Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 77—In Pilatus se Geregsaal*
In die geregsaal van Pilatus, die Romeinse goewerneur, het Christus as gevangene geboei gestaan. Rondom Hom was die soldate-wag en die saal is vinnig met toeskouers gevul. Net buite die ingang was die regters van die Sanhedrin, priesters, owerstes, ouderlinge en die gepeupel. DKvDE 794.1
Na die veroordeling van Jesus, het die raad van die Sanhedrin na Pilatus gekom om die vonnis bekragtig en uitgevoer te kry. Maar hierdie Joodse amptenare sou nie die Romeinse geregsaal binnegaan nie. Volgens hul seremoniële wette sou hulle daardeur verontreinig word en dus verhoed word om deel te neem aan die Paasfees. In hul blindheid kon hulle nie sien dat hul moorddadige haat hul harte reeds verontreinig het nie. Hulle kon nie sien dat Christus die ware Paaslam is en dat, aangesien hulle Hom verwerp het, die groot fees vir hulle alle betekenis verloor het nie. DKvDE 794.2
Toe die Verlosser in die geregsaal ingebring word, het Pilatus hom allesbehalwe vriendelik aangekyk. Die Romeinse goewerneur is inderhaas uit sy slaapkamer ontbied en hy was vasberade om sy taak so gou moontlik af te handel. Hy was gereed om die gevangene met strafregtelike strengheid te behandel. Met, ‘n streng uitdrukking het hy hom omgedraai om te sien watter soort man hy moes verhoor, dat hy so vroeg uit sy bed geroep moes word. Hy het geweet dat dit iemand moet wees wat die Joodse owerhede angstig was om inderhaas verhoor en gestraf te kry. DKvDE 794.3
Pilatus het na die manne gekyk wat Jesus begelei het en toe sy blik ondersoekend op Jesus laat rus. Hy het al met allerhande soorte misdadigers te doen gehad; maar nooit tevore het ‘n man met die stempel van soveel goedheid en edelheid voor hom verskyn nie. Hy het geen teken van skuld, geen uitdrukking van vrees en geen vermetelheid of uitdaging op Sy gelaat gemerk nie. Hy het ‘n kalm en waardige man gesien Wie se gelaat geen die tekens van ‘n misdadiger gedra het nie, maar die stempel van die hemel. DKvDE 794.4
Christus se voorkoms het ‘n gunstige indruk op Pilatus gemaak. Sy beter natuur is aangewakker. Hy het van Jesus en Sy werke gehoor. Sy vrou het hom ietwat van die wonderdade van die Galilese profeet vertel, wat siekes genees en dooies opgewek het. Nou het dit soos ‘n droom in Pilatus se gedagte herleef. Hy het gerugte wat hy uit verskillende bronne gehoor het herroep. Hy het hom voorgeneem om van die Jode te eis wat hul aanklagte teen die gevangene was. DKvDE 795.1
“Wie is hierdie Man en waarom het julle Hom hierheen gebring?” het hy gevra. “Watter aanklag het julle teen Hom?” Die Jode was van stryk gebring. Hulle het geweet dat hulle nie hulle klagtes teen Christus kon staaf nie en hulle het ook nie ‘n openbare verhoor verlang nie. Hulle het geantwoord dat Hy ‘n bedrieër was wat Jesus van Nasaret genoem word. DKvDE 795.2
Pilatus het weer gevra: “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?” Die priesters het sy vraag nie beantwoord nie, maar in woorde wat hul irritasie getoon het, het hulle gesê: “As Hy geen kwaaddoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie.” Wanneer diegene waaruit die Sanhedrin saamgestel is, die voorste manne van die volk, ‘n man na u toe bring wat hulle die dood waardig ag, is dit nodig om te vra wat die klag teen hom is? Hulle het gehoop om Pilatus onder die indruk van hul belangrikheid te bring en hom sodoende te beweeg om aan hul versoek toe te gee sonder om deur al die formaliteite te gaan. Hulle was gretig om hul vonnis bekragtig te kry, want hulle het geweet dat die mense wat Christus se wonderwerke aanskou het, ‘n heel ander verhaal sou kon vertel as die versinsels wat hulle nou herhaal het. DKvDE 795.3
Die priesters het gemeen dat met die swak en wankelmoedige Pilatus, hulle hul planne sonder moeite sou kon deurvoer. Voorheen het hy die doodvonnis haastig onderteken en manne ter dood veroordeel, wie hulle geweet het die dood nie verdien het nie. Volgens sy skatting, was die lewe van ‘n gevangene van min belang; of hy onskuldig of skuldig was, was nie noodwendig van belang nie. Die priesters het gehoop dat Pilatus nou die doodvonnis oor Jesus sou uitspreek sonder om Hom te verhoor. Hulle het dit as ‘n guns ter geleentheid van hul groot volksfees verlang. DKvDE 796.1
Maar daar was iets omtrent die gevangene wat Pilatus hiervan weerhou het. Hy kon dit nie waag nie. Hy het deur die planne van die priesters gesien. Hy het onthou hoe Jesus kort vantevore vir Lasarus opgewek het, ‘n man wat reeds vier dae dood was; en hy het besluit om, voordat hy die vonnis onderteken, eers vas te stel wat die aanklagte teen Hom was en of dit bewys kon word. DKvDE 796.2
As julle oordeel voldoende is, het hy gesê, waarom bring julle Hom na my toe? “Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet.” Onder hierdie druk het die priesters gesê dat hulle Hom reeds veroordeel het, maar dat hulle Pilatus se bekragtiging nodig het om hul vonnis geldig te maak. Wat is julle vonnis wou Pilatus weet? Die doodvonnis, het hulle geantwoord; maar dit is nie wettig vir ons om enigiemand tereg te stel nie. Hulle het Pilatus versoek om hul woord aangaande Christus se skuld te aanvaar en om hul vonnis te bekragtig. Hulle sal volle verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. DKvDE 796.3
Pilatus was nie ‘n regverdige of pligsgetroue regter nie; maar hoewel hy moreel swak was, het hy geweier om aan hierdie versoek te voldoen. Hy sou Jesus nie veroordeel totdat ‘n klag teen Hom ingebring is nie. DKvDE 796.4
