Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 87—“Na My Vader en Julle Vader” *
Die tyd het aangebreek dat Christus moes opvaar na die troon van Sy Vader. As Goddelike Oorwinnaar, was Hy gereed om met die trofeë van oorwinning na die hemelse howe terug te keer. Voor Sy dood het Hy aan Sy Vader gesê: “Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” (Johannes 17:4). Na Sy opstanding het Hy nog ‘n tyd lank op die aarde vertoef sodat Sy dissipels vertroud met Hom in Sy opgestane en verheerlikte liggaam kon raak. Nou was Hy gereed om afskeid te neem. Hy het die feit dat Hy die lewende Verlosser is, bevestig. Dit was nie meer nodig vir Sy dissipels om Hom met die graf te verbind nie. Hulle kon aan Hom dink, as verheerlik voor die hemelse heelal. DKvDE 912.1
Vir die plek van Sy Hemelvaart, het Jesus die plek wat so dikwels deur sy teenwoordigheid geheilig is toe Hy nog onder die mense gewoon het, uitgekies. Nie die berg Sion, die plek van die stad van Dawid nie, nie die berg Moria, die tempelterrein, sou so vereer word nie. Dáár is Christus bespot en verwerp. Daar is die golwe van genade, wat steeds in ‘n sterker gety van liefde teruggekeer het, deur harte so hard soos klip teruggedryf. Van daar het Jesus, uitgeput en met ‘n beswaarde hart, gegaan om rus op die Olyfberg te vind. Die heilige Sjekina wat die eerste tempel verlaat het, het op die oostelike berg gehuiwer, asof teësinnig om die uitverkore stad te verlaat; so het Christus op die Olyfberg gestaan en met ‘n verlangende hart oor Jerusalem uitgekyk. Die bosse en valleie van die berg is deur Sy gebede en trane gewy. Sy hange het die triomfantelike uitroep van die skare wat Hom tot koning verklaar het, weergalm. Teen die skuinste van die helling het Hy ‘n tuiste saam met Lasarus in Betanië gevind. In die tuin van Getsémané aan die voet van die berg, het Hy alleen in gebed en sieleangs verkeer. Van hierdie berg af sou Hy na die hemel opvaar. Op hierdie kruin sal Sy voete rus wanneer Hy weer kom. Nie as ‘n man van smarte nie, maar as ‘n verheerlikte, triomfantelike koning sal Hy op die Olyfberg staan terwyl Hebreeuse hallelujas met heidense hosannas sal saamsmelt en die stemme van die verlostes soos van ‘n magtige leër sal uitroep: “Kroon Hom, aller Heer!” DKvDE 912.2
En nou het Jesus, saam met die elf dissipels, na die berg gegaan. Toe hulle deur die poort van Jerusalem gaan, het baie verwonderde oë die klein groepie, wat deur Een wat die owerstes ‘n paar weke gelede veroordeel en gekruisig het, gelei word. Die dissipels het nie geweet dat dit die laaste ontmoeting met hul Meester sou wees nie. Jesus het die tyd in gesprek met hulle deurgebring en Sy vorige opdragte herhaal. Toe hulle Getsémané nader, het Hy stilgestaan om hulle weer aan die lesse wat Hy hulle in die nag van Sy groot sielefoltering geleer het, te herinner. Weer het Hy na die wingerdstok, wat die verbintenis van Sy kerk met Homself en Sy Vader verteenwoordig het, gekyk; weer het Hy die waarhede wat Hy toe ontvou het, herhaal. Rondom Hom was daar herinneringe aan Sy onbeantwoorde liefde. Selfs die dissipels wat Hy so liefgehad het, het Hom in die uur van Sy vernedering verwyt en verlaat. DKvDE 913.1
Christus het drie-en-dertig jaar in die wêreld vertoef; Hy het die smaad, belediging en bespotting daarvan verduur; Hy is verwerp en gekruisig. En nou, wanneer Hy gereed is om na Sy troon van heerlikheid op te vaar, wanneer Hy aan die ondankbaarheid van die mense wat Hy kom red het dink, sal Hy nie Sy meegevoel en liefde aan hulle onttrek nie? Sal Hy nie Sy liefde op daardie ryk waar Hy gewaardeer word en waar sondelose engele wag om op Sy bevel te reageer toespits nie? Nee; Sy belofte aan die geliefdes wat Hy op aarde agterlaat, is: “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Mattheus 28:20). DKvDE 913.2
Toe hulle die Olyfberg bereik, het Jesus hulle oor die kruin, na die omgewing van Betanië gelei. Hier het Hy gaan staan en die dissipels het om Hom vergader. Dit het gelyk asof strale van lig uit Sy gelaat skyn toe Hy hulle vol liefde aankyk. Hy het hulle nie oor hul foute en mislukkings aangespreek nie; die laaste woorde wat van die lippe van hul Heer op hul ore geval het, het van die diepste teerheid getuig. Met Sy hande in seën oor hulle uitgestrek, asof Hy hulle van Sy beskermende sorg wil verseker, het Hy stadig van hulle af opgestyg, hemelwaarts getrek deur ‘n krag wat sterker as enige aardse aantrekkingskrag was. Terwyl Hy omhoog gevaar het, het die dissipels vol ontsag met gestremde oë getuur om ‘n laaste blik van hul opvarende Here te kry. Toe het ‘n wolk van heerlikheid Hom vir hulle oë verberg; en terwyl die glorieryke wolk van engele Hom ontvang het, het hulle weer die weerklank van die woorde gehoor: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Terselfdertyd het die lieflikste en mees vreugdevolle sang van die engelekoor na hulle afgesweef gekom. DKvDE 914.1
