Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 17—Nikodemus *
Nikodemus het ‘n hoë vertrouensposisie onder die Joodse volk beklee. Hy was hoogs opgelei en het oor buitengewone talente beskik en hy was ‘n geërde lid van die Joodse raad. Saam met ander is hy deur die leringe van Jesus aangeraak. Alhoewel hy ryk, geleerd en geëerd was, het die Nasarener hom op ‘n vreemde wyse aangetrek. Die lesse uit die mond van die Verlosser, het hom baie beïndruk en hy wou graag meer van hierdie wonderlike waarhede leer. DKvDE 155.1
Christus se uitoefening van gesag in die reiniging van die tempel, het ‘n vasberade haat by die priesters en owerstes gewek. Hulle het die mag van hierdie vreemdeling gevrees. Sulke blatante optrede van ‘n obskure Galileër was onaanvaarbaar. Hulle was daarop ingestel om ‘n einde aan Sy werk te maak. Maar nie almal het hiermee saamgestem nie. Sommige was bevrees om hulle teen iemand wat só deur die Gees van God aangeraak is, te verset. Hulle het onthou hoe profete gedood is omdat hulle die sondes van die leiers van Israel bestraf het. Hulle het geweet dat die slawerny van die Jode onder ‘n heidense nasie die gevolg van hul hardkoppigheid was deur die teregwysings van God te verwerp. Hulle was bang dat die priesters en owerstes deur die sameswering teen Jesus, in die voetstappe van hul vaders sou volg en rampe oor die volk sou bring. Nikodemus het hierdie gevoelens gedeel. In ‘n raadsvergadering van die Sanhedrin, waartydens die optrede teen Jesus bespreek is, het Nikodemus hulle tot versigtigheid gemaan. Hy het daarop gewys dat indien Jesus werklik met die gesag van God beklee is, dit gevaarlik sou wees om Sy waarskuwings te verontagsaam. Die priesters het hierdie raad nie durf verontagsaam nie en vir ‘n tyd het hulle geen openlike stappe teen die Verlosser geneem nie. DKvDE 155.2
Sedert Nikodemus Jesus aangehoor het, het hy die profesieë aangaande die Messias ywerig bestudeer; en hoe meer ondersoek hy gedoen het, hoe sterker was sy oortuiging dat dit die Een was wat sou kom. Saam met baie ander in Israel was hy diep gegrief deur die ontheiliging van die tempel. Hy was ‘n getuie van die toneel toe Jesus die kopers en verkopers verdryf het; hy het die wonderbaarlike manifestasie van Goddelike krag aanskou; hy het gesien hoe die Verlosser die armes ontvang en die siekes genees; hy het hulle blikke van blydskap gadegeslaan en hul lofbetuigings gehoor; hy het nie getwyfel dat Jesus van Nasaret die Gestuurde van God was nie. DKvDE 156.1
Hy wou baie graag met Jesus praat, maar het teruggedeins daarvan om Hom openlik te nader. Dit sou te vernederend vir ‘n owerste van die Jode wees om te erken dat hy simpatiek teenoor ‘n leraar was wat nog so onbekend was. En sou sy besoek tot die kennis van die Sanhedrin kom, sou hy hom hul afkeur en veroordeling op die hals haal. Hy het besluit om Jesus heimlik op te soek, met die verskoning dat indien hy dit openlik sou doen, ander dalk sy voorbeeld sou volg. Deur spesifieke navrae, het hy geleer dat die Verlosser na die Olyfberg waar hy gebly het, onttrek het en gewag totdat slaap die stad oorval het voordat hy Hom gaan opsoek het. DKvDE 156.2
In die teenwoordigheid van Christus het Nikodemus ‘n vreemde skugterheid, wat hy agter ‘n houding van kalmte en waardigheid verberg het, ervaar. “Rabbi...” het hy gesê, “...ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.” Hy het gehoop om die weg vir sy onderhoud te baan, deur na Christus se begaafdheid as Leraar en ook Sy mag om wonderwerke te verrig, te verwys. Sy woorde was bedoel om wedersydse vertroue te wek, maar in werklikheid het hulle ongeloof uitgespreek. Hy het Jesus nie as die Messias erken nie, maar slegs as ‘n leraar wat van God gestuur is. DKvDE 156.3
In stede daarvan om hierdie begroeting te erken, het Jesus Sy oë op die spreker gevestig, asof Hy tot in sy diepste wese kon lees. In Sy oneindige wysheid het Hy ‘n soeker na die waarheid voor Hom gesien. Hy het geweet wat die doel van hierdie besoek was en met die begeerte om die oortuiging wat reeds in Sy toehoorder se gemoed was te verdiep, het Hy direk tot die punt gekom en plegtig, maar vriendelik gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” DKvDE 157.1