Die priesters het in ‘n dilemma verkeer. Hulle het besef dat hulle hul huigelary onder die digste kleed sou moes versteek. Hulle moes nie toelaat dat dit blyk dat Christus op godsdienstige gronde gearresteer is nie. Indien hulle dit as rede aangevoer het, sou hulle prosedure geen gewig by Pilatus gedra het nie. Hulle moes die skyn wek dat Jesus die gemene reg ondermyn het; dan sou Hy as ‘n politieke oortreder gestraf kon word. Oproere en opstande teen die Romeinse gesag het voortdurend onder die Jode ontstaan. Die Romeine het hierdie opstande streng onderdruk en hulle was voortdurend op die uitkyk om enigiets wat tot ‘n oproer kon lei, te onderdruk. DKvDE 796.5
Slegs ‘n paar dae vantevore het die Fariseërs probeer om Christus met die vraag vas te trek: “Is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal?” Maar Christus het hul huigelary onthul. Die Romeine wat teenwoordig was, het die volslae mislukking van die samesweerders en hul verleentheid met Sy antwoord opgemerk: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom.” (Lukas 20:22-25). DKvDE 797.1
Toe het die priesters onderneem om die indruk te skep dat Christus by hierdie geleentheid, dit geleer het wat hulle gehoop het Hy sou leer. In hul radeloosheid het hulle valse getuies geroep: “...en hulle het Hom begin beskuldig en sê: Ons het gevind dat hierdie man die volk verlei en verbied om aan die keiser belasting te betaal, terwyl Hy sê dat Hy self Christus, die Koning, is.” Drie klagtes, elkeen sonder fondasie. Die priesters het dit geweet, maar hulle was gewillig om meineed te pleeg om hul doel te bereik. DKvDE 797.2
Pilatus het deur hul planne gesien. Hy het nie geglo dat die gevangene teen die regering saamgesweer het nie. Sy sagmoedige en nederige voorkoms was geheel en al nie in ooreenstemming met die klag nie. Pilatus was oortuig dat ‘n diep komplot gesmee is om van ‘n onskuldige man, wat in die pad van die Joodse hooggeplaastes gestaan het, te vernietig. Toe wend hy hom na Jesus en vra: “Is U die Koning van die Jode?” Die Heiland het geantwoord: “U sê dit.” En toe Hy praat, het Sy gelaat verhelder asof ‘n sonstraal daarop geval het. DKvDE 797.3
Toe hulle Sy antwoord hoor, het Kajafas en diegene wat saam met hom was, Pilatus as getuie geroep dat Jesus die misdaad waarvan Hy beskuldig was, erken het. Met luidrugtige uitroepe het die priesters, skrifgeleerdes en owerstes geëis dat Hy ter dood veroordeel moes word. Die uitroepe is deur die gepeupel opgeneem en die bohaai was oorverdowend. Pilatus was verward. Toe hy sien dat Jesus sy beskuldigers nie antwoord nie, sê Pilatus vir Hom: “Antwoord U niks nie? Kyk hoe baie getuienis hulle teen U inbring. Maar Jesus het niks meer geantwoord nie.” DKvDE 798.1
Christus, wat agter Pilatus, met almal in die hof voor hom, gestaan het, het die misbruik gehoor; maar op al die valse aanklagte teen Hom het Hy nie ‘n woord geantwoord nie. Sy hele houding het van bewustelike onskuld getuig. Hy het onaangeraak deur die golwe van geweld wat teen Hom aangeslaan het, gestaan. Dit was asof die geweldige oplewing van woede hoër en hoër gestyg het, soos die golwe van ‘n onstuimige oseaan wat al hoër en hoër gestyg en oor Hom gebreek het, maar Hom nie aangeraak het nie. Hy het geswyg, maar dit was ‘n welsprekende swye. Dit was soos ‘n lig wat uit die innerlike na die uiterlike mens geskyn het. DKvDE 798.2
Pilatus was verstom oor sy houding. Verontagsaam hierdie Man die verrigtinge omdat Hy nie vir Sy lewe omgee nie, het hy homself afgevra. Terwyl hy na Jesus gekyk het, wat die beledigings en bespotting sonder vergelding verdra het, het hy gevoel dat Hy nie so ongeregtig en onregverdig kan wees soos wat die tierende priesters beweer nie. Met die hoop om die waarheid van Hom te verneem en om van die lawaai van die skare weg te kom, het Pilatus Jesus eenkant toe geneem en Hom weer gevra: “Is U die Koning van die Jode?” DKvDE 798.3
Jesus het sy vraag nie regstreeks beantwoord nie. Hy het geweet dat die Heilige Gees met Pilatus stry en Hy het hom die geleentheid gegun om sy oortuiging te bely. “Sê u dit uit uself...” het Hy gevra, “...of het ander u dit van My gesê?” Met ander woorde, was dit die beskuldigings van die priesters, of ‘n begeerte om lig van Christus te ontvang wat aanleiding tot Pilatus se vraag gegee het? Pilatus het Christus se betekenis begryp, maar trots het in sy hart opgekom. Hy wou nie die oortuiging wat oor hom gekom het erken nie. “Is ek dan ‘n Jood?” het hy gevra. “U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen?” DKvDE 798.4
Pilatus se gulde geleentheid was verlore. Tog het Jesus hom nie sonder verdere lig gelaat nie. Terwyl Hy nie Pilatus se vraag regstreeks beantwoord het nie, het Hy duidelik Sy eie sending verklaar. Hy het Pilatus laat verstaan dat Hy nie op soek was na ‘n aardse troon nie. DKvDE 799.1
“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie...” het Hy gesê; “...as My koninkryk van hierdie wêreld was, sou My dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is My koninkryk nie van hier nie.” Pilatus sê toe vir Hom: “Is U dan tog ‘n koning?” Jesus het geantwoord: “U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na My stem.” DKvDE 799.2
Christus het bevestig dat Sy woord op sigself ‘n sleutel is wat die verborgenheid vir hulle wat bereid is om dit te ontvang, sal oopsluit. Dit was ‘n self-aanbevole mag en dit was die geheim van die verspreiding van Sy koninkryk van die waarheid. Hy het begeer dat Pilatus moes verstaan dat slegs deur die waarheid te ontvang en aan te wend, hy sy verdorwe natuur kon vernuwe. DKvDE 799.3
