Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 73—“Laat Julle Hart Nie Ontsteld Word Nie” *
Christus het Sy dissipels met Goddelike liefde en innige meegevoel aanskou en gesê: “Nou is die Seun van die mens verheerlik en God is in Hom verheerlik.” Judas het die bovertrek verlaat en Christus was alleen met die elf. Hy was op die punt om met hulle oor Sy naderende skeiding van hulle te praat; maar voordat Hy dit gedoen het, het Hy op die groot doel van Sy sending gewys. Dit het Hy dit voortdurend voor oë gehou. Sy vreugde was dat al Sy vernedering en lyding die Vader se Naam sou verheerlik. Hy het die dissipels se gedagtes eerste hierop gevestig. DKvDE 730.1
Toe spreek Hy innemend met hulle: “My kinders...” het Hy gesê, “...nog ‘n klein tydjie is Ek by julle. Julle sal My soek en soos Ek vir die Jode gesê het: Waar Ek heengaan, kan julle nie kom nie-so sê Ek nou ook vir julle.” DKvDE 730.2
Die dissipels kon hulle nie hieroor verbly nie. Vrees het hulle oorval. Hulle het nader aan die verlosser beweeg. Hul Meester en Heer, hul geliefde Leraar en Vriend, was vir hulle meer kosbaar as die lewe. Na Hom het hulle opgesien vir hulp in al hul probleme, vir vertroosting in hul smarte en teleurstellings. Nou gaan Hy hulle verlaat, ‘n eensame, afhanklike groep. Donker voorgevoelens het hul harte gevul. DKvDE 730.3
Maar die Verlosser se woorde aan hulle was vol hoop. Hy het geweet dat die vyand hulle sou aanval en dat Satan se vernuf die mees suksesvolste teen diegene wat deur probleme neergedruk word, aangewend word. Daarom het Hy hulle van die “sigbare dinge” weggelei na die “onsigbare.” (2 Korinthiërs 4:18). Van hul aardse ballingskap het Hy hul gedagtes na hul hemelse woning gelei. DKvDE 730.4
“Laat julle hart nie ontsteld word nie...” het Hy gesê, “...glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle.” Om julle ontwil het Ek na die wêreld gekom. Om julle ontwil tree Ek op. Wanneer Ek weggaan, sal Ek steeds ywerig vir julle werk. Ek het na die wêreld gekom om My aan julle te openbaar, sodat julle kan glo. Ek gaan na die Vader om saam met Hom in julle belang te werk. Die doel van Christus se weggaan was die teenoorgestelde van wat die dissipels gevrees het. Dit het nie ‘n finale skeiding beteken nie. Hy sou gaan om ‘n plek vir hulle te berei, sodat Hy weer kon kom om hulle na Hom te neem. Terwyl Hy vir hulle wonings bou, moes hulle hul karakters volgens die Goddelike gelykenis bou. DKvDE 731.1
Maar die dissipels was steeds onthuts. Thomas, altyd deur twyfel geteister, het gesê: “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” Jesus het hom geantwoord: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.” DKvDE 731.2
Daar is nie ander weë na die hemel nie. Elkeen kan nie sy eie weg kies nie. Christus sê: “Ek is die weg: ... niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Vandat die evangelie die eerste keer verkondig is, toe daar in Eden verklaar is dat die saad van die vrou die slang se kop sou verbrysel, is Christus as die weg, die waarheid en die lewe verhef. Hy was die weg toe Adam geleef het, toe Abel die bloed van die geslagte lam as verteenwoordigend van die bloed van die Verlosser aan God geoffer het. Christus was die weg waardeur patriarge en profete gered is. Hy is die enigste weg waarlangs ons toegang tot God kan hê. DKvDE 731.3
“As julle My geken het...” het Christus gesê, “...sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.” Maar die dissipels het steeds nie verstaan nie. “Here, toon ons die Vader en dit is vir ons genoeg...” het Filippus uitgeroep. DKvDE 732.1
Verstom oor sy stompsinnigheid, het Christus met gekrenkte verbasing gevra: “Ek is so lankal by julle en het jy My nie geken nie, Filippus?” Is dit moontlik dat jy nie die Vader in die werke wat Hy deur My doen, sien nie? Glo jy nie dat Ek gekom het om van die Vader te getuig nie? “En hoe sê jy, toon ons die Vader?” “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” Christus het nie opgehou om God te wees toe Hy mens geword het nie. Hoewel Hy Hom tot mens verneder het, was die Goddelikheid nog steeds Sy eie. Alleenlik Christus kon die Vader by die mensdom verteenwoordig en die dissipels was bevoorreg om hierdie verteenwoordiging vir meer as drie jaar lank te aanskou. DKvDE 732.2
“Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.” Hulle geloof kon veilig op die getuienis wat deur Christus se werke gelewer is berus, werke wat geen mens ooit uit homself gedoen het of kon doen nie. Die werke van Christus het van Sy Godheid getuig. Deur Hom is die Vader geopenbaar. DKvDE 732.3
Indien die dissipels hierdie wesenlike verbintenis tussen die Vader en die Seun geglo het, sou hulle geloof hulle nie in die steek laat wanneer hulle die lyding en dood van Christus, om ‘n verloregaande wêreld te red, aanskou nie. Christus wou hulle uit hulle swak geloofstoestand lei na dit wat hulle kon ervaar indien hulle waarlik besef het wie Hy is-God in die vlees. Hy het begeer dat hulle geloof na God gelei en daar geanker moet word. Hoe ernstig en volhardend het ons deernisvolle Heiland gepoog om Sy dissipels vir die storm van versoeking wat spoedig oor hulle sou kom, voor te berei! Hy wou dat hulle saam met Hom in God geborge moet wees. DKvDE 732.4
Terwyl Christus hierdie woorde geuiter het, het die heerlikheid uit God Sy gelaat gestraal en almal teenwoordig was met ‘n heilige ontsag vervul terwyl hulle meegesleur na Hom geluister het. Hulle harte was nog meer aangetrokke tot Hom; en namate hulle met groter liefde nader aan Christus getrek is, is hulle tot mekaar aangetrek. Dit het vir hulle gevoel asof die hemel baie naby was en dat die woorde waarna hulle geluister het, ‘n boodskap van hul hemelse Vader was. DKvDE 733.1
