Die Koning van die Eeue

13/88

Hoofstuk 12—Die Versoeking *

“En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af en is deur die Gees in die woestyn gelei.” Markus stel dit nog meer betekenisvol: “En dadelik het die Gees Hom uitgedryf in die woestyn. En Hy was daar in die woestyn veertig dae lank, terwyl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere ... En Hy het niks geëet in dié dae nie.” DKvDE 94.1

Toe Jesus die woestyn ingelei is om versoek te word, is Hy deur die Gees van God gelei. Hy het nie versoeking uitgenooi nie. Hy het na die woestyn gegaan om alleen te wees, om Sy sending en werk te bepeins. Deur gebed en vas moes Hy Homself vir die bloedbevlekte pad wat Hy moes bewandel versterk. Maar Satan het geweet dat die Verlosser na die woestyn gegaan het en het dit as die mees geskikste tyd geag om Hom te nader. DKvDE 94.2

In die konflik tussen die Vors van die Lig en vors van die koninkryk van die duisternis, was daar geweldige dinge vir die wêreld op die spel. Nadat hy die mens versoek het om te sondig, het Satan die aarde vir homself opgeëis en homself as die prins van hierdie wêreld bestempel. Nadat hy aan die vader en moeder van ons menseras, sy eie natuur gegee het, het hy beplan om sy ryk hier vestig. Hy het beweer dat die mens hom as hul soewerein gekies het. Deur sy beheer oor die mens, het hy die wêreld regeer. Christus het gekom om Satan se aanspraak te weerlê. As die Seun van die mens sou Christus lojaal aan God bly. Dit sou toon dat Satan nie volkome beheer oor die mensdom gehad het nie en dat sy aanspraak op die wêreld ongegrond was. Almal wat na verlossing uit sy mag verlang het, sou vrygemaak word. Die heerskappy wat Adam deur die sonde versaak het, sou herstel word. DKvDE 94.3

Sedert die aankondiging aan die slang in Eden: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad...” (Genesis 3:15), het Satan geweet dat hy nie volkome beheer oor die wêreld gehad het nie. Daar is in die mens die werking van ‘n Mag wat sy heerskappy weerstaan het, gesien. Met intense belangstelling het hy die offers wat Adam en sy seuns gebring het gadegeslaan. In hierdie seremonies het hy ‘n simbool van gemeenskap tussen hemel en aarde onderskei. Hy was daarop ingestel om hierdie gemeenskap te onderskep. Hy het God verkeerd voorgestel en die rituele wat op die Verlosser gewys het, verkeerd vertolk. Mense is gelei om God as Een wat Hom in hul ondergang verlustig, te sien. Die offers wat Sy liefde moes openbaar, was slegs gebring om Sy toorn af te wend. Satan het die bose hartstogte van die mens aangevuur om sy houvas op hulle te verstewig. Toe God se geskrewe Woord gegee is, het Satan die profesieë aangaande die koms van die Heiland bestudeer. Van geslag tot geslag het hy gestreef om die mensdom vir hierdie profesieë te verblind, sodat hulle Christus met Sy koms sou verwerp. DKvDE 95.1

By die geboorte van Christus het Satan geweet dat Een gekom het met ‘n Goddelike opdrag om sy heerskappy te betwis. Hy het gesidder vir die boodskap van die engel wat van die gesag van die pasgebore Koning getuig het. Satan was ten volle bewus van die posisie wat Christus in die hemel as die Geliefde van die Vader beklee. Dat die Seun van God as mens na hierdie aarde sou kom, het hom met verbasing en vrees gevul. Hy kon die verborgenheid van hierdie groot offer nie deurgrond nie. Sy selfsugtige siel kon sulke liefde vir die misleide ras nie verstaan nie. Die heerlikheid en vrede van die hemel en die vreugde van gemeenskap met God is maar dofweg deur die mens begryp, maar Lucifer, die beskuttende gerub, was goed bekend daarmee. Aangesien hy die hemel verbeur het, was hy vasbeslote om wraak te neem, deur ander in sy val te laat deel. Dit sou hy doen deur hulle die hemelse dinge te laat onderskat en hul harte op aardse dinge te rig. DKvDE 95.2

