Die Koning van die Eeue

19/88

Hoofstuk 18—“Hy Moet Meer word” *

Die Doper se invloed op die nasie was vir ‘n tyd lank groter as die van die owerstes, priesters, of vorste. As hy homself as die Messias sou aankondig en ‘n opstand teen Rome sou aanhits, sou die priesters en volk hulle onder sy banier geskaar het. Satan was gereed om elke moontlike oorweging wat tot die ambisie van die wêreld se veroweraars sou spreek, aan Johannes die Doper voor te hou. Maar met die getuienis van Satan se mag voor hom, het hy hierdie uitmuntende omkoopprys volstrek geweier. Die aandag wat op hom gevestig was, het hy tot ‘n Ander gerig. DKvDE 167.1

Hy het aanskou hoe sy gewildheid van homself na die Verlosser draai. Dag vir dag het die skare rondom hom afgeneem. Toe Jesus van Jerusalem in die omgewing van die Jordaanstreek kom, het die volk soontoe gestroom om Hom te hoor. Die getal van Sy dissipels het daagliks toegeneem. Baie het gekom gedoop te word en hoewel Christus self nie gedoop het nie, het Hy die ordinansie van die doop deur Sy dissipels goedgekeur. So het Hy Sy seël op die sending van Sy voorganger geplaas. Maar die dissipels van Johannes het met jaloesie na die toenemende gewildheid van Jesus gekyk. Hulle het gereed gestaan om Sy werk te kritiseer en dit het nie lank geduur voordat die geleentheid hom voorgedoen het nie. Daar het ‘n vraag tussen hulle en die Jode ontstaan of die doop die siel van die sonde kon reinig; hulle het volgehou dat die doop van Jesus in wese verskil van dié van Johannes. Weldra was hulle in ‘n geskil met die dissipels van Christus oor die gepaste woorde om tydens die doop te gebruik en uiteindelik oor die reg van laasgenoemde om hoegenaamd te doop. DKvDE 167.2

Die dissipels van Johannes het met hul griewe na hom gekom en gesê: “Rabbi, Hy wat saam met u oorkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop en almal gaan na Hom toe.” Deur hierdie woorde het Satan versoeking oor Johannes gebring. Alhoewel Johannes se sending geblyk het sy einde te nader, was dit steeds vir hom moontlik om die werk van Christus te belemmer. Indien hy homself bejammer het en hartseer of teleurstelling uitgespreek het oor die feit dat hy vervang is, sou hy die saad van onenigheid gesaai het, afguns en jaloesie aangemoedig het en die vooruitgang van die evangelie belemmer het. DKvDE 168.1

Johannes het van nature oor dieselfde foute en swakhede as die mens beskik, maar die aanraking van Goddelike liefde het hom verander. Hy het in ‘n atmosfeer geleef wat nie met selfsug en ambisie besoedel was nie en ver bo die miasma van jaloesie. Hy het hom geensins met die ontevredenheid van sy dissipels vereenselwig nie, maar het getoon hoe duidelik hy sy verhouding met die Messias begryp en moet hoeveel dankbaarheid hy die Persoon vir wie hy die weg voorberei het, verwelkom. DKvDE 168.2

“'n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie...” het hy gesê. “Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie; maar dat ek voor Hom uitgestuur is. Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom.” Johannes het homself as die vriend wat as boodskapper tussen die verloofde partye optree en die weg vir die huwelik voorberei, voorgestel. Wanneer die bruidegom sy bruid ontvang het, is die vriend se taak afgehandel. Hy verheug hom oor die geluk van diegene wie se verbintenis hy bevorder het. So was Johannes geroep om die mense na Jesus te lei en dit was sy vreugde om die welslae van die werk van die Heiland te aanskou. “So is dan hierdie blydskap van my volkome...” het hy gesê. “Hy moet meer word, maar ek minder.” DKvDE 168.3

Met oë van geloof op die Verlosser gevestig, het Johannes tot die hoogtepunt van selfverloëning uitgestyg. Hy het nie daarna gestrewe om mense na homself te trek nie, maar om hul gedagtes steeds hoër op te hef, totdat hulle op die Lam van God sou rus. Hyself was net ‘n stem wat roep in die woestyn. Nou het hy die stilte en vergetelheid met blydskap aanvaar, sodat die oë van almal op die Lig van die lewe gerig kon word. DKvDE 169.1

Diegene wat getrou aan hul roeping as boodskappers vir God is, sal nie eer vir hulself soek nie. Liefde vir self sal in liefde vir Christus verswelg word. Geen wedywering sal die kosbare saak van die evangelie benadeel nie. Hulle sal besef dat dit hul taak is om, soos Johannes die Doper, te sê: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Johannes 1:29). Hulle sal Jesus verhef en saam met Hom sal die mensdom verhef word. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” (Jesaja 57:15). DKvDE 169.2

