Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 15—Die Bruilofsfees *
Jesus het Sy bediening nie met ‘n groot werk voor die Sanhedrin in Jerusalem begin nie. Op ‘n huishoudelike byeenkoms in ‘n klein dorpie in Galilea, het Hy van Sy mag gebruik gemaak om tot die vreugde van ‘n bruilofsfees by te dra. So het Hy Sy goedgesindheid teenoor die mens betoon en Sy begeerte om hulle van geluk te voorsien. In die woestyn van versoeking het Hy self die beker van wee gedrink. Hy het daarvandaan teruggekeer om aan die mens die beker van seën te skenk en deur Sy seëninge menslike verhoudings te heilig. DKvDE 129.1
Van die Jordaan af is Jesus terug na Galiléa. Daar sou ‘n huwelik in Kanaän, ‘n klein dorpie nie ver van Nasaret af nie, plaasvind; die bruidspaar was familie van Josef en Maria. Jesus het van hierdie familiebyeenkoms geweet en het na Kanaän gegaan en is saam met Sy dissipels na die fees genooi. DKvDE 129.2
Hier het Hy sy moeder, van wie Hy vir ‘n geruime tyd geskei was, weer ontmoet. Maria het van die openbaring by die Jordaan tydens Sy doop gehoor. Die tyding het Nasaret bereik en het die tonele wat vir soveel jare in haar hart bewaar is, opnuut in haar gedagtes opgeroep. Soos die hele Israel, was Maria diep ontroer deur die sending van Johannes die Doper. Sy kon nog goed die profesie wat tydens sy geboorte gegee is, onthou. Sy verbintenis met Jesus het haar hoop opnuut laat opvlam. Maar die tyding van Jesus se geheimsinnige vertrek na die woestyn het haar ook bereik en ‘n gevoel van ontstellende voorbodes het haar bedruk gemaak. DKvDE 129.3
Van die dag af wat sy die aankondiging van die engel in die huis in Nasaret gehoor het, het Maria alle bewyse dat Jesus die Messias was, gekoester. Sy minsame, onselfsugtige lewe het haar verseker dat Hy niemand anders as die Gestuurde van God kon wees nie. Tog het daar ook twyfel en teleurstelling in haar opgekom en sy het na die tyd wanneer Sy heerlikheid openbaar sou word verlang. Die dood het haar van Josef, wat haar kennis van die verborgenheid van die geboorte van Jesus gedeel het, geskei. Nou was daar niemand aan wie sy haar hoop en vrese kon toevertrou nie. Die afgelope twee maande was vol hartseer. Sy is van Jesus, in wie se medelye sy vertroosting gevind het, geskei; en sy het die woorde van Simeon bepeins: “Ja, ‘n swaard sal deur jou eie siel gaan...” (Lukas 2:35); sy het aan die drie dae van angs, toe sy gedink het dat sy Jesus vir goed verloor het, gedink; en met ‘n hart vol angs het sy op Sy terugkeer gewag. DKvDE 129.4
En nou het sy Hom weer hier op die huweliksfees ontmoet, dieselfde tere, pligsgetroue Seun. Tog was Hy nie meer dieselfde nie. Sy gesig het verander; dit het die spore van Sy konflik in die woestyn en ‘n nuwe uitdrukking van waardigheid en krag uitgestraal wat van Sy hemelse sending getuig het. Saam met Hom was ‘n groep jong mans, wie se oë Hom met eerbied gevolg het en wat Hom Meester noem. Hierdie metgeselle het aan Maria vertel wat hulle tydens die doop en elders gesien en gehoor het. Toe sluit hulle af deur te verklaar: “Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het.” (Johannes 1:46) DKvDE 130.1
Waar die gaste bymekaar gekom het, het dit gelyk asof baie mense se gedagtes met een of ander onderwerp van absorberende belang in beslag geneem was. Daar het ‘n onderdrukte opgewondenheid onder die gaste geheers. Klein groepies was in ywerige, maar gedempte gesprekke gewikkel en verwonderde blikke was op die Seun en Maria gerig. Nadat Maria die getuienis van die dissipels aangaande Jesus gehoor het, was sy verheug oor die versekering dat haar lank-gekoesterde hoop nie tevergeefs was nie. Maar sy sou meer as menslik gewees het as daar nie ‘n spoor van die geliefde moeder se natuurlike trots met hierdie heilige vreugde vermeng was nie. Toe sy die vele blikke op Jesus sien, wou sy graag hê dat Hy aan die geselskap bewys moes lewer dat Hy waarlik die Geëerde van God was. Sy het gehoop dat daar ‘n geleentheid vir Hom sou wees om ‘n wonderwerk voor hulle te verrig. DKvDE 130.2
