Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 75—Voor Annas en die Hof van Kajafas *
Oor die spruit Kedron, verby tuine en olyfboorde en deur die verlate stil strate van die slapende stad, het hulle met Jesus gehaas. Dit was na middernag en die uitroepe van die jillende gepeupel wat Hom gevolg het, het die nagstilte skril verbreek. Die Heiland was geboei en streng bewaak en Hy het pynlik beweeg. Maar Sy veroweraars het Hom met gretige haas na die paleis van Annas, die afgetrede hoëpriester, geneem. DKvDE 766.1
Annas was die hoof van die dienende priesterlike familie en uit eerbied vir sy ouderdom is hy deur die volk as hoëpriester erken. Sy raad is gevra en uitgevoer asof dit die stem van God was. Jesus, as gevangene van die priesterdom, moes eers voor hom verskyn. Hy moes by die ondersoek van die gevangene teenwoordig wees, ingeval die minder ervare Kajafas dalk nie daarin sou slaag om hul doel te verwesenlik nie. Sy geslepenheid, sluheid en subtiliteit moes vir hierdie geleentheid aangewend word; want Christus se veroordeling moes ten alle koste bevestig word. DKvDE 766.2
Christus sou formeel voor die Sanhedrin verhoor word; maar Hy is voor Annas aan ‘n voorlopige ondersoek onderwerp. Kragtens die Romeinse wet, kon die Sanhedrin nie die doodvonnis voltrek nie. Hulle kon slegs ‘n gevangene verhoor en uitspraak lewer, wat deur die Romeinse owerheid bekragtig moes word. Daarom was dit nodig om klagtes teen Christus in te bring wat deur die Romeine as ‘n kriminele oortreding beskou sou word. ‘n Klag moes ook gevind word wat Hom in die oë van die Jode sou veroordeel. Etlike priesters en owerhede is deur die leer van Christus oortuig en slegs die vrees om uit die sinagoge verban te word, het hulle verhoed om Hom te bely. Die priesters het Nikodemus se vraag goed onthou: “Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen?” (Johannes 7:51). Hierdie vraag het die raad voorlopig laat verdaag en hul planne verydel. Josef van Arimathea en Nikodemus was nie by hierdie aangeleentheid ontbied nie, maar daar was ander wat dit moontlik sou waag om ten gunste van geregtigheid te spreek. Die verhoor moes dus op so ‘n wyse aangevoer word, wat die lede van die Sanhedrin teen Christus sou verenig. Daar was twee klagte wat die priesters begerig was om te handhaaf. Indien Jesus as ‘n godslasteraar bewys kon word, sou Hy deur die Jode veroordeel word. Indien Hy aan aansporing tot rebellie skuldig bevind kon word, sou dit die Romeine se veroordeling verseker. Annas het probeer om die tweede klag eers vas te stel. Hy het Jesus uitgevra aangaande Sy dissipels en leerstellings, met die hoop dat die gevangene iets sou sê wat aan hom materiaal kon verskaf waarmee hy kon werk. Hy het gedink om een of ander verklaring, wat sou bewys dat Hy gepoog het om ‘n geheime beweging tot stand te bring, met die doel om ‘n nuwe koninkryk op te rig, uit Hom te trek. Dan kon die priesters Hom aan die Romeine as ‘n rusverstoorder en ‘n skepper van opstand uitlewer. DKvDE 766.3
Christus het die priester se doelwit soos ‘n oop boek gelees. Asof Hy Sy ondervraer se innerlike siel kon lees, het Hy ontken dat daar enige geheime ooreenkoms tussen Hom en Sy volgelinge bestaan, of dat Hy hulle na donker in die geheim bymekaar laat kom het om Sy planne te verberg. Hy het geen geheime met betrekking tot Sy doelwitte of doktrines gehad nie. “Ek het ronduit tot die wêreld gespreek...” het Hy geantwoord. “Ek het altyd in die sinagoge geleer en in die tempel waar die Jode van alle kante vergader; en in die geheim het Ek niks gespreek nie.” DKvDE 767.1
Die Heiland het Sy eie wyse van optrede met die metodes van Sy beskuldigers gekontrasteer. Hulle het Hom vir maande agtervolg en gepoog om Hom vas te trek en voor ‘n geheime tribunaal te bring, waar hulle moontlik deur meineed kon bereik wat hulle nie op ‘n regverdige wyse kon bereik nie. Nou het hulle hul doelwitte uitgevoer. Die middernagtelike gevangeneming deur die gepeupel, die bespotting en mishandeling voordat Hy veroordeel of selfs aangekla was, was hulle metode om te werk te gaan, nie Syne nie. Hul optrede was ‘n oortreding van die wet. Hul eie wette het verklaar dat elke mens as onskuldig beskou moes word, totdat hy skuldig bevind is. Deur die priesters se eie wette het hulle veroordeeld gestaan. DKvDE 767.2
Jesus het na Sy ondervraer gedraai en gesê: “Wat ondervra u My?” Het die priesters en owerstes dan nie spioene gestuur om Sy bewegings dop te hou en elke woord aangaande Hom te rapporteer nie? Was hulle nie by elke samekoms van mense teenwoordig om inligting aangaande al Sy woorde en dade by die priesters te gaan aanmeld nie? “Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek tot hulle gespreek het...” het Jesus geantwoord, “...hulle weet tog wat Ek gesê het.” DKvDE 768.1
