Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 21—Betesda en die Sanhedrin *
“En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort ‘n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betesda genoem word. Daarin het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het.” DKvDE 192.1
Op sekere tye was die water van hierdie poel in beroering gebring en daar was algemeen geglo dat dit die gevolg van bonatuurlike mag was en die een wat eerste daarna in die water gegaan het, van enige kwaal wat ‘n persoon onder lede gehad het, genees sou word. Honderde lydendes het die plek besoek; maar wanneer die water in beroering gebring is, was daar ‘n stormloop van mense, wat mans, vroue en kinders wat swakker as hulleself was, vertrap het. Baie kon nie naby die poel kom nie. Baie wat die rand daarvan bereik het, het daar gesterf. Skuilings is om die plek opgerig sodat die siekes teen die hitte van die dag en die koue van die nag beskut kon word. Sommige het die nag by hierdie bad deurgebring en elke dag na die rand van die poel, in ‘n vergeefse poging vir verligting, gekruip. DKvDE 192.2
Jesus was weer in Jerusalem. Hy het alleen, in oënskynlike oordenking en gebed, na die poel gestap. Hy het die ellendige lydendes gesien wat uitgekyk het vir ‘n geleentheid wat hulle gemeen het hul enigste kans vir genesing was. Hy het verlang om Sy genesende krag uit te oefen om elke lydende te genees. Maar dit was die Sabbat. Menigtes was op pad na die tempel vir aanbidding en Hy het geweet dat so ‘n daad van genesing die Jode se vooroordeel sou opwek en sodoende Sy werk sou kortwiek. DKvDE 192.3
Maar die Verlosser het een geval van uiterste ellende raakgesien. Dit was ‘n man wat vir agt-en-dertig jaar wat lank reeds ‘n hulpelose verlamde was. Sy siekte was tot ‘n groot mate die gevolg van sy eie sonde en is as die oordeel van God beskou. Die lydende, alleen en sonder vriende, het gevoel asof hy van God se barmhartigheid uitgesluit was en het lang jare van ellende gely. Wanneer daar verwag is dat die waters geroer sou word, het mense wat jammer vir hom was, hom na die bad gedra. Maar sodra die gunstige oomblik aangebreek het, was daar niemand om hom in te help nie. Hy het die roering van die water gesien, maar kon nooit verder as die rand van die bad vorder nie. Ander wat sterker as hy was, het voor hom in die water gegaan. Hy kon nie suksesvol met die selfsugtige, worstelende skare meeding nie. Sy volgehoue pogings om die een doel te bereik en sy angs en voortdurende teleurstelling, was vinnig besig om hom van sy laaste bietjie krag te ontneem. DKvDE 192.4
Die siek man het op sy mat gelê en net af en toe sy kop gelig om na die water te kyk, toe ‘n teer, deernisvolle gesig oor hom buig met die woorde, “Wil jy gesond word?” sy aandag in beslag neem. Hoop het in sy hart opgevlam. Hy het gedink dat hy op een of ander wyse hulp gaan kry. Maar die gloed van bemoediging het gou gekwyn. Hy het onthou hoe dikwels hy probeer het om by die bad uit te kom en hy het nou min hoop gehad om te lewe totdat die water weer in beroering sou kom. Hy het sy kop moeg weggedraai en geantwoord: “Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ‘n ander een voor my in.” DKvDE 193.1
Jesus het die lydende nie gevra om geloof in Hom te hê nie. Hy het eenvoudig gesê: “Staan op, neem jou bed op en loop.” Maar die man se geloof het daardie woorde vasgegryp. Elke senuwee en spier was deurtrek met nuwe lewe en daar was gesonde reaksie in sy verlamde ledemate. Sonder teëspraak het hy sy wil uitgeoefen om die bevel van Christus te gehoorsaam en al sy spiere het daarop gereageer. Terwyl hy op sy voete gespring het, het hy in homself ‘n aktiewe mens gevind. DKvDE 193.2
Jesus het hom geen versekering van Goddelike hulp gegee nie. Die man kon getwyfel het en so sy een kans om genees te word, verbeur het. Maar hy het Christus se woord geglo en deur daarop te reageer, het hy krag ontvang. DKvDE 193.3
