Die Koning van die Eeue

77/88

Hoofstuk 76—Judas

Judas se geskiedenis verteenwoordig die tragiese einde van ‘n lewe wat deur God geëer kon gewees het. Indien Judas voor sy laaste reis na Jerusalem gesterf het, sou hy as ‘n waardige lid van die twaalf beskou gewees het en een wat grootliks gemis sou gewees het. Die afgryse wat hom deur die eeue gevolg het, sou nie bestaan het as dit nie vir die eienskappe, wat aan die einde van sy geskiedenis geopenbaar is, was nie. Maar dit was met ‘n doel dat sy karakter aan die wêreld blootgestel was. Dit moes as waarskuwing dien aan almal wat, soos hy, heilige vertroue sou verraai. DKvDE 785.1

'n Rukkie voor die Pasga, het Judas sy kontrak met die priesters om Jesus aan hulle oor te lewer, hernu. Vervolgens is daar gereël dat die Heiland by een van die plekke waar Hy graag gebid en gemediteer het, gevange geneem sou word. Judas het sedert die maaltyd in Simon se huis geleentheid gehad om na te dink oor die daad wat hy onderneem het om te pleeg, maar hy het onbeweeglik gebly. Vir dertig silwerstukke, die prys van ‘n slaaf, het hy die Here van heerlikheid verkoop om ‘n skanddood te sterf. DKvDE 785.2

Judas was van geaardheid lief vir geld; maar hy was nie altyd so korrup om ‘n daad soos hierdie te pleeg nie. Hy het die gees van gierigheid gekoester totdat dit die oorheersende motief van sy lewe geword het. Sy liefde vir Mammon het swaarder as sy liefde vir Christus geweeg. Deur die slaaf van een euwel te word, het hy hom aan Satan oorgegee om tot die uiterste tot sonde gedryf te word. DKvDE 785.3

Judas het by die dissipels aangesluit toe menigtes Christus gevolg het. Die Heiland se leer het hul harte aangeraak terwyl hulle verruk aan Sy lippe gehang het; leringe wat Hy in die sinagoge, langs die strand en op die berg verkondig het. Judas het gesien hoe die siekes, verlamdes en blindes uit die stede en dorpe na Jesus stroom. Hy het gesien hoe die sterwendes voor sy voete neergelê word. Hy het die Verlosser se magtige werke om die siekes te genees, duiwels uit te dryf en die dooies op te wek, aanskou. Hy het in sy eie wese die mag van Christus ervaar. Hy het die leer van Christus meer voortreflik as enigiets wat hy ooit gehoor het, erken. Hy het die groot Leermeester liefgehad en begeer om by Hom te wees. Hy het ‘n begeerte gehad om van karakter en lewe verander te word en gehoop om dit, deur homself met Jesus te verenig, te ervaar. Die Heiland het Judas nie verstoot nie. Hy het aan hom ‘n plek onder die twaalf gegee. Hy het hom vertrou om die werk van ‘n evangelis te doen. Hy het aan hom die mag gegee om siekes te genees en duiwels uit te dryf. Maar Judas het nie sover gekom om homself volkome aan Christus oor te gee nie. Hy het nie van sy wêreldse ambisie of sy liefde vir geld afgesien nie. Hoewel hy die posisie as dienaar van Christus aanvaar het, het hy hom nie aan die Goddelike vorming onderwerp nie. Hy het gemeen dat hy sy eie oordeel en opinies kon handhaaf en het ‘n geneigdheid om te kritiseer en te beskuldig gekweek. DKvDE 785.4