Nikodemus het na die Here gekom en gedink om met Hom in gesprek te tree, maar Jesus het die grondbeginsels van die waarheid blootgelê. Hy het vir Nikodemus gesê: Dit is nie teoretiese kennis wat jy so nodig het nie, maar ‘n geestelike wedergeboorte. Jy het nie nodig dat jou nuuskierigheid bevredig word nie, maar ‘n nuwe hart. Jy moet ‘n nuwe lewe van Bo ontvang voordat jy hemelse dinge kan waardeer. Totdat hierdie verandering plaasvind en alles nuut maak, sal dit geen nut vir jou hê om My gesag of My sending met My te bepreek nie. DKvDE 157.2
Nikodemus het die prediking van Johannes die Doper oor bekering en doop gehoor en hoe hy die mense gewys het na die Een wat met die Heilige Gees sou doop. Hy het self gevoel dat daar ‘n gebrek aan geestelikheid onder die Jode was en dat hulle tot ‘n groot mate deur dweepsug en wêreldse ambisie beheer was. Hy het gehoop dat die koms van die Messias ‘n beter stand van sake teweeg sou bring. Maar die hartsondersoekende boodskap van die Doper het nie daarin geslaag om hom van sonde te oortuig nie. Hy was ‘n streng Fariseër, trots op sy goeie werke. Hy was alom geag vir sy welwillendheid en vrygewigheid tot die onderhoud van die tempeldiens en hy was verseker van die guns van God. Hy was verbaas by die gedagte aan ‘n koninkryk wat te rein was vir hom om in sy huidige toestand te sien. DKvDE 157.3
Die beeld van die wedergeboorte wat Jesus gebruik het, was vir Nikodemus nie heeltemal onbekend nie. Bekerings van heidene tot die geloof van Israel, is dikwels met pasgebore kinders vergelyk. Daarom moes hy besef het dat die woorde van Christus nie letterlik opgeneem moes word nie. Maar op grond van sy geboorte as Israeliet het hy homself seker gevoel van ‘n plek in die koninkryk van God. Hy het gedink dat hy geen behoefte aan verandering nodig gehad het nie. Vandaar sy verbasing oor die Heiland se woorde. Hy was geïrriteer deur die noue toepassing op homself. Die trots van die Fariseër was in stryd met die eerlike begeerte van die soeker na die waarheid. Hy was verwonderd dat Christus hom op die wyse aangespreek het waarop Hy gedoen het, sonder om sy posisie as owerste in Israel te respekteer. DKvDE 158.1
Uit sy selfvoldaanheid onthuts, het hy Christus met woorde vol ironie geantwoord: “Hoe kan ‘n mens as hy oud is, weer gebore word?” Soos so dikwels gebeur wanneer die snydende waarheid aan die gewete tuisgebring word, het hy die feit verraai dat die natuurlike mens nie die dinge van die Gees van God kan aanvaar nie. Daar was niks in hom wat op geestelike dinge reageer het nie; want geestelike dinge word geestelik onderskei. DKvDE 158.2
Maar die Verlosser het nie die argument met ‘n teenargument beantwoord nie. Met Sy hand plegtig, stil en waardig opgehef, het hy die waarheid met groter sekerheid tuisgebring: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” Nikodemus het geweet dat Christus hier verwys het na die waterdoop en die vernuwing van die hart deur die Gees van God. Hy was oortuig dat hy in die teenwoordigheid van die Een was wat Johannes die Doper voorspel het. DKvDE 158.3
Jesus het voortgegaan: “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” Die hart is van nature boos en “...kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine? Nie een nie.” (Job 14:4). Geen menslike uitvindsel kan ‘n geneesmiddel vir die sondige siel bedink nie. “Omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.” (Romeine 8:7) “Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal...” (Mattheus 15:19). Die fontein van die hart moet eers gesuiwer word voordat die waterstrome suiwer kan word. Wie poog om die hemel deur sy eie werke deur die wet te onderhou, te bereik, probeer om die onmoontlike te bereik. Daar is geen veiligheid vir iemand wat bloot ‘n wettiese godsdiens, ‘n vorm van godsaligheid het nie. Die Christen se lewe is nie ‘n verandering of verbetering van die oue nie, maar ‘n transformasie van die karakter. Dit is ‘n sterwe aan self en ‘n totale nuwe lewe. Hierdie verandering kan slegs deur die effektiewe werking van die Heilige Gees teweeggebring word. DKvDE 159.1