Ons kan met dieselfde geloof geestelike genesing ontvang. As gevolg van sonde is ons van die lewe van God geskei. Ons siele is verlam. Uit onsself is ons nie méér in staat om ‘n heilige lewe te lei, as wat die magtelose man in staat was om te loop nie. Daar is baie wat hul hulpeloosheid besef en na daardie geestelike lewe, wat hulle in harmonie met God sal bring, verlang; hulle streef tevergeefs daarna om dit te bekom. In wanhoop roep hulle uit: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Romeine 7:24) Laat hierdie moedelose, worstelende mense hulle oë ophef. Die Verlosser buig oor hulle wie Hy met sy bloed gekoop het en met onuitspreeklike teerheid en ontferming sê Hy: “Wil jy gesond word?” Hy gebied jou om in gesondheid en vrede op te staan. Moenie wag om te voel dat jy genees is nie. Glo in Hom en dit sal vervul word. Maak jou wil aan Christus onderhewig. Rig jou wil om Hom te dien en wanneer jy volgens Sy woord handel, sal jy krag ontvang. Christus is in staat en verlang om, die beherende passie wat deur lang jare van toegewing beide siel en liggaam gebind het te verlos, wat die bose praktyk ook al mag wees. Hy sal lewe aan die siel bring wat “...dood was deur die misdade.” (Efesiërs 2:1). Hy sal die gevangene wat deur swakheid en ongeluk en die kettings van sonde gebind word, bevry. DKvDE 194.1
Die geneesde verlamde het gebuk om sy bed, wat slegs uit ‘n mat en kombers bestaan het, op te tel en toe hy weer met ‘n gevoel van vreugde orent kom, het hy rondgekyk om sy Verlosser te sien; maar Jesus het reeds in die skare verdwyn. Die man was bang dat hy Hom nie sou herken as hy Hom weer sien nie. Toe hy met veerkragtige tred daar uitgestap en God geloof het, terwyl hy hom in sy nuwe krag verheug het, het hy etlike Fariseërs teëgekom en hulle dadelik van sy genesing vertel. Hy was verbaas oor die kilheid waarmee hulle na sy verhaal geluister het. DKvDE 194.2
Met fronsende wenkbroue het hulle hom in die rede geval en gevra waarom hy sy bed op die Sabbat dra. Hulle het hom streng daaraan herinner dat dit nie wettig is om op die dag van die Here laste te dra nie. In sy blydskap het die man vergeet dat dit die Sabbat was; tog het hy geen veroordeling ervaar vir die gehoorsaamheid aan die opdrag van Een wat oor sulke krag van God beskik het nie. Onbevrees het hy geantwoord: “Hy wat my gesond gemaak het, Hy het vir my gesê: Neem jou bed op en loop.” Hulle het gevra wie dit gedoen het, maar hy kon nie sê nie. Hierdie owerstes het goed geweet dat daar slegs Een was wat getoon het dat Hy in staat was om sulke wonderwerke te verrig; maar hulle wou regstreekse bewys hê dat dit Jesus was, sodat hulle Hom as ‘n Sabbatskender kon veroordeel. Volgens hulle oordeel het Hy nie net die wet oortree deur die man op die Sabbat te genees nie, maar ook heiligskending gepleeg deur hom te beveel om sy bed te dra. DKvDE 195.1
Die Jode het so ‘n verwronge begrip van die wet gehad dat hulle dit ‘n juk van slawerny gemaak het. Hul betekenislose bepalings het ‘n spreekwoord onder ander nasies geword. Die Sabbat is veral deur allerlei sinnelose beperkings ingeperk. Die heilige dag van die Here was nie vir hulle ‘n verlustiging en eerbaar nie. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het die onderhouding daarvan ‘n ondraaglike las gemaak. Vir ‘n Jood was dit nie geoorloof om op die Sabbat ‘n vuur aan te steek of selfs ‘n kers op te steek nie. As gevolg hiervan was die volk van die heidene afhanklik vir baie dienste wat hulle, volgens hulle reëls ,verbied was om self te verrig. Dit het hulle nie getref dat as hierdie dade sondig was, diegene wat ander gekry het om die werk vir hulle te doen, net so skuldig was asof hulle dit self gedoen het nie. Hulle het gemeen dat verlossing net tot die Jode beperk was, en aangesien die toestand van ander mense hopeloos was, dit sake nie vir hulle sou vererger nie. Maar God het geen gebooie gegee wat nie deur almal gehoorsaam kon word nie. Sy wette keur geen onredelike of selfsugtige beperkings goed nie. DKvDE 195.2