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle...” het Christus voortgegaan, “...wie in My glo-die werke wat Ek doen, sal hy ook doen.” Die Heiland was angstig dat Sy dissipels moes verstaan om watter doel Sy Goddelikheid met menslikheid verenig moes word. Hy het na die wêreld gekom om die heerlikheid van God aan die wêreld te betoon, sodat die mens deur Sy herstellende krag opgehef kon word. God is in Hom geopenbaar sodat Hy in hulle geopenbaar kon word. Jesus het geen hoedanighede geopenbaar en magte uitgeoefen wat die mens nie deur geloof in Hom kan hê nie. Sy volmaaktheid as mens is iets wat al Sy volgelinge kan besit, as hulle aan God onderworpe is soos Hy was. DKvDE 733.2
“En hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.” Hiermee het Christus nie bedoel dat die dissipels werk van ‘n meer verhewe aard as Syne sou verrig nie, maar dat dit ‘n wyer omvang sou hê. Hy het nie bloot na die uitvoering van wonderwerke verwys nie, maar na alles wat onder die invloed van die Heilige Gees sou plaasvind. DKvDE 733.3
Na die Hemelvaart van die Here het die dissipels die vervulling van sy belofte begryp. Die tonele van die kruisiging en die opstanding en Hemelvaart van Christus was vir hulle ‘n lewende werklikheid. Hulle het gesien hoe die profesieë letterlik vervul is. Hulle het die Skrifte ondersoek en die leringe daarvan, met voorheen ongekende geloof en versekering aanvaar. Hulle het geweet dat die Goddelike Leraar alles was waarop Hy aanspraak gemaak het. Soos hulle van hul ervaringe getuig het en die liefde van God verhef het, het mense se harte gesmelt en onderworpe geword en menigtes het in Jesus geglo. DKvDE 733.4
Die Heiland se belofte aan Sy dissipels is ‘n belofte aan Sy kerk tot met die einde van die tyd. God het nie beplan dat Sy wonderlike plan om mense te verlos slegs onbeduidende resultate sou bereik nie. Almal wat begin werk en nie staatmaak op wat hulle self kan uitrig nie, maar op wat God vir en deur hulle kan doen, sal gewis die vervulling van Sy belofte verwesenlik. “Hy sal groter werke doen as dit...” sê Hy, “...omdat Ek na my Vader gaan.” DKvDE 734.1
Sover was die dissipels onbekend met die Verlosser se onbeperkte hulpbronne en mag. Hy het vir hulle gesê: “Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie...” (Johannes 16:24). Hy het verduidelik dat die geheim van hul sukses gesetel sou wees in die vra van krag en genade in Sy Naam. Hy sou voor die Vader verskyn om die versoek namens hulle te stel. Die gebed van die nederige smeker bied Hy namens daardie siel as Sy eie begeerte aan. Elke opregte gebed word in die hemel gehoor. Dit mag moontlik nie welsprekend geuiter word nie; maar as die hart daarin is, sal dit na die heiligdom waar Jesus bedien opstyg en Hy sal dit aan die Vader bied sonder een onbeholpe, stamelende woord, pragtig en geurig met die wierook van Sy eie volmaaktheid. DKvDE 734.2
Die pad van opregtheid en onkreukbaarheid is nie ‘n pad sonder struikelblokke nie, maar elke moeilike situasie moet ons as ‘n uitnodiging tot gebed sien. Daar is niemand wat lewe wat enige mag waaroor hy beskik, nie van God ontvang het nie en die Bron waarvan dit kom, is oop vir die swakste menslike wese. “En wat julle ook al in my Naam mag vra...” het Jesus gesê, “...dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” DKvDE 734.3
“In my Naam...” het Christus Sy dissipels gebied om te bid. In die Naam van Christus moet Sy volgelinge voor God staan. Deur die waarde van die offer wat vir hulle gebring is, is hulle waardevol in die oë van die Here. Om Christus se ontwil vergewe die Here diegene wat Hom vrees. Hy sien nie in hulle die veragtelikheid van die sondaar nie. Hy herken in hulle die ewebeeld van Sy Seun, in Wie hulle glo. DKvDE 734.4
Die Here is teleurgesteld wanneer Sy mense hulself geringskat. Hy begeer Sy gekose erfenis om ‘n waarde aan hulself te heg volgens die prys wat Hy op hulle geplaas het. God wou hulle gehad het, anders sou Hy nie Sy Seun op so ‘n duur sending gestuur het om hulle te verlos nie. Hulle is vir Hom van nut en dit behaag Hom wanneer hulle die hoogste eise aan Hom stel, sodat hulle Sy Naam kan verheerlik. Hulle kan groot dinge verwag as hulle geloof in Sy beloftes het. DKvDE 735.1
Maar om in die Naam van Christus te bid, behels baie. Dit beteken dat ons Sy karakter moet aanneem, Sy gees moet manifesteer en Sy werke moet doen. Die Heiland se belofte is op voorwaarde gegee. “As julle My liefhet...” sê Hy, “...bewaar My gebooie.” Hy red die mens, nie in sonde nie, maar van die sonde; en diegene wat Hom liefhet, sal hul liefde deur gehoorsaamheid betoon. DKvDE 735.2
Alle ware gehoorsaamheid kom uit die hart. Dit was vir Christus ‘n werk van die hart. En indien ons instem, sal Hy Homself só met ons gedagtes en doelwitte vereenselwig, ons hart en gees só in ooreenstemming met Sy wil laat saamsmelt, dat wanneer ons Hom gehoorsaam, ons slegs ons eie impulse sal uitvoer. Die wil, gelouter en geheilig, sal die hoogste behae in Sy diens vind. Wanneer ons God ken soos dit ons voorreg is om Hom te ken, sal ons lewe een van voortdurende gehoorsaamheid wees. Deur ‘n waardering van die karakter van Christus, deur gemeenskap met God, sal sonde vir ons verwerplik word. DKvDE 735.3