Die dissipels het ‘n hoë agting vir Judas gehad en hy het ‘n groot invloed oor hulle uitgeoefen. Hy self het ‘n hoë opinie van sy eie kwalifikasies gehad en sy broeders, vergeleke met hom, as grootliks minderwaardig in oordeel en bekwaamheid beskou. Hy het gemeen dat hulle nie hul geleenthede raakgesien en voordeel uit omstandighede getrek het nie. Die kerk sou nooit kon floreer met sulke kortsigtige manne as leiers nie. Petrus was voortvarend; hy het opgetree sonder om te dink. Johannes, wat die waarhede uit Christus se mond in sy hart bewaar het, is deur Judas as ‘n swak finansier beskou. Mattheus, wie se opleiding hom noukeurig in alle dinge gemaak het, was baie gesteld op eerlikheid; hy het altyd die woorde van Christus bepeins en was so verdiep daarin dat, soos Judas dit gesien het, hy nie vertrou kon word om skerp, vernuftige besigheid te doen nie. So het Judas al die dissipels opgesom en homself gevlei dat die kerk dikwels in verwarring en verleentheid gebring sou word as dit nie vir sy vermoë as bestuurder was nie. Judas het homself as die bekwame een, wat nie oortref kon word nie, beskou. Volgens sy eie skatting was hy ‘n aanwins vir die saak en het homself altyd as sodanig voorgedoen. DKvDE 786.1

Judas was blind vir sy eie gebreke in karakter en Christus het hom geplaas waar hy ‘n geleentheid sou hê om dit in te sien en reg te stel. As penningmeester vir die dissipels was dit sy taak om na die behoeftes van die groepie om te sien en noodleniging onder die armes te verrig. Toe Jesus in die Pasga-vertrek vir hom sê: “Wat jy doen, doen dit haastig...” (Johannes 13:27), het die dissipels gedink Hy het hom beveel om aan te koop wat nodig was vir die fees, of iets vir die armes te gee. Deur ander te dien, kon Judas moontlik ‘n onselfsugtige gees ontwikkel het. Maar alhoewel hy daagliks na die lesse van Christus geluister het en Sy onselfsugtige lewe aanskou het, het Judas met sy hebsugtige geaardheid volgehou. Die klein bedrae wat hy ontvang het, was ‘n voortdurende versoeking. Dikwels wanneer hy ‘n geringe diens vir Christus verrig het, of tyd aan godsdienstige aangeleenthede afgestaan het, het hy homself uit die karige fonds vergoed. In sy eie oë het hierdie voorwendsels sy optrede geregverdig; maar in die oë van God was hy ‘n dief. DKvDE 787.1

Jesus se herhaaldelike verklaring dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld was nie, het Judas aanstoot gegee. Hy het ‘n raamwerk beplan waarvolgens hy verwag het Christus moes werk. Hy het beplan dat Johannes die Doper uit die gevangenis bevry moes word. Maar, Johannes is toegelaat om onthoof te word. En Jesus, in plaas daarvan om Sy koninklike reg te laat geld en die dood van Johannes te wreek, het Hy met Sy dissipels na ‘n afgeleë plek onttrek. Judas wou meer aggressiewe oorlogvoering hê. Hy het gemeen dat indien Jesus die dissipels nie weerhou het om hul planne uit te voer nie, die werk meer suksesvol sou wees. Hy het die toenemende vyandigheid van die Joodse leiers bemerk en het gesien hoe hulle uitdaging verontagsaam is toe hulle by Hom aangedring het op ‘n teken uit die hemel. Sy hart was oopgestel vir ongeloof en die vyand het gedagtes van twyfel en rebellie gesaai. Waarom het Jesus soveel nadruk op ontmoedigende dinge gelê? Waarom het Hy beproewing en vervolging vir Homself en sy dissipels voorspel? Die vooruitsig van ‘n hoë posisie in die nuwe koninkryk het Judas daartoe gelei om die saak van Christus te steun. Sou sy hoop verydel word? Judas was nie die mening toegedaan dat Jesus nie die Seun van God was nie; maar hy het getwyfel en het gepoog om ‘n verklaring vir Sy magtige werke te verkry. DKvDE 787.2

