Die Koning van die Eeue

21/88

Hoofstuk 20—“As julle Nie Tekens en Wonders Sien Nie” *

Die Galileërs wat van die Pasga teruggekeer het, het ‘n verslag van die wonderbaarlike werke van Jesus teruggebring. Die veroordeling van Sy dade deur die hooggeplaastes in Jerusalem, het die weg in Galilea vir Hom geopen. Baie mense het die misbruik van die tempel en die hebsug en arrogansie van die priesters betreur. Hulle het gehoop dat hierdie Man, wat die owerstes verdryf het, moontlik die verwagte Verlosser sou wees. Nou het tyding, wat blykbaar hul hoopvolle verwagtings bevestig het, gekom. Daar is berig dat die profeet Homself as die Messias verklaar het. DKvDE 187.1

Maar die mense van Nasaret het nie in Hom geglo nie. Om hierdie rede het Jesus Nasaret nie op pad na Kana besoek nie. Die Heiland het aan sy dissipels verklaar dat ‘n profeet nie in sy eie land geëer word nie. Mense is geneig om ‘n karakter aan hul eie waarde te meet. Die enge en wêreldgesindes het Christus op grond van Sy nederige geboorte, Sy nederige gewaad en daaglikse arbeid beoordeel. Hulle kon nie die reinheid van daardie gees, waarop geen klad van sonde was nie, waardeer nie. DKvDE 187.2

Die nuus van Christus se terugkeer na Kana het spoedig deur die hele Galiléa versprei en hoop vir die lydendes en ellendiges gebring. In Kapérnaum het die tyding onder die aandag van ‘n Joodse edelman, wat ‘n amptenaar in diens van die koning was, gekom. ‘n Seun van die amptenaar het aan wat blykbaar ‘n ongeneeslike siekte was, gely. Die geneeshere het geen hoop vir hom gehad nie, maar toe die vader van Jesus hoor, het hy besluit om hulp by Hom te gaan soek. Die kind was baie swak en daar was gevrees dat hy dalk nie sou leef tot sy vader se terugkeer nie; tog het die edelman gevoel hy moet die saak persoonlik gaan voorlê. Hy het gehoop dat die smeekbede van ‘n vader die meegevoel van die Groot Geneesheer sou wek. DKvDE 187.3

Toe hy Kana bereik, vind hy Jesus deur ‘n skare omring. Met ‘n beangste hart het hy tot in die teenwoordigheid van die Heiland deurgedring. Sy geloof het gewankel toe hy net ‘n eenvoudig geklede man, stowwerig en verslete van die reis, voor hom sien. Hy het getwyfel of hierdie Persoon aan sy versoek sou kon voldoen; tog het hy ‘n onderhoud met Jesus verkry, sy saak gestel en die Heiland gesmeek om hom na sy huis te vergesel. Maar sy smart was reeds aan Jesus bekend. Voordat die offisier sy huis verlaat het, was die Verlosser van sy beproewing bewus. DKvDE 188.1

Maar Hy het ook geweet dat die vader in sy eie gedagtes voorwaardes aangaande sy geloof in Jesus, gestel het. Indien daar aan sy versoek nie voldoen sou word nie, sou hy Hom nie as die Messias ontvang nie. Terwyl die offisier in spanningsvolle angs gewag het, sê Jesus: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.” DKvDE 188.2

Ondanks al die getuienis dat Jesus die Christus was, het die amptenaar besluit om sy geloof in Hom voorwaardelik aan die vervulling van sy versoek te maak. Die Heiland het hierdie twyfelagtige ongeloof met die eenvoudige geloof van die Samaritane, wat geen wonderwerk of teken gevra het nie, gekontrasteer. Sy woord, die altyd teenwoordige getuienis van Sy Goddelikheid, het oor ‘n oortuigende krag beskik wat hul harte bereik het. Christus was bedroef dat Sy eie volk, aan wie die Heilige Orakels toegewys was, nie die stem van God tot hulle, in Sy Seun kon onderskei nie. DKvDE 188.3

Tog het die edelman ‘n mate van geloof gehad; want hy het kom vra wat vir hom die kosbaarste van alle seëninge was. Jesus het ‘n groter geskenk gehad om te gee. Hy wou nie net die kind genees nie, maar wou die amptenaar en sy gesin in die seëninge van verlossing laat deel en om in Kapérnaum, wat weldra sy eie arbeidsveld sou word, ‘n lig aan te steek. Maar die edelman moes eers sy behoeftes besef voordat hy die genade van Christus sou begeer. Hierdie hofdienaar het baie in sy land verteenwoordig. Hulle het uit selfsugtige motiewe in Jesus belanggestel. Hulle het gehoop om ‘n spesiale voordeel deur Sy krag te ontvang en het hul vertroue in die verlening van tydelike guns gestel; maar hulle was onkundig aangaande hul geestelike siekte en het nie hul behoefte aan Goddelike genade besef nie. DKvDE 188.4

Soos ‘n ligflits het die woorde van die Heiland aan die edelman sy hart ontbloot. Hy het ingesien dat sy motiewe in sy soeke na Jesus selfsugtig was. Sy wankelende geloof het in sy ware karakter aan hom verskyn. In diepe nood het hy besef dat sy twyfel die lewe van sy seun kon kos. Hy het geweet dat hy in die teenwoordigheid van Een was wat die gedagtes kan lees en vir Wie alle dinge moontlik is. Met angsvolle smeking het hy uitgeroep: “Here, kom af voordat my kind sterwe.” Sy geloof het Jesus aangegryp, net soos Jakob toe hy met die Engel geworstel en uitgeroep het: “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.” (Genesis 32:26) DKvDE 189.1

