Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 79—“Dit is Volbring!”
Christus het nie Sy lewe neergelê voordat Hy die werk wat Hy kom doen het, volbring het nie en met Sy laaste asem het Hy uitgeroep: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). Die stryd was gewen. Sy regterhand en Sy heilige arm het aan Hom die oorwinning besorg. As Oorwinnaar het Hy sy vaandel op die ewige hoogtes geplant. Hoeveel vreugde was daar nie onder die engele nie! Die ganse hemel het in die Verlosser se oorwinning geseëvier. Satan is verslaan en het geweet dat sy koninkryk verlore was. DKvDE 837.1
Vir die engele en die ongevalle wêrelde was die uitroep “Dit is volbring!” betekenisvol. Dit was vir hulle sowel as vir ons, dat die groot verlossingswerk voltooi was. Hulle deel saam met ons in die vrugte van Christus se oorwinning. DKvDE 837.2
Eers met die dood van Christus was die karakter van Satan duidelik aan die engele en aan die ongevalle wêrelde geopenbaar. Die aartsafvallige het homself so bedrieglik voorgedoen, dat selfs heilige engele nie sy beginsels verstaan het nie. Hulle het die aard van sy opstand nie ten volle begryp nie. DKvDE 837.3
Dit was ‘n wese met wonderbaarlike mag en heerlikheid wat homself teen God verhef het. Van Lucifer sê die Here: “Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid.” (Esegiël 28:12). Lucifer was die gerub wat beskut. Hy het in die lig van die teenwoordigheid van God gestaan. Hy was die hoogste van alle geskape wesens en was die voorstander om God se doelwitte aan die heelal te openbaar. Nadat hy gesondig het, was sy misleiding meer bedrieglik en die blootstelling van sy karakter des te moeiliker as gevolg van die verhewe posisie wat hy by die Vader beklee het DKvDE 837.4
God kon Satan en sy aanhangers net so maklik vernietig het as wat ‘n mens ‘n klippie op die grond kan neergooi; maar Hy het dit nie gedoen nie. Opstand moes nie met geweld oorkom word nie. Dwingende mag word slegs onder Satan se heerskappy gevind. Dit is nie die beginsels van die Here nie. Sy gesag berus op goedheid, barmhartigheid en liefde; en die aanbieding van hierdie beginsels is die metode wat toegepas moet word. God se bewind is moreel en waarheid en liefde moet die heersende mag wees. DKvDE 838.1
Dit was God se doel om dinge op ‘n ewige grondslag van veiligheid te plaas en in die raadsbesluite van die hemel is besluit dat aan Satan tyd gegun moes word om die beginsels waarop sy bewind berus, te ontwikkel. Hy het beweer dat dit beter as die beginsels van God is. Tyd is dus vir die uitwerking van Satan se beginsels gegun, sodat dit deur die hemelse heelal gesien kon word. DKvDE 838.2
Satan het mense tot sonde verlei en die verlossingsplan is in werking gestel. Vir vierduisend jaar het Christus gewerk vir die opheffing van die mens; en Satan, vir sy ondergang en verdorwenheid. En die hemelse heelal het dit alles aanskou. DKvDE 838.3
Toe Jesus in die wêreld ingekom het, is Satan se mag teen Hom gerig. Vanaf die tyd toe Hy as baba in Betlehem gebore was, het die indringer gestrewe om Hom te vernietig. Op elke moontlike wyse wou hy voorkom dat Jesus volmaakte kinderjare, foutlose manlikheid, ‘n heilige bediening en ‘n vlekkelose offer ontwikkel. Maar hy was verslaan. Hy kon Jesus nie tot sonde verlei nie. Hy kon Hom nie ontmoedig of Hom van die werk wat Hy op die aarde kom verrig het wegdryf nie. Vanaf die woestyn tot by Golgota het die storm van Satan se toorn Hom getref, maar hoe meer genadeloos dit teen Hom aangeslaan het, hoe stewiger het die Seun van God aan die hand van Sy vader vasgehou en op die bloedbevlekte pad volhard. Al die pogings van Satan om Hom te onderdruk en te oorwin het Sy vlekkelose karakter net in ‘n suiwerder lig gestel. DKvDE 838.4
Die ganse hemel en ongevalle wêrelde was getuies van die stryd. Met watter intense belangstelling het hulle die slottonele van die konflik aanskou. Hulle het gesien hoe die Verlosser die tuin van Getsémané binnegaan, Sy siel neergebuig deur die gruwel van ‘n geweldige duisternis. Hulle het Sy bittere uitroep gehoor: “Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan” (Mattheus 26:39). Toe die teenwoordigheid van die Vader onttrek is, het hulle Hom bedroef aanskou, met ‘n bitterheid van smart wat hewiger as die laaste stryd met die dood was. Die bloedsweet is uit Sy porieë gedwing en het in druppels op die grond geval. Drie keer is ‘n gebed om verlossing uit Sy lippe gepers. Die hemel kon die gesig nie langer aanskou nie en ‘n boodskapper van vertroosting is na die Seun van God gestuur. DKvDE 839.1