Die Bevelvoerder van die hemel sou nie sonder weerstand die siele van mense vir Sy koninkryk verower nie. Van die tyd toe Hy ‘n baba in Bethlehem was, was Hy voortdurend deur die bose aangeval. Die beeld van God is in Christus gemanifesteer en die raad van Satan het besluit dat Hy oorwin moes word. Geen mens wat in die wêreld gekom het, het die mag van die misleier vrygespring nie. Die magte van die konfederasie van die bose was op Sy spoor om oorlog teen Hom te voer en, indien moontlik, Hom te oorheers. DKvDE 96.1

Met die doop van die Heiland, was Satan onder die getuies. Hy het gesien hoe die heerlikheid van die Vader Sy Seun oorskadu. Hy het die stem van Jehova hoor getuig van die Godheid van Jesus. Sedert Adam se sondeval, was die mensdom van direkte gemeenskap met God afgesny; maar noudat Jesus “...in die gelykheid van die sondige vlees... ” (Romeine 8:3) gekom het, het die Vader self gespreek. Voorheen het Hy deur Christus met die mensdom gekommunikeer, maar nou het Hy in Christus met die mensdom gekommunikeer. Satan het gehoop dat God se afsku van die bose ‘n ewige skeiding tussen hemel en aarde sou bring. Maar dit was nou duidelik dat die verbinding tussen God en die mens herstel was. DKvDE 96.2

Satan het besef dat hy moes oorwin of oorwin moet word. Die kwessies van die konflik het te veel behels om aan sy mede-engele toe te vertrou. Hy sou persoonlik die stryd voer. Hy het al die magte van afvalligheid op die Seun van God gesentreer. Christus was die teiken van elke wapen van die hel. DKvDE 96.3

Baie beskou hierdie konflik tussen Christus en Satan as van geen besondere belang in hul eie lewe nie; maar hierdie stryd word in die hart van elke mens herhaal. ‘n Mens tree nooit uit die geledere van die bose, in diens van God, sonder om deur Satan aangeval te word nie. Die versoekings wat Christus weerstaan het, was dieselfde versoekings wat vir ons so moeilik is om te weerstaan. Dit was egter net soveel hewiger op Hom afgedwing as wat Sy karakter voortrefliker as ons s'n is. Met die wêreld se verskriklike sondelas op Hom, het Christus die toets van begeerte, die liefde vir die wêreld en die liefde vir vertoon wat tot vermetelheid lei, weerstaan. Dit was die versoekings wat vir Adam en Eva oorwin het en wat ons so maklik oorwin. DKvDE 96.4

Satan het Adam se sonde as bewys dat die wet van God onregverdig was en nie gehoorsaam kon word nie voorgehou. In ons mensheid sou Christus Adam se mislukking uitkoop. Maar toe Adam deur die versoeker aangeval was, was geen gevolge van die sonde op hom nie. Hy het in die krag van volmaakte manlikheid gestaan en die volle krag van verstand en liggaam besit. Hy was met die glorie van Eden omring en was daagliks in gemeenskap met hemelse wesens. Dit was nie so met Jesus toe Hy in die woestyn ingegaan het om Satan die hoof te bied nie. Vierduisend jaar lank het die mens se liggaamskragte, geestesvermoë en sedelike waardes afgeneem; en Christus het die swakhede van die ontaarde mens op Hom geneem. Slegs op hierdie wyse kon Hy die mens uit die laagste dieptes van verval red. DKvDE 97.1

Baie beweer dat dit vir Christus onmoontlik was om deur versoeking oorwin te word. Indien dit so was, sou hy nie in Adam se plek geplaas gewees het nie; en sou Hy nie die oorwinning behaal het wat Adam nie kon behaal nie. As ons in enige opsig ‘n groter stryd moes voer as wat Christus gevoer het, sou Hy ons nie kon help nie. Maar ons Heiland het die mensheid met al sy swakhede op Hom geneem. Hy het die menslike natuur, met die moontlikheid om voor versoeking te swig, aangeneem. Daar is niks wat ons moet verduur, wat Hy nie verduur het nie. DKvDE 97.2

Vir Christus, soos vir die heilige egpaar in Eden, was eetlus die eerste groot versoeking. Op dieselfde plek waar die verderf begin het, moet die werk vir ons verlossing begin. Soos Adam, deur aan begeerte toe te gee, tot ‘n val gekom het, moes Christus, deur die weiering daarvan oorwin. “En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” DKvDE 97.3

