Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 1—“God Met Ons”
“Hulle sal Hom Emmanuel noem ... God met ons.” (Mattheüs 1:23) “Die verligting ... van die kennis van die heerlikheid van God...” word “...in die aangesig van Jesus Christus...” gesien (2 Korinthiërs 4:6) Van die dae van die ewigheid af was die Here Jesus Christus een Met die Vader; Hy was “...die beeld van God...” (Kolossense 1:15), die beeld van Sy grootheid en majesteit, “...die afskynsel van Sy heerlikheid.” (Hebreërs 1:3) Dit was om hierdie heerlikheid te openbaar dat Hy na ons wêreld gekom het. Hy het na hierdie aarde, wat deur sonde verduister is, gekom om die lig van God se liefde te openbaar-om “...God met ons...” te wees. Daarom is daar van Hom geprofeteer: “Hulle sal Hom Emmanuel noem.” DKvDE 1.1
Deur onder ons te kom woon, sou Jesus God aan mense sowel as engele openbaar. Hy was die Woord van God-die gedagtes van God hoorbaar gemaak. In Sy gebed vir Sy dissipels het Hy gesê: “Ek het U Naam geopenbaar aan die mense” (Johannes 17:6, “...'n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Psalm 86:15), “...sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” (Johannes 17:26) Maar hierdie openbaring is nie alleen vir Sy kinders op aarde gegee nie. Ons klein wêreldjie is die lesboek van die heelal. God se wonderbare doel van genade, die verborgenheid van verlossende liefde, is die tema “...waarin die engele begerig is om in te sien...” (1 Petrus 1:12) en dit sal hul studie deur die eindelose eeue wees. Beide die verlostes en die ongevalle wesens, sal in die kruis van Christus hul wetenskap en lied vind. Daar sal gesien word dat die heerlikheid wat van die aangesig van Jesus skyn, die heerlikheid van selfopofferende liefde is. In die lig van Golgota sal daar gesien word dat die wet van selfopofferende liefde, die wet van die lewe op aarde en in die hemel is; dat die liefde wat “...nie sy eie belang soek nie...” (1 Korinthiërs 13:5); sy oorspring in die hart van God het; en dat in die sagmoedige en nederige Een word die karakter van Hom wat in ontoeganklike lig woon, waartoe geen mens toegang het nie, gemanifesteer. DKvDE 1.2
In die begin is God in al die werke van die skepping geopenbaar. Dit was Christus wat die hemele gespan en die fondamente van die aarde gelê het. Dit was Sy hand wat die wêrelde in die ruimte gehang en die blomme van die veld gevorm het. Dit is Hy “...wat die berge grondves deur...” Sy krag;”Aan Wie die see behoort wat Hy self gemaak het...” (Psalm 65:7; 95:5) Dit is Hy wat die aarde met skoonheid en die lug met sang gevul het. En op alle dinge op die aarde en in die lug het Hy die boodskap van die Vader se liefde geskryf. DKvDE 2.1
Sonde het God se volmaakte werk geskend, maar daardie handskrif bly steeds. Selfs tans verkondig alle geskape dinge die heerlikheid van Sy voortreflikheid. Daar bestaan niks, behalwe die selfsugtige hart van die mens, wat vir homself lewe nie. Daar is geen voël wat die lug deurklief of dier wat op die grond beweeg, wat nie ‘n ander lewe dien nie. Daar is geen blaar van die woud, of geringe grashalmpie, wat nie ‘n bediening het nie.Elke boom, struik en blaar stort daardie element van lewe uit waarsonder mens en dier nie sou kon lewe nie; en op hulle beurt bedien mens en dier weer die lewe van boom, struik en blaar.Die blomme adem geur uit en ontvou hul skoonheid tot seën vir die wêreld. Die son gee lig om ‘n duisend wêrelde te verbly. Die oseaan, wat self die bron van al ons fonteine is, ontvang strome uit elke land, maar neem dit om weer te gee. Die vog wat uit sy boesem opstyg, val in ‘n stortbui neer om die aarde te benat sodat dit kan voortbring en uitbot. DKvDE 2.2
