Die Koning van die Eeue

4/88

Hoofstuk 3—“Die Volheid van die Tyd”

“Toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur ... om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.” (Galasiërs 4:4,5). DKvDE 16.1

Die koms van die Verlosser is in Eden voorspel. Toe Adam en Eva die belofte vir die eerste keer gehoor het, het hulle na die spoedige vervulling daarvan uitgesien. Hulle het hul eersgebore seun, in die hoop dat hy die Verlosser sou wees, met blydskap verwelkom. Maar die vervulling van die belofte het uitgebly. Diegene wat dit eerste ontvang het, het gesterf sonder om die vervulling daarvan te sien. Van die dae van Henog af is die belofte deur patriarge en profete herhaal, wat die hoop op Sy verskyning lewend gehou het en nog het Hy nie gekom nie. Die profesie van Daniël het die tyd van Sy koms geopenbaar, maar nie almal het die boodskap reg vertolk nie. Eeu na eeu het verloop; die stemme van die profete het stil geraak. Die hand van die verdrukker het swaar op Israel gerus en baie was gereed om uit te roep: “Die dae gaan voort en van al die gesigte kom niks nie” (Esegiël 12:22). DKvDE 16.2

Maar soos die sterre in die ontsaglike omwenteling van hul bepaalde weg, ken die planne van God geen haas of vertraging nie. Deur die simbole van die groot duisternis en die rokende oond, het God die slawerny van Israel in Egipte aan Abraham geopenbaar en verklaar dat die tyd van hulle verblyf vierhonderd jaar sou wees. “Daarna...” het Hy gesê, “...sal hulle uittrek met baie goed.” (Genesis 15:14) Teen daardie woord het al die mag van Farao se trotse ryk tevergeefs geveg. Op “...daardie selfde dag...” soos in die Goddelike belofte bepaal, “...het al die leërskare van die Here uit Egipteland uitgetrek.” (Exodus 12:41)So ook was die uur vir die koms van Christus in die hemelse raad bepaal. Toe die uur-aanwyser van daardie groot klok van tyd die uur aangewys het, is Jesus in Betlehem gebore. DKvDE 16.3

“Toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur.” (Galasiërs 4:4) Voorsienigheid het die bewegings van nasies en die gety van menslike impulse en invloede gelei totdat die wêreld ryp vir die koms van die Verlosser was. Die nasies was onder een regering verenig. Een taal is algemeen gepraat en is oral as die taal van die letterkunde erken. Uit alle lande het die verspreide Jode vir die jaarlikse feeste in Jerusalem byeengekom. Soos hulle na hul plekke van verblyf teruggekeer het, kon hulle die boodskap van die koms van die Messias oor die hele wêreld verkondig. DKvDE 17.1

Op hierdie tydstip het die praktyke van die heidendom hul houvas op die mense begin verloor. Hulle was moeg vir die optogte en fabels en het na ‘n godsdiens wat die hart kon bevredig verlang. Terwyl dit voorgekom het asof die lig van die waarheid van die mensdom gewyk het, was daar steeds siele wat na lig gesoek het en met radeloosheid en droefheid gevul was. Hulle het na ‘n kennis van die lewende God en sekerheid van lewe anderkant die graf gedors. DKvDE 17.2

Namate die Jode van God afgedwaal het, het hul geloof verflou en hoop op lig vir die toekoms het bykans verdwyn. Die woorde van die profete was onverstaanbaar. Vir die massas van die mensdom was die dood ‘n gevreesde misterie; en aan die anderkant was onsekerheid en duisternis. Dit was nie alleen die geween van die moeders van Betlehem nie, maar die uitroep uit die groot hart van die mensdom wat deur die eeue heen na die profeet oorgedra is-die stem wat uit Rama gehoor is: “...rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.” (Mattheus 2:18). “In die land van die skaduwee van die dood...” (Mattheus 4:16) is die mensdom troosteloos gelaat. Met verlangende oë het hulle na die koms van die Verlosser uitgesien, wanneer die duisternis verdryf en die verborgenheid van die toekoms opgeklaar sou word. DKvDE 17.3

Buiten die Joodse volk was daar mense wat die koms van ‘n Goddelike Leermeester voorspel het. Hierdie mense het na die waarheid gesoek en aan hulle is die Gees van Inspirasie gegee.Een na die ander, soos sterre aan ‘n donker hemel, het sulke leraars verrys. Hulle woorde van profesieë het hoop in die harte van duisende in die heidense wêreld laat opvlam. DKvDE 18.1