In die tempel het Jesus die man wat Hy genees het, teëgekom. Hy het gekom om ‘n sondoffer en ook ‘n dankoffer vir die groot genade wat hy ontvang het te bring. Toe Jesus hom onder die aanbidders vind, het hy Homself aangekondig met die woorde: “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” DKvDE 196.1
Die geneesde man was verheug om sy Verlosser te ontmoet. Onkundig oor die vyandigheid teenoor Jesus, het hy aan die Fariseërs wat hom uitgevra het, vertel dat dit Hy was wat hom genees het. “Hieroor het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die Sabbat gedoen het.” DKvDE 196.2
Jesus is voor die Sanhedrin gedaag om op die klag van Sabbatskending te reageer. As die Jode in hierdie tyd ‘n onafhanklike nasie was, sou hierdie aanklag aan hulle doel voldoen het om Hom te dood. Hul onderworpenheid aan die gesag van Rome het dit egter belet. Die Jode was nie by magte om die doodstraf toe te pas nie en die beskuldigings teen Christus sou in die Romeinse hof geen gewig gedra het nie. Maar daar was ander doelwitte wat hulle gehoop het om te bereik. Ondanks hul pogings om Sy werk teë te gaan, het Christus, selfs in Jerusalem, groter invloed as hulle oor die volk uitgeoefen. Menigtes wat nie in die opswepery van die rabbi’s belanggestel het nie, is deur Sy leringe aangetrek. Hulle kon Sy woorde verstaan en hul harte het warm geword en is vertroos. Hy het van God gepraat, nie as ‘n wraaksugtige Regter nie, maar as ‘n deernisvolle Vader en Hy het die beeld van God geopenbaar soos dit in Homself weerspieël was. Sy woorde was soos balsem vir die gewonde gees. Deur sowel Sy woorde as Sy dade van barmhartigheid, het hy die onderdrukkende krag van die ou tradisies en mensgemaakte gebooie verbreek en die liefde van God in sy onuitputlike volheid aangebied. DKvDE 196.3
In een van die vroegste profesieë aangaande Christus staan daar geskryf: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nog die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.” (Genesis 49:10). Die mense het om Christus geskaar. Die ontvanklike harte van die skare het Sy lesse van liefde en welwillendheid bo die rigiede seremonies wat die priesters afgedwing het, aangeneem. As die priesters en rabbi’s nie tussenbeide getree het nie, sou Sy leer ‘n hervorming teweeggebring het soos die wêreld nog nooit beleef het nie. Maar om hul eie mag te handhaaf, was hierdie leiers vasberade om die invloed van Jesus te verbreek. Deur Hom voor die Sanhedrin te daag en ‘n openlike veroordeling van Sy leringe, sou help om dit te bewerkstellig; want die volk het steeds groot ontsag vir hul godsdiensleiers gekoester. Wie dit gewaag het om die voorskrifte van die rabbi’s te veroordeel of om die laste wat hulle die volk opgelê het te verlig, was nie slegs aan godslastering nie, maar ook aan verraad skuldig bevind. Op grond hiervan het die rabbi’s gehoop om agterdog teen Christus te wek. Hulle het te kenne gegee dat Hy gepoog het om die gevestigde gebruike omver te werp en sodoende verdeeldheid onder die volk te veroorsaak en die weg vir volkome onderwerping deur die Romeine te berei. DKvDE 197.1
Maar die planne wat hierdie rabbi’s so ywerig aan die werk was om te vervul, het hul oorsprong in ‘n ander raadsbesluit as dié van die Sanhedrin gehad. Nadat Satan nie daarin kon slaag om Christus in die woestyn te oorwin nie, het hy sy magte georden om Hom in sy bediening teë te staan en indien moontlik Sy werk te stuit. Wat hy nie deur regstreekse, persoonlike optrede kon regkry nie, sou hy nou deur middel van strategie bewerkstellig. Skaars het hy hom aan die konflik in die woestyn onttrek, of hy het met sy engele beraadslaag om die verstand van die Joodse volk nog verder af te stomp, sodat hulle hul Verlosser nie sou herken nie. Hy het beplan om deur menslike agentskappe in die godsdienstige wêreld te werk, deur hulle met sy eie vyandigheid teen die Kampvegter vir die waarheid te besiel. Hy sou hulle lei om Christus te verwerp en Sy lewe so moeilik moontlik te maak, in die hoop om Hom in Sy missie te ontmoedig. En die leiers van Israel het instrumente van Satan geword om teen die Verlosser te veg. DKvDE 197.2
