Die Koning van die Eeue

75/88

Hoofstuk 74—Getsémané *

In die geselskap van Sy dissipels het die Verlosser stadig Sy weg na die tuin van Getsémané gebaan. Die Pasga-maan het wyd en vol uit ‘n wolklose hemel geskyn. Die stad van pelgrimstente het in stilte versink. DKvDE 753.1

Jesus het ernstig met Sy dissipels gesels en hulle onderrig; maar soos Hy Getsémané genader het, het Hy vreemd stil geraak. Hy het hierdie plek dikwels vir oorpeinsing en gebed opgesoek; maar nooit met ‘n hart so vol droefheid soos op hierdie nag van Sy laaste foltering nie. Regdeur Sy lewe op aarde het Hy in die lig van God se teenwoordigheid gewandel. Wanneer Hy in stryd met mense wat deur die gees van Satan self besiel was verkeer het, kon Hy sê: “Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is.” (Johannes 8:29). Maar nou het dit voorgekom asof Hy uit die lig van God se ondersteunende teenwoordigheid uitgesluit was. Nou is Hy saam met die oortreders getel. Hy moes die skuld van die gevalle mensdom dra. Op Hom, wat geen sonde geken het nie, is al ons ongeregtighede geplaas. So verskriklik het die sonde vir Hom voorgekom, so swaar die las van skuld wat Hy moes dra, dat Hy in die versoeking was om te vrees dat dit Hom vir ewig van Sy Vader se liefde sou skei. Hy het ervaar hoe vreesaanjaend die toorn van God teen ongeregtigheid was en het uitgeroep: “My siel is diep bedroef tot die dood toe.” DKvDE 753.2

Toe hulle die tuin nader, het die dissipels die verandering wat oor hul Meester gekom het opgemerk. Nooit vantevore het hulle Hom so uiters bedroef en stil gesien nie. Sy vreemde droefheid het gaandeweg, soos Hy voortbeweeg het, toegeneem; maar hulle het nie gewaag om Hom aangaande die oorsaak uit te vra nie. Sy gedaante het gesteier asof Hy wou val. Toe hulle die tuin bereik, het die dissipels angstig Sy gewone plek van afsondering opgesoek, sodat hul Meester kon rus. Elke tree wat Hy nou geneem het was met moeite. Hy het hardop gekreun, asof Hy onder die gewig van ‘n verskriklike las gely het. Twee keer moes Sy metgeselle Hom ondersteun, om te verhoed dat Hy val. DKvDE 753.3

Naby die ingang van die tuin het Jesus almal behalwe drie van Sy dissipels agtergelaat en hulle aangesê om vir hulself en vir Hom te bid. Saam met Petrus, Jakobus en Johannes het Hy Hom na die afgeleë uithoeke van die tuin begewe. Hierdie drie dissipels was Christus se mees vertroude metgeselle. Hulle het Sy heerlikheid op die berg van verheerliking aanskou; hulle het Moses en Elia met Hom sien praat; hulle het die stem uit die hemel gehoor; en nou, in Sy groot stryd het Christus na hul nabyheid verlang. Hulle het dikwels die nag saam met Hom in Sy afsondering deurgebring. Tydens hierdie geleenthede, na ‘n periode van waak en bid, sou hulle ongehinderd ‘n klein entjie weg van hul Meester slaap, totdat Hy hulle in die oggend wakker gemaak het om opnuut voort te gaan met die dag se werk. Maar nou het Hy begeer dat hulle die nag in gebed saam met Hom moes deurbring. Tog kon Hy dit nie verduur dat selfs hulle die foltering wat Hy moes deurmaak moes aanskou nie. DKvDE 754.1

“Bly hier...” het Hy gesê “...en waak saam met My.” Hy het Hom ‘n ent van hulle afgesonder, maar nie so ver dat hulle Hom nie kon sien en hoor nie, het Hy op die grond neergebuig. Hy het gevoel dat Hy, deur sonde, van Sy Vader geskei word. Die kloof was so wyd, so donker, so diep, dat Sy gees daarvan gesidder het. Hy kon nie sy Goddelike mag uitoefen om hierdie smart te ontwyk nie. As mens moes Hy die gevolge van die mens se sonde ly. As mens moes Hy die toorn van God teen die sonde ondergaan. DKvDE 754.2

