Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 14—“Ons het die Messias Gevind” *
Johannes die Doper het nou by Betabara, oorkant die Jordaan, gepreek en gedoop. Dit was nie ver van die plek waar God die rivier laat opdroog en Israel laat deurtrek het nie. ‘n Entjie hiervandaan is die vesting van Jerigo deur die leërs van die hemel omvergewerp. Die herinnering aan hierdie gebeure is in herinnering geroep en het opgewonde belangstelling in die boodskap van die Doper gewek. Sal Hy, wat in die vorige eeue so wonderbaarlik opgetree het, nie weer Sy mag in Israel se verlossing openbaar nie? Dit was die gedagtes wat die harte van die mense, wat daagliks die oewer van die Jordaan verdring het, geroer het. DKvDE 115.1
Die prediking van Johannes het so ‘n diep indruk op die volk gemaak, dat dit onder die aandag van die godsdienstige owerhede gekom het. As gevolg van die gevaar van ‘n opstand, het die Romeine elke samedromming met agterdog bejeën en enige aanduiding van ‘n moontlike opstand, het die Joodse owerhede se vrese opgewek. Johannes het nie die gesag van die Sanhedrin erken deur na hul goedkeuring vir sy werk te soek nie; en hy het die owerstes en die mense, insluitend die Fariseërs en Sadduseërs bestraf. Tog het die mense hom gretig gevolg. Belangstelling in sy werk het geblyk voortdurend toe te neem. Hoewel Johannes hom nie aan hulle gesag onderwerp het nie, het die Sanhedrin tog gereken dat, as ‘n openbare leraar, hy onder hulle jurisdiksie val. DKvDE 115.2
Hierdie liggaam het uit lede bestaan wat uit die priesterskap en uit die owerstes en leraars van die volk gekies is. Die hoëpriester was gewoonlik die president. Al die lede moes gevorderd in jare wees, hoewel hulle nie oud was nie; geleerde manne wat nie net vertroud met die Joodse godsdiens en geskiedenis was nie, maar ook in algemene kennis. Hulle moes sonder fisiese gebrek wees en daarby getroude manne en vaders, omdat hulle meer geneig was om menslik en bedagsaam te wees. Hul vergaderplek was ‘n vertrek wat aan die tempel in Jerusalem gekoppel was. In die dae van die Joodse onafhanklikheid, was die Sanhedrin die hoogste hof van die land, met sekulêre sowel as kerklike gesag. Hoewel dit nou ondergeskik aan die Romeinse goewerneurs was, het dit steeds ‘n sterk invloed in burgerlike sowel as godsdienstige aangeleenthede uitgeoefen. DKvDE 115.3
Die Sanhedrin kon kwalik ‘n ondersoek na Johannes se werk uitstel. Daar was sommige wat die openbaring aan Sagaria in die tempel en die vader se profesie wat na sy kind as die voorloper van die Messias gewys het, onthou het. In die woelinge en veranderinge van dertig jaar, is hierdie dinge tot ‘n groot mate uit die oog verloor. Maar nou is hulle weer in herinnering geroep weens die opgewondenheid oor die bediening van Johannes. DKvDE 116.1
Dit was lank sedert Israel ‘n profeet gehad het en dit was lank gelede dat ‘n hervorming soos wat nou aan die gang was, beleef is. Die vereiste van die belydenis van sonde het nuut en verrassend voorgekom. Baie van die leiers wou nie na Johannes se oproepe en veroordelings gaan luister nie, vir ingeval hulle dalk gelei sou word om die verborge dinge van hul eie lewens te openbaar. Maar sy prediking was ‘n regstreekse aankondiging van die Messias. Dit was wel bekend dat die sewentig weke van Daniël se profesie wat die koms van die Messias dek, byna verstreke was; en almal was gretig om deel te hê in die era van nasionale glorie wat toe verwag was. Die gewilde entoesiasme was so groot, dat die Sanhedrin weldra verplig sou word om Johannes se leer te erken of te verwerp. Hul invloed oor die volk was besig om te kwyn. Hoe om hulle gesag te handhaaf het vir hulle ‘n ernstige saak geword. In die hoop om tot ‘n besluit te kom, het hulle ‘n afvaardiging van priesters en Leviete na die Jordaan gestuur om met die nuwe prediker te vergader. DKvDE 116.2
