Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 19—By die Put van Jakob *
Op pad na Galiléa het Jesus deur Samaria gereis. Dit was middag toe Hy die pragtige Dal van Sigem bereik. Die toegang tot hierdie dal was by die put van Jakob. Moeg van sy reis, het Hy by die put gaan sit om te rus terwyl Sy dissipels voedsel gaan koop het. DKvDE 173.1
Die Jode en Samaritane was bitter vyande en het sover moontlik alle omgang met mekaar vermy. Om in noodgevalle met die Samaritane handel te dryf, was wel deur die rabbi’s geoorloof; maar alle sosiale omgang met hulle is veroordeel. ‘n Jood sou nie van ‘n Samaritaan leen of ‘n guns van hom ontvang nie, selfs nie ‘n stukkie brood of ‘n beker water nie. Deur voedsel te gaan koop het die dissipels ooreenkomstig die gebruik van hulle volk opgetree. Maar verder as dit het hulle nie gegaan nie. Om ‘n guns van die Samaritane te vra, of om hulle op enige wyse te bevoordeel, het nie eens in die gedagtes van die dissipels van Christus opgekom nie. DKvDE 173.2
Jesus was baie honger en dors waar Hy by die put gesit het. Die reis sedert die oggend was lank en die middagson het fel op Hom neergeskyn. Sy dors het toegeneem met die gedagte aan die koel, verfrissende water wat so naby was, maar tog ontoeganklik vir Hom; want Hy het geen tou of waterkruik gehad nie en die put was diep. Die lot van mensheid was Hom deelagtig en Hy het gewag dat iemand vir Hom water uit die put kom trek. DKvDE 173.3
'n Samaritaanse vrou het nader gekom en skynbaar onbewus van Sy teenwoordigheid, het sy haar kruik vol water getrek. Toe sy omdraai om te loop, het Jesus haar om water gevra. So ‘n guns sal geen Oosterling weier nie. In die Ooste word water “die gawe van God” genoem. Om ‘n dorstige reisiger drinkwater aan te bied, was as so ‘n heilige plig beskou, dat die Arabiere in die woestyn uit hul pad sou gaan om dit uit te voer. Die haat tussen die Jode en Samaritane het die vrou verhinder om goedhartigheid aan Jesus te betoon; maar die Heiland wou die sleutel na haar hart vind en met takt wat uit Goddelike liefde gebore is, het Hy om ‘n guns gevra en nie een aangebied nie. Die aanbod van vriendelikheid sou moontlik verwerp gewees het; maar vertroue wek vertroue. Die Koning van die hemel het na hierdie uitgeworpe siel gekom en haar om ‘n guns gevra. Hy wat die oseaan gemaak het, wat die waters van die groot diepte beheer, wat die fonteine en kanale van die aarde oopgemaak het, het by die put van Jakob van Sy vermoeienis gerus en was van ‘n vreemdeling se goedhartigheid afhanklik, selfs vir die geskenk van ‘n slukkie water. DKvDE 173.4
Die vrou het gesien dat Jesus ‘n Jood was. In haar verbasing het sy vergeet om aan Sy versoek te voldoen, maar het probeer om die rede daarvoor te wete te kom: “Hoe is dit...” het sy gevra, “...dat U wat ‘n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ‘n Samaritaanse vrou is?” DKvDE 174.1
Jesus het geantwoord: “As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” Jy is verwonderd dat Ek jou so ‘n geringe guns, soos om ‘n slukkie water uit die put te trek. As jy My gevra het, sou Ek jou die water van die ewige lewe gegee het om te drink. DKvDE 174.2
Die vrou het nie die woorde van Christus begryp nie, maar sy het die plegtige betekenis daarvan ervaar. Haar lighartige toon het begin verander. Met die veronderstelling dat Jesus na die put voor hulle verwys, het sy gesê: “Here, U het nie eens ‘n skepding nie en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water? U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het?” Voor haar het sy slegs ‘n dorstige reisiger gesien, moeg en vol stof. In haar gedagtes het sy Hom met die geëerde patriarg, Jakob, vergelyk. Sy het heel natuurlik die gevoel gekoester dat geen ander put se water met dié van die vaders vergelyk kon word nie. Sy het teruggekyk na die vaders en vooruit na die koms van die Messias, terwyl die Hoop van die vaders, die Messias self, voor haar gestaan het en sy het dit nie geweet nie. Hoeveel dorstige siele is daar nie vandag naby die lewende Fontein nie, maar hulle soek steeds ver na die fonteine van die lewe! “Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? ... Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart... As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.” (Romeine 10:6-9). DKvDE 174.3
