Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 84—“Vrede vir Julle” *
Toe hulle Jerusalem bereik, het die twee dissipels by die Oospoort, wat met feestye snags oopgelaat word, ingegaan. Die huise was donker en stil, maar die reisigers het hul weg deur die smal strate in die lig van die opkomende maan gebaan. Hulle het na die bovertrek gegaan waar Jesus die laaste aand voor Sy dood deurgebring het. Hier, het hulle geweet, sal hulle hul broeders vind. Laat soos dit was, het hulle geweet dat die dissipels nie sal slaap voordat hulle met sekerheid kon weet wat van die liggaam van hulle Here geword het nie. Hulle het die deur van die vertrek stewig gegrendel gevind. Hulle het geklop om ingelaat te word, maar niemand het geantwoord nie. Alles was stil. Toe verstrek hulle hul name. Die deur is versigtig oopgemaak en hulle het binnegegaan en Iemand anders, ongesiens, het saam met hulle die vertrek binnegegaan. Toe word die deur weer gegrendel om spioene buite te hou. DKvDE 880.1
Die reisigers het almal verbaas en opgewonde aangetref. Die stemme van die aanwesiges het in lof en danksegging uitgebreek en gesê: “Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.” Toe vertel die twee reisigers, wat nog na hul asem gehyg het van die haas waarmee hulle gereis het, die wonderlike verhaal van hoe Jesus aan hulle verskyn het. Hulle het pas klaar vertel en sommige het nog gesê dat hulle dit nie kan glo nie, omdat dit te goed is om waar te wees, toe Iemand anders skielik voor hulle staan. Elke oog was op die Vreemdeling vasgenael. Niemand het geklop om ingelaat te word nie. Geen voetstap is gehoor nie. Die dissipels het verskrik gestaan en wonder wat dit beteken. Toe hoor hulle ‘n stem wat niemand anders as die stem van hul Meester kon wees nie. Helder en duidelik het die woorde uit sy mond gekom: “Vrede vir julle.” DKvDE 880.2
“Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na My hande en My voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle Sy hande en Sy voete.” DKvDE 881.1
Hulle het Sy hande en voete bekyk wat deur die wrede spykers geskend is. Hulle het Sy stem herken, soos geen ander wat hulle ooit gehoor het nie. “En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet ... En die dissipels was bly toe hulle die Here sien.” Geloof en vreugde het die plek van ongeloof ingeneem en met gevoelens wat in geen woorde uitgedruk kon word nie, het hulle hul opgestane Verlosser herken. DKvDE 881.2
Met die geboorte van Jesus het die engel aangekondig: “Vrede op aarde, aan die mense ‘n welbehae.” En nou, met Sy eerste verskyning aan die dissipels na Sy opstanding, het die Heiland hulle met die heilige woorde aangespreek: “Vrede vir julle.” Jesus is altyd bereid om vrede te spreek tot siele wat met twyfel en vrees belas is. Hy wag vir ons om die deur van ons hart vir Hom oop te maak en te sê: Bly by ons. Hy sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou en hy met My.” (Openbaring 3:20). DKvDE 881.3
Die opstanding van Jesus was ‘n tipe van die laaste opstanding van almal wat in Hom ontslaap het. Die gelaat van die opgestane Verlosser, Sy houding, Sy spraak, was alles aan Sy dissipels bekend. Soos Jesus uit die dood opgestaan het, sal almal wat in Hom ontslaap het, weer opstaan. Ons sal ons vriende ken, net soos die dissipels Jesus geken het. Al was hulle in hierdie verganklike lewe misvorm, sieklik of geskend, sal hulle in volmaakte gesondheid en simmetrie opstaan; tog sal hul identiteit in hul verheerlikte liggaam volkome bewaar bly. Dan sal ons ken net soos ons geken word. (Sien 1 Korinthiërs 13:12). In ‘n gelaat wat straal met die lig wat van die gelaat van Jesus skyn, sal ons die gelaatstrekke van ons geliefdes herken. DKvDE 881.4
Toe Jesus Sy dissipels ontmoet het, het Hy hulle aan die woorde wat Hy voor Sy dood aan hulle gesê het herinner, dat alles vervul moes word soos in die wet van Moses en in die profete en in die Psalms aangaande Hom geskryf is. “Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan en bekering en vergewing van sondes in Sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge.” DKvDE 882.1
