Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 80—In Josef se Graf
Uiteindelik het Jesus gerus. Die lang dag van skande en marteling is beëindig. Terwyl die laaste strale van die ondergaande son die Sabbat ingelui het, het die Seun van God stil in die graf van Josef gelê. Met Sy werk voltooi, Sy hande in vrede gevou, het Hy deur die heilige ure van die Sabbatdag gerus. DKvDE 846.1
Die Vader en die Seun het In die begin op die Sabbat gerus na hul skeppingswerk. “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag” (Genesis 2:1) en die Skepper en al die hemelse wesens het hulle verheug in die betragting van die luisterryke toneel. “Toe het die móresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig.” (Job 38:7). En Jesus het van die werk van verlossing gerus; en hoewel daar droefheid was onder diegene wat Hom op aarde liefgehad het, was daar tog vreugde in die hemel. Die belofte van die toekoms was glorieryk in die oë van die hemelse wesens. ‘n Herstelde skepping, ‘n verloste menseras wat, nadat hulle die sonde oorwin het, nooit weer kon val nie-dit, het God en die engele gesien, was die gevolge van Christus se voltooide taak. Hierdie toneel word vir ewig aan die dag waarop Jesus gerus het gekoppel. Want “...volkome is Sy werk...” (Deuteronomium 32:4) en “...alles wat God doen...” sal “...vir ewig bestaan.” (Prediker 3:14). Wanneer daar “...tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete...” kom, (Handelinge 3:21) sal die Sabbat van die skepping, die dag waarop Jesus in Josef se graf gerus het, steeds ‘n dag van rus en blydskap wees. Die hemel en die aarde sal in lofprysing verenig wanneer die nasies van die verlostes “...elke week op die Sabbat...” (Jesaja 66:23) in vreugdevolle aanbidding voor God en die Lam neerbuig. DKvDE 846.2
In die slotgebeurtenisse van die kruisigingsdag was daar nuwe getuienis van die vervulling van profesie gelewer en nuwe getuienis van die Goddelikheid van Christus. Toe die duisternis van die kruis opgehef is en die sterwende uitroep van die Heiland geuiter is, was daar onmiddellik ‘n ander stem gehoor wat sê “Waarlik, Hy was die Seun van God.” (Mattheus 27:54). DKvDE 847.1
Hierdie woorde was in geen fluistertoon geuiter nie. Alle oë het in die rigting waarvandaan dit gekom het, gedraai. Wie het gepraat? Dit was die hoofman oor honderd, die Romeinse soldaat. Die Goddelike lydsaamheid van die Heiland en Sy skielike dood, met die oorwinningskreet op sy lippe, het ‘n indruk op hierdie heiden gelaat. In die gekneusde, gebreekte liggaam wat aan die kruis gehang het, het die hoofman oor honderd die gestalte van die Seun van God herken. Hy kon hom nie daarvan weerhou om sy geloof te bely nie. So is daar weereens bewys gelewer dat ons Verlosser die vrug van die lyding van Sy siel sou aanskou. Op dieselfde dag van Sy dood het drie mans, wat wyd van mekaar verskil, hul geloof bely-hy wat die Romeinse wag aangevoer het, hy wat die Heiland se kruis gedra het en hy wat langs Hom aan die kruis gesterf het. DKvDE 847.2
Toe dit aand word, het ‘n onaardse stilte oor Golgota gehang. Die skare is uiteen en baie het na Jerusalem teruggekeer, met ‘n heel ander gees as die oggend. Baie het uit nuuskierigheid na die kruisiging gestroom en nie uit haat jeens Christus nie. Tog het hulle die beskuldigings van die priesters geglo en Christus as ‘n kwaaddoener beskou. Onder ‘n onnatuurlike opwinding, het hulle met die gepeupel verenig om teen Hom te protesteer. Maar toe die aarde in duisternis gehul is en hulle deur hul eie gewetens aangekla is, het hulle gevoel asof hulle aan ‘n groot onreg skuldig was. Geen grappe of spotlag is te midde van daardie vreesaanjaende duisternis gehoor nie; en nadat dit opgeklaar het, het hulle in plegtige swygsaamheid na hul huise teruggekeer. Hulle was oortuig dat die aanklagte van die priesters vals was, dat Jesus geen bedrieër was nie; en ‘n paar weke later, toe Petrus op Pinksterdag gepreek het, was hulle onder die duisende wat hulle tot Christus bekeer het. DKvDE 847.3
