Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 14—Latere Engelse hervormers
Terwyl Luther ‘n geslote Bybel vir die inwoners van Duitsland oopgestel het, is Tyndale deur die Gees van God gedwing om dieselfde vir Engeland te doen. Wycliffe se Bybel is uit die Latynse teks, wat baie foute bevat het, vertaal. Dit is nooit gedruk nie en die koste van kopieë van die manuskripte was so hoog dat min, behalwe welgestelde mense of die adel dit kon bekostig; en verder, omdat dit streng deur die kerk verbied is, het dit ‘n relatiewe klein sirkulasie gehad. In die jaar 1516, ‘n jaar voor die verskyning van Luther se proefskrifte, het Erasmus sy Griekse en Latynse weergawe van die Nuwe Testament gepubliseer. Die Woord van God is nou vir die eerste keer in die oorspronklike taal gedruk. In hierdie werk is baie foute van vorige weergawes reggestel en die betekenis is duideliker weergegee. Dit het baie onder die geleerde klasse gelei tot ‘n beter kennis van die waarheid en ‘n nuwe stukrag aan die werk van die hervorming verleen. Maar die gewone mense was nog steeds tot ‘n groot mate van God se Woord uitgesluit. Tyndale sou die werk van Wycliffe om die Bybel aan sy landgenote beskikbaar te stel, voltooi. GS 251.1
'n Toegewyde student en ‘n ernstige soeker na waarheid, het hy die evangelie uit die Griekse Testament van Erasmus ontvang. Hy het sy oortuigings vreesloos verkondig en aangedring dat alle leerstellings aan die Skrif getoets moet word. Op die bewering van die Katolieke dat die kerk die Bybel gegee het en dat die kerk alleen dit kon verklaar, het Tyndale geantwoord: “Weet julle wie die arende geleer het om hul prooi te vind? Wel, dieselfde God leer Sy honger kinders om hul Vader in Sy Woord te vind. Dit is nie julle wat die Skrif aan ons gegee het nie, maar julle het dit vir ons weggesteek; dit is julle wat diegene wat dit verduidelik verbrand en, as julle sou kon, sou julle die Skrif self verbrand.” — D'Aubigne, vol 18, hfst 4. GS 251.2
Tyndale se prediking het groot belangstelling gewek; baie het die waarheid aangeneem. Maar die priesters was waaksaam en hy het skaars die veld verlaat, of hulle het, as gevolg van hul dreigemente en wanvoorstellings gepoog om sy werk te vernietig. Te dikwels het hulle daarin geslaag. “Wat staan ons te doen?” het hy uitgeroep. “Terwyl ek op die een plek saai, vernietig die vyand die veld wat ek nou net agtergelaat het. Ek kan nie oral wees nie. O! as Christene die Heilige Skrif in hul eie taal kon besit, sou hulle self hierdie drogredenaars weerstaan. Sonder die Bybel is dit onmoontlik om die leke in die waarheid te vestig.” — D'Aubigne, vol 18, hfst 4. GS 252.1
'n Nuwe idee het nou in sy gedagtes opgekom. “Dit was in die taal van Israel...” het hy gesê, “...dat die psalms in die tempel van Jehova gesing is; en sal die evangelie nie in die taal van Engeland tot ons spreek nie? ... Moet die kerk in die middag minder lig hê as met dagbreek? ... Christene moet die Nuwe Testament in hul moedertaal lees.” Die doktore en leraars van die kerk het onderling van mekaar verskil. Slegs deur die Bybel kan mense by die waarheid uitkom. “Die een hang hierdie doktor aan en ‘n ander daardie ... Nou weerspreek elkeen van hierdie outeurs mekaar. Hoe kan ons dan tussen die een wat reg is en die een wat verkeerd is onderskei? ... Hoe? ... Voorwaar deur die Woord van God.” — D'Aubigne, vol 18, hfst 4. GS 252.2
Dit was nie lank daarna nie dat ‘n geleerde Katolieke doktor, wat met hom verskil het, uitgeroep het: “Dit was vir ons beter om sonder God se wette te wees as die van die pous.” Tyndale het geantwoord: “Ek verwerp die pous en al sy wette; en as God my lewe spaar, sal ek, voor baie jare verloop het, dit bewerkstellig dat ‘n seun agter die ploeg meer van die Skrif sal weet as jy.” — Anderson, Annals of the English Bible, bI 19. GS 252.3
Die doelwit wat hy begin gekoester het om die NuweTestamentiese Skrif aan die mense in hul eie taal te gee, is nou bevestig en hy het homself dadelik aan die werk toegewy. Deur vervolging uit sy huis verdryf, het hy na Londen gegaan waar hy sy werk vir ‘n tyd ongehinderd voortgesit het. Maar weereens het die gewelddadigheid van die Roomsgesindes hom gedwing om te vlug. Dit het gelyk of die hele Engeland vir hom gesluit was en hy het besluit om in Duitsland skuiling te gaan soek. Hier het hy begin met die druk van die Engelse Nuwe Testament. Die werk is twee keer gestaak; maar waar hy verbied is om een stad te druk, het hy na ‘n ander stad gegaan. Uiteindelik is hy na Worms, die plek waar Luther ‘n paar jaar tevore, die evangelie voor die Ryksdag verdedig het. Daar was baie vriende van die hervorming en Tyndale kon sy werk ongehinderd voortsit. Drieduisend eksemplare van die Nuwe Testament is spoedig voltooi en in dieselfde jaar het ‘n verdere uitgawe gevolg. GS 252.4
Met groot erns en deursettingsvermoë het hy sy werk voortgesit. Ondanks die feit dat die Engelse owerhede hul hawens met die grootste waaksaamheid bewaak het, is die Woord van God op verskillende maniere heimlik na Londen versend en vandaar deur die hele land versprei. Die Roomsgesindes het probeer om die waarheid te onderdruk, maar tevergeefs. Die biskop van Durham het op ‘n keer ‘n boekhandelaar wat ‘n vriend van Tyndale was, se hele voorraad Bybels met die doel om hulle te vernietig gekoop om sodoende, soos hy gemeen het, die werk te verhinder. Maar inteendeel, is die geld wat so voorsien is, aangewend vir die aankoop van materiaal vir ‘n nuwe en beter uitgawe, wat andersins nie gepubliseer sou kon word nie. Toe Tyndale daarna gevange geneem is, is sy vryheid aan hom gebied op voorwaarde dat hy die name van almal sou bekendmaak wat hom gehelp het om die koste van die druk van sy Bybels te dek. Hy het geantwoord dat die biskop van Durham in hierdie opsig meer as enige ander persoon gedoen het; want deur die ou voorraad teen ‘n hoë prys aan te koop, het hy hom in staat gestel om met goeie moed voort te gaan. GS 253.1