Die glorieryke engele vind hulle vreugde daarin om te gee-om liefde te gee en onvermoeid te waak oor sondige en onheilige siele. Hemelse wesens bearbei die harte van mense en bring die lig van die hemelse howe na hierdie donker wêreld; deur sagmoedige en geduldige bediening beweeg hulle die gees van die mens om die verlorenes selfs in ‘n nouer gemeenskap met Christus te bring wat nader is as wat hulle self besef. DKvDE 2.3
Maar, om weg te draai van geringer voorstellings, sien ons God in Jesus. As ons na Jesus kyk, sien ons dat dit die heerlikheid van ons God is om te gee. “Uit Myself doen Ek niks nie” (Johannes 8:28), het Jesus gesê: “...die lewende Vader het My gestuur en Ek lewe deur die Vader.” (Johannes 6:57) “Ek soek nie My eer nie...” (Johannes 8:50), “...maar die eer van Hom wat My gestuur het.” (Johannes 7:18) In hierdie woorde word die groot beginsel wat die wet van die lewe vir die heelal is, uiteengesit. Christus het alle dinge van God ontvang, maar Hy het dit ontvang om te gee. Net so vloei die Vader se lewe in die hemelse howe, deur Sy geliefde Seun en in Sy bediening vir alle wesens, uit na almal; deur die Seun keer dit in lof en vreugdevolle diens, in ‘n gety van liefde, terug na die groot Bron van alles. En so word, deur Christus, die kringloop van weldadigheid voltooi, wat die karakter van die groot Gewer, die wet van die lewe voorstel,. DKvDE 3.1
Hierdie wet is In die hemel self verbreek. Die sonde het sy ontstaan in selfbevrediging gehad. Lucifer, die gerub wat beskut, het begeer om eerste in die hemel te wees. Hy het gestreef om beheer oor hemelse wesens te verkry, hulle van hul Skepper af weg te lok en hul eerbetoon vir homself te wen. Daarom het hy God valslik voorgestel en Hom van ‘n begeerte na selfverheffing beskuldig. Hy het gepoog om sy eie bose karaktertrekke aan die liefdevolle Skepper toe te dig. So het hy die engele bedrieg en so het hy ook die mens bedrieg. Hy het hulle gelei om aan die Woord van God te twyfel en Sy goedheid te wantrou. Omdat God ‘n God van geregtigheid en ontsettende majesteit is, het Satan veroorsaak dat hulle Hom as streng en onvergewensgesind beskou. So het hy die mens saam met hom in opstand teen God gebring en die donker nag van wee het op die aarde toegesak. DKvDE 3.2
Die aarde was donker weens ‘n wanbegrip van God. Om die donker skaduwees te verlig en die wêreld na God terug te bring, moes die bedrieglike mag van Satan verbreek word. Dit kon nie met geweld geskied nie. Die uitoefening van geweld is in stryd met die beginsels van God se regering; Hy begeer slegs die diens van liefde; en liefde kan nie afgedwing word nie; dit kan nie met geweld of gesag gewen word nie. Slegs deur liefde word liefde verwek. Om God te ken, is om Hom lief te hê; Sy karakter moet in teenstelling met die karakter van Satan gemanifesteer word. Hierdie werk kon net deur een Wese in die ganse heelal gedoen word. Alleen Hy wat die hoogte en diepte van die liefde van God geken het, kon dit bekend maak. Oor die donker nag van die wêreld moes die Son van Geregtigheid opgaan met “...genesing onder sy vleuels.” (Maleagi 4:2) DKvDE 3.3
Die plan vir ons verlossing was geen nagedagte of ‘n plan wat na die val van Adam geformuleer is, nie. Dit was die openbaring van “...die verborgenheid wat eeue lank verswyg is.” (Romeine 16:25). Dit was die ontplooiing van die beginsels wat deur die eeue heen die grondslag van die troon van God was. Van die begin af het God en Christus van die afvalligheid van Satan geweet en die val van die mens deur die misleidende krag van die afvallige. God het nie beskik dat sonde moes bestaan nie, maar Hy het die bestaan daarvan voorsien en het voorsiening vir hierdie betreurenswaardige gebeurtenis gemaak. Sy liefde vir die wêreld was so groot dat Hy Hom verbind het om Sy eniggebore Seun te gee, “...sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16). DKvDE 4.1