Die hemel het aanskou hoe die Slagoffer in die hande van die moorddadige gepeupel verraai is en met bespotting en geweld van die een tribunaal na die ander gehaas is. Hulle het die neerhalende aanmerkings van Sy vervolgers vanweë Sy nederige geboorte gehoor. Hulle het gehoor hoe een van Sy geliefde dissipels Hom met ‘n gevloek verloën het. Hulle het die waansinnige werking van Satan en sy mag oor die harte van mense gesien. Wat ‘n skrikwekkende toneel! Die Heiland wat om middernag in Getsémané gegryp, heen en weer van paleis na regsaal gesleep is, twee keer voor die priesters aangekla is, twee keer voor die Sanhedrin, twee keer voor Pilatus en een keer voor Herodes, gespot, gegesel, veroordeel en weggelei om gekruisig te word, met die swaar kruis op sy skouers, te midde van die geween van die dogters van Jerusalem en die gejil van die gespuis. DKvDE 839.2
Die hemel het bedroef en verbaas aanskou hoe Christus aan die kruis hang terwyl bloed uit Sy gewonde slape getap het en sweet met bloed getint op Sy voorhoof pêrel. Uit Sy hande en voete het die bloed druppel vir druppel op die rots waarin die gat vir die kruis gegrawe is, geval. Die spykerwonde aan Sy hande het as gevolg van die gewig van Sy liggaam, oopgegaap. Sy moeisame asemhaling het versnel en verdiep terwyl Sy siel onder die las van die sondes van die wêreld gebuk gegaan het. Die ganse hemel was verwonderd toe Christus te midde van Sy verskriklike lyding gebid het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lukas 23:34). Tog het daar manne gestaan, geskape na die beeld van God, wat saamgespan het om die lewe van Sy eniggebore Seun te verpletter. Wat ‘n gesig vir die hemelse heelal! DKvDE 839.3
Die owerhede en magte van die duisternis het hulle om die kruis geskaar en die helse skaduwee van ongeloof in die harte van mense gewerp. Toe die Here hierdie wesens geskape het om voor Sy troon te staan, was hulle lieflik en glorieryk. Hul lieflikheid en heiligheid was in ooreenstemming met hulle verhewe posisie. Hulle was met die wysheid van God verryk en met die wapenrusting van die hemel omgord. Hulle was Jehova se dienaars. Maar wie kon die gevalle engele in die luisterryke serafs, wat vroeër in die hemelse howe gedien het, herken? DKvDE 840.1
Sataniese magte het met bose mense saamgesnoer om die volk te laat glo dat Christus die hoof van sondaars was en Hom die voorwerp van veragting te maak. Diegene wat met Christus gespot het terwyl Hy aan die kruis gehang het, was deurdrenk met die gees van die eerste groot rebel. Hy het hulle met vuil en veragtelike woorde besiel. Hy het hulle met bespotting besiel. Maar dit alles het hom niks gebaat nie. DKvDE 840.2
Sou daar een sonde in Christus gevind kon word; sou Hy in net een opsig aan Satan toegegee het om die verskriklike marteling vry te spring; dan sou die vyand van God en die mens geseëvier het. Christus het sy hoof gebuig en gesterf, maar Hy het aan Sy geloof en Sy onderwerping aan God vasgehou. “Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.” (Openbaring 12:10). DKvDE 840.3
Satan het besef dat hy ontmasker is. Sy administrasie is voor die ongevalle engele en voor die hemelse heelal blootgelê. Hy het homself as ‘n moordenaar geopenbaar. Deur die bloed van die Seun van God te vergiet, het hy homself van die empatie van die hemelse wesens ontwortel. Voortaan was sy werk beperk. Ongeag watter houding hy sou inneem, hy kon nie meer die engele inwag as hulle vanuit die hemelse howe gekom het om die broers van Christus te beskuldig dat hulle met swart klere en die besoedeling van sonde bekleed was nie. Die skakel van empatie tussen Satan en die hemelse wêreld was verbreek. DKvDE 841.1
Tog is Satan nie op daardie stadium vernietig nie. Die engele het selfs toe nie eers ten volle begryp wat by die groot stryd betrokke was nie. Die beginsels wat op die spel was, moes meer volledig geopenbaar word. En ter wille van die mens moes die bestaan van Satan voortduur. Die mens, sowel as die engele moes die kontras tussen die Vors van die lig en die vors van die duisternis sien. Hy moes kies wie hy wil dien. DKvDE 841.2
