Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 2—Die Uitverkore Volk
Vir meer as ‘n duisend jaar het die Joodse volk op die koms van die Verlosser gewag. Al hulle hoop was op hierdie gebeurtenis gevestig. In sang en profesie, in tempelrituele en tuisgebede het hulle Sy Naam vereer. En tog, toe Hy kom, het hulle Hom nie herken nie. Die Geliefde van die hemel was vir hulle soos ‘n “...wortel uit droë grond...”; Hy het “...geen gestalte of heerlikheid...” (Jesaja 53:2) gehad dat hulle Hom sou begeer nie. “Hy het na Sy eiendom gekom en Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.” (Johannes 1:11) DKvDE 11.1
Tog het God Israel uitverkies. Hy het hulle geroep om die kennis van Sy wet en die simbole en profesieë wat na die Verlosser gewys het, onder die mense te bewaar. Sy begeerte was dat hulle heilsfonteine in die wêreld sou wees. Wat Abraham in die land van sy vreemdelingskap was, wat Josef in Egipte was en Daniël aan die Babiloniese hof, moes die Hebreeuse volk onder die nasies wees. Hulle moes God aan die mense openbaar. DKvDE 11.2
Toe Hy Abraham geroep het, het die Here gesê, “Ek sal ... jou seën ... dat jy ‘n seën sal wees... In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Genesis 12:2,3). Dieselfde leer is deur die profete herhaal. Selfs nadat Israel deur oorloë en ballingskap uitgeroei was, was die belofte nog daar: “Dan sal die oorblyfsel van Jakob onder baie volke wees soos dou van die Here, soos reënbuie op die plante, wat op geen mens wag nie en ter wille van geen mensekind vertoef nie.” (Miga 5:6). Aangaande die tempel in Jerusalem het die Here deur Jesaja verklaar: “My huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir al die volke.” (Jesaja 56:7). DKvDE 11.3
Maar Israel het hulle hoop op wêreldse grootsheid gevestig. Vanaf die tyd wat hulle die land Kanaän binnegegaan het, het hulle van die gebooie van God afgewyk en die weë van die heidene gevolg. Dit was tevergeefs dat God hulle deur die profete gewaarsku het. Tevergeefs het hulle die bestraffing van heidense onderdrukking ervaar. Elke hervorming is deur nog groter afvalligheid gevolg. DKvDE 11.4
Indien Israel aan God getrou gebly het, sou Hy Sy doel deur hulle verering en verheffing kon bereik het. As hulle in die weë van gehoorsaamheid gewandel het, sou Hy hulle “...bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot ‘n lof en ‘n roem en ‘n sieraad...” (Deuteronomium 26:19) gemaak het. “Al die volke van die aarde...” het Moses gesê, “...sal sien dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal jou vrees.” (Deuteronomium 28:10) “Die volke wat al hierdie insettinge sal hoor...” sal sê: “Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk.” (Deuteronomium 4:6) Maar vanweë hulle ontrouheid, kon God se voorneme slegs deur volgehoue teëspoed en vernedering verwesenlik word. DKvDE 12.1
Hulle is aan Babilon onderwerp en deur die heidense lande verstrooi. In hul beproewing het hulle weer hul getrouheid aan Sy verbond hernu. Terwyl hulle hul harpe aan die wilgers opgehang en oor die heilige tempel wat verwoes was getreur het, het die lig van die waarheid deur hulle geskyn en is ‘n kennis van God onder die nasies versprei. Die heidense offerstelsel was ‘n verdraaiing van die stelsel wat deur God ingestel is; en menige opregte onderhouer van heidense rituele, het by die Hebreërs die betekenis van die Goddelik-geordende diens geleer en in geloof die belofte van ‘n Verlosser aangegryp. DKvDE 12.2
Baie van die ballinge het vervolging gely. Dit was nie ‘n geringe getal wat hul lewens verloor het omdat hulle geweier het om die Sabbat te verontagsaam en die heidense feeste te hou nie. Soos wat afgodedienaars opgewek is om die waarheid uit te delg, het die Here Sy dienaars van aangesig tot aangesig in aanraking met konings en heersers laat kom, sodat hulle en hul onderdane die lig kon ontvang. Keer op keer is die magtigste vorste gelei om die oppergesag van die God wat deur die Hebreeuse gevangenes aanbid is, te verkondig. DKvDE 12.3
Deur die Babiloniese ballingskap is die Israeliete effektief van die aanbidding van gesnede beelde genees. Gedurende die eeue wat gevolg het, het hulle onder die onderdrukking van heidense vyande gely, totdat hulle vas oortuig was dat hul welvaart van hul gehoorsaamheid aan die wet van God afhang. Maar by te veel van hulle is gehoorsaamheid nie deur liefde aangespoor nie. Die motief was selfsug. Hulle het uiterlike diens aan God gelewer, as ‘n middel om nasionale grootheid te bereik. Hulle het nie die lig van die wêreld geword nie, maar het hulself van die wêreld afgesonder om die versoeking tot afgodery vry te spring. In die opdrag wat deur Moses gegee is, het God beperkings op hul verbintenis met afgodedienaars geplaas; maar hierdie lering is verkeerd vertolk. Dit was bedoel om te verhoed dat hulle aan die praktyke van die heidene voldoen. Maar dit is gebruik om ‘n muur van skeiding tussen Israel en alle ander nasies op te bou. Die Jode het Jerusalem as hul hemel beskou en hulle was eintlik jaloers op die feit dat die Here moontlik genade aan die heidene sou betoon. DKvDE 13.1
