Die Koning van die Eeue

23/88

Hoofstuk 22—Die Gevangenskap en Dood van Johannes *

Johannes die Doper was die eerste om die koninkryk van Christus aan te kondig en hy was ook die eerste wat daaronder sou ly. Weg van die vry lug van die woestyn en die groot skare wat aan sy woorde gehang het, was hy nou binne die mure van ‘n kerker vasgekeer. Hy het ‘n gevangene in die vesting van Herodes Antipas geword. Johannes se bediening het hoofsaaklik in die gebied oos van die Jordaan, wat onder die jurisdiksie van Antipas geval het, plaasgevind. Herodes het self na die prediking van die Doper geluister. Die losbandige koning het gesidder onder die oproep tot bekering. “Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy ‘n regverdige en heilige man was ... en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister.” Johannes het getrou met hom omgegaan en sy sondige verbintenis met Herodias, sy broer se vrou, veroordeel. Herodes het ‘n tyd lank halfhartig probeer om die ketting van wellus wat hom gebind het te verbreek; maar Herodias het hom des te meer vaster in haar web gespin en wraak op die Doper geneem deur Herodes te oorreed om hom in die gevangenis te werp. DKvDE 209.1

Die lewe van Johannes was een van aktiewe arbeid en die somberheid en onaktiwiteit van sy gevangenislewe het swaar op hom gedruk. Na week vir week verbygegaan het sonder enige verandering, het neerslagtigheid en twyfel aan hom begin knaag. Sy dissipels het hom nie versaak nie. Hulle het toegang tot die gevangenis verkry en tydings van die werke van Jesus na hom gebring en vertel hoe die mense na Hom stroom. Maar hulle het bevraagteken hoekom Hy, indien hierdie nuwe Leraar die Messias was, niks gedoen het om Johannes se vrylating te bewerkstellig nie. Hoe kon Hy toelaat dat Sy getroue voorloper van sy vryheid en moontlik sy lewe ontneem word? DKvDE 209.2

Hierdie vrae was nie sonder effek nie. Twyfel wat andersins nooit sou ontstaan het nie is aan Johannes gesuggereer. Satan was verheug om die woorde van hierdie dissipels te hoor en te sien hoe dit die siel van die Here se boodskapper gekneus het. Hoe dikwels gebeur dit dat diegene wat hulself as vriende van ‘n goeie man beskou en gretig is om hulle getrouheid aan hom te betoon, sy gevaarlikste vyande is! Hoe dikwels, in stede daarvan om sy geloof te versterk, veroorsaak hulle woorde depressie en moedeloosheid! DKvDE 210.1

Soos die dissipels van die Verlosser, het Johannes die Doper nie die aard van die koninkryk van Christus verstaan nie. Hy het verwag dat Jesus die troon van Dawid sou bestyg; en met verloop van tyd toe die Verlosser geen aanspraak op koninklike gesag gemaak het nie, het Johannes verward en ontsteld geraak. Hy het aan die volk verklaar dat die profesie van Jesaja vervul moet word om die weg vir die Here voor te berei; die berge en heuwels moet verlaag word, wat krom is reguit en ruwe plekke gelyk. Hy het gewag dat die hoogtes van menslike trots en mag neergewerp moet word. Hy het na die hoë plekke van menslike trots gekyk en die mag om dit neer te werp. Hy het na die Messias gewys as die Een wie sal uitwan en Sy dorsvloer deeglik sal skoonmaak, wat die graan in Sy skuur sal versamel en die kaf met ‘n onblusbare vuur sal verbrand. Soos die profeet Elia, in wie se gees en krag Hy na Israel gekom het, het hy verwag dat die Here Hom as ‘n God wat met vuur antwoord, moet openbaar. DKvDE 210.2