Die dissipels het die aard en omvang van hul werk begin besef. Hulle moes die wonderlike waarhede wat Christus aan hulle toevertrou het, aan die wêreld verkondig. Die gebeure van Sy lewe, Sy dood en opstanding, die profesieë wat op hierdie gebeure gewys het, die heiligheid van die wet van God, die verborgenhede van die verlossingsplan, die mag van Jesus om sonde te vergewe-van al hierdie dinge was hulle getuies en moes dit aan die wêreld bekend maak. Hulle moes die evangelie van vrede en verlossing deur bekering en die krag van die Heiland verkondig. DKvDE 882.2
En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: “Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.” Die Heilige Gees was nog nie ten volle gemanifesteer nie; want Christus was nog nie verheerlik nie. Die meer oorvloedige uitstorting van die Heilige Gees het eers ná Christus se Hemelvaart plaasgevind. Eers nadat dit ontvang was, kon die dissipels die opdrag uitvoer om die evangelie aan die wêreld te verkondig. Maar die Gees is nou vir 'n spesifieke doel gegee. Voordat die dissipels hul amptelike pligte in verband met die kerk kon nakom, het Christus Sy Gees op hulle geblaas. Hy het aan hulle ‘n baie heilige vertroue gegee en wou hulle beïndruk met die feit dat hierdie werk nie sonder die Heilige Gees verrig kon word nie. DKvDE 882.3
Die Heilige Gees is die asem van geestelike lewe in die siel. Om die Gees oor te dra, is om die lewe van Christus oor te dra. Dit deurdrenk die ontvanger met die eienskappe van Christus. Slegs diegene wat so van God leer, diegene wat die innerlike werking van die Gees besit en in wie se lewe die lewe van Christus geopenbaar word, kan as verteenwoordigers staan om namens die kerk te dien. DKvDE 883.1
“As julle die mense hulle sondes vergewe...” het Christus gesê, “...dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.” Hier verleen Christus geen vryheid aan enigeen om ‘n oordeel oor ‘n ander te vel nie. In die Bergpredikasie het Hy dit verbied. Dit is God se voorreg. Maar Hy plaas ‘n verantwoordelikheid op die kerk in sy georganiseerde hoedanigheid vir die individuele lidmate. Teenoor diegene wat in sonde verval, het die kerk ‘n plig om te waarsku, te onderrig en indien moontlik, te herstel. “Weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering.” (2 Timotheus 4:2). Handel getrou met wandade. Waarsku elke siel wat in gevaar verkeer. Laat niemand homself mislei nie. Noem sonde op sy naam. Verklaar wat God gesê het met betrekking tot leuens, Sabbatskending, diefstal, afgodery en elke ander kwaad, “...dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.” (Galasiërs 5:21). As hulle in sonde volhard, word die oordeel wat julle uit die Woord van God gespreek het, uit die hemel oor hulle uitgespreek. In die keuse om te sondig, verloën hulle Christus; die kerk moet toon dat hulle dade nie goedgekeur word nie, anders doen sy self die Here ‘n oneer aan. Sy moet van sonde sê wat God daaroor sê. Sy moet dit hanteer soos God voorskryf en haar optrede sal in die hemel bekragtig word. Wie die gesag van die kerk minag, minag die gesag van Christus self. DKvDE 883.2
Maar daar is ‘n helderder kant van die prentjie. “As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe.” Laat dit die hoogste plek in ons gedagtes beklee. Laat elke oog op Christus gerig wees in ons arbeid vir die sondaar. Laat die herders sorgvuldig vir die kudde van die Here sorg. Laat hulle met die dwalendes praat van die vergewende genade van die Heiland. Laat hulle die sondaar aanmoedig om hom te bekeer en om in Hom wat kan vergewe te glo. Laat hulle op die gesag van die woord van God verklaar: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:9). Almal wat berou het, het die versekering: “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.” (Miga 7:19). DKvDE 884.1
Laat die kerk die bekering van die sondaar met dankbare harte aanvaar. Laat die ootmoedige uit die duisternis van ongeloof in die lig van geloof en geregtigheid gelei word. Laat sy bewende hand in die liefdevolle hand van Jesus geplaas word. So ‘n vergifnis word in die hemel bekragtig. DKvDE 884.2
Alleenlik in hierdie opsig het die kerk die mag om die sondaar vry te spreek. Vergifnis van sondes kan slegs deur die verdienste van Christus verkry word. Aan geen mens, aan geen liggaam van mense, is die mag gegee om die siel van skuld te bevry nie. Christus het Sy dissipels beveel om die vergifnis van sondes in Sy Naam onder alle nasies te verkondig; maar uit hul eie kon hulle nie een vlek van sonde verwyder nie. Die Naam van Jesus is die enigste “...Naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word.” (Handelinge 4:12). DKvDE 884.3