Soos Christus die wet as mens uitgeleef het, so kan ons doen as ons aan die Sterke vasgryp vir krag. Maar ons moet nie ons verantwoordelikheid op ander plaas en vir hulle wag om vir ons te sê wat om te doen nie. Ons kan nie vir raad van die mens afhanklik wees nie. Die Here sal ons net so geredelik, soos vir iemand anders, leer wat ons plig is. As ons Hom in geloof nader. sal Hy Sy verborgenhede persoonlik aan ons bekend maak. Ons harte sal dikwels in ons brand as Hy tot ons nader om met ons te kommunikeer soos Hy met Henog gedoen het. Diegene wat besluit om hoegenaamd niks te doen wat God sal mishaag nie, sal, nadat hulle hul saak aan Hom gestel het, presies weet watter koers hulle moet volg. En hulle sal nie slegs wysheid ontvang nie, maar krag. Krag om te gehoorsaam en te dien sal aan hulle geskenk word soos Christus belowe het. Wat ook al aan Christus gegee is, “...alle dinge...” om in die behoefte van die gevalle mensdom te voorsien, is aan Hom as die Hoof en Verteenwoordiger van die mensdom gegee. “En wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons Sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.” (1 Johannes 3:22). DKvDE 735.4
Voordat Hy Homself as soenoffer aangebied het, het Christus na die belangrikste en mees volkome gawe gestreef om op Sy volgelinge uit te stort, ‘n gawe wat die onbeperkte bronne van genade binne hulle bereik sou bring. “Ek sal die Vader bid...” het Hy gesê “...en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” DKvDE 736.1
Die Gees was vantevore reeds in die wêreld; vanaf die heel begin van die werk van verlossing het Hy die harte van mense beweeg. Maar terwyl Christus op aarde was, het die dissipels geen ander helper verlang nie. Nie voor hulle van Sy teenwoordigheid ontneem sou word, sou hulle hul behoefte aan die Gees ervaar nie en dan sou Hy kom. DKvDE 736.2
Die Heilige Gees is Christus se Verteenwoordiger, maar ontdaan van die menslike persoonlikheid en onafhanklik daarvan. Met menslikheid belas, kon Christus nie persoonlik op elke plek wees nie. Daarom was dit in hul belang dat Hy na die Vader moes gaan en die Gees stuur om sy Opvolger op aarde te wees. Niemand kon dan bevoordeel word as gevolg van sy omgewing of persoonlike kontak met Christus nie. Deur die Gees sou die Heiland toeganklik vir almal wees. In hierdie sin sou Hy nader aan hulle wees as wat Hy sou gewees het as Hy nie na die hemel opgevaar het nie. DKvDE 736.3
“Wie My liefhet, hom sal die Vader liefhê en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.” Jesus het die toekoms van Sy dissipels gesien. Hy het gesien hoe een na die galg geneem word, een na die kruis, een na ‘n eensame rotseiland verban word en ander vervolg en gedood word. Hy het hulle met die belofte, dat Hy in elke beproewing met hulle sou wees, bemoedig. Daardie belofte het niks van sy krag verloor nie. Die Here weet alles van Sy getroue dienaars wat om Sy onthalwe in die tronk sit of na eensame eilande verban is. Hy vertroos hulle met Sy eie teenwoordigheid. Wanneer die gelowige ter wille van die waarheid voor onregverdige regbanke staan, staan Christus aan sy sy. Al die beskuldigings wat teen hom opgehoop word, word teen Christus opgehoop. Christus word opnuut in die persoon van Sy dissipel veroordeel. Wanneer iemand in die gevangenis opgesluit word, vul Christus sy hart met Sy liefde. Wanneer iemand ter wille van Hom sterf, sê Christus: “Ek is die ... lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid... Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” (Openbaring 1:17,18). Die lewe wat vir My opgeoffer word, word vir die ewige heerlikheid bewaar. DKvDE 737.1
Te alle tye en op alle plekke, tydens alle droefheid en in alle beproewinge, wanneer die vooruitsigte donker en die toekoms bedremmeld is en ons hulpeloos en alleen voel, sal die Trooster in antwoord op die gebed van die gelowige gestuur word. Omstandighede kan ons van elke aardse vriend skei; maar geen omstandigheid en geen afstand, kan ons van die hemelse Trooster skei nie. Waar ons ook al is, waar ons ook mag gaan, is Hy altyd aan ons regterhand om ons te ondersteun, te onderhou, te bewaar en op te beur. DKvDE 737.2
Die dissipels het steeds nie daarin geslaag om die geestelike betekenis van Christus se woorde te begryp nie en Hy het die betekenis daarvan aan hulle verduidelik. Hy het gesê dat Hy Homself aan hulle sal openbaar. “Die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer.” Julle sal nie langer sê, ek verstaan nie. Nie langer sal julle deur ‘n dowwe spieël sien nie. Julle sal “...in staat ... wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref.” (Efesiërs 3:18,19). DKvDE 738.1
Die dissipels moes van die lewe en werk van Christus getuig. Deur hulle woorde sou Hy met alle mense op die aarde praat. Maar in die vernedering en dood van Christus sou hulle groot beproewing en teleurstelling ly. Om te verseker dat hul boodskap ná hierdie ervaring akkuraat sou wees, het Jesus belowe dat die Trooster “...julle alles [sal] leer en julle [sal] herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” DKvDE 738.2
“Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê...” het Hy voortgegaan, “...maar julle kan dit nie nou dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort en aan julle verkondig.” Jesus het ‘n groot waarheid voor Sy dissipels oopgestel. Maar dit was moeilik vir hulle om Sy lesse te onderskei van die tradisies en voorskrifte van die skrifgeleerdes en Fariseërs. Hulle was opgevoed om die leringe van die rabbi’s as die woord van God te aanvaar en dit het steeds ‘n houvas op hul gedagtes gehad en hul gevoelens beïnvloed. Wêreldse idees en tydelike dinge, het steeds ‘n belangrike plek in hul gedagtes beklee. Hulle het nie die geestelike aard van Christus se koninkryk begryp nie, al het Hy dit so dikwels aan hulle verduidelik. Hul gedagtes het verward geraak. Hulle het nie die waarde van die Skrifte wat Christus aangebied het, begryp nie. Baie van Sy lesse het voorgekom amper verlore op hulle te wees. Jesus het besef dat hulle nie die ware betekenis van Sy woorde vasgelê nie. Hy het met deernis belowe dat die Heilige Gees hierdie woorde aan hulle voor die gees sou roep. En Hy het baie dinge, wat nie deur die dissipels begryp sou word nie, ongesê gelaat. Ook hierdie dinge sou deur die Gees aan hulle openbaar word. Die Gees sou hul begrip verskerp, sodat hulle die hemelse dinge sou kon waardeer. “Wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid...” het Jesus gesê, “...sal Hy julle in die hele waarheid lei.” DKvDE 738.3
