Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 86—Gaan Leer Alle Nasies *
Slegs ‘n tree weg van Sy hemelse troon af, het Christus die opdrag aan Sy dissipels gegee: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde...” het Hy gesê. “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies.” “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Markus 16:15). Die woorde is telkens herhaal, sodat die dissipels die betekenis daarvan kon begryp. Die lig van die hemel moes in helder, sterk strale oor al die inwoners van die aarde, hoog en laag, ryk en arm skyn. Die dissipels moes saam met hul Verlosser vir die redding van die wêreld werk. DKvDE 897.1
Die opdrag is aan die Twaalf gegee toe Christus hulle in die bovertrek ontmoet het; maar dit moes nou aan ‘n groter getal gegee word. Op ‘n berg in Galiléa, het al die gelowiges wat saamgeroep kon word, byeengekom. Voor sy dood het Christus self die tyd en plek vir hierdie samekoms aangewys. Die engel by die graf het die dissipels aan Sy belofte om hulle in Galiléa te ontmoet herinner. Die belofte is aan die gelowiges wat gedurende die week van die Pasga in Jerusalem byeengekom het herhaal en deur hulle is baie eensames wat die dood van hul Here betreur het bereik. Almal het met intense belangstelling uitgesien na die onderhoud. Hulle het met ompaaie uit alle rigtings na die plek van ontmoeting aangekom, om nie die agterdog van die afgunstige Jode te wek nie. Met verwondering het hulle gekom en ernstig die nuus wat hulle aangaande Christus bereik het bespreek. DKvDE 897.2
Op die aangewese tyd het ongeveer vyfhonderd gelowiges in klein groepies teen die berghelling byeengekom, gretig om alles van diegene wat Christus na sy opstanding gesien het, te verneem. Van groep tot groep het die dissipels beweeg en alles wat hulle van Jesus gesien en gehoor het meegedeel en uit die Skrif geredeneer soos wat Hy met hulle gedoen het. Thomas het die verhaal van sy ongeloof en hoe sy twyfel weggeneem is vertel. Skielik het Jesus tussen hulle gestaan. Niemand het geweet waarvandaan of hoe Hy gekom het nie. Baie aanwesiges het Hom nog nie tevore gesien nie; maar in Sy hande en voete het hulle die littekens van die kruisiging aanskou; Sy aangesig was soos die aangesig van God en toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid. DKvDE 897.3
Maar sommige het getwyfel. Dit sal altyd so wees. Daar is diegene wat dit moeilik vind om geloof te beoefen en hulle aan die kant van twyfel skaar. Sulke mense verbeur baie as gevolg van hul ongeloof. DKvDE 898.1
Dit was die enigste onderhoud wat Jesus na Sy opstanding met baie van die gelowiges gehad het. Hy het gekom en met hulle gespreek en gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” Die dissipels het Hom aanbid voordat Hy gespreek het, maar Sy woorde, komende van lippe wat deur die dood stilgemaak was, het hulle met ‘n vreemde krag geïnspireer. Hy was nou die opgestane Verlosser. Baie van hulle het gesien hoe Hy Sy mag uitgeoefen het om siekes te genees en sataniese magte te beheer. Hulle het geglo dat Hy die mag besit om Sy koninkryk in Jerusalem op te rig, mag om alle weerstand te onderdruk en mag oor die elemente van die natuur. Hy het die onstuimige see gestil; Hy het op die witgepluimde golwe geloop; Hy het die dooies opgewek. Nou het Hy verklaar dat “alle mag” aan Hom gegee is. Sy woorde het die gedagtes van Sy toehoorders bo die aardse en tydelike dinge na die hemelse en ewige dinge verhef. Hulle is tot die hoogste begrip van Sy waardigheid en heerlikheid opgehef. DKvDE 898.2
Christus se woorde teen die berghelling was die aankondiging dat Sy offer ten behoewe van die mens volkome was. Die voorwaardes vir versoening is vervul; die werk waarvoor Hy na hierdie wêreld gekom het, was afgehandel. Hy was op pad na die troon van God, om deur engele, owerhede en magte vereer te word. Hy het met sy werk van bemiddeling begin. Met onbeperkte gesag, het Hy Sy opdrag aan die dissipels gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Mattheus 28:19,20). DKvDE 898.3