Die beslistheid van hierdie antwoord het Annas spraakloos gelaat. Bevrees dat Christus iets oor sy optrede wat hy liewer dig wou hou sou sê, het hy op hierdie stadium niks verder aan Hom gesê nie. Een van sy amptenare, gevul met wrewel toe hy sien dat Annas die swye opgelê is, het Jesus in die gesig geslaan en gesê: “Antwoord U die hoëpriester so?” DKvDE 768.2
Christus het kalm geantwoord: “As Ek verkeerd gespreek het, getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?” Hy het geen hittige woorde van vergelding geuiter nie. Sy kalm antwoord het uit ‘n sondelose, geduldige en sagmoedige hart gekom wat nie uitgelok kon word nie. DKvDE 768.3
Christus het die mishandeling en belediging pynlik gevind. Aan die hand van die wesens wat Hy geskape het en vir wie Hy ‘n oneindige offer sou bring, het Hy elke vernedering ontvang. En Hy het in verhouding tot Sy volmaakte heiligheid en haat vir die sonde gely. Om deur mense, wat onder die beheer van Satan was, omring te wees, was vir Hom afstootlik. En Hy het geweet dat in ‘n oomblik, deur ‘n flits van Sy Goddelike mag, kon Hy Sy wrede treiteraars in die stof lê. Dit het die verhoor moeiliker gemaak om te verduur. DKvDE 768.4
Die Jode het ‘n Messias gesoek wat met uiterlike vertoon geopenbaar sou word. Hulle het van Hom verwag om, deur een flits van oorheersende wilskrag, die stroom van mense se gedagtegang te verander en van hulle ‘n erkenning van Sy oppergesag af te dwing. So, het hulle geglo, sou Hy Homself verhef en hul ambisieuse hoop bevredig. Toe Christus dus met minagting hanteer is, was die versoeking sterk om Sy Goddelike aard te demonstreer. Met ‘n woord of ‘n blik, kon Hy Sy vervolgers gedwing het om te erken dat Hy Here bo konings en heersers, priesters en die tempel was. Maar dit was Sy moeilike taak om die posisie waarop Hy, as een met die mensdom besluit het, te handhaaf. DKvDE 769.1
Die engele in die hemel het elke beweging wat teen hul geliefde Aanvoerder gemaak is, gadegeslaan. Hulle het verlang om Christus te bevry. Onder God is die engele almagtig. Met een geleentheid, in gehoorsaamheid aan die bevel van Christus, het hulle eenhonderd-vyf-en-tagtig-duisend manne van die Assiriese weermag in een nag gedood. Hoe maklik kon die engele, wat die skandalige toneel van Christus se verhoor aanskou het, hul verontwaardiging betoon het deur die teenstanders van God te verdelg! Maar hulle het nie die bevel ontvang om dit te doen nie. Hy wat Sy vyande tot die dood kon verdoem het, het hul wreedheid verduur. Sy liefde vir Sy Vader en Sy gelofte wat Hy vanaf die grondlegging van die wêreld afgelê het, om die draer van sonde te word, het Hom beweeg om die ruwe behandeling van diegene wat Hy gekom het om te red, sonder klag te verduur. Dit was deel van Sy sending om, in Sy mensheid, al die uittartings en mishandeling wat die mens op Hom kon hoop, te verduur. Die enigste hoop vir die mensdom was in die onderwerping van Christus aan alles wat Hy uit die hande en harte van mense kon verduur. DKvDE 769.2
Christus het niks gesê wat aan Sy beskuldigers ‘n voordeel kon besorg nie; tog was Hy geboei, om aan te dui dat Hy veroordeel is. Daar moes egter ‘n skyn van geregtigheid wees. Dit was nodig dat dit die vorm van ‘n wettige verhoor moes aanneem. Die owerhede was vasberade om dit spoedig af te handel. Hulle het geweet watter agting die volk vir Christus gehad het en was bang dat, indien die inhegtenisname bekend sou word, ‘n poging om Hom te bevry moontlik aangewend sou word. En ook, indien die verhoor en doodsvonnis nie onmiddellik voltrek word nie, daar ‘n week se vertraging sou wees weens die viering van die Pasga. Dit kon hul planne verydel. Om Jesus se veroordeling te verseker, was hulle grootliks van die oproer van die gepeupel afhanklik, waarvan baie van hulle onder die gespuis van Jerusalem getel het. Indien daar ‘n week se vertraging was, sou die opgewondenheid afneem en sou daar heelwaarskynlik reaksie intree. Die beter element onder die bevolking sou dan ten gunste van Christus reageer; baie sou te voorskyn kom met getuienis vir Sy regverdiging en om die magtige werke wat Hy verrig het aan die lig te bring. Dit sou die algemene verontwaardiging van die volk teenoor die Joodse Raad uitlok. Hul verrigtinge sou veroordeel word en Jesus sou vrygelaat word, om opnuut deur die menigte gehuldig te word. Die priesters en owerstes was dus vasbeslote dat Jesus in die hande van die Romeine oorhandig moes word, voordat hulle doelwit bekend word. DKvDE 770.1