'n Menigte was byeen om na hom te luister toe die afgevaardigdes nader kom. Met ‘n vertoon van gesag wat bedoel was om die volk te beïndruk en die eerbied van die profeet af te dwing, het die hoogmoedige rabbi’s daar opgedaag. Met groot ontsag, amper van vrees, het die skare padgegee om hulle deur te laat. Die groot manne het in hul duur klere en in die trotsheid van hul mag en gesag, voor die profeet van die woestyn gestaan. DKvDE 117.1
“Wie is u?” wou hulle weet. DKvDE 117.2
Bewus van wat in hul gedagtes omgaan, het Johannes geantwoord: “Ek is nie die Christus nie.” DKvDE 117.3
“Wat dan? Is u Elia?” DKvDE 117.4
“Ek is nie.” DKvDE 117.5
“Is u die profeet?” DKvDE 117.6
“Nee.” DKvDE 117.7
“Wie is u?-dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê u van uself?” DKvDE 117.8
“Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het.” DKvDE 117.9
Die skriftuur waarna Johannes verwys het, was die pragtige profesie van Jesaja: “Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is ... ‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word. En die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien.” (Jesaja 40:1-5). DKvDE 117.10
Voorheen, as ‘n koning deur ‘n minder gesogte deel van sy gebied gereis het, is ‘n groep manne voor die koninklike wa uitgestuur om die steil plekke gelyk te maak en die holtes op te vul, sodat die koning veilig en sonder belemmering kon reis. Hierdie gebruik word deur die profeet ingespan om die werk van die evangelie te illustreer. “Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word.” Wanneer die Gees van God met sy wonderbare ontwakingskrag die siel aanraak, verdwyn menslike hoogmoed. Wêreldse plesier en posisie en mag word as waardeloos beskou. “...terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God word verbreek en elke gedagte gevange geneem tot die gehoorsaamheid van Christus.” (2 Korinthiërs 10:5). Dan word nederigheid en selfopofferende liefde, wat min onder mense waardeer word, opgehef as enigste waarde. Dit is die werk van die evangelie waarvan Johannes se boodskap deel uitgemaak het. DKvDE 118.1
Die rabbi’s het voortgegaan met hul ondervraging: “Waarom doop u dan as u nie die Christus of Elia of die profeet is nie?” Die woorde “die profeet” het na Moses verwys. Die Jode was geneig om te glo dat Moses uit die dode opgewek en in die hemel opgeneem sou word. Hulle het nie geweet dat dit reeds gebeur het nie. Toe die Doper met sy bediening begin het, het baie gedink dat hy moontlik die profeet Moses, wat uit die dood opgewek is was, want hy het blykbaar ‘n deeglike kennis van die profesieë en van die geskiedenis van Israel gehad. DKvDE 118.2
Daar is ook geglo dat Elia voor die koms van die Messias persoonlik sou verskyn. Johannes het hierdie verwagting deur sy ontkenning aangespreek, maar sy woorde het ‘n dieper betekenis gehad. Jesus het later na Johannes die Doper verwys en gesê: “As julle dit wil aanneem: hy is Elia wat sou kom.” (Mattheus 11:14). Johannes het in die gees en krag van Elia gekom om dieselfde werk as Elia te verrig. As die Jode hom ontvang het, sou dit ook vir hulle volbring gewees het. Maar hulle het sy boodskap nie aangeneem nie. Vir hulle was hy nie Elia nie. Hy kon nie die sending wat hy gekom het om te bereik, vir hulle vervul nie. DKvDE 118.3