Die Joodse volk is die bewaarders van die heilige waarheid gemaak; maar Fariseïsme het hulle die mees eksklusiewe, dweepsugtige van alle nasies gemaak. Alles wat die priesters en owerstes gekenmerk het, hul kleredrag, gewoontes, seremonies en tradisies, het hulle ongeskik gemaak om die lig van die wêreld te wees. Hulle het hulleself, die Joodse volk, as die wêreld gesien. Maar Christus het Sy dissipels opdrag gegee om ‘n geloof en aanbidding te verkondig wat niks met ras of stand te doen het nie, ‘n geloof wat vir alle volke, alle nasies en alle klasse van mense aangepas kon word. DKvDE 899.1
Voordat Christus Sy dissipels verlaat het, het Hy die aard van Sy koninkryk duidelik gestel. Hy het hulle herinner aan wat Hy voorheen daaroor aan hulle gesê het. Hy het verklaar dat dit nie Sy doel was om ‘n aardse koninkryk in hierdie wêreld tot stand te bring nie, maar ‘n geestelike. Hy sou nie as aardse koning op die troon van Dawid regeer nie. Weereens het Hy die Skrif vir hulle oopgemaak en aangetoon dat alles wat Hy deurgemaak het, in die hemel in die raadsbesluite tussen Hom en die Vader georden is. Alles was deur manne, wat deur die Heilige Gees geïnspireer was, voorspel. Julle het gesien, het Hy gesê, dat alles wat Ek vir julle aangaande My verwerping as die Messias gesê het, het so gebeur. Alles wat Ek gesê het met betrekking tot die vernedering wat ek moes verduur en die dood wat Ek moes sterf, is bevestig. Op die derde dag het Ek weer opgestaan. Ondersoek die Skrifte noukeuriger en julle sal sien dat al hierdie dinge, in die voorskrifte van die profesie aangaande My, vervul is. DKvDE 899.2
Christus het Sy dissipels opdrag gegee om die werk wat Hy in hulle hande oorgelaat het, te doen en om by Jerusalem te begin. Jerusalem was die toneel van Sy ongelooflike neerbuigendheid vir die mensdom. Daar het Hy gely, is Hy verwerp en veroordeel. Judea was Sy geboorteplek. Daar het Hy, met menslikheid beklee, met mense omgegaan en hoe min van hulle het besef hoe naby die hemel aan die aarde gekom het toe Jesus onder hulle was. Die werk van die dissipels moes in Jerusalem begin. DKvDE 900.1
In die lig van alles wat Christus daar gely het en Sy ongewaardeerde arbeid wat Hy verrig het, kon die dissipels moontlik vir ‘n meer belowende arbeidsveld gepleit het; maar hulle het dit nie gedoen nie. Die presiese grond waar Hy die saad van die waarheid gesaai het, moes deur die dissipels gekweek word en die saad sou opkom en ‘n oorvloedige oes lewer. In hul werk sou die dissipels vervolging, weens die haat en afguns van die Jode teëkom; maar hulle Meester het dit verduur en hulle moes nie daarvan wegvlug nie. Die eerste aanbod van genade moes aan die moordenaars van die Verlosser gemaak word. DKvDE 900.2
En daar was baie in Jerusalem wat heimlik in Jesus geglo het en baie wat deur die priesters en die owerstes mislei is. Ook aan hulle moes die evangelie verkondig word. Hulle moes tot bekering geroep word. Die wonderbare waarheid dat vergifnis van sondes alleenlik deur Christus verkry kon word, moes duidelik gemaak word. Die grootste indruk vir die verkondiging van die evangelie, sou nou, terwyl die hele Jerusalem nog deur die opwindende gebeurtenisse van die afgelope paar weke geraak was, gemaak word. DKvDE 900.3
Maar die werk moes nie daar ophou nie. Dit moes tot by die verste uithoeke van die aarde versprei word. Aan Sy dissipels het Christus gesê: Julle was getuies van My lewe van selfopoffering ten behoewe van die wêreld. Julle het My arbeid vir Israel aanskou. Hoewel hulle nie na My toe gekom het om die lewe te ontvang nie, hoewel die priesters en owerstes aan My gedoen het soos hulle beplan het, hoewel hulle My verwerp het soos die Skrif voorspel het, sal hulle nog ‘n geleentheid gegun word om die Seun van God aan te neem. Julle het gesien dat Ek almal wat na My toe kom en hul sondes bely, vryelik ontvang. Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie. Almal wat wil, kan met God versoen word en die ewige lewe ontvang. Aan julle, My dissipels, dra Ek hierdie boodskap van genade oor. Dit moet eers aan Israel gegee word en daarna aan alle nasies, tale en volke. Dit moet aan Jode en heidene gegee word. Almal wat glo, moet in een kerk verenig word. DKvDE 900.4