Tyndale is in die hande van sy vyande verraai en is op ‘n stadium baie maande gevangenisstraf opgelê. Hy het uiteindelik deur ‘n marteldood vir sy geloof getuig; maar die wapens wat hy voorberei het, het ander soldate in staat gestel om deur al die eeue heen selfs tot op hede te veg. GS 254.1
Latimer het vanaf die kansel volgehou dat die Bybel in die taal van die volk gelees moet word. Die Outeur van die Heilige Skrif, het Hy gesê “...is God self...” en hierdie Skrif deel in die mag en ewigheid van die Outeur daarvan. “Daar is geen koning, keiser, landdros of regeerder nie ... of hulle is verplig om Sy Heilige Woord te gehoorsaam ... Laat ons nie uitdraai-paadjies volg nie, maar laat die Woord van God ons lei: laat ons nie agter ons ... voorvaders aan loop en ook nie strewe waarna hulle gestrewe het nie, maar na wat hulle moes gedoen het.” - Hugh Latimer, King Edward VI. GS 254.2
Barnes en Frith, die getroue vriende van Tyndale, het opgestaan om die waarheid te verdedig. Ridley en Cranmer het gevolg. Hierdie leiers in die Engelse hervorming was geleerde manne en die meeste van hulle was hoog aangeskrewe vir hulle ywer en vroomheid onder die Katolieke. Hulle teenkanting teen die pousdom, was die gevolg van hulle kennis van die dwalinge van die “heilige stoel.” Hulle kennis van die verborgenhede van Babilon, het groter krag aan hulle getuienis teen haar gegee. GS 254.3
“Nou wil ek ‘n vreemde vraag stel” het Latimer gesê. “Wie is die mees toegewyde biskop en prelaat in die hele Engeland? ... Ek sien julle luister en wag dat ek sy naam moet noem... Ek sal vir julle sê: dit is die duiwel... Hy is nooit weg van sy bisdom nie; roep na hom net wanneer julle wil, hy is altyd tuis ... hy is altyd agter sy ploeg ... Ek waarborg julle dat julle hom nooit ledig sal vind nie ... Waar die duiwel woon, daar moet weggemaak word met die boeke en die kerse moet aangesteek word; weg met Bybels en bring die krale; weg met die Lig van die evangelie en laat die lig van kerse skyn, ja, selfs in die middag ... af met die kruis van Christus en laat die vagevuur-geldsakkie kom ... weg met klere vir die naaktes, die armes en die magtelose, maar verhef die sierlike bedekking van beelde en vrolike versiering van stompe en stene; verhef die tradisies en wette van mense en vertrap die tradisies van God en sy allerheiligste Woord ... O, mag ons prelate net so ywerig wees om die koring van die goeie leer te saai, soos wat Satan is om die onkruid te saai!” — Latimer, Sermon of the Plough. GS 254.4
Die grootste beginsel wat deur hierdie hervormers gehandhaaf is — dieselfde wat deur die Waldense, Wycliffe, Johannes Huss, Luther, Zwingli en diegene wat met hulle verenig het, gehuldig is — was die onfeilbare gesag van die Heilige Skrif as maatstaf van geloof en praktyk. Hulle het die reg van pouse, konsilies, kerkvaders en konings om die gewete in godsdienssake te beheer ontken. Die Bybel was hulle enigste gesag en aan die lering daarvan het hulle alle leerstellings en aansprake getoets. Geloof in God en Sy Woord, het hierdie manne onderskraag toe hulle hul lewens op die brandstapel neergelê het. “Hou goeie moed...” het Latimer aan ‘n medemartelaar gesê net voordat die vlamme hulle stem stilgemaak het, “...deur die genade van God, sal ons vandag in Engeland ‘n lig aansteek wat nooit weer uitgedoof sal kan word nie.” — Works of Hugh Latimer, vol 1, bI 8. GS 255.1
In Skotland is die saad van waarheid, wat deur Columbanus en sy medewerkers gesaai is, nooit heeltemal vernietig nie. Vir honderde jare nadat die kerke van Engeland hulle aan Rome onderwerp het, het dié van Skotland hulle vryheid behou. In die twaalfde eeu het die pousdom egter hier gevestig geraak en in geen land het dit meer algehele invloed uitgeoefen nie. Nêrens was die duisternis meer dig nie. Tog het daar ligstrale gekom om deur die somberheid te skyn met die belofte van die komende dag. Die Lollarde, afkomstig uit Engeland, met die Bybel en die leerstellings van Wycliffe, het baie daartoe bygedra om die kennis van die evangelie te bewaar en elke eeu het sy getuies en martelaars gelewer. GS 255.2
Met die aanvang van die groot hervorming, het die geskrifte van Luther gekom en daarna Tyndale se Engelse Nuwe Testament. Onopgemerk deur die hiërargie, het hierdie boodskappers stilweg die berge en valleie deurkruis en die fakkel van waarheid, wat so byna in Skotland uitgedoof was, weer laat opflikker en die werk wat Rome vir vier eeue van onderdrukking opgebou het, ongedaan gemaak. GS 256.1
Toe het die bloed van die martelare nuwe stukrag aan die beweging gegee. Toe die pouslike leiers skielik wakker skrik vir die gevaar wat hulle saak bedreig, is sommige van die edelste en mees geëerde seuns van Skotland na die brandstapel gebring. Maar hulle het slegs ‘n kansel opgerig vanwaar die woorde van hierdie sterwende getuies oor die hele land gehoor is en wat die siel van die volk opgewek het tot ‘n onsterflike doel om die boeie van Rome af te werp. GS 256.2