Dit was die gebruik in daardie tyd, dat huweliksfeeste enkele dae voortduur. By hierdie geleentheid is daar egter gevind dat, nog voordat die fees geëindig het, die wyn opgeraak het. Hierdie ontdekking het groot verleentheid en spyt veroorsaak. Dit was ongewoon om tydens feestelike geleenthede uit wyn uit te raak en dit het op ‘n gebrek van gasvryheid gedui. As familielid van die bruidspaar het Maria met die voorbereidings vir die fees gehelp en nou het sy met Jesus gepraat en gesê: “Hulle het geen wyn nie.” Hierdie woorde was ‘n voorstel dat Hy dalk in hul behoeftes sou voorsien. Maar Jesus het geantwoord: “Vrou wat het Ek met u te doen? My uur het nog nie gekom nie.” DKvDE 131.1
Hierdie antwoord, kortaf soos dit vir ons klink, was met geen kilheid of onbeleefdheid uitgespreek nie. Ons Verlosser se aanspreekvorm teenoor sy moeder, was in ooreenstemming met die Oosterse gebruik. Dit was die gebruik teenoor persone vir wie dit gepas was om respek te betoon. Elke daad van Christus se lewe op aarde was in ooreenstemming met die voorskrif wat Hy self gegee het: “Eer jou vader en jou moeder...” (Exodus 20:12) Aan die kruis, tydens Sy laaste liefdesdaad teenoor Sy moeder, het Jesus haar weer op dieselfde wyse aangespreek, terwyl Hy haar aan die sorg van Sy geliefde dissipel toevertrou het. Beide tydens die huweliksfees en aan die kruis, het die liefde wat in Sy stem, voorkoms en uitdrukking uitgedruk is, Sy woorde geïnterpreteer. DKvDE 131.2
Met Sy besoek aan die tempel gedurende Sy kinderjare, toe die verborgenheid van Sy lewenstaak voor Hom ontvou het, het Christus aan Maria gesê: “Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?” (Lukas 2:49). Hierdie woorde was die hoofsleutel tot Sy hele lewe en bediening. Alles was ondergeskik aan Sy werk; die groot verlossingswerk waarvoor Hy na die wêreld gekom het om te verrig. Nou het Hy die les herhaal. Die gevaar het bestaan dat Maria haar verwantskap met Jesus as ‘n spesiale aanspraak op Hom sou beskou en die reg om Hom tot ‘n sekere mate in Sy sending te rig. Dertig jaar lank was Hy vir haar ‘n liefdevolle en gehoorsame Seun en Sy liefde was onveranderd; maar nou moes Hy met die dinge van Sy Vader besig wees. As Seun van die Allerhoogste en Verlosser van die wêreld mag geen aardse bande Hom in Sy sending verhinder of Sy gedrag beïnvloed nie. Hy moes vry wees om die wil van God te doen. Hierdie les geld ook vir ons. Die aansprake van God is van die allergrootste belang, selfs bo die van menslike verhoudinge. Geen aardse aantrekkingskrag mag ons voete laat wegdraai van die pad waarop Hy ons gebied het om te loop nie. DKvDE 131.3
Die enigste hoop op verlossing vir ons gevalle ras is in Christus; Maria kon slegs deur die Lam van God verlossing vind. Op sigself het sy geen verdienste gehad nie. Haar verbintenis met Jesus het haar in geen ander geestelike verhouding met Hom geplaas as die van enige ander menslike siel nie. Dit word in die Verlosser se woorde aangedui. Hy maak die onderskeid tussen Sy verhouding met haar as die Seun van die mens en as die Seun van God duidelik. Die verwantskap tussen hulle het haar geensins op ‘n gelykheid met Hom geplaas nie. DKvDE 132.1
Die woorde: “My uur het nog nie gekom nie...” dui op die feit dat elke optrede van Christus se lewe op aarde ‘n vervulling van die plan, wat van die ewigheid af bestaan het, was. Voordat Hy na die aarde gekom het, was die plan, volmaak in al sy besonderhede, voor Hom uitgelê. Maar terwyl Hy tussen mense gewandel het, is Hy stap vir stap deur die wil van die Vader gelei. Hy het nie gehuiwer om op die vasgestelde tyd op te tree nie. Met dieselfde onderwerping het Hy gewag totdat die tyd aangebreek het. DKvDE 132.2
