Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 13—Die Oorwinning *
“Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: DKvDE 107.1
“Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.” DKvDE 107.2
Satan was nou onder die indruk dat hy Jesus op sy eie terrein ontmoet het. Die listige vyand het die woorde wat uit die mond van God gekom het aangehaal. Hy het steeds as ‘n engel van lig verskyn en dit duidelik gemaak dat hy met die Skrif en die betekenis daarvan vertroud is. Soos Jesus tevore die Woord van God gebruik het om Sy geloof te onderskraag, het die verleier dit nou aangewend om sy bedrog mee te verbloem. Hy het beweer dat hy slegs Jesus se getrouheid wou toets en het Sy standvastigheid geprys. Aangesien die Verlosser vertroue in God geopenbaar het, het die Satan by Hom aangedring om nog ‘n bewys van Sy geloof te lewer. DKvDE 107.3
Maar weereens het die versoeking met ‘n insinuasie van wantroue gepaard gegaan: “As U die Seun van God is...” Christus was in die versoeking om die “as” te beantwoord; maar Hy het die geringste erkenning van twyfel vermy. Hy sou nie Sy lewe in gevaar stel om aan Satan getuienis te lewer nie. DKvDE 107.4
Die versoeker het gedink om voordeel uit Christus se menslikheid te trek en Hom tot aanmatiging oor te haal. Maar hoewel Satan die sonde kan uitlok, kan hy dit nie afdwing nie. Aan Jesus het hy gesê: “Werp Uself af...”, wetende dat hy Hom nie kon afwerp nie; want God sou ingryp om Hom te verlos. Satan kon Jesus ook nie dwing om Homself neer te werp nie. Tensy Christus aan die versoeking sou toegee, kon Hy nie oorwin word nie. Nie al die mag in die wêreld of in die hel kon Hom in die geringste mate dwing om van die wil van sy Vader af te wyk nie. DKvDE 107.5
Die versoeker kan ons nooit dwing om te sondig nie. Hy kan ons gedagtes nie beheer nie, tensy dit aan sy beheer oorgegee word. Die wil moet toestem en die geloof moet sy houvas op Christus verloor voordat Satan sy mag oor ons kan uitoefen. Maar elke sondige begeerte wat ons koester gee aan hom vastrapplek. In elke opsig waarin ons nie aan die Goddelike maatstaf voldoen nie, is daar ‘n oop deur waardeur hy kan ingaan om ons te versoek en te vernietig. En elke mislukking of nederlaag van ons kant, gee aan hom die geleentheid om Christus te smaad. DKvDE 108.1
Toe Satan die belofte, “Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee...” aangehaal het, het hy die woorde “...om jou te bewaar op al jou weë...” weggelaat, dit wil sê, op al die maniere van God se keuse. Jesus het geweier om van die weg van gehoorsaamheid af te wyk. Terwyl Hy volkome vertroue in Sy Vader openbaar het, sou Hy Homself nie ongevraagd in ‘n situasie begeef wat die tussentrede van Sy Vader sou genoodsaak om Hom van die dood te red nie. Hy sou die Voorsienigheid nie dwing om tot Sy redding te kom en sodoende versuim om ‘n voorbeeld van vertroue en onderdanigheid aan die mens te stel nie. DKvDE 108.2
Jesus het Satan geantwoord: “Daar is ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.” Hierdie woorde is deur Moses aan die kinders van Israel gerig toe hulle in die woestyn dors gehad en van Moses geëis het om vir hulle water te gee, met die woorde: “Is die Here in ons midde of nie?” (Exodus 17:7). God het wondere vir hulle verrig; tog het hulle, toe hulle in nood verkeer het, aan Hom getwyfel en om ‘n bewys gevra dat Hy met hulle is. In hul ongeloof het hulle gepoog om God te beproef. En Satan het Christus nou aangespoor om dieselfde te doen. God het reeds getuig dat Jesus Sy Seun is; en om nou vir ‘n bewys te vra dat Hy die Seun van God is, sou neerkom op ‘n toets vir God-om Hom te versoek. En dieselfde sou geld as ons vir dit vra wat God nie belowe het nie. Dit sou wantroue openbaar en Hom waarlik beproef of versoek. Ons moet nie ons versoeke aan God rig om te bewys of Hy Sy woord gestand sal doen nie, maar omdat Hy dit sal vervul; nie om te bewys dat Hy ons liefhet nie, maar omdat Hy ons liefhet. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (Hebreërs 11:6). DKvDE 108.3