Maar eers moes ‘n klag gevind word. Tot dusver het hulle niks bereik nie. Annas het beveel dat Jesus na Kajafas geneem moet word. Kajafas was een van die Sadduseërs, waarvan sommige nou die bitterste vyande van Jesus was. Hoewel Kajafas self nie so sterk van karakter was nie, was hy net so meedoënloos en gewetenloos soos Annas. Hy sou geen steen onaangeraak laat om Jesus te vernietig nie. Dit was nog vroeg in die oggend en baie donker; met die lig van fakkels en lanterns het die gewapende bende hul gevangene na die paleis van die hoëpriester geneem. Hier, terwyl die lede van die Sanhedrin bymekaar gekom het, het Annas en Kajafas Jesus weer ondervra, maar sonder welslae. DKvDE 770.2
Toe die Raad in die regslokaal vergader het, het Kajafas sy plek as voorsittende beampte ingeneem. Aan beide kante van hom was die regters en diegene wat besondere belang by die verhoor gehad het. Die Romeinse soldate was op die verhoog benede die troon gestasioneer. Aan die voet van die troon het Jesus gestaan. Die blik van die skare was op Hom gevestig. Die opwinding was intens. Onder die hele skare was Hy die enigste een wat kalm en bedaard was. Dit was asof die hele atmosfeer wat Hom omring het, Hom met ‘n heilige invloed omvou het. DKvDE 771.1
Kajafas het Jesus as sy teëstander beskou. Die gretigheid van die volk om die Verlosser te hoor en hul oënskynlike bereidwilligheid om Sy Leringe te aanvaar, het bitter jaloesie by die hoëpriester opgewek. Maar terwyl Kajafas nou na die gevangene gekyk het, is hy met bewondering vir Sy edele en waardige houding gevul. ‘n Oortuiging het nou oor hom gekom dat hierdie Mens aan God verwant is. Die volgende oomblik het hy hierdie gedagte egter onmiddellik met minagting verwerp. Sy stem is onmiddellik in ‘n smalende en hooghartige toon gehoor wat geëis het dat Jesus een van Sy magtige wonderwerke voor hulle verrig. Maar sy woorde het op dowe ore geval. Die mense het die opgewonde en kwaadaardige houding van Annas en Kajafas met die kalm, majestueuse houding van Jesus vergelyk. Selfs in die gedagtes van daardie hardvogtige menigte het die vraag ontstaan: Moet hierdie man met Goddelike teenwoordigheid as ‘n misdadiger veroordeel word? DKvDE 771.2
Kajafas, wat die invloed wat besig was om op te bou opgemerk het, het die verhoor verhaas. Die vyande van Jesus was ernstig onthuts. Hulle was vasberade om Sy veroordeling te verseker, maar het nie geweet hoe om dit te bewerkstellig nie. Die raadslede was verdeeld tussen die Fariseërs en Sadduseërs. Bitter vyandigheid en stryd hulle het tussen hulle geheers; uit vrees dat ‘n rusie mag ontstaan, kon hulle sekere geskilpunte nie opper nie. Met ‘n paar woorde kon Jesus hul vooroordele teen mekaar aanwakker en sodoende hul toorn van Homself afwend. Kajafas het dit geweet en wou voorkom dat ‘n geskil ontstaan. Daar was volop getuies om te bewys dat Christus die priesters en skrifgeleerdes aan die kaak gestel het en dat Hy hulle huigelaars en moordenaars genoem het; maar dit was nie raadsaam om hierdie getuienis op te haal nie. Die Sadduseërs het in hul skerp geskille met die Fariseërs dieselfde taal gepraat. En sodanige getuienis sou geen gewig by die Romeine dra nie, wat self ‘n afkeer in die huigelary van die Fariseërs gehad het. Daar was volop getuienis dat Jesus die tradisies van die Jode verontagsaam het en oneerbiedig van hul vele verordeninge gepraat het; maar met betrekking tot tradisie, het die Fariseërs en Sadduseërs swaarde gekruis; en ook hierdie getuienis sou geen gewig by die Romeine dra nie. Christus se vyande kon dit nie waag om Hom van Sabbatskending aan te kla nie, ingeval ‘n ondersoek die aard van Sy werk sou openbaar. Indien sy wonderwerke van genesing aan die lig gebring word, sou die hele doel van die priesters verydel word. DKvDE 771.3
Valse getuies is omgekoop om Jesus van aanhitsing tot rebellie te beskuldig en dat Hy ‘n aparte bewind tot stand wil bring. Maar hul getuienis was vaag en teenstrydig. Onder kruisverhoor het hulle hul eie verklarings weerspreek. DKvDE 772.1