In sy sending het die Doper as ‘n onverskrokke teregwyser van ongeregtigheid, teenoor die vernames, sowel as die geringes, gestaan. Hy het gewaag om koning Herodes onomwonde op sy sondes te wys. Hy het sy lewe nie kosbaar geag ten einde sy aangewese werk te volbring nie. En nou het hy, uit sy kerker, na die Leeu uit die stam van Juda gekyk om die trots van die onderdrukker neer te werp en die armes en treurendes te verlos. Maar dit het voorgekom asof Jesus tevrede was om dissipels om Hom te versamel en die mense te genees en te leer. Hy het aan die tafels van die tollenaars geëet, terwyl die Romeinse juk elke dag swaarder op Israel gerus het, terwyl koning Herodes en sy afstootlike minnares hulle eie wil gevolg het en die uitroepe van die armes en lydendes ten hemele gestyg het. DKvDE 210.3

Vir die woestyn-profeet was dit alles ‘n raaisel wat hy nie kon peil nie. Daar was ure wanneer die influistering van demone sy gees gemartel het en die skaduwee van ‘n verskriklike vrees oor hom gekruip het. Kon dit wees dat die langverwagte Verlosser nog nie verskyn het nie? Wat sou dan die betekenis van die boodskap wees wat hy self genoodsaak was om te dra? Johannes was bitter teleurgesteld in die uitslag van sy sending. Hy het verwag dat die boodskap van God dieselfde uitwerking sou hê as toe die wet in die dae van Josia en Esra voorgelees is; (sien 2 Kronieke 34; Nehemia 8,9) dat daar ‘n diepgesetelde werk van bekering en terugkeer na die Here sou volg. Hy het sy hele lewe vir die sukses van hierdie sending opgeoffer. Was dit tevergeefs? DKvDE 211.1

Johannes was ontsteld om te sien dat sy dissipels deur liefde vir hom, ongeloof in Jesus gekoester het. Was sy arbeid vir hulle tevergeefs? Was hy ontrou aan sy sending dat hy nou van sy arbeid afgesny is? As die beloofde Verlosser verskyn het en Johannes getrou aan sy roeping gevind is, sou Jesus dan nie nou die mag van die verdrukker omverwerp en sy voorloper bevry nie? DKvDE 211.2

Maar die Doper het nie sy geloof in Christus versaak nie. Die herinnering aan die stem uit die hemel en die neerdalende duif, die vlekkelose reinheid van Jesus, die krag van die Heilige Gees wat op Johannes gerus het toe hy in die Verlosser se teenwoordigheid gekom het en die getuienis van die profetiese geskrifte, het almal getuig dat Jesus van Nasaret die Beloofde was. DKvDE 211.3

Johannes wou nie sy twyfel en kommer met sy metgeselle bespreek nie. Hy het besluit om ‘n boodskap van navraag na Jesus te stuur. Dit het hy aan twee van sy dissipels toevertrou, in die hoop dat ‘n onderhoud met die Verlosser hulle geloof sou versterk en sekerheid aan hul broers sou verskaf. En hy het gehoop op een of ander woord Van Christus direk tot homself gerig. DKvDE 212.1

Die dissipels het na Jesus met hul boodskap gekom: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” DKvDE 212.2

Hoe kort was die tyd sedert die Doper na Jesus gewys en uitgeroep het: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Johannes 1:29). “Dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het.” (Johannes 1:27). En nou die vraag: “Is U die Een wat sou kom?” Dit was bitter teleurstellend vir die menslike natuur. As Johannes, die getroue voorloper, nie die sending van Christus kon onderskei nie, wat kon van die selfsugtige skare verwag word? DKvDE 212.3