Christus moes nou ‘n ander houding handhaaf as dit wat hy ooit voorheen gehandhaaf het. Sy lyding kan die beste in die woorde van die profeet beskryf word: “Ontwaak, o swaard, teen my heer en teen die man wat my metgesel is! spreek die Here van die leërskare.” (Sagaria 13:7). As die Plaasvervanger en Borg vir die sondige mensdom, het Christus onder Goddelike geregtigheid gely. Hy het gesien wat geregtigheid beteken. Tot dusver was Hy ‘n Bemiddelaar vir ander; nou het Hy na ‘n bemiddelaar vir Homself verlang. DKvDE 755.1

Toe Christus sy eenheid met die Vader voel verbrokkel, het Hy gevrees dat Hy as mens nie in staat sou wees om die komende konflik met die magte van die duisternis te verduur nie. In die woestyn van versoeking was die lot van die menseras in die weegskaal. Toe was Christus die oorwinnaar. Nou het die versoeker vir die laaste, skrikwekkende stryd aangekom. Hiervoor het hy hom vir die drie jaar van Christus se bediening voorberei. Alles was vir hom op die spel. As hy hier sou misluk, sou sy hoop op oppermag verlore wees; sou die koninkryke van die wêreld finaal aan Christus behoort en sou hy self omvergewerp en uitgewerp word. Maar as Christus oorwin kon word, sou die aarde die koninkryk van Satan word en sou die mensdom vir ewig in sy mag wees. Met die kwessies van die konflik voor Hom, was Christus se siel gevul met vrees vir skeiding van God. Satan het aan Hom gesê dat indien Hy ‘n borg vir ‘n sondige wêreld sou word, die skeiding vir ewig sou wees. Hy sou met die koninkryk van Satan geïdentifiseer word en nooit weer een met God wees nie. DKvDE 755.2

En wat sou deur hierdie opoffering bereik word? Hoe hopeloos het die skuld en ondankbaarheid van die mens voorgekom! Satan het die ergste eienskappe van die situasie op die Heiland afgedruk. Die volk wat beweer dat hulle bo almal met tydelike en geestelike voordele verhef is, het U verwerp. Hulle streef daarna om U, die fondasie, die middelpunt en seël van die beloftes, wat aan hulle as ‘n uitverkore volk gemaak is, te vernietig. Een van U eie dissipels, wat na U onderwysing geluister het en aan die spits van kerklike bedrywighede was, sal U verraai. Een van U ywerigste volgelinge sal U verloën. Almal gaan U verlaat. Christus se hele wese het die gedagte verafsku. Dat diegene wie Hy onderneem het om te red, hulle wie Hy so liefgehad het, met Satan sou se komplotte sou verenig, het Sy siel deurboor. Die stryd was verskriklik. Die maatstaf was die skuld van Sy volk, van Sy beskuldigers en verraaier, die skuld van ‘n wêreld met sonde deurdrenk. Die sondes van die mensdom het swaar op Christus geweeg en die besef van die toorn van God teen die sonde het die lewe uit Hom gepers. DKvDE 755.3

Aanskou Hom, waar Hy die prys wat vir die siel van die mens betaal moet word, oorweeg. In Sy foltering het Hy aan die grond vasgeklou asof Hy wou voorkom om verder van God weggetrek te word. Die koue dou van die nag het oor Sy neergeboë vorm neergesif, maar Hy het nie ag daarop geslaan nie. Van Sy bleek lippe het die bitter uitroep gekom: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan.” Maar selfs toe het Hy bygevoeg: “Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” DKvDE 756.1