Maar die Joodse leiers was onveranderd deur die gebeure wat hulle aanskou het. Hulle haat teenoor Jesus het nie afgeneem nie. Die duisternis wat die aarde tydens die kruisiging oordek het, was nie digter as die duisternis wat steeds die denke van die priesters en owerstes omvou het nie. By sy geboorte het die ster Christus geken en die wyse manne na die krip gelei waar Hy gelê het. Die hemelse leërskare het Hom geken en het Sy lof oor die vlaktes van Betlehem besing. Die see het Sy stem geken en Sy bevel gehoorsaam. Siekte en die dood het Sy gesag erken en hul prooi aan Hom uitgelewer. Die son het Hom geken en het sy aangesig by die aanblik van Sy sterwensangs verberg. Die rotse het Hom geken en het by die aanhoor van Sy uitroep in fragmente uitmekaar geskud. Die lewelose natuur het Christus geken en van Sy Goddelikheid getuig. Maar die priesters en owerstes van Israel het die Seun van God nie geken nie. DKvDE 848.1
Tog was die priesters en owerstes nie gerus nie. Hulle het hul doel bereik om Christus te dood; maar hulle het nie die gevoel van oorwinning wat hulle verwag het, ervaar nie. Selfs in die uur van hul oënskynlike oorwinning, was hulle met onsekerheid oor wat sou volg, geteister. Hulle het die uitroep gehoor: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). “Vader, in U hande gee Ek my gees oor!” (Lukas 23:46). Hulle het die rotse sien skeur en die geweldige aardbewing gevoel en hulle was onrustig en ongemaklik. DKvDE 848.2
Hulle was jaloers op Christus se invloed onder die mense terwyl Hy nog gelewe het; selfs in Sy dood was hulle jaloers op Hom. Hulle het die gestorwe Christus meer, veel meer, gevrees as wat hulle die lewende Christus ooit gevrees het. Hulle het gevrees dat die aandag van die volk verder op die gebeure van Sy kruisiging gevestig sou word. Hulle was bang vir die gevolge van die dag se werk. Onder geen omstandighede sou hulle toelaat dat Sy liggaam gedurende die Sabbat aan die kruis bly hang nie. Die Sabbat sou binnekort aanbreek en dit sou heiligskending wees om die liggame aan die kruis te laat hang. Onder hierdie voorwendsel, het die Joodse leiers Pilatus dus versoek dat die dood van die slagoffers verhaas moes word en dat hul liggame verwyder word voordat die son ondergaan. DKvDE 848.3
Pilatus was net so onwillig dat die liggaam van Jesus aan die kruis moes bly hang. Nadat sy toestemming verkry is, is die twee misdadigers se bene gebreek om hul dood te bespoedig; maar daar is gevind dat Jesus reeds dood was. Die ruwe soldate is versag deur wat hulle van Christus gesien en gehoor het en het Sy bene nie gebreek nie. So is die wet van die Pasga in die offer van die Lam van God vervul: “Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die more toe of ‘n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die Pasga moet hulle dit hou.” (Numeri 9:12). DKvDE 849.1