Baie van die wat by die Jordaan bymekaar gekom het, was tydens die doop van Jesus teenwoordig; maar die teken wat toe gegee is, was egter vir weinig van hulle duidelik. Gedurende die voorafgaande maande van die bediening van die Doper, het baie mense geweier om gehoor aan die oproep tot bekering te gee. So het hulle hul harte verhard en hul begrip verduister. Toe die hemel tydens Sy doop van Jesus getuig het, het hulle dit nie gewaar nie. Oë wat nog nooit in geloof op Hom, wat onsigbaar was, gerig was nie, het nie die openbaring van die heerlikheid van God aanskou nie; ore wat nooit na Sy stem geluister het nie, het nie die getuienis gehoor nie. So is dit steeds. Dikwels is die teenwoordigheid van Christus en die dienende engele in die samekomste van die volk gemanifesteer en tog is daar baie wat dit nie weet nie. Hulle sien niks ongewoon nie. Maar aan sommige word die teenwoordigheid van die Verlosser geopenbaar. Hulle harte word met vrede en vreugde gevul. Hulle word vertroos, bemoedig en geseën. DKvDE 119.1
Die afgevaardigdes uit Jerusalem wou van Johannes weet: “Waarom doop u dan?” en hulle het gewag op sy antwoord. Skielik, terwyl sy blik oor die skare gegaan het, het sy oë opgehelder en sy gelaat verlig, terwyl sy hele wese met diepe emosie ontroer was. Met uitgestrekte hande het hy uitgeroep: “Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie-dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie.” DKvDE 119.2
Die boodskap was duidelik en onomwonde om terug na die Sanhedrin te neem. Die woorde van Johannes kon op niemand anders as die lank beloofde Een betrekking hê nie. Die Messias was tussen hulle! In verbasing het die priesters en owerstes om hulle rond gekyk met die hoop om Hom te ontdek van wie Johannes gepraat het. Maar Hy kon nie tussen die skare onderskei word nie. DKvDE 119.3
Toe Johannes tydens die doop van Jesus na Hom as die Lam van God verwys het, is ‘n nuwe lig op die werk van die Messias gewerp. Die profeet se gedagtes was op die woorde van Jesaja gerig: “...soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word.” (Jesaja 53:7) Gedurende die daaropvolgende weke, het Johannes met nuwe belangstelling die profesieë en leerstellings van die offerdiens bestudeer. Hy kon nie die twee fases van Christus se werk as lydende Offer en oorwinnende Koning duidelik onderskei nie, maar hy het ingesien dat Sy koms ‘n dieper betekenis gehad het as wat priesters en mense besef het. Toe hy Jesus na Sy terugkeer uit die woestyn tussen die skare sien, het hy met vertroue na Hom gesoek om die mense ‘n teken van Sy ware karakter te gee. Amper ongeduldig het hy gewag om te hoor hoe die Verlosser Sy sending verklaar; maar geen woord is gespreek en geen teken is gegee nie. Jesus het nie op die aankondiging van die Doper gereageer nie, maar het met die dissipels van Johannes gemeng, geen uiterlike getuienis van Sy spesiale sending gegee nie en geen maatreëls geneem om die aandag op Hom te vestig nie. DKvDE 120.1
Die volgende dag het Johannes Jesus sien kom. Met die lig van die heerlikheid van God wat op hom rus, het die profeet sy hande uitgestrek en verklaar: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom ‘n man wat voor my geword het ... en Ek het Hom nie geken nie, maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop ... Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.” DKvDE 120.2
