Die Koning van die Eeue

86/88

Hoofstuk 85—Weereens by die See *

Jesus het afgespreek om Sy dissipels in Galiléa te ontmoet; en kort na afloop van die week van die Pasga het hulle hul voetstappe daarheen gewend. Hul afwesigheid in Jerusalem tydens die fees sou as afvalligheid en kettery vertolk gewees het; daarom het hulle tot die einde van die fees daar gebly; maar nadat dit verby was, het hulle gretig huiswaarts gekeer om die Verlosser te ontmoet soos Hy hulle beveel het. DKvDE 888.1

Sewe van die dissipels was saam. Hulle was in die nederige klere van vissers geklee: hulle was arm aan wêreldse goed, maar ryk aan kennis en praktisering van die waarheid, wat hulle, voor die hemel, met die hoogste rang as onderwysers beklee het. Hulle was nie studente in die profete-skole nie, maar drie jaar lank is hulle deur die grootste Opvoeder wat die wêreld ooit geken het, onderrig. Onder Sy opleiding het hulle verhewe, intelligente en verfynde agente geword, deur wie mense tot ‘n kennis van die waarheid gelei sou word. DKvDE 888.2

Christus het ‘n Groot deel van Sy bediening naby die See van Galiléa deurgebring. Toe die dissipels op ‘n plek waar hulle nie gesteur sou word nie bymekaar kom, was hulle omring met herinneringe aan Jesus en Sy magtige werke. Op die see, toe hulle harte verskrik was en die hewige storm gedreig het om hulle te verpletter, het Jesus op die golwe geloop en hulle gered. Hier het die storm, op Sy woord, bedaar. Binne sig was die strand waar meer as tienduisend mense met ‘n paar klein broodjies en vissies gevoed is. Nie ver daarvandaan nie was Kapérnaum, die toneel van soveel wonderwerke. Toe die dissipels die toneel aanskou, was hul gedagtes vol van die woorde en dade van hul Verlosser. DKvDE 888.3

Die aand was aangenaam en Petrus, wat nie sy voorliefde vir bote en visvang verloor het nie, het voorgestel dat hulle see toe gaan en hul nette uitgooi. Almal was vir hierdie plan te vinde; hulle het in elk geval voedsel en klere nodig gehad, wat deur die opbrengs van ‘n goeie nag se vangs voorsien sou word. Toe het hulle in die skuit uitgegaan, maar niks gevang nie. Hulle het die hele nag deur geswoeg sonder enige sukses. Deur die uitputtende ure het hulle oor hul afwesige Here gesels en die wonderlike gebeure wat hulle tydens Sy bediening langs die see ervaar het, in herinnering geroep. Hulle het hul eie toekoms bevraagteken en was terneergedruk oor hul vooruitsigte. DKvDE 889.1

Die hele tyd het ‘n Eensame Wag hulle egter van die strand met sy oog gevolg, hoewel Hy self onsigbaar was. Uiteindelik het die oggend aangebreek. Die boot was slegs ‘n entjie van die oewer af toe die dissipels ‘n Vreemdeling op die strand sien staan wat hulle met die vraag begroet: “My kinders, het julle nie iets om te eet nie?” Toe hulle ontkennend antwoord, sê Hy vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit op te trek nie.” DKvDE 889.2

Johannes het die vreemdeling herken en vir Petrus gesê: “Dit is die Here!” Petrus was so opgewonde en bly, dat hy in sy gretigheid in die water gespring en spoedig langs sy Meester gestaan het. Die ander dissipels het in die skuit gekom en die net vol visse saamgesleep. “En toe hulle geland het, sien hulle ‘n koolvuur op die grond en vis en brood daarop lê.” DKvDE 889.3

Hulle was te verbaas om te vra waarvandaan die vuur en die voedsel gekom het. “Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het.” Petrus het hom na die net wat hy agtergelaat het gehaas en sy broeders gehelp om dit na die oewer te sleep. Nadat die werk afgehandel en die voorbereidings getref is, het Jesus die dissipels genooi om te kom eet. Hy het die voedsel gebreek en dit onder hulle verdeel en is deur al sewe geken en erken. Die wonderwerk toe die vyfduisend teen die berghelling gevoed is, het nou in hulle gedagtes opgekom; maar ‘n onverstaanbare ontsag het hulle oormeester en swygsaam het hulle die opgestane Verlosser aangekyk. DKvDE 889.4