Die priesters en owerstes was verbaas om te ontdek dat Christus reeds dood was. Die dood aan die kruis was ‘n langsame proses; dit was moeilik om vas te stel wanneer die dood ingetree het. Dit was ongehoord dat iemand binne ses uur van sy kruisiging sterf. Die priesters wou seker maak van die dood van Jesus en op hulle voorstel het ‘n soldaat ‘n spies in die Heiland se sy gesteek. Uit hierdie wond het twee oorvloedige en afsonderlike strome gevloei, die een van bloed en die ander van water. Dit is deur al die toeskouers opgemerk en Johannes het hierdie feit bo alle twyfel gestel. Hy het gesê: “Een van die soldate het met ‘n spies in Sy sy gesteek en dadelik het daar bloed en water uitgekom. En hy wat dit gesien het, het dit getuig en sy getuienis is waaragtig; en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo. Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie. En weer sê ‘n ander Skrif: Hulle sal sien in wie hulle gesteek het.” (Johannes 19:34-37). DKvDE 849.2
Na die opstanding het die priesters en owerstes die berig versprei dat Christus nie aan die kruis gesterf het nie, maar dat Hy net flou geword het en later bygebring is. In ‘n ander berig is beweer dat dit nie die werklike liggaam van vlees en bloed was wat in die graf neergelê is nie, maar ‘n namaaksel van ‘n liggaam. Die optrede van die Romeinse soldate het hierdie valshede weerlê. Hulle het nie sy bene gebreek nie, omdat Hy reeds dood was. Om die priesters tevrede te stel, het hulle Sy sy deurboor. Indien Hy nie toe reeds dood was nie, sou hierdie wond sy onmiddellike dood veroorsaak het. DKvDE 850.1
Maar dit was nie die spiessteek nie en dit was nie die pyn van die kruis wat Jesus se dood veroorsaak het nie. Die uitroep, “...met ‘n groot stem...” (Mattheus 27:50; Lukas 23:46) in Sy sterwensoomblik en die stroom bloed en water wat uit Sy sy gevloei het, het daarvan getuig dat Hy aan ‘n gebroke hart gesterf het. Sy hart is deur sieleangs gebreek. Hy is deur die sonde van die wêreld gedood. DKvDE 850.2
Die dood van Christus het die dissipels se hoop vernietig. Hulle het Sy geslote ooglede en hangende hoof, Sy hare met bloed gekoek en Sy deurboorde hande en voete gesien en hul foltering was onbeskryflik. Tot op die laaste het hulle nie geglo dat Hy sou sterf nie; hulle kon dit skaars glo dat Hy waarlik dood was. Deur droefheid oorweldig, het hulle vergeet van Sy woorde wat hierdie toneel voorspel het. Niks wat Hy gesê het, kon hulle nou vertroos nie. Al wat hulle gesien het, was die kruis en die bloeiende Slagoffer. Die toekoms was donker van wanhoop. Hul geloof in Jesus het gewyk; maar nooit het hulle hul Heer so liefgehad soos nou nie. Nooit tevore was hulle so van Sy waarde en hul behoefte aan Sy teenwoordigheid bewus nie. DKvDE 850.3
Selfs in die dood was Christus se liggaam vir Sy dissipels baie kosbaar. Hulle het verlang om Hom ‘n eerbare begrafnis te gee, maar het nie geweet hoe om dit te bewerkstellig nie. Jesus was veroordeel vir verraad teen die Romeinse regering en persone wat vir hierdie oortreding tereggestel was, was na ‘n begraafplaas wat vir sulke misdadigers voorsien is, gestuur. Die dissipel Johannes en die vroue uit Galiléa het by die kruis gebly. Hulle kon nie die liggaam van hulle Here verlaat om deur die ongevoelige soldate hanteer te word en in ‘n veragtelike graf begrawe te word nie. Tog kon hulle dit nie voorkom nie. Hulle kon geen guns van die Joodse owerhede verwag nie en het geen invloed by Pilatus gehad nie. DKvDE 850.4
In hierdie noodsituasie het Josef van Arimathea en Nikodemus die dissipels te hulp gekom. Hulle was albei lede van die Sanhedrin en het Pilatus geken. Albei was mans met rykdom en invloed. Hulle was vasbeslote dat die liggaam van Jesus eervol begrawe sou word. DKvDE 851.1
