Die Koning van die Eeue

17/88

Hoofstuk 16—In Sy Tempel *

“Daarna het Hy na Kapérnaum afgegaan, Hy en sy moeder en sy broers en sy dissipels, en hulle het daar nie baie dae gebly nie. En die Pasga van die Jode was naby, en Jesus het opgegaan na Jerusalem.” DKvDE 141.1

Op hierdie reis het Jesus by een van die groot geselskappe aangesluit wat op pad na die hoofstad was. Hy het nog nie Sy sending in die openbaar bekend gemaak nie en het onopmerklik met die skare gemeng. By hierdie geleenthede was die koms van die Messias, wat so prominent as gevolg van die bediening van Johannes was, die hooftema van gesprekke. Die hoop op nasionale grootheid is met aansteeklike geesdrif bespreek. Jesus het geweet dat hierdie hoop teleurgestel sou word, want dit was op ‘n verkeerde vertolking van die Skrif gebaseer. Met diepe erns het Hy die profesieë verduidelik en probeer om die mense aan te spoor tot ‘n dieper bestudering van God se Woord. DKvDE 141.2

Die Joodse leiers het aan die volk opdrag gegee dat hulle in Jerusalem onderrig moes word om God te aanbid. Daar het gedurende die week van die Pasga groot getalle, afkomstig uit alle dele van Palestina en selfs van ver af hier bymekaargekom. Die tempelhowe was gevul met ‘n mengelmoes van mense. Baie was nie in staat om die offerandes, wat as ‘n tipe van die een groot Offer geoffer moes word, saam te bring nie. Vir hulle gerief is diere in die buitenste voorhof van die tempel gekoop en verkoop. Hier het alle klasse mense saamgedrom om hul offerdiere te koop. Hier was allerlei buitelandse geld vir die munte van die heiligdom verwissel. DKvDE 141.3

Elke Jood moes jaarliks ‘n halwe sikkel as “losprys” vir sy lewe betaal en die geld wat aldus ingesamel is, is vir die onderhoud van die tempel gebruik. (Exodus 30:12-16). Daarbenewens is groot bedrae as vrywillige offergawes gebring om in die skatkis van die tempel gestort te word. Daar is vereis dat alle vreemde muntstukke vir ‘n muntstuk wat ‘n tempel-sikkel genoem word en wat aanvaarbaar vir die diens van die heiligdom was, verwissel moes word. Hierdie verwisseling van geld het geleentheid vir bedrog en afpersing gebied en het skandelike afmetings aangeneem, wat ‘n bron van inkomste vir die priesters geword het. DKvDE 141.4

Die handelaars het buitensporige pryse vir die diere wat verkoop is, geëis en hul winste met die priesters en owerstes gedeel, wat hulself aldus ten koste van die volk verryk het. Die aanbidders is geleer om te glo dat tensy hulle offers bring, die seën van God nie op hul kinders of landerye sou rus nie. ‘n Hoë prys kon dus vir die offerdiere behaal word; want mense wat so ver gekom het, sou nie na hul tuistes terugkeer sonder om die offer waarvoor hulle gekom het, te bring nie. DKvDE 142.1

'n Groot aantal offers is tydens die Pasga gebring en die handel in die tempel was baie bedrywig. Die gevolglike verwarring het meer op ‘n rumoerige veeveiling gedui as na die heilige tempel van God. Luidkeelse gekibbel oor pryse, die geloei van beeste, die geblêr van skape en die gekoer van duiwe was met die geklingel van geld en kwaai stryery gemeng. Die verwarring was so groot dat die aanbidders ontsteld was en die woorde wat tot die Allerhoogste gerig is, was onhoorbaar bo die lawaai wat van buite gekom het. Die Jode was baie trots op hul vroomheid. Hulle het hulle in hul tempel verheug en ‘n ongunstige opmerking daarteen was as godslastering beskou. Hulle was baie streng in die uitvoering van die seremonies wat daaraan verbonde was; maar geldgierigheid het hul gewetenswroegings oorheers. Hulle was skaars bewus van hoe ver hulle van die oorspronklike doel van die diens, wat deur God self ingestel is, afgedwaal het. DKvDE 142.2