Vroeg in sy bediening het Christus gesê: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek dit oprig.” (Johannes 2:19). In profetiese beeldspraak het Hy hier Sy dood en opstanding voorspel. “Hy het oor die tempel van Sy liggaam gespreek.” (Johannes 2:21). Die Jode het hierdie woorde letterlik opgeneem, dat Hy na die tempel in Jerusalem verwys het. Van alles wat Christus gesê het, kon die priesters niks behalwe dit vind om teen Hom te gebruik nie. Deur ‘n wanvoorstelling van hierdie woorde het hulle gehoop om ‘n voordeel te bekom. Die Romeine was betrokke by die herbou en versiering van die tempel en hulle was baie trots hierop; enige minagting teenoor die tempel getoon, sou hulle verontwaardig ontketen het. Hier was gemeenskaplike terrein vir Romein en Jood, Fariseër en Sadduseër; want almal het ‘n groot verering vir die tempel gehad. Op hierdie klag kon twee getuies gevind word wie se getuienis nie so teenstrydig soos die voriges was nie. Een van hulle, wat omgekoop is om Jesus te beskuldig, het verklaar: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou.” So is Christus se woorde verdraai. Indien Sy presiese woorde aangehaal was, sou dit nie Sy veroordeling kon bevestig nie, selfs nie deur die Sanhedrin nie. As Jesus ‘n gewone mens was, soos die Jode beweer het, sou Sy verklaring slegs ‘n onredelike grootpratery aangedui het, maar dit sou nie as godslasterlik vertolk gewees het nie. Selfs soos dit deur die valse getuies verdraai is, het Sy woorde niks bevat wat deur die Romeine as ‘n misdaad wat die dood verdien het, beskou kon word nie. DKvDE 772.2
Geduldig het Jesus na die botsende getuienisse geluister. Hy het nie ‘n woord ter selfverdediging geuiter nie. Uiteindelik was sy beskuldigers verstrengel, verward en gefrustreerd. Die verhoor het geen vordering gemaak nie; dit het voorgekom asof hulle sameswerings sou misluk. Kajafas was desperaat. Daar was nog een uitweg: Christus moes gedwing word om Homself te veroordeel. Die hoëpriester het opgestaan, sy gelaat verwronge van woede en sy stem en houding het duidelik te kenne gegee dat, indien dit in sy mag was, hy die gevangene voor hom sou uitwis. “Antwoord U niks nie?” het hy uitgeroep. “Wat getuig hierdie manne teen U?” DKvDE 773.1
Jesus het geswyg. “Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was en Hy het Sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders-ja, Hy het Sy mond nie oopgemaak nie.” (Jesaja 53:7). DKvDE 773.2
Uiteindelik het Kajafas sy regterhand na die hemel opgehef en Jesus met ‘n plegtige eed aangespreek: “Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?” DKvDE 774.1
Op hierdie versoek kon Christus nie langer swyg nie. Daar was ‘n tyd om te swyg en ‘n tyd om te praat. Hy het nie gepraat totdat Hy regstreeks uitgevra is nie. Hy het geweet dat om nou te antwoord, Sy gewisse dood sou verseker. Maar die versoek is deur die hoogste erkende gesag van die nasie gedoen en in die Naam van die Allerhoogste. Christus sou nie versuim om die toepaslike respek vir die wet te betoon nie. Bo en behalwe dit, was Sy eie verhouding tot die Vader nou ter sprake. Hy moes Sy karakter en sending openlik verklaar. Jesus het aan sy dissipels gesê: “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor My Vader wat in die hemele is.” (Mattheus 10:32). Nou het Hy die les deur Sy eie voorbeeld herhaal. DKvDE 774.2
Elke oor was gespits om te luister en elke oog was op Sy aangesig gevestig toe Hy antwoord: “U het dit gesê.” Dit was asof ‘n hemelse lig sy bleek gelaat verlig het toe Hy byvoeg: “Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” DKvDE 774.3
'n Oomblik lank het die Goddelikheid van Christus deur Sy masker van menslikheid geflits. Die hoëpriester het voor die deurdringende oë van die Verlosser ineengekrimp. Dit was asof daardie oë sy diepste gedagtes gelees het en in sy hart ingeskroei het. Nooit daarna in sy lewe het hy daardie deurvorsende blik van die vervolgde Seun van God vergeet nie. DKvDE 774.4
“Van nou af...” het Jesus gesê, “...sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” Met hierdie woorde het Christus die teenoorgestelde van die toneel wat besig was om af te speel, voorgestel. Hy, die Here van die lewe en heerlikheid, sal aan die regterhand van God sit. Hy sal die Regter van die hele aarde wees en daar sal geen appel op Sy beslissing wees nie. Dan sal elke geheime daad in die lig van die aangesig van God geopenbaar word en sal ‘n oordeel oor elke mens na gelang van sy dade gevel word. DKvDE 774.5
Die woorde van Christus het die hoëpriester laat skrik. Die gedagte dat daar ‘n opstanding uit die dode moet wees, wanneer almal voor die regterstoel van God sal staan, om volgens hul werke beloon te word, was ‘n verskrikking vir Kajafas. Hy wou nie graag glo dat hy in die toekoms volgens sy werke gevonnis sal word nie. ‘n Panorama van die tonele van die finale oordeel het voor sy gees verbygeflits. Vir ‘n oomblik het hy die vreesaanjaende skouspel gesien van grafte wat hul dode oplewer, met die geheime wat hy gehoop het vir ewig verborge sou bly. ‘n Oomblik het hy gevoel asof hy voor die ewige Regter staan, wie se oog, wat alle dinge sien, sy siel deurvors en geheime aan die lig bring wat veronderstel was om saam met die dooies begrawe te wees. DKvDE 775.1
