Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 10—Die Stem in die Woestyn *
Uit die geledere van die getroues in Israel, wat lank op diekoms van die Messias gewag het, het die voorloper van Christus verreis. Die bejaarde priester, Sagaria en sy vrou Elisabet was “...al twee regverdig voor God...” en in hulle stil en heilige lewe het die lig van geloof soos ‘n ster in die duisternis te midde van daardie bose dae geskyn. Aan hierdie Godvresende egpaar is die belofte van ‘n seun gegee wat “...voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak.” DKvDE 73.1
Sagaria het in “...die bergstreek van Judea...” gewoon, maar het na Jerusalem gegaan om vir ‘n week in die tempel diens, wat twee keer per jaar van die priesters van elke afdeling verwag is, te lewer. “En terwyl hy besig was om in die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling, het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here om reukwerk te brand.” DKvDE 73.2
Hy het voor die goue altaar in die heilige plek van die heiligdom gestaan. Die wierookwolk met die gebede van Israel het voor God opgegaan. Skielik was hy bewus van ‘n Goddelike teenwoordigheid. Dit was ‘n engel van die Here “...wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan.” Die posisie van die engel, was ‘n aanduiding van guns, maar Sagaria het nie notisie hiervan geneem nie. Hy het jare lank vir die koms van die Verlosser gebid; nou het die hemel ‘n boodskapper gestuur om aan te kondig dat hierdie gebede binnekort verhoor sou word; maar die genade van God het vir hom te groot gelyk om te aanvaar. Hy was gevul met vrees en selfveroordeling. DKvDE 73.3
Maar hy is met die heuglike gerusstelling begroet: “Moenie vrees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor en jou vrou Elisabet sal vir jou ‘n seun baar en jy moet hom Johannes noem. En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees en baie sal oor sy geboorte bly wees; want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie en hy sal vervul word met die Heilige Gees... En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. En hy sal voor Hom uitgaan in die gees en krag van Elia, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei. Toe sê Sagaria vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? Want ek is ‘n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd.” DKvDE 73.4
Sagaria het goed geweet hoe daar aan Abraham op sy oudag ‘n kind gegee is omdat hy Hom wat dit belowe het, getrou geag het. Maar vir ‘n oomblik was die bejaarde priester se gedagtes op menslike swakheid ingestel. Hy het vergeet dat dit wat God belowe het, Hy in staat is om uit te voer. Wat ‘n kontras tussen hierdie ongeloof en die lieflike, kinderlike geloof van Maria, die maagd van Nasaret, wat die aankondiging van die engel beantwoord het met: “Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord.” (Lukas 1:38). DKvDE 74.1
Die geboorte van ‘n seun vir Sagaria, soos die geboorte van die kind van Abraham, asook die van Maria, was om ‘n groot geestelike waarheid te leer, ‘n waarheid wat ons traag is om te leer en vinnig om te vergeet. Uit onsself is ons nie in staat om enige goeie daad te verrig nie; maar wat ons nie by magte is om te doen nie, sal deur die krag van God in elke onderdanige en gelowige siel verrig word. Dit is deur die geloof dat die kind van die belofte gegee is. Dit is deur die geloof dat die geestelike lewe verwek word en ons in staat gestel word om die werke van geregtigheid te doen. DKvDE 74.2
Op die vraag van Sagaria het die engel geantwoord: “Ek is Gabriël wat voor God staan en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring.” Vyfhonderd jaar tevore het Gabriël die profetiese tydperk wat tot die koms van Christus sou strek, aan Daniël bekend gemaak. Die besef dat die einde van hierdie tydperk op hande was, het Sagaria beweeg om vir die koms van die Messias te bid. En nou het daardie boodskapper deur wie die profesie gegee is, gekom om die vervulling daarvan aan te kondig. DKvDE 74.3