Hulle het die toneel langs die see, toe Jesus hulle gevra het om Hom te volg, helder voor die gees geroep. Hulle het onthou hoe hulle, op Sy bevel, die see binnegevaar en hul net laat sak het, toe die vangs so groot was dat die net wou skeur. Toe het Jesus hulle geroep om hul vissersbote te verlaat en het belowe om van hulle vissers van mense te maak. Dit was om hierdie toneel by hulle voor die gees te roep en om die indruk daarvan dieper in te skerp, dat Hy die wonderwerk herhaal het. Sy daad was ‘n bevestiging van die opdrag aan die dissipels. Dit het aan hulle getoon dat die dood van hul Meester hulle nie van hul plig onthef het om die werk te verrig wat Hy aan hulle opgedra het nie. Hoewel hulle van die persoonlike gemeenskap met Hom, asook die inkomste van hul vorige beroep ontneem sou word, sou die opgestane Verlosser steeds vir hulle sorg. Terwyl hulle Sy werk doen, sou Hy in hul behoeftes voorsien. En Jesus het hulle met ‘n spesifieke doel beveel om die net aan die regterkant van die skuit uit te gooi. Hy het aan daardie kant op die oewer gestaan. Dit was die kant van geloof. As hulle saam met Hom sou werk, Sy Goddelike mag met hul menslike inspanning kombineer, kon hulle nie anders as om suksesvol te wees nie. DKvDE 890.1

Christus moes hulle ‘n verdere les leer, veral met betrekking tot Petrus. Petrus se ontkenning van sy Here het ‘n skandelike kontras met sy voormalige versekering van trou gevorm. Hy het Christus ‘n oneer aangedoen en het die vertroue van sy broeders geskok. Hulle het gedink dat hy nie toegelaat sou word om sy vorige plek onder hulle in te neem nie en hy het self gevoel dat hy hierdie vertroue verbeur het. Voordat hy dus geroep is om sy apostoliese taak weer op te neem, moes hy voor almal getuig van sy berou. Daarsonder sou sy sonde, hoewel hy berou gehad het, sy invloed as ‘n dienaar van Christus vernietig het. Die Heiland het hom die geleentheid gebied om die vertroue van sy broeders terug te wen en om, sover moontlik, die smaad wat hy oor die evangelie gebring het, te verwyder. DKvDE 890.2

Hier is ‘n les vir al die volgelinge van Christus. Die evangelie tref geen kompromie met die bose nie. Dit kan sonde nie verskoon nie. Geheime sondes moet heimlik voor God bely word; maar vir die openlike sonde word ‘n openlike belydenis vereis. Die smaad van die dissipel se sonde word op Christus gewerp. Dit laat Satan seëvier en wankelende siele struikel. Deur bewys van sy berou te lewer, moet die dissipel, sover dit binne sy vermoë is, hierdie verwyt verwyder. DKvDE 891.1

Terwyl Christus en die dissipels saam by die see geëet het, het die Verlosser vir Petrus gesê: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?” verwysend na sy broeders. Petrus het op ‘n keer verklaar: “Al sou almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie.” (Mattheus 26:33). Maar nou het hy meer realisties na homself gekyk: “Ja, Here,” het hy geantwoord, “U weet dat ek U liefhet.” Daar is geen heftige versekering meer dat sy liefde groter as dié van sy broeders is nie. Hy spreek nie sy eie mening oor sy toewyding uit nie. Vir Hom, wat al die motiewe van die hart kan lees, doen Hy ‘n beroep om sy opregtheid te oordeel: “U weet dat ek U liefhet.” En Jesus sê vir hom: “Laat my lammers wei.” DKvDE 891.2

Weer het Jesus Petrus op die proef gestel en Sy vorige woorde herhaal: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief?” Hierdie keer het Hy Petrus nie gevra of hy Hom liewer as sy broeders het nie. Die tweede reaksie was, soos die eerste, sonder oordrewe versekering: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” En Jesus antwoord hom: “Pas my skape op.” Nog een keer het Jesus die deurdringende vraag gevra: “Simon, seun van Jona, het jy My lief?” Petrus was bedroef; hy het gedink dat Jesus sy liefde betwyfel. Hy het geweet dat sy Here rede gehad het om hom te wantrou en met ‘n seer hart het hy geantwoord: “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet.” Weer het Jesus vir hom gesê: “Laat my skape wei.” DKvDE 891.3

Drie keer het Petrus sy Here openlik verloën en drie keer het Jesus die versekering van sy liefde en trou uit hom getrek, met ‘n vraag wat soos ‘n stekelrige pyl in sy gewonde hart was. Jesus het die diepte van Petrus se berou voor die versamelde dissipels geopenbaar en aan hulle getoon hoe diep nederig die eens grootpraterige dissipel nou was. DKvDE 892.1