Die toneel het voor die priester vervaag. Christus se woorde het deur hom, die Sadduseër, gesny. Kajafas het die leerstelling van die opstanding, die oordeel en ‘n lewe in die hiernamaals ontken. Hy was nou deur ‘n sataniese woede oormeester. Gaan hierdie man, ‘n gevangene voor hom, sy mees geliefkoosde teorieë aanval? Hy het sy gewaad in ‘n vertoon van geveinsde afgryse geskeur en geëis dat die gevangene sonder enige verdere voorvereistes veroordeel word. “Wat het ons nog getuies nodig?” het hy gesê, “...kyk, nou het julle Sy godslastering gehoor! Wat dink julle?” En hulle almal het Hom veroordeel. DKvDE 775.2
Oortuiging, gemeng met woede, het Kajafas tot hierdie daad aangespoor. Hy was boos vir homself omdat hy Christus se woorde geglo het en in plaas daarvan om sy hart onder ‘n diepe besef van die waarheid te verskeur en te bely dat Jesus die Messias is, het hy sy priestergewaad in vasberade verset geskeur. Hierdie daad was van diepe betekenis. Kajafas het min besef van die betekenis daarvan gehad. Deur hierdie daad, wat bedoel was om die regters te beïnvloed en Christus se veroordeling te verseker, het die hoëpriester homself veroordeel. Kragtens die wet van God was hy nou gediskwalifiseer vir die priesterskap. Hy het die doodvonnis oor homself uitgespreek. DKvDE 775.3
Dit was ‘n hoëpriester nie geoorloof om sy klere te skeur nie. Kragtens die Levitiese wette was dit verbied en strafbaar met die dood. Onder geen omstandighede en by geen geleentheid, was die priester toegelaat om sy gewaad te skeur nie. Dit was gebruiklik onder die Jode om hul klere met die dood van ‘n vriend te skeur, maar hierdie gewoonte was die priesters nie geoorloof nie. Uitdruklike bevele hieraangaande is deur Christus aan Moses gegee. (Levitikus 10:6). DKvDE 776.1
Alles wat die priesters gedra het, moes vlekkeloos en heel wees. Daardie pragtige ampsgewade het die karakter van die groot Antitipe, Jesus Christus, voorgestel. Niks anders as volmaaktheid in kleredrag en gesindheid, in woord en gees, kon vir God aanvaarbaar wees nie. Hy is heilig en Sy heerlikheid en volmaaktheid moet deur die aardse diens verteenwoordig word. Niks anders as volmaaktheid kon die heiligheid van die hemelse diens behoorlik verteenwoordig nie. Verganklike mens kan sy hart skeur deur ‘n berouvolle en nederige gees te openbaar. Dit sal God erken. Maar geen skeur mag in priestergewade kom nie, want dit sou die verteenwoordiging van hemelse dinge skend. Die hoëpriester wat dit gewaag het om met ‘n geskeurde gewaad in sy heilige amp te verskyn en in die heiligdom te dien, was beskou as iemand wat homself van God afgesny het. Deur sy gewaad te skeur, het hy homself, as ‘n verteenwoordigende karakter, afgesny. Hy was nie langer vir God as dienende priester aanvaarbaar nie. Hierdie optrede van Kajafas het menslike hartstog en menslike onvolmaaktheid getoon. DKvDE 776.2
Deur sy klere te skeur het Kajafas die wet van God, om die tradisie van die mens te volg, kragteloos gemaak. Daar was ‘n mensgemaakte wet wat voorsien het dat ‘n priester, in geval van godslastering, sy klere kon skeur uit afsku vir die sonde en dan onskuldig sou wees. So is die wet van God deur die wette van mense kragteloos gemaak. DKvDE 777.1
Elke daad van die hoëpriester is met belangstelling deur die aanwesiges gadegeslaan; en Kajafas het gemeen om vir effek, sy vroomheid te betoon. Maar deur hierdie daad, wat as beskuldiging teen Christus bedoel was, het hy die Een gelaster van wie God gesê het: “My Naam is in Hom.” (Exodus 23:21). Hy hethom self aan godslastering skuldig gemaak. Terwyl hy self onder die veroordeling van God gestaan het, het hy ‘n vonnis oor Christus as ‘n godslasteraar uitgespreek. DKvDE 777.2
Die daad van Kajafas om sy gewaad te skeur, was ‘n betekenisvolle aanduiding van die posisie wat die Joodse volk agterna teenoor God sou inneem. Die eens uitverkore volk van God het hulself van Hom geskei en was vinnig besig om ‘n volk wat deur God verwerp is, te word. Toe Christus op die kruis uitgeroep het: “Dit is volbring...” (Johannes 19:30) en die voorhangsel van die tempel in twee geskeur is, het die Heilige Waker verklaar dat die Joodse volk Hom verwerp het wat die antitipe van al hul tipes was, die werklikheid van al hul skadu’s. Israel was van God geskei. Tereg kon Kajafas sy ampsgewaad, wat te kenne gegee het dat hy die verteenwoordiger van die groot Hoëpriester is, skeur; want dit het nie langer enige betekenis meer vir hom of vir die volk gehad nie. Tereg kon die hoëpriester sy gewaad in afgryse vir homself en vir die nasie skeur. DKvDE 777.3