Die Skrif is honderde jare lank in die Griekse taal, wat op daardie stadium oral in die Romeinse Ryk gepraat is, vertaal. Die Jode was wyd verspreid en hul verwagting vir die koms van die Messias is tot ‘n mate ook deur die heidene gedeel. Onder diegene wat deur die Jode as heidene beskou is, was mense wat ‘n beter begrip van die profesieë in die Skrif aangaande die Messias gehad het as die leraars van Israel. Daar was sommige wat op Sy koms as Verlosser van sonde gehoop het. Filosowe het die misterie van die Hebreeuse godsdiens probeer peil, maar die bekrompenheid van die Jode het die verspreiding van die lig belemmer. Vasbeslote om die skeiding tussen hulle en ander nasies te handhaaf, was hulle nie bereid om die kennis van die simboliese diens waaroor hulle nog beskik het oor te dra nie. Die ware Vertolker moes kom. Die Een na Wie hierdie tipes vooruitgewys het, moes die betekenis daarvan kom verduidelik. DKvDE 18.2

God het deur die natuur, deur tipes en simbole, deur patriarge en profete tot die wêreld gespreek. Lesse moes, in die taal van die mensdom, aan hulle gebied word. Die Boodskapper van die verbond moes praat. Sy stem moes in Sy eie tempel gehoor word. Christus moes kom om met woorde wat duidelik en onmiskenbaar verstaan sou word te spreek. Hy, die Outeur van die waarheid, moes die waarheid van die kaf van menslike uitsprake wat dit oneffektief gemaak het, skei. Die lesse van die Ou Testament moes ten volle aan die mense geleer word. DKvDE 18.3

Onder die Jode was daar steeds standvastige siele, afstammelinge van die heilige geslag deur wie die kennis van God behoue gebly het. Hulle het steeds na die vervulling van die belofte wat aan die vaders gemaak is uitgesien. Hulle het hul geloof met die versekering wat deur Moses gegee is versterk: “Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek.” (Handelinge 3:22) Hulle het weer gelees hoe die Here Een sou salf om “...'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges ... om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep ... om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die Here.” (Jesaja 61:1,2) Hulle het gelees hoe Hy “...die reg op aarde... ” sal grond, hoe “...die eilande wag op Sy leer...” (Jesaja 42:4) “...en nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang.” (Jesaja 60:3). DKvDE 18.4

Die sterwenswoorde van Jakob het hulle met hoop vervul: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nog die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom.” (Genesis49:10). Die kwynende mag van Israel het daarvan getuig dat die koms van die Messias ophande was. Die profesie van Daniël het die heerlikheid van Sy koninkryk, wat alle aardse koninkryke sou opvolg uitgebeeld; en, het die profeet gesê, ‘n koninkryk wat “...in ewigheid nie vernietig sal word nie.” (Daniël 2:44). Alhoewel min mense die aard van Christus se sending verstaan het, was daar ‘n groot verwagting van ‘n magtige Vors wat Sy koninkryk in Israel sou vestig en wat as ‘n Verlosser vir die nasies sou kom. DKvDE 19.1

Die volheid van die tyd het aangebreek. Die mensdom, wat deur eeue van ongeregtigheid al hoe meer ontaard het, het na die koms van die Verlosser gesmag. Satan het getrag om die kloof tussen hemel en aarde diep en onoorbrugbaar te maak. Deur sy bedrog het hy mense in sonde aangemoedig. Dit was sy doel om die verdraagsaamheid van God uit te put en Sy liefde vir die mens uit te wis, sodat Hy die wêreld aan sataniese jurisdiksie kon oorgee. DKvDE 19.2

Satan het gepoog om mense van die kennis van God weg te keer, hulle aandag van die tempel af te wend en sy eie koninkryk te vestig. Sy strewe na oppergesag het geblyk amper volkome suksesvol te wees. Dit is egter waar dat God in elke geslag Sy bemiddelaars gehad het. Selfs onder die heidene was daar mense deur wie Christus gewerk het om die mensdom uit hul sonde en ontaarding op te hef. Maar hierdie mense was verag en gehaat. Baie van hulle het ‘n gewelddadige dood gesterf. Die donker skaduwee wat Satan oor die wêreld gewerp het, het dieper en dieper geword. DKvDE 19.3

Deur heidenisme het Satan die mens vir eeue van God weggekeer; maar sy groot oorwinning was die verdraaiing van Israel se geloof. Deur hul eie opvattings te bedink en te aanbid, het die heidene hul kennis van God verloor en steeds meer verdorwe geraak. So was dit ook met Israel. Die beginsel dat die mens hom deur sy eie werke kan red, het die grondslag van elke heidense godsdiens gevorm; en dit het nou die beginsel van die Joodse godsdiens geword. Satan het hierdie beginsel ingeplant. Waar dit ook al onderhou is, het mense geen versperring teen sonde gehad nie. DKvDE 20.1

Die boodskap van verlossing word aan die mensdom deur middel van menslike bemiddelaars oorgedra. Maar die Jode het gepoog om die waarheid, wat die ewige lewe is, te monopoliseer. Hulle het die lewende manna opgegaar en dit gekorrupteer. Die godsdiens wat hulle gepoog het om vir hulself te hou, het ‘n aanstoot geword. Hulle het God van Sy heerlikheid beroof en die wêreld met ‘n vervalsing van die evangelie bedrieg.Hulle het geweier om hulself aan God vir die redding van die wêreld oor te gee en het die agente van Satan vir die vernietiging daarvan geword. DKvDE 20.2