Die woorde van die engel: “Ek is Gabriël wat voor God staan...” toon dat hy ‘n hoë ereplek in die hemelse howe beklee. Toe hy die boodskap aan Daniël gebring het, het hy gesê: “Daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Migael [Christus].” (Daniël 10:21). In Openbaring sê die Verlosser van Gabriël: ” ...wat Hy deur die sending van Sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.” (Openbaring 1:1). En aan Johannes het die engel gesê: “Ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete.” (Openbaring 22:9). Wonderlike gedagte-dat die engel wat naas die Seun van God, die ereplek beklee, die uitverkorene was om die voornemens van God aan sondige mense bekend te maak. DKvDE 75.1
Sagaria het die woorde van die engel betwyfel. Hy sou nie weer praat voordat hulle vervul is nie. “Kyk...” het die engel gesê, “...jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie.” Dit was die plig van die priester om tydens hierdie diens vir vergifnis van die openbare en nasionale sondes en vir die koms van die Messias te bid; maar toe Sagaria dit probeer doen, kon hy geen woord uitkry nie. DKvDE 75.2
Toe hy te voorskyn kom om die volk te seën, het hy “...aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.” Hulle het reeds lank gewag en het begin vrees vir ingeval die oordeel van God oor hom gekom het. Maar toe hy uit die heiligdom te voorskyn kom, het sy gelaat met die heerlikheid van God geskyn; “...hulle bemerk toe dat hy ‘n gesig in die tempel gesien het.” Sagaria het aan hulle beduie wat hy gesien en gehoor het; en “...toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan.” DKvDE 75.3
Kort na die geboorte van die beloofde kind het sy tong losgeraak “...en hy het gepraat en God geloof. En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judea.En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê:Wat sal tog van hierdie kindjie word?” Al hierdie dinge het die aandag op die koms van die Messias, vir Wie Johannes die weg sou voorberei, gevestig. DKvDE 76.1
Die Heilige Gees het oor Sagaria gekom en met hierdie mooi woorde het hy aangaande die werk van sy seun geprofeteer: DKvDE 76.2
“En jy, kindjie, sal ‘n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om Sy weë reg te maak; om kennis van saligheid aan Sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes, deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.” (Lukas 1:76-79). DKvDE 76.3
“En die kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees; en hy was in die woestyn tot op die dag van sy vertoning aan Israel.” Voor die geboorte van Johannes het die engel gesê: “Hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees.” God het die seun van Sagaria vir ‘n groot werk geroep, die grootste wat nog aan mense toevertrou is. Ten einde hierdie werk te kon doen, het hy die Here nodig gehad om saam met hom te werk. En die Gees van die Here sou met hom wees indien hy gehoor sou gee aan die opdrag van die engel. DKvDE 76.4
Johannes sou uitgaan as die boodskapper van Jehova om die lig van God na die mense te bring. Hy moes hulle gedagtes in ‘n nuwe rigting lei. Hy moes hulle beïndruk met die heiligheid van God se vereistes en hul behoefte aan Sy volmaakte geregtigheid. So ‘n boodskapper moet heilig wees. Hy moet ‘n tempel vir die inwonende Gees van God wees. Om sy sending te kan vervul, moet hy oor ‘n gesonde gestel en verstandelike en geestelike krag beskik. Daarom was dit vir hom noodsaaklik om die eetlus en hartstogte te beheer. Hy moes in staat wees om al sy kragte so te beheer dat hy onder alle omstandighede so standvastig soos die rotse en berge van die woestyn onder sy medemense sal staan. DKvDE 76.5
