Die Groot Stryd (1911)
Hoofstuk 13—Nederland en Skandinawië
In Nederland het die pouslike tirannie baie vroeg reeds besliste protes uitgelok. Sewehonderd jaar voor Luther op die toneel verskyn het, is die Roomse pous, deur twee biskoppe, wat as gesante na Rome gegaan het en wat die ware karakter van die “heilige stoel” ontdek het, vreesloos beskuldig: “God het Sy koningin en eggenoot, die kerk, ‘n edele en ewige voorsiening vir haar gesin gemaak met ‘n bruidskat wat nie vervaag of vergaan nie en haar ‘n ewige kroon en septer gegee ... al hierdie voordele het u soos ‘n dief onderskep. U het uself in die tempel van God opgestel; in plaas van ‘n herder, het u ‘n wolf vir die skape geword ... U wil ons laat glo dat u ‘n opperbiskop is, maar u gedra u eerder soos ‘n tiran ... Terwyl u ‘n dienskneg van diensknegte moet wees, soos u uself noem, poog u om ‘n heer van die here te wees ... U bring die gebooie van God in minagting ... Die Heilige Gees is die opbouer van alle kerke oor die hele aarde ... Die stad van ons God, waarvan ons die burgers is, reik uit na alle dele van die hemele; en dit is groter as die stad wat deur die heilige profete Babilon genoem word, wat voorgee dat sy Goddelik is, wat haar met die hemel gelykstel en daarop roem dat haar wysheid onverganklik is; en ten slotte, wat voorgee, hoewel sonder rede, dat sy nooit gedwaal het of kan dwaal nie.” — Brandt, History of the Reformation in and About the Low Countries, vol 1, bl 6. GS 242.1
Ander het van eeu tot eeu opgestaan om hierdie protes te weerspieël. En die vroeë leraars wat in verskillende lande gereis en onder verskillende name bekend gestaan het, het die karakter van die Vaudois-sendelinge gehad en oraloor die kennis van die evangelie versprei en tot in Nederland deurgedring. Hulle leerstellings het vinnig versprei. Hulle het die Waldensiese Bybel in verse in Nederlands vertaal. Hulle het verklaar “...dat daar ‘n groot voordeel daarin was; geen geskerts, geen versinsels, geen kleinighede en geen bedrog nie, maar slegs die woorde van waarheid; dat daar wel hier en daar ‘n harde kors was, maar sodat die murg en soetheid van wat goed en heilig was, maklik daarin ontdek kon word.” — Id, vol 1, bl 14. So het die vriende van die antieke geloof, in die twaalfde eeu geskryf. GS 242.2
Toe het die Roomse vervolging begin; maar te midde van brandstapels en marteling, het die gelowiges steeds toegeneem en standvastig verklaar dat die Bybel die enigste onfeilbare gesag in die godsdiens is en dat “...niemand gedwing moet word om te glo nie, maar dat hy deur prediking gewen moes word.” — Martyn, vol 2, bl 87. GS 243.1
Die leer van Luther het vrugbare grond in Nederland gevind en ernstige en getroue manne het opgestaan om die evangelie te verkondig. Uit een van die provinsies van Holland, het Menno Simons gekom. Opgevoed as Rooms-Katoliek en tot priester georden, was hy heeltemal onkundig aangaande die Bybel en hy wou dit nie lees nie uit vrees dat hy tot ‘n dwaalleer verlei sou word. Toe ‘n twyfel oor die leer van transsubstansiasie oor hom gekom het, het hy dit as ‘n versoeking van die Satan gesien en deur gebed en belydenis probeer om homself daarvan te bevry, maar tevergeefs. Deur in buitensporige tonele betrokke te raak het hy probeer om die beskuldigende stem van sy gewete stil te maak, maar sonder dat dit hom gebaat het. Na ‘n tyd is hy gelei tot ‘n studie van die Nuwe Testament en dit, saam met Luther se geskrifte, het veroorsaak dat hy die Hervormde geloof aanvaar het. Kort daarna het hy in ‘n naburige dorp ‘n onthoofding van ‘n man wat om die lewe gebring is omdat hy herdoop is, gesien. Dit het hom daartoe gelei om die Bybel met betrekking tot die kinderdoop te bestudeer. Hy kon geen bewyse daarvoor in die Skrif vind nie, maar hy het ontdek dat bekering en geloof oral nodig was as voorwaarde om gedoop te word. GS 243.2
