Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 78—Golgota *
“En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig.” DKvDE 817.1
“Daarom het Jesus ook, om die volk deur Sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.” (Hebreërs 13:12). Vir hul oortreding van die wet van God is Adam en Eva uit die tuin van Eden verban. Christus, ons plaasvervanger, moes buite die mure van Jerusalem ly. Hy het buite die poort gesterf, waar misdadigers en moordenaars tereggestel is. Vol betekenis was die woorde: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word” (Galasiërs 3:13). DKvDE 817.2
'n Groot menigte het Jesus van die geregsaal na Golgota gevolg. Die tyding van Sy veroordeling het deur die hele Jerusalem versprei en mense van alle stande en geledere het na die plek waar die kruisiging sou plaasvind gestroom. Die priesters en owerstes was deur ‘n belofte om, as Hy self aan hulle oorgelewer word, nie Christus se volgelinge te molesteer nie gebonde en die dissipels en gelowiges uit die stad en omstreke, het by die menigte wat die Heiland gevolg het aangesluit. DKvDE 817.3
Toe Jesus deur die poort van Pilatus se hof beweeg, is die kruis wat vir Barábbas gemaak is, op Sy gekneusde en bloeiende skouers geplaas. Twee van Barábbas se makkers sou saam met Jesus tereggestel word en kruise is ook op hul skouers geplaas. In Sy swak en lydende toestand, was die Verlosser se las te swaar vir Hom. Sedert die Pasgamaal saam met Sy dissipels het Hy niks te ete of te drinke gehad nie. Hy het in die tuin van Getsémané met die magte van die bose geworstel. Hy het die foltering van verraad verduur en gesien hoe Sy dissipels Hom versaak en vlug. Hy is na Annas geneem, toe na Kajafas en toe na Pilatus. Van Pilatus is Hy na Herodes gestuur en toe weer terug na Pilatus. Van belediging tot hernude belediging, van bespotting tot bespotting en twee keer gegesel; die hele nag het toneel na toneel, van so aard, om die siel van die Mens tot die uiterste te beproef, afgespeel. Christus het nie gefaal nie. Hy het nie ‘n woord wat nie tot God se verheerliking was, geuiter nie. Regdeur die hele skandalige klug van ‘n verhoor het Hy Homself met kalmte en waardigheid gedra. Maar toe die kruis na die tweede géseling op Hom geplaas is, was dit meer as wat die menslike natuur kon verduur. Hy het onder die las in floute neergeval. DKvDE 817.4
Die skare wat die Verlosser gevolg het, het Sy swak en wankelende voetstappe opgemerk, maar het geen medelye getoon nie. Hulle het Hom getart en gespot omdat Hy die swaar kruis nie kon dra nie. Die las is weer op Hom geplaas en weer het Hy in floute neergesak. Sy vervolgers het gesien dat dit onmoontlik vir Hom was om Sy las verder te dra. Hulle was besluiteloos oor waar hulle iemand sou vind wat die vernederende las sou dra. Die Jode self sou dit nie doen nie, want die verontreiniging, sou hulle verhoed om die Pasga te vier. Selfs nie een van die gepeupel wat Hom gevolg het, was bereid om hulle neer te buig om die kruis te dra nie. DKvDE 818.1
Op hierdie stadium het ‘n vreemdeling, naamlik Simon van Sirene van die platteland, by die gepeupel aangekom. Hy het die gespot en die gevloek van die skare gehoor; hy het gehoor hoe daar spottend herhaal word: “Gee pad vir die Koning van die Jode!” Hy het verbysterd by die toneel stilgestaan en toe hy sy meegevoel uitspreek, het hulle hom vasgegryp en die kruis op sy skouers geplaas. DKvDE 818.2
Simon het van Jesus gehoor. Hoewel hy self nie ‘n dissipel was nie, het sy seuns in die Verlosser geglo. Die dra van die kruis na Golgota was vir Simon ‘n seën en hy was daarna altyd dankbaar vir hierdie voorsienigheid. Dit het Hom gelei om die kruis van Christus op homself te neem en dit met blymoedigheid te dra. DKvDE 818.3
'n Aantal vroue in die skare het die Onveroordeelde na Sy wrede dood gevolg. Hulle aandag was op Jesus gevestig. Sommige het Hom voorheen gesien. Sommige van hulle het hul siekes en lydendes na Hom gebring. Sommige is self genees. Die tonele wat plaasgevind het is oorvertel. Hulle was verwonderd oor die haat van die skare teenoor Hom teenoor Wie hul eie harte versag het en wou breek. En nieteenstaande die optrede van die waansinnige skare en die woedende woorde van die priesters en owerstes nie, het hierdie vroue uiting aan hul meegevoel gegee. Elke keer wat Jesus flou onder die kruis neergeval het, het hulle rou snikke geuiter. DKvDE 819.1