Die Verlosser het nie dadelik op die vraag van die dissipels geantwoord nie. Terwyl hulle hul gestaan en wonder het oor Sy swye, het die siekes en geteisterdes na Hom gekom om genees te word. Die blindes het tastend hul weg deur die skares gevind; siekes van alle klasse, sommige op hul eie, sommige deur hul vriende gedra, het gretig hul weg tot in die teenwoordigheid van Jesus gebaan. Die stem van die magtige Geneesheer het tot dowe ore deurgedring. ‘n Woord, die aanraking van Sy hand het blinde oë geopen om die lig van die dag, die natuurtonele, die gesigte van vriende en die gesig van die Verlosser te aanskou. Jesus het die siekte bestraf en die koors verdryf. Sy stem het die ore van die sterwendes bereik en hulle het in gesondheid en krag opgestaan. Verlamde duiwelbesetenes het Sy woord gehoorsaam, hul waansin het hulle verlaat en hulle het Hom aanbid. Terwyl Hy hulle siektes genees het, het Hy die mense geleer. Die arm kleinboere en arbeiders, wat deur die rabbi’s as onrein vermy is, het dig om Hom saamgedrom en Hy het die woorde van die ewige lewe met hulle gedeel. DKvDE 212.4

So het die dag verbygegaan terwyl die dissipels van Johannes alles gesien en gehoor het. Uiteindelik het Jesus hulle na Hom geroep en hulle gebied om vir Johannes alles te vertel wat hulle gesien het en het bygevoeg: “Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.” Die bewyse van Sy Goddelikheid is gesien in die aanpassing daarvan met die behoeftes van die lydende mensdom. Sy heerlikheid is in Sy afdaal tot ons lae vlak geopenbaar. DKvDE 213.1

Die dissipels het die boodskap gedra en dit was genoeg. Johannes het die profesie aangaande die Messias onthou: “Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die Here.” (Jesaja 61:1,2.) Die werke van Christus het nie alleen verklaar dat Hy die Messias is nie, maar ook getoon op watter wyse Sy koninkryk gevestig sou word. Aan Johannes is dieselfde waarheid geopenbaar wat in die woestyn na Elia gekom het, toe ‘n “...groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die Here uit; in die wind was die Here nie. En na die wind ‘n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie. En na die aardbewing ‘n vuur; in die vuur was die Here nie. En na die vuur...” het God sag met die profeet gespreek deur “...die gesuis van ‘n sagte koelte.” (1 Konings 19:11,12). Jesus sou dus Sy werk doen, nie met wapengeweld en omverwerping van trone en koninkryke nie, maar om tot die harte van mense te spreek, deur ‘n lewe van barmhartigheid en selfopoffering. DKvDE 213.2

Die beginsel van die Doper se eie lewe van selfverloëning was die beginsel van die Messias se koninkryk. Johannes het goed geweet hoe vreemd dit alles vir die beginsels en verwagtings van die leiers in Israel was. Dit wat vir hom oortuigende getuienis van Christus se Goddelikheid was, sou geen bewys vir hulle wees nie. Hulle was op soek na ‘n Messias wat nie belowe is nie. Johannes het besef dat die Heiland se sending slegs haat en veroordeling by hulle kon opwek. Hy, die voorloper, het self maar net uit die beker gedrink wat Christus self tot die droesem sou moes ledig. DKvDE 213.3

Die Heiland se woorde: “Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie...” was ‘n ligte teregwysing vir Johannes. Dit het nie op hom verlore gegaan nie. Omdat hy nou die aard van Christus se sending beter begryp het, het hy homself aan God toevertrou vir lewe of dood, wat ook al die saak wat hy liefgehad het, die beste sou dien. DKvDE 214.1

Nadat die boodskappers vertrek het, het Jesus met die volk oor Johannes gepraat. Die Verlosser se hart het met innige meegevoel uitgegaan na die getroue getuie wat nou in die kerker van Herodes opgesluit was. Hy sou nie die volk oorlaat om tot die slotsom te kom dat God Johannes verlaat het of dat sy geloof op die dag van beproewing gewankel het nie. “Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou?” het Hy gevra. “‘n Riet wat deur die wind beweeg word?” DKvDE 214.2