Die Sanhedrin het Jesus as verdienstelik van die dood veroordeel; maar dit was teenstrydig met die Joodse wet om ‘n gevangene in die nag te verhoor. In ‘n wettige vonnislegging, kon niks uitgerig word tensy dit in die daglig en voor ‘n volle sitting van die raad was nie. Desnieteenstaande, is die Heiland as ‘n veroordeelde misdadiger behandel en in die hande van die laagste en mees veragtelike gespuis van die mensdom oorgegee om mishandel te word. Die paleis van die hoëpriester het ‘n binnehof omring waarin die soldate en die menigte vergader het. Deur hierdie hof is Jesus na die wagkamer geneem terwyl Hy van alle kante oor Sy aanspraak dat Hy die Seun van God is bespot is. Sy eie woorde “...sit aan die regterhand van die krag...” en “...kom op die wolke van die hemel...” is spottend herhaal. Hy was nie onder beskerming in die wagkamer, terwyl Hy op Sy wettige verhoor gewag het nie. Die ongeletterde gepeupel het gesien hoe wreed Hy voor die Raad behandel is en dit het hulle aangemoedig om aan al die sataniese elemente in hul aard uiting te gee. Christus se edelheid en Goddelike houding het hulle tot raserny aangespoor. Sy sagmoedigheid, sy onskuld, sy vorstelike geduld, het hulle met haat, uit Satan gebore, gevul. Genade en geregtigheid is vertrap. Nog nooit was ‘n krimineel op so onmenslike wyse behandel soos die Seun van God nie. DKvDE 777.4
Maar ‘n dieper sielesmart het die hart van Jesus gebreek; die hou wat die grootste pyn veroorsaak het, kon deur geen vyand toegedien word nie. Terwyl Hy die bespotting van ‘n verhoor voor Kajafas deurgemaak het, is Christus deur een van Sy eie dissipels verloën. DKvDE 778.1
Nadat hulle hul Meester in die tuin verlaat het, het twee van die dissipels dit gewaag om die gepeupel wat Jesus gevange geneem het, op ‘n afstand te volg. Dit was Petrus en Johannes. Die priesters het Johannes as ‘n bekende dissipel van Jesus herken en het hom in die saal toegelaat in die hoop dat hy, as hy die vernedering van sy Leier aanskou, die idee sou verwerp dat so iemand die Seun van God kan wees. Johannes het voorspraak vir Petrus gedoen en vir hom ook toegang verkry. DKvDE 778.2
In die binneplaas het ‘n vuur gebrand, want dit was net voor dagbreek, die koudste uur van die nag. ‘n Groepie het hulle om die vuur geskaar en Petrus het hom aangematig om by hulle aan te sluit. Hy wou nie as ‘n dissipel van Jesus herken word nie. Deur ongeërg met die skare te meng, het hy gehoop om vir een van hulle wat Jesus na die hof gebring het, aangeneem te word. DKvDE 779.1
Maar toe die lig op Petrus se gelaat flits, het die vrou wat die deurwagter was, hom ondersoekend aangekyk. Sy het opgemerk toe hy saam met Johannes ingekom het en het die neerslagtigheid op sy gesig gesien en gedink dat hy dalk ‘n dissipel van Jesus kon wees. Sy was een van Kajafas se bediendes en was nuuskierig om te weet. Toe sê sy vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?” Petrus was verskrik en verward; die oë van die groep was onmiddellik op hom vasgenael. Hy het voorgegee dat hy haar nie verstaan nie; maar sy het volgehou en aan diegene wat rondom haar gestaan het, gesê dat hierdie man saam met Jesus was. Petrus het verplig gevoel om te antwoord en het boos gesê: “Vrou, ek ken Hom nie.” Dit was die eerste verloëning en die haan het dadelik gekraai. Ai Petrus, so vinnig om jou vir jou Meester te skaam! So vinnig om jou Here te verloën! DKvDE 779.2
Toe die dissipel Johannes, die hofsaal binnegegaan het, het hy nie die feit probeer verberg dat hy ‘n volgeling van Jesus was nie. Hy het nie met die ruwe gepeupel omgegaan wat sy Meester gehoon het nie. Hy is nie uitgevra nie, want hy het nie probeer voorgee en hom sodoende aan agterdog blootgestel nie. Hy het ‘n stil hoekie uitgesoek waar hy uit die gepeupel se pad was, maar so na aan Jesus as wat vir hom moontlik was. Hier kon hy alles wat met die verhoor van sy Here plaasgevind het waarneem. DKvDE 779.3
Petrus wou nie hê dat sy ware karakter bekend moet word nie. Deur hom onverskillig voor te doen, het hy hom op vyandelike terrein begewe en ‘n maklike prooi van versoeking geword. Indien hy gevra was om vir sy Meester te veg, sou hy 'n moedige krygsman gewees het; maar toe die vinger van hoon na hom gewys word, was hy ‘n lafaard. Baie wat nie van aktiewe stryd vir hul Here terugdeins nie, word deur bespotting beweeg om hul geloof te verloën. Deur met diegene wat hulle behoort te vermy om te gaan, stel hulle hul aan versoeking bloot. Hulle nooi die vyand om hulle te versoek en word verlei om dinge te sê en te doen waaraan hulle hulself nooit onder ander omstandighede sou skuldig maak nie. Die dissipel van Christus wat in ons dag sy geloof uit vrees vir lyding of veroordeling verberg, verloën sy Heer net so gewis as wat Petrus Hom in die hofsaal verloën het. DKvDE 779.4