Ondanks die Heiland se eie leer, het Judas voortdurend die idee dat Christus as koning in Jerusalem sou regeer, bevorder. Toe die vyfduisend gevoed is, het hy gepoog om dit deur te voer. By hierdie geleentheid het Judas gehelp om die voedsel aan die honger skare uit te deel. Hy het ‘n geleentheid gehad om die voordeel in sy vermoë om met ander te deel, te sien. Hy het die bevrediging wat altyd met diens aan God gepaardgaan, ervaar. Hy het gehelp om die siekes en lydendes onder die skare na Christus te bring. Hy het gesien watter verligting en blydskap deur die helende krag van die Restoureerder aan menseharte gebring is. Hy kon die metodes van Christus verstaan het, maar hy was deur sy eie selfsugtige begeertes verblind. Judas was eerste om voordeel uit die geesdrif wat die vermeerdering van die brode opgewek het, te trek. Dit was hy wat die plan om Christus te neem en met geweld koning te maak, in werking gestel het. Sy hoop het hoog opgevlam. Sy teleurstelling was bitter. DKvDE 788.1

Christus se toespraak in die sinagoge aangaande die brood van die lewe was die keerpunt in die geskiedenis van Judas. Hy het die woorde gehoor: “As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en Sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.” (Johannes 6:53). Hy het besef dat Christus eerder geestelike as wêreldse voordele bied. Hy het homself as versiende geag en kon sien dat Jesus geen eer sou geniet en dat Hy geen hoë posisie vir Sy volgelinge sou kon aanbied nie. Hy het besluit om hom nie so nou met Christus te verenig dat hy hom nie kon onttrek nie. Hy sou sake dophou. En hy het ook. DKvDE 788.2

Van toe af het hy twyfel, wat die dissipels verwar het, gesaai. Hy het strydpunte en misleidende sentimente geopper en die argumente wat deur die skrifgeleerdes en Fariseërs teen die aansprake van Christus ingebring is, herhaal. Al die moeilikhede en teëspoed, groot en klein, al die skynbare struikelblokke in die weg van die evangelie, het Judas as bewyse teen die waarheid daarvan vertolk. Hy sou Skrifgedeeltes, wat geen verband hou met die waarhede wat Christus verkondig het nie, aanhaal. Hierdie tekste, buite verband gesien, het die dissipels verwar en het bygedra tot die ontmoediging wat hulle voortdurend geteister het. Tog het Judas dit op so wyse gedoen, dat hy die indruk van pligsgetrouheid geskep het. En terwyl die dissipels na getuienis gesoek het wat die woorde van die groot Leraar sou bevestig, het Judas hulle byna ongemerk op ‘n ander spoor gelei. So het hy, op heel godsdienstige en skynbaar wyse manier, sake in ‘n ander lig voorgestel as wat Christus dit aangebied het en het hy betekenis, wat Hy nie oorgedra het nie, aan Jesus se woorde geheg. Sy voorstelle het voortdurend ‘n ywerige begeerte vir verganklike voorkeure opgewek en die dissipels sodoende weggedraai van die belangrike dinge wat hulle moes oorweeg het. Die onenigheid oor wie van hulle die grootste sou wees, is in die algemeen deur Judas aangewakker. DKvDE 789.1

Toe Jesus die voorwaarde vir dissipelskap aan die ryk jongman verduidelik het, was Judas ontevrede. Hy het gedink dat ‘n fout begaan is. As sulke manne soos hierdie jongman met die gelowiges kon verenig, sou dit help om die saak van Christus te ondersteun. As Judas se raad net gevra was, het hy gevoel, sou hy baie planne aan die hand kon doen vir die bevordering van die klein kerkie. Sy beginsels en metodes sou ietwat van Christus s'n verskil, maar in hierdie dinge het hy homself wyser as Christus geag. DKvDE 789.2

In elke ding wat Christus aan Sy dissipels gesê het, was daar iets waarmee Judas in sy hart nie saamgestem het nie. Onder sy invloed was die suurdeeg van ontevredenheid aan die werk. Die dissipels het nie die ware oorsprong van al hierdie dinge gesien nie; maar Jesus het gesien dat Satan sy eie karaktertrekke aan Judas oorgedra het om sodoende ‘n kanaal oop te maak waardeur die ander dissipels beïnvloed kon word. Dit het Christus, ‘n jaar voordat Hy verraai is, verklaar: “Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie?...” het Hy gesê “...en een van julle is ‘n duiwel!” (Johannes 6:70). DKvDE 790.1