Die hoë riete wat langs die Jordaan gegroei het en voor elke briesie gebuig het, was ‘n gepaste voorstelling van die rabbi’s wat as kritici en regters oor die Doper se sending opgetree het. Hulle is heen-en-weer deur die winde van die volksmening gewaai. Hulle wou hulle nie verneder om die hartsondersoekende boodskap van die Doper aan te neem nie, maar uit vrees vir die mense, het hulle nie gewaag om Sy werk openlik teë te gaan nie. Maar die boodskapper van God was nie so lafhartig nie. Die skares wat om Christus geskaar het, was getuies van die werk van Johannes. Hulle het sy vreeslose bestraffing van sonde gehoor. Johannes het op dieselfde reguit manier met die eiegeregtige Fariseërs, die priesterlike Sadduseërs, koning Herodes en sy hof, vorste en soldate, tollenaars en arbeiders, gepraat. Hy was geen bewende riet wat deur die winde van menslike lof of vooroordeel beweeg kon word nie. In die gevangenis het hy dieselfde lojaliteit aan God en sy ywer vir geregtigheid aan die dag gelê, soos toe hy God se boodskap in die woestyn verkondig het. In sy beginselvastheid was hy so onwrikbaar soos ‘n rots. DKvDE 214.3

Jesus het voortgegaan: “Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise.” Johannes is geroep om die sondes en buitensporighede van sy tyd te bestraf en sy eenvoudige kleredrag en lewe van selfverloëning het by die aard van sy sending gepas. Duur klere en die weelde van die lewe is nie vir die diensknegte van God nie, maar vir diegene wat in koninklike howe woon, die heersers van hierdie wêreld aan wie mag en rykdom behoort. Jesus wou die aandag op die teenstelling tussen Johannes se kleredrag en die van die priesters en owerstes vestig. Hierdie ampsdraers het duur klere en kosbare ornamente gedra. Hulle was lief vir vertoon en het gehoop om die volk te beïndruk en groter agting af te dwing. Hulle was meer gesteld om goedkeuring van mense, in stede van die goedkeuring van God te bekom. Daardeur het hulle getoon dat hul trou nie aan God behoort het nie, maar aan die koninkryk van hierdie wêreld. DKvDE 215.1

“Maar wat...” het Jesus gesê, “...het julle uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as ‘n profeet! Dit is hy van wie daar geskrywe is: DKvDE 215.2

“Kyk, Ek stuur My boodskapper voor U aangesig, wat U weg voor U uit sal regmaak.” DKvDE 215.3

“Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie.” In sy aankondiging aan Sagaria voor Johannes se geboorte het die engel gesê: “Hy sal groot wees voor die Here.” (Lukas 1:15) Wat, volgens die hemelse skatting, is grootheid? Nie wat die wêreld as grootheid erken nie; nie rykdom, rang, of adellike afkoms, of intellektuele gawes op sigself nie. As intellektuele grootheid, afgesien van hoër aansien, eerbiedwaardig sou wees, dan moet ons eerbetoon aan Satan gee, wie se intellek deur geen mens geëwenaar word nie. Maar wanneer dit verdraai word tot selfverheffing, hoe groter die gawe, hoe groter die vloek. Dit is morele waarde wat vir God aanvaarbaar is. Liefde en reinheid is die eienskappe wat Hom die meeste behaag. Johannes was groot in die oë van die Here toe hy voor die boodskappers van die Sanhedrin, voor die volk en voor sy eie dissipels geweier het om eer vir homself te soek, maar die aandag op Jesus as die Beloofde gevestig het. Sy onselfsugtige vreugde in die bediening van Christus is die hoogste vorm van edelmoedigheid wat nog in die mens geopenbaar is. DKvDE 215.4

Die getuienis wat na sy dood van Johannes, deur diegene wat sy getuienis van Jesus gehoor het, gelewer is, was: “Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes van Hom gesê het, was waar.” (Johannes 10:41). Dit is nie aan Johannes gegee om vuur uit die hemel te laat neerdaal of om die dooies op te wek soos Elia nie, of om die magtige staf van Moses te swaai in die Naam van God nie. Hy is gestuur om die Verlosser se koms aan te kondig en om die mense op te roep om hulle vir Sy koms voor te berei. So getrou het hy sy sending vervul dat, terwyl die mense onthou het wat hy hulle van Jesus geleer het, hulle kon sê: “Alles wat Johannes van Hom gesê het, was waar.” Elke dissipel van die Meester word tot ‘n soortgelyke getuie van Christus opgeroep. DKvDE 216.1