Deur die gawe van die Heilige Gees sou die dissipels merkwaardige krag ontvang. Hul getuienis sou deur tekens en wonders bevestig word. Wonderwerke sou verrig word, nie net deur die apostels nie, maar ook deur diegene wat hul boodskap ontvang. Jesus het gesê: “In my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal julle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê en hulle sal gesond word.” (Markus 16:17,18). DKvDE 901.1
Destyds is mense dikwels vergiftig. Gewetenlose mense het nie geaarsel om iemand wat in die pad van hul ambisie gestaan het, uit die weg te ruim nie. Jesus het geweet dat die lewe van Sy dissipels aldus in gevaar sou verkeer. Baie sou dink dat hulle God ‘n diens bewys deur Sy getuies om die lewe te bring. Daarom het Hy belowe om hulle teen hierdie gevaar te beskerm. DKvDE 901.2
Die dissipels sou dieselfde mag ontvang as wat Jesus gehad het om “...elke siekte en elke kwaal onder die volk...” (Mattheus 4:23) te genees. Deur in Sy Naam die siektes van die liggaam te genees, sou hulle van Sy mag om die siel te genees getuig. (Sien Mattheus 9:6). En ‘n nuwe begaafdheid is nou belowe. Die dissipels sou vir ander nasies preek en hulle sou krag ontvang om ander tale te praat. Die apostels en hul medewerkers was ongeletterde mense, maar deur die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag het hul spraak, hetsy in hul eie of ‘n vreemde taal, suiwer, eenvoudig en akkuraat, beide in woord en uitspraak geword. DKvDE 901.3
So het Christus aan Sy dissipels hul opdrag gegee. Hy het volle voorsiening vir die voortsetting van hul werk gemaak en die verantwoordelikheid vir die sukses daarvan op Homself geneem. Solank as wat hulle Sy woord gehoorsaam en in noue verband met Hom saamgewerk het, kon hulle nie misluk nie. Gaan na alle nasies, het Hy hulle beveel. Gaan na die verste uithoek van die bewoonbare aardbol, maar weet dat My teenwoordigheid daar sal wees. Werk in geloof en vertroue, want daar sal nooit ‘n tyd aanbreek dat Ek julle sal verlaat nie. DKvDE 902.1
Die Heiland se opdrag aan die dissipels het al die gelowiges ingesluit. Dit behels alle gelowiges in Christus tot aan die einde van die tyd. Dit is ‘n noodlottige fout om aan te neem dat die redding van siele slegs van die geordende predikant afhang. Almal tot wie die hemelse inspirasie gekom het, word met die evangelie vertrou. Almal wat die lewe van Christus ontvang, is georden om vir die redding van hul medemens te werk. Vir hierdie werk is die kerk gestig en almal wat die heilige geloftes daarvan opneem, word daartoe verbind om medewerkers met Christus te wees. DKvDE 902.2
Die Gees en die bruid sê: “Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom!” (Openbaring 22:17). Elkeen wat dit hoor, moet die uitnodiging herhaal. Wat ook al iemand se roeping in die lewe is, sy eerste belang moet wees om siele vir Christus te wen. Hy mag miskien nie met gemeentes praat nie, maar hy kan wel met individue werk. Hy kan aan hulle die opdrag wat hy van sy Here ontvang het, meedeel. Bediening bestaan nie uit prediking alleen nie. Diegene wat siekes en lyding verlig, hulpbehoewendes help, vertroostende woorde spreek vir die moedelose en die wat min geloof het, bedien ook. Daar is siele van heinde en ver wat onder ‘n skuldlas van sonde gebuk gaan. Dit is nie ontbering, swoeg of armoede wat die mens afkraak nie. Dit is skuld en verkeerde dade. Dit bring onrus en ontevredenheid mee. Christus wil hê dat Sy dienaars die sonde-geteisterde siele moet bedien. DKvDE 902.3
