Die Koning van die Eeue

5/88

Hoofstuk 4—Vir Julle ‘n Verlosser*

Die Koning van glorie het laag neergebuig om die mensheid aan te neem. Sy aardse omgewing was ru en weersinwekkend. Sy heerlikheid was versluier sodat die majesteit van Sy uiterlike nie ‘n voorwerp van aantrekkingskrag sou wees nie. Hy het alle uiterlike vertoon vermy. Rykdom, wêreldse eer en menslike grootsheid kan nooit ‘n siel van die dood red nie; Jesus het Hom voorgeneem dat geen aantrekkingskrag van ‘n aardse natuur mense na Hom toe moes lok nie. Slegs die skoonheid van hemelse waarheid moes diegene wat Sy volgelinge wou word aantrek. Die karakter van die Messias is lank reeds in die profesieë voorspel en Hy het begeer dat mense Hom op die getuienis van die Woord van God moes aanvaar. DKvDE 23.1

Die engele het hulle verwonder aan die heerlike verlossingsplan. Hulle het gewag om te sien hoe die volk van God Sy Seun, wat met mensheid beklee was, sou ontvang. Engele het na die land van die uitverkore volk gekom. Ander nasies was besig met fabels en aanbidding van valse gode. Die engele het na die land waar die heerlikheid van God geopenbaar was en die lig van profesie geskyn het, gekom. Hulle het ongesiens na Jerusalem gekom, na die aangestelde vertolkers van die Heilige Orakels en die bedienaars van die huis van God. Daar was reeds aan die priester Sagaria, terwyl hy voor die altaar bedien het, die nabyheid van die koms van Christus aangekondig. Die voorloper was reeds gebore, sy sending deur wonderwerke en profesie bevestig. Die tyding van Sy geboorte en die wonderbaarlike betekenis van Sy sending is na die omliggende lande versprei.Tog het Jerusalem nie gereedgemaak om hul Verlosser te verwelkom nie. DKvDE 23.2

Met verbasing het die hemelse boodskappers die onverskilligheid van die mense wat deur God geroep is om die lig van die heilige waarheid aan die wêreld oor te dra, gadegeslaan. Die Joodse volk is as getuies, dat Christus uit die nageslag van Abraham en die geslag van Dawid gebore sou word, bewaar; tog het hulle nie geweet dat Sy koms ophande was nie. In die tempel het die oggend-en aand-offerande daagliks na die Lam van God gewys; tog was selfs hier geen voorbereiding getref om Hom te ontvang nie. Die priesters en leraars van die nasie het nie geweet dat die grootste gebeurtenis van die eeue op die punt was om plaas te vind nie. Hulle het hulle betekenislose gebede en die daaglikse aanbiddingsrituele beoefen om deur mense gesien te word, maar in hul strewe na rykdom en wêreldse eer, was hulle nie voorbereid vir die openbaring van die Messias nie. Dieselfde onverskilligheid het die land van Israel deurdring. Selfsugtige en wêreldgesinde harte was onaangeraak deur die vreugde wat die ganse hemel in verrukking gehad het nie. Slegs ‘n paar het daarna verlang om die Onsienlike te aanskou. Na diesulkes is die hemelse ambassade gestuur. DKvDE 24.1

Engele het na Josef en Maria omgesien terwyl hulle van hul huis in Nasaret na die stad van Dawid gereis het. Die dekreet van keiserlike Rome vir die inskrywing van die volke in haar uitgebreide ryk, is na die inwoners tussen die heuwels van Galilea uitgebrei. Soos Kores in die antieke tyd tot die troon van die wêreldryk geroep is om die gevangenes van die Here te bevry, is Keiser Augustus, die agent vir die vervulling van God se doel om die moeder van Jesus na Bethlehem te bring, geroep. Sy is van die nageslag van Dawid en die Seun van Dawid moet in die stad van Dawid gebore word. Van Bethlehem sê die profeet: “...uit jou sal daar vir My uitgaan Een wat ‘n vir Julle ‘n Heerser in Israel sal wees; en Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” (Miga 5:1). Maar in die stad van hul koninklike geslag, was Josef en Maria onbekend en nie geëer nie. Uitgeput en haweloos het hulle die volle lengte van die smal straat, van die stadspoort tot by die oostelike deel van die stad deurkruis, tevergeefs op soek na ‘n rusplek vir die nag. Daar was geen plek vir hulle in die oorvol herberg nie. In ‘n ru gebou waar die diere gehuisves word, het hulle uiteindelik skuiling gevind en hier is die Verlosser van die wêreld gebore. DKvDE 24.2

Die mensdom het dit nie geweet nie, maar die tyding het die hemel met vreugde gevul. Met ‘n dieper en meer tere belangstelling is die heilige wesens van die wêreld van lig na die aarde getrek. Sy teenwoordigheid het die hele wêreld verlig.Bo die heuwels van Betlehem het ontelbare skares engele vergader. Hulle het gewag op die sein om die vreugdevolle tyding aan die wêreld te verkondig. As die leiers van Israel getrou aan hul opdrag was, sou hulle moontlik in die vreugde, om die geboorte van Jesus in te lui, gedeel het. Maar nou is hulle oor die hoof gesien. DKvDE 25.1