Maar geloof is geensins aan aanmatiging gekoppel nie. Alleenlik diegene met ‘n ware geloof, is daarvan gevrywaar. Want elke aanmatiging is Satan se vervalsing van geloof. Geloof maak aanspraak op God se beloftes en lewer die vrugte van gehoorsaamheid. Aanmatiging maak ook aanspraak op die beloftes, maar wend dit soos Satan aan, om oortreding te verskoon. Geloof sou daartoe gelei het dat ons eerste ouers op die liefde van God vertrou en Sy opdragte gehoorsaam het. Aanmatiging het daartoe gelei dat hulle Sy wet oortree en geglo het dat Sy groot liefde hulle van die gevolge van sonde sou red. Geloof maak nie aanspraak op die guns van die Hemel, sonder om aan die voorwaardes waarop genade geskenk word te voldoen nie. Ware geloof het sy grondslag in die beloftes en bepalings van die Skrif. DKvDE 109.1
Dikwels wanneer Satan ons nie tot wantroue kan oorhaal nie, slaag hy daarin om ons tot aanmatiging te lei. Indien hy ons sover kan kry om ons onnodig aan versoeking bloot te stel, weet hy dat die oorwinning syne is. God sal almal bewaar wat die weg van gehoorsaamheid bewandel, maar om daarvan af te wyk, is om dit op Satan se terrein te waag. Daar sal ons gewis verslaan word. Die Heiland het ons gewaarsku: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.” (Markus 14:38). Oorpeinsing en gebed sal ons daarvan weerhou om ons ongevraagd op die weg van gevaar te haas en sodoende van menige nederlae red. DKvDE 109.2
Tog moet ons nie moed verloor as ons versoek word nie. Dikwels wanneer ons in ‘n moeilike situasie verkeer, betwyfel ons of die Gees van God ons gelei het. Maar dit was die leiding van die Gees wat Jesus na die woestyn gelei het om deur Satan versoek te word. Wanneer God ons beproef, is dit met ‘n goeie doel, wat tot ons beswil strek. Jesus het Hom nie die beloftes van God aangematig deur Homself ongevraagd in versoeking te begewe nie, maar Hy het ook nie moed verloor toe versoeking oor Hom gekom het nie. Ons moet ook nie. “God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1 Korinthiërs 10:13). Hy sê: DKvDE 110.1
“Offer dank aan God en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Psalm 50:14,15). DKvDE 110.2
Jesus was oorwinnaar oor die tweede versoeking en nou manifesteer Satan hom in sy ware karakter. Maar hy doen hom nie voor as ‘n afskuwelike monster met gesplete kloue en vlermuis-vlerke nie. Hy is ‘n magtige engel, alhoewel hy geval het. Hy verklaar homself as die leier van die rebellie en die god van hierdie wêreld. DKvDE 110.3
Satan het Jesus op ‘n hoë berg gebring en die koninkryke van die wêreld in al hul glorie, in ‘n panoramiese uitsig voor Hom laat verbygaan. Die sonlig het oor die stede met hulle tempels, marmerpaleise, vrugbare lande en wingerde, met vrugte belaai, geskyn. Die spore van boosheid was verborge. Die oë van Jesus, wat onlangs deur somberheid en verlatenheid begroet is, het nou ‘n toneel van weergalose lieflikheid en voorspoed aanskou. Toe is die stem van die versoeker gehoor: “Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee en ek gee dit aan wie ek wil. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.” DKvDE 110.4
Christus se sending kon slegs met lyding vervul word. Voor Hom het ‘n lewe van smart, ontbering en stryd en ‘n smaadvolle dood gewag. Hy moes die sondes van die hele wêreld dra. Hy moes skeiding van sy Vader se liefde verduur. Nou het die verleier aangebied om die mag wat hy wederregtelik ingepalm het, oor te lewer. Christus kon Homself van hierdie vreeslike vooruitsig verlos, deur die oppermag van Satan te erken. Maar om dit te doen, sou Hy die oorwinning in die groot stryd prysgee. Dit was omdat hy hom oor die Seun van God wou verhef dat Satan in die hemel gesondig het. Indien hy nou die oorhand sou verkry, sou die rebellie triomfeer. DKvDE 111.1
Toe Satan aan Christus verklaar het: Die koninkryke en die heerlikheid van die wêreld is aan my oorgelewer en ek gee dit aan wie ek wil, het hy slegs gedeeltelik die waarheid gepraat en hy het dit gesê om sy eie doel van misleiding te dien. Satan se heerskappy is van Adam afgeneem, maar Adam het onder die volmag van die Skepper geheers. Hy was nie ‘n onafhanklike heerser nie. Die aarde behoort aan God en Hy het alles aan Sy Seun toegewy. Adam moes onderhewig aan Christus regeer. Toe Adam sy soewereiniteit aan Satan afgestaan het, was Christus steeds die regmatige Koning. Daarom het die Here aan koning Nebukadnesar gesê dat “...die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens, en dit gee aan wie Hy wil.” (Daniël 4:17). Satan kan slegs sy wederregtelike mag uitoefen soos God dit toelaat. DKvDE 111.2