Pilatus het begeer om die waarheid te ken. Hy was verward. Hy het gretig na die woorde van die Verlosser geluister en sy hart is met ‘n groot verlange geroer om te weet wat dit werklik beteken en hoe hy dit kon ontvang. “Wat is waarheid?” het hy gevra. Maar hy het nie op ‘n antwoord gewag nie. Die oproer buite, het sy gedagtes terug na die huidige gebeure gevoer; want die priesters het luidrugtig onmiddellike optrede geëis. Hy het uitgestap na die Jode en nadruklik verklaar: “Ek vind geen skuld in Hom nie.” DKvDE 799.4
Hierdie woorde van ‘n heidense regter was ‘n striemende bestraffing vir die huigelary en valsheid van die owerstes van Israel wat die Verlosser beskuldig het. Toe die priesters en owerstes Pilatus dit hoor sê, het hul teleurstelling en woede geen perke geken nie. Hulle het lank saamgesweer en op hierdie geleentheid gewag. Toe hulle die moontlikheid van Jesus se vrylating besef, het dit gelyk asof hulle gereed was om Hom uitmekaar te skeur. Hulle het Pilatus luidkeels veroordeel en hom met die gramskap van die Romeinse bewind gedreig. Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy geweier het om Jesus, wat Homself teen die keiser aangestel het, het hulle herbevestig, te veroordeel. DKvDE 800.1
Verwoede stemme is nou gehoor wat verklaar het dat die opruiende invloed van Jesus deur die hele land welbekend is. Die priesters het gesê: “Hy maak die volk oproerig met Sy leer die hele Judea deur, vandat Hy in Galiléa begin het tot hiertoe.” DKvDE 800.2
Pilatus het tot op hede nie daaraan gedink om Jesus te veroordeel nie. Hy het geweet dat die Jode Hom uit haat en vooroordeel beskuldig het. Hy het geweet wat sy plig was. Geregtigheid het vereis dat Christus onmiddellik vrygestel moes word. Maar Pilatus het die volk se misnoeë gevrees. Sou hy weier om Jesus in hulle hande oor te lewer, sou ‘n oproer ontstaan en hy was bevrees daarvoor. Toe hy hoor dat Christus van Galiléa was, het hy besluit om Hom na Herodes, die heerser van daardie provinsie, wat op daardie stadium in Jerusalem was, te stuur. Met hierdie optrede het Pilatus gemeen om die verantwoordelikheid van die verhoor van homself op Herodes af te skuif. Hy het dit ook as ‘n goeie geleentheid beskou om ‘n ou geskil tussen homself en Herodes reg te stel. En dit was ook so. Die twee magistrate het as gevolg van die verhoor van die Verlosser, vriende geword. DKvDE 800.3
Pilatus het Jesus weer aan die soldate oorgelewer en onder die gespot en beledigings van die gepeupel is Hy na Herodes se geregsaal gehaas. “En toe Herodes Jesus sien, was hy verheug, want hy was al geruime tyd begerig om Hom te sien, omdat hy baie van Hom gehoor het; en hy het gehoop om een of ander teken te sien wat deur Hom gedoen sou word.” (Lukas 23:8). Dit was dieselfde Herodes wie se hande met Johannes die Doper se bloed bevlek was. Toe Herodes die eerste keer van Jesus gehoor het, was hy vreesbevange en het hy gesê: “Johannes wat ek onthoof het, dit is hy; hy het uit die dode opgestaan” (Markus 6:16). “Daarom werk dié kragte in hom.” (Mattheus 14:2). Tog het Herodes begeer om Jesus te sien. Dit was nou die geleentheid om die lewe van daardie profeet te red en die koning het gehoop om vir ewig die herinnering aan daardie bebloede hoof wat op ‘n skinkbord na hom gebring is, uit sy gedagte te verban. Hy het ook begeer om sy nuuskierigheid te bevredig en het gemeen dat indien Christus enige vooruitsig van vrylating gegun was, Hy enigiets sou doen wat van Hom gevra word. DKvDE 801.1
'n Groot groep priesters en ouderlinge het Christus na Herodes vergesel. En toe die Heiland voor hom gebring word, het hierdie hooggeplaastes, wat almal opgewonde gepraat het, hulle beskuldigings teen Hom aangehits. Maar Herodes het min ag op hul beskuldigings geslaan. Hy het beveel dat daar stilte moet wees, sodat hy Christus kon ondervra. Hy het ook beveel dat Christus se boeie losgemaak word en het Sy vyande daarvan beskuldig dat hulle Hom hardhandig behandel het. Terwyl hy met medelye na die kalme gelaat van die Verlosser gekyk het, het hy net wysheid en reinheid daarin gelees. Beide hy en Pilatus was oortuig dat Christus as gevolg van kwaadwilligheid en afguns beskuldig is. DKvDE 801.2
Herodes het Christus breedvoerig uitgevra, maar die Heiland het deurgaans ‘n diepe swye bewaar. Op bevel van die koning is siekes en verminktes ingeroep en is Christus beveel om Sy aansprake te bewys deur ‘n wonderwerk te verrig. Mense sê dat U siekes kan genees, het Herodes gesê. Ek is angstig om te sien dat U wydverspreide roem nie weerspreek word nie. Jesus het nie gereageer nie en Herodes het verder aangedring: As U wonderwerke vir ander kan verrig, verrig hulle nou tot U eie beswil. Weer het hy beveel: Gee ons ‘n teken dat U wel die mag besit waarvoor mense U krediet gee. Maar Christus was soos een wat nie hoor of sien nie. Die Seun van God het die natuur van die mens op Hom geneem. Hy moes doen wat die mens in soortgelyke omstandighede moes doen. Daarom wou Hy nie ‘n wonderwerk verrig om Homself die pyn en vernedering te spaar wat die mens sou moes verduur as hy in ‘n soortgelyke posisie geplaas word nie. DKvDE 801.3
Herodes het belowe dat as Christus ‘n wonderwerk in sy teenwoordigheid sou verrig, Hy vrygelaat sou word. Christus se beskuldigers het met hul eie oë die magtige werke gesien wat Hy verrig het. Hulle het gehoor hoe Hy die graf beveel om sy dode terug te gee. Hulle het gesien hoe die dode op Sy bevel te voorskyn kom. Vrees het hulle oorweldig indien Hy dalk nou ‘n wonderwerk sou verrig. Van al die dinge wat hulle die meeste gevrees het, was ‘n vertoon van Sy mag. So ‘n manifestasie sou hul planne die nekslag toedien en kon moontlik hul lewens kos. Weer het die priesters en owerstes naarstiglik hul beskuldigings teen Hom begin aanhits. Hulle het luidkeels verklaar: Hy is ‘n verraaier, ‘n godslasteraar. Hy verrig Sy wonderwerke deur die krag van Beëlsebul, die owerste van die duiwels. Die saal het ‘n toneel van verwarring geword, waarvan sommige een ding en ander iets anders uitgeroep het. DKvDE 802.1