Van die tyd van Adam af, tot met die tyd van Christus, het selfbevrediging die mag van begeerte en hartstogte laat toeneem totdat dit feitlik onbeperkte beheer uitgeoefen het. Dit het die mense laat ontaard en sieklik gemaak en uit hulle eie was dit vir hulle onmoontlik om te oorwin. Christus het namens die mens oorwin deur die hewigste toets te verduur. Ter wille van ons het Hy selfbeheersing wat sterker as honger en die dood was beoefen. En in hierdie eerste oorwinning was ander kwessies wat al ons konflikte met die magte van die duisternis behels het, betrokke. DKvDE 98.1

Toe Jesus die in die woestyn ingegaan het, was Hy deur die heerlikheid van die Vader omsluit. Verdiep in gemeenskap met God, is Hy bo menslike swakhede verhef. Maar die heerlikheid het Hom verlaat en Hy was oorgelaat om alleen teen versoeking stry. Elke oomblik het swaar op Hom gedruk. Sy menslike aard het teruggedeins vir die stryd wat op Hom wag. Vir veertig dae het Hy gevas en gebid, swak en uitgeteer van honger, uitgeput en ontdaan deur sielestryd, “...so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos die van ‘n mensekind nie.” (Jesaja 52:14) Nou was Satan se geleentheid. Nou, het hy gemeen, sou hy Christus oorwin. DKvDE 98.2

Asof in antwoord op Sy gebede, het een in die gedaante van ‘n engel na die Verlosser gekom. Hy het gesê dat hy opdrag van God gehad het om te verklaar dat Christus se vas op ‘n einde was. Net soos wat God ‘n engel gestuur het om te verhoed dat Abraham vir Isak offer, so het die Vader nou, tevrede dat Christus gewillig was om die bloedbevlekte pad te betree, ‘n engel gestuur om Hom te verlos; dit was die boodskap wat aan Jesus gebring is. Die Verlosser was verswak deur honger en het na voedsel verlang om Sy honger te stil, toe Satan hom skielik nader. Die versoeker het na die klippe wat oor die woestyn gestrooi was, wat soos brode gelyk het, gewys en gesê: “As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.” DKvDE 98.3

Hoewel hy soos ‘n engel van die lig verskyn het, het hierdie eerste woorde sy karakter verraai: “As U die Seun van God is...” Dit het wantroue geïnsinueer. Sou Jesus doen wat Satan voorgestel het, was dit ‘n aanvaarding van hierdie twyfel. Die versoeker was van plan om Christus op dieselfde wyse, wat aan die begin so suksesvol met die mensdom was, omver te werp. Hoe listig het Satan vir Eva in Eden genader! “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Genesis 3:1) Tot dusver het die versoeker die waarheid gepraat, maar in sy woorde was ‘n bedekte minagting vir die woorde van God. Daar was ‘n bedekte, negatiewe konnotasie van twyfel aan die Goddelike waarheid. Satan het gepoog om die gedagte by Eva te laat posvat dat God nie sou doen wat Hy gesê het nie; dat die weerhouding van sulke begeerlike vrugte ‘n weerspreking van Sy liefde en medelye vir die mens was. Net so wou die versoeker vir Christus nou met sy eie idees inspireer: “As U die Seun van God is...” Die woorde het met bitterheid aan sy gedagtes geknaag. In die toon van sy stem was ‘n uitdrukking van volslae ongeloof. Sou God Sy eie Seun so behandel? Sou Hy Hom in die woestyn tussen die wilde diere agterlaat, sonder kos, sonder metgeselle, sonder vertroosting? Hy het geïnsinueer dat hierdie toestand nooit God se bedoeling was nie. “As U die Seun van God is...” toon dan U mag om Uself van hierdie knaende honger te verlos. Beveel dat hierdie klip brood moet word. DKvDE 99.1

Die woorde uit die hemel: “Dit is My geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het...” (Mattheus 3:17), het nog steeds in die ore van Satan weerklink. Maar hy was vasbeslote om Christus aan hierdie getuienis te laat twyfel. Die woord van God was Christus se versekering van Sy Goddelike sending. Hy het gekom om as Mens onder mense te kom woon en dit was die woord wat Sy verbintenis met die hemel verkondig het. Dit was Satan se doel om Hom aan hierdie woord te laat twyfel. Indien hy Christus se vertroue in God kon skud, het Satan geweet dat die oorwinning van die totale stryd syne sou wees. Hy sou Jesus kon oorwin. Hy het gehoop dat Christus, in die mag van moedeloosheid en uiterste honger, geloof in Sy Vader sou verloor en ‘n wonderwerk ten behoewe van Homself sou verrig. Indien Hy dit gedoen het, sou die verlossingsplan verbrokkel het. DKvDE 99.2