Hamilton en Wishart, vorstelik van aard sowel as geboorte, met ‘n hele aantal nederige dissipels, het hul lewens op die brandstapel neergelê. Maar vanuit die brandende stapel van Wishart, het daar een gekom wat die vlamme nie kon stilmaak nie, iemand wat onder die leiding van God die doodsklok van die pousdom in Skotland sou laat lui. GS 256.3
John Knox het van die tradisies en mistisisme van die kerk weggedraai om homself met die waarhede van die Woord van God te voed; en die leer van Wishart het sy vasbeslotenheid bevestig om die kerk van Rome te laat vaar en by die vervolgde hervormers aan te sluit. GS 256.4
Aangespoor deur sy metgeselle om die amp van prediker te aanvaar, het hy met bewing vir die verantwoordelikheid daarvan teruggedeins en dit was eers na dae van afsondering en ‘n pynlike innerstryd, dat hy toegestem het. Maar nadat hy die posisie aanvaar het, het hy met onbuigsame vasberadenheid en onbetwisbare moed, terwyl die lewe voortgeduur het, vorentoe gebeur. Hierdie opregte hervormer het nie die mens gevrees nie. Die martelaarsvure wat om hom gebrand het, het slegs gedien om sy ywer tot groter intensiteit te versnel. Met die byl van die tiran dreigend oor sy kop gehou, het hy sy man gestaan en links en regs het hy stewige houe uitgedeel om afgodediens te verpletter. GS 256.5
Toe hy van aangesig tot aangesig voor die koningin van Skotland verskyn het, in wie se teenwoordigheid die ywer van menige leier van die Protestantisme vervaag het, het John Knox onwrikbaar vir die waarheid getuig. Liefkosings kon hom nie oorhaal nie; hy het nie vir dreigemente teruggedeins nie. Die koningin het hom van kettery beskuldig. Hy het die volk geleer om ‘n godsdiens wat deur die staat verbied is aan te neem, het sy verklaar en het dus die opdrag van God wat die volk beveel om aan hulle vorste gehoorsaam te wees oortree. Knox het met beslistheid geantwoord: GS 257.1
“Aangesien ware godsdiens oorspronklik nie die krag of gesag van wêreldse vorste ontvang het nie, maar van die ewige God alleen, is die onderdane nie gebonde om hul godsdiens volgens die raamwerk en begeertes van vorste op te stel nie. Want dikwels is die vorste die onkundigste van almal aangaande die ware godsdiens van God ... As al die nasate van Abraham die godsdiens van die Farao bely het, wie se onderdane hulle vir ‘n lang tydperk was, dan vra ek u madame, wat se godsdiens sou daar in die wêreld gewees het? Of as alle mense in die dae van die apostels, die godsdiens van die Roomse keisers bely het, watter godsdiens sou daar op die aarde gewees het? ... En so, madame, sal u kan sien dat die onderdane nie aan die godsdiens van hulle vorste gebonde is nie, al word hulle beveel om hulle te gehoorsaam.” GS 257.2
Maria het geantwoord: “Julle vertolk die Skrif op een manier en hulle, [die Rooms-Katolieke leraars], vertolk dit op ‘n ander manier; wie moet ek glo, en wie sal oordeel?” GS 257.3
“U moet God glo, wat duidelik in Sy Woord spreek...” het die hervormer geantwoord; “...en verder as wat die Woord leer, moet u nie die een, of die ander glo nie. Die Woord van God is op sigself duidelik en as daar op een plek onduidelikheid voorkom, verklaar die Heilige Gees, wat nooit met Homself in stryd is nie, dieselfde op ander plekke, sodat daar geen twyfel kan bestaan nie, behalwe vir diegene wat moedswillig onkundig bly.” — Laing, The Collected Works of John Knox, vol 2, bl 281 en 284. GS 257.4
Dit was die waarhede wat die vreeslose hervormer, in gevaar van sy lewe, in die oor van koninklikes verkondig het. Met dieselfde onwankelbare moed het hy by sy voorneme gehou, gebid en die stryd vir die Here gevoer totdat Skotland vry van die pousdom was. GS 258.1
In Engeland het die vestiging van Protestantisme as die nasionale godsdiens, vervolging laat afneem, maar dit is nie heeltemal gestaak nie. Alhoewel van baie van die leerstellings van Rome afstand gedoen is, het heelwat van die vormgodsdiens behoue gebly. Die oppergesag van die pous is verwerp, maar in sy plek is die monarg as hoof van die kerk gekroon. In die kerkdienste was daar steeds ‘n wye afwyking van die suiwerheid en eenvoud van die evangelie. Die groot beginsel van godsdiensvryheid is nog nie volkome verstaan nie. Hoewel die verskriklike wreedhede wat Rome teen ketters gepleeg het selde deur Protestantse heersers toegepas is, is die reg van elke mens om God volgens die voorskrifte van sy eie gewete te dien, nie erken nie. Almal moes die leerstellings aanvaar en die vorms van aanbidding wat deur die gevestigde kerk voorgeskryf is nakom. Andersdenkendes is vir honderde jare in ‘n geringer of groter mate vervolg. GS 258.2
In die sewentiende eeu is duisende predikante van hul ampte onthef. Die volk is verbied om, op las van swaar boetes, gevangenisstraf en verbanning, enige godsdienstige byeenkomste, behalwe soos deur die kerk goedgekeur, by te woon. Daardie getroue siele wat hulself nie daarvan kon weerhou om God te aanbid nie, moes noodgedwonge in donker stegies, obskure solderkamers en soms om middernag in die woud vergader. In die verskuilde dieptes van die woud, ‘n tempel deur God self gebou, het hierdie verstrooide en vervolgde kinders van die Here vergader om hul siele in gebed en lof uit te stort. Maar ondanks al hulle voorsorgmaatreëls, moes baie vir hulle geloof ly. Die tronke was stampvol. Gesinne is opgebreek. Baie is na vreemde lande verban. Maar God was met sy volk en vervolging kon nie die oorhand kry om hul getuienis te stil nie. Baie is oor die oseaan na Amerika verdryf en het hier die grondslag vir burgerlike en godsdienstige vryheid gelê, wat die vestiging en glorie van hierdie land was. GS 258.3