Jesus het gekom om “...die onderwysing groot en heerlik te maak.” (Jesaja 42:21) Hy het nie die waardigheid daarvan verlaag nie, maar dit verhoog. Die Skrif sê: “Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie.” (Jesaja 42:4) Hy het gekom om die Sabbat van die swaar vereistes, wat dit ‘n vloek in plaas van ‘n seën gemaak het, te bevry. DKvDE 198.1
Om hierdie rede het Hy die Sabbat gekies om die man in Betesda te genees. Hy kon die sieke op enige ander dag van die week genees het; of Hy kon hom genees het sonder om hom te gebied om sy bed te dra. Maar dit sou nie aan Hom die geleentheid waarna Hy gesoek het gebied het nie. ‘n Wyse doel onderlê elke daad van Christus se lewe op aarde. Alles wat Hy gedoen het, was op sigself belangrik, asook die onderrig daarvan. Onder die geteisterdes by die bad het Hy die ergste geval uitgesoek om Sy genesende krag uit te oefen en die man te gebied om sy bed deur die stad te dra, om die groot wonderwerk wat vir hom gedoen is, bekend te maak. Dit sou die vraag laat ontstaan van wat op die Sabbat geoorloof was en sou die weg vir Hom open om die beperkinge van die Jode ten opsigte van die dag van die Here aan die kaak te stel en hul tradisies nietig te verklaar. DKvDE 198.2
Jesus het aan hulle gesê dat die werk om verligting aan die geteisterdes te bring, in ooreenstemming met die Sabbatswet was. Dit was in harmonie met die werk van God se engele, wat voortdurend op en af tussen die hemel en die aarde beweeg om die lydende mensdom te bedien. “My Vader werk tot nou toe...” het Hy verklaar “...en Ek werk ook.” Al die dae behoort aan God om Sy planne vir die menslike geslag uit te voer. As die Jode se vertolking van die wet korrek was, dan het die Here, Wie se werk dit was om lewe aan alle lewende wesens te gee en te onderhou, gefouteer; dan moet Hy, wat gesê het dat Sy werk goed was en die Sabbat ingestel het om die voltooiing van die Skepping te herdenk, Sy werk beëindig en ‘n einde maak aan die ewige werkinge van die heelal. DKvDE 198.3
Moet God die son verbied om op die Sabbat te skyn, om sy weldadige strale om die aarde te verwarm en die plantegroei te voed, weerhou? Moet die ganse stelsel van die heelal op die heilige dag stilstaan? Moet Hy die strome belet om veld en woude te benat en die golwe van die see gebied om hul eindelose eb en vloed te staak? Moet die gesaaides ophou groei en die druiwetros sy rypwording uitstel? Moet die bome en blomme geen botsel of bloeisel op die Sabbat uitstoot nie? DKvDE 199.1
In daardie geval sou die mens die vrugte van die aarde en al die seëninge wat die lewe die moeite werd maak, moes ontbeer. Die natuur moet voortgaan op sy onveranderlike weg. Indien God Sy hand vir een oomblik sou onttrek, sal die mens vergaan. En die mens het ook werk om op hierdie dag te verrig. Daar moet aandag aan lewensnoodsaaklikhede geskenk word, die siekes moet versorg word en daar moet in die behoeftes van die behoeftiges voorsien word. Die een wat nalaat om lyding op die Sabbat te verlig, sal nie onskuldig wees nie. God se heilige rusdag is vir die mens gemaak en dade van barmhartigheid is in perfekte harmonie met die bedoeling daarvan. Dit is nie God se wil dat Sy skepsele ‘n uur se pyn moet verduur wat op die Sabbat of enige ander dag verlig kan word nie. DKvDE 199.2
Die eise wat aan God gestel word is selfs hoër op die Sabbat as op ander dae. Dan staak Sy kinders hul gewone werksaamhede en bestee hul tyd aan oordenking en aanbidding. Op die Sabbat rig hulle meer versoeke om guns tot Hom as op ander dae. Hulle vra vir Sy besondere aandag. Hulle smag na Sy rykste seëninge. God wag nie tot na afloop van die Sabbat voor Hy hul gebede verhoor nie. Die werk van die hemel hou nooit op nie en die mens moet nooit rus om goed te doen nie. Die Sabbat is nie bedoel as ‘n tydperk van nuttelose onaktiwiteit nie. Die wet verbied sekulêre arbeid op die rusdag van die Here; die geswoeg vir lewensonderhoud moet gestaak word; geen arbeid vir wêreldse plesier of wins is op dié dag is geoorloof nie; maar soos God Sy skeppingswerk gestaak en op die Sabbat gerus en dit geseën het, moet die mens sy daaglikse beroep laat vaar en daardie gewyde ure aan gesonde rus, aanbidding en heilige dade wy. Die werk van Christus om siekes te genees, was in ooreenstemming met die wet. Dit het die Sabbat vereer. DKvDE 199.3