Lucifer het gesê: “Ek wil ... my troon verhef bo die sterre van God ... Ek wil ... my gelykstel met die Allerhoogste! (Jesaja 14:13,14) Maar Christus, “...wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword.” (Filippense 2:6,7). DKvDE 4.2
Dit was ‘n vrywillige offer. Jesus kon aan Sy Vader se sy gebly het. Hy kon Sy hemelse heerlikheid en die eerbetoon van die engele behou het. Maar Hy het verkies om die septer terug in die Vader se hand te plaas en die troon van die heelal te verlaat, sodat Hy lig aan dié wat in duisternis verkeer en lewe vir die sterwendes kon bring. DKvDE 4.3
Byna tweeduisend jaar gelede is daar ‘n stem met geheime belang in die hemel vanaf die troon van God gehoor: “Kyk, Ek kom.” “Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei ... Kyk, Ek kom-in die boekrol is dit van My geskrywe-om U wil te doen, o God.” (Hebreërs 10:5-7) Met hierdie woorde is die vervulling van die doel, wat deur die eeue verborge was, aangekondig. Christus was gereed om ons wêreld te besoek en vlees te word. Hy het gesê: “...U het vir My ‘n liggaam berei.” (Hebreërs 10:5) Sou Hy met die heerlikheid wat Hy by die Vader gehad het voordat die wêreld was, verskyn het, sou ons nie die lig van Sy teenwoordigheid kon verduur nie. Sodat ons dit kon aanskou en nie vernietig word nie, was die manifestasie van Sy heerlikheid versluier. Sy Godheid is met menslikheid bedek-die onsigbare heerlikheid in sigbare menslike gedaante. DKvDE 5.1
Hierdie groot plan is in tipes en simbole voorafgeskadu. Die brandende bos waarin Christus aan Moses verskyn het, was ‘n openbaring van God. Die simbool wat gekies was om die Godheid voor te stel, was ‘n eenvoudige doringbos wat skynbaar geen aantrekkingskrag gehad het nie. Dit het die Oneindige verberg. Die barmhartige God het Sy heerlikheid in ‘n mees eenvoudige tipe gehul, sodat Moses daarna kon kyk en lewe. So het God ook in die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags met Israel gekommunikeer deur Sy wil aan die mense te openbaar en Sy genade aan hulle te skenk. Die heerlikheid van God was verskans, asook Sy majesteit, sodat die swak gesig van sterflike mense dit kon aanskou. So het Christus in “...ons vernederde liggaam...” (Filippense 3:21 gekom, en “...aan die mense gelyk geword.” (Filippense 2:7). In die oë van die wêreld het Hy “...geen voorkoms...” gehad, “...dat ons Hom sou begeer nie.” (Jesaja 53:2); tog was Hy die vleesgeworde God, die Lig van hemel en aarde. Sy heerlikheid was versluier, Sy grootheid en majesteit was verberg, sodat Hy nader aan bedroefde en versoekte mense kon kom. DKvDE 5.2
God het deur Moses aan Israel bevel gegee: “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.” (Exodus 25:8) en Hy het in die heiligdom te midde van Sy volk gewoon. In hul lang omswerwinge in die woestyn was die simbool van Sy teenwoordigheid met hulle. So het Christus Sy tabernakel te midde van ons menslike kamp opgerig. Hy het Sy tent langs die tente van mense opgeslaan, sodat Hy onder ons kon woon en ons vertroud met Sy Goddelike karakter en lewe kon maak. “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon-en ons het Sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom-vol van genade en waarheid.” (Johannes 1:14). DKvDE 6.1