As voorloper van die Messias was Johannes “...baie meer as ‘n profeet.” Want terwyl profete die koms van Christus van ver af gesien het, was dit aan Johannes gegun om Hom te aanskou en die getuienis uit die hemel te hoor dat Hy die Messias is en om Hom aan Israel as die Gestuurde van God voor te stel. Tog het Jesus gesê: “Maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy.” DKvDE 216.2

Die profeet Johannes was die skakel tussen die twee dispensasies. As verteenwoordiger van God het hy na vore getree om die verhouding tussen die wet en die profete en die Christelike bedeling aan te toon. Hy was die kleiner lig, wat deur die groter Lig gevolg sou word. Die denke van Johannes is deur die Heilige Gees verlig sodat hy lig op sy volk kon werp; maar geen ander lig het ooit op die gevalle mensdom geskyn of sal ooit so helder skyn soos wat voortspruit uit die leer en die voorbeeld van Jesus nie. Christus en Sy sending is maar vaagweg verstaan soos dit in die skaduagtige offers getipeer is. Selfs Johannes het die toekomstige, onsterflike lewe deur die Heiland nie ten volle begryp nie. DKvDE 217.1

Afgesien van die vreugde wat Johannes in sy sending ervaar het, was sy lewe deur droefheid gekenmerk. Sy stem is selde gehoor, behalwe in die woestyn. Sy lewe was ‘n eensame lot. En hy was nie gegun om die vrug van sy eie arbeid te sien nie. Hy was nie bevoorreg om saam met Christus te wees en die manifestasie van die Goddelike krag wat die grotere lig vergesel het, te aanskou nie. Hy het nie gesien hoe die blindes weer sien, die siekes genees en die dode opgewek word nie. Hy het nie die lig aanskou wat uit elke woord van Christus gestraal het en heerlikheid op die beloftes van die profesie gewerp het nie. Die geringste dissipel wat Christus se magtige werke aanskou het en Sy woorde gehoor het, was in hierdie opsig meer bevoorreg as Johannes die Doper en daarom is daar gesê dat hy groter as hy was. DKvDE 217.2

Deur die groot menigtes wat na Johannes se prediking geluister het, is sy roem deur die hele land versprei. Groot belangstelling is as gevolg van sy gevangeneming gewek. Tog het sy onberispelike lewe en die sterk openbare sentiment in sy guns, gelei tot die oortuiging dat geen gewelddadige maatreëls teen hom geneem sou word nie. DKvDE 217.3

Herodes het geglo dat Johannes ‘n profeet van God was en was ten volle van plan om hom vry te laat. Maar uit vrees vir Herodias het hy sy voorneme uitgestel. DKvDE 218.1

Herodias het geweet dat deur regstreekse maatreëls, sy Herodes nooit sou kon oorreed om sy toestemming tot die dood van Johannes te gee nie en sy het besluit om haar doel deur middel van strategie te bereik. Op die verjaardag van die koning, is daar ‘n onthaal vir die staatsamptenare en adel van die hof gereël. Daar sou feesgevier en gedrink word. Herodes sou roekeloos raak en sy sou hom dan moontlik volgens haar wil kon beïnvloed. DKvDE 218.2

Toe die groot dag aanbreek en die koning en sy gaste feesgevier en gedrink het, het Herodias haar dogter na die banketsaal gestuur om die gaste te vermaak en vir hulle te dans. Salome was in die eerste ontluiking van vroulikheid en haar wulpse skoonheid het die sintuie van die vorstelike fuiwers betower. Dit was nie gebruiklik dat die dames van die hof by hierdie feesvieringe verskyn nie en dit was ‘n vleiende gebaar teenoor Herodes toe hierdie dogter van Israel se priesters en vorste vir die vermaak van die gaste kom dans het. DKvDE 218.3