Was dit die Christus? Met ontsag en verwondering het die volk na die Een wat pas as die Seun van God verklaar is, gekyk. Die woorde van Johannes het hulle diep geraak. Hy het in die Naam van God met hulle gepraat. Hulle het dag na dag na hom geluister terwyl hy hul sondes bestraf het en daagliks het die oortuiging dat hy uit die hemel gestuur is, versterk. Maar wie was die Een wat groter as Johannes die Doper was? Aan Sy kleredrag en voorkoms was daar niks wat ‘n besondere rang aangedui het nie. Op die oog af was Hy ‘n eenvoudige mens, geklee soos hulle in die nederige kleredrag van die armes.. DKvDE 121.1
In die skare was daar sommige wat tydens die doop van Christus die Goddelike heerlikheid aanskou het en die stem van God gehoor het. Maar sedertdien het die Heiland se voorkoms grootliks verander. Met Sy doop het hulle gesien hoe Sy aangesig met die hemelse lig omskep word; nou, bleek, verslete en vervalle, is Hy slegs deur die profeet Johannes herken. DKvDE 121.2
Tog, toe die volk na Hom kyk, sien hulle ‘n gelaat waarin Goddelike deernis met bewuste krag verenig is. Elke blik van die oog, elke gelaatstrek, is deur nederigheid gekenmerk en ‘n uitdrukking van onuitspreeklike liefde. Dit was asof Hy met ‘n atmosfeer van geestelike invloed omvou was. Hoewel saggeaard en ingetoë, het Hy die indruk van verborge krag, wat nie heeltemal verberg kon word nie, gegee. Was dit die Een op Wie Israel so lank gewag het? DKvDE 121.3
Jesus het in armoede en nederigheid gekom om ons Voorbeeld sowel as ons Verlosser te wees. As Hy in koninklike luister gekom het, hoe sou Hy aan ons nederigheid geleer het? Hoe sou Hy sulke diepliggende waarhede soos in die Bergpredikasie kon verkondig? Waar sou die hoop van die nederiges in die lewe gewees het as Jesus as koning onder die mense kom woon het? DKvDE 121.4
Vir die skares het dit egter onmoontlik gelyk dat die Een wat deur Johannes aangewys is, met hul verhewe verwagtinge vereenselwig kon word. So is baie teleurgesteld en verward daar weg. DKvDE 122.1
Die woorde wat die priesters en rabbi’s so graag wou hoor, dat Jesus nou die koninkryk vir Israel sou herstel, het onuitgesproke gebly. Dit is vir so ‘n koning waarvoor hulle gewag het; so ‘n koning was hulle bereid om te ontvang. Maar iemand wat ‘n koninkryk van geregtigheid en vrede in hul harte wou vestig, sou hulle nie aanvaar nie. DKvDE 122.2
Die volgende dag, terwyl twee van sy dissipels by hom staan, sien Johannes Jesus weer onder die volk. Weereens het die gelaat van die profeet met die heerlikheid van die Onsienlike verlig terwyl hy uitroep: “Daar is die Lam van God!” Die woorde het die harte van die dissipels met opwinding gevul. Hulle het dit nie mooi verstaan nie. Wat beteken die naam wat Johannes aan Hom gegee het, “...die Lam van God”? Johannes het dit self nie verduidelik nie. DKvDE 122.3
Toe het hulle Johannes verlaat en Jesus gaan opsoek. Een van die twee was Andreas, die broer van Simon; die ander een was Johannes die evangelis en hulle was Christus se eerste dissipels. Deur ‘n onweerstaanbare drang gedryf, het hulle Jesus gevolg, begerig om met Hom te praat, maar tog met ontsag en stil, verlore in die oorweldigende betekenis van die gedagte: “Is dit die Messias?” DKvDE 122.4
Jesus het geweet dat die dissipels Hom gevolg het. Hulle was die eerste vrugte van sy bediening en daar was vreugde in die hart van die Goddelike Leraar toe hierdie siele op Sy genade gereageer het. Hy het Hom egter omgedraai en net gevra: “Wat soek julle?” Dit het hulle vrygestaan om om te draai, of om te sê wat in hul harte is. DKvDE 122.5
Hulle was van slegs een doel bewus. Net een Teenwoordigheid het hul gedagtes gevul. Hulle het uitgeroep: “Rabbi, waar is U tuis?” In ‘n kort onderhoud langs die pad sou hulle nie ontvang waarna hulle verlang het nie. Hulle het begeer om alleen met Jesus te wees, om aan Sy voete te sit en Sy woorde te hoor. DKvDE 122.6