Petrus het probeer om geen belangstelling in die verhoor van sy Meester te toon nie, maar sy hart was deur smart gewring terwyl hy die wrede uittartings gehoor het en die mishandeling wat Hy verduur, aanskou het. Meer as dit, was hy verbaas en kwaad omdat Jesus Homself en Sy volgelinge so laat verneder deur aan Hom sulke behandeling te onderwerp. Om sy ware gevoelens te verberg, het hy gepoog om hom by die vervolgers van Jesus te voeg in hul ontydige grappe. Maar hy het ‘n leuen geleef en terwyl hy gepoog het om ongeërg te praat, kon hy nie uitdrukkings van verontwaardiging vir die mishandeling waaraan sy Meester onderwerp was, onderdruk nie. DKvDE 780.1
'n Tweede keer is die aandag op hom gevestig en weer is hy beskuldig dat hy ‘n volgeling van Jesus is. Hierdie keer het hy met ‘n eed verklaar: “Ek ken die man nie.” Nog ‘n geleentheid is aan hom gegun. ‘n Uur later het een van die bediendes van die hoëpriester, ‘n naverwant van die man wie se oor Petrus afgekap het, hom gevra: “Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie?” “Waarlik, jy behoort by hulle, want jy is ook ‘n Galileër en jou spraak is net so.” Hieroor het ‘n woedebui Petrus oorval. Die dissipels van Jesus was bekend vir hul reinheid van spraak en om sy ondervraers behoorlik te mislei en sy aangenome karakter te bevestig, het Petrus nou sy Meester met verwensinge en kru taal verloën. Weer het die haan gekraai. Petrus het dit gehoor en die woorde van Jesus onthou: “Voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.” (Markus 14:30). DKvDE 780.2
Terwyl die onwaardige gevloek vars op Petrus se lippe was en die skril gekraai van die haan nog in sy ore weerklink het, het die Verlosser Sy blik van die fronsende regters afgewend en Sy arme dissipel vol aangekyk. Terselfdertyd is Petrus se oë na sy Meester getrek. In daardie sagmoedige gelaat het hy innige jammerte en hartseer gelees, maar daar was geen verwyt nie. DKvDE 781.1
Die aanblik van daardie bleek, gefolterde gelaat, die bewende lippe, die deernis en vergifnis in Sy oë, het Petrus se hart soos ‘n pyl deurboor. Sy gewete is aangewakker. Sy geheue was aktief. Petrus het die belofte van ‘n paar ure kort tevore, dat hy saam met sy Here tot in die gevangenis sou gaan, in herinnering geroep. Hy het onthou hoe gekrenk hy gevoel het toe die Verlosser in die bovertrek aan hom gesê het dat hy sy Here drie keer daardie selfde nag sou verraai. Petrus het pas verklaar dat hy Jesus nie geken het nie, maar nou het hy met bitter smart besef hoe goed sy Here hom geken het en hoe akkuraat Hy sy hart gelees het; die valsheid waarvan hy self nie eens bewus was nie. DKvDE 781.2
'n Vloed van herinneringe het oor hom gekom. Die Heiland se teer genade, Sy goedhartigheid en lankmoedigheid, Sy sagmoedigheid en geduld met Sy wederstrewige dissipels-dit alles het hy onthou. Hy het die vermaning onthou: “Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie.” (Lukas 22:31,32). Hy het met afgryse aan sy eie ondankbaarheid gedink, sy valsheid, sy meineed. Nog een maal het hy sy Meester aangekyk en gesien hoe ‘n onheilige hand opgelig word om Hom in die gesig te slaan. Nie by magte om die toneel langer te verduur nie, het hy bedroef uit die hofsaal gehaas. DKvDE 781.3
Hy het in eensaamheid en duisternis voortgebeur en nie geweet of omgegee waarheen nie. Uiteindelik het hy hom in Getsémané bevind. Die toneel van ‘n paar uur tevore het helder voor sy gees opgedoem. Die gefolterde gelaat van sy Here, met bloedsweet bevlek, terwyl Hy van smart ruk, het voor hom verbygeflits. Met bitter selfverwyt het hy onthou dat Jesus alleen in gebed geween en geworstel het, terwyl diegene wat in daardie uur met Hom moes verenig, geslaap het. Hy het sy plegtige opdrag onthou: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.” (Mattheus 26:41). Weer het hy die toneel in die hofsaal voor hom gesien. Dit was ‘n marteling vir sy bloeiende hart om te weet dat hy die swaarste las by die Verlosser se vernedering en leed gevoeg het. Op die einste plek waar Jesus sy siel in angs voor sy Vader uitgestort het, het Petrus op sy aangesig geval en gewens dat hy kon sterf. DKvDE 781.4