In die tyd van Johannes die Doper het gierigheid na rykdom en die liefde vir weelde en vertoon geseëvier. Sinlike genot, feeste en drinkery het fisiese siektes en ontaarding, wat die geestelike persepsies afgestomp en die sondebesef verminder het, teweeggebring. Johannes sou ‘n hervormer wees. Deur sy matige lewe en eenvoudige kleredrag sou hy die oordadigheid van sy tyd bestraf. Vandaar die opdrag aan die ouers van Johannes-'n les in matigheid deur ‘n engel van die troon van die hemel. DKvDE 77.1
In die kinder-en jeugjare is die karakter die vatbaarste. Dis wanneer die krag van selfbeheersing aangekweek moet word.Langs die kaggelvuur en om die gesinstafel word invloede uitgeoefen waarvan die gevolge tot in ewigheid strek. Meer as enige natuurlike gawe, is dit die gewoontes wat in die vroeë jare gevestig word, wat beslis of iemand in die stryd van die lewe sal triomfeer of ondergaan. Die jeug is die saaityd. Dit bepaal die aard van die oes vir hierdie lewe en vir die lewe wat kom. DKvDE 77.2
As profeet moes Johannes “...die harte van die vaders...” terugbring “...tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei.” In die voorbereiding van die weg vir Christus se eerste koms was hy ‘n verteenwoordiger van diegene wat ‘n volk vir die Here se wederkoms moet voorberei. Die wêreld het hom aan selfbevrediging oorgegee. Dwaalleer en fabels was volop. Satan se strikke om siele te vernietig het toegeneem. Almal wat heiligmaking in die vrees van die Here wil vervolmaak, moet die lesse van matigheid en selfbeheersing leer. Die drange en hartstogte moet aan die hoër magte van die gewete onderwerp word. Hierdie selfdissipline is noodsaaklik vir die verstandelike en geestelike insig wat ons in staat sal stel om die heilige waarhede van die Woord van God te begryp en uit te leef. Om hierdie rede speel matigheid ‘n rol in die voorbereidingswerk vir die wederkoms van Christus. DKvDE 77.3
In die natuurlike sameloop van omstandighede, sou die seun van Sagaria vir die priesterskap opgelei gewees het. Maar die opleiding van die rabbynse skole sou hom ongeskik vir sy werk gemaak het. God het hom nie na die teologiese leraars gestuur om te leer hoe om die Skrifte te vertolk nie. Hy het hom na die woestyn geroep, sodat hy van die natuur en die God van die natuur kon leer. DKvDE 78.1
Dit was ‘n eensame gebied waar hy sy tuiste, te midde van dorre heuwels, wilde klowe en rotsagtige spelonke, gevind het. Maar dit was sy keuse om van die genietinge en luukshede van die lewe af te sien, vir die streng dissipline van die woestyn. Hier was sy omgewing gunstig vir ‘n lewe van eenvoud en selfverloëning. Ongehinderd deur die gewemel van die wêreld, kon hy hier die lesse van die natuur, van openbaring en van die Voorsienigheid bestudeer. Die woorde van die engel aan Sagaria is dikwels deur sy godvresende ouers aan Johannes herhaal. Van kindsbeen af is sy roeping aan hom voorgehou en hy het hierdie heilige vertroue aanvaar. Vir hom was die eensaamheid van die woestyn ‘n welkome ontvlugting uit die samelewing waarin agterdog, ongeloof en onreinheid feitlik alles oorheers het. Hy het geen vertroue in sy eie vermoë om versoekings te weerstaan gehad nie en het van voortdurende kontak met sonde teruggedeins, sodat hy nie die sin vir die verskriklike sondigheid daarvan sou verloor nie. DKvDE 78.2
Van sy geboorte af as Nasireër aan God toegewy, het hy die gelofte van lewenslange toewyding sy eie gemaak. Sy kleredrag was soos die van die antieke profete, ‘n kleed van kameelhaar met ‘n leergordel vasgemaak. Hy het “...sprinkane en wilde heuning...” wat in die woestyn gevind word geëet en suiwer bergwater gedrink. DKvDE 79.1