Die dissipels moes hulle werk begin op die plek waar hulle was. Die moeilikste en mees onbelowende veld moes nie oorgeslaan word nie. Elkeen van Christus se arbeiders moet dus begin waar hulle is. In ons eie gesinne is daar moontlik siele wat honger na meegevoel en smag na die brood van die lewe. Daar kan kinders wees wat vir Christus opgelei moet word. Daar is heidene reg voor ons deur. Laat ons getrou die werk naaste aan ons doen. En laat ons ons pogings dan uitbrei tot sover as wat die hand van God ons mag lei. Die werk van baie mag blyk deur omstandighede beperk te word; maar waar dit ook al is, as dit met geloof en ywer verrig word, sal dit tot aan die uiteindes van die aarde ervaar word. Die werk van Christus terwyl Hy op die aarde was, het geblyk asof dit tot ‘n smal veld beperk was, maar menigtes uit alle lande het Sy boodskap gehoor. God gebruik dikwels die eenvoudigste middele om die beste resultate te behaal. Dit is Sy plan dat elke deel van Sy werk van elke ander deel sal afhang, soos ‘n wiel in ‘n wiel, waar almal in harmonie sal optree. Die nederigste werker sal, besiel deur die Heilige Gees, onsigbare akkoorde aanraak, waarvan die trillings tot aan die uithoeke van die aarde sal weerklink in ‘n melodie wat deur die ewige eeue gehoor sal word. DKvDE 903.1
Maar die bevel: “Gaan die hele wêreld in...” moet nie uit die oog verloor word nie. Ons opdrag is om die oë op te hef “...na die plekke anderkant julle.” Christus breek die skeidsmuur van vooroordeel wat volke verdeel af en leer ‘n liefde vir die hele mensdom. Hy lig mense uit die eng kring wat deur hul eie selfsug voorgeskryf is uit; Hy skaf alle gebiedsgrense en kunsmatige sosiale skeidslyne af. Hy maak geen onderskeid tussen bure en vreemdelinge, vriende en vyande nie. Hy leer ons om elke behoeftige siel as ons broer te beskou en die wêreld as ons arbeidsveld. DKvDE 903.2
Toe die Verlosser gesê het: “Gaan ... maak dissipels van al die nasies...” het Hy ook gesê: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande Iê, en hulle sal gesond word.” Die belofte is net so verreikend as die opdrag. Nie dat al die gawes aan elke gelowige oorgedra word nie. Die gawes word deur die Heilige Gees “...aan elkeen afsonderlik uit[ge]deel soos Hy wil.” (1 Korinthiërs 12:11). Maar die gawes van die Heilige Gees word aan elke gelowige, na gelang van sy behoeftes in die werk van die Here, belowe. Die belofte is vandag nog net so kragtig en betroubaar soos in die dae van die apostels. “Vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg.” Dit is die voorreg van die kinders van God en deur die geloof moet hulle alles wat hulle moontlik kan, as ‘n bevestiging van geloof vasgryp. DKvDE 904.1
“Op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” Die wêreld is een groot siekeboeg, maar Christus het gekom om die siekes te genees en om die gevangenes van Satan te bevry. In Homself het Hy oor goeie gesondheid en krag beskik. Hy het Sy lewe aan die siekes, die ellendiges en die duiwelbesetenes oorgedra. Hy het niemand wat hulp by Hom gesoek het afgewys nie. Hy het geweet dat diegene wat hulp by Hom gesoek het, die siekte oor hulleself gebring het; tog het Hy nie geweier om hulle te genees nie. En wanneer die deug van Christus hierdie arme siele binnegedring het, is hulle van sonde oortuig en baie is van hul geestelike, sowel as hul fisiese siektes genees. Die evangelie besit steeds dieselfde krag en hoekom sou ons nie vandag dieselfde resultate aanskou nie? DKvDE 904.2
Christus ervaar die ellende van elke lydende. Wanneer bose geeste ‘n menslike liggaam vernietig, ervaar Christus die vloek. As koors die lewenstroom verbrand, voel Hy die pyn. En Hy is net so gewillig om die sieke tans te genees as toe Hy nog op aarde was. Christus se dienaars is Sy verteenwoordigers, die kanale deur wie Hy werk. Hy begeer om, deur hulle, genesende krag uit te oefen. DKvDE 904.3
