Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 11—Die Doop *
Tyding van die woestynprofeet en sy wonderlike aankondiging het deur die hele Galiléa versprei. Die boodskap het die boere in die afgeleë heuweldorpe en die vissermanne by die see bereik en in hierdie eenvoudige, opregte harte het dit opregte weerklank gevind. In Nasaret is dit in die ou skrynwerkerswinkel van Josef vertel en Een het die roepstem herken. Sy tyd het aangebreek. Hy het Sy daaglikse werk laat vaar, Sy moeder gegroet en in die voetstappe van Sy landgenote die pad na die Jordaan gevolg. DKvDE 88.1
Jesus en Johannes die Doper was neefs en nou verwant as gevolg van die omstandighede van hul geboorte; tog het hulle mekaar nie regstreeks geken nie. Die lewe van Jesus is in Nasaret in Galiléa deurgebring; dié van Johannes, in die woestyn van Judea. Te midde van wyd verskillende omgewings, het hulle apart geleef en geen kommunikasie met mekaar gehad nie. Voorsienigheid het dit so bepaal. Daar moes geen geleentheid vir ‘n beskuldiging dat hulle saamgesweer het om mekaar se aansprake te staaf, wees nie. DKvDE 88.2
Johannes was vertroud met die gebeure wat die geboorte van Jesus gekenmerk het. Hy het van die besoek aan Jerusalem, toe Hy ‘n Seun was verneem en wat in die skool van die rabbi’s gebeur het. Hy het geweet van Sy sondelose lewe en geglo dat Hy die Messias is; maar hy het geen positiewe versekering hiervan gehad nie. Die feit dat Jesus soveel jare onbekend gebly het en geen besondere getuienis van Sy sending gegee het nie, het twyfel laat ontstaan of Hy wel die Beloofde kon wees. Die Doper het egter in geloof gewag en geglo dat alles op God se tyd duidelik gemaak sou word. Daar is aan hom geopenbaar dat hy deur die Messias versoek sou word om gedoop te word en dat ‘n teken van Sy Goddelike karakter dan gegee sou word. Sodoende sou hy in staat gestel word om Hom aan die volk voor te stel. DKvDE 88.3
Toe Jesus kom om gedoop te word, het Johannes in Hom ‘n suiwerheid van karakter, wat hy nooit voorheen in enige mens aanskou het nie, bespeur. Selfs die atmosfeer van Sy teenwoordigheid was heilig en ontsagwekkend. Onder die skare wat rondom hom by die Jordaan saamgekom het, het Johannes donker verhale van misdaad gehoor en hy het siele ontmoet wat deur die las van ‘n magdom sondes neergedruk was; maar nooit het hy met ‘n mens van wie daar so ‘n Goddelike invloed uitgegaan het, in aanraking gekom nie. Dit alles was in ooreenstemming met wat aan Johannes aangaande die Messias geopenbaar is. Tog het hy teruggedeins om die versoek van Jesus toe te staan. Hoe kon hy, ‘n sondaar, die Sondelose doop? En waarom moes Hy, wat geen bekering nodig gehad het nie, Hom aan ‘n ritueel wat ‘n erkenning van sonde wat weggewas moet word, onderwerp? DKvDE 89.1
Toe Jesus vra om gedoop te word, het Johannes teruggedeins en uitgeroep: “Ek het nodig om deur U gedoop te word en kom U na my toe?” Ferm, maar tog sagmoedig, het Jesus geantwoord: “Laat dit nou toe, want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.” Johannes het gehoorsaam die Verlosser in die Jordaan ingelei en Hom onder die water gedompel. “En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim en meteens gaan die hemele vir Hom oop en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom.” DKvDE 89.2
Jesus het nie die doop as skuldbelydenis ontvang nie. Hy het Hom met sondaars vereenselwig deur die stappe wat ons moet neem, te neem en die werk wat ons moet doen, te doen. Sy lewe van lyding en geduldige uithouvermoë ná sy doop was ook vir ons ‘n voorbeeld. DKvDE 89.3
Toe Hy uit die water opkom, het Jesus in gebed op die rivieroewer neergekniel. ‘n Nuwe, belangrike era het voor Hom oopgegaan. Hy was nou op ‘n breedvoeriger stadium, besig om die konflik van Sy lewe te betree. Alhoewel Hy die Vredevors was, sou Sy koms soos ‘n swaard wat uit die skede getrek word wees. Die koninkryk wat Hy kom oprig het, was die teenoorgestelde van wat die Jode begeer het. Hy, wat die grondslag van die rituele en godsdiens stelsel van Israel was, sou as die vyand en vernietiger daarvan beskou word. Hy, wat die wet op Sinai afgekondig het, sou as oortreder veroordeel word. Hy, wat gekom het om die mag van Satan te verbreek, sou as Beëlsebul veroordeel word. Niemand op aarde het Hom verstaan nie en gedurende Sy bediening moes Hy steeds alleen loop. Sy hele lewe lank het Sy moeder en Sy broers nie Sy sending begryp nie. Selfs Sy dissipels het Hom nie verstaan nie. Hy het in die ewige lig gewoon, een met God, maar Sy lewe op aarde sou in eensaamheid deurgebring word. DKvDE 90.1
As een met ons, moes Hy die las van ons skuld en wee dra. Die Sondelose moes die skande van sonde dra. Die Vredeliefhebber moes in stryd lewe, die waarheid moes valsheid verdra en reinheid, besoedeling. Elke sonde, elke wanklank, elke verontreinigende wellus wat oortreding meegebring het, was ‘n marteling vir Sy gees. DKvDE 90.2