Met die aanvang van die groot stryd het Satan verklaar dat die wet van God nie gehoorsaam kon word nie, dat geregtigheid nie met barmhartigheid ooreenstem nie en dat, indien die wet oortree word, dit onmoontlik vir die sondaar sou wees om kwytgeskeld te word. Elke sonde moet die regmatige straf ontvang, het Satan aangedring; en indien God die straf vir die sonde sou kwytskeld, sou Hy nie ‘n God van waarheid en geregtigheid wees nie. Toe die mense die wet van God oortree en Sy wil teëgegaan het, het Satan gejuig. Hy het bewys dat die wet nie gehoorsaam kon word nie, het hy verklaar; die mens kon nie vergewe word nie. Omdat hy na sy opstand uit die hemel verban is, het Satan beweer dat die mensdom vir ewig van die guns van God uitgesluit moet word. God kan nie regverdig wees nie, het hy aangedring en steeds genade aan die sondaar bewys nie. DKvDE 841.3
Maar selfs as sondaar was die mens se posisie anders as die van Satan. Lucifer het in die hemel in die lig van God se heerlikheid gesondig. Aan hom, soos aan geen ander geskape wese nie, is ‘n openbaring van die liefde van God gegee. Satan het die karakter van God verstaan en het Sy goedheid geken, maar verkies om sy eie selfsugtige, onafhanklike wil te volg. Die keuse was finaal. Daar was niks meer wat God kon doen om hom te red nie. Maar die mens is mislei; sy verstand is deur Satan se drogredenasies benewel. Hy het die hoogte en diepte van die liefde van God nie geken nie. Vir hom was daar hoop in die kennis van God se liefde. Deur Sy karakter te aanskou, kon hy weer na God getrek word. DKvDE 841.4
Deur Jesus is die genade van God aan die mensdom geopenbaar; maar genade stel nie geregtigheid tersyde nie. Die wet openbaar die eienskappe van God se karakter en nie ‘n jota of titteltjie daarvan kan verander word om die mens in sy gevalle toestand tegemoet te kom nie. God het nie Sy wet verander nie, maar het Homself, in Christus, vir die verlossing van die mens geoffer. “...God [het] in Christus die wêreld met Homself versoen...” (2 Korinthiërs 5:19). DKvDE 842.1
Die wet vereis geregtigheid-'n lewe van geregtigheid, ‘n volmaakte karakter; en dit het die mens nie om te bied nie. Hy kan nie aan die vereistes van die heilige wet van God voldoen nie. Maar Christus wat as mens na die aarde gekom het, het ‘n heilige lewe gelei en ‘n volmaakte karakter ontwikkel. Dit bied Hy as ‘n gratis geskenk aan almal wat dit wil ontvang. Sy lewe dien vir die lewe van die mens. So ontvang hulle vergifnis vir sondes wat verby is, deur die verdraagsaamheid van God. Meer nog, Christus deurdring die mens met die eienskappe van God. Hy bou die menslike karakter op na die gelykenis van die Goddelike karakter, ‘n deugsame samestelling van geestelike krag en skoonheid. So word die geregtigheid van die wet in die gelowige in Christus vervul. God kan “...self regverdig ... wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.” (Romeine 3:26). DKvDE 842.2
Die liefde van God word net soveel in Sy geregtigheid as in Sy genade uitgedruk. Geregtigheid is die grondslag van Sy troon en die vrug van Sy liefde. Dit was die doel van Satan om genade van waarheid en geregtigheid te skei. Hy het probeer bewys dat die geregtigheid van die wet van God ‘n vyand van vrede is. Maar Christus het getoon dat hulle in God se plan onlosmaaklik saamgevoeg is; die een kan nie sonder die ander bestaan nie. “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.” (Psalm 85:11). DKvDE 843.1
Deur Sy lewe en dood het Christus bewys dat die geregtigheid van God nie Sy genade vernietig het nie, maar dat sonde vergewe kan word en dat die wet regverdig is en volmaak gehoorsaam kan word. Satan se aanklagte is verwerp. God het die mens onmiskenbare bewys van Sy liefde gegee. DKvDE 843.2