Dit was die enigste ding wat Christus se aandag getrek het. Hoewel Hy swaar gely het, was hy nie onverskillig teenoor die uiting van hartseer terwyl Hy die sondes van die wêreld gedra het nie. Hy het hierdie vroue met deernis aangekyk. Hulle was nie gelowiges in Hom nie; Hy het geweet dat hulle Hom nie as die Gestuurde van God beween nie, maar dat hulle deur menslike medelye ontroer was. Hy het hul meegevoel nie geminag nie, maar in Sy hart het dit ‘n dieper deernis vir hulle opgewek. “Dogters van Jerusalem...” het Hy gesê, “...moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders.” Van die toneel voor Hom het Christus vooruitgekyk na die tyd van die verwoesting van Jerusalem. In daardie skrikwekkende toneel het baie van dié wat nou oor Hom geween het, saam met hul kinders omgekom. DKvDE 819.2
Van die val van Jerusalem het Christus se gedagtes verder vooruit na ‘n groter oordeel gegaan. In die verwoesting van die onboetvaardige stad het Hy ‘n simbool van die finale verwoesting wat oor die wêreld sou kom gesien. Hy het gesê: “Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons! Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur?” Jesus, die onskuldige Verlosser, het Homself met die “groen hout” vereenselwig. God het Sy toorn oor ongeregtigheid toegelaat om op Sy geliefde Seun neer te kom. Jesus sou vir die sonde van die mens gekruisig word. Wat se lyding sal die sondaar, wat volhard in sy sonde, dan nie dra nie! Al die onboetvaardiges en ongelowiges sal ‘n smart en ellende, wat in geen taal beskryf kan word nie, ken. DKvDE 819.3
Van die menigte wat die Heiland na Golgota gevolg het, was daar baie van hulle wat Hom blye hosannas toegesing het en palmtakke voor Hom gewuif het toe Hy Jerusalem triomfantelik binnegery het. Maar baie van diegene wat toe Sy lof besing het omdat dit die gewilde ding was om dit te doen, het nou uitgeroep: “Kruisig, kruisig Hom!” Toe Christus Jerusalem binnegery het, het Sy dissipels se hoop ‘n hoogtepunt bereik. Hulle het digby hul Meester gebly, omdat hulle gemeen het dat dit ‘n hoë eer was om aan Hom verbonde te wees. Maar nou, in Sy vernedering, het hulle Hom op ‘n afstand gevolg. Hulle was met hartseer vir verydelde hoop gevul. Hoe is die woorde van Christus nie bevestig nie: “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word.” (Mattheus 26:31). DKvDE 820.1
Toe hulle by die plek van teregstelling kom, is die gevangenes aan die instrumente van marteling vasgemaak. Die twee diewe het met die hande wat hulle aan die kruis vasgemaak het gestoei; maar Jesus het geen weerstand gebied nie. Jesus se moeder, ondersteun deur Johannes, die geliefde dissipel, het die voetspore van haar Seun na Golgota gevolg. Sy het Hom onder die gewig van die kruis sien beswyk en het verlang om ‘n ondersteunende hand onder sy gewonde hoof te plaas en om Sy voorhoof wat eens op haar boesem gerus het, te baai. Maar hierdie droewige voorreg is haar nie gegun nie. Saam met die dissipels het sy steeds die hoop gekoester dat Jesus Sy mag sou uitoefen om Hom van sy vyande te verlos. Maar dan het haar hart weereens gekrimp wanneer sy die woorde onthou waarmee Hy die tonele wat tans besig was om plaas te vind, voorspel het. Terwyl die misdadigers aan die kruis vasgebind is, het sy met angstige spanning toegekyk. Sou Hy, wat lewe aan die dooies gegee het, toelaat dat Hy gekruisig word? Sou die Seun van God toelaat dat Hy so wreed om die lewe gebring word? Moes sy van haar geloof afsien dat Jesus die Messias was? Moes sy Sy skande en lyding aanskou sonder selfs die voorreg om Hom in Sy nood te bedien? Sy het Sy hande wat op die kruis uitgestrek was gesien; die hamer en spykers is gebring en terwyl die penne deur die sagte vlees ingeslaan is, het die hartverskeurde dissipels die slap vorm van Jesus se moeder wat flou geword het, van die wrede toneel weggedra. DKvDE 820.2
Die Heiland het geen klag of kreun geuiter nie. Sy gelaat het kalm en rustig gebly, maar groot sweetdruppels het op sy voorhoof gepêrel. Daar was geen simpatieke hand om die doodsweet van Sy aangesig af te vee nie en geen woorde van meegevoel en onwrikbare trou om Sy mensehart te versterk nie. Terwyl die soldate hul vreeswekkende taak verrig het, het Jesus vir Sy vyande gebid: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Sy gedagtes het van Sy eie lyding verskuif na die sonde van Sy vervolgers en die verskriklike vergelding wat op hulle gewag het. Geen vloeke is teenoor die soldate wat Hom so ru behandel het, uitgespreek nie. Geen wraak is oor die priesters en owerstes, wat hulle in die bereiking van hul doelwit verlustig het, uitgeroep nie. Christus het hulle in hul onkunde en skuld, bejammer. Hy het slegs ‘n pleidooi vir hulle vergifnis uitgespreek: “...want hulle weet nie wat hulle doen nie.” DKvDE 821.1
As hulle geweet het dat hulle Een martel wat gekom het om die sondige ras van ewige verderf te red, sou hulle met afgryse en berou gevul gewees het. Maar hul onkunde het hulle nie van hulle skuld kwytgeskeld nie; want hulle het die voorreg gehad om Jesus as hul Verlosser te ken en aan te neem. Sommige van hulle sou wel hul sonde insien, berou betoon en tot bekering kom. Sommige sou, deur hul onboetvaardigheid, dit onmoontlik maak dat die gebed van Christus vir hulle verhoor kon word. Nietemin was God se beskikking besig om vervul te word. Jesus het die reg verdien om die Advokaat van die mens in die teenwoordigheid van die Vader te wees. DKvDE 821.2