Jesus het nie dadelik haar vraag aangaande Homself beantwoord nie, maar met erns gesê: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” DKvDE 175.1
Hy wat sy dors by die fonteine van hierdie wêreld wil les, sal drink om net weer dors te word. Oral heen is die mensdom onversadig. Hulle verlang na iets om in die behoefte van die siel te voorsien. Net Een kan aan daardie behoefte voldoen. Die behoefte van die wêreld, die begeerte van alle nasies, is Christus. Die Goddelike genade wat Hy alleen kan voorsien, is soos lewende water, wat die siel suiwer, verkwik en versterk. DKvDE 175.2
Jesus het nie te kenne gegee dat slegs een slukkie van die water van die lewe voldoende vir die ontvanger sou wees nie. Hy wat die liefde van Christus gesmaak het, sal voortdurend na meer verlang; maar hy sal na niks anders verlang nie. Die rykdom, eer en plesier van die wêreld sal hom nie meer trek nie. Die voortdurende uitroep van sy hart sal wees: Meer van U. En Hy wat aan die siel sy nood openbaar, wag om sy honger en dors te bevredig. Elke menslike hulpbron en afhanklikheid sal misluk. Die reservoirs sal geledig word en die poele sal opdroog; maar ons Verlosser is ‘n onuitputlike Fontein. Ons kan drink en weer drink en sal altyd ‘n vars voorraad ontvang. Hy in wie Christus woon, het die Bron van seën in homself, “...'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” Uit daardie Bron kan hy krag en genade vir al sy behoeftes put. DKvDE 175.3
Toe Jesus van die lewende water gepraat het, het die vrou hom met verwondering aangekyk. Hy het haar belangstelling en ‘n begeerte vir die geskenk waarvan Hy gepraat het gewek. Sy het opgemerk dat dit nie die water van Jakob se put was waarna Hy verwys het nie; want hiervan sou sy voortdurend drink en weer dors word. “Here...” het sy gesê, “...gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie.” DKvDE 176.1
Toe het Jesus skielik die gesprek verander. Voordat hierdie siel die gawe kon ontvang wat Hy haar so graag wou skenk, moes sy eers gebring word om haar sonde en haar Verlosser te erken. Toe sê Hy vir haar: “Gaan roep jou man en kom hier.” Sy het Hom geantwoord: “Ek het nie ‘n man nie.” Hiermee het sy gehoop om alle vrae in daardie rigting te staak. Maar die Verlosser het voortgegaan: “Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê.” DKvDE 176.2
Die vrou het gebewe. ‘n Misterieuse hand was besig om deur die bladsye van haar lewensgeskiedenis te blaai en dit wat sy gehoop het om vir ewig verborge te hou, te besigtig. Wie was Hy wat haar lewensgeheime kon lees? Gedagtes aan die ewigheid, aan die komende oordeel, wanneer alles wat verborge is geopenbaar sal word, het by haar opgekom. In die lig daarvan is haar gewete aangewakker. DKvDE 176.3
Sy kon niks ontken nie; maar het probeer om alle melding van so ‘n onwelkome onderwerp te ontduik. Met diepe eerbied het sy gesê: “Here, ek sien dat U ‘n profeet is.” Toe, in ‘n poging om haar skuldgevoel te verberg, het sy haar tot punte van godsdienstige teenstrydigheid gewend. Indien Hy ‘n profeet was, sou Hy haar sekerlik kon inlig aangaande die sake wat al vir so lank betwis word. DKvDE 176.4