Jesus het op gelyke regte met God aanspraak gemaak om ‘n ewige, heilige werk, met dieselfde karakter as waarmee die Vader in die hemel besig is, te verrig. Maar dit het die Fariseërs nog meer ontstoke gemaak. Nie alleen het Hy, volgens hulle begrip, die wet oortree nie, maar deur God “...Sy eie Vader... ” te noem, het Hy Homself gelykstaande aan God verklaar. (Sien Johannes 5:18). DKvDE 200.1
Die hele Joodse volk het God hul Vader genoem en daarom sou hulle nie so woedend gewees het as Christus Homself voorgestel het as dat Hy in dieselfde verhouding tot God gestaan het nie. Maar hulle het Hom van godslastering beskuldig en daardeur getoon dat hulle verstaan dat Hy hierdie aanspraak in die volste sin maak. DKvDE 200.2
Hierdie teëstanders van Christus het geen teenargument teen die waarheid waarmee Hy hul gewete aangespreek het, gehad nie. Hulle kon slegs hul gewoontes en tradisies noem en dit het swak en vaal in vergelyking met die argumente wat Jesus uit die Woord van God en die eindelose werking van die natuur aangevoer het, getoon. As die rabbi’s enigsins begerig was om lig te ontvang, sou hulle oortuig gewees het dat Jesus die waarheid praat. Maar hulle het Sy stellings aangaande die Sabbat vermy en probeer om kwaadwilligheid teen Hom op te sweep omdat Hy Hom gelyk met God geag het. Die woede van die owerstes het geen perke geken nie. As hulle nie die volk gevrees het nie, sou die rabbi’s en priesters Jesus daar en dan gedood het. Maar die gewilde sentiment was baie sterk in Sy guns. Baie het in Jesus die vriend herken wat hul siektes genees en hulle smarte vertroos het en hulle het die genesing van die verlamde man van Betesda geregverdig. Die leiers was dus verplig om hul haat te beteuel. DKvDE 200.3
Jesus het die aanklag van godslastering verwerp. “My gesag vir die werk waaroor julle My beskuldig...” het Hy gesê, “...is dat Ek die Seun van God is, een met Hom in aard, in wil en doel. In al Sy werk van skepping en voorsiening, werk Ek saam met God.” “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie.” Die priesters en rabbi’s het die Seun van God juis oor dié werk wat Hy gestuur is om in die wêreld te kom doen bestraf. Deur hul sondes het hulle hulself van God vervreem en in hul trots het hulle onafhanklik van Hom beweeg. Hulle het hulleself as voldoende vir enigiets geag en geen behoefte aan ‘n Hoër wysheid om hul dade te rig, ervaar nie. Maar die Seun van God was oorgegee aan die wil van die Vader en was van Sy mag afhanklik. Christus was so volkome van self geledig, dat Hy geen planne vir Homself beraam het nie. Hy het God se planne vir Hom aanvaar en die Vader het dag vir dag Sy planne ontvou. So moet ons dus ook van God afhanklik wees, sodat ons lewens die eenvoudige uitwerking van Sy wil kan wees. DKvDE 201.1
Toe Moses die heiligdom as woning vir God sou bou, was hy gelas om alles te maak volgens die voorbeeld wat op die berg aan hom getoon is. Moses was vol ywer om die werk van God te doen; die talentvolste, vaardigste manne was byderhand om sy opdragte uit te voer. Maar, hy moes geensins ‘n klokkie, ‘n granaat, ‘n tossel, fraiing of gordyn of enige ander voorwerp vir die heiligdom maak nie, behalwe volgens die voorbeeld wat aan hom getoon is. God het hom na die berg ontbied en die hemelse dinge aan hom geopenbaar. Die Here het hom met Sy eie heerlikheid bedek, sodat hy die voorbeeld kon sien en daarvolgens is alle dinge gemaak. So het Hy aan Israel, onder wie Hy Sy woonplek wou maak, Sy glorieryke ideale karakter geopenbaar. Die voorbeeld is in die berg aan hulle voorgehou toe die wet vanaf Sinai afgekondig is en toe die Here voor Moses verbygegaan en hy uitgeroep het: “Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe.” (Exodus 34:6,7). DKvDE 201.2