Die menslike hart het na meegevoel in lyding verlang. Hierdie verlange het Christus in Sy diepste wese ervaar. In Sy grootste foltering van Sy siel het Hy na die dissipels gekom met ‘n hunkering na woorde van bemoediging van hulle wie Hy so dikwels geseën en getroos het en in leed en ellende beskerm het. Die Een wat altyd ‘n simpatieke woord vir hulle gehad het, het nou bomenslike lyding verduur en het verlang om te weet dat hulle vir Hom en vir hulself bid. Hoe donker het die kwaadaardigheid van die sonde nou voorgekom! Die versoeking was oorweldigend om die mensdom oor te laat om die gevolge van hul eie ongeregtigheid te dra terwyl Hy onskuldig voor God staan. As Hy net kon weet dat Sy dissipels dit verstaan en waardeer het, sou dit Hom versterk. DKvDE 756.2

Hy het pynlik orent gekom en na die plek gesteier waar Hy Sy metgeselle agtergelaat het. Maar Hy “...vind hulle aan die slaap.” Indien Hy hulle in gebed aangetref het, sou Hy verlig gewees het. Indien hulle skuiling by God gesoek het, sodat sataniese magte hulle nie sou oorweldig nie, sou Hy deur hul onwrikbare geloof getroos gewees het. Maar hulle het nie op Sy waarskuwing: “Waak en bid...” ag geslaan nie. Aanvanklik was hulle baie ontsteld om hul Meester, wat normaalweg so kalm en waardig was, met ‘n leed wat onbegryplik was, te sien worstel. Hulle het gebid toe hulle die gefolterde uitroepe van die Gefolterde hoor. Hulle was nie van voorneme om hul Here te versaak nie, maar dit het voorgekom asof hulle deur ‘n bedwelming verlam was, wat hulle sou kon afskud indien hulle by God bly smeek het. Hulle het nie die noodsaaklikheid van waaksaamheid en ernstige gebed om versoeking te weerstaan, besef nie. DKvDE 756.3

Net voordat Hy Sy voetstappe na die tuin begeef het, het Jesus aan die dissipels gesê: “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My.” (Markus 14:27). Hulle het Hom ten sterkste verseker dat hulle saam met Hom na die tronk en die dood sou gaan. En die arme, selfversekerde Petrus het bygevoeg: “Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie!” (Markus 14:29). Maar die dissipels het op hulself vertrou. Hulle het nie na die magtige Helper opgesien soos Christus hulle aangeraai het nie. Toe die Heiland dus die grootste behoefte aan hul simpatie en gebede gehad het, het Hy hulle aan die slaap gevind. Selfs Petrus het geslaap. DKvDE 757.1

En Johannes, die minsame dissipel wat teen Jesus se bors geleun het, was aan die slaap. Johannes se liefde vir sy Meester moes hom wakker gehou het! Sy ernstige gebede moes met dié van sy geliefde Verlosser in die uur van Sy uiterste smart vermeng het. Die Verlosser het nagte lank vir Sy dissipels gebid, sodat hul geloof kon staande bly. Sou Jesus nou die vraag wat Hy eens aan Johannes en Jakobus gestel het moes vra: “Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?” sou hulle dit nie gewaag het om te antwoord: “Ons kan...” nie. (Mattheus 20:22). DKvDE 757.2

Die dissipels is deur die stem van Jesus opgewek maar hulle het Hom skaars herken vanweë die smart wat Sy gelaat so verander het. Jesus het Petrus aangespreek en gesê: “Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie? Waak en bid dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Die swakheid van Sy dissipels het Jesus se meegevoel opgewek. Hy het gevrees dat hulle nie die toets wat deur Sy verraad en dood oor hulle sou kom, sou kon verduur nie. Hy het hulle nie bestraf nie, maar gesê: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.” Selfs in Sy groot foltering het Hy ‘n verskoning vir hul swakheid probeer vind. “Die gees is wel gewillig...” het Hy gesê, “...maar die vlees is swak.” DKvDE 758.1

Weer het bomenslike smart die Seun van God aangegryp en flou en uitgeput het Hy terug na die plek van Sy vorige stryd gesteier. Sy lyding was selfs groter as voorheen. Toe die sielsfoltering oor Hom kom, het Sy sweet “...geword soos bloeddruppels wat op die grond val.” Die sipres-en palmbome was die stille getuies van Sy foltering. Vanaf hul blare het swaar doudruppels op Sy geteisterde liggaam geval, asof die natuur self oor die Skepper ween wat hier teen die magte van die duisternis worstel. DKvDE 758.2