Daardie gebed van Christus vir Sy vyande het die wêreld omsluit. Dit het elke sondaar wat ooit geleef het, of sal leef, van die begin van die wêreld af tot aan die einde van tyd, ingesluit. Almal dra skuld aan die kruisiging van die Seun van God. Vergifnis word vrylik aan almal gebied. Hy “...wat wil... ” kan vrede met God hê en die ewige lewe beërwe. DKvDE 822.1
Nadat Jesus aan die kruis vasgespyker was, het sterk manne dit opgelig en dit gewelddadig in die plek wat daarvoor voorberei was geplant. Dit het die mees intense pyn aan die Seun van God besorg. Pilatus het toe ‘n inskripsie in Hebreeus, Grieks en Latyn geskryf en dit op die kruis bokant Jesus se hoof aangebring. Dit het gelui: “JESUS, DIE NASARENER, DIE KONING VAN DIE JODE.” Die opskrif het die Jode geïrriteer. In Pilatus se hofsaal het hulle uitgeroep: “Kruisig Hom ... Ons het geen koning behalwe die keiser nie.” (Johannes 19:15). Hulle het verklaar dat wie ook al enige ander koning sou erken, ‘n verraaier was. Pilatus het die uitdrukking wat hulle gebruik het, neergeskryf. Geen misdaad is gemeld nie, behalwe dat Jesus die Koning van die Jode was. Die opskrif was ‘n feitelike erkenning van die trou van die Jode aan die Romeinse gesag. Dit het verklaar dat elkeen wat beweer dat hy die koning van Israel is, veroordeel sou as die dood waardig te wees. Die priesters het hulleself te buite gegaan. Toe hulle teen Christus saamgesweer het, het Kajafas verklaar dat dit voordelig is dat een man sterf om die volk te red. Nou is hul skynheiligheid geopenbaar. Ten einde Christus te vernietig, was hulle selfs bereid om hul nasionale voortbestaan op te offer. DKvDE 822.2
Die priesters het besef wat hulle gedoen het en het Pilatus gevra om die inskripsie te verander. Hulle het gesê: “Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode.” Maar Pilatus was kwaad vir homself weens sy swakheid vroeër en het die jaloerse en listige priesters en owerstes terdeë verag. Hy het kil geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskrywe.” DKvDE 822.3
'n Hoër mag as Pilatus of die Jode het daardie opskrif bokant Jesus se hoof gerig. In die voorsienigheid van God sou dit die gedagte prikkel en tot ‘n ondersoek van die Skrifte lei. Die plek waar Christus gekruisig is, was naby die stad. Duisende mense van alle lande was op daardie stadium in Jerusalem en die inskripsie wat verklaar het dat Jesus van Nasaret die Messias is, sou onder hulle aandag kom. Dit was ‘n lewende waarheid, getranskribeer deur ‘n hand wat deur God gerig is. DKvDE 823.1
In die lyding van Christus aan die kruis is die profesieë vervul. Eeue voor die kruisiging het die Heiland die behandeling wat Hy sou ontvang voorspel. Hy het gesê: “Honde het My omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het My omring; hulle het My hande en My voete deurgrawe. Al My beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op My neer! Hulle verdeel My klere onder mekaar en werp die lot oor My gewaad.” (Psalm 22:17¬19). Die profesie aangaande Sy klere is vervul sonder inmenging van die vriende of vyande van die Gekruisigde. Sy klere is aan die soldate wat Hom aan die kruis gespyker het gegee. Christus het gehoor hoe die mense stry toe hulle Sy klere onder hulle verdeel het. Sy onderkleed was sonder naat geweef en hulle het gesê: “Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s'n dit sal wees.” DKvDE 823.2
In ‘n ander profesie het die Heiland verklaar: “Die smaad breek My hart, en Ek is verswak; ja, Ek het gewag op medelyde, maar verniet; en op vertroosters, maar het hulle nie gevind nie. En hulle het aan My gal gegee as My spys en vir My dors het hulle My asyn laat drink.” (Psalm 69:21,22). Dit was geoorloof om aan diegene wat aan die kruis gesterf het ‘n verdowingsmiddel toe te dien om die pyn te verdoof. Dit is aan Jesus gebied, maar nadat Hy dit geproe het, het Hy dit geweier. Hy sou niks neem wat Sy verstand kon benewel nie. Sy geloof moes in God gesetel wees. Dit was Sy enigste krag. Om Sy sinne te benewel sou aan Satan ‘n voordeel gee. DKvDE 823.3
Die vyande van Jesus het hul woede op Hom uitgestort terwyl Hy aan die kruis gehang het. Priesters, owerstes en skrifgeleerdes het by die gepeupel aangesluit om die spot met die sterwende Verlosser te dryf. Tydens Sy doop en Sy verheerliking is die stem van God gehoor wat verkondig het dat Christus Sy Seun is. Weer het die Vader, net voordat Christus verraai is, gepraat en van Sy Goddelikheid getuig. Maar nou was die stem uit die hemel stil. Geen getuienis in Christus se guns is gehoor nie. Hy moes alleen die mishandeling en bespotting van goddelose mense verduur. DKvDE 824.1