Herodes se gewete was nou baie meer afgestomp as toe hy in afgryse voor die versoek van Herodias vir die hoof van Johannes die Doper gesidder het. Vir ‘n tyd het hy diep berou oor sy verskriklike daad gehad; maar sy morele persepsies is al hoe meer deur sy losbandige lewe afgetakel. Sy hart het so verhard geraak, dat hy selfs oor die straf wat hy Johannes toegedien het omdat hy gewaag het om hom te berispe, kon roem. En hy het Jesus gedreig en herhaaldelik verklaar dat hy die mag besit om Hom vry te laat of te veroordeel. Maar deur geen teken het Jesus enige aanduiding getoon dat Hy ‘n woord gehoor het nie. DKvDE 802.2
Dit het Herodes geïrriteer. Dit het geblyk volkome onverskilligheid vir gesag te wees. Vir die ydele en verwaande koning sou ‘n openlike teregwysing minder aanstoot gegee het as om op so wyse geïgnoreer te word. Weer het hy Jesus, wat steeds onaangeraak en stil gebly het, woedend gedreig. DKvDE 803.1
Christus se sending na hierdie wêreld was nie om ydele nuuskierigheid te bevredig nie. Hy het gekom om die gebrokenes van hart te genees. Indien Hy ‘n woord sou kon uiter om die kneusplekke van sonde-geteisterde siele te genees, sou Hy nie geswyg het nie. Maar Hy het geen woorde vir diegene, wat die waarheid net onder hul onheilige voete sou vertrap, gehad nie. DKvDE 803.2
Christus kon dinge vir Herodes gesê het wat die ore van die geharde koning sou deurboor het. Hy kon hom moontlik met vrees en bewing gevul het deur die ongeregtigheid van sy lewe en die verskrikking van sy naderende ondergang aan hom voor te lê. Maar Christus se swye was die strengste teregwysing wat Hy kon gee. Herodes het die waarheid wat deur die grootste van alle profete aan hom meegedeel is, verwerp en hy sou geen ander boodskap ontvang nie. Die Majesteit van die hemele het geen woord vir hom gehad nie. Die oor wat altyd vir die wee van die mense oop was, het geen plek vir Herodes se bevele gehad nie. Die oë wat altyd met simpatieke, vergewende liefde op die boetvaardige sondaar gerus het, het geen blik vir Herodes gehad nie. Daardie lippe wat die mees indrukwekkendste waarhede geuiter het, wat in deernisvolle smeking met die sondigste en mees ontaarde sondaar gepleit het, was vir die trotse koning, wat geen behoefte aan ‘n Verlosser gehad het nie, gesluit. DKvDE 803.3
Herodes se gelaat het donker van emosie geword. Hy het hom na die menigtes gewend en Jesus woedend vir ‘n bedrieër uitgeskel. Toe het hy aan Christus gesê: As Jy dan geen bewys van Jou aanspraak wil lewer nie, sal ek Jou aan die soldate en die gepeupel oorlewer. Hulle kan Jou dalk aan die praat kry. As Jy ‘n bedrieër is, verdien Jy niks beter as om deur hulle gedood te word nie; as Jy die Seun van God is, red Jouself deur ‘n wonderwerk te verrig. DKvDE 803.4
Die woorde was skaars uit, of die skare het op Christus afgestorm. Soos wilde diere het die gepeupel op hul prooi toegesak. Jesus is heen en weer gesleep en Herodes het hom by die gepeupel aangesluit in ‘n poging om die Seun van God te verneder. Indien Romeinse soldate nie ingegryp het en die waansinnige skare teruggedwing het nie, sou die Heiland uitmekaar geskeur gewees het. DKvDE 804.1
“En nadat Herodes saam met sy soldate Hom met veragting behandel en bespot het, werp hy Hom ‘n blink kleed om...” (Lukas 23:11). Die Romeinse soldate het hulle by hierdie mishandeling aangesluit. Alles wat hierdie bose, korrupte soldate, wat deur Herodes en die Joodse hooggeplaastes aangehits was, kon beding, is die Heiland aangedoen. Tog het Sy Goddelike geduld Hom nie versaak nie. DKvDE 804.2
Christus se vervolgers het gepoog om Sy karakter aan hul eie te meet; hulle het Hom net so veragtelik voorgestel as wat hulle self was. Maar agter die huidige gebeure het ‘n ander toneel na vore gekom-'n toneel wat hulle eendag in volle heerlikheid sal sien. Daar was sommige wat in die teenwoordigheid van Christus gebewe het. Terwyl die onbeskofte skare spottend voor Hom gebuig het, het sommige wat met daardie doel na vore wou kom, bevrees en swygsaam teruggedraai. Herodes was oortuig. Die laaste strale van genadige lig het in sy verharde hart geskyn. Hy het gevoel dat dit geen gewone Mens was nie; want Goddelikheid het deur Sy menslikheid gestraal. Op dieselfde oomblik toe Christus deur spotters, owerspelers en moordenaars omring is, het Herodes gevoel asof hy God op Sy troon aanskou. DKvDE 804.3
So gehard soos hy was, het Herodes die veroordeling van Christus nie durf bekragtig nie. Hy wou graag van die verskriklike verantwoordelikheid onthef wees en het Jesus na die Romeinse geregsaal teruggestuur. DKvDE 805.1
Pilatus was teleurgesteld en baie ontevrede. Toe die Jode met hul gevangene terugkeer, het hy ongeduldig gevra wat hulle wou hê hy moes doen. Hy het hulle daaraan herinner dat hy Jesus alreeds ondervra het en geen skuld in Hom gevind nie; hy het aan hulle gesê dat hulle klagtes teen Hom ingebring het, maar dat hulle nie ‘n enkele klagte kon bewys nie. Hy het Jesus na Herodes, die viervors van Galiléa en een van hul eie volk gestuur, maar ook hy het niks in Hom gevind wat die dood verdien nie. “Nadat ek Hom dan gekasty het...” het Pilatus gesê, “...sal ek Hom loslaat.” DKvDE 805.2