Die koning se verstand was deur wyn benewel. Wellus het hoogty gevier en die rede is verdring. Hy het slegs die saal met sy brassery gesien, vol luidrugtige gaste, die bankettafel, die vonkelwyn en flikkerligte en die jong meisie wat voor hom dans. In die roekeloosheid van die oomblik wou hy ‘n gebaar uitvoer wat sy aansien voor die groot manne van sy ryk sou verhoog. Met ‘n eed het hy beloof om die dogter van Herodias alles wat sy ook mag vra te gee, selfs die helfte van sy koninkryk. DKvDE 218.4

Salome het haar na haar moeder gehaas om te verneem waarvoor sy moes vra. Die antwoord was gereed-die hoof van Johannes die Doper. Salome het nie die dors na wraak in haar moeder se hart geken nie en sy het teruggedeins van so versoek; maar die vasberadenheid van Herodias het die oorhand gekry. Die meisie het met die verskriklike versoek teruggekeer: “Ek wil hê dat u my op die daad die hoof van Johannes die Doper op ‘n skottel gee.” DKvDE 218.5

Herodes was verbysterd en verward. Die oproerige vrolikheid het opgehou en ‘n onheilspellende stilte het oor die toneel van die onthaal gesak. Die koning is met afsku vervul by die gedagte om die lewe van Johannes te neem. Nogtans het hy sy woord gegee en hy wou nie wispelturig of onbesonne voorkom nie. Die eed is ter ere van sy gaste afgelê en indien net een van hulle beswaar teen die versoek gemaak het, sou hy die profeet se lewe geredelik gespaar het. Hy het hulle geleentheid gegee om namens die gevangene te praat. Hulle het lang afstande gereis om van Johannes te hoor en hulle het geweet dat hy ‘n man sonder misdaad en ‘n dienskneg van God was. Maar hoewel hulle die meisie se versoek hulle geskok het, was hulle te besope om met ‘n beswaar tussenbeide te tree. Geen stem is verhef om die hemelse boodskapper se lewe te spaar nie. Hierdie manne het hoë posisies van vertroue in die land beklee en ernstige verantwoordelikhede het op hulle gerus; nogtans het hulle hul aan brassery en dronkenskap oorgegee totdat die sinne afgestomp was. Hulle verstand was benewel deur die bedwelmende toneel van musiek en dans en die gewete was stil. Deur hul swye het hulle die doodvonnis oor die profeet van God uitgespreek om die wraak van ‘n losbandige vrou te bevredig. DKvDE 219.1

Herodes het tevergeefs gewag om van sy eed onthef te word; toe het hy onwillig die teregstelling van die profeet beveel. Weldra is die hoof van Johannes na die koning en sy gaste gebring. Die lippe wat Herodes so getrou gewaarsku het om hom van sy sonde te bekeer, was vir altyd verseël. Nooit weer sou daardie stem, wat mense tot bekering geroep het, gehoor word nie. Die brassery van een aand het die lewe van een van die grootste profete gekos. DKvDE 219.2

Hoe dikwels tog is die lewe van die onskuldiges opgeoffer as gevolg van die onbedagsaamheid van diegene wat voogde van die geregtigheid moes wees! Hy wat die bedwelmende beker na sy lippe bring, maak homself verantwoordelik vir al die onreg wat hy onder die invloed daarvan mag pleeg. Deur sy sintuie te benewel, maak hy dit onmoontlik om kalm te oordeel of om ‘n duidelike persepsie van reg en verkeerd te hê. Hy open die weg vir Satan om deur hom te werk om die onskuldiges te onderdruk en te vernietig. “Die wyn is ‘n spotter, en sterk drank ‘n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.” (Spreuke 20:1) “So word dan die reg teruggedring... en wie afwyk van die kwaad, word geplunder.” (Jesaja 59:14,15) Diegene wat jurisdiksie oor die lewens van hul medemens het, moet aan ‘n misdaad skuldig bevind word wanneer hulle aan oordadigheid toegee. Almal wat die wet toepas, moet wetsgehoorsames wees. Hulle moet mense met selfbeheersing wees. Hulle behoort volle beheer oor hul liggaamlike, geestelike en morele kragte uit te oefen, sodat hulle intelligensie en ‘n hoë sin vir geregtigheid aan die dag kan lê. DKvDE 220.1