“Hy sê vir hulle: Kom kyk. Hulle het gegaan en gesien waar Hy tuis was en die dag by Hom gebly.” DKvDE 123.1
As Johannes en Andreas die ongelowige gees van die priesters en owerstes gehad het, sou hulle nie leerlinge aan die voete van Jesus geword het nie. Hulle sou dan as kritici na Hom gekom het, om sy woorde te veroordeel. So sluit baie die deur vir kosbare geleenthede. Maar nie hierdie eerste dissipels nie. Hulle het tydens die prediking van Johannes die Doper, op die roepstem van die Heilige Gees gereageer. Nou het hulle die stem van die hemelse Leraar herken. Vir hulle was die woorde van Jesus vol verkwikking, waarheid en skoonheid. ‘n Goddelike lig is oor die Geskrifte van die Ou Testament gewerp. Die veelsydige temas van die waarheid is in ‘n nuwe lig gesien. DKvDE 123.2
Dit is berou en geloof en liefde wat die siel in staat stel om wysheid vanuit die hemel te ontvang. Geloof wat deur liefde werk, is die sleutel tot die kennis en elkeen wat liefhet, “...ken God.” (1 Johannes 4:7). DKvDE 123.3
Die dissipel Johannes was ‘n man met innige en diep toegeneentheid, vurig, maar tog nadenkend. Hy het die heerlikheid van Christus begin onderskei; nie die wêreldse vertoon en mag wat hy geleer is om te verwag nie, maar “...'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom-vol van genade en waarheid.” (Johannes 1:14). Hy was verdiep in die oorpeinsing van die wonderbaarlike tema. DKvDE 123.4
Andreas het gepoog om die vreugde wat sy hart gevul het, te deel. Op soek na sy broer Simon, het hy uitgeroep: “Ons het die Messias gevind.” Simon het nie twee keer op hom laat wag nie. Hy het ook die prediking van Johannes die Doper gehoor en het hom na die Heiland gehaas. Christus se oog het op hom gerus en sy karakter en lewensgeskiedenis gelees. Sy impulsiewe aard, sy liefdevolle, simpatieke hart, sy ambisie en selfvertroue, die geskiedenis van sy val, sy berou, sy arbeid en sy marteldood, dit alles het die Heiland gesien en toe sê Hy: “Jy is Simon, die seun van Jona; jy sal genoem word Céfas, wat vertaal word Petrus.” DKvDE 123.5
“Die volgende dag wou Jesus na Galiléa vertrek; en Hy het Filippus gekry en vir hom gesê: Volg my.” Filippus het gehoorsaam en dadelik ook ‘n werker vir Christus geword. DKvDE 124.1
Filippus het Natanael, wat onder die skare was toe die Doper Jesus as die Lam van God aangewys het, geroep. Toe Natanael na Jesus kyk, was hy teleurgesteld. Kon hierdie man, wat die tekens van swaarkry en armoede gedra het, die Messias wees? Tog kon Natanael homself nie oortuig om Jesus te verwerp nie, want Johannes se boodskap het oortuiging in sy hart gebring. DKvDE 124.2
Toe Filippus hom geroep het, het Natanael na ‘n stil beboste plek onttrek waar hy oor Johannes se aankondiging en die profesieë aangaande die Messias gepeins het. Hy het gebid dat indien die Een wat deur Johannes aangekondig is die Verlosser is, dit aan hom bekend gemaak sou word; en die Heilige Gees het op hom gerus met die versekering dat God Sy volk besoek het en vir hulle ‘n horing van heil opgerig het. Filippus het geweet dat sy vriend die profesieë bestudeer het en terwyl Natanael onder ‘n vyeboom gebid het, het Filippus sy skuilplek ontdek. Hulle het dikwels op hierdie afgesonderde plek agter die digte blare saam gebid. DKvDE 124.3
Die boodskap: “Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het...” was vir Natanael soos ‘n regstreekse antwoord op sy gebed. Maar Filippus se geloof was nog wankelmoedig. Hy het twyfelagtig bygevoeg: “...Jesus, die Seun van Josef van Nasaret.” Weereens het vooroordeel in Natanael se hart ontstaan. Hy het uitgeroep: “Kan daar uit Nasaret iets goeds wees?” DKvDE 124.4