“As U die Seun van God is...” het hulle gesê, “...kom af van die kruis! ... Laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God is.” In die woestyn van versoeking het Satan gesê: “As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.” (Mattheus 4:3). “As U die Seun van God is, werp Uself af...” van die dak van die tempel. (Mattheus 4:6). En Satan met sy engele, in menslike gedaantes, was by die kruis teenwoordig. Die aartsvyand en sy leërskare het met die priesters en owerstes saamgewerk. Die leraars van die volk het die onkundige gepeupel opgesweep om ‘n oordeel oor Een wat baie van hulle nooit voorheen gesien het voordat by hulle aangedring is om teen Hom te getuig nie, uit te spreek. Priesters, owerstes en Fariseërs en die geharde gepeupel is saam in sataniese waansin verenig. Godsdienstige leiers het met Satan en sy engele verenig. Hulle het aan sy wil voldoen. DKvDE 824.2
Jesus, sterwend en lydend, het alles gehoor toe die priesters verklaar het: “Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo!” Christus kon van die kruis afgekom het. Maar dit was omdat Hy Homself nie wou red nie, dat die sondaar hoop op vergifnis en guns by God gevind het. DKvDE 824.3
In hul bespotting van die Verlosser, het die manne wat beweer het dat hulle die vertolkers van die profesieë is, die presiese woorde wat deur Inspirasie voorspel is uitgespreek. Tog het hulle in hul blindheid nie gesien dat hulle die profesieë vervul nie. Diegene wat die woorde: “Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God...” spottend uitgespreek het, het min besef gehad dat hul getuienis deur die eeue sou weerklink. Maar hoewel hierdie woorde spottend geuiter was, het dit mense daartoe gelei om die Skrif soos nooit voorheen nie, te ondersoek. Wyse mense het gehoor, ondersoek, oorpeins en gebid. Daar was diegene wat nie gerus het voordat hulle, deur skrif met skrif te vergelyk, die betekenis van Christus se sending begryp het nie. Daar was nog nooit so ‘n algemene kennis van Jesus soos toe Hy aan die kruis gehang het nie. In die harte van baie wat die kruisiging aanskou het en wat die woorde van Christus gehoor het, het die lig van die waarheid geskyn. DKvDE 825.1
Vir Jesus in Sy foltering aan die kruis, het daar ‘n ligstraal van vertroosting geskyn. Dit was die gebed van die boetvaardige misdadiger. Albei die mans wat saam met Jesus gekruisig was, het Jesus aanvanklik bespot; en een van hulle het in sy lyding net meer desperaat en uitdagend geword. Maar nie sy metgesel nie. Hierdie man was nie ‘n geharde misdadiger nie; hy is as gevolg van bose assosiasies mislei, maar was minder skuldig as baie van diegene wat langs die kruis gestaan en die Verlosser belaster het. Hy het Jesus gesien en gehoor en was deur sy leer oortuig, maar is deur die priesters en owerstes van Hom weggedraai. In ‘n poging om sy gewete te onderdruk, het hy hom dieper en dieper in die sonde begewe totdat hy in hegtenis geneem en as misdadiger verhoor en tot ‘n kruisdood veroordeel is. In die geregsaal en op pad na Golgota was hy saam met Jesus. Hy het Pilatus hoor verklaar dat hy “...in Hom geen skuld vind nie.” (Johannes19:4). Hy het Sy Goddelike houding opgemerk en Sy deernisvolle vergifnis van Sy martelaars. Aan die kruis het hy gesien hoe vername godsdienstiges die tong vir Jesus uitsteek en Hom bespot. Hy het gesien hoe hulle die hoof skud. Hy het die neerhalende uitsprake wat deur sy metgesel in sy skuldgevoelens opgeneem is, gehoor: “As U die Christus is, verlos Uself en ons.” Onder die verbygangers het hy baie wat Jesus verdedig het gehoor. Hy het gehoor hoe hulle Sy woorde herhaal en van Sy werke getuig. Hy het opnuut tot die oortuiging gekom dat dit die Christus is. Toe het hy hom na sy mede-misdadiger gewend en sê: “Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is?” Die sterwende misdadigers het niks meer van die mens te vrees gehad nie. Maar een van hulle het tot die oortuiging gekom dat daar ‘n God is om te vrees, ‘n toekoms wat hom laat sidder. En nou, met sonde besoedel soos hy was, was sy lewensgeskiedenis besig om die einde te nader. “Ons tog regverdiglik...” het hy gekreun, “...want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.” DKvDE 825.2