God het verklaar: “Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond.” (Jesaja 44:3) “Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis.” (Psalm 112:4). Aan hulle wat na die Lig soek en dit met blydskap aanneem, sal die helder strale van die troon van God skyn. DKvDE 25.2

In die velde waar die seun Dawid sy kuddes gelei het, het herders steeds snags gewaak. In die stille ure het hulle saam gesels oor die beloofde Verlosser en gebid vir die koms van die Koning na die troon van Dawid. “En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.” DKvDE 25.3

Met hierdie woorde, is die sinne van die luisterende herders met visioene van heerlikheid die gevul. Die Verlosser het na Israel gekom! Krag, verheffing en oorwinning word met Sy koms verbind. Maar die engel moes hulle voorberei om die Heiland in Sy armoede en vernedering te herken. “Dit is vir julle die teken...” het hy gesê, “...julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.” DKvDE 25.4

Die hemelse boodskapper het hul vrese gestil. Hy het aan hulle gesê hoe om Jesus te vind. Met tere besorgdheid vir hul menslike swakheid, het hy hulle tyd gegee om aan die Goddelike glans gewoond te raak. Toe kon die vreugde en heerlikheid nie langer beteuel word nie. Die aarde was stil en die hemel het neergebuig om na die lied te luister: DKvDE 26.1

“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” DKvDE 26.2

Ag as die mensdom vandag maar daardie lied kon herken! Die aankondiging wat toe gemaak is, die noot wat toe gespeel is, sal uitswel tot aan die einde van tyd en sal tot aan die uiteinde van die aarde weerklink. Wanneer die Son van Geregtigheid met genesing onder Sy vleuels opkom, sal die lied uit die mond van ‘n groot menigte herhaal word, soos die gedruis van baie waters, wat sê: “Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.” (Openbaring 19:6) DKvDE 26.3

Nadat die engele verdwyn het, het die lig verdof en die skaduwees van die nag het weer oor die heuwels van Betlehem toegesak. Maar die helderste beeld wat ooit deur menslike oë aanskou is, het in die geheue van die herders agtergebly. “En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het. En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die Kindjie wat in die krip lê.” DKvDE 26.4

Met groot vreugde het hulle vertrek om die dinge wat hulle gesien en gehoor het bekend te maak. “En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is; maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink. En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys.” DKvDE 26.5

Die Hemel en aarde is vandag nie verder van mekaar verwyder as toe die herders na die lied van die engele geluister het nie. Die mensdom is steeds die voorwerp van hemelse sorg, soos toe gewone mense, met gewone beroepe, engele helder oordag ontmoet en met die hemelse boodskappers in die wingerde en landerye verkeer het. Vir ons, in ons alledaagse lewenswandel, kan die hemel baie naby wees. Engele uit die hemelse howe sal die voetstappe van diegene wat op God se bevel kom en gaan, bewaar. DKvDE 27.1

Die verhaal van Betlehem is ‘n onuitputlike tema. Daarin is die “...diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God...” opgesluit. (Romeine 11:33). Ons verwonder ons oor die Heiland se opoffering om die hemelse troon vir die krip te verruil en die geselskap van aanbiddende engele vir die diere in die stal. Menslike trots en selfgenoegsaamheid staan bestraf in Sy teenwoordigheid. Maar dit was net die begin van Sy wonderbare toegeeflikheid. Dit sou vir die Seun van God ‘n bykans oneindige vernedering wees om die natuur van die mens aan te neem, selfs toe Adam in sy onskuld in Eden gestaan het. Maar Jesus het menslikheid aanvaar toe die ras deur vierduisend jaar van sonde afgetakel was. Soos elke kind van Adam het Hy die gevolge van die werking van die groot wet van oorerflikheid aanvaar. Wat hierdie gevolge was, word in die geskiedenis van Sy aardse voorouers getoon. Met hierdie erfenis het Hy gekom om ons ellendes en versoekings met ons te deel en om vir ons die voorbeeld van ‘n sondelose lewe te kom gee. DKvDE 27.2

In die hemel het Satan Christus oor Sy posisie in die howe van God gehaat. Hy het Hom des te meer gehaat toe hy self onttroon is. Hy het Hom, wat Homself aangebied het om ‘n ras van sondaars te verlos, gehaat. Tog het God Sy Seun toegelaat om, as ‘n hulpelose baba, onderworpe aan menslike swakhede, na ‘n wêreld waarin Satan beweer het dat hy heers, te kom. Hy het Hom toegelaat om dieselfde lewensgevaar wat elke menslike siel moet trotseer te ervaar, om die stryd te voer soos elke mensekind moet, met die risiko van mislukking en ewige verlies. DKvDE 27.3

Die hart van ‘n menslike vader gaan uit na sy seun. Hy kyk in die gesig van sy klein kindjie en sidder by die gedagte aan lewensgevaar. Hy verlang daarna om sy dierbare teen die mag van Satan te beskerm, om hom teen versoeking en konflik te beskerm. Maar God het Sy eniggebore Seun gegee om ‘n bitterder stryd en meer vreesagtige risiko te trotseer, sodat die lewensweg vir ons kindertjies beveilig kon word. “Hierin is liefde.” Staan verwonderd, o hemele! Staan verstom, o aarde! DKvDE 28.1