Maar Judas het hom nie openlik verset nie en het skynbaar ook nie die Heiland se lesse betwyfel nie. Hy het geen openlike beswaar gemaak tot met die feesmaal in Simon se huis nie. Toe Maria die voete van Jesus gesalf het, het Judas sy hebsugtige geaardheid verraai. Die teregwysing van Jesus was soos gal vir sy gees. Gekrenkte trots en wraaksug het die versperrings afgebreek en die gierigheid wat hy so lank gekoester het, het hom nou beheer. Dit sal die ervaring van elkeen wees wat volhou om met sonde te peuter. Die elemente van verdorwenheid wat nie weerstaan en oorkom word nie, reageer op Satan se versoeking en die siel word tot gevangene aan sy wil onderwerp. DKvDE 790.2

Maar Judas was nog nie heeltemal verhard nie. Selfs nadat hy twee keer onderneem het om die Heiland te verraai, was daar geleentheid vir berou. By die Pasga-maal het Jesus Sy Godheid bewys deur die verraaier se doel te ontbloot. Hy het Judas liefdevol by die bediening van die dissipels ingesluit. Maar die laaste beroep op liefde was verontagsaam. Daarmee was die saak van Judas beslis en die voete wat Jesus gewas het, het uitgestap om die werk van die verraaier uit te voer. DKvDE 790.3

Judas het geredeneer dat as Jesus gekruisig moes word, dit in alle geval sou gebeur. Sy eie daad om die Verlosser te verraai, sou nie die eindresultaat beïnvloed nie. As Jesus nie moes sterf nie, sou dit Hom slegs dwing om Homself te verlos. In alle geval sou Judas baat by sy verraad. Hy het gereken dat hy ‘n goeie winskopie gemaak het deur sy Here te verraai. DKvDE 790.4

Judas het egter nie geglo dat Christus sou toelaat dat hulle Hom gevange neem nie. Deur Hom te verraai, was dit sy doel om Hom ‘n les te leer. Hy was van voorneme om ‘n rol te speel wat die Verlosser voortaan versigtig sou maak om hom met die nodige respek te behandel. Maar Judas het nie geweet dat hy Christus aan die dood sou oorlewer nie. Hoe dikwels, wanneer die Verlosser in gelykenisse onderrig het, was die skrifgeleerdes en Fariseërs deur die treffende illustrasies meegevoer! Hoe dikwels het hulle nie ‘n oordeel oor hulself uitgespreek nie! Dikwels, wanneer die waarheid hulle aan die verstand gebring was, was hulle met woede vervul en het hulle klippe opgetel om Hom te stenig; maar keer op keer het Hy ontsnap. Aangesien Hy uit soveel strikke ontsnap het, het Judas gemeen, sou Hy gewis nie toelaat dat hulle Hom gevange neem nie. DKvDE 791.1

Judas het besluit om die saak op die proef te stel. As Jesus regtig die Messias was, sou die volk vir wie Hy soveel gedoen het om Hom skaar en Hom as koning verkondig. Dit sou vir goed, alle twyfel wat nou in baie gedagtes geheers het, uitskakel. Judas sou die eer, dat hy die koning op Dawid se troon geplaas het, ontvang. En hierdie daad sou aan hom die hoogste posisie, naas Christus, in die nuwe koninkryk besorg. DKvDE 791.2

Die valse dissipel het sy rol in die verraad van Jesus gespeel. Toe hy in die tuin aan die leiers van die gepeupel gesê het: “Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom...” (Mattheus 26:48), het hy vas geglo dat Christus uit hul hande sou ontsnap. As hulle hom dan sou blameer het, sou hy kon sê: Het ek nie gesê julle moet Hom styf vashou nie? DKvDE 791.3

Judas het gesien hoe die bende, wat op sy woorde gereageer het, Christus stewig vasbind. Verbysterd het hy gesien hoe die Heiland Hom laat weglei. Hy het Hom angstig uit die tuin na die verhoor voor die Joodse leiers gevolg. Elke oomblik het hy gekyk of Jesus Sy vyande sou verras deur voor hulle as die Seun van God te verskyn en al hul sameswerings en mag tot niet te maak. Maar soos uur na uur verbygegaan het en Jesus Homself aan al die mishandeling wat op Hom gehoop is onderwerp het, het ‘n verskriklike vrees, dat hy sy Meester aan die dood uitgelewer het, oor die verraaier gekom. DKvDE 791.4