Weereens, net soos in die dae van die apostels, het vervolging tot die bevordering van die evangelie gelei. In ‘n afskuwelike kerker, vol diewe en misdadigers, het John Bunyan die atmosfeer van die hemel uitgeasem; en daar het hy sy wonderlike allegorie, van die Pilgrim’s Progress, geskryf. Vir meer as tweehonderd jaar lank spreek daardie stem vanuit die Bedford-gevangenis met opwekkende krag tot die harte van mense. Bunyan se Pilgrim’s Progress en Grace Abounding to the Chief of Sinners het baie voete op die lewensweg gerig. GS 259.1
Baxter, Flavel, Alleine en nog ander manne met talent, opleiding en ‘n diep Christelike ervaring, het opgestaan en die geloof wat eens aan die heiliges oorgelewer is, met dapperheid verdedig. Die werk wat hierdie manne verrig het, wat deur die heersers van hierdie wêreld verbied is, kan nooit vergaan nie. Flavel se Fountain of Life en Method of Grace het duisende geleer hoe om hulle siele vir bewaring aan Christus te gee. Baxter se Reformed Pastor was ‘n groot seën vir baie mense wat ‘n herlewing in die werk van God begeer het en sy Saints’ Everlasting Rest het sy werk verrig om siele na die rus wat vir die volk van God oorbly, te lei. GS 259.2
'n Honderd jaar later, in ‘n tyd van groot geestelike duisternis, het Whitefield en die Wesleys as ligdraers vir God verskyn. Onder die heerskappy van die gevestigde kerk, het die inwoners van Engeland in ‘n toestand van godsdienstige agteruitgang verval wat skaars van die heidendom onderskei kon word. Natuurlike godsdiens was die gunsteling-studie van die geestelikes en het die grootste deel van hul teologie behels. Die hoër klasse het vroomheid gesmaad en hulle daarop geroem dat hulle bo, wat hulle fanatisme noem, gestaan het. Die laer klasse was uiters onkundig en aan ondeug oorgelaat, terwyl die kerk nie meer die moed of geloof gehad het om die saak van waarheid te steun nie. GS 259.3
Die groot leerstelling van regverdiging deur geloof, wat Luther so duidelik geleer het, is byna heeltemal uit die oog verloor; en die Roomse beginsel van vertroue op goeie werke tot redding, het die plek daarvan ingeneem. Whitefield en die Wesleys, lede van die gevestigde kerk, was opregte soekers na die guns van God en dit, is hulle geleer, moes deur ‘n deugsame lewe en die nakoming van die verordeninge van godsdiens verkry word. GS 260.1
Toe Charles Wesley op ‘n stadium siek geword het en daar vir sy lewe gevrees is, is aan hom gevra waarop hy sy hoop vir die ewige lewe berus. Sy antwoord was: “Ek het my beste pogings aangewend om God te dien.” Toe dit lyk asof die vriend wat die vraag gestel het nie heeltemal met die antwoord tevrede was nie, het Wesley gedink: “Wat! Is my pogings nie voldoende grond vir hoop nie? Sou hy my van my pogings beroof? Ek het niks anders om op te vertrou nie.” — John Whitehead, Life of the Rev Charles Wesley, bl 102. Dit was die digte duisternis wat oor die kerk gekom het, wat die versoening verberg het, wat Christus van sy heerlikheid beroof het en wat die harte van die mense van hul enigste hoop op redding afgewend het, naamlik die bloed van die gekruisigde Verlosser. GS 260.2
Wesley en sy medewerkers is gelei om te sien dat ware godsdiens in die hart gesetel is en dat die wet van God tot die gedagtes, sowel as die woorde en strek. Oortuig van die noodsaaklikheid van heiligheid van hart, sowel as die korrektheid van uiterlike optrede, het hulle in alle erns ‘n nuwe lewe begin. Met alle ywer en gebed, het hulle probeer om die boosheid van die natuurlike hart te onderwerp. Hulle het ‘n lewe van selfverloëning, liefdadigheid en nederigheid gelei en met groot noukeurigheid elke maatstaf geneem wat volgens hulle nuttig sou wees om dit wat hulle die meeste begeer te verkry - die heiligheid wat die guns van God kon verseker. Maar hulle het nie gekry waarna hulle gesoek het nie. Hulle pogings om hulself van die veroordeling van sonde te bevry en om die mag daarvan te verbreek, was tevergeefs. Dit was dieselfde stryd wat Luther in sy sel in Erfurt beleef het. Dit was dieselfde vraag wat sy siel gemartel het — “Hoe kan ‘n mens regverdig wees by God?” (Job 9:2). GS 260.3
Die vure van Goddelike waarheid wat byna op die altare van Protestantisme uitgedoof is, moes weer deur die vroeëre fakkel wat deur die Boheemse Christene van eeu tot eeu oorgedra is, aangesteek word. Na die hervorming, is Protestantisme in Boheme deur die hordes van Rome vertrap. Almal wat geweier het om die waarheid te versaak, moes noodgedwonge vlug. Sommige van hulle wat hul toevlug tot Sakse gevind het, het die vroeëre geloof daar gehandhaaf. Dit was van die nageslag van hierdie Christene, wat Wesley en sy medewerkers die lig ontvang het. GS 261.1
John en Charles Wesley, nadat hulle tot die bediening georden is, is op ‘n sending na Amerika gestuur. Aan boord van die skip waarmee hulle gereis het, was ‘n geselskap Morawiërs. Hewige storms is op see teëgekom en John Wesley, wat van aangesig tot aangesig met die dood gebring is, het gevoel dat hy nie die versekering van vrede met God gehad het nie. Die Duitsers het egter ‘n kalmte en vertroue wat hy nie geken het nie, geopenbaar. GS 261.2