Israel het hul eie weë gekies. Hulle het nie by die voorbeeld gebly nie; maar Christus, die ware tempel vir die inwoning van God, het elke detail van Sy lewe op aarde volgens die ideaal van God ingerig. Hy het gesê: “Ek het lus, o my God, om U welbehae te doen, en U wet is binne-in my ingewande.” (Psalm 40:9). Dus moet ons karakters gebou word “...tot ‘n woning van God in die Gees.” (Efesiërs 2:22). En so moet ons alles maak “...volgens die voorbeeld...” (Hebreërs 8:5) ja, van Hom wat vir ons gely het “...en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg.” (1 Petrus 2:21). DKvDE 202.1
Die woorde van Christus leer dat ons onsself onlosmaaklik aan ons Vader in die hemel moet verbind. Ongeag ons posisie, is ons van God afhanklik, wat alle lotgevalle in Sy hande hou. Hy het vir ons ons werk aangewys en ons met bekwaamhede en hulpmiddels vir daardie werk toegerus. Solank ons die wil aan God onderwerp en op Sy krag en wysheid vertrou, sal ons op veilige weë gelei word om ons aangewese rol in Sy groot plan te vervul. Maar wie van sy eie wysheid en krag afhanklik is, skei homself van God af. In plaas daarvan om in eenheid met Christus te werk, vervul hy die doel van die vyand van God en mens. DKvDE 202.2
Die Verlosser het vervolg: “Want alles wat Hy [die Vader] doen, dit doen die Seun ook net so. Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil.” Die Sadduseërs het geglo dat daar geen opstanding van die liggaam is nie, maar Jesus het aan hulle gesê dat een van die grootste werke van Sy Vader is, om die dooies op te wek en dat Hy self oor die mag beskik om dieselfde werk te doen. “Daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.” Die Fariseërs het in die opstanding van die dooies geglo. Christus het verklaar dat die mag wat die dooies lewend maak, selfs nou onder hulle is en dat hulle die manifestasie daarvan sal aanskou. Hierdie selfde Opstandingsmag gee lewe aan die siel wat “...dood was deur die misdade en die sondes.” (Efesiërs 2:1). Daardie gees van lewe in Christus Jesus, “...die krag van Sy opstanding...” (Filippense 3:10), maak mense vry “...van die wet van die sonde en die dood.” (Romeine 8:2). Die heerskappy van die Bose is verbreek en deur geloof word die siel van sonde bewaar. Wie sy hart vir die Gees van Christus oopstel, word deelagtig aan die magtige Krag wat sy liggaam uit die graf sal voortbring. DKvDE 203.1
Die nederige Nasarener het Sy ware edelheid gehandhaaf. Hy het bo die mensdom uitgestyg, die dekmantel van sonde en skande afgewerp en, geopenbaar as die Geëerde van die engele, die Seun van God, een met die Skepper van die heelal gestaan. Sy toehoorders was betower. Niemand het nog ooit sulke woorde geuiter, of Homself met so ‘n houding van koninklike majesteit gehandhaaf nie. Sy uitsprake was helder en duidelik wat Sy sending en die plig van die wêreld volledig verklaar het. “Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie ... Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.” DKvDE 203.2
Die priesters en owerstes het hulself as regters aangestel om die werk van Christus te veroordeel, maar Hy het Homself as hulle Regter en Regter van die hele wêreld verklaar. Die wêreld is aan Christus toevertrou en deur Hom het elke seën van God na die gevalle ras gekom. Hy was die Verlosser, voor en na Sy vleeswording. Met die ontstaan van die sonde, was daar ‘n Verlosser. Hy het aan almal lig en lewe gegee en na gelang van die lig wat gegee is, sal elkeen geoordeel word. En Hy wat die lig gegee het, Hy wat die siel met die sagmoedigste smeking gevolg en gestreef het om dit van sonde na heiligheid oor te haal, is tegelyk sy Advokaat en sy Regter. Sedert die aanvang van die groot stryd in die hemel, het Satan sy saak deur misleiding gehandhaaf; en Christus het gewerk om sy planne te onthul en sy mag te verbreek. Dit is Hy, wat die bedrieër deur al die eeue heen teëgestaan het en gepoog het om die gevangenes uit sy greep te verlos, wat elke siel sal oordeel. DKvDE 204.1