Net soos Jakob, het hy oorwin. Die Heiland kan Hom nie aan die siel wat aan Hom vasklou en in sy groot behoefte pleit, onttrek nie. “Gaan...” het Hy gesê, “...jou seun lewe!” Die edelman het die Verlosser se teenwoordigheid verlaat met ‘n vrede en vreugde wat hy nog nooit vantevore geken het nie. Hy het nie net geglo dat sy seun genees sou word nie, maar het met ‘n vaste vertroue in Christus as die Verlosser geglo. DKvDE 189.2

Op daardie selfde uur het die wakers langs die sterwende kind in die huis in Kapérnaum ‘n skielike en onverklaarbare verandering bespeur. Die skaduwee van die dood het van sy gelaat gewyk. Die koorsgloed het plek vir die sagte gloed van terugkerende gesondheid gemaak. Die dowwe oë het met intelligensie verhelder en krag het na die swak, uitgeteerde liggaam teruggekeer. Geen teken van siekte was meer aan die kind te bespeur nie. Sy koorsige liggaam het sag en vogtig geword en hy het in ‘n rustige slaap verval. Die koors het hom in die hitte van die dag verlaat. Die familie was verwonderd en die blydskap was groot. DKvDE 189.3

Kana was nie te ver van Kapérnaum af nie en die beampte kon moontlik sy huis nog dieselfde aand na die onderhoud met Jesus bereik het; maar hy was nie haastig om terug te keer nie. Hy het Kapérnaum eers die volgende oggend bereik. En wat ‘n tuiskoms was dit nie! Toe hy na Jesus gaan soek het, was sy hart beswaard. Die sonskyn het vir hom wreed voorgekom en die voëlgesang ‘n bespotting. Hoe anders was dit nou! Die hele natuur het ‘n nuwe aspek beklee. Hy het met nuwe oë gekyk. Soos hy in die stilte van die vroeë oggend gereis het, was dit asof die natuur God saam met hom loof. Terwyl hy nog ‘n ent van sy eie woning af was, het die bediendes hom tegemoetgekom en was gretig om die spanning, wat hulle seker was hy moes ervaar, te verlig. Hy het geen verbasing oor die tyding wat hulle gebring het getoon nie, maar met ‘n diepe belangstelling het hy gevra op watter uur die kind begin herstel het. Hulle het geantwoord “Gister, die sewende uur, het die koors hom verlaat.” Op die presiese oomblik toe die vader in geloof die versekering: “Jou seun lewe...” aangegryp het, het die Goddelike liefde die sterwende kind aangeraak. DKvDE 190.1

Die vader het hom gehaas om sy seun te groet. Hy het hom teen sy hart vasgedruk, soos een wat uit die dood terug geruk is en God oor en oor gedank vir sy wonderbaarlike herstel. DKvDE 190.2

Die edelman wou graag meer van Christus weet. Toe hy agterna Sy leringe gehoor het, het hy en sy gesin dissipels geword. Hul beproewing is deur die bekering van die hele gesin geheilig. Tyding van die wonderwerk het versprei en in Kapérnaum, waar so baie van sy magtige werke uitgevoer is, is die weg vir Christus se persoonlike bediening voorberei. DKvDE 190.3

Hy wat die edelman van Kapérnaum geseën het, wil ons net so seën. Maar soos die geteisterde vader, word ons dikwels gelei om na Jesus met ‘n begeerte na aardse goed te soek; en wanneer aan ons versoek voldoen is, berus ons ons vertroue in Sy liefde. Die Heiland verlang om aan ons ‘n groter seën as waarvoor ons vra te skenk; en Hy stel die vergunning van ons versoek uit sodat Hy ons die boosheid van ons harte en ons innige behoefte aan Sy genade kan toon. Hy begeer dat ons die selfsug wat ons lei om na Hom te soek, aflê. In ons belydenis van hulpeloosheid en bittere nood, moet ons ons volkome aan Sy liefde toevertrou. DKvDE 190.4

Die edelman wou die vervulling van sy gebed sien voordat hy sou glo; maar hy moes die woord van Jesus, dat sy versoek gehoor is en die en seën gegun is, aanvaar. Hierdie les moet ons ook leer. Ons moenie glo omdat ons sien of voel dat God ons verhoor het nie. Ons moet op Sy beloftes vertrou. As ons in geloof na Hom kom, bereik elke gebed die hart van God. As ons om Sy seën gevra het, moet ons glo dat ons dit ontvang het en Hom dank omdat ons dit reeds ontvang het. Dan moet ons ons pligte, met die versekering dat die seën wanneer ons dit die nodigste het sal realiseer, nakom. Wanneer ons geleer het om dit te doen, sal ons weet dat ons gebede verhoor word. God sal vir ons doen “...ver bo alles...” (Efesiërs 3:20) wat ons vra, “...na die rykdom van Sy heerlikheid...” (Efesiërs 3:16) volgens die “...werking van die krag van Sy sterkte.” (Efesiërs 1:19). DKvDE 191.1