“Ek het lank tevore...” het hy gesê, “...die groot erns van hul optrede opgemerk. Hulle het voortdurende bewys van hul nederigheid gelewer, deur hulle diensbaarheid teenoor die ander passasiers in take wat niemand van die Engelse sou onderneem nie; waarvoor hulle geen beloning wou ontvang nie en gesê het dat dit goed vir hul trotse harte was en dat hul liefdevolle Verlosser meer vir hulle gedoen het. En elke dag het aan hulle die geleentheid gebied om ‘n sagmoedigheid wat deur geen onreg beweeg kon word nie, te toon. As hulle gestoot, geslaan of rondgegooi is, het hulle weer opgestaan en weggegaan, maar nooit het ‘n klag oor hulle lippe gekom nie. Hier was nou ‘n geleentheid om hulle op die proef te stel om te sien of hulle van die gees van vrees sowel as van hoogmoed, woede en wraak verlos was. Te midde van die psalm waarmee hulle hul diens begin het, het ‘n vloedgolf oor die skip gebreek, die skip oorstroom en tussen die dekke ingestort asof die groot diepte ons reeds verswelg het. ‘n Groot gegil het onder die Engelse uitgebreek, maar die Duitsers het kalm aangehou sing. Ek het een van hulle agterna gevra: ‘Was julle nie bang nie?’ Hy het geantwoord: ‘Ek dank God, nee.’ Weer het ek gevra: ‘Maar was julle vrouens en kinders nie bang nie?’ Weer het hy saggies geantwoord: ‘Nee; ons vrouens en kinders is nie bang om te sterf nie.’” — Whitehead, Life of the Rev John Wesley, bl 10. GS 261.3
Met hulle aankoms in Savanna het Wesley vir ‘n tydjie by die Morawiërs gebly en was diep onder die indruk van hul Christelike lewenswyse. Van een van hulle godsdienstige dienste, in opvallende kontras met die lewelose formalisme van die Kerk van Engeland, het hy geskryf: “Die groot eenvoud sowel as die plegtigheid van die geheel, het my byna van die sewentien-honderd jaar wat verloop het, laat vergeet en ek het my verbeel dat ek in een van daardie byeenkomste was waarin vorm of staat nie bestaan het nie; maar Paulus, die tentmaker, of Petrus, die visserman, as voorganger met die betoning van Gees en in krag opgetree het.” — Whitehead, Life of the Rev John Wesley, bl 11, 12. GS 262.1
Met sy terugkeer na Engeland het Wesley, onder leiding van ‘n Morawiese prediker, tot ‘n duideliker begrip van die Bybelse geloof gekom. Hy was oortuig daarvan dat hy afstand moes doen van alle afhanklikheid van sy eie werke tot redding en dat hy volkome op “die Lam van God” wat die sonde van die wêreld wegneem, moet vertrou. Op ‘n vergadering van die Morawiese genootskap in Londen, is ‘n verklaring van Luther voorgelees, waarin die verandering wat die Gees van God in die hart van die gelowige werk, beskryf. Terwyl Wesley geluister het, het geloof in sy siel ontvlam. “Ek het gevoel hoedat my hart op ‘n vreemde wyse verwarm word,” het hy gesê. “Ek het gevoel dat ek op Christus en Christus alleen, vir saligheid vertrou; en ek is die versekering gegee dat Hy my sondes weggeneem het en my van die wet van die sonde en die dood verlos het.” — Id, bl 52. GS 262.2
Deur lang jare van moeisame en troostelose strewe, jare van streng selfverloëning, van smaad en vernedering, het Wesley onwrikbaar aan sy een doel, om God te soek, vasgehou. Nou het hy Hom gevind en hy het gevind dat die genade wat hy geswoeg het om deur gebede en vas, deur aalmoes en selfvernedering te verkry, ‘n geskenk, “...sonder geld en sonder prys... ” was. GS 263.1
Eenmaal in die geloof van Christus gevestig, was sy hele siel brandend met ‘n begeerte om die kennis van die heerlike evangelie van die vrye genade van God, te versprei. “Ek beskou die hele wêreld as my gemeente” het hy gesê. “In watter deel ek my ook al mag bevind, oordeel ek dat dit reg en my plig is om aan almal wat bereid is om te hoor, die blye boodskap van verlossing te verkondig.” — Id, bl 74. GS 263.2
Hy het sy streng en selfverloënende lewe voortgesit, nie meer as grond vir nie, maar as gevolg van sy geloof; nie as die wortel nie, maar as die vrug van heiligheid. Die genade van God in Christus, is die grondslag van die Christen se hoop en daardie genade sal in gehoorsaamheid manifesteer. Wesley se lewe was aan die prediking van die groot waarhede wat hy ontvang het gewy - regverdiging deur geloof in die versoeningsbloed van Christus en die vernuwende krag van die Heilige Gees in die hart, wat vrugte in ooreenstemming met die voorbeeld van Christus dra. GS 263.3
Whitefield en die Wesleys is vir hulle werk voorberei deur lang en skerp persoonlike oortuigings van hul eie verlore toestand; en ten einde hulle in staat te stel om beproewing soos goeie soldate van Christus te verduur, is hulle aan die vurige beproewing van smaad, bespotting en vervolging blootgestel, beide in die universiteit en in hulle bediening. Hulle en ‘n paar ander wat met hulle gesimpatiseer het, is veragtend deur hul goddelose medestudente ‘Metodiste’ genoem — ‘n naam wat tans deur een van die grootste denominasies in Engeland en Amerika as eerbaar beskou word. GS 264.1
As lede van die Kerk van Engeland, was hulle geheg aan haar vorms van aanbidding, maar die Here het in Sy Woord ‘n hoër standaard aan hulle voorgehou. Die Heilige Gees het hulle gedring om Christus te verkondig en Hom gekruisig. Die krag van die Allerhoogste het hulle in hulle werk bygestaan. Duisende is oortuig en het hulle opreg bekeer. Dit was nodig dat hierdie skape teen verskeurende wolwe beskerm moes word. Wesley het nie daaraan gedink om ‘n nuwe denominasie te vorm nie, maar hy het hulle onder die sogenaamde ‘Methodist Connection‘ georganiseer. GS 264.2