Die Heiland se wyse van genesing het lesse vir Sy dissipels ingehou. By een geleentheid het Hy die oë van ‘n blinde met klei gesalf en vir hom gesê: “Gaan was jou in die badwater Siloam... Hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom” (Johannes 9:7). Die genesing kon slegs deur die krag van die groot Geneesheer bewerk word, maar tog het Christus gebruik gemaak van die eenvoudige middels van die natuur. Hoewel Hy nie ‘n voorstander van medikasie was nie, het Hy die gebruik van eenvoudige en natuurlike middels goedgekeur. DKvDE 905.1
Aan baie van die geteisterdes wat genees is, het Christus gesê: “Moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (Johannes 5:14). So het Hy geleer dat siekte die gevolg van oortreding van die wette van God is, natuurlik sowel as geestelik. Die groot ellende in die wêreld, sou nie bestaan het as die mens in harmonie met die plan van die Skepper geleef het nie. DKvDE 905.2
Christus was die Leidsman en Leermeester van eertydse Israel en Hy het hulle geleer dat gesondheid die beloning van gehoorsaamheid aan die wette van God is. Die groot Geneesheer wat die siekes in Palestina genees het, het uit die wolkkolom tot Sy volk gespreek en vir hulle gesê wat hulle moes doen en wat God vir hulle sou doen. “As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in Sy oë en luister na Sy gebooie en al Sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak.” (Exodus 15:26). Christus het aan Israel duidelike opdragte aangaande hul lewenswyse gegee en het hulle verseker: “Die Here sal elke krankheid van jou wegneem.” (Deuteronomium 7:15). Terwyl hulle aan die voorwaardes voldoen het, is die belofte aan hulle bevestig. “Onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie.” (Psalm 105:37). DKvDE 905.3
Hierdie lesse geld vir ons. Daar is voorwaardes wat deur almal wat gesond wil bly nagekom moet word. Almal moet leer wat hierdie voorwaardes is. Die Here is nie gediend met onkunde aangaande Sy wette nie, hetsy dit natuurlik of geestelik is. Ons moet medewerkers saam met God wees vir die herstel van die gesondheid van die liggaam sowel as die siel. DKvDE 906.1
En ons moet ander leer hoe om hulle gesondheid te bewaar en te herstel. Vir siekes moet ons die geneesmiddels wat God in die natuur voorsien het gebruik en ons moet hul wys na Hom wat alleen kan genees. Dit is ons werk om die siekes en lydendes in die arms van ons geloof aan Christus op te dra. Ons moet hulle leer om in die groot Geneesheer te glo. Ons moet Sy belofte aangryp en bid vir die openbaring van Sy krag. Die kern van die evangelie is herstel en die Heiland wil hê ons moet die siekes, die hopeloses en die ellendiges aanraai om hulle op Sy krag te verlaat. DKvDE 906.2
Die krag van liefde was in al Christus se genesings en slegs deur in geloof te deel in daardie liefde, kan ons instrumente vir Sy werk wees. As ons nalaat om in ‘n Goddelike verbintenis met Christus te tree, kan die stroom van lewegewende energie nie in sterk strome van ons na die mense vloei nie. Daar was plekke waar die Verlosser self nie baie magtige werke weens hul ongeloof kon verrig nie. Net so skei ongeloof tans die kerk van haar Goddelike Helper. Sy houvas op die ewige werklikhede is swak. As gevolg van gebrek aan geloof, word God deur die kerk teleurgestel en van Sy heerlikheid beroof. DKvDE 906.3
Dit is in die uitvoering van die werk van Christus, dat die kerk die belofte van Sy teenwoordigheid het. Gaan maak dissipels van al die nasies, het Hy gesê; “...en kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Om sy juk op te neem, is een van die eerste voorwaardes om Sy krag te ontvang. Die lewe van die kerk hang af van die uitvoering van die Here se opdrag. Om hierdie werk te verwaarloos, is gewis ‘n uitnodiging tot geestelike swakheid en verval. Waar daar nie aktief vir ander gearbei word nie, kwyn die liefde en verflou die geloof. DKvDE 906.4