Terwyl die dissipels na bo tuur, het stemme, wat soos heerlike musiek klink, hulle aangespreek. Toe hulle omdraai, sien hulle twee engele in die gedaante van mense, wat hulle aanspreek en sê: “Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” DKvDE 914.2
Hierdie engele was deel van die engeleskaar wat in die glinsterende wolk gewag het om Jesus na Sy hemelse tuiste te begelei. Hulle was die mees verhewe onder die skare van engele en was dieselfde twee wat met Christus se opstanding na die graf gekom het en was gedurende Sy hele lewe op aarde met Hom. Met gretige begeerte het die ganse hemel op die einde van Sy verblyf in ‘n wêreld wat deur die vloek van sonde geskend is gewag. Die tyd het aangebreek dat die hemelse heelal sy Koning sou ontvang. Was die twee engele nie gretig om hulle by die engeleskaar wat Jesus verwelkom het te voeg nie? Maar uit liefde en meegevoel teenoor diegene wat Hy agtergelaat het, het hulle gewag om hulle te vertroos. “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” (Hebreërs 1:14). DKvDE 914.3
Christus het in menslike gedaante na die hemel opgevaar. Die dissipels het gesien hoe die wolk Hom ontvang. Dieselfde Jesus wat saam met hulle geloop en gepraat en gebid het; wat met hulle brood gebreek het; wat saam met hulle in hul bote op die meer was; en wat dieselfde dag nog saam met hulle teen die Olyfberg uitgeklim het-dieselfde Jesus het nou opgevaar om die troon met Sy Vader te deel. En die engele het hulle die versekering gegee dat hierdie Jesus wat hulle na die hemel sien opvaar het, weer sal terugkeer net soos Hy opgevaar het. Hy sal “...kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien.” (Openbaring 1:7). “Die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” (1 Thessalonicense 4:16). “Wanneer die Seun van die mens in Sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op Sy heerlike troon sit.” (Mattheus 25:31). So sal die Here se eie belofte aan Sy dissipels vervul word: “As Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Johannes 14:3). Tereg kon die dissipels hulle in die hoop van hul Heer se wederkoms verheug. DKvDE 915.1
Toe die dissipels na Jerusalem terugkeer, het die mense hulle verbaas aangekyk. Ná die verhoor en kruisiging van Christus, is daar verwag dat hulle neerslagtig en beskaamd sou wees. Hul vyande het verwag om ‘n uitdrukking van droefheid en nederlaag op hul gesigte te lees. In plaas daarvan was daar net blydskap en triomf. Hul gesigte het van ‘n geluk wat nie van die aarde was nie, gestraal. Hulle het nie oor verydelde hoop getreur nie, maar was vol lof en danksegging teenoor God. Gevul met blydskap het hulle die wonderlike verhaal van Christus se opstanding en Sy Hemelvaart vertel en hul getuienis is deur baie ontvang. DKvDE 915.2
Die dissipels het nie langer ‘n wantroue in die toekoms gehad nie. Hulle het geweet dat Jesus in die hemel is en dat Sy meegevoel nog steeds met hulle was. Hulle het geweet dat hulle ‘n Vriend op die troon van God het en hulle was gretig om hul versoeke in die Naam van Jesus aan die Vader voor te lê. Met eerbiedige ontsag het hulle in gebed neergebuig en die belofte herhaal: “Alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 16:23,24). Hulle het die hand van die geloof hoër en hoër uitgestrek, met die magtige pleidooi: “Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” (Romeine 8:34). En Pinkster het vir hulle die volkome vreugde in die teenwoordigheid van die Trooster gebring, net soos Christus belowe het. DKvDE 916.1
Die ganse hemel het gewag om die Verlosser in die hemelse howe te verwelkom. Terwyl Hy opgevaar het, het Hy die weg gelei en die menigte gevangenes wat tydens Sy opstanding vrygelaat is, het gevolg. Die hemelse leërskare het met uitroepe van lof en hemelse sang, die vreugdevolle optog begelei. DKvDE 916.2
Toe hulle die Godstad nader, het die begeleidende engele uitgeroep: DKvDE 916.3
“Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure,
dat die Erekoning kan ingaan!”