Misterieus en vermoeiend was die teenstand wat hierdie predikers van die gevestigde kerk teëgekom het; nogtans het God in Sy wysheid die gebeure oorheers om die hervorming binne die kerk self te laat ontstaan. As dit heeltemal van buite gekom het, sou dit nie waar dit so nodig was kon binnedring nie. Maar omdat die herlewingspredikers kerkmanne was en binne die kerk gewerk het soos die geleentheid hom voorgedoen het, het die waarheid ingang gevind waar die deure andersins gesluit sou gebly het. Sommige van die geestelikes is uit hul morele bedwelming wakker geskud en het ywerige predikers in hul eie gemeentes geword. Kerke wat deur formalisme versteen was, is tot lewe opgewek. GS 264.3
In Wesley se tyd, soos in al die eeue van die geskiedenis van die kerk, het manne met verskillende gawes hul aangewese werk verrig. Hulle het nie op alle punte van die leer ooreengestem nie, maar almal is deur die Gees van God beweeg en in die allesoorheersende doel om siele vir Christus te wen, verenig. Die verskille tussen Whitefield en die Wesleys het op ‘n tyd gedreig om vervreemding te skep; maar terwyl hulle sagmoedigheid in die skool van Christus geleer het, het onderlinge verdraagsaamheid en liefde hulle versoen; hulle het geen tyd gehad om aan ‘n geredekawel te verspil, terwyl dwaling en ongeregtigheid oral geheers het en sondaars besig was om verlore te gaan nie. GS 264.4
Die diensknegte van God het ‘n moeilike pad betree. Invloedryke en geleerde manne het hulle kragte teen hulle saamgespan. Na verloop van tyd, het baie van die predikante ‘n besliste vyandigheid geopenbaar en die deure van die kerk was teen suiwer geloof en diegene wat dit verkondig het gesluit. Die optrede van die predikante om hulle vanaf die kansel te veroordeel, het die elemente van duisternis, onkunde en ongeregtigheid opgewek. John Wesley het telkens die dood vrygespring deur ‘n wonderwerk van die genade van God. Wanneer die woede van die gepeupel teen hom opgewek was en daar geblyk het geen kans was om te ontsnap nie, het ‘n engel in menslike gedaante aan sy sy kom staan, die gepeupel laat terugval en die dienskneg van Christus het die plek van gevaar met veiligheid verlaat. GS 265.1
Aangaande sy verlossing van die woedende skare by een van hierdie geleenthede, het Wesley gesê: “Baie, wat van mening was dat as ek eers op die grond was, ek nie weer sou kon opstaan nie, het probeer om my op die grond neer te werp terwyl ons met ‘n gladde pad van die heuwel na benede gestap het. Maar ek het geensins gestruikel en glad nie gegly nie, totdat ek heeltemal buite hulle bereik was ... Hoewel baie van hulle my aan my kraag of klere probeer gryp het om my neer te vel, kon hulle geen houvas op my kry nie; net een het die lapel van my onderbaadjie beetgekry, wat spoedig in sy hand agtergelaat is; die ander lapel, in die sak waarvan ‘n banknoot was, was halfpad afgeskeur ... ‘n Frisgeboude man net agter my, het verskeie kere met ‘n dik eikehout-stok op my toegeslaan wat, indien hy my eenkeer daarmee agter my kop getref het, ‘n tweede skoot onnodig sou wees. Maar die slag is elke keer afgewend; hoe weet ek nie, want ek kon nie links of regs beweeg om te koes nie ... ‘n Ander een het deur die gedrang aangestorm en sy arm opgelig om my te slaan, toe hy dit skielik laat sak, oor my kop streel en sê “Wat se sagte hare het hy...” Die heel eerste mense wie se harte ‘n ommekeer ondergaan het, was die helde van die stad, die leiers van die gepeupel by elke geleentheid; een van hulle was ‘n baas vuisvegter in die biertuine. GS 265.2
“Hoe geleidelik berei God ons nie voor vir Sy wil nie! Twee jaar gelede het ‘n stuk baksteen my skouer skrams getref. ‘n Jaar daarna het ‘n klip my tussen die oë getref. Verlede maand het ek een hou gekry en vanaand twee; een voordat ons die stad binnegekom het en een nadat ons die stad verlaat het; maar albei was soos niks, want hoewel een man my met alle mag op die bors geslaan het en die ander met soveel krag op my mond dat die bloed sommer dadelik gevloei het, het ek geen erger pyn van beide houe ervaar as wat hulle my met ‘n strooitjie sou aanraak nie.” — Wesley’s Works, vol 3, bl 297, 298. GS 266.1
Die Metodiste van daardie vroeë dae — lidmate sowel as predikers — het bespotting en vervolging verduur van beide kerklidmate en openlike ongelowiges wat deur wanvoorstellings aangevuur is. Hulle is voor geregshowe gedaag, maar geregshowe slegs in naam, want daar het destyds min geregtigheid in die howe bestaan. Dikwels het hulle geweld onder hulle vervolgers verduur. Die gepeupel het van huis tot huis gegaan, meubels en besittings vernietig, geplunder soos hulle wou en mans, vrouens en kinders wreedaardig mishandel. GS 266.2
In sommige gevalle is openbare kennisgewings gepos, waarin diegene wat wou help om die vensterruite van Metodiste te breek en hulle huise te beroof, versoek is om op bepaalde tye en plekke bymekaar te kom. Hierdie openlike oortredings van beide menslike en Goddelike wette, is sonder teregwysing toegelaat. ‘n Stelselmatige vervolging het teen ‘n volk wie se enigste fout was om die voete van sondaars weg van die pad van verdoemenis na die pad van heiligmaking te lei plaasgevind. GS 266.3