Nikodemus was steeds verward en Jesus het die wind gebruik om die betekenis toe te lig: “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” DKvDE 159.2
Die wind word tussen die takke van die bome, in die geritsel van blare en blomme gehoor; tog is dit onsigbaar en niemand weet waar dit vandaan kom of waarheen dit gaan nie. So is die werking van die Heilige Gees op die hart. Dit kan net so min soos die beweging van die wind verklaar word. ‘n Mens kan dalk nie die presiese tyd of plek aandui, of al die omstandighede in die proses van bekering naspeur nie; maar dit bewys nie dat hy onbekeerd is nie. Deur ‘n agentskap so onsigbaar soos die wind, werk Christus voortdurend in die hart. Geleidelik, moontlik onbewustelik vir die ontvanger, word indrukke geskep wat geneig is om die siel nader aan Christus te trek. Dit kan ontvang word deur oor Hom te peins, die Skrif te lees of deur die woord van ‘n lewende prediker te hoor. Dan skielik, sal die siel, wanneer die Gees met ‘n meer direkte oproep kom, homself graag aan Jesus oorgee. Dit word deur baie, ‘n skielike bekering genoem; maar dit is die gevolg van ‘n lang bearbeiding deur die Gees van God, ‘n geduldige, langdurige proses. DKvDE 159.3
Terwyl die wind self onsigbaar is, kan die uitwerking daarvan gesien en gevoel word. So sal die werking van die Gees Homself op die siel van die een wat Sy reddende krag ervaar het, in elke daad openbaar. Wanneer die Gees van God die hart in besit neem, transformeer Hy die lewe. Sondige gedagtes word verdryf, bose dade versaak; liefde, nederigheid en vrede neem die plek van woede, afguns en veglus in. Vreugde neem die plek van hartseer in en die gelaat weerkaats die lig van die hemel. Niemand sien die hand wat die las verlig of aanskou die lig wat vanuit die hemelse voorhowe neerdaal nie. Die seën kom wanneer die siel homself in geloof aan God oorgee. Dan skep die krag wat geen menslike oog kan sien nie, ‘n nuwe wese na die beeld van God. DKvDE 160.1
Dit is onmoontlik vir die verganklike verstand om die verlossingswerk te begryp. Dit is ‘n verborgenheid wat bo die menslike kennis verhewe is; maar wie van die dood na die lewe oorgaan, besef dat dit ‘n Goddelike werklikheid is. Hier kan ons die begin van verlossing persoonlik ervaar. Die gevolge daarvan strek tot in ewigheid. DKvDE 160.2
Terwyl Jesus gepraat het, het grepe van die waarheid die gedagtes van die owerste binnegedring. Die versagtende, onderwerpende invloed van die Heilige Gees het sy hart beïndruk. Tog het hy die Heiland se woorde nie volkome verstaan nie. Hy was nie soseer deur die noodsaaklikheid van die wedergeboorte beïndruk nie, as deur die wyse waarop dit bereik word. Verwonderd het hy gevra: “Hoe kan hierdie dinge gebeur?” DKvDE 160.3
“Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” het Jesus gevra. Iemand aan wie die godsdiensonderrig van die volk toevertrou is, kan tog seker nie onkundig oor sulke belangrike waarhede wees nie. Sy woorde het die les oorgedra dat Nikodemus, vanweë sy geestelike onkunde, in stede van geïrriteerd oor die duidelike woorde van die waarheid te wees, homself eerder in ‘n baie nederige lig moes aanskou. Tog het Christus met sulke plegtige waardigheid gepraat en beide Sy voorkoms en stem het sulke opregte liefde weerspieël, dat Nikodemus nie aanstoot geneem het toe hy sy vernederende toestand besef het nie. DKvDE 161.1
Maar toe Jesus verduidelik dat dit Sy sending op aarde was om ‘n geestelike en nie ‘n tydelike koninkryk op te rig nie, was Nikodemus ontsteld. Toe Jesus dit sien, het Hy bygevoeg: “As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?” As Nikodemus nie die leer van Christus oor die werking van genade op die hart kon verstaan nie, hoe sou hy die aard van Sy glorieryke hemelse koninkryk begryp? Nie in staat om die aard van Christus se werk op aarde te onderskei nie, kon hy ook nie Sy werk in die hemel begryp nie. DKvDE 161.2
