Die Koning van die Eeue

84/88

Hoofstuk 83—Die Emmausgangers *

Laat die middag van die opstandingsdag was twee dissipels op pad na Emmaus, ‘n klein dorpie twaalf kilometer van Jerusalem af. Hierdie dissipels het nie ‘n prominente plek in Christus se bediening gehad nie, maar het opreg in Hom geglo. Hulle het na die stad gekom om die Pasga te vier en was hewig ontsteld oor die gebeure wat onlangs plaasgevind het. Hulle het die oggend die tyding van die verwydering van Christus se liggaam uit die graf verneem en ook die berig van die vroue wat die engele gesien en Jesus ontmoet het. Hulle was tans op pad huis toe om te peins en te bid. Hulle het bedroef voortgestap en oor die tonele van die verhoor en kruisiging gesels. Nooit tevore was hulle so uiters ontmoedig nie. Sonder hoop en sonder geloof het hulle in die skaduwee van die kruis gewandel. DKvDE 874.1

Hulle het nie ver op hul reis gevorder, toe ‘n Vreemdeling by hulle aangesluit het nie, maar hulle was so in hul somber gedagtes en teleurstelling verdiep, dat hulle Hom nie noukeurig waargeneem het nie. Hulle het hul gesprek voortgesit en die gedagtes van hul harte uitgespreek. Hulle het oor die lesse wat Christus geleer het en wat hulle nie kon begryp nie, geredeneer. Terwyl hulle oor die gebeure wat plaasgevind gepraat het, wou Jesus hulle graag vertroos. Hy het hul droefheid gesien; Hy het die teenstrydige, verwarrende idees wat in hul gedagtes opgekom het begryp: Kan hierdie Man, wat toegelaat het dat Hy so verneder word, die Christus wees? Hulle hartseer het geen perke geken nie en hulle het geween. Jesus het geweet dat hulle harte met innige liefde aan Hom gebonde was en Hy het verlang om hul trane af te vee en hulle met vreugde en blydskap te vul. Maar eers moes Hy hulle lesse leer wat hulle nooit sou vergeet nie. DKvDE 874.2

“En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef? En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen ‘n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?” Hulle het Hom van hul teleurstelling aangaande hul Meester vertel, “...wat ‘n Profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk... ” maar, “...hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het.” Hulle harte was seer van teleurstelling en met bewende lippe het hulle bygevoeg: “En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het.” DKvDE 875.1

Vreemd dat hierdie dissipels nie die woorde van Christus onthou het en besef het dat Hy die gebeure voorspel het nie! Hulle het nie besef dat die laaste deel van Sy voorspelling net so seker vervul sou word soos die eerste nie en dat Hy op die derde dag weer sou opstaan. Dit was die deel wat hulle moes onthou het. Die priesters en owerstes het dit nie vergeet nie. Op die dag “...na die voorbereiding...” het die owerpriesters en die Fariseërs na Pilatus gegaan en gesê: “My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan Ek op.” (Mattheus 27:62, 63). Maar die dissipels het hierdie woorde nie onthou nie. DKvDE 875.2

“En Hy sê vir hulle: O onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in Sy heerlikheid ingaan nie?” Die dissipels het gewonder wie die vreemdeling kon wees wat so tot hul siele kon deurdring en met soveel erns, deernis en meegevoel en met soveel hoop kon praat. Vir die eerste keer sedert Christus se verraad, het hulle weer hoop begin koester. Dikwels het hulle ernstig na hul mede-reisgenoot gekyk en gedink dat Sy woorde dieselfde woorde was wat Christus sou gespreek het. Hulle was met verbasing vervul en hul harte het vinniger, met ‘n blye verwagting, begin klop. DKvDE 875.3