Petrus was van nature voortvarend en impulsief en Satan het hierdie eienskappe uitgebuit om hom tot ‘n val te bring. Net voor die val van Petrus het Jesus vir hom gesê: “Die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.” (Lukas 22:31, 32). Die tyd het nou aangebreek en die verandering in Petrus was onmiskenbaar. Die pertinente, deurdringende, vrae van die Here het nie een voortvarende, selfgenoegsame antwoord uitgelok nie; vanweë sy vernedering en berou, was Petrus beter as ooit tevore toegerus om as herder vir die kudde op te tree. DKvDE 892.2

Die eerste taak wat Christus aan Petrus toevertrou het nadat Hy hom tot die bediening herstel het, was om die lammers te laat wei. Dit was ‘n werk waarvan Petrus min ervaring gehad het. Dit sou baie sorg en teerheid, baie geduld en deursettingsvermoë vereis. Dit het ‘n oproep op hom gemaak om diegene wat jonk in die geloof was te bedien, om die onkundiges te onderrig, die Skrifte vir hulle oop te stel en om hulle vir bruikbaarheid in die diens van Christus op te voed. Tot dusver was Petrus nie geskik om hierdie taak uit te rig, of selfs die belangrikheid daarvan te besef nie. Maar dit was die werk wat Jesus hom nou geroep het om te doen. Sy ervaring van lyding en berou het hom vir hierdie taak voorberei. DKvDE 892.3

Vóór sy val het Petrus altyd in die drif van die oomblik onbesonne dinge gesê. Hy was altyd gereed om andere op hul foute te wys en om sy mening uit te spreek nog voordat hy ‘n duidelike begrip van homself of van wat hy moes sê gehad het. Maar die bekeerde Petrus was baie anders. Hy het sy vroeëre geesdrif behou, maar die genade van Christus het sy ywer getemper. Hy was nie langer voortvarend, selfversekerd en self verhewe nie, maar kalm, selfbeheersd en leerbaar. Toe kon hy die lammers sowel as die skape van Christus se kudde laat wei. DKvDE 892.4

Die Verlosser se manier om met Petrus om te gaan, het ‘n les vir hom en vir sy broeders ingehou. Dit het hulle geleer om die oortreder met geduld, begrip en vergewensgesinde liefde te bejeën. Hoewel Petrus sy Here verloën het, het die liefde wat Jesus aan hom geopenbaar het nooit gewankel nie. Dieselfde liefde moet deur die onder-herder vir die skape en lammers wat aan sy sorg toegewy is ervaar word. Gedagtig aan sy eie swakheid en mislukking, moes Petrus met dieselfde teerheid waarmee Christus hom bejeën het, teenoor sy kudde optree. DKvDE 893.1

Christus se vraag aan Petrus was betekenisvol. Hy het slegs een voorwaarde vir dissipelskap en diens genoem. “Het jy My lief?” het Hy gevra. Dit is die wesenlike kwalifikasie. Al het Petrus moontlik al die ander kwalifikasies besit, kon hy sonder die liefde van Christus nie ‘n getroue herder oor die Here se kudde wees nie. Kennis, welwillendheid, welsprekendheid, dankbaarheid en ywer is almal hulpmiddels in die goeie werk; maar sonder die liefde van Jesus in die hart, is die werk vir die Christen-bedienaar ‘n mislukking. DKvDE 893.2

Jesus het alleen saam met Petrus geloop, want daar was iets wat Hy aan hom alleen wou meedeel. Voor Sy dood het Jesus vir hom gesê: “Waar Ek heengaan, kan jy My nou nie volg nie, maar later sal jy My volg.” Hierop het Petrus gevra: “Here, waarom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U gee” (Johannes 13:36, 37). Toe hy dit gesê het, het hy min besef tot watter hoogtes en dieptes Christus se voete hulle sou lei. Toe die toets gekom het, het Petrus gefaal, maar hy sou weer die geleentheid kry om sy liefde vir Christus te bewys. Om hom vir die laaste groot toets van sy geloof te versterk, het die Heiland sy toekoms aan hom geopenbaar. Hy het hom vir hom gesê dat hy, nadat hy ‘n nuttige lewe gelei het, wanneer die ouderdom op sy krag sou tel, hy sy Here inderdaad sou volg. Jesus het gesê: “Toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ‘n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie ... En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik.” DKvDE 893.3