Geen twyfel het nou meer bestaan nie. Daar was geen verwyte nie. Toe die misdadiger vir sy misdaad gevonnis is, het hy wanhopig en moedeloos geraak; maar vreemde, teer gedagtes het nou by hom opgekom. Hy het aan alles gedink wat hy van Jesus gehoor het, hoe Hy siekes genees en sondes vergewe het. Hy het die woorde van diegene wat in Jesus geglo en Hom weemoedig gevolg het, gehoor. Hy het die titel bokant die hoof van Jesus gesien en gelees. Hy het gehoor hoe verbygangers dit herhaal, sommige met bedroefde, bewende lippe en ander spottend en uittartend. Die Heilige Gees het sy denke verlig en die skakels van bewyse het bietjie vir bietjie aaneengeskakel. In Jesus, gekneus, gespot en hangende aan die kruis, het hy die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem, gesien. Hoop met angs gemeng was in sy stem terwyl die hulpelose, sterwende siel homself na die sterwende Verlosser gewend het: “Dink aan my, Here...” het hy uitgeroep, “...wanneer U in U koninkryk kom.” DKvDE 826.1
Onmiddellik het die antwoord gekom. Sag en melodieus, in ‘n toon vol liefde, medelye en krag was die woorde: “Voorwaar Ek sê vir jou...” vandag, jy sal “.. saam met My in die Paradys wees.” DKvDE 826.2
Vir lang ure van lyding het die smaad en bespotting op die ore van Jesus geval. Terwyl Hy aan die kruis gehang het, het die klank van bespotting en vloeke steeds opgestyg na Hom toe. Met ‘n verlangende hart het Hy geluister vir ‘n uitdrukking van geloof van Sy dissipels. Maar al wat Hy gehoor het, was die droewige woorde: “En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos.” Hoe dankbaar was die Heiland dus vir die uiting van geloof en liefde uit die mond van hierdie sterwende misdadiger! Terwyl die Joodse leiers Hom nie wou erken nie en selfs die dissipels aan sy Goddelikheid getwyfel het, het die arme misdadiger Jesus, op die rand van die ewigheid, Here genoem. Baie was bereid om Hom Here te noem terwyl Hy wonderwerke verrig het en nadat Hy uit die graf uit opgestaan het; maar niemand het Hom erken terwyl Hy sterwend aan die kruis gehang het nie, behalwe die boetvaardige misdadiger wat ter elfder ure gered is. DKvDE 827.1
Die omstanders het gehoor toe die misdadiger Jesus Here noem. Die stemtoon van die berouvolle man het hul aandag gevange gehou. Diegene wat aan die voet van die kruis oor Christus se klere gestry het en die lot oor Sy onderkleed gewerp het, het stilgebly en geluister. Hul kwaai stemme was stil. Met ingehoue asem het hulle na Christus opgekyk en gewag om te hoor wat die sterwende lippe sou antwoord. DKvDE 827.2
Toe Hy die belofte maak, was dit asof die donker wolk wat geblyk het die kruis te omvou, deur ‘n helder, lewende lig deurboor is. Die volmaakte vrede van aanvaarding deur God het oor die boetvaardige misdadiger gekom. Christus is in Sy vernedering verheerlik. Hy wat vir almal geblyk het oorwonne te wees, was ‘n Oorwinnaar. Hy was as die Sondedraer erken. Mense kon wel mag oor Sy menslike liggaam uitoefen; hulle kon Sy Goddelike slape met ‘n kroon van dorings deurpriem; hulle kon Sy klere van Hom afneem en oor die verdeling daarvan stry; maar hulle kon Hom nie van Sy mag beroof om sonde te vergewe nie. Terwyl Hy besig was om te sterwe, het Hy van Sy eie Goddelikheid en die heerlikheid van die Vader getuig. Sy oor was nie te swaar om te hoor en Sy arm nie te kort om te red nie. Dit was Sy koninklike reg om almal wat deur Hom na God kom, tot die uiterste toe te red. DKvDE 827.3
Ek sê vir jou vandag, jy sal met My in die Paradys wees. Christus het nie beloof dat die misdadiger daardie selfde dag nog saam met Hom in die Paradys sou wees nie. Hy is self nie daardie dag na die Paradys nie. Hy het in die graf geslaap en op die opstandingsoggend het Hy gesê: “Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie.” (Johannes 20:17). Maar op die dag van die kruisiging, die dag van skynbare nederlaag en duisternis, is die belofte gegee: “Vandag...” terwyl Hy as kwaaddoener aan die kruis sterf, het Christus die arme sondaar verseker, jy sal “...saam met My in die Paradys wees. ” DKvDE 828.1
Die misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is, was “...een aan elke kant en Jesus in die middel...” geplaas. Dit was in opdrag van die priesters en owerstes gedoen. Christus se posisie tussen die twee misdadigers was om aan te dui dat Hy die grootste misdadiger van die drie was. En so is die Skrif vervul: “...omdat Hy ... saam met die oortreders getel was...” (Jesaja53:12). Maar die priesters het nie die volle betekenis van hul daad besef nie. Soos Jesus “...in die middel...” tussen die twee misdadigers gekruisig is, so is Sy kruis te midde van ‘n sondige wêreld geplant. En die woorde van vergifnis wat teenoor die boetvaardige kwaaddoener uitgespreek is, het ‘n lig wat tot in die uithoeke van die aarde sou skyn aangesteek. DKvDE 828.2
Met verbasing het die engele die oneindige liefde van Jesus, wat, terwyl Hy onder die mees intense lyding van siel en liggaam gely het, net aan ander gedink het en die boetvaardige siel aangemoedig het om te glo, gadegeslaan. In Sy vernedering het Hy, as Profeet, die dogters van Jerusalem toegespreek; en as Priester en Advokaat het Hy by Sy Vader gepleit om Sy moordenaars te vergewe; as liefdevolle Verlosser het Hy die boetvaardige misdadiger sy sondes vergewe. DKvDE 828.3