Jesus het haar geduldig toegelaat om die gesprek in enige rigting waarheen sy wou te stuur. Intussen het Hy na ‘n geleentheid gesoek om die waarheid weer aan haar tuis te bring. “Ons vaders het op hierdie berg aanbid...” het sy gesê “...en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is.” Die berg Gerisim was net-net sigbaar. Sy tempel was gesloop en slegs die altaar het oorgebly. Die plek van aanbidding was ‘n geskilpunt tussen die Jode en Samaritane. Sommige voorvaders van laasgenoemde volk, was voorheen deel van Israel; maar as gevolg van hul sonde het die Here toegelaat dat hulle deur ‘n heidense nasie oorweldig word. Vir geslagte lank het hulle met afgodedienaars, wie se godsdiens hul eie Godsdiens geleidelik besoedel het, gemeng. Dit is waar dat hulle voorgehou het dat hulle afgode slegs gedien het om hulle aan die lewende God, die Heerser van die heelal, te herinner; nietemin is die volk gelei om hul gesnede beelde te eerbiedig. DKvDE 177.1
Toe die tempel in Jerusalem in die dae van Esra herbou is, wou die Samaritane by die Jode inval met die oprigting daarvan. Hierdie voorreg is hulle geweier en ‘n bitter vyandskap het tussen die twee volke ontstaan. Die Samaritane het ‘n mededingende tempel op die berg Gerisim gebou. Hier het hulle in ooreenstemming met die Mosaïese rituele aanbid, alhoewel hulle nie heeltemal van hul afgodery afgesien het nie. Maar rampe het hulle getref, hul tempel is deur hul vyande verwoes en dit wou voorkom asof ‘n vloek op hulle gerus het; tog het hulle steeds aan hul tradisies en vormgodsdiens vasgekleef. Hulle het nie die tempel in Jerusalem as die huis van God erken nie en ook nie erken dat die godsdiens van die Jode meerderwaardig teenoor hul eie was nie. DKvDE 177.2
In antwoord op die vrou, het Jesus gesê: “Glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.” Jesus het getoon dat Hy vry was van Joodse vooroordeel teenoor die Samaritane. Hy het nou gepoog om die Samaritane se vooroordeel teenoor die Jode af te verbreek. Terwyl Hy daarop gewys het dat die geloof van die Samaritane verdorwe was met afgodediens, het Hy ook verklaar dat die groot waarhede van die verlossing aan die Jode toegewys is en dat die Messias uit hulle na vore sou kom. In die heilige Geskrifte het hulle ‘n duidelike voorstelling van die karakter van God en die beginsels van Sy heerskappy gehad. Jesus het Hom aan die kant van die Jode, as diegene aan wie God ‘n kennis van Homself gegee het, geskaar. DKvDE 178.1
Hy wou die gedagtes van die vrou bo die kwessies van vorm en seremonie en vrae oor teenstrydigheid verhef. “Daar kom ‘n uur...” het Hy gesê “...en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in Gees en waarheid aanbid.” DKvDE 178.2
Hier word dieselfde waarheid verklaar as wat Jesus aan Nikodemus geopenbaar het, toe Hy gesê het: “As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Johannes 3:3). Mense word nie in gemeenskap met die hemel gebring deur na ‘n heilige berg of tempel te soek nie. Godsdiens moet nie tot uiterlike vorms en seremonies beperk word nie. Die godsdiens wat van God kom, is die enigste wat na God sal lei. Om Hom opreg te kan dien, moet ons uit die Goddelike Gees gebore word. Dit sal die hart reinig en die verstand vernuwe en ons opnuut in staat stel om God te ken en lief te hê. Dan sal ons al Sy vereistes gewilliglik gehoorsaam. Dit is ware aanbidding. Dit is die vrug van die werking van die Heilige Gees. Deur die Gees word elke opregte gebed gevorm en so ‘n gebed is vir God aanneemlik. Oral waar ‘n siel na God uitreik, daar is die werking van die Gees sigbaar en God sal Homself aan daardie siel openbaar. Dit is sulke aanbidders waarna Hy soek. Hy wag om hulle te ontvang en om hulle Sy seuns en dogters te maak. DKvDE 178.3
