Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 9—Dae van Konflik
Van hul vroegste jare af is die Joodse kind met die vereistes van die rabbi’s omring. Vaste reëls is vir elke daad voorgeskryf, tot in die kleinste besonderhede van die lewe. Die jeug is deur die leraars van die sinagoge in die menigvuldige voorskrifte wat hulle, as ortodokse Israeliete moes nakom, onderrig. Maar Jesus het nie in hierdie dinge belanggestel nie. Van kleins af het Hy onafhanklik van die rabbynse wette opgetree. Die Skrifte van die Ou Testament was Sy voortdurende studie en die woorde, “So spreek die Here...” was altyd op sy lippe. DKvDE 64.1
Namate die toestand van die mense in Sy gemoed begin oopgaan het, het Hy gesien dat die vereistes van die samelewing en die vereistes van God voortdurend in stryd met mekaar was. Mense het van die Woord van God afgewyk en die teorieë van hul eie uitvindsels aangehang. Hulle het rituele wat van geen waarde was nie nagekom. Hul dienste was ‘n blote reeks seremonies; die heilige waarhede wat daardeur geleer moes word, was vir die aanbidders verborge. Hy het besef dat hulle geen vrede in hulle ongelowige dienste gevind het nie. Hulle het nie die vryheid van die gees geken wat hulle sou ervaar het as hulle God in waarheid gedien het nie. Jesus het gekom om hulle te leer aangaande die betekenis om God te aanbid en Hy kon nie die vermenging van menslike vereistes met die Goddelike voorskrifte goedkeur nie. Hy het nie die voorskrifte of praktyke van die geleerde leraars aangeval nie; maar toe Hy oor Sy eie eenvoudige gewoontes tereggewys is, het Hy die woord van God ter regverdiging van Sy optrede aangehaal. DKvDE 64.2
In alle sagmoedigheid en met onderdanigheid, het Jesus probeer om diegene met wie Hy in aanraking gekom het, te behaag. Omdat Hy so saggeaard en onopdringerig was, het die skrifgeleerdes en ouderlinge gedink dat Hy maklik deur hul leer beïnvloed sou word. Hulle het by Hom aangedring om die voorskrifte en tradisies wat deur oorlewering van die rabbi’s van ouds oorgedra is, aan te neem, maar Hy het aangedring op die gesag van die Heilige Skrif. Hy sou na elke woord luister wat uit die mond van God uitgaan; maar Hy kon nie die verdigsels van mense gehoorsaam nie. Dit het geblyk dat Jesus die Skrifte van die begin tot die einde geken het en Hy het dit in hul ware betekenis uiteengesit. Die rabbi’s was verleë om deur ‘n kind onderrig te word. Hulle het geëis dat dit hulle plek was om die Skrif te verduidelik en dat dit Sy plek was om hul vertolking daarvan te aanvaar. Hulle was verontwaardig dat Hy teenstrydig met hulle woord was. DKvDE 64.3
Hulle het geweet dat daar geen gesag in die Skrif vir hul tradisies gevind kon word nie. Hulle het besef dat Jesus hulle op geestelike gebied ver oortref het. Tog was hulle gebelg omdat Hy nie hul voorskrifte gehoorsaam het nie. Omdat hulle Hom nie kon oortuig nie, het hulle hul tot Josef en Maria gewend en Sy weiering om te gehoorsaam aan hulle voorgehou. So is Hy tereggewys en berispe. DKvDE 65.1
Op ‘n baie vroeë ouderdom het Jesus in die vorming van Sy karakter vir Homself begin optree en selfs nie die respek en liefde vir Sy ouers kon Hom van gehoorsaamheid aan God se woord laat afsien nie. “Daar is geskrywe...” was Sy rede vir elke daad wat van die familiegebruike verskil het. Maar die invloed van die rabbi’s het Sy lewe versuur. Reeds in Sy jeug moes Hy die duur les van swygsaamheid en geduldige verdraagsaamheid leer. DKvDE 65.2