Menno het hom aan die Roomse Kerk onttrek en sy lewe aan die onderrig van die waarhede wat hy ontdek het gewy. In beide Duitsland en Nederland het ‘n tipe fanatici verrys, wat die absurde en oproerige leerstellings, wat ordelikheid en welvoeglikheid ondermyn het en tot geweld en opstand oorgegaan het, voorgestaan het. Menno het die verskriklike gevolge waartoe hierdie bewegings sou lei gesien en hy het die foutiewe leerstellings en fanatiese idees van die dwepers met alle mag teëgestaan. Daar was egter baie wat deur hierdie fanatici mislei is, maar wat later van hulle gevaarlike leerstellings afstand gedoen het en daar was nog baie nakomelinge van die vroeëre Christene, die vrugte van die Waldensiese leer. Onder hierdie klasse het Menno met groot ywer en sukses gewerk. GS 243.3
Vyf-en-twintig jaar lank het hy, met sy vrou en kinders, met ernstige ontberings en voorvalle en dikwels in gevaar van sy lewe rondgereis. Hy het Nederland en Noord-Duitsland deurkruis en hoofsaaklik onder die eenvoudiger klasse gewerk, maar ‘n wydverspreide invloed uitgeoefen. Van nature welsprekend, hoewel hy oor ‘n beperkte opvoeding beskik het, was hy ‘n man van onwrikbare integriteit, nederig van gees en sagmoedige maniere en opreg en vroom, wat die voorskrifte wat hy verkondig het in sy eie lewe geïllustreer het en hy het die vertroue van die volk afgedwing. Sy volgelinge is verstrooi en verdruk. Hulle het baie gely omdat hulle met die fanatiese Munsteriete verwar is. Tog het groot getalle onder sy arbeid tot bekering gekom. GS 244.1
Nêrens is die hervormde leerstellings meer algemeen aanvaar as in Nederland nie. In min ander lande het hul aanhangers heftiger vervolging verduur. In Duitsland het Karel V die hervorming verban en hy sou graag al die aanhangers daarvan na die brandstapel gestuur het, maar die vorste het soos ‘n versperring teen sy tirannie opgestaan. In Nederland het hy meer mag gehad en dekrete tot vervolging het mekaar vinnig opgevolg. Om die Bybel te lees, te hoor, of te preek, of selfs daaroor te praat, het die dood op die brandstapel beteken. Om heimlik tot God te bid, om te weier om voor ‘n beeld neer te buig, of om ‘n psalm te sing, was ook met die dood strafbaar. Selfs diegene wat hulle dwalinge afgesweer het, is veroordeel; die mans deur die swaard en die vrouens is lewendig begrawe. Duisende het onder die bewind van Karel en van Filippus II omgekom. GS 244.2
Op ‘n keer is ‘n hele gesin voor die inkwisiteurs gebring, wat daarvan aangekla is dat hulle van die mis weggebly en tuis aanbid het. Die jongste seun het tydens sy verhoor na hul geheime praktyke geantwoord: “Ons val op ons knieë en bid dat God ons verstand sal verlig en ons sondes sal vergewe; ons bid vir ons koning, dat sy regering voorspoedig en sy lewe gelukkig mag wees. Ons bid vir ons magistrate dat God hulle mag bewaar.” — Wylie, vol 18, hfst 6. Sommige van die regters was diep ontroer, maar die vader en een van sy seuns is op die brandstapel tereggestel. GS 245.1
Die woede van die vervolgers is deur die geloof van die martelare geëwenaar. Nie slegs die mans nie, maar verfynde vroue en jongmeisies het onwrikbare moed aan die dag gelê. “Vroue sou dikwels hulle plek by hul eggenoot op die brandstapel inneem en terwyl hy die vuur verduur het, sou hulle trooswoorde fluister of psalmsing om hom op te beur.” “Jongmeisies het lewend in hul graf gaan lê, asof hulle in hul slaapkamer op hulle bed vir die nag gaan Iê het; of hulle het na die brandstapel gegaan, in hul beste klere geklee, asof hulle in die huwelik gaan tree.” — Wylie, vol 18, hfst 6. GS 245.2
Soos in die dae toe die heidendom gepoog het om die evangelie te vernietig, was die bloed van Christene die saad. (Sien Tertullianus “Apology par 50.) Vervolging het die getal getuies vir die waarheid laat toeneem. Jaar na jaar is die monarg tot waansin gedryf deur die onoorwinlike standvastigheid van die volk en is hy in sy wrede werk aangespoor, maar tevergeefs. Onder die edele Willem van Oranje het die Revolusie uiteindelik vryheid om God te aanbid aan Nederland besorg. GS 245.3
In die berge van Piedmont, op die vlaktes van Frankryk en die oewers van Holland, is die vooruitgang van die evangelie met die bloed van die dissipels gemerk. Maar in die noordelike lande, het dit vreedsame toegang gevind. Studente van Wittenberg, wat na hulle huise teruggekeer het, het die hervormde geloof na Skandinawië geneem. Die publikasie van Luther se geskrifte het ook die lig versprei. Die eenvoudige, geharde volk van die noorde, het hulle van die korrupsie, die praal en die bygelowe van Rome afgewend, om die suiwerheid, die eenvoud en die lewegewende waarhede van die Bybel te verwelkom. GS 246.1