Kort tevore het Jesus soos ‘n magtige seder voor die storm van verset wat teen Hom gewoed het gestaan. Hardkoppige mense met harte gevul met kwaadwilligheid en lis, het tevergeefs probeer om Hom te verwar en te oorweldig. Hy het in Goddelike majesteit as die Seun van God voor hulle gestaan. Nou was Hy soos ‘n riet wat deur ‘n woeste storm geteister word. Hy het die voleinding van Sy werk soos ‘n oorwinnaar tegemoet gegaan nadat elke tree van Hom ‘n oorwinning oor die magte van die duisternis behaal het. Soos Een wat reeds verheerlik was, het Hy aanspraak op eenheid met God gemaak. In onwankelbare aksente het Hy Sy lofliedere aangehef. Hy het Sy dissipels met woorde van moed en deernis aangespreek. Nou het die uur van die mag van die duisternis gekom. Nou is Sy stem in die stil aandlug gehoor, nie in ‘n klank van oorwinning nie, maar vol van menslike foltering. Die woorde van die Heiland het die ore van die lomerige dissipels bereik: “My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.” DKvDE 758.3

Die dissipels se eerste impuls was om na Hom te gaan; maar Hy het hulle aangesê om daar te bly, te waak en te bid. Toe Jesus daar kom, vind Hy hulle steeds aan die slaap. Weer het Hy ‘n verlange na kameraadskap ervaar, na een of ander woord van Sy dissipels wat verligting sou bring en die duisternis wat Hom byna oorweldig het sou verbreek. Maar hul oë was swaar; “...en hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie.” Sy teenwoordigheid het hulle wakker gemaak. Hulle het die bloederige angssweet op Sy aangesig gesien en is met vrees vervul. Sy foltering kon hulle nie begryp nie. “So misvormd was Sy voorkoms, geen mens meer nie en Sy gestalte was nie soos dié van ‘n mensekind nie.” (Jesaja 52:14). DKvDE 759.1

Jesus het weggedraai en weer Sy plek van afsondering opgesoek en neergeval, oorweldig deur die afgryslikheid van ‘n groot duisternis. Die menslike natuur van die Seun van God het in daardie uur van beproewing gesidder. Hy het nie nou vir Sy dissipels gebid dat hul geloof nie moet wankel nie, maar vir Sy eie versoekte, gefolterde siel. Die verskriklike oomblik het aangebreek-die oomblik wat die lot van die wêreld sou beslis. Die lot van die mensdom het op die weegskaal gedobber. Selfs nou kon Christus weier om die beker wat vir die skuldige mens toebedeel was, te ledig. Dit was nog nie te laat nie. Hy kon die bloedsweet van Sy voorhoof afvee en die mensdom oorlaat om in sy sonde te sterf. Hy kon nog steeds sê, laat die oortreder vir sy sonde boet en Ek sal na My Vader terugkeer. Sal die Seun van God die bitter beker van vernedering en smart drink? Sal die Onskuldige die gevolge van die vloek van sonde dra om die skuldige te red? Die woorde het bewend oor die bleek lippe van Jesus gekom: “My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.” DKvDE 759.2

Drie keer het Hy daardie gebed geuiter. Drie keer het die mens in Hom voor die laaste, hoogste offer teruggedeins. Maar nou het die geskiedenis van die mensdom voor die Verlosser van die wêreld opgedoem. Hy het gesien dat die oortreders van die wet, indien hulle aan hulself oorgelaat word, sal vergaan. Hy het die hulpeloosheid van die mens gesien. Hy het die mag van sonde gesien. Die ellende en geweeklaag van ‘n gedoemde wêreld het voor Hom verreis. Hy het die dreigende lot wat op hulle wag aanskou en Sy besluit is geneem. Hy sal die mens teen alle koste vir Homself red. Hy het Sy bloeddoop aanvaar, sodat deur Hom, miljoene wat besig was om te vergaan, die ewige lewe kon behaal. Hy het die hemelse howe, waar alles rein, vol geluk en heerlikheid is, verlaat om die een verlore skaap, die een wêreld wat deur sonde geval het, te red. En Hy sou nie van Sy sending wegdraai nie. Hy sal die soenoffer vir ‘n ras wat op sonde besluit het, wees. Sy gebed het nou slegs onderwerping uitgeadem: “As hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.” DKvDE 760.1