Josef het met vrymoedigheid na Pilatus gegaan en hom vir die liggaam van Jesus gevra. Vir die eerste keer het Pilatus verneem dat Jesus werklik dood was. Teenstrydige berigte het hom bereik aangaande die gebeure tydens die kruisiging, maar die tyding van die dood van Christus is doelbewus van hom weerhou. Pilatus is deur die priesters en owerstes gewaarsku teen moontlike misleiding deur Christus se dissipels ten opsigte van Sy liggaam. Daarom het hy, toe hy die versoek van Josef hoor, die hoofman oor honderd wat toesig oor die kruisiging gehou het, ontbied en met sekerheid verneem van die dood van Jesus. Hy het ook uit hom ‘n verslag van die tonele op Golgota getrek, wat die getuienis van Josef bevestig het. DKvDE 851.2
Josef se versoek is toegestaan. Terwyl Johannes hom nog oor die begrafnis van sy Meester bekommer het, het Josef teruggekeer met Pilatus se lasbrief vir die liggaam van Christus; en Nikodemus het ‘n duur mengsel van mirre en alewee, omtrent vyftig kilogram, gebring om Hom te balsem. Die mees geëerdes in die ganse Jerusalem sou nie meer respek met sy dood ontvang het nie. Die dissipels was verbaas om te sien dat hierdie ryk owerstes net soveel belangstelling, soos wat hulle self in die begrafnis van hul Here gehad het, getoon het. DKvDE 851.3
Nie Josef of Nikodemus het die Heiland openlik aangeneem terwyl Hy gelewe het nie. Hulle het geweet dat so ‘n stap hulle van die Sanhedrin sou uitsluit en hulle het gehoop om Hom deur hul invloed by die raadsittings te beskerm. Dit het ‘n tyd lank voorgekom asof hulle geslaag het, maar die sluwe priesters het gesien dat hulle Christus begunstig en het hul planne gedwarsboom. Jesus is in hul afwesigheid veroordeel en oorgelewer om gekruisig te word. Noudat Hy dood was, het hulle nie langer hul gehegtheid aan Hom verberg nie. Terwyl die dissipels gevrees het om hulself openlik as Sy volgelinge te betoon, het Josef en Nikodemus hulle met vrymoedigheid te hulp gekom. Die hulp van hierdie welgestelde en geëerde mans was op hierdie stadium baie nodig. Hulle kon vir hul gestorwe Meester doen wat vir die arme dissipels onmoontlik was om te doen; en hul rykdom en invloed het hulle in ‘n groot mate teen die kwaadwilligheid van die priesters en owerstes beskerm. DKvDE 852.1
Versigtig en eerbiedig het hulle die liggaam van Jesus met hul eie hande van die kruis afgehaal. Hulle trane van meegevoel het vinnig geval toe hulle Sy gekneusde en verskeurde liggaam aanskou. Josef het ‘n nuwe graf wat uit rots gekap is besit. Hy het dit vir homself uitgehou, maar dit was naby Golgota en nou het hy dit vir Jesus voorberei. Die liggaam, tesame met die speserye wat Nikodemus gebring het, is sorgvuldig in ‘n linnedoek toegedraai en die Verlosser is na die graf gebring. Daar het die drie dissipels die verwronge ledemate reguit gemaak en die deurboorde hande oor die polslose bors gevou. Die Galilese vroue het kom toesien dat alles moontlik vir die lewelose gestalte van hul geliefde Leraar gedoen is. Toe sien hulle hoe die swaar steen voor die ingang van die graf gerol word en die Heiland is met rus gelaat. Die vroue was die laaste by die kruis en die laaste by die graf van Christus. Toe die aandskemering sak, het Maria Magdalena en die ander Marias by die rusplek van hul Meester vertoef en trane van droefheid gestort oor die lot van Hom vir Wie hulle so lief was. “Daarop het hulle teruggegaan ... en op die Sabbat gerus volgens die gebod.” (Lukas 23:56). DKvDE 852.2