So het Jesus aan Petrus die wyse waarop hy sou sterf bekend gemaak; Hy het selfs voorspel dat sy hande na die kruis uitgestrek sou word. Weer het Hy vir Sy dissipel gesê: “Volg My.” Petrus was nie deur die openbaring ontmoedig nie. Hy was bereid om enige dood vir sy Here te ly. DKvDE 894.1

Voorheen het Petrus Christus na die vlees geken, soos baie Hom nou ken; maar hy sou nie meer so beperk word nie. Hy het Hom nou nie meer geken soos hy Hom in hul omgang as mens tot mens geken het nie. Hy het Hom as mens liefgehad, as ‘n hemelse Leraar; nou het hy Hom as God liefgehad. Hy het die les geleer dat Christus vir hom alles in alles was. Hy was nou gereed om te deel in Sy here se bediening van opoffering. Toe hy uiteindelik gekruisig is, is hy, op sy eie versoek, onderstebo gekruisig. Hy het dit as ‘n te groot eer beskou om op dieselfde wyse te ly as wat sy Meester gely het. DKvDE 894.2

Vir Petrus was die woorde “Volg My” vol onderrig. Nie net vir sy dood nie, maar vir elke stap van sy lewe is die les gegee. Tot dusver was Petrus geneig om onafhanklik op te tree. Hy het probeer om vir die werk van God te beplan, in plaas daarvan om te wag om God se plan te volg. Maar hy kon niks bereik deur die Here vooruit te loop nie. Jesus het vir hom gesê: “Volg My.” Moenie voor My uit loop nie. Dan sal jy nie alleen teen die leër van Satan te staan kom nie. Laat My voor jou gaan, dan sal jy nie deur die vyand oorkom word nie. DKvDE 894.3

Terwyl Petrus langs Jesus geloop het, sien hy dat Johannes volg. ‘n Begeerte het oor hom gekom om sy toekoms te ken en hy toe vra hy vir Jesus “Here, maar wat van hom?” Jesus het hom geantwoord hom: “As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My.” Petrus moes geweet het dat sy Here alles aan hom sou openbaar wat vir hom voordelig was om te weet. Dit is elkeen se plig om Christus te volg, sonder onnodige kommer oor die werk wat aan ander toegewys is. Deur van Johannes te sê: “As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom...” het Jesus geen versekering gegee dat hierdie dissipel sou lewe tot met die wederkoms van die Here nie. Hy het bloot Sy eie oppermag te kenne gegee en selfs al was dit Sy wil dat dit so moes wees, dit geensins die werk van Petrus sou beïnvloed nie. Die toekoms van beide Johannes en Petrus was in die hande van hul Here. Gehoorsaamheid om Hom te volg, was die plig wat van elkeen vereis is. DKvDE 894.4

Hoeveel is daar nie tans soos Petrus nie! Hulle stel in ander se sake belang en is gretig om te weet wat hul plig is, terwyl hulle gevaar loop om hul eie te verwaarloos. Dit is ons werk om na Christus op te kyk en Hom te volg. Ons sal foute in ander se lewens en gebreke in hul karakters sien. Die mensdom is omring met gebreke. Maar in Christus sal ons volmaaktheid vind. Deur Hom te aanskou, sal ons vernuwe word. DKvDE 895.1

Johannes het baie oud geword. Hy was getuie van die verwoesting van Jerusalem en die vernietiging van die statige tempel-'n simbool van die finale verwoesting van die wêreld. Tot aan die einde van sy dae het Johannes sy Here getrou gevolg. Die kern van sy getuienis aan die kerke was: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê!” (1 Johannes4:7), “...hy wat in die liefde bly, bly in God en God in hom.” (1 Johannes 4:16). DKvDE 895.2

Petrus is tot die apostelskap herstel, maar die eer en gesag wat hy van Christus ontvang het, het nie aan hom oppergesag oor sy broeders gegee nie. Christus het dit duidelik gestel toe Hy op Petrus se vraag geantwoord het: “Here, maar wat van hom?” Hy het gesê: “Wat gaan dit jou aan? Volg jy My.” Petrus was nie as hoof van die kerk vereer nie. Die guns wat Christus aan hom bewys het deur sy afvalligheid te vergewe en die taak om die kudde te laat wei aan hom op te dra, asook Petrus se eie getrouheid om Christus te volg, het aan hom die vertroue van sy broeders besorg. Hy het baie invloed in die kerk gehad. Maar die les wat Christus hom by die See van Galiléa geleer het, het Petrus lewenslank saam met hom gedra. Deur die Heilige Gees het hy aan die kerke geskryf: DKvDE 895.3

“Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat ‘n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is, wat ook ‘n deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word; hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.” (1 Petrus 5:1-4). DKvDE 896.1