Sy broers, soos die seuns van Josef genoem is, het hulle aan die kant van die rabbi’s geskaar. Hulle het daarop aangedring dat die tradisies, as die vereistes van God, gehoorsaam moes word.Hulle het selfs die voorskrifte van mense hoër as die Woord van God geag en hulle was erg geïrriteerd oor die helder insig van Jesus om tussen die valse en die ware te onderskei. Sy streng gehoorsaamheid aan die wet van God het hulle as hardkoppigheid veroordeel. Hulle was verbaas oor die kennis en wysheid wat Hy in Sy antwoorde aan die Rabbi’s getoon het. Al het hulle geweet dat Hy nie onderrig van die wyse manne ontvang het nie, kon hulle nie anders as om te besef dat Hy vir hulle ‘n Leermeester was nie. Hulle het besef dat Sy opleiding van ‘n hoër standaard as hulle s'n was. Maar wat hulle nie besef het nie, was dat Hy toegang tot die boom van die lewe gehad het, ‘n bron van kennis waarvan hulle onkundig was. DKvDE 65.3
Christus was nie eksklusief nie en het die Fariseërs veral aanstoot gegee deur in hierdie opsig van hul rigiede reëls af te wyk. Hy het gevind dat die gebied van godsdiens met hoë mure van afsondering, as ‘n te heilige saak vir die alledaagse lewe, omhein was. Hierdie mure van afsondering het Hy omvergewerp. In sy omgang met mense het Hy nie gevra wat hulle geloofsbelydenis was of aan watter kerk hulle behoort het nie. Hy het Sy helpende krag ten behoewe van almal wat hulp nodig gehad het aangewend. In plaas daarvan om Hom in ‘n kluisenaar-sel af te sonder om Sy hemelse karakter te toon, het Hy ernstig ten behoewe van die mensdom gewerk. Hy het die beginsel dat die godsdiens van die Bybel nie uit die kastyding van die liggaam bestaan nie, ingeskerp. Hy het geleer dat suiwer en onbesmette godsdiens nie net vir vasgestelde tye en spesiale geleenthede bedoel was nie. Hy het te alle tye en op alle plekke ‘n liefdevolle belangstelling in mense geopenbaar en die lig van opgeruimde Godvresendheid het uit Hom gestraal. Dit was alles ‘n teregwysing vir die Fariseërs. Dit het getoon dat godsdiens nie uit selfsug bestaan nie en dat hul morbiede toewyding aan persoonlike belange ver van Godsaligheid verwyder was. Dit het hulle vyandigheid teenoor Jesus laat opvlam, sodat hulle probeer het om Sy ooreenstemming met hul voorskrifte af te dwing. DKvDE 66.1
Jesus het gewerk pm elke vorm van lyding wat hy teëgekom het te verlig. Hy het min geld gehad om te gee, maar Hy het Homself dikwels van voedsel ontneem om diegene wat meer behoeftig as Hy was te voed. Sy broers het gevoel dat Sy invloed ver gegaan het om hulle s'n teë te werk. Hy het takt geopenbaar soos nie een van hulle gehad het of begeer het om te hê nie. Waar hulle arm, gedegradeerde wesens hard aangespreek het, het Jesus juis hierdie mense opgesoek en hulle met woorde van bemoediging aangespreek. Vir diegene in nood sou Hy ‘n beker koue water gee en Sy eie maaltyd stilweg in hulle hande plaas. Soos Hy hul lyding versag het, is die waarhede wat Hy geleer het met sy dade van barmhartigheid vereenselwig en aldus in die geheue vasgelê. DKvDE 66.2
Hierdie dade het sy broers mishaag. Omdat hulle ouer as Jesus was, het hulle gevoel dat Hy onderdanig aan hulle moet wees. Hulle het Hom daarvan beskuldig dat Hy homself hoër as hulle ag en Hom bestraf omdat Hy Homself bo hul leraars en die priesters en owerstes van die volk gestel het. Dikwels het hulle Hom gedreig en probeer om Hom te intimideer; maar Hy het voortgegaan en die Skrifte Sy riglyn gemaak. DKvDE 67.1