Tausen, “die hervormer van Denemarke,” was ‘n boerseun. Die seun het reeds vroeg getuig van ‘n kragtige intellek; hy het gedors na onderrig, maar weens die omstandighede van sy ouers, was dit hom nie beskore nie en gevolglik is hy na ‘n klooster. Hier het die reinheid van sy lewe, gekoppel met sy ywer en getrouheid, die guns van sy meerderes gewen. Sy eksamens het getoon dat hy talente besit het wat in die toekoms goeie diens vir die kerk beloof het. Daar is besluit om hom na een van die universiteite van Duitsland of Nederland vir opleiding te stuur; die jong student het toestemming ontvang om vir homself te kies, maar op een voorwaarde, dat hy nie na Wittenberg mag gaan nie. Hierdie student van die kerk moes nie deur die gif van kettery bedreig word nie. So het die monnike gesê. GS 246.2
Tausen is na Keulen, wat destyds, soos tans, een van die vestings van Katolisisme was. Hier is hy spoedig gewalg deur die mistisisme van die skoollui. Omstreeks dieselfde tyd het hy Luther se geskrifte in die hande gekry. Hy het dit met verbasing en verwondering gelees en wou graag persoonlike onderrig van die hervormer ontvang. Maar om dit te kon doen, moes hy die gevaar loop om sy kloosterhoof aanstoot te gee en sy ondersteuning te verbeur. Sy besluit is spoedig geneem en kort voor lank is hy as ‘n student by Wittenberg ingeskryf. GS 246.3
Met sy terugkeer na Denemarke is hy terug na sy klooster. Niemand het hom tot dusver van Lutheranisme verdink nie; hy het nie sy geheim verklap nie, maar probeer om, sonder om die vooroordele van sy metgeselle op te wek, hulle na ‘n suiwerder geloof en ‘n heiliger lewe te lei. Hy het die Bybel oopgemaak en die ware betekenis daarvan verklaar en uiteindelik Christus aan hulle as die Geregtigheid van die sondaar en sy enigste hoop op redding verkondig. Groot was die toorn van die kloosterhoof wat soveel hoop op hom as ‘n dapper verdediger van Rome gevestig het. Hy is dadelik van sy eie klooster na ‘n ander verwyder en onder streng toesig tot sy sel beperk. GS 247.1
Tot die verskrikking van sy nuwe bewakers, het verskeie van die monnike hulself spoedig as bekeerlinge tot protestantisme verklaar. Deur die tralies van sy sel, het Tausen kennis van die waarheid aan sy metgeselle meegedeel. As daardie Deense vaders vaardig was om kettery te hanteer, sou Tausen se stem nooit weer gehoor gewees het nie; maar in plaas daarvan om hom in ‘n ondergrondse kerker te begrawe, het hulle hom uit die klooster verdryf. Nou was hulle magteloos. ‘n Koninklike bevel wat pas uitgereik is, het beskerming aan al die leraars van die nuwe leer verleen. Tausen het begin preek. Die kerke is vir hom oopgestel en die volk het daarheen gestroom om hom te hoor. Ander het ook die woord van God verkondig. Die Nuwe Testament wat in die Deense taal vertaal is, is wyd en syd versprei. Die pogings wat die priesters aangewend het om die werk omver te werp, het daartoe gelei dat dit uitgebrei het en kort voor lank het Denemarke verklaar dat hulle die Hervormde geloof aanvaar het. GS 247.2
Ook in Swede, het jongmanne wat uit die fontein van Wittenberg gedrink het, ook die water van die lewe na hulle landgenote geneem. Twee van die leiers van die Sweedse hervorming, Olaf en Laurentius Petri, die seuns van ‘n smid van Orebro, het onder Luther en Melanchthon gestudeer en hulle was ywerig om die waarhede wat hulle aldus geleer het te verkondig. Soos die groot hervormer, het Olaf die mense deur sy ywer en welsprekendheid gewek, terwyl Laurentius, soos Melanchthon, geleerd, bedagsaam en kalm was. Albei was manne van ywerige vroomheid, hoë teologiese bekwaamheid en onophoudelike moed om die waarheid te bevorder. Pouslike opposisie het nie ontbreek nie. Die Katolieke priesters het die ongeletterde en bygelowige volk opgestook. Olaf Petri is dikwels deur die gepeupel aangeval en het by verskeie geleenthede skaars met sy lewe ontsnap. Hierdie hervormers het egter die koning begunstig en beskerm. GS 247.3