Die hoof van Johannes die Doper is na Herodias geneem, wat dit met sataniese tevredenheid ontvang het. Sy het haar in haar wraak verlustig en het haarself gevlei dat Herodes se gewete hom nou nie langer sou pla nie. Maar haar sonde het geen geluk vir haar ingehou nie. Haar naam het berug geword en is verafsku, terwyl Herodes meer deur berou, as deur die waarskuwing van die profeet gemartel is. Die invloed van Johannes se leringe is nie gestil nie; dit sou deur alle geslagte tot aan die einde van tyd strek. DKvDE 220.2

Herodes se sonde was ewig voor hom. Hy was voortdurend op soek na verligting van die beskuldigings van sy gewete. Sy geloof in Johannes was onwrikbaar. Soos hy aan sy lewe van selfverloëning teruggedink het, sy plegtige en ernstige oproepe, sy gesonde oordeel en advies en hoe hy aan sy dood gekom het, kon Herodes geen rus vir homself vind nie. Hy het hom met staatsaangeleenthede besig gehou, die eer van mense ontvang en ‘n glimlaggende gesig en waardige houding voorgehou, terwyl hy ‘n gefolterde siel verberg het, met die vrees dat daar ‘n vloek op hom rus. DKvDE 220.3

Herodes was diep onder die indruk van die woorde van Johannes, dat niks vir God verborge is nie. Hy was daarvan oortuig dat God oral teenwoordig was, dat Hy die onthaal in die banketsaal aanskou het, dat Hy die opdrag om Johannes te onthoof gehoor het en gesien het hoe Herodias haar verlustig en die hoof van haar teregwyser beledig het. En baie dinge wat Herodes uit die mond van die profeet gehoor het, het nou duideliker tot sy gewete gespreek as die prediking in die woestyn. DKvDE 221.1

Toe Herodes van die werke van Christus hoor, was hy hewig ontsteld. Hy het gedink God het Johannes uit die dood opgewek en hom met nog groter mag gestuur om die sonde te veroordeel. Hy het voortdurend in vrees geleef dat Johannes sy dood sou wreek deur ‘n oordeel oor hom en sy huis te vel. Herodes het gemaai wat God as die resultaat van die weg van sonde verklaar het: “Die Here sal jou daar ‘n bewende hart gee en smagtende oë en ‘n kwynende siel. En jou lewe sal voor jou aan ‘n draad hang, en jy sal nag en dag skrik en van jou lewe nie seker wees nie. In die more sal jy sê: Ag, was dit maar aand! En in die aand sal jy sê: Ag, was dit maar more! vanweë die skrik van jou hart wat jou sal aangryp, en vanweë die gesig van jou oë wat jy sal sien.” (Deuteronomium 28:65-67). Die sondaar se beskuldigers is sy eie gedagtes; en daar kan geen marteling erger as die angel van ‘n skuldige gewete, wat hom dag of nag geen rus gee, wees nie. DKvDE 221.2

Vir baie mense was die lot van Johannes die Doper ‘n diep raaisel. Hulle wou weet waarom hy toegelaat was om in die gevangenis te kwyn en te sterf. Ons menslike visie kan die geheim van hierdie donker voorsienigheid nie deurvors nie; maar ons geloof in God kan nie wankel as ons in gedagte hou dat Johannes maar net in die lyding van Christus gedeel het nie. Almal wat Christus volg, sal die kroon van opoffering dra. Hulle sal gewis deur selfsugtige mense misverstaan word en die teiken van hewige aanvalle van Satan gemaak word. Dit is die vernietiging van hierdie beginsel van selfopoffering waarvoor sy koninkryk tot stand gebring is en hy sal die stryd daarteen voer, waar dit ook al manifesteer. DKvDE 221.3