Met verwysing na die beskuldigings teen hom en sy medewerkers, het John Wesley gesê: “Sommige beweer dat die leerstellings van hierdie manne vals, foutief en entoesiasties is; dat hulle nuut en tot onlangs toe, onbekend was; dat hulle Kwakers, fanaties en Rooms is. Hierdie voorwendsels is reeds tot op die wortel oopgekerf, omdat daar algemeen bewys is dat elke vertakking van hierdie leerstellings die duidelike leerstellings van die Skrif is, wat deur ons eie kerk vertolk word. Daarom, mits die Skrif waar is, kan dit nie vals of verkeerd wees nie ... Ander beweer ‘hulle leerstelling is te streng; hulle maak die pad na die hemel te smal.’ En dit is inderwaarheid die oorspronklike beswaar (aangesien dit ‘n geruime tyd die enigste beswaar was) en is heimlik die grondslag van ‘n duisend meer, wat in verskillende vorms voorkom. Maar maak hulle die weg na die hemel nouer as wat onse Here en Sy apostels dit gemaak het? Is hulle leer strenger as dié van die Bybel? Dink aan slegs enkele tekste: ‘Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag ... Elke ydel woord wat die mense praat, daar moet hulle rekenskap van gee in die oordeelsdag ... Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.’ GS 267.1
“As hulle leerstelling strenger as dit is, moet hulle die skuld kry; maar julle weet in julle hart dat dit nie so is nie. En wie kan een jota minder streng wees sonder om die Woord van God te skend? Kan enige rentmeester van die verborgenhede van God, getrou wees as hy enige deel van daardie heilige uitsprake verander? Nee. Hy kan geen afbreuk daaraan doen nie en niks versag nie; hy is onder verpligting om aan alle mense te verklaar: ‘Ek mag die Skrif nie verlaag om by julle smaak aan te pas nie. Julle moet ten volle daarby aanpas, of vir ewig vergaan.’ Dit is die werklike grondslag van die ander gewilde beskuldiging aangaande die ‘liefdeloosheid van hierdie mense.’ Is hulle liefdeloos? In watter opsig? Voed hulle nie die hongeriges en kleed hulle nie die naaktes nie? ‘Nee, dit is nie die vraag nie: hulle skiet nie in hierdie dinge kort nie: maar hulle is liefdeloos in hulle oordeel! Hulle meen dat niemand gered kan word, behalwe diegene wat hulle pad bewandel nie.’” — Wesley’s Works, vol 3, bl 152, 153. GS 267.2
Die geestelike agteruitgang wat net voor die tyd van Wesley in Engeland gemanifesteer het, was tot ‘n groot mate die gevolg van teenstrydige leringe. Baie het voorgehou dat Christus die sedewet afgeskaf het en dat Christene derhalwe nie onder verpligting was om dit na te kom nie; dat gelowiges van die “slawerny van goeie werke” bevry is. Ander, hoewel hulle die onverganklikheid van die wet erken het, het verklaar dat dit onnodig vir predikante was om die volk tot gehoorsaamheid aan die voorskrifte te vermaan, aangesien diegene wat deur God tot die saligheid uitverkies is, “...deur ‘n onweerstaanbare drang van Goddelike genade, tot ‘n lewe van vroomheid en deugsaamheid gelei sou word...” terwyl diegene wat vir die verdoemenis bestem is, “...geen krag het om die Goddelike wet te gehoorsaam nie.” GS 268.1
Andere wat ook die mening toegedaan was dat “...die uitverkorenes nie van die genade kon verval of die Goddelike guns kon verbeur nie...” het tot ‘n nog erger gevolgtrekking gekom, naamlik “...dat die goddelose dade wat hulle pleeg, nie werklik sonde is nie en ook nie as skending van die Goddelike wet beskou kan word nie en dat dit gevolglik nie vir hulle nodig was om hulle sondes te bely of dit deur bekering te versaak nie.” — McClintock and Strong’s Cyclopaedia, art “Antinomians”. Daarom het hulle verklaar dat selfs van die ergste sondes, “...wat algemeen as ‘n skending van die Goddelike wet beskou word, nie ‘n sonde in die oë van God is nie...” as dit deur een van die uitverkorenes gepleeg word nie ... omdat dit een van die wesenlike en kenmerkende eienskappe van die uitverkorenes is dat hulle niks kan doen wat God mishaag of wat deur die wet verbied is nie.” GS 268.2
Hierdie monsteragtige leerstellings is in wese dieselfde as die latere leerstellings van populêre opvoeders en teoloë, naamlik dat daar geen onveranderlike Goddelike wet as maatstaf van geregtigheid is nie, maar dat die maatstaf van sedelikheid deur die samelewing self aangedui word en voortdurend aan verandering onderhewig is. Al hierdie idees is deur dieselfde meestergees geïnspireer — deur hom wat, selfs onder die sondelose bewoners van die hemel sy werk begin het om die regverdige beperkings van die wet van God te probeer afbreek. GS 269.1
Die leerstelling van die Goddelike verordeninge, wat die karakter van mense onveranderlik vasgestel het, het baie mense gelei tot ‘n feitlike verwerping van die wet van God. Wesley het die dwalings van die teenstrydige leraars onwrikbaar teëgestaan en daarop gewys dat hierdie leerstelling wat tot teenstrydigheid lei, in stryd met die Skrif was. “Die genade van God wat redding bring, het aan almal verskyn ... Dit is goed en aanvaarbaar in die oë van God, ons Verlosser; wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal.” (Titus 2:11; 1 Tim 2:3-6). Die Gees van God word vryelik geskenk, om elke mens in staat te stel om die middele tot redding aan te gryp. Christus, “...die waaragtige Lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.” (Joh1:9.) Mense verbeur die saligheid deur hul eie moedswillige weiering van die gawe van die lewe. GS 269.2
In antwoord op die bewering dat die voorskrifte van die dekaloog saam met die seremoniële wet met die dood van Christus afgeskaf is, het Wesley gesê: “Christus het nie die morele wet, soos vervat in die tien gebooie en deur die profete afgedwing, weggeneem nie. Dit was nie die doel van Sy koms om enige deel hiervan af te skaf nie. Dit is ‘n wet wat nooit verbreek kan word nie, wat ‘...vasstaan as die getroue getuie in die hemel.’ Dit het bestaan vanaf die begin van die wêreld, ‘...geskrywe nie op kliptafels nie...', maar op die harte van alle mensekinders, toe dit uit die hand van die Skepper gekom het. GS 269.3