Deur aan Maria te sê dat Sy uur nog nie gekom het nie, het Jesus op haar onuitgesproke gedagte geantwoord-op die verwagting wat sy in gemeen met haar volk gekoester het. Sy het gehoop dat Hy Homself as die Messias sou openbaar en die troon van Israel sou bestyg. Maar die tyd het nog nie aangebreek nie. Nie as ‘n Koning nie, maar as “...'n man van smarte en bekend met krankheid...” (Jesaja 53:3) het Jesus die lot van die mensdom aanvaar. DKvDE 133.1
Maar hoewel Maria nie die regte opvatting van Christus se sending gehad het nie, het sy Hom implisiet vertrou. Jesus het op hierdie geloof gereageer. Dit was om Maria se vertroue te eer en om die geloof van Sy dissipels te versterk, dat die eerste wonderwerk plaasgevind het. Die dissipels sou menige en groot versoekings tot ongeloof teëkom. Vir hulle het die profesieë dit bo alle teëspraak duidelik gemaak dat Jesus die Messias was.Hulle het verwag dat die godsdienstige leiers Hom met vertroue, wat selfs groter as hul eie was, sou ontvang. Hulle het die wonderwerke van Christus en hul eie vertroue in Sy sending onder die mense bekend gemaak, maar hulle was verbaas en bitter teleurgesteld deur die ongeloof, die diepgaande vooroordeel en die vyandigheid, wat deur die priesters en rabbi’s teenoor Jesus geopenbaar is. Die Verlosser se vroeëre wonderwerke het die dissipels versterk om hierdie opposisie teë te staan. DKvDE 133.2
Op geen wyse van stryk gebring deur die woorde van Jesus nie, het Maria vir die tafelbediendes gesê: “Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen.” So het sy gedoen wat sy kon om die weg vir die werk van Christus voor te berei. DKvDE 133.3
By die deur het ses groot klip-waterkanne gestaan en Jesus het die dienaars beveel om dit met water te vul. Dit is gedoen. En omdat die wyn vir onmiddellike gebruik benodig was, het Hy gesê: “Skep nou uit en bring dit vir die hoofdienaar.” In plaas van die water waarmee die kanne gevul was, het daar nou wyn uitgevloei. Die hoofdienaar en die gaste was oor die algemeen nie daarvan bewus dat die wyn opgeraak het nie. Toe die hoofdienaar die wyn proe wat die diensknegte gebring het, was dit beter as enigiets wat hy nog gedrink het en heel anders as dit wat aan die begin van die fees bedien is. Toe wend hy hom tot die bruidegom en sê: “Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar.” DKvDE 133.4
Soos die mens eers die goeie wyn bedien en daarna die swakker gehalte, so is die wêreld ook met sy se gawes. Dit wat die wêreld bied, kan wel die oog behaag en die sinne streel, maar dit is onbevredigend. Die wyn verander in bitterheid, die vrolikheid in somberheid. Dit wat met sang en jolyt begin is, eindig in moegheid en afkeer. Maar die gawes van Jesus is altyd vars en nuut. Die fees wat Hy vir die siel voorsien faal nooit om bevrediging en vreugde te verskaf nie. Elke nuwe gawe verhoog die ontvanger se vermoë om die seëninge van die Here te waardeer en te geniet. Hy skenk genade op genade. Daar is geen tekort nie. As jy in Hom bly, is dit ‘n seker feit dat jy vandag ‘n kosbare gawe sal ontvang en die waarborg van ‘n ryker gawe more. Die woorde van Jesus aan Natanael, beskryf die wet van God se optrede teenoor die kinders van die geloof. Met elke vars openbaring van Sy liefde, sê Hy vir die ontvanklike hart: “Glo jy? ... Jy sal groter dinge sien as dit.” (Johannes 1:51). DKvDE 134.1