Dit was deur te slaap toe Jesus hom aangeraai het om te waak en te bid, dat Petrus die weg vir sy groot sonde berei het. Al die dissipels het, deur in daardie kritieke uur te slaap, ‘n groot verlies gely. Christus het geweet van die vuurproef wat hulle sou moes deurstaan. Hy het geweet hoe Satan sou poog om hul sinne te verlam sodat hulle nie vir die beproewing gereed sou wees nie. Daarom het Hy hulle gewaarsku. As daardie ure in die tuin met waak en bid deurgebring was, sou Petrus nie aan homself oorgelaat gewees het om op sy eie swak krag staat te maak nie. Hy sou nie sy Here misken het nie. Indien die dissipels saam met Christus in sy foltering gewaak het, sou hulle voorbereid gewees het om Sy lyding aan die kruis te aanskou. Hulle sou tot ‘n mate die aard van Sy oorweldigende smart besef het. Hulle sou in staat gewees het om Sy woorde wat Sy lyding voorspel het, Sy dood en opstanding in herinnering te roep. Te midde van die somberheid van die grootste beproewing, sou ligstrale van hoop die duisternis verlig en hul geloof versterk het. DKvDE 782.1
Sodra die dag aangebreek het, het die Sanhedrin weer vergader en weer is Jesus in die raadkamer ingebring. Hy het Homself as die Seun van God verklaar en hulle het Sy woorde as ‘n aanklag teen Hom gebruik. Maar hulle kon Hom nie hieroor veroordeel nie, want baie van hulle was nie in die nagsessie teenwoordig nie en het nie Sy woorde gehoor nie. En hulle het geweet dat die Romeinse hof niks hierin sou vind wat die doodstraf verdien het nie. Maar as hierdie woorde, oor sy eie lippe herhaal, gehoor kon word, kon hulle hul doel dalk bereik. Sy aanspraak op die Messiasskap kon as ‘n oproerige politieke eis vertolk word. DKvDE 782.2
“As U die Christus is, sê vir ons...” het hulle gesê. Maar Christus het geswyg. Hulle het aangehou om Hom met vrae te bestook. Uiteindelik, diep aangedaan, het Hy gesê: “As Ek vir u sê, sal u tog nie glo nie. En as Ek vra, sal u My tog nie antwoord of loslaat nie.” Maar om hulle sonder verskoning te laat, het Hy hulle plegtig gewaarsku: “Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van God.” DKvDE 783.1
“Is U dan die Seun van God?” het hulle met een stem gevra. Toe antwoord Hy: “U sê dat Ek dit is.” Daarna het hulle uitgeroep: “Wat het ons nog getuienis nodig! Want ons het dit self uit sy mond gehoor.” DKvDE 783.2
En so, met hierdie derde veroordeling deur die Joodse owerhede, sou Jesus sterf. Al wat nou oorgebly het, het hulle gedink, was dat die Romeine hierdie veroordeling moes bekragtig en Hom in hulle hande oorlewer. DKvDE 783.3
Toe het die derde toneel van mishandeling en bespotting, erger self as wat van die ongeletterde gespuis ontvang is, aangebreek. In die teenwoordigheid van die priesters en owerstes het dit plaasgevind. Indien hul argumente swak was en nie daarin kon slaag om Sy stem stil te maak nie, het hulle ander wapens gehad, soos wat in al die eeue aangewend was om ketters die swye op te lê, naamlik lyding, geweld en die dood. DKvDE 783.4
Toe die oordeel oor Jesus deur die regters uitgespreek is, het ‘n sataniese woede van die mense besit geneem. Die gedreun van stemme was soos die van wilde diere. Die skare het Jesus bestorm en gegil: Hy is skuldig, maak Hom dood! Was dit nie vir die Romeinse soldate nie, sou Jesus nie geleef het om aan die kruis vasgespyker te word nie. Hy sou daar voor Sy regters uitmekaar geskeur gewees het, as die Romeinse owerheid nie tussenbeide getree het en met wapengeweld die gewelddadigheid van die gepeupel beteuel het nie. DKvDE 783.5
Heidene was verontwaardig oor die brutale hantering van Een teen wie niks bewys was nie. Die Romeinse offisiere het verklaar dat die Jode inbreuk op die Roomse jurisdiksie maak deur ‘n vonnis oor Jesus te vel en dat dit selfs teen die Joodse wet was om ‘n man op sy eie getuienis tot die dood te veroordeel. Hierdie tussentrede het die verrigtinge vir ‘n oomblik laat bedaar; maar die Joodse leiers was dood vir beide meegevoel en skaamte. DKvDE 784.1
Priesters en owerstes het die waardigheid van hul ampte vergeet en die Seun van God vuil byname toegevoeg. Hulle het Hom oor sy herkoms uitgetart. Hulle het verklaar dat Sy aanname om Homself as die Messias te verklaar, verdienstelik van die mees oneervolle dood was. Die onsedelikste mense het in die mees skandaligste mishandeling van die Verlosser gedeel. ‘n Ou kleed is oor Sy hoof gegooi en Sy vervolgers het Hom in die gesig geslaan en uitgeroep: “Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?” Toe die kleed verwyder is, het ‘n arme ellendeling in Sy gesig gespuug. DKvDE 784.2
Die engele van God het getrou elke beledigende blik, woord en daad teen hul geliefde Aanvoerder opgeteken. Eendag sal hierdie gemene mense wat in daardie kalm, bleek gesig van Christus gespuug het en Hom geminag het, dit in Sy heerlikheid aanskou, wanneer dit helderder as die son sal skyn. DKvDE 784.3