. Aan die bank vasgeketting en swoegende aan die roeispane, moes die Rooms-Katolieke geestelikes al die ellende wat hul kerk so vryelik aan die sagmoedige ketters uitgedeel het, verduur.” [Sien bylaag] . GS 293.2
“Toe het die dae aangebreek waarin die mees barbaarse van alle wette deur die mees barbaarse van alle tribunale toegepas is; toe geen man sy bure kon groet of kon bid ... sonder gevaar om ‘n halsmisdaad te begaan nie; toe spioene in elke hoek geskuil het; toe die guillotine elke oggend lank en hard aan die werk was;; toe die gevangenisse so vol soos die ruim van ‘n slaweskip gevul was; toe die geute skuimend met bloed in die Seine afgeloop het. Terwyl die waens vol slagoffers daagliks deur die strate van Parys na hul verdoemenis geneem is, het die prokonsuls wat deur die soewereine komitee na hulle afdelings gestuur is, hulle aan buitensporige wreedhede verlustig, wat selfs in die hoofstad onbekend was. Die mes van die dodelike masjien het te stadig vir hul slagtingswerk gestyg en geval. Lang rye gevangenes is met kruit en lood afgemaai. Daar is gate in die bodems van oorvol vragskuite gemaak. Lyons is in ‘n woesteny omskep. In Arras is selfs die wrede genade van ‘n vinnige dood die gevangenes ontsê. Reg langs die Loire van Saumur tot by die see het groot swerms kraaie en woue op die naakte lyke geteer wat in afgryslike omhelsings inmekaar gevleg was. Geen genade is aan geslag of ouderdom betoon nie. Die aantal jongelinge en meisies van sewentien jaar wat deur die onvoorspelbare regering vermoor is, kon by die honderde getel word. Suigelinge wat van die bors weggeskeur is, is van spies tot spies tussen die Jakobynse geledere geslinger.” [Sien bylaag]. In die kort tydperk van tien jaar het ‘n menigte mense omgekom. GS 293.3
Dit was alles soos Satan dit wou gehad het. Dit was waarna hy eeue lank gestrewe het om teweeg te bring. Sy beleid is misleiding, van begin tot einde en sy standvastige doelwit is om wee en ellende oor die mens te bring, om die handewerk van God onherkenbaar te maak en dit te besoedel ten einde die Goddelike voornemens van welwillendheid en liefde te verydel en droefheid in die hemel te veroorsaak. Dan verblind hy, deur sy misleidende listigheid, die verstand van mense en lei hulle om die skuld van sy werk op God te plaas, asof al hierdie ellende die gevolg van die plan van die Skepper was. Net so ook, wanneer diegene wat deur sy wrede mag verlaag en wreedaardig geword het hulle vryheid behaal, spoor hy hulle tot buitensporighede en gruweldade aan. Dan word hierdie prent van ongebreidelde buitensporigheid deur tiranne en verdrukkers as ‘n voorbeeld van die gevolge van vryheid voorgehou. GS 294.1
Wanneer dwaling in een gewaad ontmasker word, maskeer Satan hom net in ‘n ander vermomming en menigtes neem dit net so gretig soos tevore aan. Toe die volk Romanisme as misleiding onderskei het en hy hulle nie op hierdie wyse tot oortreding van God se wet kon lei nie, het Satan hulle aangespoor om godsdiens as bedrog te beskou en die Bybel as ‘n versinsel; en deur die insettinge van God te verwerp, het hulle hulself aan ongebreidelde ongeregtigheid oorgegee. GS 294.2
Die noodlottige dwaling wat soveel ellende oor die inwoners van Frankryk gebring het, was die ontkenning van hierdie een groot waarheid: dat ware vryheid binne die voorskrifte van die wet van God lê. “Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ‘n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see ... Geen vrede, sê die Here, vir die goddelose nie! ... Maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil” (Jes 48:18,22; Spreuke 1:33). GS 295.1
Ateïste, ongelowiges en afvalliges opponeer en veroordeel God se wet; maar die gevolge van hulle invloed bewys dat die welsyn van die mens aan sy gehoorsaamheid aan die Goddelike insettinge gebonde is. Wie hierdie les nie uit die Boek van God wil leer nie, word aangeraai om dit in die geskiedenis van die nasies te lees. GS 295.2
Toe Satan deur die Roomse kerk gewerk het om mense tot ongehoorsaamheid te lei, was sy voornemens bedek en sy werk so verdoesel, dat die agteruitgang en ellende wat daaruit voortgevloei het, nie as die vrug van oortreding onderskei kon word nie. En sy mag is deur die Gees van God tot so mate teëgewerk, sodat sy voornemens verhoed kon word om tot volle uitvoering te kom. Die volk het nie die oorsaak hiervan nagespeur en die bron van hul ellende ontdek nie. Maar in die Revolusie is die wet van God openlik deur die Nasionale Raad tot niet gemaak. En in die daaropvolgende skrikbewind, kon die oorsaak en gevolg deur almal gesien word. GS 295.3