Toe Satan en die Seun van God die eerste keer in konflik met mekaar verkeer het, was Christus die Aanvoerder van die hemelse leërskare; en Satan, die leier van die opstand in die hemel, was verdryf. Nou was die situasie skynbaar omgekeer en Satan het sy vermeende voordeel benut. Een van die magtigste engele, het hy verklaar, is uit die hemel gewerp. Jesus se voorkoms het aangedui dat Hy daardie gevalle engel was, deur God en mens verlate. ‘n Goddelike wese sou sy aanspraak kon handhaaf deur ‘n wonderwerk te doen: “as U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word.” So ‘n daad van skeppende krag, het die versoeker aangedring, sou afdoende bewys van Sy Goddelikheid wees. Dit sou ‘n einde aan die stryd maak. DKvDE 100.1

Jesus kon nie sonder stryd in stilte na die aartsverleier luister nie. Maar die Seun van God sou nie Sy Godheid aan Satan bewys of die rede vir Sy vernedering verduidelik nie. Deur aan die eise van die rebel te voldoen, sou niks tot voordeel van die mens of die heerlikheid van God bereik word nie. As Christus aan die voorstel van die vyand toegegee het, sou Satan nog steeds gesê het: Wys vir my ‘n teken, sodat ek kan glo dat U die Seun van God is. Bewyse sou waardeloos gewees het om die mag van opstand in sy hart te verbreek. En Christus moes geen Goddelike mag tot Sy eie voordeel benut nie. Hy het gekom om soos ons beproef te word en aan ons ‘n voorbeeld van geloof en onderdanigheid na te laat. Nie op hierdie of enige daaropvolgende tydstip in Sy aardse lewe, het Hy ‘n wonderwerk vir Homself verrig nie. Sy wonderwerke was almal ten behoewe van ander. Alhoewel Jesus Satan van die begin af herken het, was Hy nie uitgelok om in stryd met hom te verkeer nie. Versterk met die herinnering van die stem uit die hemel, het Hy in Sy Vader se liefde berus. Hy sou nie met versoeking onderhandel nie. DKvDE 100.2

Jesus het Satan met woorde uit die Skrif beantwoord: “Daar is geskrywe...” het Hy gesê. In elke versoeking was Sy oorlogswapen die Woord van God. Satan het van Christus ‘n wonderwerk as teken van Sy Goddelikheid geëis. Maar groter as alle wonderwerke, was die vaste vertroue op ‘n: “So sê die Here...”-'n teken wat nie weerspreek kon word nie. So lank as wat Christus hierdie standpunt gehandhaaf het, kon die versoeker geen voordeel behaal nie. DKvDE 101.1

Dit was tydens Christus se grootste swakheid dat Hy deur die hewigste versoekings aangeval is. So het Satan gehoop om te seëvier. Met hierdie taktiek het hy die oorwinning oor die mens behaal. Wanneer die kragte uitgeput was, die wilskrag verswak en die geloof nie meer op God berus het nie, is diegene wat lank en dapper in die geveg gestaan het, oorwin. Moses was moeg na Israel se veertig jaar van rondswerwe toe sy geloof vir ‘n oomblik sy houvas op die Almagtige verloor het. Hy het op die grense van die Beloofde Land gefaal. So ook Elia, wat onverskrokke voor koning Agab en voor die hele Israel, met die vierhonderd-en-vyftig profete van Baal aan die spits, gestaan het. Na daardie verskriklike dag op Karmel, toe die valse profete verslaan is en die volk hul trou aan God betuig het, het Elia vir sy lewe voor die dreigemente van die goddelose Isébel gevlug. So het Satan die swakheid van die mensdom uitgebuit. En hy sal steeds op dieselfde wyse voortgaan. Wanneer iemand deur wolke omsluit is, deur omstandighede verontrus word, of deur armoede of nood geteister word, is Satan byderhand om te versoek en te treiter. Hy val ons op die swak plekke van ons karakter aan. Hy poog om ons vertroue in God, wat toelaat dat sulke dinge oor ons kom, te skud. Ons word versoek om God te wantrou en Sy liefde te bevraagteken. Die versoeker kom dikwels na ons toe soos hy na Christus gekom het en hou ons swakhede en gebreke aan ons voor. Hy hoop om die siel te ontmoedig en ons houvas op God te verbreek. Dan is hy seker van sy prooi. As ons hom sou weerstaan soos wat Jesus gedoen het, sou ons baie nederlae vrygespring het. Deur met die vyand te onderhandel, skenk ons die voordeel aan hom. DKvDE 101.2

