Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 72—“Tot My Gedagtenis” *
“Dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is My liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot My gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in My bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot My gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.” (1 Korinthiërs 11:23-26). DKvDE 719.1
Christus was op die oorgangspunt tussen twee bedelinge en hul twee groot feeste. Hy, die vlekkelose Lam van God, was op die punt om Homself as ‘n sondoffer aan te bied, om sodoende die stelsel van tipes en seremonies wat vierduisend jaar lank op Sy dood gewys het, te beëindig. Terwyl Hy die Pasga-ete saam met sy dissipels genuttig het, het Hy in die plek daarvan die diens ingestel wat as herdenking van Sy groot offer sou dien. Die nasionale fees van die Jode sou vir ewig beëindig word. Die diens wat Christus ingestel het, moes deur Sy volgelinge in alle lande en deur al die eeue waargeneem word. DKvDE 719.2
Die Pasga is as ‘n herdenking van die verlossing van Israel uit Egiptiese slawerny ingestel. God het beveel dat jaar na jaar, wanneer die kinders die betekenis van hierdie instelling sou bevraagteken, die geskiedenis herhaal moes word. So sou die wonderbaarlike bevryding vars in almal se gedagtes gehou word. Die instelling van die Nagmaal is gegee om die groot verlossing wat deur die dood van Christus bewerkstellig is, te herdenk. Hierdie instelling moet, totdat Hy die tweede keer in mag en heerlikheid kom, gevier word. Dit is die wyse waarop Sy groot werk vir ons vars in ons gedagtes gehou moet word. DKvDE 719.3
Op die tydstip dat hulle uit Egipte bevry is, het die kinders van Israel die Pasga-ete, met hul lendene omgord en met hul staf in hul hande, gereed vir die reis, staande geëet. Die wyse waarop hulle hierdie instelling gevier het, was in ooreenstemming met hul omstandighede; want hulle was op die punt om uit Egipte verdryf te word en aan die begin van ‘n pynlike en moeilike reis deur die woestyn. Maar in Christus se tyd het omstandighede verander. Hulle sou nie uit ‘n vreemde land verdryf word nie, maar was inwoners in hul eie land. In ooreenstemming met die rus wat aan hulle gegun is, het die volk die Pasga-maal in ‘n lê-posisie gebruik. Rusbanke is om die tafel geplaas en die gaste het daarop, deur die linkerarm gestut gelê, met die regterhand vry om te eet. In hierdie posisie kon ‘n gas sy hoof op die bors van die een wat langs hom gesit het, rus. En die voete aan die buitekant van die bank, kon deur die een wat buite om die sirkel beweeg het, gewas word. DKvDE 720.1
Christus was steeds by die tafel waarop die Paasmaal voorgesit is. Die ongesuurde brode vir gebruik vir die Pasga, het voor Hom gelê. Die ongegiste Pasga-wyn was op die tafel. Christus het hierdie simbole gebruik om Sy eie onbevlekte offer voor te stel. Niks wat deur gisting aangetas was, wat die simbool van sonde en die dood is, kan die “...Lam sonder gebrek en vlekkeloos...” voorstel nie (1 Petrus 1:19). DKvDE 720.2
“En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.” DKvDE 720.3
Judas, die verraaier, was teenwoordig toe die sakrament bedien is. Hy het die embleem van Sy gebroke liggaam en Sy gestorte bloed van Jesus ontvang. Hy het die woorde: “Doen dit tot my gedagtenis...” gehoor. En daar, in die teenwoordigheid van die Lam van God self, het die verraaier oor sy eie duistere voornemens gebroei en sy somber wraakgedagtes gekoester. DKvDE 721.1