Die Trooster word “...die Gees van die waarheid...” genoem. Sy werk is om die waarheid te omskryf en te handhaaf. Hy woon eers in die hart as die Gees van waarheid en word sodoende die Trooster. Daar is vertroosting en vrede in die waarheid, maar geen ware vrede of vertroosting kan in valsheid gevind word nie. Dit is deur valse teorieë en tradisies dat Satan mag oor die verstand verkry. Deur valse standaarde aan mense voor te hou, misvorm hy die karakter. Die Heilige Gees spreek deur die Skrif tot die verstand en druk die waarheid op die hart. So ontbloot Hy dwaling en verban dit uit die siel. Dit is deur die Gees van die waarheid, wat deur die Woord van God werk, dat Christus Sy uitverkorenes aan Homself onderwerp. DKvDE 739.1
Deur die werk van die Heilige Gees aan Sy dissipels te beskryf, het Jesus gepoog om hulle met dieselfde vreugde en hoop wat in Sy eie hart was, te besiel. Hy het Hom verheug in die oorvloedige hulp wat Hy vir Sy kerk voorsien het. Die Heilige Gees was die hoogste van alle gawes wat Hy van die Vader vir die verheffing van sy volk kon verkry. Die Gees sou as vernuwende krag gegee word en hiersonder sou die soendood van Christus van geen waarde wees nie. Die magte van die bose het eeue lank aangesterk en die onderwerping van die mens aan hierdie sataniese gevangenskap was verstommend. Sonde kan alleenlik deur die magtige werking van die Derde Persoon van die Godheid weerstaan en oorwin word, wat nie met beperkte krag sou kom nie, maar in die volheid van Goddelike mag. Dit is die Gees wat effektiwiteit gee aan dit wat deur die wêreld se Verlosser bewerkstellig is. Dit is deur die Gees dat die hart gereinig word. Deur die Gees word die gelowige ‘n deelgenoot aan die Goddelike natuur. Christus het Sy Gees as ‘n Goddelike mag gegee om alle oorgeërfde en aangekweekte neigings tot boosheid te oorwin en om Sy eie karakter op Sy kerk af te druk. DKvDE 739.2
Van die Gees het Jesus gesê: “Hy sal My verheerlik.” Die Verlosser het gekom om die Vader, deur die demonstrasie van Sy liefde, te verheerlik; so sou die Heilige Gees Christus verheerlik deur Sy genade aan die wêreld te openbaar. Die beeld van God self moet in die mens weergegee word. Die eer van God en die eer van Christus, is in die vervolmaking van die karakter van Sy kinders betrokke. DKvDE 740.1
“As Hy [die Gees van die waarheid] kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel.” Die verkondiging van die woord sou van geen waarde wees sonder die voortdurende teenwoordigheid en bystand van die Heilige Gees nie. Hy is die enigste effektiewe Onderwyser van Goddelike waarheid. Alleenlik wanneer die waarheid deur die Gees na die hart gelei word, sal dit die gewete opwek of die lewe verander. Iemand mag wel die letter van die Woord van God aanbied en met al die beloftes en bevele daarin bekend wees; maar tensy die Heilige Gees die waarheid tuisbring, sal geen siele op die Rots val en verpletter word nie. Geen mate van opleiding, geen voordele, hoe groot ook al, kan van iemand ‘n kanaal van lig maak sonder die medewerking van die Gees van God nie. Die saad van die evangelie kan nie met welslae gesaai word tensy dit deur die dou van die hemel ontkiem word nie. Voordat ‘n enkele boek van die Nuwe Testament geskryf is, voordat een enkele evangelieboodskap ná die Hemelvaart van Christus verkondig is, het die Heilige Gees op die biddende apostels neergedaal. Toe was die getuienis van hul vyande: “Julle het Jerusalem met julle leer vervul.” (Handelinge 5:28). DKvDE 740.2
Christus het die gawe van die Heilige Gees aan Sy kerk belowe en die belofte geld vir ons net soveel soos vir die eerste dissipels. Maar soos enige ander belofte, is dit voorwaardelik gegee. Daar is baie wat glo en beweer dat hulle aanspraak op die Here se beloftes maak; hulle praat van Christus en van die Heilige Gees, maar tog trek hulle geen voordeel nie. Hulle onderwerp die siel nie om deur die Goddelike magte gelei en beheer te word nie. Ons kan nie die Heilige Gees gebruik nie. Die Gees moet ons gebruik. Deur die Gees werk God in Sy volk “...om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae.” (Filippense 2:13). Maar baie wil hulle nie hieraan onderwerp nie. Hulle wil self hul sake bestuur. Daarom ontvang hulle nie die hemelse gawe nie. Slegs aan diegene wat nederig op God wag, wat op Sy leiding en genade wag, word die Gees geskenk. Die krag van God wag op hulle aanspraak en ontvangs. Hierdie beloofde seën, wat in geloof geëis word, bring alle ander seëninge mee. Dit word na die rykdom van die genade van Christus gegee en Hy is gereed om elke siel na gelang van sy vermoë om dit te ontvang, te voorsien. DKvDE 741.1
In Sy gesprek met die dissipels het Jesus geen treurige verwysing na Sy eie lyding en dood gemaak nie. Sy laaste nalatenskap aan hulle was vrede. Hy het gesê: “Vrede laat Ek vir julle na, My vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” DKvDE 741.2
Voordat hulle die bovertrek verlaat het, het die Verlosser Sy dissipels in ‘n loflied gelei. Sy stem was nie in ‘n toon van ‘n treurige klaaglied gehoor nie, maar in die juigende tone van die Pasga-loflied: DKvDE 741.3
“Loof die HERE, alle nasies!