Maar die lewe van Johannes is nie in ledigheid, asketiese somberheid, of selfsugtige afsondering deurgebring nie. Van tyd tot tyd het hy uitgegaan om met mense te meng; en hy was altyd ‘n belangstellende waarnemer van wat in die wêreld gebeur. Vanuit sy stille afsondering het hy die verwikkeling van gebeure dopgehou. Met die visie wat deur die Gees van God verlig is, het hy die karakters van mense bestudeer, sodat hy kon verstaan hoe om hul harte met die hemelse boodskap te bereik. Die las van sy roeping het swaar op hom gerus. In eensaamheid, deur oorpeinsing en gebed, het hy gestrewe om sy siel vir die lewenstaak voor hom te omgord. DKvDE 79.2
Hoewel hy in die woestyn was, is hy nie van versoeking gevrywaar nie. Sover moontlik het hy alle weë waarlangs Satan kon binnekom gesluit en tog is hy steeds deur die versoeker aangeval. Maar hy het ‘n helder insig gehad; hy het krag en ‘n beslistheid van karakter ontwikkel en met die hulp van die Heilige Gees was hy in staat om Satan se toenaderings te bespeur en sy mag te weerstaan. DKvDE 79.3
Johannes het sy skool en sy heiligdom in die woestyn gevind. Net soos Moses in die berge van Midian, is hy deur die teenwoordigheid van God omsluit en deur die bewyse van Sy mag omring. Hy was nie bestem om, soos Israel se groot leier, in die eensaamheid van die majestueuse berge te vertoef nie; maar voor hom, oorkant die Jordaan, was die hoogtes van Moab wat Hom, wat die berge gegrondves en met krag omgord het, verkondig het. Die somber en skrikwekkende aspek van die natuur in sy woestyn-tuiste, was ‘n duidelike beeld van die toestand van Israel. Die vrugbare wingerd van die Here het ‘n verlate woesteny geword. Maar bo die woestyn het die hemel helder en skoon getroon. Deur die stormwolke wat donker en dreigend saamgepak het, was die reënboog van die belofte. So ook het die beloofde heerlikheid van die regering van die Messias oor die ontaarding van Israel geskyn. Oor die wolke van toorn het die reënboog van Sy genadeverbond gespan. DKvDE 79.4
Alleen in die stilte van die nag, het hy die belofte van God aan Abraham gelees, van ‘n nageslag, ontelbaar soos die sterre. Die lig van die daeraad wat die berge van Moab met ‘n goue glans omvou het, het Hom verkondig wat sou wees soos “...die mórelig by sonsopgang, ‘n more sonder wolke.” (2 Samuel 23:4). En in die helderheid van die middag het hy die luisterrykheid van Sy openbaring gesien, wanneer “...die heerlikheid van die Here openbaar sal word, en alle vlees tesame sal dit sien.” (Jesaja 40:5). DKvDE 80.1
Met ontsag, maar ‘n juigende gees, het hy in die profetiese boekrolle die openbarings van die Messias se koms deursoek-die beloofde Saad wat die kop van die slang sou vermorsel; Silo, “...die bringer van vrede...” wat Sy verskyning sou maak voordat ‘n koning sou ophou om op die troon van Dawid te regeer. Die tyd het nou aangebreek. ‘n Romeinse heerser het in die paleis op die berg Sion gesit. Volgens die vaste woord van die Here was die Christus reeds gebore. DKvDE 80.2
Dag en nag het hy Jesaja se verruklike beskrywings van die heerlikheid van die Messias bestudeer-die Tak uit die wortel van Isaï; ‘n Koning wat in geregtigheid sou regeer en wat “...die sagmoediges van die land met billikheid...” (Jesaja 11:4) sal oordeel; “...'n toevlug teen die wind ... die skaduwee van ‘n swaar rots in ‘n land wat versmag...” (Jesaja 32:2); Israel wat nie meer ‘n “verlatene” sal wees nie en nie meer ‘n “wildernis” genoem sal word nie, maar deur die Here genoem sal word “...My welbehae, en jou land: die getroude...” (Jesaja 62:4). Die hart van die eensame banneling was met hierdie heerlike visioen gevul. DKvDE 80.3
