Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 81—“Hy Het Opgestaan”
Die nag van die eerste dag van die week het langsaam verbygegaan. Die donkerste uur, net voor dagbreek, het aangebreek. Christus was nog steeds ‘n gevangene in Sy eng graf. Die groot steen was op sy plek; die Romeinse seël ongeskonde; die Romeinse soldate het op wag gestaan. En daar was ook onsigbare toeskouers. Daar was ‘n leërskare van bose engele vergader. As dit moontlik was, sou die vors van die duisternis met sy afvallige leër die graf wat die Seun van God vasgehou het, vir ewig verseël het. Maar ‘n hemelse leërskare het die graf omring. Magtige engele het die graf bewaak en gewag om die Vors van die Lewe te verwelkom. DKvDE 859.1
“En daar kom ‘n groot aardbewing, want ‘n engel van die Here het uit die hemel neergedaal.” Geklee met die arsenaal van God, het hierdie engel die hemelse howe verlaat. Die helder strale van God se heerlikheid het voor hom uitgegaan en sy weg verlig. “Sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu. En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.” DKvDE 859.2
Priesters en owerstes, waar is die krag van jul wag nou? Dapper soldate wat vir geen menslike mag gevrees het nie, was soos gevangenes sonder swaard of spies. Die aangesig wat hulle aanskou het, was nie die gesig van ‘n sterflike kryger nie; dit was die gesig van die magtigste van die Here se leërskare. Dit is hierdie boodskapper wat die posisie beklee waaruit Satan geval het. Dit is hy wat die geboorte van Christus oor die heuwels van Betlehem aangekondig het. Die aarde het gesidder toe hy naderkom en die magte van die duisternis het gevlug en toe hy die steen wegrol, was dit asof die hemel op die aarde neerdaal. Die soldate het gesien hoe hy die steen verwyder asof dit ‘n klippie was en gehoor hoe hy roep: Seun van God, kom uit; U Vader roep U. Hulle het gesien hoe Jesus uit die graf voortkom en gehoor hoe Hy oor die geopende graf verklaar: “Ek is die opstanding en die lewe.” Terwyl Hy in majesteit en heerlikheid te voorskyn kom, het die engeleskaar in aanbidding voor die Verlosser neergebuig en Hom met lofsang verwelkom. DKvDE 859.3
'n Aardbewing het die uur aangedui toe Christus Sy lewe afgelê het en ‘n aardbewing het getuig van die oomblik toe Hy dit triomfantlik opgeneem het. Hy wat die dood en die graf oorwin het, het soos ‘n oorwinnaar uit die graf getree te midde van die geskud van die aarde, weerligstrale en die gedreun van donderweer. En wanneer Hy weer na die aarde terugkeer, laat Hy “...nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.” (Hebreërs 12:26). “Die aarde waggel geheel en al soos ‘n dronkaard en swaai heen en weer soos ‘n naghut.” (Jesaja 24:20). “Die hemel word inmekaar gerol soos ‘n boek...” (Jesaja 34:4); “...die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.” (2 Petrus 3:10). “Maar die Here sal ‘n toevlug wees vir Sy volk en ‘n skuilplek vir die kinders van Israel.” (Joël 3:16). DKvDE 860.1
Met die dood van Jesus het die soldate gesien hoe die aarde in die middel van die dag in duisternis gehul word; maar met die opstanding het hulle gesien hoe die helderheid van die engele die nag verlig en gehoor hoe die hemelse wesens met groot vreugde en triomfantlik sing: U het Satan en die magte van die duisternis verslaan; U het die dood in oorwinning verslind! DKvDE 860.2
Christus het verheerlik uit die graf voortgekom en die Romeinse wag het Hom aanskou. Hulle oë was op die gelaat van Hom, wie hulle so onlangs nog bespot en gesmaad het, vasgenael. In hierdie verheerlikte Wese het hulle die gevangene wat hulle in die regsaal gesien het, aanskou, die Een vir wie hulle ‘n doringkroon gevleg het. Dit was die Een wat sonder weerstand voor Pilatus en Herodes gestaan het, Sy liggaam deur géselhale oopgevlek. Dit is Hy wat aan die kruis vasgespyker was, vir wie die priesters en owerstes hul hoofde met selftevredenheid geskud het en gesê het: “Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.” (Mattheus 27:42). Dit is Hy wat in Josef se nuwe graf gelê is. ‘n Bevel uit die hemel het die gevangene bevry. Selfs al sou berge, opmekaar oor sy graf gestapel gewees het, sou dit Hom nie kon verhinder om te voorskyn te kom nie. DKvDE 860.3