Dit was ‘n onvergeetlike Sabbat vir die bedroefde dissipels en ook vir die priesters, owerstes, skrifgeleerdes en volk. Toe die son oor die voorbereidingsdag ondergaan, het die basuine geblaas om aan te dui dat die Sabbat aangebreek het. Die Pasga sou gevier word soos dit eeue lank gevier is, terwyl Hy na wie dit vooruitgewys het, deur goddelose hande gedood is en nou in Josef se graf gerus het. Op die Sabbat was die voorhowe van die tempel vol aanbidders. Die hoëpriester van Golgota was daar, swierig geklee in sy priesterlike gewaad. Bedrywige priesters met wit tulbande, het hul pligte uitgevoer. Maar sommige van die aanwesiges was nie gerus toe die bloed van bulle en bokke vir die sonde aangebied is nie. Hulle was nie daarvan bewus dat die tipe die antitipe ontmoet het en dat ‘n oneindige offer vir die sondes van die wêreld gebring is nie. Hulle het nie geweet dat daar geen verdere waarde in die uitvoering van die rituele diens was nie. Maar nooit tevore is daardie diens met meer teenstrydige gevoelens bygewoon nie. Die trompette en musiekinstrumente en die stemme van die sangers was so hard en duidelik soos gewoonlik. Maar ‘n gevoel van vreemdheid het alles oorheers. Een na die ander het navraag gedoen oor ‘n vreemde gebeurtenis wat plaasgevind het. Tot dusver was die Allerheiligste streng teen indringers bewaak. Maar nou was dit vir elke oog ontbloot. Die swaar tapisserie-gordyn van suiwer linne, pragtig met goud, skarlaken en purper versier, is van bo tot onder geskeur. Die plek waar Jehova met die hoëpriester ontmoet het om Sy heerlikheid te oor te dra, die plek wat God se heilige ontmoetingslokaal was, was nou vir elke oog sigbaar-'n plek wat die Here nie langer erken het nie. Met donker voorgevoelens het die priesters voor die altaar gedien. Die ontbloting van die heilige verborgenheid van die Allerheiligste het hulle met vrees vir ‘n komende ramp gevul. DKvDE 853.1
Baie se gedagtes was met die gebeure wat by Golgota begin het, gevul. Van die kruisiging tot die opstanding het baie slapelose oë die profesieë deurgaans ondersoek, sommige om die volle betekenis van die fees wat hulle gevier het te leer ken, ander om bewyse te vind dat Jesus nie was wat Hy beweer het nie; en ander, met hartseer harte, was op soek na bewyse dat Hy waarlik die Messias was. Alhoewel hulle met verskillende motiewe ondersoek ingestel het, is almal van dieselfde waarheid oortuig, naamlik dat daardie profesie deur die gebeure van die afgelope paar dae vervul is en dat die Gekruisigde die Verlosser van die wêreld was. Baie wat op daardie stadium in die diens verenig het, het daarna nooit weer aan die Pasga-rituele deelgeneem nie. Selfs baie van die priesters is van die ware karakter van Jesus oortuig. Hulle ondersoeke na die profesieë was nie tevergeefs nie en na Sy opstanding het hulle Hom as die Seun van God erken. DKvDE 854.1
Toe Nikodemus sien dat Jesus aan die kruis opgehys word, het hy die woorde wat Jesus in die nag teen die Olyfberg vir hom gesê het onthou: “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:14,15). Op daardie Sabbat, terwyl Jesus in die graf gelê het, het Nikodemus tyd gehad om na te dink. ‘n Duideliker lig het nou sy verstand verlig en die woorde wat Jesus met hom gespreek het, was nie meer ‘n misterie nie. Hy het gevoel dat hy baie verloor het deur homself nie met die Verlosser te verbind terwyl Hy nog gelewe het nie. Toe het hy aan die gebeure by Golgota teruggedink. Die gebed van Christus vir Sy moordenaars en Sy antwoord op die versoek van die sterwende misdadiger het tot die geleerde raadslid se hart gespreek. Weer het hy die Heiland in Sy foltering gesien; weereens het hy die laaste uitroep, “Dit is volbring” soos die woorde van ‘n oorwinnaar hoor klink. Weer het hy die aarde sien bewe, die verduisterde hemel, die geskeurde gordyn, die rotse wat skud en sy geloof was vir ewig bevestig. Dieselfde gebeurtenis wat die hoop van die dissipels vernietig het, het Josef en Nikodemus van die Goddelikheid van Jesus oortuig. Hul vrese is deur die moed van ‘n vaste en onwrikbare geloof oorkom. DKvDE 854.2