Nadat Hy die besluit geneem het, het Hy in floute op die grond van waar Hy gedeeltelik opgestaan het neergeval. Waar was sy dissipels nou, om hul hande teer onder die hoof van hul Meester wat in floute versink, te sit en die voorhoof wat meer as die seuns van mense misvorm is, te baai? Die Heiland het die wynpers alleen getrap en van die mense was daar niemand by Hom nie. DKvDE 760.2

Maar God het saam met sy Seun gely. Engele het die Heiland se foltering aanskou. Hulle het hul Here, omring met legioene sataniese magte gesien, Sy wese deur ‘n sidderende misterieuse vrees neergedruk. Daar was stilte in die hemel. Geen harp is aangeraak nie. Indien die mens die verstomming van die engele-magte kon aanskou waar hulle met swyende weemoed sien hoe die Vader Sy strale van lig, liefde en heerlikheid van Sy geliefde Seun onttrek, sou hulle beter verstaan het hoe afstootlik die sonde in Sy oë is. DKvDE 760.3

Die ongevalle wêrelde en die hemelse engele het met intense belangstelling toegekyk hoe die konflik tot ‘n einde kom. Satan en sy bose bondgenote, die legioene van afvalligheid, het hierdie groot krisis in die werk van verlossing aandagtig dopgehou. Die magte van goed en kwaad het gewag om te sien wat die antwoord op Christus se drie-keer herhaalde gebed sou wees. Engele het verlang om verligting vir die Goddelike Lydende te bring, maar dit mog nie wees nie. Daar was geen uitkomkans vir die Seun van God nie. In hierdie aaklige krisis, waar alles op die spel was, toe die geheimsinnige beker in die hande van die lydende gebewe het, het die hemele oopgegaan en ‘n lig het, te midde van die stormagtige duisternis van die krisisuur, geskyn en die magtige engel wat in die teenwoordigheid van God in die posisie waarvan Satan geval het staan, het gekom om aan Christus se sy te staan. Die engel het nie gekom om die beker uit Christus se hand te neem nie, maar om Hom te versterk om dit te ledig, met die versekering van die Vader se liefde. Hy het gekom om die biddende Goddelike mens te bemagtig. Hy het die geopende hemel aan Hom uitgewys, Hom van die siele wat as gevolg van Sy lyding gered sou word, vertel. Hy het Hom verseker dat Sy Vader groter en magtiger as Satan is en dat Sy dood tot Satan se uiterste nederlaag sou lei en dat die koninkryk van hierdie wêreld aan die heiliges van die Allerhoogste gegee sou word. Hy het aan Hom gesê dat Hy die moeitevolle lyde van Sy siel sal sien en tevrede sal wees, omdat Hy ‘n magdom van die menseras gered sou sien-vir ewig gered. DKvDE 761.1

Christus se lyding het nie opgehou nie, maar Sy terneergedruktheid en moedeloosheid het Hom verlaat. Die storm het geensins afgeneem nie, maar Hy, om wie dit gewoed het, was versterk om dit te trotseer. Hy het kalm en bedaard daaruit gekom. ‘n Hemelse vrede was op Sy bloedbevlekte gelaat. Hy het verduur wat geen mens ooit sou kon verduur nie; want Hy het die lyding van die dood vir elke mens gesmaak. DKvDE 761.2