Aangesien Jesus onder ons kom woon het, weet ons dat God vertroud met ons beproewinge is en dat Hy medelye met ons droefheid het. Elke seun en dogter van Adam kan weet dat ons Skepper die Vriend van sondaars is. Want in elke leerstelling van genade, elke belofte van vreugde, elke daad van liefde en in elke Goddelike bekoring wat in die Verlosser se lewe op aarde aangebied was, sien ons “God met ons”. DKvDE 6.2
Satan stel God se wet van liefde as ‘n wet van selfsug voor. Hy verklaar dat dit vir ons onmoontlik is om die voorskrifte daarvan te gehoorsaam. Die val van ons eerste voorouers met al die ellende wat dit meegebring het, dig hy aan die Skepper toe en hy oortuig die mens om God as die outeur van sonde en lyding en die dood te beskou. Jesus sou hierdie misleiding ontbloot. As een van ons sou Hy die voorbeeld van gehoorsaamheid stel. Hiervoor het Hy ons natuur op Hom geneem en ons ervarings belewe. “Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word.” (Hebreërs 2:17) As ons iets sou moes verduur wat Jesus nie verduur het nie, sou Satan beweer het dat die krag van God onvoldoende vir ons is. Daarom is Jesus “...in alle opsigte versoek net soos ons.” (Hebreërs 4:15). Hy het elke beproewing waaraan ons onderworpe is verduur. En Hy het geen mag namens Homself uitgeoefen wat nie vrylik aan ons aangebied word nie.As mens het Hy versoekings tegemoetgekom en weerstaan deur die mag wat van God aan Hom gegee is. Hy het gesê: “Ek het lus, o my God, om U welbehae te doen, en U wet is binne-in my ingewande.” (Psalm 40:9). Terwyl hy rondgegaan en goed gedoen het en almal wat deur Satan geteister is genees het, het Hy die karakter van God se wet en die aard van Sy diens duidelik gemaak. Sy lewe getuig daarvan dat dit vir ons ook moontlik is om die wet van God te gehoorsaam. DKvDE 6.3
In Sy menswees het Christus die mensdom aangeraak; in Sy Goddelikheid was Hy met die troon van God verbind. As die Seun van die mens het Hy aan ons die voorbeeld van gehoorsaamheid gegee; as die Seun van God gee Hy ons die krag om te gehoorsaam. Dit was Christus wat vanuit die brandende bos op die berg Horeb aan Moses gesê het: “EK IS WAT EK IS... So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.” (Exodus 3:14) Dit was die waarborg vir Israel se verlossing. Toe Hy dus in die gedaante van die mens gekom het, het Hy Hom die “EK IS” genoem. Die kind van Betlehem, die sagmoedige en nederige Verlosser, is God in die vlees geopenbaar. (sien 1 Timotheus 3:16). Aan ons sê Hy: “EK IS die goeie herder.” (Johannes 10:11) “EK IS die lewende brood.” (Johannes 6:51) “Ek IS die weg en die waarheid en die lewe.” (Johannes 14:6) “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” (Mattheus 28:18) EK IS die waarborg vir elke belofte. EK IS, moenie vrees nie. “God met ons” is die waarborg van ons verlossing van die sonde, die versekering van ons krag om die wet van die hemel te gehoorsaam. DKvDE 7.1
Deur Homself te verneder om die mensheid op Homself te neem, het Christus ‘n karakter wat in teenstelling met die karakter van Satan is, openbaar. Maar Hy het nog laer op die weg van vernedering getree: “En in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Filippense 2:8). Net soos die hoëpriester sy pragtige kleed uitgetrek en die wit linnekleed van ‘n gewone priester aangetrek het, so het Christus die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem en ‘n offer gebring-Hy was self die offer. “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom.” (Jesaja 53:5) DKvDE 7.2
Christus is behandel soos ons verdien het, sodat ons behandel kan word soos Hy verdien het. Hy is vir ons sondes, waaraan Hy geen deel gehad het nie, veroordeel, sodat ons deur Sy geregtigheid waarin ons geen deel gehad het nie geregverdig kan word. Hy het ons dood gesterf, sodat ons Sy lewe kan ontvang. “Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jesaja 53:5) DKvDE 8.1