Die geskenk van Christus aan die huweliksfees was ‘n simbool. Die water het die doop in Sy dood voorgestel; die wyn, die vergieting van Sy bloed vir die sondes van die wêreld. Die water om die kanne mee te vul is deur mense-hande gebring, maar slegs die woord van Christus kon lewegewende deug daaraan gee. So is dit ook met die rituele wat op die Redder se dood dui. Dit is slegs die krag van Christus wat deur geloof werk, wat effektief is om die siel te voed. DKvDE 134.2
Die woord van Christus het voldoende voorsiening vir die fees gemaak. Net so oorvloedig is die voorsiening van Sy genade om die ongeregtighede van mense uit te wis en die siel te vernuwe en te onderhou. DKvDE 134.3
Op die eerste fees wat Jesus saam met Sy dissipels bygewoon het, het Hy hulle die beker, wat Sy werk vir hulle redding simboliseer, gegee. Met die laaste eetmaal het Hy dit weer met die instelling van daardie heilige ritueel waardeur Sy dood herdenk sou word, gegee “...totdat Hy kom.” (1 Korinthiërs 11:26) En die droefheid van die dissipels met die afskeid van hul Here, is deur die belofte van hereniging getroos, toe Hy gesê het: “Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.” (Mattheus 26:29). DKvDE 135.1
Die wyn wat Christus vir die fees voorsien het en wat Hy as ‘n simbool van Sy eie bloed aan die dissipels gegee het, was die suiwer sap van die druif. Hierna verwys die profeet Jesaja as hy van die nuwe wyn praat: “...soos wanneer iemand mos vind in ‘n tros druiwe...” en sê: “Verniel dit nie, want daar is ‘n seën in.” (Jesaja 65:8) DKvDE 135.2
Dit was Christus wat in die Ou Testament die waarskuwing aan Israel gegee het: “Die wyn is ‘n spotter, en sterk drank ‘n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.” (Spreuke 20:1) En self het Hy nie sulke drank voorsien nie. Satan verlei mense om toe te gee aan dit wat die verstand sal benewel en die geestelike persepsies sal afstomp, maar Christus leer ons om die laer impulse te onderdruk. Sy hele lewe was ‘n voorbeeld van selfverloëning. Ten einde die mag van aptyt te verbreek, het Hy namens ons die swaarste toets ondergaan wat die mensdom kon verduur. Dit was Christus wat beveel het dat Johannes die Doper geen wyn of sterk drank moes drink nie. Dit was Hy wat soortgelyke onthouding aan die vrou van Manoag beveel het. En Hy het ‘n vloek oor die man wat ‘n bottel voor sy naaste se lippe hou uitgespreek. Christus het nie sy eie lering verloën nie. Die ongesuurde wyn wat Hy vir die bruilofsgaste voorsien het, was ‘n heilsame en verfrissende drankie. Die effek daarvan was om die smaak in harmonie met ‘n gesonde eetlus te bring. DKvDE 135.3
Soos die feesgangers aanmerkings oor die gehalte van die wyn gemaak het, is navraag gedoen en die dienaars het ‘n verslag van die wonderwerk gelewer. Die gaste was aanvanklik te verbaas om aan Hom, wat die wonderwerk verrig het, te dink. Toe hulle uiteindelik na Hom soek, is daar gevind dat Hy Hom só onopsigtelik onttrek het, dat selfs Sy dissipels dit nie agtergekom het nie. DKvDE 136.1
Dit het die aandag van die feesgangers op die dissipels gevestig. Vir die eerste keer het hulle die geleentheid gehad om hul geloof in Jesus te bely. Hulle het vertel wat hulle by die Jordaan gesien en gehoor het en in baie harte het die hoop dat God ‘n Verlosser vir Sy volk verwek het, opgevlam. Die tyding van die wonderwerk het deur die hele streek, tot in Jerusalem, versprei. Met nuwe belangstelling het die priesters en ouderlinge die profesieë wat op die koms van Christus gedui het ondersoek. Daar was ‘n gretige begeerte om die sending van hierdie nuwe Leraar, wat so beskeie onder die mense verskyn het, te wete te kom. DKvDE 136.2