Prys Hom, alle volke!
Want Sy goedertierenheid is geweldig oor ons “Laat Julle Hart Nie Ontsteld Word Nie”
en die trou van die HERE is tot in ewigheid.
Halleluja!
DKvDE 741.4
(Psalm 117).
Na die loflied het hulle uitgegaan. Hulle het hul weg deur die woelige strate gebaan en by die stadspoort in die rigting van die Olyfberg gegaan. Hulle het langsaam voortbeweeg, elk met sy eie gedagtes besig. Toe hulle van die berg begin afdaal, het Jesus in ‘n diep bedroefde stem aan hulle gesê: “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word.” (Mattheus 26:31). Die dissipels het dit bedroef en verstom aangehoor. Hulle het onthou hoe, in die sinagoge by Kapérnaum, toe Christus na Homself as die brood van die lewe verwys het, baie aanstoot geneem het en van Hom weggedraai het. Maar die twaalf was nie aan Hom ontrou nie. Petrus, wat namens sy broeders gepraat het, het toe sy lojaliteit aan Christus verklaar. Toe het die Verlosser gesê: “Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel!” (Johannes 6:70). In die bovertrek het Jesus gesê dat een van die twaalf Hom sou verraai en dat Petrus Hom sou verloën. Maar nou het Sy woorde almal ingesluit. DKvDE 742.1
Hierop is Petrus se stem in heftige protes gehoor: “Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie.” In die bovertrek het hy verklaar: “Ek sal my lewe vir U gee.” Jesus het hom gewaarsku dat hy daardie selfde nag nog sy Heiland sou verloën. Toe het Hy die waarskuwing herhaal: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.” Maar Petrus het nog heftiger geprotesteer: “Al moes ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! En net so het almal ook gesê.” (Markus 14:29-31). In hul selfvertroue het hulle die herhaaldelike verklaring van Hom wat weet, ontken. Hulle was onvoorbereid vir die toets; wanneer die versoeking hulle sou oorval, sou hulle hul eie swakheid besef. DKvDE 742.2
Toe Petrus gesê het dat hy sy Here na die tronk en dood sou volg, het hy elke woord daarvan bedoel; maar hy het homself nie geken nie. In sy hart verskuil, was elemente van boosheid wat deur omstandighede tot lewe aangeblaas sou word. Tensy hy attent op die gevaar gemaak word, sou dit sy ewige verderf beteken. Die Verlosser het ‘n liefde vir self en vertroue wat sy liefde vir Christus sou oorheers, in hom gesien. Baie swakhede, onafgelegde sondes, geestelike onverskilligheid, onheilige humeur, onoplettendheid teen versoeking, is in sy ondervinding geopenbaar. Christus se plegtige waarskuwing was ‘n oproep tot selfondersoek. Petrus moes leer om homself te wantrou en ‘n dieper geloof in Christus te hê. As hy die waarskuwing nederig aanvaar het, sou hy die Herder gevra het om Sy skaap te bewaar. Toe hy op die See van Galiléa op die punt was om te sink, het hy uitgeroep: “Here, red my!” (Mattheus 14:30). Toe is die hand van Christus uitgesteek om sy hand vas te gryp. So sou hy, indien hy nou tot Jesus sou geroep het, red my van myself, bewaar gebly het. Maar Petrus het gevoel dat hy gewantrou word en gedink dit was onverdiend. Hy het reeds aanstoot geneem en het nog meer in sy selfvertroue volhard. DKvDE 743.1
Jesus het met medelye na Sy dissipels gekyk. Hy kon hulle nie van beproewing red nie, maar Hy sou hulle nie troosteloos agterlaat nie. Hy het hulle verseker dat Hy die bande van die dood sou verbreek en dat Sy liefde vir hulle nooit sal faal nie. “Nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.” (Mattheus 26:32). Nog voor die verloëning het hulle die sekerheid van vergifnis. Na Sy dood en opstanding het hulle geweet dat hulle vergewe is en dat hulle kosbaar in die hart van Christus was. DKvDE 743.2
Jesus en die dissipels was op pad na Getsémané, aan die voet van die Olyfberg, ‘n stil plek wat Hy dikwels opgesoek het vir bepeinsing en gebed. Die Verlosser het Sy sending na die wêreld aan Sy dissipels verduidelik en die geestelike verhouding wat hulle met Hom moes handhaaf. Nou het Hy die les geïllustreer. Die maan het helder geskyn en ‘n florerende wingerdstok aan Hom vertoon. Hy het Sy dissipels se aandag daarop gevestig en dit as ‘n simbool voorgehou. DKvDE 743.3
“Ek is die ware wynstok...” het Hy gesê. In plaas van die sierlike palm, die magtige seder of die stoere eik te neem, neem Jesus die wynstok met sy klouende ranke om Homself te verteenwoordig. Die palmboom, die seder en die eik staan alleen. Hulle het geen steun nodig nie. Maar die wingerd rank deur die traliewerk en klim so hemelwaarts. So was Christus as mens van Goddelike mag afhanklik. “Ek kan uit Myself niks doen nie...” het Hy gesê. (Johannes 5:30). DKvDE 744.1
“Ek is die ware wynstok.” Die Jode het die wingerd altyd as die edelste van plante beskou en ‘n tipe van alles wat magtig, uitmuntend en vrugbaar was. Israel is as ‘n wingerd wat God in die Beloofde Land geplant het verteenwoordig. Die Jode het hul hoop op saligheid, op die feit van hul verband met Israel gebaseer. Maar Jesus het gesê: “Ek is die ware wynstok.” Moenie dink dat julle deur jul konneksie met Israel die lewe van God deelagtig en erfgename van Sy belofte kan word nie. Alleenlik deur My kan geestelike lewe ontvang word. DKvDE 744.2
“Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.” Op die heuwels van Palestina het ons hemelse Vader Sy vrugbare Wynstok geplant en Hy was self die landbouer. Baie is deur die skoonheid van hierdie Wynstok aangetrek en het Sy hemelse oorsprong verkondig. Maar vir die leiers van Israel het dit soos die wortel in droë grond voorgekom. Hulle het die Plant geneem, dit gekneus en onder hul onheilige voete vertrap. Hulle was oorgehaal om dit vir altyd te vernietig. Maar die hemelse Landbouer het nooit sy Plant uit die oog verloor nie. Nadat die mens gedink het hulle het hom gedood, het Hy dit geneem en aan die anderkant van die muur geplant. Die Wynstok was nie langer sigbaar nie. Daar was dit beskut teen die verwoestende aanslae van mense. Maar die lote van die Wingerdstok het oor die muur gehang. Hulle sou die Wingerdstok verteenwoordig. Deur hulle kon ander lote steeds aan die Wingerdstok gekoppel word. Daarvan is vrugte verkry. Daar was ‘n oes wat verbygangers kon pluk. DKvDE 744.3
“Ek is die wynstok, julle die lote...” het Christus aan Sy dissipels gesê. Hoewel Hy op die punt was om van hulle weggeneem te word, sou hul geestelike eenheid met Hom onveranderd bly. Soos die konneksie van die loot aan die wingerd, het Hy gesê, so word die verhouding wat julle teenoor My moet handhaaf verteenwoordig. Die loot word in die lewende wynstok ingeënt en vesel vir vesel, aar vir aar, groei dit in die wynstok. Die lewe van die wynstok word die lewe van die loot. So ontvang die siel wat dood in oortreding en sonde is, lewe deur konneksie met Christus. Deur geloof in Hom as persoonlike Verlosser word die eenheid gevorm. Die sondaar verenig sy swakheid met Christus se krag, sy leegheid met Christus se volheid, sy tengerheid met Christus se oneindige mag. Dan besit hy die gesindheid van Christus. Die mensheid van Christus het ons mensheid aangeraak en ons mensheid het die Goddelike aangeraak. So, deur die werking van die Heilige Gees, word die mens ‘n deelgenoot aan die Goddelike natuur. In die Geliefde word hy aanvaar. DKvDE 745.1
Wanneer hierdie eenheid met Christus verkry is, moet dit gehandhaaf word. Christus het gesê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so kan julle ook nie as julle in My nie bly nie.” Hier is geen terloopse aanraking en geen lukrake verbintenis nie. Die tak word deel van die lewende wynstok. Die kommunikasie van lewe, krag en vrugbaarheid vanuit die wortel na die lote, is onbelemmerd en standhoudend. Afgesny van die wynstok, kan die loot nie lewe nie. Net so min, sê Jesus, kan julle sonder My leef. Die lewe wat julle van My ontvang het, kan slegs deur voortdurende gemeenskap bewaar word. Sonder My kan julle nie een sonde oorwin of een versoeking weerstaan nie. DKvDE 745.2
“Bly in My, soos Ek in julle.” Om in Christus te bly, beteken ‘n standvastige ontvangs van Sy Gees en ‘n lewe van onvoorwaardelike oorgawe aan Sy diens. Hierdie verbindingskanaal tussen die mens en sy God moet voortdurend oop wees. Soos die wingerdloot voortdurend die sap uit die lewende wynstok ontvang, so moet ons aan Jesus vashou en van Hom, deur geloof, die krag en volmaaktheid van Sy eie karakter ontvang. DKvDE 746.1
Die wortel stuur sy voeding deur die tak na die verste loot. So kommunikeer Christus die stroom van geestelike krag na elke gelowige. Solank die siel met Christus verenig is, is daar geen gevaar dat dit sal verwelk of verval nie. DKvDE 746.2
Die lewe van die wingerdstok sal in geurige vrugte aan die lote manifesteer. “Wie in My bly...” sê Jesus “...en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” Wanneer ons deur die geloof in die Seun van God leef, sal die vrugte van die Gees in ons lewe gesien word; nie een sal ontbreek nie. DKvDE 746.3
“My Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg.” Hoewel die ingeënte loot uiterlik aan die wynstok verbind kan wees, kan die lewegewende verbintenis ontbreek. Dan sal daar geen groei of vrugbaarheid wees nie. So mag daar ‘n oënskynlike verbintenis met Christus wees sonder ‘n ware eenheid met Hom deur die geloof. ‘n Belydenis van geloof bring ‘n mens in die kerk, maar die karakter en gedrag toon of hulle in verbinding met Christus is. Indien hulle geen vrugte dra nie, is hulle vals lote. Hul skeiding van Christus behels verdorwenheid, net so gewis soos deur ‘n dooie loot verteenwoordig. “As iemand in My nie bly nie...” het Christus gesê, “...word hy uitgewerp soos die loot en verdroog; en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.” DKvDE 746.4