Deur Sy lewe en Sy dood het Christus selfs meer bereik as die herstel van die vernietiging wat deur sonde bewerk is. Dit was Satan se doel om ewige skeiding tussen God en die mens te bewerkstellig; maar in Christus is ons nouer met God verbind as wat ons sou wees indien ons nooit geval het nie. Deur ons natuur aan te neem, het die Heiland Homself aan die mensdom verbind met ‘n band wat nooit verbreek kan word nie. Deur die eeue van die ewigheid is Hy aan ons verbind. “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het...” (Johannes 3:16). Hy het Hom nie net gegee om ons sondes te dra en as ons soenoffer te sterf nie; Hy het Hom aan die gevalle ras gegee. Om ons van Sy onveranderlike vredesverbond te verseker, het God Sy eniggebore Seun gegee om een met die mens te word en vir ewig die menslike natuur te behou. Dit is die waarborg dat God Sy woord gestand sal doen. “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op Sy skouer.” (Jesaja 9:5). God het die menslike natuur in die Persoon van Sy Seun aangeneem en dieselfde in die hoogste hemel opgeneem. Dit is die “...Seun van die mens...” wat saam met die Vader op die troon van die heelal sit. Dit is die “...Seun van die mens... ” wat genoem word, “Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” (Jesaja 9:5) Die EK IS, is die Middelaar tussen God en mens, wat Sy hand op albei lê. Hy wat “...heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is...” (Hebreërs 7:26), skaam Hom nie om ons broers te noem nie. (Sien Hebreërs 2:11). In Christus is die aardse familie met die hemelse familie verbind. Die verheerlikte Christus is ons Broer. Die Hemel is in die mensdom vasgelê en die mensdom word in die boesem van Oneindige Liefde toegevou. DKvDE 8.2
Van sy volk sê God: “Hulle is kroongesteentes wat hulle skitterend verhef oor sy land. Want hoe groot is hulle voortreflikheid en hoe groot hulle skoonheid!” (Sagaria 9:16,17) Die verheffing van die verlostes sal ‘n ewige getuienis van die genade van God wees. “In die eeue wat kom... ” sal Hy “...die uitnemende rykdom van Sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus...” (Efesiërs 2:7) betoon, “...sodat nou ... aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word, volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here.” (Efesiërs 3:10,11). DKvDE 9.1
Deur Christus se verlossingswerk staan die regering van God geregverdig. Die Almagtige word as die God van liefde geopenbaar. Satan se aantygings word weerlê en sy karakter onthul. Daar kan nooit weer opstand ontstaan nie. Die sonde kan nooit weer die heelal binnedring nie. Tot in ewigheid is almal teen afvalligheid gevrywaar. Deur opofferende liefde word die bewoners van hemel en aarde met bande van onverganklike eenheid aan hul Skepper gebind. DKvDE 9.2
Die verlossingswerk sal volbring wees. In die plek waar sonde oorvloedig was, is die genade van God meer oorvloediger. Die aarde self, wat Satan beweer het syne was, sal nie net verlos word nie, maar ook verhoog word. Ons klein wêreld, onder die vloek van sonde, die een donker vlek in Sy glorieryke skepping, sal bo alle ander wêrelde in die heelal van God vereer word. Hier, waar die Seun van God as vleesgeworde mens gewoon het; waar die glorieryke Koning geleef, gely en gesterf het; en hier, wanneer Hy alles nuut maak, sal die tabernakel van God by die mense wees “...en Hy sal by hulle woon, en hulle sal Sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God...” (Openbaring 21:3) en deur die ewigheid heen sal die verlostes in die lig van die Here wandel en Hom loof vir Sy onuitspreeklike gawe: DKvDE 9.3
Emmanuel, “God met ons”