Terwyl Jesus se blik oor die skare om Hom gedwaal het, het een figuur Sy aandag getrek. Aan die voet van die kruis het Sy moeder, ondersteun deur die dissipel Johannes, gestaan. Sy kon dit nie verduur om van haar Seun af weg te gaan nie; en Johannes, toe hy vermoed het dat die einde naby was, het Hy haar weer na die kruis gebring. In sy sterwensuur het Christus aan sy moeder gedink. Hy het na haar bedroefde gesig gekyk en toe na Johannes en aan haar gesê: “Vrou, daar is u seun!” en toe vir Johannes: “Daar is jou moeder!” Johannes het Christus se woorde verstaan en die vertroue aanvaar. Hy het Maria dadelik na sy huis geneem en van daardie uur af met deernis vir haar gesorg. O, deernisvolle, liefdevolle Verlosser; te midde van al Sy liggaamlike pyn en geestelike angs, het Hy met bedagsame sorg aan Sy moeder gedink! Hy het geen geld gehad om vir haar te voorsien nie; maar Hy was in die hart van Johannes vasgelê en Hy het Sy moeder aan hom as ‘n kosbare nalatenskap oorgegee. So het Hy het vir haar voorsien wat sy die nodigste gehad het-die tere meegevoel van iemand wat haar liefgehad het omdat sy Jesus liefgehad het. En deur haar as ‘n heilige vertroue te ontvang, het Johannes ‘n groot seën ontvang. Sy was ‘n voortdurende herinnering aan sy geliefde Meester. DKvDE 829.1
Hierdie volmaakte voorbeeld van Christus se liefde van ‘n seun vir Sy moeder, skyn met ongedempte glans deur die mis van die eeue voort. Vir byna dertig jaar het Jesus in Sy daaglikse geswoeg gehelp om die laste van die huis te dra. En nou, selfs in sy laaste foltering, het Hy onthou om voorsorg vir Sy bedroefde weduwee-moeder te tref. Dieselfde gees sal in elke dissipel van die Here gesien word. Volgelinge van Christus sal dit as deel van hul godsdiens beskou om hul ouers te eerbiedig en vir hulle te voorsien. Vanuit die hart waar Sy liefde gekoester word, sal dit vader en moeder nooit ontbreek aan bedagsame sorg en deernisvolle meegevoel nie. DKvDE 829.2
En nou was die Here van die heerlikheid besig om as losprys vir die mensdom te sterwe. Toe Hy Sy kosbare lewe neergelê het, was dit nie met vreugde van oorwinning nie. Alles was in neerdrukkende somberheid. Dit was nie ‘n vrees vir die dood wat Hom neergedruk het nie. Dit was nie die pyn en skande van die kruis wat Sy onuitspreeklike lyding veroorsaak het nie. Christus was die Vors van die lydendes; maar Sy lyding was as gevolg van ‘n besef van die kwaadaardigheid van sonde, ‘n wete dat die mens, deur vertroudheid met sonde, verblind geraak het vir die omvang daarvan. Christus het gesien hoe diep die houvas van die sonde op die menslike hart was en hoe min mense bereid was om van die mag daarvan weg te breek. Hy het geweet dat die mens, sonder die hulp van God, sou vergaan en Hy het gesien hoe menigtes, wat binne bereik van oorvloedige hulp was, vergaan. DKvDE 830.1
Die ongeregtigheid van ons almal was op Christus as plaasvervanger en borg geplaas. Hy was as oortreder gereken, om ons van die oordeel van die wet te verlos. Die skuld van elke afstammeling van Adam was besig om op Sy hart te druk. Die toorn van God teen die sonde, die verskriklike manifestasie van Sy misnoeë weens die ongeregtigheid, het die siel van Sy Seun met ontsteltenis gevul. Sy hele lewe lank het Christus die goeie nuus van die Vader se barmhartigheid en vergewende liefde aan ‘n gevalle wêreld verkondig. Die redding vir die grootste sondaar was Sy tema. Maar nou, met die verskriklike las van skuld wat Hy gedra het, kon Hy nie die Vader se versoenende aangesig sien nie. Die onttrekking van die Goddelike gesig van die Heiland in hierdie uur van uiterste lyding, het Sy hart met ‘n hartseer, wat nooit deur die mense begryp sal kan word nie, deurboor. Hierdie lyding was so groot dat Sy liggaamlike lyding skaars waarneembaar was. DKvDE 830.2
Satan het met sy hewige versoekings, die hart van Jesus gewring. Die Heiland kon nie deur die poort van die graf sien nie. Die hoop het nie aan Hom voorgehou dat Hy as oorwinnaar uit die graf sou kom, of aan Hom vertel van die Vader se aanvaarding van Sy offer nie. Hy het gevrees dat die sonde so afgryslik vir God was, dat hulle skeiding vir ewig sou wees. Christus het die sieleangs ervaar wat die sondaar sal ervaar wanneer genade nie langer vir die sondige mensdom sal pleit nie. Dit was die besef van sonde, wat die Vader se toorn oor Hom as die mens se plaasvervanger gebring het, wat die beker wat Hy gedrink het so bitter gemaak het en die hart van die Seun van God gebreek het. DKvDE 831.1