DKvDE 916.4
Vol vreugde het die wagtende poortwagte geantwoord: DKvDE 916.5
“Wie is tog die Erekoning?” DKvDE 916.6
Hulle het dit nie gevra omdat hulle nie geweet het wie Hy is nie, maar om die lofbetuiging uit te lok: DKvDE 917.1
“Die HERE, sterk en geweldig, die HERE, geweldig in die stryd.
Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure,
dat die Erekoning kan ingaan!”
DKvDE 917.2
Weer het die uitdaging opgeklink: “Wie is tog die Erekoning?” want die engele raak nooit moeg daarvan om te hoor hoe sy Naam geloof word nie. Die begeleidende engele het geantwoord: DKvDE 917.3
“Die HERE van die leërskare-Hy is die Erekoning!” (Psalm 24:8-10). DKvDE 917.4
Toe is die poorte van die Godstad wyd oopgegooi en die engeleskaar het die poorte, te midde van die verruklikste musiek, binnegegaan. DKvDE 917.5
Daar was die troon en daar rondom die reënboog van belofte. Daar is gerubs en serafs. Die aanvoerders van die leërskare van engele, die seuns van God, die verteenwoordigers van die ongevalle wêrelde, almal was byeen. Die hemelse raad voor wie Lucifer God en Sy Seun beskuldig het, die verteenwoordigers van daardie sondelose ryke waaroor Satan gehoop het om sy heerskappy te vestig, was almal daar om die Verlosser te verwelkom. Hulle was gretig om Sy oorwinning te vier en hul Koning te verheerlik. DKvDE 917.6
Maar Hy het aangedui dat hulle moet wag. Nie nou al nie; Hy kon nie nou al die kroon van heerlikheid en die koninklike kleed ontvang nie. Hy het hom in die teenwoordigheid van Sy Vader begeef. Hy het na Sy gewonde hoof, die deurboorde sy, die geskende voete gewys; en Hy het Sy hande, met die merke van die spykers daarin, omhoog gehou. Hy het na die simbole van Sy oorwinning gewys; Hy het aan God, voor diegene wat saam met Hom opgestaan het as verteenwoordigers van die groot menigte wat met Sy wederkoms uit hul grafte sal kom, die beweeg-offer gebied. Hy het die Vader, by wie daar vreugde is oor een sondaar wat hom bekeer; wat Hom oor een verheug met sang, genader. Voordat die fondamente van die aarde gelê was, het die Vader en die Seun ‘n verbond aangegaan om die mens te verlos indien hy deur Satan oorwin sou word. Hulle het hul hande in ‘n plegtige gelofte, dat Christus die Borg vir die mensdom sou wees, gesluit. Hierdie gelofte het Christus nou nagekom. Toe Hy aan die kruis uitgeroep het: “Dit is volbring...” (Johannes 19:30), het Hy die Vader aangespreek. Die ooreenkoms is ten volle nagekom. Nou verklaar Hy: Vader, dit is volbring. Ek het U wil gedoen, o My God. Ek het die taak van verlossing voltooi. As U geregtigheid bevredig is, “...wil [Ek] dat, waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees.” (Johannes 17:24). DKvDE 917.7
Die stem van God is gehoor wat verkondig het dat geregtigheid bevredig is. Satan is verslaan. Christus se swoegende, worstelende volgelinge op aarde is begenadig “...in die Geliefde.” (Efesiërs 1:6). Voor die hemelse engele en die verteenwoordigers van ongevalle wêrelde, word hulle as geregverdig verklaar. Waar Hy is, daar sal Sy kerk wees. “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.” (Psalm 85:11). Die Vader het sy Seun omhels en die bevel gegee: “AI die engele van God moet Hom aanbid.” (Hebreërs 1:6). DKvDE 918.1
Met onuitspreeklike vreugde het die owerhede en magte die opperheerskappy van die Vors van die lewe erken. Die leërskare van engele het voor Hom neergeval, terwyl die vreugdevolle gejuig die voorhowe van die hemel gevul het: “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” (Openbaring 5:12). DKvDE 918.2
Die oorwinningsliedere het met die musiek van die harpe van engele verenig totdat dit gelyk het asof die ganse hemel van vreugde en lof oorloop. Liefde het oorwin. Die verlorenes is gevind. Die hemele het weerklink met die geluid van verhewe stemme wat verkondig: “Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Openbaring 5:13). DKvDE 918.3
_______________
Vanuit daardie toneel van hemelse vreugde, het die weerklank van Christus se wonderlike woorde na die aarde gekom: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader en my God en julle God.” (Johannes 20:17). Die hemelse gesin en die aardse gesin het een geword. Want ons Here het opgevaar en Hy leef vir ons. “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (Hebreërs 7:25). DKvDE 919.1