Onder die heerskappy van die Roomse Kerk, het die mense in armoede versink en is deur verdrukking platgeslaan. Hulle het nie toegang tot die Skrif gehad nie en met ‘n godsdiens van blote tekens en seremonies wat geen lig aan die gees oorgedra het nie, het hulle na die bygelowige oortuigings en heidense praktyke van hul heidense voorouers teruggekeer. Die nasie was verdeeld tussen strydende faksies waarvan die voortdurende getwis almal in ellende gedompel het. Die koning het besluit op ‘n hervorming van kerk en staat en hy het hierdie bekwame helpers in die stryd teen Rome verwelkom. GS 248.1
In die teenwoordigheid van die koning en die leiers van Swede het Olaf Petri, met groot bekwaamheid, die leerstellings van die hervormde geloof, teen die Roomse kampvegters verdedig. Hy het verklaar dat die leringe van die kerkvaders slegs aanvaar moes word indien dit in ooreenstemming met die Skrif was; dat die wesenlike leerstellings van die geloof op ‘n duidelike en eenvoudige wyse in die Bybel aangebied word, sodat alle mense dit kan verstaan. Christus het gesê: “My leer is nie Myne nie, maar van Hom wat My gestuur het...” en Paulus het verklaar dat as hy ‘n ander evangelie sou verkondig as wat hy ontvang het, hy ‘n vervloeking sou wees. (Joh 7:16; Gal 1:8) “Hoe dan...” het die hervormer gesê, “...sal ander hulle die reg aanmatig om dogmas na goeddunke vas te stel en op te lê as dinge wat nodig is tot redding?” — Wylie, vol 10, hfst 4. Hy het daarop gewys dat die verordeninge van die kerk geen gesag het indien dit in teenstelling met die opdragte van God is nie en het GS 248.2
die groot Protestantse beginsel, dat “...die Bybel en die Bybel alleen...” die reël van geloof en praktyk is, gehandhaaf. GS 249.1
Hierdie stryd, alhoewel dit op ‘n relatief duister stadium aangebied is, dien om aan ons te toon, “...watter soort manne die rangorde van die leër van die hervormers gevorm het. Hulle was nie ongeletterde, sektariese, luidrugtige kontroverte nie — ver daarvan; hulle was manne wat die Woord van God bestudeer het en goed geweet het hoe om die wapens waarmee die Bybel hulle voorsien het, te gebruik. Ten opsigte van geleerdheid, was hulle hul ouderdom ver vooruit. As ons ons aandag op briljante sentrums soos Wittenberg en Zurich toespits en op sulke roemryke name soos dié van Luther, Melanchthon, Zwingli en Oecolampadius, is ons geneig om te hoor dat hierdie die leiers van die beweging was en natuurlik sou ons wonderbaarlike mag en groot aanwinste van hulle verwag; maar hulle ondergeskiktes was nie soos hulle nie. Wel, kom ons wend ons na die obskure teater van Swede en die nederige name van Olaf en Laurentius Petri - van die meesters tot die dissipels - en wat vind ons? ... Geleerdes en teoloë; manne wat die hele stelsel van die waarheid van die evangelie volkome verstaan het en wat ‘n maklike oorwinning oor die drogredenaars van die skole en die hoogwaardigheidsbekleërs van Rome behaal het.” — Wylie, vol 10, hfst 4. GS 249.2
As gevolg van hierdie dispute, het die koning van Swede die Protestantse geloof aanvaar en nie lank daarna nie, het die nasionale vergadering in sy guns verklaar. Die Nuwe Testament is deur Olaf Petri in die Sweedse taal vertaal en op versoek van die koning, het die twee broers die vertaling van die hele Bybel onderneem. So het die mense van Swede dus vir die eerste keer die Woord van God in hul moedertaal ontvang. Die Ryksdag het beveel dat predikante regdeur die koninkryk, die Skrifte moes verduidelik en dat die kinders in die skole geleer moes word om die Bybel te lees. GS 249.3
Stadig maar seker is die duisternis van onkunde en bygeloof deur die geseënde lig van die evangelie verdryf. Bevry van die Roomse onderdrukking, het die volk ‘n krag en grootheid bereik, wat hulle nog nooit tevore bereik het nie. Swede het een van die vestings van Protestantisme geword. ‘n Eeu later, in ‘n tyd van die ergste gevaar, het hierdie klein en tot dusver swak volkie — die enigste in Europa wat dit durf waag het om te help — tot die bevryding van Duitsland in die verskriklike stryd van die Dertigjarige Oorlog gekom. Dit het gelyk asof die hele Noord-Europa weer aan die tirannie van Rome onderwerp sou word. Dit was die leërs van Swede wat Duitsland in staat gestel het om die gety van pouslike sukses te keer, om verdraagsaamheid vir die Protestante te wen — Calviniste sowel as Lutherane — en die gewetensvryheid te herstel vir die lande wat die hervorming aanvaar het. GS 250.1