Toe Christus vir die verleier gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan”, het Hy die woorde wat Hy meer as veertien honderd jaar tevore teenoor Israel uitgespreek het herhaal: “Die Here jou God [het] jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei ... en Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (Deuteronomium 8:2, 3). In die woestyn, toe alle lewensmiddele uitgeput was, het God manna uit die hemel vir sy volk gestuur; en daar is voldoende en onophoudelik voorsien. Hierdie voorsiening was om hulle te leer dat, terwyl hulle op God vertrou en in Sy weë gewandel het, Hy hulle nie sou verlaat nie. Nou het die Heiland die les wat Hy aan Israel geleer het, self toegepas. Deur die woord van God is hulp aan die Hebreeuse leërskare verleen en deur dieselfde woord sou dit aan Jesus gegee word. Hy het op God se tyd gewag om verligting te bring. Hy was in die woestyn in gehoorsaamheid aan God en Hy sou nie voedsel verkry deur gehoor te gee aan die voorstelle van Satan nie. In die teenwoordigheid van die heelal het Hy getuig dat dit minder rampspoedig is om onder alle omstandighede te ly, as om enigsins van die wil van God af te wyk. DKvDE 102.1

“Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” Dikwels word die volgelinge van Christus in ‘n situasie waar hy God nie kan dien en ook met sy wêreldse onderneming kan voortgaan nie, geplaas. Dit kan moontlik blyk asof gehoorsaamheid aan een of ander duidelike vereiste van God hom van sy heenkome sal beroof. Satan sal hom laat glo dat hy sy gewetensbesware sal moet prysgee. Maar die enigste ding ter wêreld waarop ons kan staatmaak, is die woord van God. “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Mattheus 6:33). Selfs in hierdie lewe is dit nie tot ons beswil om van die wil van ons hemelse Vader af te wyk nie. Wanneer ons die krag van Sy woord leer ken, sal ons nie die voorstelle van Satan gehoorsaam om voedsel te bekom of ons lewens te red nie. Ons enigste vrae sal wees: Wat is die gebod van God? En wat is Sy belofte? As ons dit weet, sal ons die een gehoorsaam en op die ander vertrou. DKvDE 102.2

In die laaste groot konflik in die stryd met Satan, sal diegene wat aan God getrou is, van alle aardse steun afgesny word. Omdat hulle weier om Sy wet te oortree in gehoorsaamheid aan wêreldse magte, sal hulle verbied word om te koop of te verkoop. Uiteindelik sal daar ‘n bevel uitgaan dat hulle doodgemaak moet word. (Sien Openbaring 13:11-17). Maar aan die gehoorsames word die belofte gegee: “Hy wat in geregtigheid wandel ... sal op hoogtes woon, rotsvestings is sy burg; sy brood word hom gegee, sy water is gewis.” (Jesaja 33:15,16) Deur hierdie belofte sal die kinders van God lewe. Wanneer die aarde deur hongersnood getreiter word, sal hulle gevoed word. “Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie en in dae van hongersnood sal hulle versadig word. (Psalm 37:19) Die profeet Habakuk het hierdie tyd van nood vooruitgesien en sy woorde het die geloof van die kerk só uitgedruk: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie-nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.” (Habakuk 3:17,18). DKvDE 103.1

Van al die lesse wat uit die eerste groot versoeking van ons Here geleer kan word, is dat niks meer belangrik is as die uitwerking van die beheer van die begeerte en hartstogte nie. In alle eeue was versoekings ten opsigte van liggaamlike bevrediging die mees effektiewe wyse om die mensdom te laat ontaard en te verneder. Deur onmatigheid werk Satan om die geestelike en morele magte wat God aan die mens as ‘n kosbare gawe geskenk het te vernietig. So word dit vir die mens onmoontlik om dinge van ewige waarde te waardeer. Deur middel van sensuele toegewing wil Satan elke spoor van die ewebeeld van God uit die siel uitwis. DKvDE 104.1