Nooit voorheen het Christus soveel aandag van die skare getrek soos toe Hy in die graf gelê is nie. Volgens praktyk het die mense hul siekes en lydendes na die tempelhowe gebring en gevra: Wie kan ons van Jesus van Nasaret vertel? Baie het van ver af gekom om Hom te vind wat siekes genees en dooies opgewek het. Uit alle rigtings is die geroep gehoor: Ons wil Christus die Geneesheer hê! Met hierdie geleentheid is diegene wat vermoedelik ‘n aanduiding van melaatsheid getoon het, deur die priesters ondersoek. Baie moes noodgedwonge aanhoor hoe hul mans, vrouens, of kinders melaats verklaar word en gedoem is om die skuiling van hul huise en die sorg van hul vriende te verlaat en om die vreemdeling met die jammerlike uitroep te waarsku: “Onrein, onrein!” Die vriendelike hande van Jesus van Nasaret, wat nooit geweier het om die afskuwelike melaatse aan te raak en te genees nie, was nou oor Sy bors gevou. Die lippe wat die versoek met die gerusstellende woorde beantwoord het: “Ek wil; word gereinig” (Mattheus 8:3), was nou stil. Baie het hulle op die priesters en owerstes beroep vir simpatie en verligting, maar tevergeefs. Dit het geblyk dat hulle vasbeslote was om die lewende Christus weer tussen hulle te hê. Hulle het met onophoudelike erns na Hom gevra. Hulle sou hulle nie laat wegwys nie. Maar hulle is uit die tempelhowe verdryf en soldate was by die poorte gestasioneer om die skare wat met hulle siekes en sterwendes gekom het en toegang geëis het te keer. DKvDE 855.1
Die lydendes wat gekom het om deur die Heiland genees te word, se gemoed het laag van teleurstelling gesak. Die strate was gevul met roubeklag. Die siekes het gesterf weens gebrek aan die genesende aanraking van Jesus. Geneeshere is tevergeefs geraadpleeg; daar was geen vaardigheid soos dié van Hom wat in die graf van Josef gelê is nie. DKvDE 855.2
Die geweeklaag van die lydendes het duisende tot die oortuiging gebring dat ‘n groot lig in die wêreld uitgedoof is. Sonder Christus was die aarde swart en donker. Baie wie se stem die uitroep van “Kruisig, kruisig Hom!” geuiter het, het nou besef watter ramp oor hulle gekom het en sou net so graag uitgeroep het: “Gee ons Jesus!” as Hy nog geleef het. DKvDE 856.1
Toe die mense verneem dat Jesus deur die priesters gedood is, is navraag aangaande Sy dood gedoen. Die besonderhede van Sy verhoor was so dig moontlik gehou; maar terwyl Hy in die graf was, was Sy Naam op duisende lippe en verslae van Sy skynverhoor en van die onmenslikheid van die priesters en owerstes was oral in omloop. Mense van intellek het ‘n beroep op hierdie priesters en owerstes gedoen om die profesieë van die Ou Testament aangaande die Messias te verduidelik en soos hulle gepoog het om ‘n valse uitleg te versin, was hulle soos manne wat waansinnig geword het. Hulle kon die profesieë wat op Christus se lyding en dood gewys het nie verklaar nie en baie wat navraag gedoen het, was oortuig dat die Skrif vervul is. DKvDE 856.2
Die wraak wat die priesters gemeen het so soet sou wees, het reeds ‘n wrang smaak gehad. Hulle het geweet dat hulle die ernstige sensuur van die volk in die gesig staar; hulle het geweet dat diegene wat hulle teen Jesus beïnvloed het, hulself nou verafsku het oor hul eie skandalige optrede. Hierdie priesters het hulself probeer wysmaak dat Jesus ‘n bedrieër was, maar dit was tevergeefs. Sommige van hulle het by die graf van Lasarus gestaan en gesien hoe die dooies weer lewendig word. DKvDE 856.3