Die mense wat deur God geroep is om die pilaar en fondament van die waarheid te wees, het die verteenwoordigers van Satan geword. Hulle het die werk wat Hy wou hê hulle moes verrig, deur ‘n wanvoorstelling van die karakter van God verrig, sodat die wêreld Hom as ‘n tiran sou beskou. Die einste priesters wat in die tempel bedien het, het die betekenis van die diens wat hulle verrig het uit die oog verloor. Hulle het nie langer dit wat deur die simbool verteenwoordig was raakgesien nie. Hulle het die offergawes soos akteurs in ‘n toneelstuk aangebied. Die insettinge wat God self ingestel het, het middele geword waardeur die gees verblind en die hart verhard is. God kon niks verder deur hierdie kanale vir die mensdom doen nie. Die hele stelsel moes uitgewis word. DKvDE 20.3

Die misleiding van die sonde het sy hoogtepunt bereik. Al die agentskappe vir die verdorwenheid van die siele van mense is in werking gestel. Die Seun van God het die wêreld aanskou en lyding en ellende gesien. Met ontferming het Hy gesien hoe die mense die slagoffers van sataniese wreedheid geword het. Hy het met deernis op die wat verdorwe, vermoor en verlore geraak het, neergekyk. Hulle het ‘n heerser gekies wat hulle as gevangenes aan sy wa vasgeketting het. Verward en mislei het hulle in ‘n sombere optog na die ewige verderf beweeg-na ‘n dood waarin daar geen hoop op lewe was nie, na ‘n nag sonder daeraad. Sataniese agentskappe is by die mense ingelyf. Die liggame van mense, wat as woonplek vir God geskape is, het die woning van demone geword. Die sintuie, die senuwees, die hartstogte, die organe van mense, is deur bonatuurlike magte vir oorgawe aan die vuilste wellus beheer. Selfs op die menslike gelaat kon die afdruk van demone gesien word. Die menslike gelaat het die uitdrukking van die legioene boosheid waarmee hulle besete was, weerspieël. Dit was die toneel wat die wêreld se Verlosser aanskou het. Wat ‘n skouspel vir Oneindige Reinheid om te aanskou! DKvDE 21.1

Sonde het ‘n wetenskap geword en ondeug is as ‘n deel van godsdiens ingewy. Rebellie het sy wortels diep in die hart ingeslaan en die vyandigheid van die mens was die mees gewelddadigste teen die hemel gerig. Daar is voor die heelal getoon dat die mensdom, sonder God, nie opgehef kon word nie.'n Nuwe element van lewe en krag moes deur Hom wat die wêreld geskape het, oorgedra word. DKvDE 21.2

Met intense belangstelling het die ongevalle wêrelde toegekyk om te sien hoe God opstaan en die bewoners van die aarde wegvee. En indien God dit sou gedoen het, sou Satan gereed wees om sy plan, om die trou van hemelse wesens vir homself te verseker, uit te voer. Hy het verklaar dat die beginsels van die koninkryk van God vergifnis onmoontlik maak. Indien die wêreld vernietig was, sou hy geëis het dat sy aantygings waar bewys is. Hy was gereed om die skuld op God te werp en sy rebellie na die wêrelde daarbo uit te brei. Maar in plaas daarvan om die wêreld te vernietig, het God Sy Seun gestuur om dit te red. Hoewel korrupsie en uittarting in alle dele van hierdie vervreemde provinsie gesien kon word, is ‘n uitweg vir die redding daarvan voorsien. Tydens die ware krisis, toe dit wou voorkom asof Satan geseëvier het, het die Seun van God met ‘n ambassade van Goddelike genade opgedaag. Deur elke eeu, elke uur, is die liefde van God teenoor ‘n gevalle ras uitgeoefen. Nieteenstaande die perversiteit van mense, was die tekens van genade voortdurend sigbaar. En toe die volheid van die tyd aangebreek het, is die Godheid verheerlik, deur ‘n vloedgolf van helende genade op die wêreld uit te stort, wat nooit belemmer of teruggetrek sou word totdat die verlossingsplan vervul sou word nie. DKvDE 21.3

Satan het hom daarin verheug dat hy daarin geslaag het om die beeld van God in die mens te skend. Toe het Jesus gekom om die beeld van sy Maker in die mens te herstel. Niemand anders as Christus kan die karakter wat deur die sonde bederf is, opnuut hervorm nie. Hy het gekom om die demone wat die wil beheer het te verdryf. Hy het gekom om ons uit die stof op te lig, om die geskende karakter volgens die patroon van Sy Goddelike karakter te hervorm en dit met Sy eie heerlikheid te versier. DKvDE 22.1