Toe die Here op die berg Sinai neergedaal het, is die plek deur Sy teenwoordigheid geheilig. Moses was beveel om ‘n gebied rondom die berg af te kamp en dit te heilig en die waarskuwende woord van die Here is gehoor: “Pas op dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik gedood word. Geen hand mag hom aanraak nie; maar hy moet sekerlik gestenig of sekerlik met ‘n pyl geskiet word; of dit ‘n dier of ‘n mens is-hy mag nie lewe nie.” (Exodus 19:12,13). So is die les geleer dat die plek waar God Sy teenwoordigheid openbaar, heilig is. Die gebied van die tempel van God moes heilig geag word. Maar in die gejaag na geld is dit alles uit die oog verloor. DKvDE 143.1

Die priesters en owerstes is opgeroep om die verteenwoordigers van God vir die volk te wees; hulle moes die wanpraktyke in die tempelhof regstel. Hulle moes vir die volk ‘n voorbeeld van integriteit en barmhartigheid stel. In plaas daarvan om hul eie wins te beding, moes hulle die omstandighede en behoeftes van die aanbidders oorweeg het en bereid gewees het om diegene te help wat nie die vereiste offerdier kon bekostig nie. Maar dit het hulle nie gedoen nie. Geldgierigheid het hul harte verhard. DKvDE 143.2

Daar het mense na hierdie fees gekom wat gebrek gely het en in ellende en nood verkeer het. Daar was blindes, kreupeles en dowes. Sommiges is op beddens gebring. Baie was te arm om selfs die nederigste offer vir die Here te koop, selfs te arm om voedsel te koop om hul honger mee te stil. Diesulkes was ontsteld oor die uitlatings van die priesters. Die priesters het op hul vroomheid geroem; hulle het beweer dat hulle die voogde van die volk is; maar hulle was sonder deernis of medelye. Die armes, siekes en sterwendes het tevergeefs vir gunste gepleit. Hul lyding het geen medelye in die harte van die priesters gewek nie. DKvDE 143.3

Toe Jesus in die tempel kom het Hy die toneel gadegeslaan. Hy het die oneerlike transaksies opgemerk. Hy het die nood van die armes, wat gedink het dat sonder die vergieting van bloed daar geen vergifnis vir hul sondes sou wees nie, raakgesien. Hy het gesien hoe die buitenste voorhof van die tempel in ‘n plek van onheilige handeldryf omskep is. Die gewyde voorhof het een groot handelsmark geword. DKvDE 143.4

Christus het besef dat iets gedoen moes word. Talle seremonies is aan die volk opgedra sonder behoorlike opdragte aangaande die belangrikheid daarvan. Die aanbidders het hul offers gebring sonder om te verstaan dat dit ‘n tipe van die enigste perfekte Offer was. En onder hulle, onherkenbaar en ongeëerd, het die Een wat deur hierdie dienste gesimboliseer is, gestaan. Hy het die opdragte met betrekking tot offers gegee. Hy het die simboliese betekenis daarvan verstaan en Hy het gesien hoedat dit nou verdraai en verkeerd verstaan word. Geestelike aanbidding was vinnig besig om te verdwyn. Geen skakel het die priesters en die owerstes met hul God verbind nie. Christus se taak was om ‘n heel ander vorm van aanbidding in te stel. DKvDE 144.1

Met ‘n ondersoekende blik het Christus, terwyl Hy op die trappe van die tempelhof staan, die toneel voor Hom gadegeslaan. Met ‘n profetiese oog het Hy in die toekoms gekyk en nie net jare nie, maar eeue vooruit gesien. Hy het gesien hoe priesters en owerstes die behoeftiges van hul reg ontneem en verbied dat die evangelie aan die armes verkondig word. Hy het gesien hoe die liefde van God vir sondaars verberg word en die mense met Sy genade handeldryf. Terwyl Hy die toneel aanskou het, was daar verontwaardiging, gesag en krag op Sy gelaat. Toe word die aandag van die mense op Hom gevestig. Die oë van diegene wat met hul onheilige handel besig was, was op Sy gesig vasgenael. Hulle kon nie hul oë van Hom afwend nie. Hulle het gevoel dat hierdie Man hul diepste gedagtes deurpriem en hul verborge motiewe blootgelê het. Sommige het probeer om hul gesigte te verberg, asof hul bose dade op hul voorkop geskrywe staan, om deur daardie deurtastende oë geskandeer te word. DKvDE 144.2