En God het aan Hom “...mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.” Omdat Hy die beker van menslike verdrukking en versoeking tot die droesem geledig het en die swakhede en sondes van die mens verstaan; omdat Hy ter wille van ons oor die versoekings van Satan getriomfeer het en regverdig en met deernis met die siele, vir wie Hy Sy eie bloed gestort het om hulle te red, sal handel; om hierdie rede is die Seun van die mens as Regter aangestel om die oordeel uit te voer. DKvDE 204.2
Maar Christus se sending was nie om te oordeel nie, maar om te red. “God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” (Johannes 3:17). En voor die Sanhedrin het Jesus verklaar: “Wie My woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” DKvDE 204.3
Christus het sy toehoorders aangesê om hulle nie te verwonder nie en toe het Hy, met nog meer insig, die verborgenhede van die toekoms voor hulle oopgestel: “Daar kom ‘n uur...” het Hy gesê, “...wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor en sal uitgaan-die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.” DKvDE 205.1
Hierdie versekering van die toekomstige lewe was dit wat Israel so lank voor gewag het en wat hulle gehoop het om met die koms van die Messias te ontvang. Die enigste lig wat die somberheid van die graf kon verlig, het oor hulle geskyn. Maar die eiesinnigheid is blind. Jesus het die tradisies van die rabbi’s oortree, hul gesag verontagsaam en hulle wou nie glo nie. DKvDE 205.2
Die tyd, die plek, die geleentheid, die intensiteit van die gevoel wat die vergadering deurdring het, het alles saamgespan om die woorde van Jesus voor die Sanhedrin meer indrukwekkend te maak. Die hoogste godsdienstige owerhede van die land het die lewe van Hom wat Homself as die Restoureerder van Israel verklaar het, gesoek. Die Here van die Sabbat is voor ‘n aardse regter gedaag om die aanklag van oortreding van die Sabbatswet te beantwoord. Toe Hy Sy sending so onverskrokke verklaar het, het Sy regters Hom met verbasing en woede aangekyk; maar hulle kon nie op Sy woorde antwoord nie. Hulle kon Hom nie veroordeel nie. Hy het die priesters en rabbi’s se reg om Hom te ondervra, of met Sy werk in te meng, ontken. Geen sodanige gesag is aan hulle gegee nie. Hulle aansprake het op hul eie trots en arrogansie berus. Hy het geweier om skuld op hul aanklagte te erken of om deur hulle tereggewys te word. DKvDE 205.3
In stede daarvan om verskoning te vra vir die daad waarvan hulle Hom aangekla het, of om Sy doel daarmee te verduidelik, het Jesus Hom na die owerstes gewend en die beskuldigde het die beskuldiger geword. Hy het hulle oor die hardheid van hul harte en hul onkunde oor die Skrifte bestraf. Hy het verklaar dat hulle die woord van God verwerp het, in soverre hulle Hom wat God gestuur het, verwerp het. “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.” DKvDE 205.4
Die Ou-Testamentiese Geskrifte word op elke bladsy, of dit nou geskiedenis, voorskrif, of profesie is, bestraal met die heerlikheid van die Seun van God. Wat die Goddelike instelling betref, was die hele stelsel van Judaïsme ‘n gekompakteerde profesie van die evangelie. Aangaande Christus het “...al die profete...” getuig. (Handelinge 10:43). Vanaf die belofte wat aan Adam gegee is, deur die patriargale lyn en regsinstellings, het die hemel se glorieryke lig die voetstappe van die Verlosser duidelik gemaak. Sieners het die Ster van Betlehem, die Silo wat sou kom aanskou, terwyl die toekomstige dinge in ‘n raaiselagtige optog voor hulle uitgetrek het. Elke offerande het van die dood van Christus getuig. Sy geregtigheid het in elke wolk van wierook opgevaar. Met elke jubeljaar het die trompet Sy naam uitgebasuin. In die ontsagwekkende verborgenheid van die allerheiligste het Sy heerlikheid geskyn. DKvDE 206.1
Die Jode het die Skrifte in hul besit gehad en het gedink dat hulle bloot in die uiterlike kennis van die Woord die ewige lewe het. Maar Jesus het gesê: “Julle het Sy woord nie as iets blywends in julle nie.” Nadat hulle Christus in Sy woord verwerp het, het hulle Hom persoonlik verwerp. “Julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie...” het Hy gesê. DKvDE 206.2