Jesus het sy broers liefgehad en hulle met onfeilbare goedhartigheid behandel; maar hulle was jaloers op Hom en het die mees vasbeslote ongeloof en minagting gemanifesteer. Hulle kon Sy gedrag nie begryp nie. Groot teenstrydighede is in Hom ontketen. Hy was die Goddelike Seun van God en tog ‘n hulpelose kind. Hy is Skepper van die wêrelde, die aarde Sy besitting en tog was armoede ‘n kenmerk van elke tree van Sy lewenservaring. Hy het oor ‘n waardigheid en individualiteit beskik wat heeltemal apart van wêreldse trots en verwaandheid was; Hy het nie na wêreldse grootheid gestreef nie en selfs in die nederigste omstandighede was Hy tevrede. Dit het sy broers gebelg. Hulle kon nie Sy konstante kalmte onder beproewing en ontbering verklaar nie. Hulle het nie geweet dat Hy om ons ontwil arm geword het sodat ons “...deur sy armoede ryk kan word...” nie. (2 Korinthiërs 8:9) Hulle kon die verborgenheid van Sy sending net so min verstaan as wat die vriende van Job sy vernedering en lyding kon verstaan. DKvDE 67.2
Jesus is deur Sy broers misverstaan omdat Hy nie soos hulle was nie. Sy maatstaf was nie hulle maatstaf nie. Deur na mense op te sien, het hulle van God afgewyk en nie Sy krag in hul lewens gehad nie. Die vorms van godsdiens wat hulle gehandhaaf het, kon nie die karakter verander nie. Hulle het tiendes van “...kruisement en anys en koljander... ” gegee, maar die “...swaarste van die wet... ” nagelaat, naamlik “...die reg en die barmhartigheid en die trou.” (Mattheus 23:23) Jesus se voorbeeld was vir hulle ‘n voortdurende bron van irritasie. Hy het een ding in die lewe gehaat en dit was sonde. Hy kon nie ‘n wandaad sonder pyn wat onmoontlik was om te verdoesel, aanskou nie. Tussen die formaliste wie se skynheiligheid hulle liefde vir sonde verberg het en ‘n karakter waarin ywer vir God se heerlikheid altyd van die grootste belang was, was die kontras onmiskenbaar. Omdat die lewe van Jesus die boosheid veroordeel het, was Hy tuis en in die omliggende omgewing teëgestaan. Sy onselfsugtigheid en integriteit het smalende kommentaar opgelewer. Sy verdraagsaamheid en vriendelikheid is as lafhartigheid bestempel. DKvDE 67.3
Van die bitterheid wat die mensdom te beurt val, was daar geen deel wat Christus nie ervaar het nie. Daar was mense wat probeer het om, vanweë Sy geboorte, Hom met minagting te bejeën en selfs in Sy kinderjare moes Hy hul smalende blikke en kwaadwillige gefluister verduur. Indien Hy met een ongeduldige woord of blik gereageer het, indien Hy aan Sy broers deur selfs een verkeerde daad toegegee het, sou Hy gefaal het om ‘n perfekte voorbeeld te wees. Dan sou Hy nie die verlossingsplan vir ons kon uitvoer. As Hy selfs net erken het dat daar ‘n verskoning vir die sonde kon wees, sou Satan geseëvier het en die wêreld sou verlore gegaan het. Dit is waarom die versoeker gestrewe het om Sy lewe so moeilik as moontlik te maak, sodat Hy tot sonde verlei kon word. DKvDE 68.1
Maar vir elke versoeking het Hy een antwoord gehad: “Daar is geskrywe...” Hy het selde enige oortreding van Sy broers bestraf, maar Hy het ‘n woord van God gehad om tot hulle te spreek. Dikwels is Hy van lafhartigheid beskuldig omdat Hy geweier het om aan een of ander verbode daad mee te doen; maar Sy antwoord was: “Daar is geskrywe...” “Die vrees van die Here is wysheid, en om van die kwaad af te wyk, is verstand.” (Job 28:28). DKvDE 68.2
Daar was sommige wat Sy geselskap opgesoek en vrede in Sy teenwoordigheid ervaar het; maar baie het Hom vermy, omdat Sy vlekkelose lewe vir hulle ‘n teregwysing was. Jong metgeselle het Hom aangespoor om soos hulle op te tree. Hy was intelligent en opgeruimd; hulle het Sy teenwoordigheid geniet en Sy geredelike voorstelle verwelkom; maar Sy gewetensbesware het hulle ongeduldig gemaak en hulle het Hom eng en bekrompe genoem. Jesus het geantwoord: “Daar is geskrywe...” “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na U woord.” (Psalm 119:9). “Ek het U woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” (Psalm 119:11). DKvDE 69.1