Hierdeur het Pilatus sy swakheid verraai. Hy het verklaar dat Jesus onskuldig is en tog was hy gewillig om Hom te laat gésel om sy beskuldigers tevrede te stel. Hy het geregtigheid en beginsel opgeoffer om ‘n kompromie met die gepeupel aan te gaan. Dit het hom in ‘n nadelige posisie geplaas. Die skare het sy besluiteloosheid uitgebuit en al hoe luider op die lewe van die gevangene aangedring. As Pilatus uit die staanspoor ferm gestaan en geweier het om ‘n Man wat hy onskuldig bevind het te veroordeel, sou hy die noodlottige ketting wat hom lewenslank in skuld en berou gebonde sou hou, verbreek het. As hy sy oortuigings van reg en geregtigheid uitgevoer het, sou die Jode hulle nie aangematig het om aan hom voor te skryf nie. Christus sou gedood geword het, maar die skuld sou nie op Pilatus gerus het nie. Maar Pilatus het een stap na die ander geneem om sy gewete te verkrag. Hy het homself verskoon om met geregtigheid en billikheid te oordeel en nou was hy byna hulpeloos in die hande van die priesters en owerstes. Sy weifeling en besluiteloosheid was sy ondergang. DKvDE 805.3
Selfs nou was Pilatus nie aan homself oorgelaat om blindelings op te tree nie. ‘n Boodskap van God het hom gewaarsku teen die daad wat hy wou pleeg. In antwoord op die gebed van Christus, is die vrou van Pilatus deur ‘n engel uit die hemel besoek en in ‘n droom het sy die Heiland aanskou en met Hom gepraat. Pilatus se vrou was nie ‘n Jodin nie, maar toe sy Jesus in haar droom sien, het sy geen twyfel oor Sy karakter of sending gehad nie. Sy het geweet dat Hy die Vors van God is. Sy het Hom in die geregsaal gesien teregstaan. Sy het Sy hande styf vasgebind gesien soos dié van ‘n misdadiger. Sy het gesien hoe Herodes en sy soldate hulle gruwelike werk verrig. Sy het gehoor hoe die priesters en owerstes, gevul met afguns en kwaadwilligheid, Hom soos waansinniges beskuldig. Sy het die woorde gehoor: “Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf.” Sy het gesien hoe Pilatus Jesus laat gésel nadat hy verklaar het: “Ek vind geen skuld in Hom nie.” Sy het Pilatus die vonnis hoor uitspreek en gesien hoe hy Christus aan Sy moordenaars uitlewer. Sy het die kruis op Golgota sien opgaan, die aarde in duisternis gehul gesien en het die raaiselagtige uitroep gehoor: “Dit is volbring.” Nog ‘n toneel het voor haar oë afgespeel. Sy het Christus op ‘n groot wit wolk sien sit, terwyl die aarde in die ruimte wankel en sy moordenaars voor die teenwoordigheid van Sy heerlikheid vlug. Met ‘n gil van verskrikking het sy wakker geword en dadelik aan Pilatus woorde van waarskuwing gestuur. DKvDE 805.4
Terwyl Pilatus nog getwyfel het oor wat hom te doen staan, het ‘n boodskapper deur die skare gebeur en die brief van sy vrou aan hom oorhandig, wat soos volg gelui het: DKvDE 806.1
“Moet tog niks te doen hê met dié regverdige man nie, want ek het vannag in ‘n droom baie gely om Sy ontwil.” DKvDE 806.2
Pilatus se gelaat het verbleek. Hy is deur sy eie botsende emosies verwar. Maar terwyl hy gehuiwer het om op te tree, het die priesters en owerstes die emosies van die mense verder opgestook. Pilatus was gedwing om op te tree. Toe val dit hom by van ‘n gewoonte wat moontlik Christus se vrylating kon bewerkstellig. Dit was gebruiklik om op hierdie fees ‘n gevangene wat deur die mense gekies word, vry te laat. Dit was ‘n heidense gebruik; daar was nie ‘n skadu van geregtigheid daarin nie, maar die Jode het dit hoog op prys gestel. Die Romeinse owerhede het op hierdie stadium ‘n gevangene, genaamd Barábbas, aangehou, wat die doodvonnis opgelê is. Hierdie man het beweer dat hy die Messias is. Hy het aanspraak gemaak op die gesag om ‘n nuwe orde tot stand te bring, om die wêreld te hervorm. Onder sataniese misleiding het hy geëis dat alles wat hy deur diefstal en rowery kon bekom, aan hom behoort het. Onder sataniese magte het hy wonderbaarlike dinge gedoen en vir hom ‘n gevolg onder die mense versamel en opstand teen die Romeinse owerheid aangehits. Onder die dekmantel van godsdienstige ywer was hy ‘n geharde en desperate boosdoener wat op rebellie en wreedheid toegespits was. Deur die skare ‘n keuse tussen hierdie man en die onskuldige Verlosser te gee, het Pilatus gehoop om ‘n sin vir geregtigheid op te wek. Hy het gehoop om simpatie vir Jesus te wen in teenstelling met die priesters en owerstes. En so, terwyl hy hom na die skare gewend het, het hy met groot erns gesê: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Barábbas, of Jesus wat genoem word Christus?” DKvDE 806.3
Soos die gebrul van wilde diere het die antwoord van die gepeupel gekom: “Nie vir Hom nie, maar Barábbas!” Luider en luider het die uitroep uitgeswel: Barábbas! Barábbas! Met die gedagte dat die volk hom nie verstaan het nie, het Pilatus gevra: “Wil julle dan hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?” Maar hulle het weer geroep: “Weg met Hom, en laat vir ons Barábbas los!” Toe vra Pilatus: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus?” Weer het die malende skare soos demone gebrul. Demone self in menslike gedaante, was tussen die skare en wat anders kon verwag word as die antwoord: “Laat Hom gekruisig word!” DKvDE 807.1
Pilatus was in ‘n dilemma. Hy het nie verwag dat sake so ‘n wending sou neem nie. Hy het teruggedeins van die idee om ‘n onskuldige man aan die mees skandaligste en wreedste dood oor te lewer. Nadat die gebrul van stemme bedaar het, het hy hom na die mense gewend en gesê: “Watter kwaad het Hy dan gedoen?” Maar die saak het te ver vir argumente gevorder. Dit was nie getuienis van Christus se onskuld wat hulle wou hê nie, maar Sy veroordeling. DKvDE 807.2