Met verbystering het die engele die Heiland se wanhopige lyding aanskou. Die hemelse leërskare het hul aangesigte vir die vreesaanjaende toneel verberg. Die lewelose natuur het meegevoel met die beledigde en sterwende Outeur betuig. Die son het geweier om die aaklige toneel te aanskou. Sy volle, helder strale het nog in die middaguur die aarde verlig, toe dit skielik uitgewis is. Volkome duisternis het die kruis, soos ‘n doodswolk omhul. “Daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe.” Daar was geen sonsverduistering of ander natuurlike oorsaak vir hierdie duisternis, wat so donker soos middernag was, sonder maan of sterre nie. Dit was ‘n bonatuurlike getuienis wat deur God gegee is om die geloof van die toekomstige geslagte te bevestig. DKvDE 831.2
In daardie digte duisternis was God se teenwoordigheid geborge. Hy het die duisternis Sy paviljoen gemaak en Sy heerlikheid van die mens se oë verberg. God en Sy heilige engele was langs die kruis. Die Vader was by Sy Seun. Maar Sy teenwoordigheid was nie geopenbaar nie. Indien Sy heerlikheid deur daardie wolk gestraal het, sou elke menslike toeskouer vernietig gewees het. En in daardie vreeslike uur sou Christus nie met die Vader se teenwoordigheid getroos word nie. Hy het die wynpers alleen getrap en van die mense was niemand by Hom nie. DKvDE 831.3
In die digte duisternis het God die laaste menslike foltering van Sy Seun versluier. Almal wat Christus in Sy lyding aanskou het, was van sy Goddelikheid oortuig. Die mens wat daardie gelaat eenmaal aanskou het, het dit nooit vergeet nie. Soos die gesig van Kain sy skuld as moordenaar uitgedruk het, so het die gelaat van Christus onskuld, rustigheid en welwillendheid geopenbaar-die beeld van God. Maar Sy beskuldigers wou nie op die stempel van die hemel ag gee nie. Christus is deur lang ure van lyding deur die spottende menigte aanskou. Nou was Hy genadiglik deur die mantel van God verberg. DKvDE 832.1
Dit was asof ‘n grafstilte op Golgota neergedaal het. ‘n Naamlose vrees het die skare, wat om die kruis vergader het, vasgegryp. Die gevloek en smaad het in die middel van half-uitgespreekte sinne op hulle lippe gesterf. Mans, vroue en kinders het op die aarde neergeval. Helder weerligstrale het af en toe uit die wolk geflits en die kruis en die gekruisigde Verlosser verlig. Priesters, owerstes, skrifgeleerdes, laksmanne en die gepeupel het almal gedink dat die uur van vergelding aangebreek het. Later het sommige gefluister dat Jesus van die kruis sou afkom. Sommige het gepoog om tastend hul weg terug na die stad te vind, op hul borskaste geslaan en van vrees gekerm. DKvDE 832.2
Teen die negende uur het die duisternis van die skare gelig, maar die Heiland steeds omhul. Dit was ‘n simbool van die angs en afgryse wat swaar op Sy hart geweeg het. Geen oog kon deur die donkerte wat die kruis omring het dring nie en niemand kon die dieper donkerte wat die lydende siel van Christus omvou het binnedring nie. Dit was asof die verwoede blitse na Hom geslinger was waar Hy aan die kruis gehang het. Toe het Jesus met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: “Eli, Eli, lama sabagtani?” “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Toe die buitenste duisternis oor die Heiland toegesak het, het baie uitgeroep: Die wraak van die hemel is op Hom. Die flitse van God se toorn word na Hom geslinger omdat Hy beweer het dat Hy die Seun van God is. Baie wat in Hom geglo het, het Sy kreet van wanhoop gehoor en het hoop opgegee. As God Jesus verlaat het, waarop kon sy volgelinge vertrou? DKvDE 832.3
Toe die duisternis die bedrukte gees van Christus verlaat het, het Hy weer van Sy fisieke lyding bewus geword en gesê: “Ek het dors.” Een van die Romeinse soldate wat Hom bejammer het toe hy na die gebarste lippe opkyk, het ‘n hisoptak met ‘n spons geneem, dit in ‘n kom asyn gedoop en vir Jesus aangebied. Maar die priesters het met Sy lyding gespot. Toe die duisternis die aarde oordek het, was hulle vreesbevange; maar toe die skrik afneem, het die vrees dat Jesus dalk nog kon ontsnap, teruggekeer. Sy woorde: “Eli, Eli, lama sabagtani?” het hulle verkeerd vertolk. Met bittere minagting en bespotting het hulle gesê: “Kyk, Hy roep Elia.” Hulle het die laaste kans om Sy lyding te verlig, geweier. “Wag...” het hulle gesê, “...laat ons sien of Elia kom om Hom te verlos.” DKvDE 833.1