Hy moes die pad alleen stap; die las moes Hy alleen dra. Op Hom, wat Sy heerlikheid neergelê en die swakheid van die mensdom aanvaar het, het die verlossing van die wêreld gerus. Hy het dit alles gesien en ervaar, maar het standvastig in Sy doelwit gebly. Die redding van die gevalle ras het van Sy arm afgehang en Hy het Sy hand uitgesteek om die hand van die Almagtige Liefde vas te gryp. DKvDE 90.3
Dit was asof die Heiland se blik tot die hemel deurgedring het, waar Hy Sy siel in gebed uitgestort het. Hy was terdeë bewus van hoe die sonde die harte van mense verhard het en hoe moeilik dit vir hulle sou wees om Sy sending te begryp en die gawe van verlossing te aanvaar. Hy het by Sy Vader gepleit vir krag om hul ongeloof te oorwin, die kettings waarmee Satan hulle betower het te verbreek en om die vernietiger namens hulle te oorwin. Hy het vir getuienis, dat God die mensdom in die Persoon van Sy Seun sal aanvaar, gevra. DKvDE 90.4
Nog nooit het die engele so gebed aangehoor nie. Hulle was gretig om ‘n boodskap van gerusstelling en vertroosting aan hul geliefde Bevelvoerder te gee. Maar nee; die Vader sou self op die versoek van Sy Seun antwoord. Direk van Sy troon het die heerlikheid uitgestraal. Die hemele is geopen en die suiwerste lig, in ‘n gedaante soos ‘n duif, het op die Verlosser se hoof neergedaal, die gepaste embleem vir Hom, die sagmoedige en nederige. DKvDE 91.1
Van die groot menigte by die Jordaan het min behalwe Johannes die hemelse visioen gesien. Tog het die plegtigheid van die Goddelike Teenwoordigheid op die skare gerus. Die volk het Christus stil aangestaar. Hy was gebaai in die ewige lig wat die troon van God omring. Sy gelaat wat opwaarts gewend was, was verheerlik soos hulle nooit tevore die gesig van ‘n mens aanskou het nie. Uit die geopende hemel is ‘n stem gehoor: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” DKvDE 91.2
Hierdie woorde van bevestiging is gegee om geloof by diegene wat die toneel aanskou het te wek en om die Verlosser vir Sy sending te versterk. Ondanks die feit dat die sondes van ‘n skuldige wêreld op Christus gelê is, ondanks die vernedering om ons gevalle natuur op Hom te neem, het die stem uit die hemel Hom as die Seun van die Ewige verklaar. DKvDE 91.3
Johannes was diep ontroer toe hy sien hoe Jesus smekend neerbuig en met trane vir die goedkeuring van die Vader pleit. Toe die heerlikheid van God Hom omvou en die stem uit die hemel gehoor word, het Johannes die teken wat God beloof het herken. Nou het hy geweet dat dit die Verlosser van die wêreld was wat hy gedoop het. Die Heilige Gees het op hom gerus en met uitgestrekte hand het hy na Jesus gewys en uitgeroep: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” DKvDE 91.4
Niemand onder die toehoorders nie, selfs nie die spreker, het die betekenis van die woorde: “...die Lam van God...” besef nie. Op die berg Moria het Abraham sy seun hoor vra: “My vader ... waar is die lam vir ‘n brandoffer?” Die vader het geantwoord: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun.” (Genesis 22:7,8) En in die ram, wat Goddelik in die plek van Isak voorsien is, het Abraham ‘n simbool van Hom, wat vir die sondes van die mense sou sterf, gesien. DKvDE 92.1
Die Heilige Gees het deur Jesaja, hierdie illustrasie gebruik toe Hy van die Verlosser geprofeteer het: “Soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word...” het die Here “...die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom...” (Jesaja 53:7,6); maar Israel het die les nie verstaan nie. Baie van hulle het hulle offers in dieselfde lig as die heidene beskou-as gawes waarmee hulle hulself met die Godheid kon versoen. God wou hulle leer dat die gawe wat hulle met Hom sou versoen uit Sy eie liefde kom. DKvDE 92.2
En die woorde wat by die Jordaan aan Jesus gerig is: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het...” omhels die ganse mensdom. God het met Jesus as ons Verteenwoordiger gepraat. Ondanks ons sondes en swakhede word ons nie as waardeloos verstoot nie, maar word “...ons begenadig ... in die Geliefde.” (Efesiërs 1:6). Die heerlikheid wat op Christus gerus het, is ‘n pand van die liefde van God vir ons. Dit vertel ons van die krag van die gebed-hoe die stem van die mens God se oor kan bereik en dat ons versoeke aanvaarding in die hemelse howe vind. Deur sonde is die aarde van die hemel afgesny en van gemeenskap vervreem; maar Jesus het dit weer met die sfeer van heerlikheid verbind. Sy liefde het die mens omvou en die hoogste hemel bereik. Die lig wat uit die geopende poorte op die hoof van ons Heiland neergeskyn het, sal op ons neerskyn as ons vir krag, om versoeking te weerstaan, bid. Die stem wat tot Jesus gespreek het, sê aan elke gelowige siel: “Dit is my geliefde kind, in wie Ek ‘n welbehae het.” DKvDE 92.3
“Geliefdes, nou is ons die kinders van God en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” (1 Johannes 3:2). Ons Verlosser het die weg geopen sodat die sondigste, behoeftigste, mees onderdrukte en veragtelike mens, toegang tot die Vader kan hê: Almal kan ‘n woning, van die wonings wat Jesus gaan voorberei het, besit. “Dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie ... Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee en niemand kan dit sluit nie.” (Openbaring 3:7,8). DKvDE 93.1