Nog steeds het Pilatus probeer om Hom te red. En vir die derde keer het hy vir hulle gesê: “Watter kwaad het Hy dan gedoen? Ek het in Hom niks gevind wat die dood verdien nie. Ek sal Hom dan kasty en loslaat.” Maar net die melding van Sy vrylating het die mense tot tienvoudige raserny opgesweep. “Kruisig, kruisig Hom!” het hulle uitgeroep. Luider en luider het die storm wat Pilatus met sy besluiteloosheid ontketen het gewoed. DKvDE 808.1
Jesus is, swak van uitputting en met wonde bedek en ten aanskoue van die menigte, gegésel. “Toe lei die soldate Hom weg in die binneplaas, dit is die goewerneur se paleis, en hulle roep die hele leërafdeling bymekaar en trek Hom ‘n purperkleed aan en vleg ‘n kroon van dorings en sit dit vir Hom op; en hulle begin Hom begroet: Wees gegroet, Koning van die Jode! ...en spuug op Hom en val op die knieë en bring Hom hulde.” Soms het ‘n bose hand die riet wat in Sy hand geplaas is gegryp en die kroon op Sy hoof daarmee geslaan en die dorings in Sy slape ingedwing, wat die bloed oor Sy gesig en baard laat loop het. DKvDE 808.2
“Verstom julle, o hemele! en verbaas jou, o aarde! Aanskou die verdrukker en die verdrukte.” ‘n Waansinnige skare het die Verlosser van die wêreld omring. ‘n Gespot en gejil was met growwe gevloek en godslastering vermeng. Kommentaar is deur die gevoellose gepeupel oor Sy nederige geboorte en lewe geuiter. Sy aanspraak as die Seun van God is belaglik gemaak en vulgêre grappe en smalende beledigings is van mond tot mond herhaal. DKvDE 808.3
Satan het die wrede skare in die mishandeling van die Verlosser aangevoer. Dit was sy doel was om Hom, indien moontlik, tot vergelding uit te lok, of om Hom te dwing om ‘n wonderwerk te verrig om Homself te bevry en sodoende die verlossingsplan te verongeluk. Een klad op sy lewe as mens, een mislukking in Sy mensheid om die verskriklike toets te deurstaan en die Lam van God sou ‘n onvolmaakte offer gewees het en die verlossing van die mens sou misluk het. Maar Hy wat met ‘n bevel die hemelse leër kon ontbied om Hom tot hulp te kom, Hy wat daardie gepeupel vreesbevange voor Sy oë kon verdryf het met die uitstraling van sy Goddelike majesteit, het Hom met volmaakte kalmte aan die grofste belediging en woede onderwerp. DKvDE 808.4
Christus se vyande het op ‘n wonderwerk as bewys van Sy Goddelikheid aangedring. Hulle het veel groter bewyse as dit waarvoor hulle gevra het gehad. Namate hul wreedheid Sy martelaars benede die menslike tot die gelyke van Satan verlaag het, het Jesus se sagmoedigheid en geduld Hom bo die mensdom verhef en Sy verwantskap aan God bewys. Sy vernedering was die waarborg van Sy verheffing. Die druppels bloed wat van Sy gefolterde slape langs Sy gesig afgeloop het, was die waarborg van Sy salwing “...met vreugde-olie...” (Hebreërs 1:9) as ons groot Hoëpriester. DKvDE 809.1
Satan se woede was groot toe hy sien dat al die mishandeling wat die Heiland toegedien is, nie die geringste murmurering oor Sy lippe gedwing het nie. Hoewel Hy die natuur van die mens op Hom geneem het, is Hy met ‘n Goddelike standvastigheid besiel en het Hy in geen opsig van die wil van Sy Vader afgewyk nie. DKvDE 809.2
Toe Pilatus Jesus oorgelewer het om gegésel en bespot te word, het hy gemeen om die skare se deernis op te wek. Hy het gehoop hulle sou besluit dat dit voldoende straf sou wees. Selfs die kwaadwilligheid van die priesters, het hy gedink, sou dan bevredig word. Maar met skerpsinnigheid het die Jode die swakheid om ‘n man wat onskuldig verklaar is op hierdie wyse te straf, ingesien. Hulle het geweet dat Pilatus die lewe van die gevangene probeer red het en hulle was vasberade dat Jesus nie vrygelaat sou word nie. Pilatus het Hom laat gésel, het hulle gedink, om ons tevrede te stel en as ons die saak deurdruk tot ‘n finale beslissing druk, sal ons ons sin kry. DKvDE 809.3
Pilatus het vir Barábbas gestuur en hom in die hof ingebring. Toe het hy die twee gevangenes sy-aan-sy voor hulle laat staan en na die Heiland gewys en met in ‘n plegtige pleidooi gesê: “Daar is die mens! ... Ek bring Hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek in Hom geen skuld vind nie.” DKvDE 810.1
Daar het die Seun van God, met die kleed van bespotting en die doringkroon op Sy hoof gestaan. Sy bolyf was kaal en oor Sy rug het die lang, wrede hale gelê waaruit die bloed vrylik gevloei het. Sy gesig was bloedbevlek en het die spore van uitputting en pyn verraai; maar nog nooit was Hy skoner van aangesig as tans nie. Voor Sy vyande, was die heiligheid van die Heiland nie geskend nie. Elke gelaatstrek was ‘n uitdrukking van sagmoedigheid en berusting en deernis vir sy wrede vyande. Sy houding het geen teken van lafhartige swakheid weerspieël nie, maar wel die krag en waardigheid van lankmoedigheid. Die gevangene langs Hom was ‘n treffende teenstelling. Elke plooi op Barábbas se gelaat het van die geharde skobbejak wat hy was getuig. Die kontras het elke kyker aangespreek. Sommige van die toeskouers het geween. Soos hulle na Jesus gekyk het, was hulle harte met meegevoel gevul. Selfs die priesters en owerstes was oortuig dat Hy alles was waarop Hy aanspraak gemaak het. DKvDE 810.2
Die Romeinse soldate wat Christus omring het, was nie almal gehard nie; sommige het ernstig na Sy gelaat opgekyk vir ‘n enkele bewys dat Hy ‘n krimineel of gevaarlike karakter was. Van tyd tot tyd het hulle Barábbas minagtend aangekyk. Dit het nie veel insig gekos om reg deur hom te sien nie. Weer het hulle hul tot die Een gewend wat onder verhoor was. Hulle het die Goddelike Lydende met innige bejammering aangekyk. Die stille onderwerping van Christus het die toneel in hul gedagtes ingeprent, om nooit uitgewis te word, totdat hulle Hom as die Christus erken het, of deur Hom te verwerp, hul eie lot verseël het nie. DKvDE 810.3