Hy het die Koning in Sy heerlikheid aanskou en van homself vergeet. Hy het die majesteit van heiligheid aanskou en homself onbekwaam en onwaardig geag. Hy was gereed om as die boodskapper van die hemel uit te gaan, onbevrees vir die mens, want hy het die Goddelike aanskou. Hy kon fier en onverskrokke in die teenwoordigheid van aardse vorste staan, omdat hy laag voor die Koning van die konings neergebuig het. DKvDE 81.1
Johannes het nie die aard van die Messias se koninkryk ten volle begryp nie. Hy het uitgesien dat Israel van sy nasionale vyande verlos sou word; maar die koms van ‘n Koning in geregtigheid en die vestiging van Israel as ‘n heilige volk was die grootste belofte waarop hy gehoop het. So, het hy geglo, sou die profesie wat tydens sy geboorte gegee is, vervul word: DKvDE 81.2
“Om ... aan sy heilige verbond te dink, ... dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.” DKvDE 81.3
Hy het gesien hoe sy mense mislei word, selftevrede en sluimerend in hul sonde. Hy het daarna gesmag om hulle tot ‘n heiliger lewe op te wek. Die boodskap wat God aan Hom gegee het om oor te dra, was bedoel om hulle uit hul traagheid op te skrik en hulle oor hul groot goddeloosheid te laat sidder. Voordat die saad van die evangelie geplant kan word, moet die grond van die hart gebraak word. Voordat hulle genesing by Jesus kan vind, moet vorste en rabbi’s, soldate, tollenaars en arbeiders attent gemaak word op die gevaar van die wonde van sonde. DKvDE 81.4
God stuur nie boodskappers om die sondaar te vlei nie. Hy lewer geen boodskap van vrede om die onheiliges in noodlottige veiligheid te sus nie. Hy lê swaar laste op die gewete van die oortreder en deurboor die siel met pyle van skuldbesef. Die dienende engele hou aan hom die verskriklike oordele van God voor om die besef van sy behoefte te verdiep en hom te besiel om uit te roep: “Wat moet ek doen om gered te word?” Dan hef die Hand wat tot in die stof verneder het, die boetvaardige op. Die stem wat die sonde bestraf het en trots en ambisie beskaam het, vra dan met innige meegevoel: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” DKvDE 81.5
Toe Johannes sy bediening begin het, het die volk in ‘n staat van oproerigheid en ontevredenheid verkeer wat aan die rand van opstand gegrens het. Met die verwydering van Archelaus is Judea regstreeks onder die beheer van Rome geplaas. Die tirannie en afpersing van die Romeinse goewerneurs en hul vasberade pogings om heidense simbole en gebruike in te voer, het opstande ontketen wat die bloed van duisende van Israel se dapperstes gekos het. Dit alles het die nasionale haat teen Rome aangevuur en die verlange om vry van die Romeinse mag te wees, verhoog. DKvDE 82.1
Te midde van hierdie onenigheid en stryd, is ‘n stem in die woestyn gehoor, ‘n stem wat ontstellend en streng was, maar vol hoop: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Dit het die volk met ‘n nuwe, vreemde krag geroer. Die profete het die koms van Christus as ‘n gebeurtenis wat in die verre toekoms sou plaasvind voorspel, maar hier was ‘n aankondiging dat dit op hande is. Johannes se sonderlinge voorkoms het sy gehoor aan die profete van ouds laat terugdink. Sy kleredrag en maniere het aan Elia herinner. In die gees en krag van Elia het hy die volk se verdorwenheid veroordeel en die heersende sondes bestraf. Sy woorde was reguit, ter sake en oortuigend. Baie het geglo dat hy een van die profete was wat uit die dode opgestaan het. Die hele volk was in beroering. Skares het na die woestyn gestroom. DKvDE 82.2
Johannes het die koms van die Messias verkondig en die volk tot bekering geroep. As simbool van die reiniging van sondes, het hy hulle in die waters van die Jordaan gedoop. So het hy deur ‘n betekenisvolle voorwerples verklaar dat diegene wat beweer dat hulle die uitverkore volk van God is, deur die sonde besoedel is en dat hulle sonder reiniging van hart geen deel aan die koninkryk van die Messias sou hê nie. DKvDE 82.3