Dit is Christus se plan dat Sy predikante opvoeders van die kerk in evangeliewerk sal wees. Hulle moet die mense leer hoe om die verlorenes te soek en te red. Maar is dit die werk wat hulle verrig? Helaas, hoeveel swoeg om ‘n vonkie lewe in ‘n kerk te blaas wat besig is om dood te gaan! Hoeveel kerke word soos siek lammers versorg deur diegene wat na die verlore skape moet soek! En intussen vergaan miljoene der miljoene sonder Christus. DKvDE 907.1
Goddelike liefde is tot onpeilbare dieptes ter wille van die mens aangewakker en engele is verwonderd om by die ontvangers van so ‘n groot liefde, slegs oppervlakkige dankbaarheid te sien. Engele is verwonderd oor die mens se oppervlakkige waardering van die liefde van God. Die hemel is verontwaardig oor die onverskilligheid wat teenoor die siele van mense getoon word. Weet ons hoe Christus daaroor voel? Hoe sou ‘n vader en ‘n moeder voel as hulle geweet het dat hul kind, wat in die koue en sneeu verdwaal het, deur iemand wat hom kon gered het, verontagsaam is en agtergelaat is om te vergaan? Sou hulle nie ernstig bedroef, woedend en bitter verontwaardig wees nie? Sou hulle nie daardie moordenaars met ‘n woede so brandend soos hul trane, so intens soos hul liefde veroordeel het nie? Die lyding van elke mens is die lyding van ‘n kind van God en diegene wat nie ‘n helpende hand uitsteek na hul medemens wat vergaan nie, ontlok Sy regverdige toorn. Dit is die toorn van die Lam. Aan hulle wat beweer dat hulle gemeenskap met Christus het maar tog onverskillig teenoor die behoeftes van hul medemense staan, sal Hy op die groot oordeelsdag verklaar: “Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!” (Lukas 13:27). DKvDE 907.2
In Sy opdrag aan die dissipels het Christus nie net hul werk vir hulle uiteengesit nie, maar ook aan hulle ‘n boodskap gegee: “Leer die mense...” het Hy gesê, “...om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Die dissipels moes leer wat Christus geleer het. Wat Hy gespreek het, nie net persoonlik nie, maar alles van die profete en onderwysers van die Ou Testament, is hierby ingesluit. Menslike lering is uitgesluit hiervan. Daar is geen plek vir tradisie, vir mense se teorieë en gevolgtrekkings of vir wetgewing van die kerk nie. Geen wette wat deur kerklike gesag georden is, word by hierdie opdrag ingesluit nie. Christus se dienaars moes niks hiervan leer nie. “Die wet en die profete...” (Mattheus 7:12), met die verslag van Sy eie woorde en dade, is die skat wat aan die dissipels toevertrou is om aan die wêreld te verkondig. Die Naam van Christus is hul wagwoord, hul kenteken van onderskeid, hul band van eenheid, die gesag vir hul optrede en die bron van hul sukses. Niks wat nie Sy kenteken dra nie, sou in Sy koninkryk erken word nie. DKvDE 908.1
Die evangelie moenie as ‘n lewelose teorie aangebied word nie, maar as ‘n lewende krag om die lewe te verander. God wil hê dat die ontvangers van Sy genade getuies van die mag daarvan moet wees. Diegene wie se weg die aanstootlikste vir Hom was, neem Hy geredelik aan; wanneer hulle tot bekering kom, gee Hy aan hulle Sy Goddelike Gees, plaas hulle in die hoogste vertrouensposisies en stuur hulle na die kamp van die ongelowiges om Sy onbeperkte barmhartigheid te verkondig. Hy wil hê dat sy diensknegte van die feit moet getuig dat die mense deur Sy genade, ‘n karakter soos Christus kan besit en hulle in die sekerheid van Sy groot liefde kan verheug. Hy wil hê ons moet van die feit getuig dat Hy nie tevrede kan wees voordat die mensdom herwin word en weer in Sy heilige voorregte, as Sy seuns en dogters herstel word nie. DKvDE 908.2