Die Jode wat deur Christus uit die tempel verdryf is, het beweer dat hulle kinders van Abraham was, maar hulle het van die Verlosser se teenwoordigheid gevlug omdat hulle nie die heerlikheid van God wat in Hom geopenbaar is, kon verduur nie. Daardeur het hulle bewys gelewer dat hulle nie deur die genade van God toegerus was om aan die heilige tempeldienste deel te neem nie. Hulle was ywerig om ‘n skyn van heiligheid te handhaaf, maar hulle het die heiligheid van hul harte verwaarloos. Terwyl hulle die letter van die wet aangehang het, het hulle die gees daarvan voortdurend geskend. Hulle groot behoefte was juis die verandering wat Christus aan Nikodemus verduidelik het, ‘n nuwe morele geboorte, ‘n reiniging van sonde en ‘n vernuwing van kennis en heiligheid. DKvDE 161.3
Daar was geen verskoning vir die blindheid van Israel ten opsigte van die werk van wedergeboorte nie. Onder inspirasie van die Heilige Gees het Jesaja geskryf: “Ons het almal geword soos ‘n onreine en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed.” (Jesaja 64:6) Dawid het gebid: “Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees.” (Psalm 51:12.) En deur Esegiël is die belofte gegee: “Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal My Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in My insettinge wandel en My verordeninge onderhou en doen.” (Esegiël 36:26,27). DKvDE 162.1
Nikodemus het hierdie skrifgedeeltes met ‘n benewelde verstand gelees; maar nou het hy die betekenis daarvan begryp. Hy het besef dat die strengste gehoorsaamheid aan die blote letter van die wet wat op die uiterlike toegepas word, niemand toegang tot die koninkryk van die hemele kan gee nie. Menslik gesproke was sy lewe regverdig en eerbaar; maar in die teenwoordigheid van Christus het hy gevoel dat sy hart onrein en sy lewe onheilig was. DKvDE 162.2
Nikodemus was tot Christus aangetrokke. Namate die Heiland die wedergeboorte aan hom verduidelik het, het hy verlang dat hierdie verandering in homself moes plaasvind. Maar op watter wyse kon dit bereik word? Jesus het die onuitgesproke vraag beantwoord: “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” DKvDE 162.3
Nikodemus het hom nou op bekende terrein begeef. Die simbool van die verhoogde slang het die sending van die Verlosser vir hom duidelik gemaak. Toe die volk van Israel van die vurige slangbyte gesterf het, het God Moses beveel om ‘n slang van koper te maak en dit te midde van die skare op te hef. Toe is aan die hele laer bekend gemaak dat almal wat na die slang kyk, sou lewe. Die volk het goed geweet dat die slang op sigself geen mag gehad het om hulle te help nie. Dit was ‘n simbool van Christus. Soos die beeld wat volgens die gelykenis van die vernietigende slange gemaak is vir hul genesing opgehef is, so sou Een wat “...in die gelykheid van die sondige vlees...” gemaak is, hul Verlosser wees. (Romeine 8:3). Baie van die Israeliete het die offerdiens opsigself as ‘n deug beskou om hulle van sonde te bevry. God wou hulle leer dat dit nie meer waarde as die koperslang gehad het nie. Dit was om hul gedagtes na die Verlosser te lei. Of dit vir die genesing van hul wonde, of die vergewing van hul sondes was, hulle kon niks vir hulleself doen nie, behalwe om hul geloof in die Geskenk van God te toon. Hulle moes aanskou en lewe. DKvDE 162.4
Diegene wat deur die slange gebyt was, kon versuim het om te kyk. Hulle kon getwyfel het oor die krag in daardie koper simbool. Hulle kon miskien ‘n wetenskaplike verklaring geëis het. Maar geen verduideliking is gegee nie. Hulle moes die woord van God, wat deur Moses aan hulle gegee is, glo. Om te weier om te aanskou, was om te vergaan. DKvDE 163.1
Die siel word nie deur teenstrydigheid en bespreking verlig nie. Ons moet kyk en lewe. Nikodemus het die les ter harte geneem en met hom saamgedra. Hy het die Skrif op ‘n nuwe wyse ondersoek, nie vir bespreking van ‘n teorie nie, maar om lewe vir sy siel te ontvang. Toe hy hom aan die leiding van die Heilige Gees onderwerp, het hy begin om die koninkryk van die hemele te sien. DKvDE 163.2
Daar is vandag duisende mense wat dieselfde waarheid moet leer as wat Nikodemus deur die opgehefde slang geleer het. Hulle is van hul gehoorsaamheid aan die wet afhanklik om hulle vir die guns van God aan te beveel. Wanneer hulle beveel word om na Jesus op te kyk en te glo dat Hy hulle slegs deur Sy genade red, roep hulle uit: “Hoe kan hierdie dinge gebeur?” DKvDE 163.3