Die slapende dissipels is skielik deur die lig wat die Heiland omring het gewek. Hulle het die engel oor hul neergeboë Meester sien buk. Hulle het gesien hoe hy die Heiland se hoof op sy boesem lig en hemelwaarts wys. Hulle het sy stem, soos die soetste musiek gehoor, wat troos en hoop bring. Die dissipels het die toneel op die berg van verheerliking in herinnering geroep. Hulle het die heerlikheid wat Jesus in die tempel omring het en die stem van God wat uit die wolk gespreek het, onthou. Nou is dieselfde heerlikheid weer geopenbaar en hulle het geen verdere vrees vir hul Meester gekoester nie. Hy was onder God se sorg; ‘n magtige engel is gestuur om Hom te beskerm. En weer het die dissipels in hul uitputting onder ‘n vreemde lomerigheid wat hulle oorval het, geswig. Weer het Jesus hulle aan die slaap gevind. DKvDE 762.1

Hy het hulle bejammerend aangekyk en gesê: “Slaap maar voort en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars.” DKvDE 762.2

En terwyl Hy nog besig was om hierdie woorde te uiter, het Hy die voetstappe van die gepeupel wat na Hom soek gehoor en gesê “Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.” DKvDE 762.3

Geen spore van Sy onlangse foltering was sigbaar toe Jesus vorentoe getree het om Sy verraaier te ontmoet nie. Hy het ‘n ent voor die dissipels gaan staan en gesê: “Wie soek julle?” Hulle het geantwoord: “Jesus, die Nasarener.” Jesus het geantwoord: “Dit is Ek.” Terwyl hierdie woorde geuiter is, het die engel wat Jesus pas bedien het, tussen Hom en die skare inbeweeg. ‘n Goddelike lig het die Heiland se gelaat verlig en ‘n gedaante soos ‘n duif het Hom oorskadu. Die moorddadige gepeupel kon nie vir ‘n oomblik in die teenwoordigheid van hierdie Goddelike heerlikheid staande bly nie. Hulle het teruggedeins. Priesters, ouderlinge, soldate en selfs Judas het soos dooie mense op die grond neergeval. DKvDE 762.4

Die engel het onttrek en die lig het vervaag. Jesus het geleentheid gehad om te ontsnap het, maar Hy het kalm en selfversekerd bly staan. Soos Een wat verheerlik is, het Hy te midde van daardie geharde, maar nou neergeslane en hulpelose bende aan Sy voete, gestaan. Die dissipels het dit met stille verwondering en ontsag aanskou. DKvDE 763.1

Maar die toneel het spoedig verander. Die gepeupel het orent gekom. Die Romeinse soldate, die priesters en Judas het hulle om Christus geskaar. Hulle het skaam oor hul swakheid en bevrees dat Hy sou ontsnap voorgekom. Weer het die Verlosser gevra: “Wie soek julle?” Hulle het die getuienis dat Hy wat voor hulle staan die Seun van God is gehad, maar wou hulle nie laat oortuig nie. Op die vraag: “Wie soek julle?” het hulle weer geantwoord: “Jesus, die Nasarener.” Toe sê die Verlosser: “Ek het vir julle gesê dat dit Ek is. As julle My dan soek, laat hierdie manne weggaan...” terwyl Hy na die dissipels wys. Hy het geweet hoe swak hulle geloof was en wou hulle teen versoeking en beproewing beskerm. Hy was gereed om Homself vir hulle op te offer. DKvDE 763.2

Judas die verraaier het nie van die rol wat hy moes speel vergeet nie. Toe die gepeupel die tuin binnegaan, het hy die weg aangewys, met die hoëpriester kort op sy hakke. Hy het ‘n teken aan die vervolgers van Jesus gegee en gesê: “Die Een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom!” (Mattheus 26:48). Hy het voorgegee dat hy niks met hulle te doen gehad het nie. Hy het Jesus genader en Sy hand soos ‘n bekende vriend geneem. Met die woorde: “Gegroet, Rabbi!” het hy Hom herhaaldelik gesoen en voorgegee dat hy uit meegevoel vir Hom in Sy gevaar ween. DKvDE 763.3