Die onbeheerste toegeeflikheid en gevolglike siekte en ontaarding wat tydens Christus se eerste koms geheers het, sal weer voor Sy wederkoms met intense boosheid heers. Christus verklaar dat die toestand van die wêreld sal wees soos in die dae voor die sondvloed en soos in Sodom en Gomorra. Al die versinsels van die hart sal altyddeur net sleg wees. Ons is nou op die rand van daardie verskriklike tye en ons moet die les van die vas van die Verlosser vasmaak. Slegs deur die onuitspreeklike angs wat Christus verduur het, kan ons die boosheid van onbeheerste selfbevrediging begryp. Sy voorbeeld verklaar dat ons enigste hoop op die ewige lewe is, om die begeertes en hartstogte aan die wil van God te onderwerp. DKvDE 104.2

In eie krag is dit vir ons onmoontlik om die drange van ons gevalle natuur te onderwerp. Satan sal deur hierdie kanaal die versoeking oor ons bring. Christus het geweet dat die vyand elke mens sal nader om sy oorerflike swakhede uit te buit en deur sy valse insinuasies almal, wie nie hul vertroue in God stel nie, te verstrik. En deur die pad te bewandel waarlangs die mens moet reis, het ons Here die weg tot oorwinning vir ons voorberei. Dit is nie Sy wil dat ons in die stryd met Satan benadeel moet word nie. Hy wil nie dat ons deur die aanvalle van die slang geïntimideer en ontmoedig moet word nie. “Hou goeie moed...” sê Hy, “...Ek het die wêreld oorwin.” (Johannes 16:33) DKvDE 104.3

Laat hom wat teen die mag van begeerte worstel, na die Verlosser in die woestyn van versoeking kyk. Sien Hom in Sy worsteling op die kruis toe Hy uitgeroep het: “Ek het dors!” Hy het alles verduur wat ons moontlik sal moet verduur. Sy oorwinning is ons oorwinning. DKvDE 105.1

Jesus het Hom op die wysheid en krag van Sy hemelse Vader verlaat. Hy verklaar: “Maar die Here Here help My; daarom kom Ek nie in die skande nie ... en Ek weet dat Ek nie beskaamd sal staan nie ... Kyk, die Here Here help My.” Hy wys na Sy eie voorbeeld en sê aan ons: “Wie is daar onder julle wat die Here vrees ... wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie?-laat hy vertrou op die Naam van die Here en steun op sy God!” (Jesaja 50:7-10). DKvDE 105.2

“Die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie...” (Johannes 14:30), het Jesus gesê. Daar was niks in Hom wat op Satan se bedrieglikheid gereageer het nie. Hy het nie ingestem om te sondig nie. Selfs nie deur ‘n gedagte het Hy aan versoeking toegegee nie. So kan dit ook met ons wees. Christus se menslikheid is met sy Goddelikheid verenig; Hy is vir die stryd deur die inwoning van die Heilige Gees toegerus. En Hy het gekom om ons deelgenote van die Goddelike natuur te maak. So lank ons in geloof met Hom verenig is, het die sonde geen heerskappy meer oor ons nie. God reik na die hand van geloof in ons, om dit te rig om aan die Goddelikheid van Christus vas te hou, sodat ons ‘n volmaaktheid van karakter kan bereik. DKvDE 105.3

En Christus het aan ons getoon hoe dit bereik kan word. Op watter wyse het Hy die stryd teen Satan gewen? Deur die woord van God. Slegs deur die woord kon Hy versoeking weerstaan. “Daar is geskrywe...” het Hy gesê. En aan ons het Hy “...die grootste en kosbare beloftes geskenk ... sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.” (2 Petrus 1:4). Elke belofte in die Woord van God is vir ons. Volgens “...alles wat uit die mond van die Here uitgaan...” moet ons lewe. As jy versoek word, moenie na die omstandighede of die swakheid van die vlees kyk nie, maar na die krag van die woord. Al Sy krag behoort aan jou. “Ek het U woord in my hart gebêre...” sê die psalmdigter, “...dat ek teen U nie sal sondig nie.” (Psalm 119:11). “Ek het deur die woord van U lippe die paaie van die geweldenaar vermy.” (Psalm 17:4). DKvDE 105.4