Toe die verleier die koninkryk en die heerlikheid van die wêreld aan Christus gebied het, het hy voorgestel dat Christus die ware koningskap van die wêreld moes afstaan en die heerskappy aan Satan moet onderwerp. Dit was dieselfde heerskappy waarop die hoop van die Jode gevestig was. Hulle het die koninkryk van hierdie wêreld begeer. As Christus bereid was om so ‘n koninkryk aan hulle te bied, sou hulle Hom met graagte ontvang het. Maar die vloek van sonde met al sy wee het daarop gerus. Christus het aan die verleier gesê: “Gaan weg Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” DKvDE 111.3
Die een wat in die hemel in opstand gekom het, het die koninkryke van die wêreld aan Christus gebied om Sy onderdanigheid aan die beginsels van die bose te koop; maar Hy sou nie gekoop word nie; Hy het gekom om ‘n koninkryk van geregtigheid te vestig en sou nie Sy doel laat vaar nie. Met dieselfde versoeking nader Satan die mens en in hierdie opsig behaal hy meer sukses as met Christus. Hy bied aan die mens die koninkryk van hierdie wêreld aan, op voorwaarde dat hulle sy oppergesag sal erken. Hy vereis dat hulle hul integriteit prysgee, die gewete verontagsaam en hulle aan selfsug oorgee. Christus versoek dat hulle eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid soek; maar Satan loop langs hulle en sê: Wat ook al waar mag wees met betrekking tot die ewige lewe, om ‘n sukses in hierdie wêreld te bereik, moet julle my dien. Ek hou julle welvaart in my hande. Ek kan aan julle rykdom, plesier, aansien en geluk gee. Luister na my raad. Moenie toelaat dat julle deur wispelturige opvattings van eerlikheid en selfopoffering meegevoer word nie. Ek sal die weg vir julle voorberei. So word menigtes mislei. Hulle is bereid om vir hulself te lewe en Satan is tevrede. Terwyl hy hulle lok met die hoop op wêreldse heerskappy, verkry hy heerskappy oor die siel. Maar hy bied aan wat nie syne is om te gee nie en wat weldra van hom weggeneem sal word. In ruil daarvoor bedrieg hy hulle en beroof hulle van hul aanspraak op die erfenis as kinders van God. DKvDE 112.1
Satan het twyfel uitgespreek of Jesus die Seun van God was. In sy summiere ontslag het hy bewys gehad dat hy nie kan seëvier nie. Goddelikheid het deur die lydende menslikheid geflits. Satan het geen mag gehad om die bevel te weerstaan nie. Met vernedering en woede, was hy gedwonge om hom aan die teenwoordigheid van die wêreld se Verlosser te onttrek. Christus se oorwinning was so volkome soos wat die mislukking van Adam was. DKvDE 112.2
So kan ons versoekings weerstaan en Satan dwing om van ons te wyk. Jesus het die oorwinning deur onderwerping en geloof in God behaal en deur die apostel sê Hy vir ons: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” (Jakobus 4:7,8). Ons kan ons nie self van die mag van die verleier red nie; hy het die mens oorwin en as ons in eie krag probeer staan, sal ons sy prooi word; maar “...die Naam van die Here is ‘n sterk toring, die regverdige hardloop daarin en word beskut.” (Spreuke 18:10). Satan sidder en vlug voor die swakste siel wat skuiling in daardie magtige Naam vind. DKvDE 113.1
Nadat die vyand Hom verlaat het, het Jesus uitgeput op die aarde neergeval, met die bleekheid van die dood op Sy gelaat. Die engele van die hemel het die konflik dopgehou en gesien hoe hul geliefde Bevelvoerder onuitspreeklike lyding verduur om vir ons ‘n uitkoms te berei. Hy het die toets, groter as wat ons ooit sal hoef te verduur, deurstaan. Toe het die engele die Seun van God, terwyl Hy soos ‘n sterwende gelê het, bedien. Hy is met voedsel versterk en met die boodskap van Sy Vader se liefde getroos en die versekering dat die ganse hemel in Sy oorwinning geseëvier het. Sy groot hart het weer opgewarm met meegevoel vir die mens en Hy het voortgegaan om die werk wat Hy begin het, te voltooi; om nie te rus voordat die vyand verslaan is en die gevalle ras verlos is nie. DKvDE 113.2
Die prys van ons verlossing sal nooit besef kan word totdat die verlostes saam met die Verlosser voor die troon van God staan nie. Dan, wanneer die heerlikheid van ons ewige tuiste voor ons verrukte sinne ontvou, sal ons onthou dat Jesus dit alles ter wille van ons verlaat het, dat Hy nie net ‘n banneling uit die hemelse howe geword het nie, maar dat Hy die risiko van mislukking en ewige verlies ter wille van ons geneem het.Dan sal ons ons krone voor sy voete neerwerp en die lied aanhef: “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” (Openbaring 5:12). DKvDE 113.3