In hierdie gesprek met Jesus het die vrou diep onder die indruk van Sy woorde gekom. Nooit tevore het sy sulke sentimente van die priesters van haar eie volk of van die Jode gehoor nie. Soos haar verlede voor haar oopgevlek is, is sy sensitief vir haar groot gebrek gemaak. Sy het haar siele-dors, wat die water van Sigar nooit sou kon bevredig nie, besef. Niks waarmee sy tot dusver in aanraking gekom het, het haar so aangevuur tot ‘n hoër behoefte nie. Jesus het haar oortuig dat Hy die geheime van haar lewe gelees het; tog het sy gevoel dat Hy haar Vriend is, wat haar jammer kry en liefhet. Alhoewel Sy rein teenwoordigheid haar sonde veroordeel het, het Hy geen woord van veroordeling uitgespreek nie, maar van genade wat die siel kan vernuwe gespreek. Sy het begin om tot ‘n mate, ‘n oortuiging van Sy karakter te kry. Die vraag het by haar opgekom: Is dit nie dalk die lank-verwagte Messias nie? Toe sê sy vir Hom: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig.” Jesus het geantwoord: “Dit is Ek wat met jou spreek!” DKvDE 179.1
Toe die vrou hierdie woorde hoor, het geloof in haar hart opgewel. Sy het die wonderlike aankondiging van die lippe van die Goddelike Onderwyser aanvaar. DKvDE 179.2
Hierdie vrou was in ‘n waarderende gemoedstoestand. Sy was ontvanklik vir die edelste openbaring; want sy het in die Skrifte belanggestel en die Heilige Gees het haar gemoed voorberei om meer lig te ontvang. Sy het die belofte van die Ou Testament bestudeer: “‘n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die Here jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister.” (Deuteronomium 18:15). Sy het verlang om hierdie profesie te verstaan. Lig het reeds deur haar gedagtes geflits. Die water van die lewe, die geestelike lewe wat Christus aan elke dorstige siel gee, het in haar hart begin opwel. Die Gees van die Here was besig om in haar te werk. DKvDE 179.3
Die duidelike verklaring wat Christus aan hierdie vrou gemaak het, kon nie aan die eiegeregtige Jode gemaak word nie. Christus was baie meer terughoudend toe Hy met hulle gepraat het. Dit wat van die Jode weerhou was en wat die dissipels daarna beveel was om geheim te hou, is aan haar geopenbaar. Jesus het gesien dat sy haar kennis sou aanwend om ander te bring om in Sy genade te deel. DKvDE 180.1
Toe die dissipels terugkeer, was hulle verbaas om hul Meester met hierdie vrou te sien praat. Hy het nie die water waarna Hy gedors het gedrink nie en het ook nie getalm om die voedsel wat sy dissipels gebring het te eet nie. Toe die vrou weg is, het die dissipels by Hom aangedring om te eet. Hulle het gesien Hy was stil, afgetrokke en in bepeinsing weggevoer. Sy gelaat het lig uitgestraal en hulle was bevrees om Sy gemeenskap met die hemel te onderbreek. Maar hulle het geweet dat Hy swak en afgemat was en het dit as hul plig beskou om Hom aan sy fisiese behoeftes te herinner. Jesus het hul liefdevolle belangstelling erken en gesê: “Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie.” DKvDE 180.2
Die dissipels het gewonder wie vir Hom kos sou bring; maar Hy het verduidelik: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” (Johannes 4:34). Jesus was verheug omdat die vrou se gewete deur Sy woorde aangewakker is. Hy het gesien hoe sy van die water van die lewe drink en Sy eie honger en dors was bevredig. Die uitvoering van die sending waarvoor Hy die hemel verlaat het, het die Verlosser vir Sy arbeid versterk en Hom bo menslike behoeftes verhef. Om ‘n siel wat na waarheid honger en dors te bedien, was vir Hom van meer waarde as om te eet of te drink. Dit was vir Hom ‘n vertroosting en verkwikking. Welwillendheid was lewe vir Sy siel. DKvDE 180.3