Jesus het vir hom gesê: “Vriend, waarvoor is jy hier?” Sy stem het van hartseer gebewe toe hy byvoeg: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met ‘n kus?” Hierdie beroep moes die gewete van die verraaier opgewek het en sy hardvogtige hart aangeraak het; maar eerbaarheid, getrouheid en menslike deernis het hom verlaat. Hy het vermetel en uitdagend bly staan en geen ingesteldheid vir berou getoon nie. Hy het hom aan Satan oorgegee en het geen krag gehad om hom te weerstaan nie. Jesus het die verraaier se kus nie geweier nie. DKvDE 763.4

Toe die gepeupel sien hoe Judas Hom, wat so pas voor hulle oë verheerlik was, aanraak, het hulle moed geskep. Hulle het die hande aan Jesus geslaan en voortgegaan om daardie kosbare hande, wat altyd net goed gedoen het, vas te bind. DKvDE 764.1

Die dissipels het gedink dat hul Meester nie sou toelaat dat hulle Hom neem nie. Want dieselfde mag wat die gepeupel soos dooies laat neerslaan het, kon hulle hulpeloos hou totdat Jesus en sy metgeselle kon ontsnap. Hulle was teleurgesteld en verontwaardig toe hulle sien dat hulle die toue uithaal om die hande van Hom wie hulle liefgehad het, vas te bind. Petrus het in sy woede, sy swaard oorhaastig uitgetrek en probeer om sy Meester te verdedig, maar hy het slegs die oor van die hoëpriester se dienskneg afgekap. Toe Jesus sien wat gebeur, het Hy Sy hande losgemaak en terwyl Hy steeds ferm deur die Romeinse soldate vasgehou is, het Hy gesê: “Dit is genoeg.” Hy het die gewonde oor aangeraak en dit was onmiddellik genees. Toe het Hy vir Petrus gesê: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?”-'n legioen in die plek van elke dissipel. Ag hoekom, het die dissipels gedink, doen Hy niks om Homself en ons te red nie? In antwoord op hul onuitgesproke gedagtes, het Hy bygevoeg: “Hoe sou die skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?” “Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?” DKvDE 764.2

Die amptelike waardigheid van die Joodse leiers het hulle nie verhoed om by die bende wat Jesus vervolg het aan te sluit nie. Sy gevangeneming was veels te belangrik om dit aan ondergeskiktes oor te laat; die listige priesters en ouderlinge het hulle by die tempelpolisie en die gepeupel gevoeg en Judas na Getsémané gevolg. Wat se geselskap vir daardie hoogwaardigheidsbekleërs om mee te verenig-'n gepeupel wat uitgehonger vir opwinding was en met allerhande soorte tuig gewapen, asof hulle ‘n wilde dier jag! DKvDE 764.3

Terwyl Christus na die priesters en ouderlinge draai, het Hy ‘n ondersoekende blik op hulle gewerp. Die woorde wat Hy geuiter het, sou hulle nie, vir solank hulle gelewe het, vergeet nie. Dit was soos die skerp pyle van die Almagtige. Met waardigheid het Hy gesê: Julle kom teen My met swaarde en stokke soos teen ‘n dief of rower. Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en leer. Julle het elke geleentheid gehad om toe die hande op My te lê, maar julle het niks gedoen nie. Die nag is beter aangepas vir julle werk. “Dit is julle uur en die mag van die duisternis.” DKvDE 765.1

Die dissipels was vreesbevange toe hulle sien hoe Jesus toelaat dat hulle Hom boei en neem. Hulle het aanstoot geneem dat Hy toegelaat het dat hulle hierdie vernedering teenoor Hom en hulleself moes ondergaan. Hulle kon Sy optrede nie verstaan nie en het Hom kwalik geneem omdat Hy Homself aan die gepeupel onderwerp het. In hul verontwaardiging en vrees het Petrus voorgestel dat hulle hulself red. Hulle het sy voorstel gevolg en “...al die dissipels [het] Hom verlaat en gevlug.” Maar Christus het die feit dat hulle Hom sou verlaat, voorspel. “Kyk...” het Hy gesê, “...die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is.” (Johannes 16:32). DKvDE 765.2