Die vlekkelose Seun van God het aan die kruis gehang, Sy vlees deur die géseling verskeur; daardie hande wat so dikwels in seën uitgesteek was, is aan die houtstawe vasgespyker; daardie voete wat so onvermoeid op liefdesdiens uit was, aan ‘n boom vasgespyker; die koninklike hoof wat deur ‘n doringkroon deurboor is; daardie bewende lippe in ‘n uitroep van wee gevorm. En alles wat Hy verduur het, die bloeddruppels wat uit Sy hoof gevloei het, Sy hande, Sy voete die lyding wat Sy wese gefolter het en die onuitspreeklike sieleangs wat Hom gevul het toe Sy Vader se gesig vir Hom verberg was, spreek tot elke kind van die mensdom en verklaar: Dit is vir ons dat die Seun van God ingewillig het om hierdie skuldlas te dra; vir ons het Hy die mag van die dood vernietig en die poorte na die Paradys geopen. Hy, wat die verwoede golwe stilgemaak en op die skuimende branders geloop het, wat die duiwels laat sidder en die siektes laat wyk het, wat die blindes se oë geopen en die dode tot die lewe geroep het, het Homself aan die kruis as ‘n offer aangebied en dit uit liefde vir ons. Hy, die Sondedraer, het die toorn van Goddelike geregtigheid verduur en om ons onthalwe self sonde geword. DKvDE 833.2
In stilte het die toeskouers die einde van die skrikwekkende toneel aanskou. Die son het weer geskyn; maar die kruis was nog steeds in duisternis gehul. Priesters en owerstes se blik was na Jerusalem gedraai; en kyk, die digte wolk het oor die stad en vlaktes van Judea gaan lê. Die Son van Geregtigheid, die Lig van die wêreld, het Sy strale uit die eens begunstigde stad, Jerusalem, onttrek. Die hewige weerligte van die toorn van God was teen die gedoemde stad gerig. DKvDE 834.1
Skielik het die duisternis van die kruis af gelig en in ‘n duidelike, trompetagtige toon wat geblyk het oor die hele skepping te weerklink, het Jesus uitgeroep: “Dit is volbring.” “Vader, in U hande gee Ek my gees oor.” ‘n Lig het die kruis omring en die gelaat van die Verlosser het met ‘n heerlikheid soos die son geskyn. Toe het Hy Sy hoof op Sy bors neergebuig en gesterf. DKvDE 834.2
Te midde van daardie aaklige duisternis, skynbaar deur God verlaat, het Christus die laaste druppel in die beker van menslike wee geledig. In daardie verskriklike ure het Hy op die getuienis wat Hy tot dusver ontvang het van Sy Vader se aanvaarding, gesteun. Hy was vertroud met die karakter van Sy Vader; Hy het Sy geregtigheid en Sy groot liefde geken. In geloof het Hy in Hom, Wie dit altyd Sy vreugde was om te gehoorsaam, berus. En soos Hy Hom, aan God onderworpe, verbind het, het die gevoel van verlies van die guns van Sy Vader, onttrek. Deur die geloof was Christus die Oorwinnaar. DKvDE 834.3
Nooit vantevore het die aarde so ‘n toneel aanskou nie. Die skare het asof verlam gestaan en die Verlosser met ingehoue asem aanskou. Weer het die duisternis oor die aarde toegesak en ‘n dowwe gedreun soos swaar donderweer is gehoor. Daar was ‘n hewige aardbewing. Die mense was op hope saamgegooi. Die wildste verwarring en konsternasie het gevolg. In die omliggende berge het rotse losgeruk en in die vlaktes neergestort. Grafte is oopgebreek en die dooies is uit hul grafte gewerp. Dit het gelyk asof die skepping tot atome geskud word. Priesters, owerstes, soldate, laksmanne en mense, stom van angs, het plat op die grond gelê. DKvDE 834.4
Toe die luide roep: “Dit is volbring!...” oor die lippe van Jesus gekom het, was priesters besig om in die tempel te dien. Dit was die uur van die aandoffer. Die lam wat Christus verteenwoordig het, is gebring om gedood te word. Geklee in sy betekenisvolle en pragtige gewaad, het die priester met die mes gelig gestaan, net soos Abraham toe hy gereed was om sy seun te dood. Met intense belangstelling het die volk toegekyk. Maar die aarde het gesidder en gebeef; want die Here self het genader. Met ‘n skeurgeluid is die voorhangsel van die tempel deur ‘n onsigbare hand van bo tot onder geskeur en die plek wat vroeër met die teenwoordigheid van God gevul was, is vir die blik van die skare oopgegooi. Hier het God Sy heerlikheid bo die versoendeksel geopenbaar. Niemand behalwe die hoëpriester het ooit die voorhangsel, wat hierdie deel van die res van die tempel geskei het, gelig nie. Hy het een maal per jaar ingekom om vir die sondes van die volk versoening te doen. Maar kyk, die voorhangsel was in twee geskeur. Die allerheiligste plek van die aardse heiligdom was nie langer heilig nie. DKvDE 835.1
Vrees en verwarring het geheers. Die priester was op die punt om die lam te slag, maar die mes het uit sy verlamde hand geval en die lam het ontsnap. Tipe het antitipe in die dood van die Seun van God ontmoet. Die groot soenoffer is gebring. Die weg na die allerheiligste is oopgestel. ‘n Nuwe en lewende weg is vir almal voorberei. Dit was nie meer nodig vir die berouvolle mensdom om op die koms van die hoëpriester te wag nie. Voortaan sou die Verlosser as Priester en Advokaat in die hoogste hemel dien. Dit was asof ‘n lewende stem tot die aanbidders gespreek het. Daar was nou ‘n einde aan alle offers en sondoffers. Die Seun van God het, volgens Sy woord, gekom: “Kyk, Ek kom-in die boekrol is dit van My geskrywe-om U wil te doen, o God.” (Hebreërs 10:7). “Met sy eie bloed...” het Hy “...eenmaal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.” (Hebreërs 9:12). DKvDE 835.2