Die verwarring het bedaar. Die geluid van verkeer en onderhandelinge het stil geraak. Die stilte was pynlik. ‘n Gevoel van ontsag het die vergadering oorweldig. Dit was asof hulle, om verantwoording vir hul dade te doen, voor die tribunaal van God te staan gekom het. Terwyl hulle na Christus gekyk het, het hulle Goddelikheid deur die kleed van mensheid sien flits. Die Majesteit van die hemel het daar gestaan, soos die Regter op die laaste dag sal staan, nie nou met die heerlikheid wat Hom op daardie dag sal omring nie, maar met dieselfde mag om die siel te deurboor. Sy blik het oor die skare gegaan en elke individu opgemerk. Dit was asof Sy gedaante in gesaghebbende waardigheid bo hulle uitgetroon het en ‘n Goddelike lig het Sy aangesig verlig. Toe het Hy gepraat en met Sy helder welluidende stem, dieselfde stem wat die wet op Sinai afgekondig het-wat die priesters en owerstes nou oortree-het deur die koepels van die tempel weerklink: “Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ‘n handelshuis maak nie.” DKvDE 145.1

Hy het stadig met die trappe afbeweeg en ‘n sweep wat Hy met toue gemaak het, opgelig en die handelaars van die tempel verdryf. Met ‘n ywer en strengheid wat Hy nooit voorheen openbaar het nie, het Hy die tafels van die geldwisselaars omgekeer. Die skerp klank van geld wat oor die marmer-plaveisel rol het opgeklink. Niemand het gewaag om Sy gesag te bevraagteken nie. Nie een het gewaag om hul wins wat op ‘n onregmatige wyse bekom is, bymekaar te raap nie. Jesus het hulle nie met die gevlegte sweep geslaan nie, maar in Sy hand het daardie eenvoudige sweep soos ‘n vurige swaard gelyk. Tempeldienaars, spekulerende priesters, makelaars en veehandelaars met hul skape en beeste, het haastig padgegee om onder die oordeel van Sy teenwoordigheid uit te ontsnap. DKvDE 145.2

Paniek het oor die skare, wat gevoel het hulle word deur Sy Godheid oorskadu, gespoel. Uitroepe van vrees het uit honderde bleek lippe gekom. Selfs die dissipels het gebewe. Hulle was verbysterd oor die woorde en optrede van Jesus, so anders as wat hulle Hom geken het. Hulle het onthou dat daar aangaande Hom geskrywe is: “Die ywer vir U huis het My verteer.” (Psalm 69:10). Die rumoerige skare met hulle handelsware was spoedig ver van die tempel van die Here verwyder. Die voorhowe was vry van onheilige verkeer en ‘n diep stilte en plegtigheid het op die toneel van verwarring neergedaal. Die teenwoordigheid van die Here, wat die berg in die ou tyd geheilig het, het nou die tempel wat tot Sy eer gebou is, geheilig. DKvDE 146.1