Ons Verlosser dors na erkenning. Hy honger na die toegeneentheid en liefde van hulle wat Hy met Sy eie bloed gekoop het. Hy verlang met ‘n onuitspreeklike verlange dat hulle na Hom moet kom om die lewe te verkry. Soos ‘n moeder uitsien na die glimlag van erkenning van haar kindjie, wat van die eerste tekens van intelligensie spreek, sien Christus ook uit na die uitdrukking van dankbare liefde, wat toon dat ‘n geestelike lewe in die siel ontwaak het. DKvDE 181.1
Die vrou was met vreugde vervul toe sy na Christus se woorde geluister het. Die heuglike openbaring was byna oorweldigend. Sy het haar waterkruik net so gelos en na die stad teruggekeer om die boodskap aan ander oor te dra. Jesus het geweet waarom sy gegaan het. Die waterkruik wat agtergelaat is, het onomwonde van die effek van Sy woorde getuig. Dit was die ernstige begeerte van haar siel om die lewende water te verkry; sy het die rede waarom sy na die put gekom het vergeet en sy het van die dors van die Heiland, wat sy van plan was om te les, vergeet. Met ‘n hart wat oorloop van blydskap het sy haar gehaas om die kosbare lig wat sy so pas ontvang het, aan ander mee te deel. DKvDE 181.2
“Kom kyk ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het...” het sy vir die mense in die stad gesê. “Is Hy nie miskien die Christus nie?” Haar woorde het hulle harte aangeraak. Daar was ‘n nuwe uitdrukking op haar gelaat en haar hele voorkoms het verander. Hulle het belanggestel om Jesus te sien. “Hulle het toe uit die stad gegaan en na Hom gekom.” DKvDE 181.3
Terwyl Jesus nog by die put gesit het, het Hy oor die uitgestrekte graanlande voor Hom gekyk, hul sagte groen deur die goue sonlig verlig. Toe het Hy die toneel aan Sy dissipels uitgewys en dit as ‘n simbool gebruik: “Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes.” En terwyl Hy gepraat het, het Hy oor die groep heen gekyk wat na die put toe aangekom het. Dit was nog vier maande voor die oes van die graan, maar hier was ‘n oes, gereed vir die maaier. DKvDE 181.4
“Hy wat maai...” het Hy gesê, “...ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees. Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai en ‘n ander wat maai.” Hier wys Christus op die heilige diens wat deur diegene wat die evangelie ontvang, aan God verskuldig is. Hulle moet Sy lewende werktuie wees. Hy verg hul individuele diens. En of ons nou saai of maai, ons werk vir God. Een strooi die saad; ‘n ander samel die oes in; beide die saaier en die maaier ontvang hulle loon. Hulle verheug hulle saam in die beloning van hul arbeid. DKvDE 182.1
Jesus het vir die dissipels gesê: “Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie. Ander het gewerk en julle het in hulle arbeid ingegaan.” Die Heiland het hier vooruitgesien na die groot insameling op Pinksterdag. Die dissipels moes dit nie as die gevolg van hul eie pogings beskou nie. Hulle het die arbeid van andere betree. Sedert die val van Adam het Christus die saad van die woord aan Sy uitverkore dienaars toevertrou om in die harte van mense gesaai te word. En ‘n ongesiene Bemiddelaar, selfs ‘n alomteenwoordige Mag, het onopsigtelik maar gewis gewerk om die oes te lewer. Die dou, reën en die sonskyn van die genade van God is gegee om die saad van die waarheid te verkwik en te voed. Christus was gereed om die saad met Sy eie bloed te benat. Sy dissipels was bevoorreg om arbeiders saam met God te wees. Hulle was medewerkers van Christus en van die heilige manne van ouds. Met die uitstorting van die Heilige Gees met Pinkster sou duisende op een dag bekeer word. Dit was die resultaat van die saaiwerk van Christus-die oes op Sy arbeid. DKvDE 182.2