En hoe die woorde wat eenmaal deur die vinger van God geskryf is, vandag ook al tot ‘n groot mate deur sonde geskend is, kan hulle nogtans nie, terwyl ons nog enigsins bewus van goed en kwaad is, heeltemal uitgewis word nie. Elke deel van hierdie wet moet op die hele mensdom en in alle eeue van krag bly; omdat dit nie afhang van tyd of plek of enige ander veranderlike omstandighede nie, maar van die natuur van God en die natuur van die mens en hul onveranderlike verwantskap aan mekaar. GS 270.1
“'Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.’ Sonder twyfel is Sy bedoeling hiermee (dit is ooreenkomstig alles wat voorafgaan en later volg), ‘Ek het gekom om die wet in sy volheid te bevestig ten spyte van al die byvoegsels van mense: Ek het gekom om alles wat duister en verborge daarin is ten volle duidelik te stel; Ek het gekom om die ware en volle betekenis van elke deel te verklaar; om die lengte en breedte, die volle omvang van elke gebod daarin uit te wys en die hoogte en diepte, die onbegryplike reinheid en geestelikheid daarvan in al sy vertakkings.’” — Wesley’s Works, Preek 25. GS 270.2
Wesley het die perfekte harmonie van die wet en die evangelie verklaar. “Daar is dus die nouste verband denkbaar tussen die wet en die evangelie. Enersyds maak die wet voortdurend plek vir en wys dit ons op die evangelie; aan die anderkant lei die evangelie ons voortdurend tot ‘n meer presiese vervulling van die wet. Die wet vereis byvoorbeeld dat ons God moet liefhê, ons naaste moet liefhê, sagmoedig, nederig en heilig moet wees. Ons voel dat ons nie voldoen aan hierdie dinge nie; ja, dat dit vir die mens onmoontlik is; maar ons sien ‘n belofte van God om ons daardie liefde te gee en ons nederig, sagmoedig en heilig te maak. Ons gryp hierdie evangelie, hierdie blye tyding aan; dit word aan ons volgens ons geloof gebied; en ‘...die geregtigheid van die wet word in ons vervul,’ deur die geloof in Christus Jesus...” GS 270.3
“In die hoogste rang van die vyande van die evangelie van Christus...” het Wesley gesê, “...is dit diegene wat die ‘wet openlik en uitdruklik oordeel en kwaad spreek van die wet’; wat mense leer, om nie net een nie — of dit nou die geringste of die grootste gebod is — maar al die gebooie op een slag te verbreek (om dit te ontbind, los te maak, of die verpligtinge daarvan op te hef) ... Die verrassendste van al die omstandighede wat met hierdie sterk dwaling gepaard gaan, is dat diegene wat daaraan toegee, werklik glo dat hulle Christus vereer deur Sy wet omver te werp en dat hulle Sy amp verheerlik, terwyl hulle sy leer vernietig! Ja, hulle vereer Hom net soos Judas toe hy gesê het: ‘Gegroet, Rabbi!’ en Hom gesoen het. En Hy kan met reg aan elkeen van hulle sê: ‘Verraai jy die Seun van die mens met ‘n kus?’ Om van Sy bloed te praat en Sy kroon weg te neem; om enige deel van Sy wet te minag onder die voorwendsel om Sy evangelie te bevorder, is niks anders as om Hom met ‘n kus te verraai nie. Niemand, wat geloof op hierdie wyse verkondig, naamlik dat dit regstreeks of onregstreeks geneig is om enige deel van gehoorsaamheid af te skaf en wat verkondig dat Christus een van die minste van die gebooie van God tot niet maak of enigsins verswak, kan inderdaad hierdie beskuldiging vryspring nie.” — Wesley’s Works, Preek 35. GS 271.1
Aan diegene wat daarop aangedring het dat “...die prediking van die evangelie aan die eise van die wet voldoen...” het Wesley geantwoord: “Dit ontken ons ten sterkste. Dit beantwoord nie die heel eerste vereiste van die wet nie, naamlik om mense van sonde te oortuig en diegene wat op die rand van die hel slaap, wakker te skud.” Die apostel Paulus het verklaar dat “...deur die wet is die kennis van die sonde.” “Nie voordat ‘n mens van sonde oortuig is nie, sal hy werklik die behoefte aan die versoenende bloed van Christus ervaar nie ... 'Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is...’ het die Here gesê. Dit is dus belaglik om die geneesheer te ontbied vir diegene wat gesond is, of wat meen dat hulle nie siek is nie. Jy moet hulle eers oortuig dat hulle siek is, anders sal hulle jou nie bedank vir jou werk nie. Dit is ewe belaglik om Christus te verkondig aan diegene wie se hart heel is en nog nooit gebreek is nie.” — Wesley’s Works, Preek 35. GS 271.2
Terwyl Wesley dus die evangelie van die genade van God verkondig het, het hy gepoog om, soos sy Meester, die wet te vergroot en dit eerbaar te maak. Hy het getrou die werk wat God hom gegee het verrig en glorieryk was die vrugte wat hy toegelaat was om te sien. Aan die einde van sy lang lewe van meer as tagtig jaar, vyftig waarvan hy in sy bediening rondgereis het, het sy toegewyde aanhangers meer as ‘n halfmiljoen getel. Maar die menigte wat deur sy werk uit die ondergang en agteruitgang van sonde tot ‘n hoër en edeler lewe verhef is en die aantal wat deur sy leer ‘n dieper en ryker ervaring bereik het, sal nooit bekend wees voordat die hele gesin van verlostes in die koninkryk van God versamel is nie. Sy lewe bied ‘n les van onskatbare waarde vir elke Christen. Mag die geloof en nederigheid, die onvermoeide ywer, selfopoffering en toewyding van hierdie dienskneg van Christus in die kerke van vandag weerspieël word! GS 272.1