Filippus het nie teëgepraat nie. Hy het gesê: “Kom kyk. Daarop sien Jesus Natanael na Hom toe kom en sê van hom: Hier is waarlik ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” Verbaas het Natanael uitgeroep: “Waarvandaan ken U my?” Jesus antwoord en sê vir hom: “Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.” DKvDE 125.1
Dit was genoeg. Die Goddelike Gees wat in Natanael, in sy eensame gebed onder die vyeboom getuig het, het nou met hom in die woorde van Jesus gepraat. Hoewel hy getwyfel het en ietwat bevooroordeeld was, het Natanael met ‘n opregte begeerte vir die waarheid na Jesus gekom en nou is sy begeerte vervul. Sy geloof het verder as dié van die een wat hom na Jesus gebring het, gestrek. “Rabbi...” het hy geantwoord, “...U is die Seun van God, U is die Koning van Israel.” DKvDE 125.2
As Natanael op die rabbi’s vir leiding vertrou het, sou hy Jesus nooit gevind het nie. Dit was deur self te getuig en te oordeel dat hy ‘n dissipel geword het. So is dit ook vandag die geval met baie mense wat deur vooroordeel van die goeie weerhou word. Hoe anders sou die resultaat nie wees as hulle ook net wil “...kom kyk... ” nie! DKvDE 125.3
Terwyl hulle op die leiding van mense vertrou, sal niemand tot die reddende kennis van die waarheid kom nie. Soos Natanael, moet ons die Woord van God vir onsself bestudeer en vir die lig van die Heilige Gees bid. Hy wat Natanael onder die vyeboom gesien het, sal ons sien waar ons heimlik bid. Engele van lig is naby diegene wat in nederigheid om Goddelike leiding soek. DKvDE 125.4
Met die roeping van Johannes, Andreas en Simon en van Filippus en Natanael, is die fondamente van die Christelike kerk gelê. Johannes het twee van sy dissipels na Christus verwys. Toe het een van hulle, Andreas, sy broer gevind en hom na die Verlosser geroep. Toe is Filippus geroep en hy het Natanael gaan soek. Hierdie voorbeelde leer ons hoe belangrik persoonlike inspanning is om direkte beroepe op ons familie, vriende en bure te doen. Daar is diegene wat lewenslank beweer het dat hulle Christus ken, maar wat nog nooit ‘n persoonlike poging aangewend het om selfs een siel na die Verlosser te bring nie. Hulle laat al die werk aan die predikant oor. Hy is miskien goed gekwalifiseer vir sy roeping, maar hy kan nie doen wat God aan die lede van die kerk oorgelaat het om te doen nie. DKvDE 125.5
Daar is baie wat die bediening van liefdevolle, Christelike harte nodig het. Baie, wat moontlik gered sou word indien hulle bure, gewone mans en vroue, persoonlike moeite gedoen het, het verlore gegaan. Baie wag om persoonlik genader te word. In die gesin, die omgewing, die stad waar ons woon, is daar vir ons, as sendelinge, werk om vir Christus te doen. As ons Christene is, sal ons behae in hierdie werk skep. Iemand wat tot bekering gekom het, kan nie wag om ander te vertel van die kosbare vriend wat hulle in Jesus gevind het nie. Die reddende en heiligmakende waarheid kan nie in so iemand se hart opgesluit word nie. DKvDE 126.1
Almal wat aan God toegewy is, sal kanale van lig wees. God maak hulle Sy verteenwoordigers om die rykdom van Sy genade aan ander oor te dra. Sy belofte is: “Ek sal hulle en die plekke rondom my heuwel tot ‘n seën maak en die stortreën laat val op sy tyd; stortreëns van seën sal dit wees.” (Esegiël 34:26). DKvDE 126.2