In die woorde wat teenoor die vrou by die put geuiter is, is goeie saad gesaai en hoe vinnig is die oes ontvang. Die Samaritane het gekom en na Jesus geluister en het in Hom geglo. Terwyl hulle by die put om Hom saamgedrom het, het hulle Hom met vrae bestook en verduidelikings oor baie dinge wat vir hulle onduidelik was, gevra. Soos hulle geluister het, het hul verwarring begin opklaar. Hulle was soos ‘n volk wat in groot duisternis verkeer het en ‘n skielike ligstraal tot die daglig gevind het. Maar hulle was nie met hierdie kort gesprek tevrede nie. Hulle was gretig om meer te hoor en dat hul vriende ook na hierdie wonderbaarlike Leraar moes luister. Hulle het Hom na hul stad genooi en gesmeek om by hulle te vertoef. Hy het twee dae in Samaria oorgebly en baie meer het in Hom geglo. DKvDE 182.3
Die Fariseërs het die eenvoud van Jesus verag. Hulle het Sy wonderwerke verontagsaam en ‘n teken dat Hy die Seun van God was, geëis. Maar die Samaritane het om geen teken gevra nie en Jesus het geen wonderwerke onder hulle verrig nie, behalwe deur die geheime van haar lewe aan die vrou by die put te openbaar. Tog het baie Hom aangeneem. In hul nuutgevonde vreugde het hulle aan die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld is.” DKvDE 183.1
Die Samaritane het geglo dat die Messias nie net as die Verlosser van die Jode sou kom nie, maar ook van die wêreld. Die Heilige Gees het deur Moses, Hom as ‘n profeet wat van God gestuur is, voorspel. Deur Jakob is verklaar dat die versameling van die volk deur Hom sou plaasvind; en deur Abraham, dat al die nasies van die wêreld in Hom geseën sou word. Die volk van Samaria het hul geloof in die Messias op hierdie tekste gebaseer. Die feit dat die Jode die latere profete verkeerd geïnterpreteer het en die eer van Christus se wederkoms aan Sy eerste koms toegeskryf het, het die Samaritane daartoe gelei om al die heilige Skrifte, behalwe dié wat deur Moses gegee is, te verwerp. Maar toe die Heiland hierdie valse interpretasies uit die weg geruim het, het baie die latere profesieë en die woorde van Christus self aangaande die koninkryk van God aanvaar. DKvDE 183.2
Jesus het die skeidsmuur tussen Jood en heiden begin afbreek en verlossing aan die wêreld verkondig. Alhoewel Hy ‘n Jood was, het Hy vrylik met die Samaritane gemeng en die Farisese gebruike van sy volk tot niet gemaak. Ten spyte van hul vooroordele het Hy die gasvryheid van hierdie veragte volk aanvaar. Hy het onder hulle dakke geslaap, saam met hulle aan tafel gesit, die voedsel wat met hul hande voorberei en bedien is geëet, in hul strate onderrig en hulle met die grootste vriendelikheid en hoflikheid behandel. DKvDE 184.1
Die tempel in Jerusalem is deur ‘n lae muur om die buitenste voorhof van die res van die gewyde gebou geskei. Op hierdie muur was inskripsies in verskillende tale wat verklaar het dat niemand anders as die Jode by hierdie grens verby mag gaan nie. Sou ‘n heiden die binneste omheining binnegaan, sou hy die tempel ontheilig het en met sy lewe daarvoor geboet het. Maar Jesus, die oorsprong van die tempel en die diens daarvan het, op grond van menslike deernis, die heidene na Hom toe getrek, terwyl Sy Goddelike genade aan hulle die redding gebring het wat die Jode verwerp het. DKvDE 184.2
Jesus se verblyf in Samaria was as ‘n seën vir Sy dissipels bedoel, wat nog onder die invloed van die Joodse vooroordeel was. Hulle was van mening dat trou teenoor hul eie volk vereis het dat hulle vyandskap teenoor die Samaritane moes koester. Hulle het oor Jesus se gedrag gewonder. Hulle kon nie weier om Sy voorbeeld te volg nie en het gedurende daardie twee dae in Samaria, in getrouheid aan Hom, hul vooroordele in bedwang gehou; tog was hulle nie in hul harte versoen nie. Hulle was traag om te aanvaar dat hul minagting en haat plek moes maak vir medelye en deernis. Maar ná die Here se Hemelvaart het Sy lesse nuwe betekenis vir hulle gekry. Ná die uitstorting van die Heilige Gees het hulle die Heiland se blik, Sy woorde, die respek en teerheid van Sy optrede teenoor hierdie veragte vreemdelinge onthou. Toe Petrus in Samaria gaan preek het, het hy dieselfde gees in sy eie werk aan die dag gelê. Toe Johannes na Éfese en Smirna geroep is, het hy die ervaring by Sigem onthou en was hy dankbaar vir die Goddelike Leraar, wat die probleme wat oor hulle pad sou kom vooruit gesien het, se eie voorbeeld. DKvDE 184.3