“En elke loot wat vrug dra, die maak Hy skoon [snoei dit] sodat dit meer vrug kan dra.” Van die gekose twaalf wat Jesus gevolg het, was een verdroogde loot op die punt om verwyder te word; die res sou onder die snoeiskêr van bittere beproewing deurloop. Jesus het met plegtige teerheid die doel van die landbouer verduidelik. Die snoei sal pyn veroorsaak, maar dit is die Vader wat die skêr aanwend. Hy werk nie met ‘n roekelose hand of onverskillige hart nie. Daar is takke wat op die grond sleep; hulle moet van die aardse steun waaraan hulle vasgroei losgesny word. Hulle moet hemelwaarts reik en hul steun in God vind. Die oortollige blare wat die vrugte van die stroom van die lewe ontneem, moet verwyder word. Die oorgroeisels moet weggesny word, om toegang aan die helende strale van die Son van Geregtigheid te verleen. Die landbouer snoei die skadelike groeisels weg, sodat die vrug ryker en meer oorvloedig kan wees. DKvDE 746.5
“Hierin is my Vader verheerlik...” het Jesus gesê, “...dat julle veel vrug dra.” Die Here verlang om deur ons die heiligheid, die weldadigheid, die deernis van Sy eie karakter te manifesteer. Tog gebied die Verlosser die dissipels nie om te arbei om vrugte te dra nie. Hy sê hulle moet in Hom bly. “As julle in My bly...” sê Hy “...en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê en julle sal dit verkry.” Dit is deur die woord dat Christus in Sy volgelinge bly. Dit is dieselfde lewenskragtige eenwording wat deur die eet van Sy vlees en die drink van Sy bloed verteenwoordig word. Die woorde van Christus is gees en lewe. Deur dit te ontvang, ontvang ons die lewe van die Wynstok. Ons leef “...van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” (Mattheus 4:4). Die lewe van Christus in ons lewer dieselfde vrugte as in Hom. Deur in Christus te lewe, aan Christus vas te hou, om deur Christus ondersteun en gevoed te word, dra ons vrugte na die beeld van Christus. DKvDE 747.1
In hierdie laaste ontmoeting met Sy dissipels het Christus die groot begeerte wat Hy vir hulle gehad het, dat hulle mekaar sal liefhê soos Hy hulle liefgehad het, uitgespreek. Hy het herhaaldelik hieroor gepraat. “Dit is my gebod...” het Hy herhaaldelik gesê, “...dat julle mekaar moet liefhê.” Sy heel eerste opdrag toe Hy alleen saam met hulle in die bovertrek was, was: “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” Vir die dissipels was hierdie opdrag iets nuuts; want hulle het mekaar nie liefgehad soos Christus hulle liefgehad het nie. Hy het besef dat nuwe idees en impulse hulle sal moet beheer; dat hulle nuwe beginsels sal moet beoefen; deur Sy lewe en dood moes hulle ‘n nuwe begrip van liefde ontvang. Die bevel om mekaar lief te hê het ‘n nuwe betekenis in die lig van sy eie opoffering aangeneem. Die volle werking van genade is een van onophoudelike liefdesdiens, selfverloëning en pogings van selfopoffering. Gedurende elke uur van Christus se lewe op aarde het die liefde van God in onbeperkte strome uit Hom gevloei. Almal wat met Sy Gees besiel is, sal liefhê soos Hy liefgehad het. Dieselfde beginsel wat Christus gemotiveer het, sal almal in hul optrede teenoor mekaar motiveer. DKvDE 747.2
Hierdie liefde is die bewys van hul dissipelskap. “Hieraan sal almal weet dat julle My dissipels is...” het Jesus gesê, “...as julle liefde onder mekaar het.” Wanneer mense, nie uit dwang of eiebelang nie, maar deur liefde saamgebind is, betoon hulle die werking van ‘n Invloed wat bo elke mens verhewe is. Waar hierdie eenheid bestaan, getuig dit dat die beeld van God in die mens herstel is en dat ‘n nuwe lewensbeginsel ingeplant is. Dit toon dat daar ‘n mag in die Goddelike is om die onnatuurlike magte van die bose te weerstaan en dat die genade van God die selfsug wat inherent in die natuurlike hart is, onderwerp. DKvDE 748.1
Hierdie liefde, indien dit in die kerk openbaar word, sal gewis die toorn van Satan ontketen. Christus het nie ‘n maklike weg vir Sy dissipels uitgestip nie. “As die wêreld julle haat...” het Hy gesê, “...moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my Woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.” Die evangelie moet deur aggressiewe oorlogvoering, te midde van teenstand, lewensgevaar, verlies en lyding verkondig word. Maar diegene wat hierdie werk verrig, volg slegs in die spore van hul Meester. DKvDE 748.2
As Verlosser van die wêreld was Christus voortdurend met skynbare mislukking gekonfronteer. Hy, die Boodskapper van genade aan ons wêreld, het geblyk weinig van die werk wat Hy verlang het om ter opheffing en redding te verrig, te voltooi. Sataniese invloede was voortdurend aan die werk om in Sy weg te staan. Maar Hy het Hom nie laat ontmoedig nie. Deur die profeet Jesaja verklaar Hy: “Tevergeefs het Ek my vermoei, my krag vir niks en vrugteloos verteer! Nogtans is my reg by die Here en my loon is by My God... En Ek word geëer in die oë van die Here en my God is my sterkte” (Jesaja 49:4,5). Dit is aan Christus dat die belofte gegee is: “So sê die Here, die Verlosser van Israel, sy Heilige, aan die diep veragte, aan Hom wat ‘n afsku is by die volk, ‘n Kneg van die heersers ... So sê die Here: Ek behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe; om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! ... Hulle sal geen honger en geen dors hê nie en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water.” (Jesaja 49:7-10). DKvDE 749.1