Filippus het vir Natanael gesê: “Kom kyk.” Hy het hom nie gevra om ‘n ander se getuienis te aanvaar nie, maar om Christus self te sien. Noudat Jesus na die hemel opgevaar het, is Sy dissipels Sy verteenwoordigers onder die mense en een van die doeltreffendste maniere om siele vir Hom te wen, is om Sy karakter in ons daaglikse lewe te openbaar. Ons invloed op ander hang nie soseer af van wat ons sê nie, maar van wie ons is. Mense kan ons logika bestry of verontagsaam; hulle kan hulle teen ons oproepe verset; maar ‘n lewe van batelose liefde is ‘n argument wat hulle nie kan betwis nie. ‘n Bestendige lewe, gekenmerk deur die sagmoedigheid van Christus, is ‘n krag vir die wêreld. DKvDE 126.3
Die leer van Christus was die uitdrukking van innerlike oortuiging en ervaring en die wat van Hom leer, word leraars volgens die Goddelike orde. Die Woord van God, geuiter deur iemand wat self daardeur geheilig word, het ‘n lewegewende krag wat dit vir die hoorders aantreklik maak en hulle oortuig dat dit ‘n lewende werklikheid is. As iemand die waarheid in liefde ontvang het, sal hy dit in die oortuiging van sy optrede en die toon van sy stem openbaar. Hy sal bekend maak wat hy self aangaande die woord van die lewe gehoor, gesien en hanteer het, sodat ander, deur die kennis van Christus, gemeenskap met hom kan hê. Sy getuienis, met lippe wat met ‘n lewende kool van die altaar aangeraak is, is waarhede vir die ontvanklike hart en bewerk heiligmaking van die karakter. DKvDE 127.1
En hy wat poog om lig aan andere te gee, sal self geseën word. “Stortreëns van seën sal daar wees ... Hy wat laaf, word self ook gelaaf.” (Spreuke 11:25) God kon Sy doel bereik het om sondaars sonder ons hulp te red; maar vir ons om ‘n karakter soos Christus te ontwikkel, moet ons deel aan Sy werk hê. Om in sy vreugde in te gaan, die vreugde om siele wat deur Sy soendood verlos is te sien, moet ons in Sy arbeid vir hul verlossing deel. DKvDE 127.2
Natanael se eerste uitdrukking van sy geloof, so volkome, ernstig en opreg, het soos musiek op die ore van Jesus geval. En Hy het geantwoord en vir hom gesê: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien? Jy sal groter dinge sien as dit.” Die Verlosser het met vreugde na Sy werk om die goeie tyding aan die sagmoediges te verkondig uitgesien, om die gebrokenes van hart weer op te rig en vryheid aan die gevangenes van Satan te verkondig. Gedagtig aan die kosbare seëninge wat Hy vir die mens gebring het, het Jesus bygevoeg: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.” DKvDE 127.3
Hier sê Christus eintlik: Op die oewer van die Jordaan is die hemele geopen en die Gees het soos ‘n duif op My neergedaal. Daardie toneel was slegs ‘n teken dat Ek die Seun van God is. As julle aan My as sodanig glo, sal julle geloof aangewakker word. Julle sal sien dat die hemele geopen is en nooit weer gesluit sal word nie. Ek het dit vir julle oopgemaak. Die engele van God styg op, dra die gebede van die behoeftiges en noodlydendes na die Vader daarbo en daal weer neer om seën en hoop, moed, hulp en lewe na die mensekinders te bring. DKvDE 128.1
Die engele van God beweeg voortdurend op en af tussen die hemel en die aarde. Die wonderwerke van Christus vir die geteisterdes en lydendes, is in die mag van God deur die bediening van die engele bewerkstellig. En deur Christus, deur die bediening van Sy hemelse boodskappers, kom elke seën van God na ons. Deur die gestalte van ‘n mens aan te neem, het ons Verlosser Sy belange met die van die gevalle seuns en dogters van Adam verenig, terwyl Hy deur Sy Goddelikheid die troon van God vasgryp. En so word Christus die Medium van Kommunikasie van mense met God en God met mense. DKvDE 128.2