Met die reiniging van die tempel het Jesus Sy sending as die Messias aangekondig en met Sy werk begin. Daardie tempel, wat as woning vir die Goddelike Teenwoordigheid opgerig was, was bestem om vir Israel en vir die wêreld ‘n voorwerples te wees. Van ewigheid af was dit God se doel dat elke geskape wese, vanaf die glinsterende, heilige seraf tot die mens, ‘n tempel vir die inwonende Skepper moet wees. As gevolg van sonde het die mens opgehou om ‘n tempel vir God te wees. Verduister en besoedel deur die bose, het die hart van die mens nie meer die heerlikheid van die Goddelike weerspieël nie. Maar deur die vleeswording van die Seun van God is die doel van die hemel vervul. God woon in die mens en deur Sy reddende genade word die hart van die mens weer Sy tempel. Dit was God se plan dat die tempel in Jerusalem ‘n voortdurende getuie sou wees van die hoë bestemming wat oop is vir elke siel. Maar die Jode het nie die betekenis van die gebou wat hulle met soveel trots aanskou het, begryp nie. Hulle het hulself nie as heilige tempels vir die Heilige Gees oopgestel nie. Die voorhowe van die tempel in Jerusalem, gevul met die rumoer van onheilige verkeer, verteenwoordig waarlik die tempel van die hart wat deur die aanwesigheid van sensuele hartstogte en onheilige gedagtes besoedel is. Deur die tempel van die handelaars van die wêreld te reinig, kondig Jesus Sy missie om die hart van die besoedeling van sonde te reinig-van die wêreldse begeertes, die selfsugtige drange en die bose gewoontes wat die siel korrupteer, aan. DKvDE 146.2

“Dan sal skielik na Sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare. Maar wie kan die dag van Sy koms verdra? En wie sal standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer.” (Maleagi 3:1-3). DKvDE 147.1

“Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.” (1 Korinthiërs 3:16,17). Geen mens kan die bose wat van sy hart besit geneem het, uit eie krag uitwerp nie. Net Christus kan die tempel van die siel reinig. Maar Hy sal nie toegang afdwing nie. Hy kom nie in die hart soos na die tempel van ouds nie; maar Hy sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe.” (Openbaring 3:20). Hy sal nie slegs vir een dag kom nie, want Hy sê: “Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel ... en hulle sal vir My ‘n volk wees.” (2 Korinthiërs 6:16). “U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.” (Miga 7:19) Sy teenwoordigheid sal die siel reinig en heilig, sodat dit ‘n heilige tempel vir die Here kan wees, “...tot ‘n woning van God in die Gees.” (Efesiërs 2:21,22). DKvDE 147.2

Oorkom met vrees, het die priesters en owerstes uit die tempelvoorhof gevlug, weg van die deursoekende blik wat hul harte gelees het. In hul vlug het hulle ander ontmoet wat op pad na die tempel was en hulle aangeraai om terug te draai en aan hulle vertel wat hulle gesien en gehoor het. Christus het die vlugtende manne met hunkerende jammerte vir hulle vrees en hul onkunde aangaande ware aanbidding gadegeslaan. In hierdie toneel het Hy die verstrooiing van die hele Joodse volk weens hul boosheid en onboetvaardigheid gesimboliseer gesien. DKvDE 147.3

En waarom het die priesters uit die tempel gevlug? Waarom het hulle nie hul man gestaan nie? Hy wat hulle beveel het om weg te gaan, was die seun van ‘n timmerman, ‘n arme Galileër, sonder aardse rang of mag. Waarom het hulle Hom nie weerstaan nie? Waarom het hulle hul wins wat hulle onregmatig bekom het net so gelaat en op bevel van Een wat uiterlik so nederig voorgekom het, gevlug? DKvDE 148.1

Christus het met die gesag van ‘n koning gepraat en in Sy voorkoms en in Sy stem was daar onweerstaanbare gesag. Op die bevel van Sy woord het hulle hul ware toestand as huigelaars en rowers soos nog nooit tevore nie, besef. Toe Goddelikheid deur menslikheid geflits het, het hulle nie net die verontwaardiging op Christus se gelaat gesien nie, maar het hulle die betekenis van Sy woorde besef. Dit was asof hulle voor die troon van die ewige Regter gestaan het, met hul vonnis vir tyd en ewigheid opgelê. Hulle was vir ‘n tyd lank oortuig dat Christus ‘n profeet was; baie het geglo dat Hy die Messias was. Die Heilige Gees het die uitsprake van die profete aangaande Christus in hul gedagtes laat opvlam. Sou hulle aan hierdie oortuiging toegee? DKvDE 148.2