Die bediening van Christus was in skrille kontras met dié van die Joodse ouderlinge. Hul agting vir tradisie en formalisme het alle werklike vryheid van denke of optrede vernietig. Hulle het ‘n ewige vrees vir verontreiniging gekoester. Om kontak met die “onreine” te vermy, het hulle hul nie net van die heidene nie, maar ook van die meerderheid van hulle eie mense afgesonder en geensins probeer om hulle te bevoordeel of om hul vriendskap te wen nie. Deur voortdurend op hierdie dinge te konsentreer, het hulle hul gedagtes verdwerg en hul lewenskring vernou. Hul voorbeeld het egoïsme en onverdraagsaamheid onder alle klasse van mense aangemoedig. DKvDE 136.3
Jesus het Sy hervormingswerk begin deur in noue voeling met die mensdom te kom. Terwyl Hy die grootste eerbied vir die wet van God betoon het, het Hy die pretensieuse vroomheid van die Fariseërs bestraf en gepoog om die volk van die sinnelose reëls wat hulle geknel het, te bevry. Hy het probeer om die hindernisse wat die verskillende klasse van die samelewing geskei het, af te breek, sodat hy die mense as kinders van een gesin kon verenig. Sy bywoning van die huweliksfees was ‘n stap in daardie rigting. DKvDE 137.1
God het Johannes die Doper gebied om in die woestyn te bly, sodat hy teen die invloed van die priesters en rabbi’s beskerm sou word en om hom vir ‘n spesiale sending voor te berei. Maar sy streng, afgesonderde lewe was nie ‘n voorbeeld vir die mense nie. Johannes het self nie aan sy toehoorders opdrag gegee om hul vorige pligte te versaak nie. Hy het hulle gebied om hul getrouheid te bewys deur hul getrouheid aan God op die plek waar Hy hulle geroep het te betoon. DKvDE 137.2
Jesus het selfbevrediging in alle vorme bestraf, maar Hy was gesellig van geaardheid. Hy het Hom die gasvryheid van alle klasse laat welgeval, die huise van rykes en armes, geleerdes en onkundiges besoek en gepoog om hul gedagtes van die alledaagse na die geestelike en ewige dinge te verhef. Hy het losbandigheid afgekeur en geen sweem van wêreldse ligsinnigheid het Sy gedrag geskend nie; tog het Hy plesier in tonele van onskuldige vreugde gevind en deur Sy teenwoordigheid het Hy sosiale byeenkomste goedgekeur. ‘n Joodse huweliksfees was ‘n indrukwekkende geleentheid en die Seun van die mens het geen beswaar teen die vreugde daarvan gehad nie. Deur hierdie fees by te woon, het Jesus die huwelik as ‘n Goddelike instelling vereer. DKvDE 137.3
In beide die Ou en Nuwe Testament, word die huweliksverhouding gebruik om die tere en heilige eenheid tussen Christus en Sy volk te verteenwoordig. In Jesus se gedagtes het die vreugde van die huweliksfees gewys op die vreugde van daardie dag wanneer Hy Sy bruid na die huis van die Vader sal bring en die verlostes saam met die Verlosser by die bruilofsmaal van die Lam sal aansit. Hy sê: “Soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.” (Jesaja 62:5) “Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie ... maar jy sal genoem word: my welbehae ... want die Here het ‘n behae in jou.” (Jesaja 62:4) “Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in Sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.” (Sefanja 3:17). Toe die visioen van hemelse dinge aan die apostel Johannes gegee is, het hy geskrywe: “Ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en Sy vrou het haar gereed gemaak.” (Openbaring 19:6,7). “Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam.” (Openbaring 19:9). DKvDE 137.4
Jesus het in elke siel iemand gesien aan wie die oproep tot Sy koninkryk gegee moes word. Hy het die harte van mense bereik deur tussen hulle as Een wat hul beswil begeer te beweeg. Hy het na hulle in die strate, in huise, op die bote, in die sinagoges, langs die oewers van die meer en op die huweliksfees gesoek. Hy het hulle by hul daaglikse beroepe ontmoet en ‘n belangstelling in hul sekulêre sake getoon. Hy het Sy lering in hul wonings ingebring en die gesin onder die invloed van Sy Goddelike teenwoordigheid gebring. Sy sterk, persoonlike meelewing het gehelp om harte te verower. Hy het gereeld na die berge onttrek om alleen te bid, maar dit was ter voorbereiding vir Sy arbeid onder die mensdom in die bedrywige lewe. Hy het van hierdie tydperke van afsondering teruggekeer om siekes te genees, die onkundiges te onderrig en die kettings van die gevangenes van Satan te verbreek. DKvDE 138.1
