Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 82—“Waarom Ween Jy?” *
Die vroue wat by die kruis van Christus gestaan het, het gewag dat die ure van die Sabbat moet verbygaan. Baie vroeg op die eerste dag van die week, het hulle na die graf gegaan en kosbare speserye saamgeneem om die Heiland se liggaam te salf. Hulle het nie aan Sy opstanding uit die dood gedink nie. Die son van hul hoop het ondergegaan en die nag het in hul harte aangebreek. Terwyl hulle geloop het, het hulle Christus se werke van barmhartigheid en Sy trooswoorde herhaal. Maar hulle het Sy woorde: “Ek sal julle weer sien...” (Johannes 16:22) nie onthou nie. DKvDE 867.1
Onbewus van wat selfs op daardie oomblik besig was om plaas te vind, het hulle die tuin genader en gesê: “Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol?” Hulle het geweet dat hulle die steen nie sou kon wegrol nie, maar tog het hulle aangestap. En skielik is die hemele verlig met ‘n heerlikheid wat nie van die opkomende son afkomstig was nie. Die aarde het gebewe. Hulle het gesien dat die groot steen weggerol was. Die graf was leeg! DKvDE 867.2
Die vroue het nie almal uit dieselfde rigting na die graf gekom nie. Maria Magdalena het die plek eerste bereik; toe sy sien dat die steen verwyder is, het sy haar gehaas om die dissipels te gaan vertel. Intussen het die ander vroue opgedaag. ‘n Lig het om die graf geskyn, maar die liggaam van Jesus was nie daar nie. Terwyl hulle nog by die plek talm, sien hulle skielik dat hulle nie alleen is nie. ‘n Jong man in glinsterende gewaad het by die graf gesit. Dit was die engel wat die steen weggerol het. Hy het die gedaante van ‘n mens aangeneem om nie hierdie vriende van Jesus te ontstel nie. Maar die lig van die hemelse heerlikheid het hom steeds omring en die vroue was bevrees. ‘Hulle het omgedraai om te vlug, maar die engel se woorde het hulle in hul voetstappe gekeer. “Moenie verskrik wees nie...” het hy gesê, “...want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir Sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode.” Hulle het weer in die graf gekyk en weer het hulle die wonderlike tyding gehoor. Daar was nog ‘n engel in die gedaante van ‘n mens en hy sê: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was: Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan.” DKvDE 867.3
Hy het opgestaan! Hy het opgestaan! Die vroue het die woorde oor en oor herhaal. Die speserye vir die salwing was nou nie meer nodig nie. Die Heiland lewe en is nie dood nie. Toe onthou hulle dat toe Hy van Sy dood gepraat het, Hy gesê het dat Hy weer sou opstaan. Wat ‘n dag was dit vir die wêreld! Die vroue het die graf haastig verlaat, “...met vrees en groot blydskap; en gehardloop om dit aan Sy dissipels te vertel.” DKvDE 868.1
Maria het nie die goeie tyding gehoor nie. Sy is met ‘n droewige boodskap na Petrus en Johannes: “Hulle het die Here uit die graf weggeneem en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Die dissipels het hulle na die graf gehaas en dit gevind soos Maria gesê het. Hulle het die grafdoeke gesien, maar het nie hulle Here gevind nie. Maar selfs hier was bewyse dat Hy opgestaan het. Die grafdoeke is nie onverskillig opsy gegooi nie, maar is sorgvuldig opgevou, elkeen op ‘n aparte plek. Johannes “...het gesien en geglo.” Hy het nog nie die Skrif verstaan dat Christus uit die dood moes opstaan nie; maar nou het hy die Heiland se voorspelling van Sy opstanding onthou. DKvDE 868.2
Dit was Christus self wat die grafdoeke met soveel sorg neergesit het. Toe die magtige engel na die graf neergedaal het, het ‘n ander een hom by hom aangesluit, een wat saam met sy groep oor die liggaam van die Here gewaak het. Toe die engel uit die hemel die steen weggerol het, het die ander een die graf binnegegaan en die grafdoeke om Jesus se liggaam losgemaak. Maar dit was die Heiland se hand wat elkeen opgevou en dit op sy plek neergesit het. In die oë van Hom wat ster en atoom lei, is niks onbelangrik nie. Orde en volmaaktheid word in al Sy werke gesien. DKvDE 868.3