Maar bekeer, sou hulle nie. Hulle het geweet dat Christus se meegevoel vir die armes opgewek was. Hulle het geweet dat hulle, in hul omgang met die mense, aan afpersing skuldig was. Omdat Christus hul gedagtes kon onderskei, het hulle Hom gehaat. Sy openbare teregwysing het hul trots gekrenk en hulle was jaloers op sy toenemende invloed op die mense. Hulle was vasbeslote om Hom aangaande die gesag waarmee Hy hulle uitgedryf het en oor wie aan Hom die mag gegee het, uit te daag. DKvDE 148.3

Langsamerhand en peinsend, maar met haat in hulle harte, het hulle weer na die tempel teruggekeer. Maar wat ‘n verandering het tydens hul afwesigheid plaasgevind! Toe hulle gevlug het, het die armes agtergebly; en hulle het nou na Jesus, Wie se gelaat liefde en meegevoel uitgespreek het, opgekyk. Met trane in Sy oë het Hy vir die bewendes rondom Hom gesê: “Moenie vrees nie; Ek sal julle verlos, en julle sal My verheerlik. Hiervoor het Ek in die wêreld gekom.” DKvDE 149.1

Die volk het met dringende, jammerlike uitroepe in Christus se teenwoordigheid saamgedrom: “Meester, seën my.” Sy oor het elke uitroep gehoor. Met deernis, groter as dié van ‘n moeder, het Hy oor die lydende kleintjies gebuig. Almal het Sy aandag geniet. Almal is genees van watter kwaal hulle ook al gehad het. Die stommes het hulle lippe in lofprysing oopgemaak; die blindes het die aangesig van hul Heler gesien. Die harte van die lydendes is met vreugde gevul. DKvDE 149.2

Wat ‘n openbaring was hierdie geluide wat op die ore van die priesters en tempeldienaars wat hierdie grootse werk aanskou het, nie! Die mense het die verhaal van die pyn wat hulle gely het, van hul teleurgestelde hoop, van pynlike dae en slaaplose nagte vertel. Toe dit lyk of die laaste vonkie hoop uitgedoof was, het Christus hulle genees. “Die las was so swaar...” het een gesê; “...maar ek het ‘n helper gevind. Hy is die Christus van die Here en Ek sal my lewe aan Sy diens wy.” Ouers het vir hul kinders gesê: “Hy het jul lewens gered, verhef jul stemme en prys Hom.” Die stemme van kinders en jeugdiges, vaders en moeders, vriende en toeskouers, het saam in lof en danksegging opgestyg. Hoop en vreugde het hul harte gevul. Hulle het vrede vir hul gemoed gevind. Hulle is in siel en liggaam herstel en het huiswaarts gekeer en oral die weergalose liefde van Jesus verkondig. DKvDE 149.3

Toe Christus gekruisig is, het diegene wat so genees was, hulle nie met die gepeupel vereenselwig en geroep “Kruisig, kruisig Hom” nie. Hulle het met Jesus gesimpatiseer; want hulle het Sy groot deernis en wonderwerkende krag ervaar. Hulle het geweet dat Hy hul Verlosser was; want Hy het hulle liggaam en siel genees. Hulle het na die prediking van die apostels geluister en die woord van God het ingang in hul harte gevind en aan hulle insig verleen. Hulle het verteenwoordigers van die genade van God en instrumente van Sy verlossing geword. DKvDE 149.4

Die skare wat uit die tempelvoorhof gevlug het, het later geleidelik teruggekeer. Hulle het gedeeltelik van die paniek wat hulle beetgepak het herstel, maar op hulle gelaat was ‘n uitdrukking van besluiteloosheid en skugterheid. Hulle het met verbasing die werk van Jesus aanskou en was oortuig dat die profesieë aangaande die Messias in Hom vervul is. Die sonde van die ontering van die tempel het tot ‘n groot mate op die skouers van die priesters gerus. Dit was deur hulle toedoen dat die voorhof in ‘n markplein omskep is. Die mense was relatief onskuldig. Hulle was onder die indruk van die Goddelike gesag van Jesus; maar die invloed van die priesters en owerstes het oorwegend by hulle getel. Hulle het Christus se sending as ‘n nuwigheid beskou en het Sy reg om met wat deur die tempelowerhede toegelaat is in te meng, betwyfel. Hulle het aanstoot geneem omdat die onderhandelinge verbreek is en het die oortuigings van die Heilige Gees onderdruk. DKvDE 150.1