Die Heiland sit steeds dieselfde werk voort as toe Hy die water van die lewe aan die vrou van Samaria gebied het. Diegene wat hulself Sy volgelinge noem, mag die uitgeworpenes verag en vermy; maar geen omstandighede van geboorte of nasionaliteit, geen lewenstoestand, kan ooit Sy liefde vir die mensekinders van hulle afwend nie. Aan elke siel, hoe sondig ook al, sê Jesus: “As jy My dit gevra het, sou Ek vir jou lewende water gegee het.” DKvDE 185.1
Die evangelie-uitnodiging moet nie verklein word en slegs aan enkele uitverkorenes gebied word, wat soos ons meen, ons ‘n eer sal aandoen deur dit te aanvaar nie. Die boodskap moet aan almal gegee word. Oral waar daar oop harte is om die waarheid te ontvang, is Christus gereed om hulle te onderrig. Hy openbaar aan hulle die Vader en die aanbidding wat vir Hom wat die hart lees, aanvaarbaar is. Vir sulke mense gebruik Hy geen gelykenisse nie. Vir hulle, soos vir die vrou by die put, sê Hy: “Dit is Ek wat met jou spreek.” DKvDE 185.2
Toe Jesus gaan sit het om by die put van Jakob te rus, het Hy uit Judea gekom waar Sy bediening min vrugte opgelewer het. Hy is deur die priesters en rabbi’s verwerp en selfs diegene wat beweer het dat hulle Sy dissipels is, het nie daarin geslaag om Sy Goddelike karakter te onderskei nie. Hy was swak en afgemat; tog het Hy nie die geleentheid laat verbygaan om met een vrou te praat nie, al was sy ‘n vreemdeling, asook ‘n vreemdeling van Israel en in openlike sonde geleef het. DKvDE 185.3
Die Heiland het nie gewag vir gemeentes om bymekaar te kom nie. Dikwels het Hy Sy lesse met slegs ‘n paar mense om Hom begin, maar die verbygangers het stilgestaan om te luister, totdat ‘n menigte die woorde van God deur die hemel-gestuurde Leraar, met verwondering en ontsag aangehoor het. Die arbeider vir Christus moenie dink dat hy nie met dieselfde erns met slegs ‘n paar toehoorders kan praat, as met ‘n groter skare nie. Daar is dalk net een wat die boodskap hoor; maar wie weet hoe verreikend die invloed sal wees? Dit het selfs vir Sy dissipels beuselagtig voorgekom dat die Verlosser Sy tyd aan ‘n vrou van Samaria bestee het. Maar Hy het ernstiger en meer welsprekend met haar geredeneer as met konings, raadslede of hoëpriesters. Die lesse wat Hy aan daardie vrou geleer het, is tot aan die uithoeke van die aarde verkondig. DKvDE 185.4
Nadat die Samaritaanse vrou die Verlosser gevind het, het sy ander na Hom gebring. Sy het bewys dat sy ‘n meer effektiewe sendeling as Sy eie dissipels was. Die dissipels het niks in Samaria gesien om aan te dui dat dit ‘n belowende sendingveld was nie. Hulle gedagtes was op ‘n groot werk wat in die toekoms gedoen sou word gevestig. Hulle het nie gesien dat die oes rondom hulle ryp was om in te samel nie. Maar deur die vrou wat hulle verag het, is ‘n hele stad beweeg om na die Verlosser te luister. Sy het dadelik die lig na haar volksgenote oorgedra. DKvDE 186.1
Hierdie vrou verteenwoordig die werking van ‘n praktiese geloof in Christus. Elke ware dissipel word as sendeling in die koninkryk van God gebore. Wie van die lewende water drink, word ‘n fontein van die lewe. Die ontvanger word ‘n gewer. Die genade van Christus in die siel, is soos ‘n fontein in die woestyn wat opwel om almal te verkwik en diegene wat besig is om te vergaan, gretig maak om van die water van die lewe te drink. DKvDE 186.2