Op hierdie woord het Jesus berus en Hy het Satan geen voordeel toegelaat nie. Toe die laaste stappe van Christus se vernedering geneem sou word, toe die diepste droefheid Sy siel omsluit het, het Hy aan Sy dissipels gesê: “Die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie.” (Johannes 14:30). “Die owerste van hierdie wêreld [is] geoordeel.” (Johannes 16:11). “...nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.” (Johannes 12:31) Met ‘n profetiese oog het Christus die tonele wat in Sy laaste groot stryd sou plaasvind, sien afspeel. Hy het geweet dat wanneer Hy sou uitroep: “Dit is volbring...” die ganse hemel sou triomfeer. Sy oor het die veraf musiek en uitroepe van oorwinning in die hemelse howe gehoor. Hy het goed geweet dat die doodsklok vir die ryk van Satan dan sou lui en dat die Naam van Christus deur die heelal sou weerklink. DKvDE 749.2
Dit het Christus verheug dat Hy meer vir Sy volgelinge kon doen as wat hulle kon vra of dink. Hy het met selfvertroue gepraat, wetende dat ‘n almagtige dekreet uitgevaardig is nog voor die wêreld gemaak is. Hy het geweet dat die waarheid, met die almag van die Heilige Gees bewapen, die stryd teen die Bose sou oorwin; en dat die bloedbevlekte vaandel seëvierend oor Sy volgelinge sou wapper. Hy het geweet dat die lewe van sy vertrouende dissipels soos Syne sou wees, ‘n reeks van ononderbroke oorwinnings, nie as sodanig hier gesien nie, maar in die groot hiernamaals as sodanig herken. DKvDE 750.1
“Dit het Ek vir julle gesê...” het Hy gesê, “...dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” Christus het nie gefaal nie en was ook nie ontmoedig nie en Sy volgelinge moet dieselfde volhardende geloof manifesteer. Hulle moet leef soos Hy geleef het en werk soos Hy gewerk het, omdat hulle op Hom as die groot Meester-Werker vertrou. Hulle moet moed, lewenslus en deursettingsvermoë aan die dag lê. Hoewel skynbare onmoontlikhede in hulle pad mag staan, moet hulle in Sy genade voortbeweeg. In stede van oor hul moeilikhede te kla, word hulle geroep om dit te bowe te kom. Hulle moet oor niks wanhoop nie, maar op alles hoop. Met die goue ketting van Sy ongeëwenaarde liefde, het Christus hulle aan die troon van God verbind. Dit is Sy doel dat die hoogste invloed in die heelal, wat uit die bron van alle mag uitgaan, aan hulle moet behoort. Hulle moet mag hê om die bose te weerstaan, mag wat nie deur die aarde, of die dood of die hel oorweldig kan word nie, mag wat hulle in staat sal stel om te oorkom soos Christus oorkom het. DKvDE 750.2
Christus beoog dat die hemelse orde, die hemelse heerskappy, hemelse harmonie, in Sy kerk op aarde verteenwoordig sal wees. So word Hy in Sy kinders verheerlik. Deur hulle sal die Son van Geregtigheid met onverdoofde glans in die wêreld skyn. Christus het Sy kerk met oorvloedige fasiliteite toegerus om ‘n groot oes van heerlikheid van Sy verloste, vrygekoopte eiendom te ontvang. Hy het aan Sy mense die vermoë en seëninge geskenk sodat hulle Sy eie toereikendheid kan verteenwoordig. Die kerk, toegerus met die geregtigheid van Christus, is Sy opslagplek, waarin al die rykdom van Sy genade en liefde in volle en finale vertoon sal verskyn. Christus aanskou Sy volk in hul reinheid en volmaaktheid as die loon van Sy vernedering en die aanvulling van Sy heerlikheid-Christus, die groot Middelpunt, uit Wie al die heerlikheid uitstraal. DKvDE 751.1
Die Heiland het sy onderrig met kragtige, hoopvolle woorde beëindig. Toe het Hy die las van Sy siel in gebed vir Sy dissipels uitgestort. Hy het Sy oë na die hemel opgehef en gesê: “Vader, die uur het gekom; verheerlik U Seun, sodat U Seun U ook kan verheerlik-soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” DKvDE 751.2
Christus het die werk voltooi wat aan Hom gegee is. Hy het God op aarde verheerlik. Hy het die Vader se Naam geopenbaar. Hy het diegene uitgesoek wat Sy werk onder die mense moes voortsit. Toe sê Hy: “Ek is in hulle verheerlik. En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in U Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons ... Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir dié wat deur hulle woord in My sal glo-dat almal een mag wees ... Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.” DKvDE 751.3
En so, in die taal van Een wat oor Goddelike mag beskik, het Christus Sy uitverkore kerk in die arms van die Vader oorgegee. As ‘n geheiligde Hoëpriester, tree Hy vir Sy volk in. As getroue Herder versamel Hy die kudde onder die skadu van die Almagtige, in ‘n sterk en gewisse skuiling. Vir Hom lê die laaste stryd met Satan voor en Hy gaan voort, dit tegemoet. DKvDE 752.1