Pilatus was met verbasing gevul oor die berustende gelatenheid van die Verlosser. Hy het nie daaraan getwyfel dat die aangesig van hierdie Man, in teenstelling met Barábbas, die Jode tot meegevoel sou beweeg nie. Maar hy het nie die fanatieke haat van die priesters verstaan vir Hom wat, as die Lig van die wêreld, hul duistere dwaling blootgestel het nie. Hulle het die gepeupel tot ‘n waansinnige woede opgesweep en weer het priesters, owerstes en die skare daardie verskriklike uitroep laat hoor: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Uiteindelik, nadat hy alle geduld met hul onredelike wreedheid verloor het, het Pilatus in wanhoop uitgeroep: “Neem julle Hom en kruisig Hom, want ek vind geen skuld in Hom nie.” DKvDE 811.1
Die Romeinse goewerneur, hoewel gewoond aan wreedaardige tonele, was met meegevoel vir die mishandelde gevangene gevul wat, ondanks die feit dat Hy veroordeel en gegésel is, met sy bloeiende voorhoof en verskeurde rug, steeds die houding van ‘n koning op sy troon gehad het. Maar die priesters het gesê: “Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.” DKvDE 811.2
Pilatus was verskrik. Hy het nie ‘n ware begrip van Christus en Sy sending gehad nie; maar hy het vaagweg in God geglo en in wesens wat bo die mens verhewe is. ‘n Gedagte wat eenkeer by hom opgekom het, het nou duideliker gestalte aangeneem. Hy het gewonder of dit nie dalk ‘n Goddelike Wese is wat hier voor hom staan nie, geklee in die purper gewaad van bespotting en met dorings gekroon. DKvDE 811.3
Hy het weer die geregsaal binnegegaan en vir Jesus gesê:: “Vanwaar is U?” Maar Jesus het hom nie geantwoord nie. Die Verlosser het vrylik met Pilatus gepraat en Sy sending as Getuie vir die waarheid verduidelik. Pilatus het die lig verontagsaam. Hy het sy verantwoordelike amp as regter misbruik deur sy beginsels en gesag aan die vereistes van die gepeupel te onderwerp. Jesus het geen verdere lig vir hom gehad nie. Onvergenoegd met Sy swye, het Pilatus uit die hoogte gesê: DKvDE 811.4
“Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?” DKvDE 812.1
Jesus het geantwoord: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.” DKvDE 812.2
So het die bejammerende Verlosser, te midde van Sy intense lyding en smart, steeds, sover moontlik, verskoning vir die Romeinse goewerneur wat Hom oorgelewer het om gekruisig te word, gesoek. Wat ‘n toneel om aan die wêreld vir alle tye oor te lewer! Wat se lig het dit nie op die karakter van Hom wat die Regter van die hele wêreld is gewerp nie! DKvDE 812.3
“Hy wat My aan u oorgelewer het...” het Jesus gesê, “...[het] groter sonde.” Hiermee het Christus Kajafas bedoel wat, as hoëpriester, die Joodse volk verteenwoordig het. Hulle het die beginsels wat die Romeinse owerheid beheer het geken. Hulle het die lig van die profesieë wat van Christus getuig het en van Sy eie leringe en wonderwerke, gehad. Die Joodse regters het onmiskenbare bewyse van die Goddelikheid van Hom wat hulle tot die dood veroordeel het gehad. En volgens die lig wat hulle gehad het, sal hulle geoordeel word. DKvDE 812.4
Die grootste skuld en swaarste verantwoordelikheid het op diegene gerus wat die hoogste posisies in die volk beklee het, die bewaarders van die heilige pand wat hulle op so ‘n lae wyse verraai het. Pilatus, Herodes en die Romeinse soldate was betreklik onkundig oor Jesus. Hulle wou die priesters en owerstes tevrede stel deur Hom te mishandel. Hulle het nie die lig gehad wat die Joodse volk so ruimskoots ontvang het nie. Indien dieselfde lig aan die soldate gegee was, sou hulle Christus nie so wreed mishandel het soos hulle gedoen het nie. DKvDE 812.5
Weer het Pilatus hom voorgeneem om die Verlosser vry te laat. “Maar die Jode het geskreeu en gesê: “As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie.” So het die huigelaars voorgegee dat hulle ywerig vir die gesag van die keiser was. Van alle teenstanders teen die Romeinse wet, was die Jode die bitterste. Wanneer dit veilig vir hulle was om so te doen, het hulle hul eie nasionale en godsdienstige vereistes tirannies afgedwing; maar wanneer hulle een of ander wreedheid wou begaan, het hulle die mag van die keiser verhoog. Om die vernietiging van Christus te bewerkstellig, sou hulle trou teenoor die vreemde bewind wat hulle gehaat het, bely. DKvDE 813.1
“Elkeen wat homself koning maak...” het hulle gesê, “...kom in verset teen die keiser.” Dit het ‘'n teer punt by Pilatus aangeraak. Hy was onder verdenking by die Romeinse regering en het geweet dat so ‘n verslag hom sou ruïneer. Hy het geweet dat indien hy die Jode in hulle doel sou verydel, hul woede teen hom sou draai. Hulle sou niks ongedaan laat om wraak te neem nie. Hier het hy voor hom ‘n voorbeeld gehad van die volharding waarmee hulle die lewe van Een, wat hulle sonder rede gehaat het, gesoek het. DKvDE 813.2
Toe het Pilatus sy plek op die regterstoel ingeneem en Jesus weer aan die volk voorgehou met die woorde: “Daar is julle Koning.” Weer is die waansinnige uitroep gehoor: “Neem weg, neem weg, kruisig Hom!” In ‘n stem wat ver en naby gehoor kon word, het Pilatus gevra: “Moet ek julle Koning kruisig?” Maar uit Godslasterlike lippe het die woorde gekom: “...ons het geen koning behalwe die keiser nie.” DKvDE 813.3
So het die Joodse volk, deur ‘n heidense heerser te kies, hulle van die teokrasie onttrek. Hulle het God as hul Koning verwerp. Voortaan was hulle sonder ‘n Verlosser. Hulle het geen koning behalwe die keiser gehad nie. Hiertoe het die priesters en leraars die volk gelei. Hiervoor en vir die skrikwekkende gevolge daarna, was hulle verantwoordelik. Die sonde van ‘n volk en die ondergang van ‘n volk was aan die godsdiensleiers toe te skryf. DKvDE 813.4