Beginnende by Moses, die alfa van die Bybelgeskiedenis, het Christus uit die Skrifte al die dinge aangaande Homself uiteengesit. As Hy Homself aanvanklik aan hulle bekend gemaak het, sou hul harte tevrede gewees het. In die volheid van hul vreugde sou hulle na niks meer gehunker het nie. Maar dit was nodig dat hulle moes verstaan hoe die tipes en profesieë van die Ou Testament van Hom getuig het. Hierop moes hul geloof gevestig word. Christus het nie ‘n wonderwerk verrig om hulle te oortuig nie, maar Sy eerste taak was om die Skrif aan hulle te verklaar. Hulle het Sy dood as die vernietiging van al hul hoop gesien. Nou het Hy uit die profete getoon dat juis dit die sterkste bewys vir hulle geloof was. DKvDE 876.1

In die onderrig van hierdie dissipels, het Jesus die belangrikheid van die Ou Testament as getuie van Sy sending getoon. Baie belydende Christene verwerp die Ou Testament en sê dat dit nie meer van toepassing is nie. Maar dit is nie wat Christus leer nie. Hy het dit so hoog geag dat Hy op ‘n keer gesê het: “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Lukas 16:31). DKvDE 876.2

Dit is die stem van Christus wat deur die patriarge en profete spreek, van die dae van Adam tot met die slottonele van tyd. Die Verlosser word net so duidelik in die Ou Testament geopenbaar soos in die Nuwe. Dit is die lig uit die profetiese verlede wat die lewe van Christus en die leer van die Nuwe Testament met helderheid en skoonheid na vore bring. Die wonderwerke van Christus is ‘n bewys van Sy Goddelikheid; maar ‘n sterker bewys dat Hy die Verlosser van die wêreld is, word gevind deur die profesieë van die ou Testament met die geskiedenis van die Nuwe te vergelyk. DKvDE 876.3

Deur die redenasie uit die profesieë, het Christus Sy dissipels ‘n korrekte idee gegee van wat Hy as mens moes verteenwoordig. Hulle verwagting van ‘n Messias wat Sy troon en koninklike gesag in ooreenstemming met die begeertes van mense moes opneem, was misleidend. Dit sou inmeng met die korrekte ontsag vir Sy afkoms vanuit die hoogste tot die laagste posisie wat beklee kon word. Christus wou hê dat die denke van Sy dissipels in elke opsig rein en waar moet wees. Hulle moes sover moontlik met betrekking tot die beker van lyding wat aan Hom toebedeel is, verstaan. Hy het aan hulle getoon dat die verskriklike konflik wat hulle nog nie kon begryp nie, die vervulling van die verbond was wat voor die grondlegging van die wêreld gesluit is. Christus moes sterf, soos elke oortreder van die wet moet sterf as hy in sonde voortleef. Dit moes alles gebeur, maar dit sou nie in ‘n nederlaag eindig nie, maar in ‘n glorieryke, ewige oorwinning. Jesus het vir hulle gesê dat alles moontlik gedoen moet word om die wêreld van sonde te red. Sy volgelinge moet leef soos Hy geleef het en werk soos Hy gewerk het, met intense, volhardende inspanning. DKvDE 876.4

So het Christus met Sy dissipels gesels en hulle verstand geopen om die Skrif te verstaan. Die dissipels was moeg, maar die gesprek het nie verflou nie. Woorde van lewe en gerusstelling het uit die mond van die Redder gekom. Maar steeds was hul oë gebind. Toe Hy hulle vertel van die omverwerping van Jerusalem, het hulle die gedoemde stad met droefheid aanskou. Maar steeds het hulle min vermoede gehad van wie hulle mede-reisgenoot was. Hulle het nie besef dat die Onderwerp van hul bespreking langs hulle loop nie; want Christus het na Homself verwys asof Hy ‘n ander persoon was. Hulle het gedink Hy was een van diegene wat by die groot fees aan diens was en wat nou na sy huis terugkeer. Hy het net so versigtig soos hulle oor die growwe klippe geloop en af en toe saam met hulle gaan staan om te rus. So het hulle met die bergagtige pad voortgegaan, terwyl die Een wat binnekort Sy posisie aan die regterhand van God sou inneem en wat sou sê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde...” (Mattheus 28:18) langs hulle gestap het. DKvDE 877.1