In Christus is die sagmoedigheid van ‘n herder, die liefde van ‘n ouer en die weergalose genade van ‘n medelydende Verlosser. Hy bied Sy seëninge in die mees aanloklikste terme aan. Hy is nie tevrede om hierdie seëninge slegs aan te kondig nie; Hy bied hulle op die aantreklikste wyse aan ten einde ‘n begeerte om dit te besit op te wek. So moet Sy dienaars ook die rykdom van die heerlikheid van die onuitspreeklike Geskenk aanbied. Die wonderbare liefde van Christus sal harte laat smelt en onderwerp wanneer die blote herhaling van leerstellings niks sal uitrig nie. “Troos, troos my volk, sê julle God.” (Jesaja 40:1). “O Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God! ... Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra.” (Jesaja 40:9,11). Vertel die mense van Hom, “...uitnemender as tienduisend...” (Hooglied5:10), van die Een, “...geheel en al die lieflikheid self.” (Hooglied 5:16). Woorde alleen kan dit nie deurgee nie. Laat dit in die karakter weerspieël word en in die lewe gemanifesteer word. Christus poseer vir Sy portret in elke dissipel. God het elkeen van ons “...verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun.” (Romeine 8:29). Christus se lankmoedige liefde, Sy heiligheid, sagmoedigheid, genade en waarheid moet in elkeen se lewe aan die wêreld geopenbaar word. DKvDE 909.1
Die eerste dissipels het die woord gaan verkondig. Hulle het Christus in hul lewens geopenbaar. En die Here het met hulle saamgewerk “...en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.” (Markus 16:20). Hierdie dissipels het hulle vir hul taak voorberei. Hulle het die dag voor Pinkster vergader en alle geskille uit die weg geruim. Hulle was eensgesind. Hulle het die belofte van Christus geglo dat die seën gegee sou word en het in geloof gebid. Hulle het nie net vir ‘n seën vir hulself gevra nie; hulle was belas met die redding van siele. Die evangelie moes tot aan die uithoeke van die aarde verkondig word en hulle het vir die krag wat Christus belowe het om aan hulle te gee gevra. Toe is die Heilige Gees oor hulle uitgestort en duisende het op een dag tot bekering gekom. DKvDE 909.2
Dit kan dit tans ook so wees. In plaas van die mens se bespiegelinge, laat die woord van God verkondig word. Laat Christene hul geskille bylê en hulself aan God vir die redding van die verlorenes gee. Laat hulle in geloof die seën afsmeek en dit sal aan hulle gegee word. Die uitstorting van die Gees in die dae van die apostels was die “vroeë reën,” met heerlike gevolge. Maar die “laat reën” sal nog oorvloediger wees. (Joël 2:23). DKvDE 910.1
Almal wat siel, liggaam en gees aan God toewy, sal voortdurend ‘n nuwe skenking van fisiese en geestelike krag ontvang. Die onuitputlike voorraad van die hemel is tot hul beskikking. Christus gee hulle die asem van Sy eie Gees, die lewe van Sy eie lewe. Die Heilige Gees stort Sy grootste krag in hul harte en verstand uit. Die genade van God vergroot en vermeerder hul vermoëns en elke volmaaktheid van die Goddelike natuur kom hulle tot hulp in die redding van siele. Deur samewerking met Christus is hulle in Hom volkome en in hul menslike swakheid, word hulle in staat gestel om die dade van die Almagtige te doen. DKvDE 910.2
Die Heiland verlang om Sy genade te openbaar en Sy karakter op die hele wêreld af te druk. Dit is Sy losgekoopte besitting en Hy verlang om die mens vry, rein en heilig te maak. Hoewel Satan werk om hierdie doel te probeer verydel, is daar, deur die bloed wat vir die wêreld gestort is, oorwinnings wat behaal kan word wat God en die Lam sal verheerlik. Christus sal nie tevrede wees voordat die oorwinning volkome is nie en “...weens die moeitevolle lyde van Sy siel sal Hy dit sien en versadig word.” (Jesaja 53:11). Al die volke van die aarde sal die evangelie van Sy genade hoor. Nie almal sal Sy genade aanneem nie; maar “...'n nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die Here aan die volgende geslag.” (Psalm 22:31). DKvDE 910.3
“Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste...” (Daniël 7:27) en “...die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek.” (Jesaja 11:9). “En hulle sal die Naam van die Here vrees van die westekant af en Sy heerlikheid van die opgang van die son af.” (Jesaja 59:19). DKvDE 911.1
“Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! ... Breek uit, jubel almal saam, puinhope van Jerusalem! Want die Here het Sy volk getroos... Die Here het Sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God.” (Jesaja 52:7,9-10). DKvDE 911.2