Bo almal, moes die priesters en owerstes, die Gesalfde van die Here in Jesus gesien het; want die heilige boekrolle wat Sy sending beskryf het was in hulle hande en hulle het geweet dat die reiniging van die tempel ‘n manifestasie van meer as menslike krag was. Hoeveel hulle Jesus ook al gehaat het, kon hulle hulself nie van die gedagte bevry dat Hy dalk ‘n profeet is wat deur God gestuur is om die heiligheid van die tempel te herstel nie. Met respek wat uit hierdie vrees gebore is, het hulle na Hom gegaan met die vraag: “Watter teken toon U aan ons, dat U hierdie dinge doen?” DKvDE 150.2

Jesus het aan hulle ‘n teken gegee. Deur lig in hul harte te laat flits en deur werke voor hulle te verrig wat die Messias moes verrig, het Hy oortuigende getuienis van Sy karakter gelewer. En toe hulle nou om ‘n teken vra, het Hy hulle met ‘n gelykenis geantwoord om aan te dui dat Hy deur hul kwaadwilligheid gesien het en geweet het waartoe dit hulle sou lei. “Breek hierdie tempel af...” het Hy gesê “...en in drie dae sal Ek dit oprig.” DKvDE 150.3

Hierdie woorde het ‘n tweërlei betekenis gehad. Hy het nie net na die vernietiging van die Joodse tempel en aanbidding verwys nie, maar na Sy eie dood-die vernietiging van die tempel van Sy liggaam. Die Jode was reeds besig met ‘n sameswering. Toe die priesters en owerstes na die tempel terugkeer, het hulle hul voorgeneem om Jesus te dood en sodoende van die “ergernis” ontslae te raak. Maar, toe Hy hul voorneme aan hulle voorgehou het, het hulle Hom nie verstaan nie. Hulle het Sy woorde as slegs van toepassing op die tempel beskou en het verontwaardig uitgeroep: “Ses-en-veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig?” Hulle het nou gemeen dat Jesus hul ongeloof regverdig het en was vasbeslote in hul verwerping van Hom. DKvDE 151.1

Dit was nie Christus se doel dat Sy woorde deur die ongelowige Jode, of selfs Sy dissipels op hierdie stadium verstaan sou word nie. Hy het geweet dat Sy vyande dit verkeerd sou opneem en teen Hom sou draai. Tydens sy verhoor sou dit as beskuldiging teen Hom ingebring word en op Golgota sou dit as ‘n bespotting teen Hom geslinger word. Maar om nou aan hulle te verduidelik, sou aan Sy dissipels ‘n kennis van Sy lyding gee en smart oor hulle bring wat hulle nog nie kon verduur nie. En ‘n verduideliking sou voortydig aan die Jode die gevolg van hul vooroordeel en ongeloof openbaar. Hulle het reeds ‘n rigting ingeslaan wat hulle vasberade sou volg totdat Hy soos ‘n lam ter slagting gelei word. DKvDE 151.2

Dit was ter wille van diegene wat in Hom sou glo, dat hierdie woorde deur Christus gespreek is. Hy het geweet dat dit herhaal sou word. Omdat dit tydens die Pasga uitgespreek is, sou dit die ore van duisende bereik en na alle dele van die wêreld geneem word. Nadat Hy uit die dood opgestaan het, sou die betekenis daarvan duidelik gemaak word. Vir baie sou dit afdoende bewys van Sy Godheid wees. DKvDE 151.3

Vanweë hul geestelike duisternis, kon selfs die dissipels van Jesus dikwels nie Sy lesse begryp nie. Maar baie van hierdie lesse het deur latere gebeure aan hulle duidelik geword. Toe Hy nie meer saam met hulle gestap het nie, was Sy woorde vir hulle ‘n riem onder die hart DKvDE 152.1