Hulle het gesidder van vrees by die gedagte dat Christus self uit die dood sou opstaan en weer voor hulle sou verskyn. Hulle het gehoor hoe Hy verklaar het dat Hy die mag het om Sy lewe af te lê en dit weer op te neem. Hulle het onthou dat Hy gesê het: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek dit oprig.” (Johannes 2:19). Judas het aan hulle die woorde van Jesus aan Sy dissipels, op die laaste reis na Jerusalem, meegedeel: “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gésel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan” (Mattheus 20:18,19). Toe hulle hierdie woorde gehoor het, het hulle daaroor gespot en gelag. Maar nou het hulle onthou dat al die voorspellings van Christus tot dusver vervul is. Hy het gesê dat Hy op die derde dag weer sou opstaan en wie sou kon sê dat dit nie ook sou plaasvind nie? Hulle het verlang om hierdie gedagtes te onderdruk, maar kon nie. Soos hulle vader, die duiwel, het hulle geglo en gesidder. DKvDE 856.4
Noudat die waansinnige opwinding verby was, het die beeld van Christus hulle gedagtes binnegedring. Hulle het Hom weer aanskou waar Hy rustig voor Sy vyande staan en sonder om te murmureer, hulle bespotting en mishandeling verduur. Al die gebeure van Sy verhoor en kruisiging het nou na hulle teruggekom met ‘n oorweldigende oortuiging dat Hy die Seun van God was. Hulle het gedink dat Hy enige oomblik voor hulle kon staan, die beskuldigde om die beskuldiger te word, die veroordeelde om te veroordeel, die gesneuwelde om geregtigheid in die dood van Sy moordenaars te eis. DKvDE 857.1
Hulle kon op dié Sabbat weinig rus. Hoewel hulle nie oor ‘n heiden se drumpel sou tree uit vrees vir besoedeling nie, het hulle tog ‘n raadsitting oor die liggaam van Christus gehou. Die dood en die graf moes Hom, wat hulle gekruisig het, daar hou. “Die volgende dag ... kom die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus saam en sê: My heer, ons herinner ons dat die verleier, toe Hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan Ek op. Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat Sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste. Daarop sê Pilatus vir hulle: Julle sal ‘n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan.” (Mattheus 27:62-65). DKvDE 857.2
Die priesters het opdrag gegee hoe om die graf te beveilig. ‘n Groot steen is voor die opening geplaas. Om hierdie steen het hulle toue gebind wat aan die soliede rots vasgemaak is en met die Romeinse seël verseël is. Die steen kon nie beweeg word sonder om die seël te verbreek nie. ‘n Wag van honderd soldate is rondom die graf gestasioneer om te voorkom dat daar met die graf gepeuter word. Die priesters het alles in hul vermoë gedoen om Christus se liggaam in die graf waar dit neergelê was te hou. Hy was so veilig in Sy graf verseël asof Hy tot in ewigheid daar sou bly. DKvDE 858.1
So het die nietige mens beraadslaag en planne beraam. Hierdie moordenaars het nie die nutteloosheid van hul pogings besef nie. Maar deur hul optrede is God verheerlik. Dieselfde pogings om Christus se opstanding te voorkom, was die oortuigendste argumente vir die bewys daarvan. Hoe groter die aantal soldate wat om die graf gestasioneer was, hoe sterker sou die getuienis wees dat Hy opgestaan het. Honderde jare voor die dood van Christus het die Heilige Gees deur die psalmdigter verklaar: “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen Sy Gesalfde... Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle” (Psalm 2:1-4). Romeinse wagte en Romeinse wapens was magteloos om die Here van die lewe tot die graf te beperk. Die uur van Sy vrylating was ophande. DKvDE 858.2