By die aanblik van die engele en die verheerlikte Verlosser het die Romeinse wag bewusteloos en soos dooie mense geword. Nadat die hemelse optog vir hul oë verberg is, het hulle opgestaan en so vinnig as wat hul bewende ledemate hulle kon dra, na die poort van die tuin gehaas. Al struikelend soos dronk mense, het hulle hul na die stad gehaas en die wonderbaarlike nuus aan almal wat hulle teëgekom het vertel. Hulle was op pad na Pilatus, maar hulle berig is aan die Joodse owerhede oorgedra en die owerpriesters en owerstes het hulle ontbied om eers na hulle toe te kom. Die soldate was ‘n vreemde skouspel. Bewend van vrees, hul gesigte bleek, het hulle van die opstanding van Christus getuig. Die soldate het alles vertel, net soos hulle dit beleef het; hulle het nie tyd gehad om iets anders as die waarheid uit te dink of te praat nie. Pynlik het hulle bely: Dit was die Seun van God wat gekruisig is; ons het gehoor hoe ‘n engel Hom uitroep as die Majesteit van die hemel, die Erekoning. DKvDE 861.1
Die gesigte van die priesters het soos dié van dooies geword. Kajafas het probeer praat. Sy lippe het beweeg, maar hy het geen geluid geuiter nie. Die soldate was op die punt om die raadsaal te verlaat toe ‘n stem hulle terugroep. Kajafas het uiteindelik sy spraak teruggekry. Wag, wag, het hy gesê. “Vertel niemand van die dinge wat julle gesien het nie.” DKvDE 861.2
'n Leuenagtige verslag is toe aan die soldate gegee: “Julle moet sê...” het die priesters gesê, “...Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.” Hier het die priesters hulself te buite gegaan. Hoe kon die soldate sê dat die dissipels die liggaam gesteel het terwyl hulle geslaap het? Hoe sou hulle geweet het as hulle geslaap het? En as die dissipels skuldig bevind was aan die diefstal van die liggaam van Christus, sou die priesters nie die eerste gewees het om hulle te veroordeel nie? Of, as die wagte by die graf geslaap het, sou die priesters hulle nie dadelik by Pilatus gaan aankla het nie? DKvDE 861.3
Die soldate was met afgryse gevul met die idee dat hulle die aanklag dat hulle op hul pos geslaap het, oor hulle moes bring. Dit was ‘n oortreding wat met die dood strafbaar was. Moet hulle valse getuienis lewer, die mense mislei en hul eie lewens in gevaar stel? Het hulle nie die langdurige nagwag met slapelose waaksaamheid deurgebring nie? Hoe kon hulle voor die gereg staande bly as hulle, selfs ter wille van geld, meineed gepleeg het? DKvDE 862.1
Om die getuienis wat hulle gevrees het te verswyg, het die priesters belowe om die veiligheid van die wagte te verseker en gesê dat Pilatus net so min soos hulle sou wou gehad het dat die gerug versprei word. Die Romeinse soldate het hul integriteit vir geld aan die Jode verkoop. Hulle het voor die priesters verskyn, met ‘n las van opspraakwekkende waarheid; hulle is daar weg met ‘n las van geld en ‘n leuenagtige verslag wat die priesters vir hulle opgestel het. DKvDE 862.2
Intussen is die tyding van Christus se opstanding aan Pilatus gebring. Hoewel dit Pilatus was wat daarvoor verantwoordelik was dat Christus oorgelewer was om te sterf, was hy redelik onbesorg. Terwyl hy die Verlosser onwillig en met ‘n gevoel van medelye veroordeel het, het hy tot nou toe geen werklike wroeging ervaar nie. Vreesbevange het hy hom nou in sy huis afgesonder, vasberade om niemand te sien nie. Maar die priesters het hom gaan opsoek, aan hom die verhaal wat hulle versin het vertel en by hom aangedring om die versuim van plig van die wagte oor die hoof te sien. Voordat hy hiertoe ingestem het, het hy die wagte self ondervra. Hulle het, uit vrees vir hul veiligheid, dit nie gewaag om enigiets weg te steek nie en Pilatus het ‘n verslag van alles wat gebeur het uit hulle getrek. Hy het die saak nie verder gevoer nie, maar van toe af was daar geen vrede vir hom nie. DKvDE 862.3