Die Joodse leiers het die leerstellings van die profete aangaande die koninkryk van die Messias bestudeer; maar hulle het dit nie met ‘n opregte begeerte om die waarheid te wete te kom gedoen nie, maar met die doel om bewyse te vind om hul ambisieuse hoop te handhaaf. Toe Christus teenstrydig met hul verwagtinge gekom het, wou hulle Hom nie ontvang nie; en om hulself te regverdig, het hulle probeer om Hom as ‘n bedrieër te bewys. Nadat hulle hierdie koers ingeslaan het, was dit maklik vir Satan om hul weerstand teen Christus te verstewig. Die woorde wat as bewys van Sy Goddelikheid deur hulle ontvang moes word, is teen Hom gedraai. Sodoende het hulle die waarheid van God in ‘n leuen verander en hoe meer direk die Verlosser met hulle in Sy werk van barmhartigheid gepraat het, hoe meer vasbeslote was hulle om die lig te weerstaan. DKvDE 206.3
Jesus het gesê: “Eer neem Ek van die mense nie aan nie.” Dit was nie die invloed van die Sanhedrin of hul goedkeuring wat Hy begeer het nie. Hul goedkeuring kon Hom geen eer aandoen nie. Hy was met die eer en gesag van die Hemel beklee. Indien Hy so begeer het, sou engele gekom het om aan Hom hulde te bring; die Vader sou weer van sy Godheid getuig het. Maar ter wille van hulleself en ter wille van die nasie wie se leiers hulle was, het Hy verlang dat die Joodse leiers Sy karakter moes onderskei en die seëninge ontvang wat Hy vir hulle kom bring het. DKvDE 207.1
“Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hom sal julle aanneem.” Jesus het op die gesag van God gekom, Sy Beeld gedra, Sy Woord vervul en Sy heerlikheid gesoek; tog is Hy nie deur die leiers in Israel aanvaar nie; maar wanneer ander sou kom met die aanname van die karakter van Christus, maar deur hul eie wil gemotiveer en na hul eie eer sou soek, sou hulle aanvaar word. En waarom? Omdat hy wat sy eie eer soek, ‘n beroep doen op die begeerte na selfverheffing in ander. Die Jode kon op sulke beroepe reageer. Hulle sou die valse leraar aanneem omdat hy hul trots gevlei het deur hul gekoesterde opinies en tradisies te onderskraag. Maar die leer van Christus het nie met hul idees saamgeval nie. Dit was geestelik en het selfopoffering vereis; daarom wou hulle dit nie aanneem nie. Hulle het God nie geken nie en vir hulle was Sy stem deur Christus die stem van ‘n vreemdeling. DKvDE 207.2
Word dieselfde nie in ons dag nie herhaal nie? Is daar nie baie, selfs godsdienstige leiers, wat hul harte teen die Heilige Gees verhard en dit vir hulle onmoontlik maak om die stem van God te herken nie? Verwerp hulle nie die woord van God om hul eie tradisies te onderhou nie? DKvDE 208.1
“As julle Moses geglo het...” het Jesus gesê, “...sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?” Dit was Christus wat deur Moses met Israel gespreek het. As hulle na die Goddelike stem wat deur hul groot leier gepraat het geluister het, sou hulle dit in die leringe van Christus herken het. As hulle Moses geglo het, sou hulle Hom van wie Moses geskryf het, geglo het. DKvDE 208.2
Jesus het geweet dat die priesters en rabbi’s vasbeslote was om Sy lewe te neem; tog het Hy duidelik Sy eenheid met die Vader en sy verhouding tot die wêreld vir hulle uiteengesit. Hulle het besef dat hul verset teen Hom sonder verskoning was, maar hul moorddadige haat sou nie geblus word nie. Vrees het hulle aangegryp toe hulle die oortuigende krag van sy bediening gadegeslaan het, maar hulle het Sy oproepe weerstaan en hulself in duisternis omsluit. DKvDE 208.3
Hulle het grootliks gefaal om die gesag van Jesus te ondermyn of om die aandag van die mense te vervreem, waarvan baie van hulle deur Sy woorde oortuig is. Die owerstes self het diep veroordeel gevoel toe Hy hulle skuld aan hul gewetes tuisgebring het; tog het dit hulle net meer verbitterd teen Hom gemaak. Hulle was vasbeslote om Sy lewe te neem. Hulle het boodskappers deur die hele land gestuur om die mense teen Jesus as bedrieër te waarsku. Spioene is gestuur om Hom dop te hou en sy doen en late te rapporteer. Die kosbare Verlosser was nou gewis in die skaduwee van die kruis. DKvDE 208.4