Toe Frankryk God in die openbaar verwerp en die Bybel opsy gesit het, het goddelose mense en die geeste van duisternis oor die bereiking van hulle doel wat hulle so lank begeer het, gejuig — ‘n koninkryk wat vry was van die beperkings van die wet van God. “Omdat die oordeel oor ‘n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen.” (Pred 8:11). Maar die oortreding van ‘n goeie en regverdige wet moet noodwendig ellende en ondergang tot gevolg hê. Alhoewel die goddeloosheid van hierdie mense nie dadelik met oordele besoek is nie, het dit nogtans hulle gewisse ondergang veroorsaak. Eeue van afvalligheid en misdaad het toorn vir die dag van vergelding opgegaar; en toe hulle ongeregtigheid vol was, het die veragters van die wet van God, te laat geleer dat dit vreesaanjaend is om Goddelike geduld te verslyt. Die inperking van die Gees van God wat die wrede mag van Satan beteuel, is tot ‘n groot mate verwyder en hy wie se enigste vreugde die ellende van die mense is, is toegelaat om sy wil uit te voer. Diegene wat die diens van rebellie gekies het, moes die vrugte daarvan te pluk, totdat die land met gruwels, te aaklig om te beskryf, gevul was. Uit verwoeste provinsies en vernielde stede is daar ‘n verskriklike kreet gehoor— ‘n kreet van bittere angs. Frankryk is asof deur ‘n aardbewing geskud. Godsdiens, wet, maatskaplike orde, die gesin, die staat en die kerk — alles is deur die goddelose hand wat teen die wet van God opgehef is, omvergewerp. Dit was inderwaarheid soos die Prediker sê: “Die goddelose val deur sy goddeloosheid ... aangesien ‘n sondaar honderd maal kwaad doen en hy lank lewe — alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, wat vrees voor Sy aangesig en dit nie goed sal gaan met die goddelose...” nie. (Pred.8:12,13.) “Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die Here nie verkies het nie ... daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne.” (Spr 1:29,31). GS 295.4
God se getroue getuies, gedood deur die godslasterlike mag “...wat uit die afgrond opkom...” sou nie vir lank swyg nie. “En ná die drie en ‘n halwe dag het ‘n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan en hulle het op hul voete gaan staan, en ‘n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het.” (Openb 11:11). Dit was in 1793 dat die verordeninge wat die Christelike Godsdiens afgeskaf en die Bybel ter syde gestel het, deur die Franse Raad uitgevaardig is. Drie en ‘n halfjaar later is ‘n resolusie wat hierdie wetgewing herroep en sodoende weer die Skrif toegelaat het, deur dieselfde liggaam aanvaar. Die wêreld was verstom oor die omvang van die kwaad wat daar op die verwerping van die Heilige Orakels gevolg het en die mense het die noodsaaklikheid van geloof in God en Sy Woord as die fondament van deug en moraliteit erken. Die Here sê: “Wie het jy gesmaad en gelaster? En teen wie het jy die stem verhef en jou oë hoogmoedig opgehef? Teen die Heilige van Israel.” “Daarom, kyk, Ek laat hulle hierdie keer voel, voel My hand en My mag; en hulle sal weet dat My Naam Here is.” (Jes 37:23; Jer 16:21). GS 296.1
Aangaande die twee getuies verklaar die profeet verder: “En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk en hul vyande het hulle aanskou.” (Openb 11:12). Sedert die tyd dat Frankryk oorlog teen die twee getuies van God gevoer het, is hulle soos nooit tevore nie vereer. In 1804 is die British and Foreign Bible Society gestig. Dit is deur soortgelyke organisasies met talle vertakkings op die vasteland van Europa opgevolg. In 1816 is die American Bible Society gestig. Toe die Britse genootskap gestig is, is die Bybel in vyftig tale gedruk en versprei. Sedertdien is dit in baie honderde tale en dialekte vertaal. [Sien bylaag]. GS 297.1
Gedurende die vyftig jaar wat die jaar 1792 voorafgegaan het, is daar min aandag aan buitelandse sendings geskenk. Geen nuwe genootskappe is gestig nie en daar was maar weinig kerke wat moeite gedoen het om die Christendom in heidense lande te versprei. Maar teen die einde van die agtiende eeu het daar ‘n groot verandering plaasgevind. Die mense het ontevrede met die gevolge van rasionalisme geraak en die noodsaaklikheid van Goddelike openbaring en eksperimentele godsdiens besef. Vanaf daardie tyd het die buitelandse sendingwerk ongekende groei getoon. [Sien bylaag] . GS 297.2
Vooruitgang in die drukkuns het die verspreiding van die Bybel baie aangehelp. Die verhoogde fasiliteite vir kommunikasie tussen verskillende lande, het die vroeëre hindernisse van vooroordeel en nasionale eksklusiwiteit uit die weg geruim en die verlies aan sekulêre mag deur die pous van Rome het die weg vir die Woord van God oopgemaak. Jare lank is die Bybel sonder beperking in die strate van Rome verkoop en word tans na alle dele van die bewoonde wêreld uitgevoer. GS 297.3
Die ongelowige Voltaire het eenmaal hooghartig gesê: “Ek is moeg om te hoor hoe mense herhaal dat die Christelike godsdiens deur twaalf manne gevestig is. Ek sal bewys dat een man voldoende is om dit omver te werp.” Geslagte het sedert sy dood verbygegaan. Miljoene het aan die oorlog teen die Bybel deelgeneem. Maar dit is so ver van vernietiging, dat waar daar honderd in Voltaire se tyd was, daar nou tienduisend, ja, honderdduisend eksemplare van die Boek van God is. In die woorde van ‘n vroeëre hervormer aangaande die Christelike kerk: “Die Bybel is ‘n aambeeld waarop baie hamers reeds verslyt is.” Die Here sê: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê.” (Jes 54:17). GS 298.1
“Die woord van onse God hou stand in ewigheid ... Al sy bevele is betroubaar. Vasgestel is hulle vir altyd, vir ewig.” (Jes 40:8; Ps 111:7,8). “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê.” (Jes 54:17). GS 298.2