Toe Jesus in die graf neergelê is, het Satan geseëvier. Hy het durf hoop dat die Heiland nie weer Sy lewe sou opneem nie. Hy het die liggaam van die Here geëis en sy wag om die graf gestasioneer en probeer om Christus gevange te hou. Hy was woedend toe sy engele met die aankoms van die hemelse boodskapper vlug. Toe hy Christus seëvierend uit die graf sien voortkom, het hy geweet dat sy koninkryk tot ‘n einde sou kom en dat hy uiteindelik sou sterf. DKvDE 863.1
Deur Christus om die lewe te bring, het die priesters hulleself die werktuie van Satan gemaak. Nou was hulle volkome in sy mag. Hulle was in ‘n net vasgevang waaruit daar geen ontvlugting was nie, behalwe om in hul stryd teen Christus te volhard. Toe hulle die verslag van Sy opstanding verneem, het hulle die toorn van die volk gevrees. Hulle het gemeen dat hul eie lewens in gevaar was. Hul enigste hoop was om Christus as ‘n bedrieër te bewys deur te ontken dat Hy opgestaan het. Hulle het die soldate omgekoop en Pilatus se swye verseker. Hulle het hul valse berig wyd en syd versprei. Maar daar was getuies wat hulle nie kon stilmaak nie. Baie het die soldate se getuienis van Christus se opstanding gehoor. En sommige van die ontslapenes wat saam met Christus opgestaan het, het aan baie verskyn en verklaar dat Hy opgestaan het. Tyding is aan die priesters gebring van mense wat hierdie mense wat uit die dood opgewek is gesien en hul getuienis gehoor het. Die priesters en owerstes het voortdurend gevrees dat hulle Christus dalk in die strate, of selfs in die privaatheid van hul eie huis, van aangesig tot aangesig sou teëkom. Hulle het onveilig gevoel. Slotte en grendels was maar ‘n karige beskerming teen die Seun van God. Dag en nag het daardie verskriklike toneel in die geregsaal, toe hulle uitgeroep het: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” gedurig voor hulle opgekom. (Mattheus 27:25). Die herinnering aan daardie toneel sou nooit weer by hulle vervaag nie. Nooit weer sou hulle hul hoofde in ‘n vreedsame nagrus op hul kussings neerlê nie. DKvDE 863.2
Toe die stem van die magtige engel by Christus se graf gehoor is wat sê: U Vader roep U, het die Heiland uit die graf, deur die lewe wat Hy in Homself gehad het, getree. Nou is Sy woorde bewaarheid: “... dat Ek my lewe aflê om dit weer te neem ... Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem.” (Johannes 10:17,18). Nou is die profesie wat Hy aan die priesters en owerstes gegee het, vervul: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.” (Johannes 2:19). DKvDE 864.1
Oor die oop graf van Josef het Christus triomfantelik verkondig: “Ek is die opstanding en die lewe.” Hierdie woorde kon slegs deur die Godheid geuiter word. Alle geskape wesens leef deur die wil en mag van God. Almal is afhanklike ontvangers van die lewe van God. Van die hoogste seraf tot die nietigste lewende organisme, almal word uit die Bron van die lewe aangevul. Net Hy wat een met God is, kon sê: “Ek het mag om My lewe neer te lê en Ek het mag om dit weer op te neem.” In Sy Goddelikheid besit Christus die mag om die bande van die dood te verbreek. DKvDE 864.2
Christus het uit die dood opgestaan as die eersteling van diegene wat ontslaap het. Hy was die antitipe van die eersteling-gerf en Sy opstanding het op dieselfde dag wat die eersteling-gerf voor die Here aangebied moes word, plaasgevind. Hierdie simboliese seremonie is al meer as ‘n duisend jaar lank volgehou. Die eerste ryp are is van die saailande ingesamel en wanneer die volk vir die Pasga na Jerusalem opgetrek het, is die eerste vrugte as dankoffer voor die aangesig van die Here beweeg. Nie voordat hierdie seremonie plaasgevind het kon die sekel ingeslaan en die oes ingesamel word nie. Die gerf wat aan God gewy was, het die oes voorgestel. So het Christus, as Eersteling, die groot geestelike oes wat vir die koninkryk van God ingesamel moes word, verteenwoordig. Sy opstanding is die tipe en waarborg van die opstanding van al die regverdige ontslapenes. “Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.” (1 Thessalonicense 4:14). DKvDE 864.3