Met verwysing na die tempel by Jerusalem, het die Verlosser se woorde: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal ek dit oprig... ” ‘n dieper betekenis gehad as wat Sy hoorders besef het. Christus was die Fondament en Lewe van die tempel. Die dienste daarvan was ‘n tipe van die offer van die Seun van God. Die priesterdom is tot stand gebring om die middelaarskap en werk van Christus voor te stel. Die hele plan van die offerstelsel was ‘n voorafskaduwing van die dood van die Verlosser om die wêreld te verlos. Hierdie offers sou kragteloos word wanneer die groot gebeurtenis waarna hulle nou al eeue lank heen gewys het, vervul is. DKvDE 152.2

Aangesien die hele seremoniële-stelsel simbolies van Christus was, het dit geen waarde sonder Hom gehad nie. Toe die Jode hul verwerping van Christus verseël het deur Hom aan die dood oor te lewer, het hulle alles wat betekenis aan die tempel en die dienste daarvan gegee het, verwerp. Die heiligheid daarvan het verdwyn. Dit was tot vernietiging gedoem. Van daardie dag af was die offerandes en die diens daaraan verbonde betekenisloos. Soos die offer van Kain, het dit nie geloof in die Verlosser weerspieël nie. Deur die dood van Christus het die Jode hul tempel in werklikheid vernietig. Toe Christus gekruisig is, het die voorhangsel van die tempel, as teken dat die groot finale Offer gebring was en dat die offerstelsel vir goed beëindig was, van bo na onder in twee geskeur. DKvDE 152.3

“...in drie dae sal Ek dit oprig.” In die dood van die Verlosser wou dit voorkom asof die magte van die duisternis die oorhand gekry het en hulle was verheug oor hul oorwinning. Maar uit die geopende graf van Josef het Jesus as Oorwinnaar uitgetree, “...nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.” (Kolossense 2:15). Op grond van Sy dood en opstanding het Hy die Bedienaar geword van die “...ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ‘n mens nie.” (Hebreërs 8:2) Die Joodse tabernakel is deur mense opgerig; maar die heiligdom daarbo, waarvan die aardse maar ‘n tipe was, is deur geen menslike argitek opgerig nie. “Kyk, daar kom ‘n Man wie se Naam is Spruit ... en Hý sal die tempel van die Here bou ... en Hý sal majesteit verkry en sit en heers op Sy troon; ook sal Hy ‘n priester wees op Sy troon.” (Sagaria 6:12,13). DKvDE 153.1

Die offerdiens wat op Christus gewys het, het verbygegaan; maar die oë van die mense word op die ware Offer vir die sondes van die wêreld gevestig. Die aardse priesterdom het opgehou; maar ons kyk op na Jesus, die Bedienaar van die nuwe verbond en na “...die bloed van die besprinkeling wat van beter dinge spreek as Abel.” (Hebreërs 12:24). “Die weg na die heiligdom [is] nog nie geopen ... solank as die eerste tabernakel nog standhou nie ... Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakte tabernakel wat nie met hande gemaak is nie ... met Sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.” (Hebreërs 9:8-12). DKvDE 153.2

“Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (Hebreërs 7:25). Hoewel die bediening van die aardse tempel na die hemelse tempel verskuif sou word en hoewel die heiligdom en ons groot Hoëpriester onsigbaar vir die menslike oog sou wees, sou die dissipels daardeur geen verlies ly nie. Daar sou geen breuk in hul gemeenskap en geen afname van krag as gevolg van die Heiland se afwesigheid wees nie. Terwyl Jesus in die hemelse heiligdom dien, is Hy steeds deur Sy Gees, die bedienaar van die kerk op aarde. Hy is vir die sintuie verborge, maar Sy afskeidsbelofte is vervul: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Mattheus 28:20). Hoewel Hy Sy mag aan minderwaardige bedienaars delegeer, is Sy energieke teenwoordigheid steeds met Sy kerk. DKvDE 153.3

“Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het ... naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Hebreërs 4:14-16). DKvDE 154.1