Dikwels is Hy gevra: Hoekom is jy daarop ingestel om so sonderling op te tree en anders as ons almal te wees? “Daar is geskrywe...” het Hy dan geantwoord, “Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die Here wandel. Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in Sy weë wandel.” (Psalm 119:1-3). DKvDE 69.2
Wanneer Hy gevra is waarom Hy nie aan die pret van die jongmense van Nasaret meedoen nie, het Hy geantwoord: “Daar is geskrywe...” “Ek is vrolik in die weg van U getuienisse soos oor allerhande rykdom. Ek wil U bevele oordink en op U paaie let. Ek sal my verlustig in U insettinge, U woord sal ek nie vergeet nie.” (Psalm 119:14-16). DKvDE 69.3
Jesus het nie vir Sy regte gestry nie. Dikwels was Sy werk onnodig moeilik omdat Hy gewillig was en nie gekla het nie. Tog het Hy nie gefaal of moedeloos geraak nie. Hy het bo hierdie probleme uitgetroon asof in die lig van God se aangesig. Hy het nie vergelding gesoek wanneer Hy sleg behandel is nie, maar het beledigings geduldig verduur. DKvDE 69.4
Keer op keer is Hy gevra: Waarom onderwerp U uself aan sulke veragtelike optrede, selfs van U broers? “Daar is geskrywe...” het Hy dan gesê: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder.Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy genade vind en ‘n goeie insig in die oë van God en die mense.” (Spreuke 3:1-4). DKvDE 70.1
Vanaf die dag wat Jesus se ouers Hom in die tempel aangetref het, was Sy handelswyse vir hulle ‘n raaisel. Hy het nooit in enige omstredenheid betrokke geraak nie, maar Sy voorbeeld was ‘n voortdurende les. Hy was soos Een wat afgesonder was. Sy gelukkigste ure was wanneer Hy alleen in die natuur met God verkeer het. Wanneer Hy die voorreg gehad het, het Hy Sy werkplek verlaat en die veld ingestap om in die groen valleie te peins en teen die berghange of tussen die bome in gemeenskap met God te verkeer. Die vroeë oggend het Hom dikwels op een of ander afgeleë plek gevind, terwyl Hy nagedink, die Skrif ondersoek, of in gebed verkeer het. Na hierdie stiltetyd sou Hy terugkeer huis toe om weer Sy pligte op te neem en om ‘n voorbeeld van geduldige inspanning te stel. DKvDE 70.2
Die lewe van Christus is deur respek en liefde vir Sy moeder gekenmerk. Maria het in haar hart geglo dat die Heilige Kind wat uit haar gebore is, die lank-beloofde Messias was, maar sy het hierdie geloof nie durf uitspreek nie. Deur Sy hele lewe op aarde het sy in Sy lyding gedeel. Met droefheid het sy getuig van die beproewings wat Hy in sy kinder-en jeugjare moes verduur.Deur die dinge in Sy optredes wat sy geweet reg is te regverdig, is sy self in moeilike situasies geplaas. Sy het die huislike verhoudinge en die moeder se tere waaksaamheid oor haar kinders as van kardinale belang in die vorming van hul karakter beskou. Die seuns en dogters van Josef het dit geweet en deur hulle op haar besorgdheid te beroep, het hulle gepoog om die optredes van Jesus, volgens hulle standaarde, reg te stel. DKvDE 70.3
Maria het Jesus dikwels vermaan en Hom aangespoor om by die gebruike van die rabbi’s aan te pas. Maar Hy kon nie oorreed word om van Sy gewoontes om die werke van God te bepeins en die nood van mense of selfs stomme diere te probeer verlig, af te sien nie. Toe die priesters en leraars Maria se hulp ingeroep het om Jesus in bedwang te hou, was sy erg ontsteld; maar daar het vrede in haar hart gekom nadat Hy vir haar uit die Skrif aangehaal het om sy optredes te regverdig. DKvDE 71.1