Die kinderjare, jeug en volwassenheid van Johannes is deur fermheid en morele krag gekenmerk. Toe sy stem in die woestyn gehoor is: “Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!” (Mattheus 3:3), het Satan vir die veiligheid van sy koninkryk gevrees. Die sondigheid van sonde is op so wyse ontbloot, dat die mense gesidder het. Satan se mag oor baie wat onder sy beheer was, is verbreek. Hy was onvermoeid in sy pogings om die Doper van ‘n lewe van onvoorwaardelike oorgawe aan God weg te lok; maar hy het misluk. En hy het ook nie daarin geslaag om Jesus te oorwin nie. In die versoeking in die woestyn is Satan verslaan en sy woede was onbeteueld. Hy het dus besluit om Christus leed te besorg deur Johannes te tref. Die Een wat hy nie tot sonde kon verlei nie, sou hy laat ly. DKvDE 222.1

Jesus het nie tussenbeide getree om Sy dienaar te verlos nie. Hy het geweet dat Johannes die toets sou deurstaan. Die Verlosser sou met graagte na Johannes wou kom om die somberheid van die kerker met sy teenwoordigheid te verhelder. Maar Hy moes Hom nie in die hande van vyande plaas en Sy eie sending belemmer nie. Hy sou met graagte Sy getroue dienaar verlos het. Maar ter wille van duisende wat in die komende jare die gevangenis en dood tegemoet sou gaan, moes Johannes die beker van martelaarskap drink. Soos die volgelinge van Jesus in eensame selle moet wegkwyn, of deur die swaard omkom, die pynbank of brandstapel, skynbaar deur God en mens verlate, sal die gedagte aan Johannes die Doper, aangaande wie se getrouheid Christus self getuig het en wat ‘n soortgelyke ervaring gely het, ‘n sterk onderskraging vir hul harte wees. DKvDE 222.2

Satan was toegelaat om die aardse lewe van God se boodskapper te verkort; maar dié lewe wat “...saam met Christus verborge [is] in God...” (Kolossense 3:3) kon die verwoester nie bereik nie. Hy het hom verheug dat hy droefheid oor Christus gebring het, maar hy het nie daarin geslaag om Johannes te verower nie. Die dood self het hom vir ewig buite bereik van versoeking geplaas. In hierdie stryd het Satan sy eie karakter openbaar. Voor die heelal as getuies, het hy sy vyandskap teenoor God en die mens geopenbaar. DKvDE 223.1

Hoewel Johannes nie op wonderbaarlike wyse verlos is nie, was hy nie verlaat nie. Hy het voortdurend die gemeenskap van die hemelse engele gehad, wat aan hom die profesieë aangaande Christus en die kosbare beloftes van die Skrif oopgestel het. Dit was sy ondersteuning, soos dit voortdurend die ondersteuning vir die kinders van God deur die komende eeue sou wees. Aan Johannes die Doper, soos aan diegene wat ná hom gekom het, is die versekering gegee: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Mattheus 28:20). DKvDE 223.2

God lei Sy kinders nooit anders as wat hulle sou verkies het om gelei te word, indien hulle die einde van die begin kon sien en die heerlike doel wat hulle as Sy medewerkers kan bereik, kon onderskei nie. Nie Henog, wat in die hemel opgeneem is nie, nie Elia wat in ‘n wa van vuur opgevaar het, was groter of meer geëerd as Johannes die Doper, wat eensaam in die kerker moes sterf nie. “Omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly...” (Filippense 1:29) En van al die gawes wat die hemel aan die mens kan skenk, is gemeenskap met Christus in Sy lyde, die gewigtigste pand en die hoogste eer. DKvDE 223.3