Terwyl hulle voortgestap het, het die son ondergegaan en het die arbeiders in die veld reeds hul werk gestaak voordat die reisigers hul bestemming bereik het. Toe die dissipels op die punt was om hul huis binne te gaan, het dit voorgekom asof die vreemdeling Sy reis wou voortsit. Maar die dissipels het aangetrokke tot Hom gevoel. Hulle siele het gehonger om meer van Hom te hoor. “Bly by ons...” het hulle gesê. Dit het nie gelyk asof Hy die uitnodiging gaan aanvaar nie, maar hulle het by Hom aangedring en gesê: “Dit is amper aand en die dag het gedaal.” Christus het aan hierdie versoek toegegee “...en Hy het ingegaan om by hulle te bly.” DKvDE 878.1

As die dissipels nie aangedring het op hul uitnodiging nie, sou hulle nie geweet het dat hul mede-reisgenoot die opgestane Here was nie. Christus dwing nooit Sy teenwoordigheid op iemand af nie. Hy stel belang in diegene wat Hom nodig het. Hy sal met graagte die nederigste huis binnegaan en die nederigste hart opbeur. Maar as mense te ongeërg is om aan die hemelse Gas te dink, of Hom vra om by hulle te bly, gaan Hy verder. So ly baie groot verlies. Hulle ken Christus net so min as wat die dissipels Hom geken het toe Hy saam met hulle gewandel het. DKvDE 878.2

Die eenvoudige aandete van brood, is vinnig voorberei. Dit is aan die gas voorgesit, wat aan die hoof van die tafel gaan sit het. Toe steek Hy Sy hande uit om die voedsel te seën. Die dissipels het met verbasing terugdeins. Hul metgesel het Sy hande op presies dieselfde wyse as wat hul Meester vroeër gedoen het uitgesprei. Hulle het weer gekyk en toe sien hulle die merke van die spykers in Sy hande! Albei het gelyktydig uitgeroep: “Dit is die Here Jesus! Hy het uit die dode opgestaan!” DKvDE 878.3

Hulle het opgespring om hulle voor Sy voete neer te werp en Hom te aanbid, maar Hy het uit hulle sig verdwyn. Hulle het na die plek, wat deur die Een wie se liggaam die afgelope tyd in die graf gelê het beset was, gekyk en vir mekaar gesê: “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” DKvDE 878.4

Maar met hierdie wonderlike nuus om mee te deel, kon hulle nie verder sit en gesels nie. Hulle moegheid en honger het gewyk. Hulle het hul maaltyd onaangeraak gelaat en vol vreugde dadelik weer vertrek op dieselfde pad waarmee hulle gekom het en hulle gehaas om die tyding aan die dissipels in die stad te bring. Op sommige plekke was die pad nie veilig nie, maar hulle het oor steil plekke geklim en op die gladde rotse gegly. Hulle het nie gesien en besef dat hulle die beskerming het van Hom, wat saam met hulle op die pad gereis het nie. Met hul pelgrimstaf in die hand, het hulle voortgehaas en begeer om vinniger te beweeg as wat hulle kon waag. Hulle het die pad byster geraak, maar dit weer gevind. Soms het hulle gehardloop, soms gestruikel, maar het vorentoe gebeur, met hul onsigbare Metgesel die hele pad naby hulle. DKvDE 879.1

Die nag was donker, maar die Son van Geregtigheid het oor hulle geskyn. Hulle harte het gespring van vreugde. Dit was asof hulle in ‘n nuwe wêreld verkeer het. Christus is ‘n lewende Verlosser. Hulle het nie meer as ‘n afgestorwene oor Hom getreur nie. Christus het opgestaan, het hulle telkens herhaal. Dit is die boodskap wat hulle na die treurendes wou bring. Hulle moes aan hulle die wonderlike nuus van die reis na Emmaus vertel. Hulle moes vertel Wie langs die pad by hulle aangesluit het. Hulle het die grootste boodskap wat nog ooit aan die wêreld verkondig is gedra, ‘n blye boodskap waarop die hoop van die mensdom vir tyd en ewigheid gevestig is. DKvDE 879.2