Vorste en rabbi’s, soldate, tollenaars en arbeiders het na die profeet kom luister. Die plegtige waarskuwing van God het hulle ‘n tyd lank met vrees gevul. Baie het tot bekering gekom en is gedoop. Mense uit alle geledere het hulle aan die vereistes van die Doper onderwerp, om deel te hê in die koninkryk wat hy verkondig het. DKvDE 83.1
Baie van die skrifgeleerdes en Fariseërs het hul sondes bely en gevra om gedoop te word. Hulle het hulself beter as ander geag en het by die volk ‘n hoë indruk van hul vroomheid ingeboesem; en nou is die skuldige geheime van hul lewens ontbloot. Maar Johannes is deur die Heilige Gees oortuig dat baie van hierdie manne nie ‘n ware oortuiging van sonde gehad het nie. Hulle was opportuniste. Hulle het gehoop om, as vriende van die profeet, guns by die komende Vors te vind. En deur gedoop te word, het hulle gehoop om hulle invloed op die volk te verstewig. DKvDE 83.2
Johannes het hulle met die snydende vraag begroet: “Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas; en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.” DKvDE 83.3
Die Jode het God se belofte van ewige guns aan Israel verkeerd vertolk. “So sê die Here wat die son gee tot ‘n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot ‘n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis,Here van die leërskare is sy Naam: As hierdie verordeninge voor My aangesig sal wyk, spreek die Here, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om ‘n volk te wees voor My aangesig vir altyd.So sê die Here: As die hemele daarbo gemeet en die fondamente van die aarde daaronder nagespeur kan word, dan sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp weens alles wat hulle gedoen het, spreek die Here.” (Jeremia 31:35-37). Die Jode het gedink dat vanweë hulle natuurlike afstammeling van Abraham, hulle aanspraak op hierdie belofte kon maak. Maar hulle het die voorwaardes wat God uiteengesit het, misgekyk. Voordat Hy die belofte gegee het, het Hy gesê: “Ek gee My wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees ... want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” (Jeremia 31:33, 34). DKvDE 83.4
Die volk in wie se harte Sy wet geskrywe is, is van die guns van God verseker. Hulle is een met Hom. Maar die Jode het hulle van God geskei. As gevolg van hul sondes het hulle onder Sy oordele gely. Dit was die oorsaak van hul slawerny aan ‘n heidense nasie. Hul denke is deur oortreding verduister en omdat die Here vroeër aan hulle groot guns betoon het, het hulle hul sonde verontskuldig. Hulle het hulself gevlei dat hulle beter as ander mense en op Sy seëninge geregtig was. DKvDE 84.1
Hierdie dinge “...is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.” (1 Korinthiërs 10:11). So dikwels vertolk ons die seëninge van God verkeerd en vlei onsself dat ons weens die een of ander goedheid in ons begunstig word. God kan nie vir ons doen wat Hy graag wil nie. Ons gebruik Sy gawes om ons selftevredenheid te verhoog en ons harte in ongeloof en sonde te verhard. DKvDE 84.2
Johannes het aan die leraars van Israel verklaar dat hulle hoogmoed, selfsug en wreedheid betoon het; dat hulle ‘n addergeslag is, ‘n dodelike vloek vir die volk, eerder as kinders van die regverdige en gehoorsame Abraham. Met die oog op die lig wat hulle van God ontvang het, was hulle erger as die heidene teenoor wie hulle so meerderwaardig gevoel het. Hulle het die rots waaruit hulle gekap is en die gat van die put waaruit hulle gegrawe is, vergeet. God was nie vir die vervulling van Sy doel van hulle afhanklik nie. Soos Hy Abraham uit ‘n heidense volk geroep het, kan Hy andere ook tot Sy diens roep. Hulle harte lyk miskien nou so leweloos soos die klippe van die woestyn, maar Sy Gees kan hulle lewend maak om Sy wil te doen en die vervulling van sy belofte te ontvang. DKvDE 84.3