Maria het Petrus en Johannes na die graf gevolg; maar nadat hulle na Jerusalem teruggekeer het, het sy agtergebly. Toe sy in die leë graf kyk, het is sy met droefheid oorkom. Toe sy ingaan, sien sy die twee engele, een by die hoof en een by die voete waar Jesus gelê het. “Vrou, waarom ween jy?” het hulle haar gevra. “Omdat hulle my Here weggeneem het...” het sy gesê “...en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” DKvDE 869.1
Toe draai sy haar weg van die engele, met die idee dat sy iemand moet vind wat haar kan vertel wat met die liggaam van Jesus gedoen is. ‘n Ander stem het haar aangespreek: “Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy?” Deur haar betraande oë het Maria die gestalte van ‘n man gesien en onder die indruk dat dit die tuinier is, sê sy: “Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” As hierdie rykmansgraf te eerbaar vir Christus beskou was om in te rus, sal sy self vir Hom ‘n rusplek voorsien. Daar was ‘n graf wat deur Christus se eie stem vakant gemaak is, die graf waarin Lasarus gelê het. Kon sy nie haar Here daarin begrawe nie? Sy het gevoel dat die versorging van Sy kosbare liggaam vir haar ‘n groot troos in haar hartseer sou wees. DKvDE 869.2
Maar nou het Jesus in sy eie bekende stem vir haar gesê: “Maria.” Toe het sy geweet dat dit nie ‘n vreemdeling is wat haar aanspreek nie en toe sy haar omdraai, sien sy die lewende Christus voor haar. In haar blydskap het sy vergeet dat Hy gekruisig was. Sy het vorentoe gespring asof sy Sy voete wou omhels en gesê: “Rabboenie!” Maar Christus het Sy hand opgesteek en gesê: “Moenie My vertraag nie; want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na My broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.” En Maria is met die blye boodskap daar weg na die dissipels. DKvDE 869.3
Jesus het geweier om hulde van Sy volgelinge te ontvang voordat Hy die versekering gehad het dat Sy offer deur die Vader aanvaar is. Hy het na die hemelse howe opgevaar en van God self die versekering ontvang dat Sy versoening vir die sondes van die mens meer as voldoende was en dat almal deur Sy bloed die ewige lewe sou kon verkry. Die Vader het Sy verbond wat Hy met Christus gesluit het bekragtig; dat Hy berouvolle en gehoorsame mense sal ontvang en sal liefhê soos Hy Sy Seun liefhet. Christus moes Sy werk voltooi en Sy gelofte vervul om “...sterwelinge skaarser [te] maak as fyn goud en mense as goud van Ofir.” (Jesaja 13:12). Alle mag in hemel en op aarde is aan die Vors van die lewe gegee en Hy het teruggekeer na Sy volgelinge in ‘n sondige wêreld, sodat Hy van Sy mag en heerlikheid aan hulle kon oordra. DKvDE 870.1
Terwyl die Heiland in die teenwoordigheid van God was en gawes vir Sy kerk ontvang het, het die dissipels aan sy leë graf gedink en getreur en geween. Die dag wat ‘n dag van vreugde in die ganse hemel was, was vir die dissipels ‘n dag van onsekerheid, verwarring en vertwyfeling. Hulle ongeloof in die getuienis van die vroue het bewys gelewer van hoe laag hul geloof gedaal het. Die tyding van Christus se opstanding was so anders as wat hulle verwag het, dat hulle dit nie kon glo nie. Dit was te goed om waar te wees, het hulle gedink. Hulle het so baie van die leerstellings en sogenaamde wetenskaplike teorieë van die Sadduseërs gehoor dat hulle begrip van die opstanding uit die dood vaag in hul gedagtes was. Hulle het nouliks geweet wat die opstanding uit die dood beteken. Hulle kon die grootsheid van die onderwerp nie inneem nie. DKvDE 870.2
“Maar gaan sê vir Sy dissipels en vir Petrus...” het die engele vir die vroue gesê, “...dat Hy voor julle uitgaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” Hierdie engele was gedurende Sy lewe op aarde saam met Christus as beskermengele. Hulle was getuies van Sy verhoor en kruisiging. Hulle het Sy woorde aan Sy dissipels gehoor. Dit het geblyk uit hul boodskap aan die dissipels en moes hulle van die waarheid oortuig het. Sulke woorde kon slegs van die boodskappers van hul opgestane Here gekom het. DKvDE 871.1
“Sê vir sy dissipels en vir Petrus...” het die engele gesê. Sedert die dood van Christus was Petrus neergeboë van berou. Sy skandelike ontkenning van die Here en die Heiland se blik van liefde en leed, was steeds voor hom. Van al die dissipels het hy die bitterste gely. Aan hom word die versekering gegee dat sy berou aanvaar word en sy sonde vergewe is. Hy word by die naam genoem. DKvDE 871.2
“Sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uitgaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien.” Al die dissipels het Jesus verlaat en die oproep om Hom weer te ontmoet, sluit almal in. Hy het hulle nie verstoot nie. Toe Maria Magdalena vir hulle sê dat sy die Here gesien het, het sy die oproep dat hulle Hom in Galiléa moet ontmoet herhaal. En vir ‘n derde keer is die boodskap aan hulle gestuur. Nadat Hy na die Vader opgevaar het, het Jesus aan die ander vroue verskyn en gesê: “Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom. En Jesus sê vir hulle: moenie vrees nie. Gaan heen en vertel My broeders dat hulle na Galiléa moet gaan; en daar sal hulle My sien.” DKvDE 871.3
Christus se eerste taak op aarde na Sy opstanding was om Sy dissipels van Sy volgehoue liefde en tere agting vir hulle te oortuig. Om aan hulle te bewys dat Hy hul lewende Verlosser is, dat Hy die boeie van die graf verbreek het en nie meer deur die vyandelike dood gevange gehou kon word nie; en om aan hulle te toon dat Hy dieselfde liefde vir hulle het as toe Hy saam met hulle as hul geliefde Leraar was, het Hy herhaaldelik aan hulle verskyn. Hy sou die bande van liefde nog hegter om hulle bind. “Gaan sê vir My broeders...” het Hy gesê, “...dat hulle My in Galiléa sal sien.” DKvDE 871.4
Toe die dissipels van hierdie afspraak wat met soveel beslistheid gegee is verneem, het hulle begin terugdink aan Christus se woorde wat Sy opstanding voorspel het. Maar selfs nou was hulle nie verheug nie. Hulle kon hul twyfel en onsekerheid nog nie afskud nie. Selfs toe die vroue verklaar het dat hulle die Here gesien het, wou die dissipels dit nie glo nie. Hulle het gedink dat hulle onder ‘n illusie verkeer. DKvDE 872.1
Dit het voorgekom asof die een probleem op die ander een gestapel word. Op die sesde dag van die week het hulle hul Meester sien sterf; op die eerste dag van die volgende week bevind hulle hulself van Sy liggaam ontneem en is hulle daarvan beskuldig dat hulle dit gesteel het om die volk te mislei. Hulle het moed verloor dat hulle ooit die vals indrukke wat teen hulle veld gewen het kon regstel. Hulle was bang vir die vyandigheid van die priesters en die toorn van die volk. Hulle het na die teenwoordigheid van Jesus, wat hulle uit alle moeilikhede gehelp het, verlang. DKvDE 872.2
Hulle het dikwels die woorde herhaal: “En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos.” (Lukas 24:21). Eensaam en siek van gees, het hulle Sy woorde onthou: “As hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!” (Lukas 23:31). Hulle het mekaar in die bovertrek ontmoet en die deure op slot en grendel gesit, wetende dat die lot van hul geliefde Leraar hulle enige tyd te beurt kon val. DKvDE 872.3
En al die tyd kon hulle hul verbly het in die kennis van ‘n opgestane Verlosser. In die tuin het Maria gestaan en huil toe Jesus naby haar was. Haar oë was so deur trane verblind dat sy Hom nie herken het nie. En die harte van die dissipels was so bedroef dat hulle nie die engele se boodskap of die woorde van Christus self wou glo nie. DKvDE 872.4
Hoe baie doen nie steeds wat die dissipels gedoen het nie! Hoe baie eggo Maria se wanhopige uitroep: “Hulle het die Here ... weggeneem en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie!” Tot hoeveel mense kan die woorde van die Heiland gespreek word: “Waarom ween jy? Wie soek jy?” Hy is naby hulle, maar hul traanverblinde oë sien Hom nie raak nie. Hy praat met hulle, maar hulle verstaan nie. DKvDE 873.1
Ag, dat die geboë hoof opgelig word, sodat die oë kan oopgaan om Hom te aanskou en sodat die ore na Sy stem kan luister! “Gaan haastig, sê, vir die dissipels: Hy het opgestaan.” Laat hulle nie na Josef se nuwe graf kyk wat met ‘n groot steen toegemaak en met die Romeinse seël verseël is nie. Christus is nie daar nie. Moenie na die leë graf kyk nie. Moenie treur soos die hopelose en hulpelose nie. Jesus leef en omdat Hy leef, sal ons ook lewe. Vanuit dankbare harte, met lippe wat met ‘n heilige vuur aangeraak is, laat die blye lied weerklink: Christus het opgestaan! Hy leef om voorbidding vir ons te doen. Gryp hierdie hoop vas en dit sal die siel soos ‘n seker, beproefde anker vashou. Glo en jy sal die heerlikheid van God aanskou. DKvDE 873.2