“En toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder ‘n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!” In vrees en selfveroordeling het Pilatus na die Verlosser gekyk. In die uitgestrekte see van gesigte was Syne alleen vreedsaam. Dit was asof ‘n sagte lig om Sy hoof geskyn het. Pilatus het in sy hart gesê, Hy is ‘n God. Hy het hom na die skare gewend en verklaar: Ek is onskuldig aan Sy bloed. Vat julle Hom en kruisig Hom. Maar weet dit, priesters en owerstes, ek verklaar Hom ‘n regverdige man. Mag Hy wat God sy Vader noem julle veroordeel vir hierdie dag se werk en nie vir my nie. Toe sê hy vir Jesus: Vergewe my hiervoor; ek kan Jou nie red nie. En nadat hy Jesus weer laat gésel het, het hy Hom oorgegee om gekruisig te word. DKvDE 814.1
Pilatus wou Jesus graag vrylaat. Maar het besef dat hy dit nie sou kon doen en nog sy eie posisie en eer handhaaf nie. Hy het verkies om eerder ‘n onskuldige lewe op te offer as om sy wêreldse mag te verloor. Hoe baie offer nie op dieselfde wyse hul beginsels op om verlies of lyding te ontkom nie. Plig en gewete dui een rigting aan, maar selfbelang wys na ‘n ander. Die stroom loop sterk in die verkeerde rigting en hy wat ‘n ooreenkoms met die bose sluit, word in die digte duisternis van skuldgevoelens weggevoer. DKvDE 814.2
Pilatus het voor die aandrang van die gepeupel geswig. Eerder as om die risiko te loop om van sy posisie onthef te word, het hy Jesus oorgelewer om gekruisig te word. Maar ten spyte van sy voorsorgmaatreëls, het juis dit wat hy die meeste gevrees het, agterna oor hom gekom. Hy is van alle eer ontneem en van sy hoë pos onthef en deur berou en gekrenkte trots geteister het hy, nie lank na die kruisiging nie, sy eie lewe geneem. So sal almal wat ‘n ooreenkoms met die bose sluit, slegs leed en ondergang ervaar. “Daar is ‘n weg wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” (Spreuke 14:12). DKvDE 814.3
Toe Pilatus homself as onskuldig aan die bloed van Jesus verklaar het, het Kajafas hom uitdagend geantwoord: “Laat Sy bloed op ons en op ons kinders kom!” Hierdie skrikwekkende woorde is deur die priesters en owerstes opgeneem en het in ‘n onmenslike gebrul van stemme weergalm. Die hele menigte het geantwoord: “Laat Sy bloed op ons en op ons kinders kom.” DKvDE 815.1
Die mense van Israel het hul keuse gemaak. Hulle het na Jesus gewys en gesê: “Nie hierdie man nie, maar Barábbas.” Barábbas, die rower en moordenaar, was die verteenwoordiger van Satan. Christus was die Verteenwoordiger van God. Christus is verwerp, Barábbas verkies. Barábbas sou hulle kry. Met hierdie keuse het hulle hom aangeneem wat van die begin af ‘n leuenaar en moordenaar was. Satan was hul leier. As ‘n volk sou hulle doen soos hy voorskryf. Hulle sou sy werke verrig. Sy bewind moet hulle verduur. Hierdie volk wat Barábbas in die plek van Christus gekies het, sou die wreedheid van Barábbas ervaar vir solank die tyd sou duur. DKvDE 815.2
Toe die Jode na die gegéselde Lam van God kyk, het hulle uitgeroep: “Laat Sy bloed op ons en op ons kinders kom.” Daardie verskriklike uitroep het na die troon van God opgestyg. Daardie vonnis, wat hulle oor hulleself uitgespreek het, is in die hemel opgeteken. Daardie gebed is verhoor. Die bloed van die Seun van God het op hul kinders en kindskinders gerus, ‘n ewige vloek. DKvDE 815.3
Hoe skrikwekkend is dit in die vernietiging van Jerusalem verwesenlik. Vir agtien honderd jaar het dit op ‘n verskriklike wyse in die toestand van die Joodse nasie gemanifesteer; ‘n tak wat van die wingerdstok afgesny is, ‘n dooie, vrugtelose tak, wat versamel en verbrand moet word. Regdeur die wêreld, van land tot land, van eeu tot eeu dood, dood in oortreding en sonde! DKvDE 815.4
Hoe skrikwekkend sal daardie gebed in die groot oordeelsdag vervul word. Wanneer Christus weer na die aarde sal kom, sal mense Hom nie as ‘n gevangene, deur ‘n gespuis omring, sien nie. Hulle sal Hom sien as die Hemelse Koning. Christus sal in Sy eie heerlikheid kom, die heerlikheid van Sy Vader en die heerlikheid van die heilige engele. Tienduisend maal tienduisend en duisende der duisende engele, die skone en triomfantelike seuns van God, met voortreflike skoonheid en luister, sal Hom op Sy weg vergesel. Dan sal Hy op die troon van Sy heerlikheid sit en al die nasies sal voor Hom versamel word. Dan sal elke oog Hom sien en ook hulle wat Hom deurboor het. In die plek van ‘n doringkroon sal Hy ‘n kroon van heerlikheid dra-'n kroon binne ‘n kroon. In die plek van daardie ou purper kleed, sal Hy in ‘n gewaad van die suiwerste wit geklee wees, “...soos geen bleiker op aarde dit kan maak nie.” (Markus 9:3). En op sy gewaad en op sy heup sal ‘n naam geskryf wees: “Die KONING VAN DIE KONINGS en die HERE VAN DIE HERE.” (Openbaring 19:16). Diegene wat hom gespot en geslaan het, sal daar wees. Die priesters en owerstes sal weer die toneel in die geregsaal herleef. Elke omstandigheid sal voor hulle opkom, asof in letters van vuur geskrywe. Dan sal die wat gesê het: “Laat Sy bloed op ons en op ons kinders kom...” se gebed verhoor word. Dan sal die hele wêreld weet en verstaan. Hulle sal besef teen Wie en waarteen hulle, arme, swak, sterflike wesens, geveg het. In verskriklike sielefoltering en afgryse sal hulle tot die berge en rotse roep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van Sy toorn het gekom en wie kan bestaan?”- (Openbaring 6:16,17). DKvDE 816.1