“Maar...” het die profeet gesê, “...die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Die waarde van ‘n boom word nie aan sy naam bepaal nie, maar aan sy vrugte. As die vrugte waardeloos is, kan die naam die boom nie van vernietiging red nie. Johannes het aan die Jode verklaar dat hul aansien voor God deur hul karakter en lewe bepaal word. Hulle beroep was waardeloos. As hulle lewe en karakter nie in ooreenstemming met die van God is nie, is hulle nie Sy volk nie. DKvDE 85.1
Sy hartdeurtastende woorde het sy hoorders tot oortuiging gelei. Hulle het na hom met die vraag gekom: “Wat moet ons dan doen?” Sy antwoord was: “Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen.” En hy het die tollenaars teen onreg en die soldate teen geweld gewaarsku. DKvDE 85.2
Almal wat onderdane van Christus se koninkryk geword het, het hy gesê, sal bewys van hul geloof en berou lewer. Goedhartigheid, eerlikheid en getrouheid sal in hul lewens gesien word. Hulle sal die behoeftiges help en hul offergawes aan God bring. Hulle sal die weerlose beskerm en ‘n voorbeeld van deug en ontferming wees. So sal die volgelinge van Christus bewys van die transformerende krag van die Heilige Gees lewer. In die daaglikse lewe sal geregtigheid, barmhartigheid en die liefde van God gesien word. Andersins is hulle soos die kaf wat deur vuur verbrand word. DKvDE 85.3
“Ek doop julle wel met water tot bekering...” het Johannes gesê, “...maar Hy wat na my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” (Mattheus 3:11). Die profeet Jesaja het verklaar dat die Here Sy volk van hul ongeregtighede sou reinig “...deur die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging.” (Jesaja 4:4). Die woord van die Here aan Israel was: “Ek sal My hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en al jou looddele wegneem.” (Jesaja 1:25). Vir die sonde, waar dit ook gevind word, is God “...'n verterende vuur...” (Hebreërs 12:29). In almal wat hulle aan Sy mag onderwerp, sal die Gees van God die sonde verteer. Maar wie aan die sonde vashou, word daarmee geïdentifiseer. Dan moet die heerlikheid van God, wat die sonde uitdelg, hulle verdelg. Jakob het, na sy nagtelike worsteling met die Engel, uitgeroep: “Ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.” (Genesis 32:30). Jakob was skuldig aan ‘n groot sonde teenoor Esau, maar hy het berou gehad. Sy oortreding is vergewe en hy is van sy sonde gereinig; daarom kon hy die openbaring van die teenwoordigheid van God verduur. Maar oral waar mense voor God te staan gekom het terwyl hulle opsetlike sonde gekoester het, is hulle vernietig. By die wederkoms van Christus sal die goddeloses “...met die asem van Sy mond.. ” verdelg en “...deur die verskyning van Sy wederkoms tot niet...” gemaak word. (2 Thessalonicense 2:8). Die lig van die heerlikheid van God, wat lewe aan die regverdige gee, sal die goddeloses verdelg. DKvDE 85.4
In die tyd van Johannes die Doper was Christus op die punt om as die openbaarder van die karakter van God te verskyn. Sy teenwoordigheid opsigself sou die mense se sondes aan hulle openbaar. Slegs namate hulle bereid was om van hul sondes gereinig te word, kon hulle in gemeenskap met Hom tree. Net die wat rein van hart was, sou in Sy teenwoordigheid kon vertoef. DKvDE 86.1
So het die Doper die boodskap van God aan Israel verkondig. Baie het op sy prediking ag geslaan. Baie het alles opgeoffer om te kan gehoorsaam. Menigtes het hierdie nuwe leraar van plek tot plek gevolg en daar was nie min van hulle wat gehoop het dat hy dalk die Messias kon wees nie. Maar toe Johannes sien hoe die mense hom begin aanhang, het hy met elke geleentheid gepoog om hul geloof op Hom wat sou kom te vestig. DKvDE 86.2