Dat die wet wat deur die stem van God self verkondig is foutief is, dat een of ander spesifikasie tersyde gestel is, is wat Satan nou aanvoer. Dit is die laaste groot misleiding wat hy oor die wêreld gaan bring. Hy hoef nie die hele wet aan te val nie; as hy die mens net kan verlei om een gebod te verontagsaam, het hy sy doel bereik. “Want wie die hele wet onderhou maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.” (Jakobus 2:10). Deur toe te stem om een voorskrif te verbreek, word die mens onder die mag van Satan gebring. Deur God se wet met die wet van mense te vervang, sal Satan poog om die wêreld te beheer. Hierdie werk word in die profesieë voorspel. Van die groot afvallige mag wat die verteenwoordiger van Satan is, word verklaar: “Hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander en hulle sal in sy hand oorgegee word...” (Daniël 7:25). DKvDE 843.3
Mense sal gewis hul eie wette instel om die wette van God teë te werk. Hulle sal poog om die gewete van ander te dwing en in hul ywer om hierdie wette toe te pas, sal hulle hul medemens onderdruk. DKvDE 843.4
Die oorlogvoering teen die wet van God, wat in die hemel begin het, sal tot aan die einde van die tyd voortgesit word. Elke mens sal getoets word. Gehoorsaamheid, of ongehoorsaamheid, is die vraag wat deur die hele wêreld beslis sal moet word. Almal sal geroep word om te kies tussen die wet van God en die wette van mense. Hier sal die skeidslyn getrek word. Daar sal net twee klasse wees. Elke karakter sal ten volle ontwikkel word; en almal sal toon of hulle aan die kant van lojaliteit of van die rebellie staan. DKvDE 844.1
Dan sal die einde kom. God sal Sy wet regverdig en Sy volk verlos. Satan en almal wat by hom in sy opstand aangesluit het, sal vernietig word. Sonde en sondaars sal wortel en tak uitgewis word. (Sien Maleagi 4:1)-Satan die wortel en sy volgelinge die takke. Die woord ten opsigte van die vors van die Bose sal vervul wees: “Omdat jy jou hart gemaak het soos die hart van ‘n god, ... daarom het Ek jou ... tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gerub wat beskut! ... jy het ‘n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.” (Esegiël 28:6¬19). “Die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie.” (Psalm 37:10). “Hulle sal ... word asof hulle nooit bestaan het nie.” (Obadja 16). DKvDE 844.2
Hierdie is nie ‘n daad van willekeurige mag van die kant van God nie. Die verwerpers van Sy genade, maai wat hulle gesaai het. God is die Bron van die lewe; en as ‘n mens verkies om die sonde te dien, sonder hy hom van God af en sny homself dus van die lewe af. Hy is “...vervreemd van die lewe van God...” (Efesiërs 4:18). Christus sê: “Almal wat My haat, het die dood lief.” (Spreuke 8:36). God laat hulle toe om vir ‘n tyd lank te bestaan sodat hulle hul karakter kan ontwikkel en hul beginsels kan openbaar. Nadat dit bereik is, ly hulle die gevolge van hul eie keuse. Deur hul opstandige lewe plaas Satan en diegene wat met hom verenig, hul so in stryd met God dat Sy teenwoordigheid vir hulle ‘n verterende vuur is. Die heerlikheid van Hom wat liefde is, sal hulle vernietig. DKvDE 844.3
Aan die begin van die groot stryd het die engele dit nie verstaan nie. As Satan en sy leër op daardie stadium die volle vrug van hul sondes sou pluk, sou hulle vergaan het; maar dit sou vir die hemelse wesens nie duidelik gewees het dat dit die onvermydelike gevolge van sonde was nie. Twyfel oor die goedheid van God sou in hul gedagtes agtergebly het soos ‘n bose saad, om die dodelike vrug van sonde en wee voort te bring. DKvDE 845.1
Maar so sal dit nie wees wanneer die groot stryd eindig nie. Dan, wanneer die verlossingsplan volbring is, sal die karakter van God aan alle geskape intelligensies geopenbaar wees. Die voorskrifte van Sy wet sal dan as volmaak en onveranderlik gesien word. Dan sal die aard van die sonde geopenbaar word en Satan sy karakter laat blyk. Dan sal die uitwissing van sonde die liefde van God regverdig en Sy eer voor ‘n heelal van wesens wat hulle daarin verheug om Sy wil te doen en in wie se hart Sy wet is, bevestig. DKvDE 845.2
Die engele kon dus wel juig toe hulle die Heiland se kruis aanskou het; want, hoewel hulle toe nog nie alles begryp het nie, het hulle geweet dat die vernietiging van sonde en Satan vir ewig verseker is, dat die verlossing van die mens verseker is en dat die heelal tot in ewigheid beveilig is. Christus self het die gevolge van die offer wat op Golgota gebring is ten volle begryp. Hy het na al hierdie dinge uitgesien toe Hy uitgeroep het: “Dit is volbring!” DKvDE 845.3