Soos Nikodemus, moet ons bereid wees om die lewe soos die grootste sondaar te betree. “Want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word...” as dié van Christus nie. (Handelinge 4:12). Deur geloof ontvang ons die genade van God; maar geloof is nie ons verlosser nie. Dit verdien niks. Die genesing vir sonde is deur die hand waarmee ons aan Christus en Sy verdienste vashou. Ons kan nie eers berou betoon sonder die Gees van God nie. Die Skrif sê aangaande Christus: “Hom het God as ‘n Leidsman en Verlosser deur Sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.” (Handelinge 5:31). Bekering kom net so gewis van Christus as wat vergifnis kom. DKvDE 164.1
Hoe moet ons dan gered word? “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het...” so is die Seun van die mens verhoog en elkeen wat deur die slang mislei en gepik is, mag kyk en lewe. “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Johannes 1:29). Die lig wat van die kruis af skyn, openbaar die liefde van God. Sy liefde trek ons na Hom. As ons nie hierdie aantrekking weerstaan nie, sal ons in berou oor die sondes wat die Verlosser gekruisig het, na die voet van die kruis gelei word. Dan sal die Gees van God deur geloof ‘n nuwe lewe in die siel verwek. Die gedagtes en drange sal gehoorsaam aan die wil van Christus gemaak word. Die hart en die verstand, word opnuut na die beeld van Hom wat in ons werk om alle dinge aan Hom te onderwerp geskape. Dan word die wet van God op die verstand en in die hart geskryf en kan ons saam met Christus sê: “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen.” (Psalm 40:9). DKvDE 164.2
In die onderhoud met Nikodemus het Jesus die verlossingsplan en Sy sending na die wêreld ontvou. In geen een van Sy daaropvolgende toesprake het Hy die werk, wat in die harte van almal wat die koninkryk van die hemele sou beërwe nodig was, so volledig stap vir stap verduidelik nie. Heel aan die begin van Sy bediening het Hy die waarheid aan ‘n lid van die Sanhedrin, aan die verstand wat die mees ontvanklikste was en ‘n aangestelde leraar van die volk, oopgestel. Maar die leiers van Israel het die lig nie verwelkom nie. Nikodemus het die waarheid in sy hart verberg en drie jaar lank was daar weinig sigbare vrugte. DKvDE 164.3
Maar Jesus het die grond waarin Hy die saad geplant het, geken. Die woorde wat in die nag by ‘n eensame berg teenoor ‘n enkele luisteraar gespreek is, het nie verlore gegaan nie. Nikodemus het Christus vir ‘n tyd lank nie in die openbaar erken nie, maar hy het Sy lewe dopgehou en Sy leringe oorpeins. In die raad van die Sanhedrin, het hy herhaaldelik die sameswerings van die priesters om Hom om die lewe te bring, verydel. Toe Jesus uiteindelik op die kruis verhef is, het Nikodemus die woorde op die Olyfberg onthou: “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Die lig van daardie geheime onderhoud het die kruis op Golgota verlig en Nikodemus het die Verlosser van die wêreld in Jesus gesien. DKvDE 165.1
Na die Here se Hemelvaart, toe die dissipels deur vervolging verstrooi is, het Nikodemus onverskrokke na vore getree. Hy het sy rykdom aangewend om die jong kerk, wat die Jode verwag het met die dood van Christus sou uitsterf, te onderhou. In die tyd van gevaar het hy wat so versigtig en vol twyfel was, rotsvas gestaan, die geloof van die dissipels aangemoedig en die middele voorsien om die werk van die evangelie voort te sit. Hy is verag en deur diegene wat voorheen eerbied aan hom betoon het, vervolg. Hy het arm aan wêreldse goed geword; tog het hy nie in die geloof wat sy oorsprong in daardie nagtelike gesprek met Jesus gehad het, gewankel nie. DKvDE 165.2
Nikodemus het die verhaal van die onderhoud aan Johannes vertel en deur sy pen is dit ter voorligting van miljoene opgeteken. Die waarhede wat daar geleer is, is vandag nog net so belangrik soos destyds op die plegtige nag in die skaduagtige berg, toe die Joodse owerste die weg van die lewe by die nederige Leermeester van Galiléa kom leer het. DKvDE 166.1