Toe Christus opgestaan het, het Hy ‘n menigte gevangenes uit die graf gebring. Die aardbewing tydens Sy dood het hul grafte oopgeruk en toe Hy opgestaan het, het hulle saam met Hom opgestaan. Dit was diegene wat medearbeiders van God was en wat ten koste van hul lewens van die waarheid getuig het. Nou sou hulle getuies vir Hom, wat hulle uit die dode opgewek het, wees. DKvDE 865.1
Jesus het tydens Sy bediening die dooies opgewek. Hy het die seun van die weduwee van Nain, die owerste se dogter en Lasarus opgewek. Maar hulle was nie met onsterflikheid beklee nie. Nadat hulle opgewek was, was hulle steeds aan die dood onderhewig. Maar diegene wat met Christus se opstanding uit die grafte voortgekom het, is tot die ewige lewe opgewek. Hulle het saam met Hom as trofeë van Sy oorwinning oor die dood en die graf opgevaar. Hulle, het Christus gesê, is nie langer Satan se gevangenes nie; Ek het hulle vrygekoop. Ek het hulle uit die graf as die eerstelinge van die vrug van My krag gebring, om saam met My te wees waar Ek is en om nooit weer die dood te sien of hartseer te ervaar nie. DKvDE 865.2
Hulle het die stad binnegegaan en aan baie mense verskyn en verklaar dat Christus uit die dood opgestaan het en dat hulle saam met Hom opgestaan het. So is die heilige waarheid van die opstanding verewig. Die opgestane heiliges het van die waarheid van die woorde getuig: “U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan.” Hul opstanding was ‘n illustrasie van die vervulling van die profesie: “Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want U dou is ‘n dou van die lig en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk. (Jesaja 26:19). DKvDE 865.3
Vir die gelowige is Christus die opstanding en die lewe. In ons Verlosser is die lewe wat deur die sonde verbeur is, herstel; want Hy het lewe in Homself om op te wek wie Hy wil. Hy is met die reg beklee om onsterflikheid te skenk. Die lewe wat Hy as mens afgelê het, neem Hy weer op en gee dit aan die mensdom. “Ek het gekom...” het Hy gesê, “...dat hulle lewe in oorvloed kan hê.” (Johannes 10:10). “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14). “Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Johannes 6:54). DKvDE 865.4
Vir die gelowige is die dood maar ‘n geringe saak. Christus praat daarvan asof dit van min betekenis is. “As iemand My woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie.” (Johannes 8:51). Vir die Christen is die dood slegs ‘n slaap, ‘n oomblik van stilte en duisternis. Die lewe is met Christus in God geborge en “...wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” (Kolossense 3:4). DKvDE 866.1
Die stem wat van die kruis af uitgeroep het: “Dit is volbring” is onder die dode gehoor. Dit het deur die wande van die grafte gedring en die wat geslaap het beveel om op te staan. So sal dit wees wanneer die stem van Christus uit die hemel gehoor sal word. Daardie stem sal die grafte binnedring en open en die dode in Christus sal opstaan. Met die opstanding van die Heiland is ‘n paar grafte geopen, maar met Sy wederkoms sal al die dierbare ontslapenes Sy stem hoor en sal hulle verheerlik en onsterflik te voorskyn kom. Dieselfde Mag wat Christus uit die dood opgewek het, sal Sy kerk ook opwek en dit saam met Hom verheerlik, bo alle owerhede en magte, bo elke naam wat genoem word, nie net in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige wêreld. DKvDE 866.2