Jesus het sy dissipels deur persoonlike kontak en omgang opgelei. Soms het Hy tussen hulle op die berghelling gesit en hulle geleer; soms langs die see, of terwyl hulle padlangs geloop het, het Hy die verborgenhede van die koninkryk van God aan hulle geopenbaar. Hy het nie gepreek soos mense vandag doen nie. Waar harte ook al oop was om die Goddelike boodskap te ontvang, het Hy die waarhede van die weg van verlossing aan hulle ontvou. Hy het nie Sy dissipels beveel om dit of dat te doen nie, maar het gesê: “Volg My.” Hy het hulle op Sy reise deur die platteland en stede saamgeneem, sodat hulle kon sien hoe Hy die mense onderrig. Hy het hul belange met Syne verbind en hulle was met Hom in sy werk verenig. DKvDE 139.1
Die voorbeeld van Christus om Homself met die belange van die mens te vereenselwig, moet deur almal wat Sy woord verkondig, nagestreef word en deur almal wat die evangelie van Sy genade ontvang het. Ons moet ons nie van sosiale verkeer afsonder nie. Ons moet ons nie van andere afsonder nie. Om alle klasse te bereik, moet ons hulle ontmoet waar hulle is. Hulle sal selde uit hul eie na ons soek. Die harte van mense word nie slegs vanaf die kansel met die Goddelike waarheid bereik nie. Daar is ‘n ander arbeidsveld, wat meer nederig mag wees, maar net so belowend. Dit word in die huise van die nederiges en in die herehuise van die gesienes; by die gasvryheidsraad en by byeenkomste vir onskuldige sosiale genietinge aangetref. DKvDE 139.2
As dissipels van Christus sal ons nie ter wille van blote liefde vir plesier met die wêreld omgaan, om aan hul dwaasheid deel te neem nie. Sodanige omgang kan slegs skade berokken. Ons moet sonde nooit deur ons woorde of dade, ons stilswye of ons teenwoordigheid goedkeur nie. Waar ons ook al gaan, moet ons Jesus saamneem en aan ander die kosbaarheid van ons Verlosser openbaar. Maar diegene wat hul godsdiens probeer bewaar deur dit agter klipmure te verberg, laat kosbare geleenthede om goed te doen, verlore gaan. Die Christendom kom deur sosiale verhoudings in kontak met die wêreld. Almal wat die Goddelike lig ontvang het, moet die weg van diegene wat nie die Lig van die lewe ken nie, verlig. DKvDE 139.3
Ons moet almal getuies vir Jesus word. Sosiale invloed, deur die genade van Christus geheilig, moet ontwikkel word om siele vir die Verlosser te wen. Laat die wêreld sien dat ons nie selfsugtig op ons eie belange ingestel is nie, maar dat ons begeer dat ander in ons seëninge en voorregte moet deel. Laat almal wat beweer dat hulle Christus gevind het, dien soos Hy ten behoewe van die mensdom gedien het. DKvDE 140.1
Ons moet die wêreld nooit onder die valse indruk bring dat Christene sombere, ongelukkige mense is nie. As ons oë op Jesus gevestig is, sal ons ‘n deernisvolle Verlosser sien en deur Sy aanskyn verlig word. Oral waar Sy Gees heers, is daar vrede. En daar sal ook vreugde wees, want daar is ‘n kalm, heilige vertroue in God. DKvDE 140.2
Christus is verheug oor Sy volgelinge wanneer hulle wys dat, hoewel hulle menslik is, die Goddelike natuur deelagtig is. Hulle is nie standbeelde nie, maar lewende manne en vroue. Hul harte, verkwik deur die dou van Goddelike genade, gaan oop en brei uit na die Son van Geregtigheid. Die lig wat op hulle skyn, weerkaats op ander in werke wat met die liefde van Christus verhelder is. DKvDE 140.3