Toe Jesus die dissipels die eerste keer in die bovertrek ontmoet het, was Thomas nie saam met hulle nie. Hy het die tyding van die ander verneem en het volop bewyse ontvang dat Jesus opgestaan het; maar neerslagtigheid en ongeloof het sy hart gevul. Toe hy die dissipels hoor vertel van die wonderbaarlike manifestasies van die opgestane Verlosser, het dit hom net in dieper wanhoop gedompel. As Jesus werklik uit die dood opgestaan het, was daar geen verdere hoop op ‘n letterlike aardse koninkryk nie. En dit het sy eer gekrenk om te dink dat sy Meester Homself aan al die dissipels behalwe aan homself openbaar het. Hy was vasbeslote om nie te glo nie en ‘n hele week lank het hy in sy ellende gebroei wat, in teenstelling met die hoop en geloof van sy broeders, al donkerder gelyk het. DKvDE 884.4
Gedurende hierdie tyd het hy herhaaldelik verklaar: “As ek nie in Sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in Sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Hy wou nie deur die oë van sy broeders kyk of ‘n geloof beoefen wat op hul getuienis berus nie. Hy het sy Here innig liefgehad, maar het toegelaat dat jaloesie en ongeloof sy hart en gees oorheers. DKvDE 885.1
'n Aantal dissipels het die bekende bovertrek nou hul tydelike tuiste gemaak en saans het almal behalwe Thomas daar bymekaargekom. Een aand het Thomas besluit om die ander te ontmoet. Ondanks sy ongeloof, het hy ‘n vae hoop gekoester dat die goeie tyding waar was. Terwyl die dissipels hul aandete geniet het, het hulle oor die bewyse wat Christus hulle uit die profesieë gegee het gesels. “En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle!” DKvDE 885.2
Toe wend Hy Hom na Thomas en sê: “Bring jou vinger hier en kyk na My hande; en bring jou hand en steek dit in My sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.” Hierdie woorde het getoon dat Hy bekend was met die gedagtes en woorde van Thomas. Die twyfelende dissipel het geweet dat nie een van sy metgeselle Jesus ‘n week lank gesien het nie. Hulle kon die Meester nie van sy ongeloof vertel het nie. Hy het die Een voor hom as sy Here herken. Hy het geen verdere bewyse verlang nie. Sy hart het van blydskap gejubel en hy het hom aan die voete van Jesus neergewerp en uitgeroep: “My Here en my God.” DKvDE 885.3
Jesus het sy erkenning aanvaar maar Hom liggies oor sy ongeloof betig: “Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” Thomas se geloof sou Christus meer vreugde verskaf het as hy gewillig was om op die getuienis van sy broeders te glo. Indien die wêreld tans die voorbeeld van Thomas sou volg, sou nie een glo tot verlossing nie; want almal wat Christus aanneem, moet dit op die getuienis van ander doen. DKvDE 886.1
Baie mense wat twyfel, verontskuldig hulleself deur te sê dat hulle sou glo as hulle die bewyse gehad het wat Thomas van sy metgeselle gehad het. Hulle besef nie dat hulle nie slegs daardie getuienis het nie, maar veel meer. Baie wat, soos Thomas, wag totdat alle moontlike twyfel verwyder word, sal nooit hul doel verwesenlik nie. Geleidelik verval hulle dieper in ongeloof. Diegene wat die gewoonte aankweek om slegs die donker kant raak te sien en wat murmureer en kla, besef nie wat hulle doen nie. Hulle saai saad van twyfel en hulle sal ‘n oes van twyfel maai. In ‘n tyd wanneer geloof en vertroue van die grootste belang is, sal baie mense aldus magteloos wees om te hoop en te glo. DKvDE 886.2
In sy handelswyse met Thomas, het Jesus Sy volgelinge ‘n les geleer. Sy voorbeeld toon hoe ons diegene, wie se geloof swak is en wat hulle twyfel prominent maak, moet hanteer. Jesus het Thomas nie met verwyte oorweldig nie en het ook nie met hom gestry nie. Hy het Homself aan die twyfelaar geopenbaar. Thomas was heeltemal onredelik om die voorwaardes vir sy geloof voor te skryf, maar Jesus het al die hindernisse met Sy groothartige liefde en bedagsaamheid afgebreek. Ongeloof word selde met ‘n getwis oorwin. Dit neig eerder na verdediging en vind nuwe steun en verskonings. Maar laat Jesus, in Sy liefde en genade, as die gekruisigde Verlosser geopenbaar word en van baie onwillige lippe sal die erkenning van Thomas gehoor word: “My Here en my God.” DKvDE 886.3