Na die terugkeer uit Babilon is baie aandag aan godsdiensonderrig bestee. Sinagoges is oor die hele land opgerig, waar die wet deur die priesters en skrifgeleerdes uiteengesit is. En skole is gestig waar, saam met die kunste en wetenskappe, hulle ook veronderstel was om in die beginsels van geregtigheid te onderrig. Maar hierdie middele het korrup geword. Gedurende die ballingskap het baie mense heidense idees en gebruike aangeneem wat in hul godsdiens ingebring is. In baie opsigte het hulle aan die praktyke van afgodedienaars voldoen. DKvDE 13.2
Namate hulle van God afgewyk het, het die Jode tot ‘n groot mate die lering van die rituele-diens uit die oog verloor. Hierdie diens is deur Christus self ingestel. Elke aspek daarvan was ‘n simbool van Hom; en dit was vol lewenskrag en geestelike skoonheid. Maar die Jode het die geestelike lewenskrag uit hul seremonies verlore laat gaan en aan dooie vorms gekleef. Hulle het op die offerandes en verordeninge op sigself vertrou, in plaas van op Hom, na Wie hierdie dinge gewys het. Ten einde die plek van dit wat verlore gegaan het te vul, het die priesters en rabbi’s al hoe meer vereistes van hul eie ingestel; en hoe meer onbuigsaam hulle geword het, hoe minder is liefde vir God geopenbaar. Hulle het hul heiligheid aan die talryke seremonies gemeet, terwyl hul harte met trots en geveinsdheid gevul was. DKvDE 13.3
Met al hul geringe en beswarende voorskrifte was dit onmoontlik om die wet te onderhou. Diegene wat God wou dien en wat probeer het om die rabbynse voorskrifte na te kom, het onder ‘n swaar las gebuk gegaan. Hulle kon geen rus van die aantygings van ‘n skuldige gewete vind nie. So het Satan te werk gegaan om die mens te ontmoedig, hul opvatting van die karakter van God te verlaag en die geloof van Israel ‘n veragting te maak. Hy het gehoop om sy eis wat hy tydens sy opstand in die hemel voorgelê het, dat die vereistes van God onregverdig is en nie gehoorsaam kan word nie, te bevestig. Selfs Israel, het hy verklaar, het nie die wet onderhou nie. DKvDE 14.1
Hoewel die Jode na die koms van die Messias verlang het, het hulle geen ware begrip van Sy sending gehad nie. Hulle het nie na bevryding van sonde gesoek nie, maar van die Romeine. Hulle het verwag dat die Messias as ‘n veroweraar sou kom om die mag van die verdrukker te verbreek en Israel tot universele heerskappy te verhef. So is die weg vir die verwerping van die Verlosser voorberei. DKvDE 14.2
Ten tye van die geboorte van Christus, het die volk onder die juk van buitelandse heersers gebuk gegaan en is hulle deur interne twis geteister. Die Jode is toegelaat om ‘n vorm van ‘n aparte regering te handhaaf, maar niks kon die feit dat hulle onder die Romeinse juk verkeer het verdoesel of hulle met die inperking van hul mag versoen nie. Die Romeine het die reg voorbehou om die hoëpriester aan te stel of te ontslaan en dikwels is daardie amp deur bedrog, omkopery en selfs moord bevestig. So het die priesterskap al hoe meer korrup geraak. Maar die priesters het steeds oor groot mag beskik, wat hulle vir selfsugtige en gierige doeleindes aangewend het. Die volk is aan genadelose eise onderwerp en is ook swaar deur die Romeine belas. Hierdie toedrag van sake het wydverspreide ontevredenheid veroorsaak. Algemene opstande het gereeld uitgebreek. Hebsug en geweld, wantroue en geestelike belangeloosheid het die hart van die volk verteer. DKvDE 14.3
Haat jeens die Romeine en nasionale en geestelike hoogmoed het daartoe gelei dat die Jode steeds streng by hul vormgodsdiens gehou het. Die priesters het probeer om ‘n reputasie van heiligheid te handhaaf deur noukeurige aandag aan godsdienstige seremonies te skenk. Die volk, in hul duisternis en verdrukking en met heersers wat na mag dors, het verlang na die koms van die Een wat hul vyande sou verslaan en die koninkryk van Israel sou herstel. Hulle het die profesieë bestudeer, maar sonder geestelike insig. Daarom het hulle die skrifte wat na die vernedering van Christus met Sy eerste koms gewys het, misgekyk en dit wat na die heerlikheid van Sy wederkoms verwys het, verkeerd toegepas. Hoogmoed het hul visie benewel. Hulle het die profesieë in die lig van hul eie selfsugtige begeertes vertolk. DKvDE 15.1