Toe die verhoor sy einde nader, kon Judas die foltering van sy skuldige gewete nie langer verduur nie. Skielik het ‘n hees stem deur die saal weerklink wat ‘n verskrikking in alle harte gesaai het: Hy is onskuldig; spaar Hom, o Kajafas! DKvDE 792.1

Die lang gestalte van Judas het nou tussen die verskrikte skare begin deurdring. Sy gelaat was bleek en vervalle en groot druppels sweet het op sy voorhoof gepêrel. Hy het hom na die regterstoel gehaas en die dertig silwerstukke wat die prys van sy Here se verraad was, voor die hoëpriester neergegooi. Hy het die kleed van Kajafas angstig vasgevat en hom gesmeek om Jesus vry te laat en gesê dat Hy niks gedoen het wat die dood verdien nie. Kajafas het hom ergerlik afgeskud, maar hy was verward en het nie geweet wat om te sê nie. Die verraad van die priesters het aan die lig gekom. Dit was duidelik dat hulle die dissipel omgekoop het om sy Meester te verraai. DKvDE 792.2

“Ek het gesondig...” het Judas weer uitgeroep, “...deur onskuldige bloed te verraai.” Maar die hoëpriester wat sy teenwoordigheid van gees herwin het, het honend gesê: “Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!” (Mattheus 27:4). Die priesters was gewillig om Judas hul werktuig te maak, maar hulle het sy gemeenheid verag. Toe hy hom na hulle met sy belydenis gewend het, het hulle hom verwerp. DKvDE 792.3

Judas het hom nou aan die voete van Jesus neergewerp, erken dat hy die Seun van God is en Hom gesmeek om Homself te verlos. Die Heiland het Sy verraaier nie verwyt nie. Hy het geweet dat Judas hom nie bekeer het nie; sy belydenis is uit sy skuldige siel deur ‘n oorweldigende besef van oordeel en komende verdoemenis gedwing, maar hy het geen diep, hartbrekende berou, dat hy die vlekkelose Seun van God verraai het en die Heilige Een van Israel verloën het, gehad nie. Jesus het geen woord van veroordeling oor hom uitgespreek nie. Hy het Judas met medelye aangekyk en gesê: Hiervoor het Ek na die wêreld gekom. DKvDE 792.4

'n Murmurering van verbasing het deur die saal getrek. Met verbasing het hulle die verdraagsaamheid van Christus teenoor Sy verraaier aanskou. Weer het die oortuiging dat hierdie Mens meer as ‘n sterfling was, oor hulle gekom. Maar as Hy die Seun van God is, het hulle gevra, waarom het Hy nie Homself uit die boeie bevry en oor Sy beskuldigers getriomfeer nie? DKvDE 793.1

Judas het gesien dat sy smekinge tevergeefs was en hy het uit die saal gestorm en uitgeroep: Dit is te laat! Hy het gevoel dat hy nie kon leef om Jesus gekruisig te sien nie en in wanhoop het hy uitgegaan en homself gaan ophang. DKvDE 793.2

Later dieselfde dag, op pad van Pilatus se geregsaal na Golgota, was daar ‘n onderbreking in die uitroepe en bespotting van die bose gedrang wat Jesus na die plek van kruisiging gelei het. Toe hulle by ‘n afgeleë plek verbykom, het hulle aan die voet van ‘n dooie boom, die liggaam van Judas gesien. Dit was ‘n weersinswekkende gesig. Die gewig van sy liggaam het die tou waarmee hy hom aan die boom opgehang het, gebreek. Met die val is sy liggaam afgryslik vermink en honde was nou besig om dit te verslind. Sy oorskot is dadelik buite sig begrawe; maar daar was minder gespot in die gedrang en baie bleek gesigte het die innerlike gedagtes verraai. Vergelding het geblyk reeds oor diegene wat skuldig aan die bloed van Jesus was, gekom. DKvDE 793.3