Die siel van die profeet, van die self geledig, was met Goddelike lig vervul. Soos hy tot eer van die Heiland getuig het, was sy woorde amper gelykstaande aan die woorde wat Christus in Sy onderhoud met Nikodemus geuiter het. Johannes het gesê: “Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal ... Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie.” Christus kon sê: “Ek [soek] nie my wil ... nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.” (Johannes 5:30). Aan Hom is verklaar: “U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, U God U gesalf met vreugdeolie bo U metgeselle.” (Hebreërs 1:9). Die Vader “...gee Hom die Gees nie met mate nie.” DKvDE 169.3

So ook met die volgelinge van Christus. Ons kan slegs die hemelse lig ontvang wanneer ons bereid is om leeg van onsself te word. Tensy ons bereid is om elke gedagte in gehoorsaamheid aan Christus te onderwerp, kan ons nie die karakter van God onderskei of Christus deur geloof aanneem nie. Aan almal wat dit doen, word die Heilige Gees sonder maat gegee. In Christus “...woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom.” (Kolossense 2:9,10). DKvDE 170.1

Die dissipels van Johannes het verklaar dat almal na Christus gaan, maar met helderder insig het Johannes gesê: “Niemand neem sy getuienis aan nie...”, so min was bereid om Hom as die Verlosser van sonde aan te neem. Maar “...wie Sy getuienis aangeneem het, het Sy seël daarop gesit dat God waaragtig is.” “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe.” Dit was nie nodig om te stry of dit Christus se doop of Johannes s'n was wat van sonde gereinig het nie. Dit is die genade van Christus wat lewe aan die siel gee. Sonder Christus is die doop, soos enige ander diens, ‘n waardelose vorm. “Hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie.” DKvDE 170.2

Berig van die welslae van Christus se werk, wat die Doper met soveel vreugde ontvang het, is ook aan die owerhede in Jerusalem gebring. Die priesters en rabbi’s was jaloers op Johannes se invloed toe hulle sien hoe die mense die sinagoges verlaat en na die woestyn stroom; maar hier was Een wat nog groter mag gehad het om die skares te trek. Hierdie leiers van Israel was nie bereid om saam met Johannes te sê: “Hy moet meer word, maar ek minder... ” nie. Inteendeel, hulle was nog meer vasberade om ‘n einde aan die werk wat die mense van hulle weggelok het, te maak. DKvDE 170.3

Jesus het geweet dat hulle geen moeite sou ontsien om tweedrag tussen Sy dissipels en dié van Johannes te saai nie. Hy het geweet dat ‘n storm aan die broei was, wat een van die grootste profete wat ooit aan die wêreld gegee is, sou wegvee. Ten einde alle geleenthede vir misverstand of onenigheid te vermy, het Hy stilweg Sy bediening gestaak en na Galiléa onttrek. Alhoewel ons aan die waarheid getrou is, moet ons probeer om alles wat tot onenigheid of misverstand kan lei, te vermy. Want waar hierdie dinge ontstaan, lei dit tot die verlies van siele. Wanneer daar omstandighede voorkom wat verdeeldheid kan veroorsaak, moet ons die voorbeeld van Jesus en Johannes die Doper volg. DKvDE 170.4

Johannes was opgeroep om as ‘n hervormer uit te lei. As gevolg hiervan het sy dissipels gevaar geloop om al hul aandag op hom te vestig en te dink dat die sukses van die werk, van sy arbeid afhanklik was en sodoende die feit dat hy slegs ‘n instrument was waardeur God gewerk het, uit die oog te verloor. Maar die werk van Johannes was nie voldoende om die grondslag van die Christelike kerk te lê nie. Toe hy sy sending voltooi het, was daar ‘n ander werk, wat sy getuienis nie kon vermag nie, wat gedoen moes word. Sy dissipels het dit nie verstaan nie. Toe hulle sien dat Christus inkom om die werk op te neem, was hulle jaloers en ontevrede. DKvDE 171.1

Dieselfde gevare bestaan steeds. God roep ‘n mens op om ‘n seker werk te verrig; en sodra hy dit sover gevoer het as wat sy bevoegdheid hom toelaat, bring die Here ander in om dit verder te voer. Maar, net soos Johannes se dissipels, dink baie dat die welslae van die werk van die eerste arbeider afhang. Die aandag word op die mens in plaas van die Goddelike gevestig, jaloesie tree in en die werk van God ly skade. Die een wat sodoende onverdiend vereer word, kom in die versoeking om selfgenoegsaamheid te koester. Hy besef nie sy afhanklikheid van God nie. Die mense word geleer om op die mens vir leiding te vertrou en sodoende verval hulle in dwaling en word van God weggelei. DKvDE 171.2

Die werk van God moet nie die beeld en stempel van die mens dra nie. Van tyd tot tyd sal die Here verskillende bemiddelaars, deur wie Sy doel die beste bereik kan word, inbring. Gelukkig is diegene wat bereid is vir die eie-ek om minder te word en soos Johannes die Doper te sê: “Hy moet meer word, maar ek minder.” DKvDE 172.1