Soms het sy geweifel tussen Jesus en Sy broers wat nie geglo het dat Hy die Gestuurde van God was nie; maar daar was oorvloedige bewyse van Sy Goddelike karakter. Sy het gesien hoe Hy Homself ten behoewe van ander opoffer. Sy teenwoordigheid het ‘n suiwerder atmosfeer in die huis gebring en Sy lewe het soos suurdeeg te midde van die elemente van die samelewing gewerk. Skadeloos en onbevlek het Hy te midde van: die onbedagsames, die onbeskoftes en die onhoflikes; die onregverdige tollenaars, die roekelose deurbringers, die onregverdige Samaritane, die heidense soldate, die ruwe arbeiders en die gemengde skare, beweeg. Hy het hier ‘n woord van medelye en daar ‘n woord uitgespreek, soos wat hy mense wat afgemat, maar tog gedwing was om swaar laste te dra, teëgekom het. Hy het in hul laste gedeel en die lesse wat Hy uit die natuur en van die liefde en goedheid van God geleer het, aan hulle herhaal. DKvDE 71.2
Hy het almal geleer om hulself as iemand wat met kosbare talente bedeel is te sien, wat vir hulle die ewige rykdom sou verseker indien hulle dit reg gebruik. Hy het alle ydelheid uit die lewe geweer en deur Sy eie voorbeeld geleer dat elke oomblik van die lewe belaai is met ewige gevolge; dat dit soos ‘n skat gekoester en vir heilige doeleindes aangewend moet word. Hy het geen mens waardeloos geag nie, maar het gepoog om die reddende middel op elke siel toe te pas. In watter geselskap Hy Hom ook al bevind het, het Hy ‘n les wat geskik vir die tyd en omstandighede was, voorgehou. Hy het gestreef om die grofste en mees onbelowende met hoop te besiel en het aan hulle die versekering gegee dat hulle onskuldig en skadeloos sou kon word en sodoende ‘n karakter sou kweek wat hulle as die kinders van God sou openbaar. Dikwels het Hy diegene ontmoet wat onder Satan se beheer beland het en nie die nodige krag gehad het om uit sy strikke te ontsnap nie. Vir diesulkes, moedeloos, siek, in versoeking en gevalle, het Jesus woorde van innige ontferming gehad, woorde wat nodig was en wat verstaan kon word. Hy het andere teëgekom wat in ‘n hand-tot-hand stryd met die vyand van siele was. Hy het hulle aangemoedig om te volhard en hulle verseker dat hulle sou oorwin; want engele van God was aan hulle kant en sou aan hulle die oorwinning gee. Diegene wat Hy sodoende gehelp het, was oortuig dat hier Een was wat hulle ten volle kon vertrou. Hy sou nie die geheime wat in Sy simpatieke oor gestort is, verraai nie. DKvDE 71.3
Jesus was die geneser van die liggaam sowel as die siel. Hy het in elke aspek van lyding wat onder Sy aandag gekom het belanggestel en vir elke lydende het Hy met Sy vriendelike woorde wat soos strelende balsem was, verligting gebring. Niemand kon sê dat Hy ‘n wonderwerk verrig het nie; maar die genesende krag van liefde het van Hom na die siekes en geteisterdes uitgegaan. So het Hy op ‘n onopsigtelike wyse, van kleins af, vir die mense gewerk. En dit is waarom, nadat Sy openbare bediening begin het, so baie Hom graag na Hom geluister het. DKvDE 72.1
Maar, deur Sy kinderjare, jeug en volwasse lewe, het Jesus alleen gewandel. In sy reinheid en getrouheid het Hy die parskuip alleen getrap en van die mense was daar niemand saam met Hom nie. Hy het die verskriklike las van verantwoordelikheid vir die redding van mense gedra. Hy het geweet dat tensy daar ‘n besliste verandering in die beginsels en doelwitte van die mensdom was, alles verlore sou gaan. Dit was Sy sielelas en niemand kon die las wat op Hom gerus het waardeer nie. Gevul met ‘n intense voorneme, het Hy Sy doel in die lewe, om self die Lig vir mense te wees, uitgevoer. DKvDE 72.2