Met die was van voete het Christus oortuigende bewys gelewer dat Hy die karakter van Judas verstaan. “Julle is nie almal rein nie...” (Johannes 13:11) het Hy gesê. Hierdie woorde het die valse dissipel oortuig dat Christus van sy verborge doel bewus was. Toe het Christus meer duidelik gepraat. Terwyl hulle aan tafel sit, het Hy, terwyl Hy na Sy dissipels gekyk het, gesê: “Ek spreek nie van julle almal nie-Ek weet wie Ek uitverkies het-maar dat die Skrif vervul kan word: Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig.” DKvDE 721.2
Selfs toe het die dissipels Judas nog nie verdink nie. Maar hulle het gesien dat Christus baie ontsteld voorgekom het. ‘n Wolk het oor almal gesak; ‘n voorgevoel van een of ander verskriklike ramp, die aard waarvan hulle nie begryp het nie. Terwyl hulle in stilte geëet het, het Jesus gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai.” Met hierdie woorde het verbystering en ontsetting van hulle besit geneem. Hulle kon nie begryp hoe enigeen van hulle verraderlik teen hul Goddelike Leraar kon optree nie. Om watter rede sou hulle Hom kon verraai? En aan wie? In wie se hart kon so ‘n plan ontstaan? Sekerlik nie een van die uitverkore twaalf, wat bo alle andere bevoorreg was om Sy leringe te hoor, wat in Sy wonderbare liefde gedeel het en vir wie Hy sulke groot agting getoon het deur hulle in noue gemeenskap met Homself te bring nie! DKvDE 721.3
Terwyl hulle die belangrikheid van Sy woorde besef het en onthou het hoe waar Sy uitsprake was, het vrees en wantroue in hulself hulle aangegryp. Hulle het begin om hul eie harte te ondersoek om te sien of hulle ‘n enkele gedagte teen hul Meester gekoester het. Met die mees pynlikste emosies het een na die ander gevra: “Is dit miskien ek, Here?” Maar Judas het stilgesit. Uiteindelik het Johannes met diepe ontsteltenis gevra: “Here, wie is dit?” En Jesus het geantwoord: “Hy wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai. Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.” Die dissipels het mekaar se gesigte noukeurig ondersoek toe hulle vra: “Is dit miskien ek, Here?” En uiteindelik het die stilswye van Judas alle oë na hom toe getrek. Te midde van die verwarring van vrae en uitroepe van verbasing, het Judas nie die woorde van Jesus in antwoord op Johannes se vraag gehoor nie. Maar toe, om die ondersoekende gesigte van die dissipels te ontwyk, het hy soos hulle verneem: “Is dit miskien ek, Rabbi?” Jesus het hom plegtig geantwoord: “Jy het dit gesê.” DKvDE 721.4
Verras en verward omdat sy plan aan die kaak gestel is, het Judas haastig opgestaan om die vertrek te verlaat. “En Jesus sê vir hom: Wat jy doen, doen dit haastig... Toe hy dan die stukkie geneem het, het hy dadelik uitgegaan. En dit was nag.” Dit was nag vir die verraaier toe hy van Christus wegdraai na die buitenste duisternis. DKvDE 722.1
Totdat hy hierdie stap geneem het, het Judas nog nie die lyn waar bekering nog vir hom moontlik was, oortree nie. Maar toe hy die teenwoordigheid van sy Here en sy mededissipels verlaat het, was die finale besluit geneem. Hy het die grenslyn oortree. DKvDE 722.2
Jesus se lankmoedigheid in die hantering van hierdie versoekte siel, was wonderbaarlik. Niks wat gedoen kon word om Judas te red, was ongedaan gelaat nie. Nadat hy twee keer ‘n verbond om sy Heer te verraai gesluit het, het Jesus hom steeds die geleentheid vir berou gebied. Deur die verborge doel van die verraaier se hart te lees, het Christus die finale, oortuigende bewys van Sy Goddelikheid aan Judas gelewer. Dit was vir die valse dissipel die laaste oproep tot bekering. Geen beroep wat die Goddelik-menslike hart van Christus kon doen, is nagelaat nie. Die golwe van genade, wat deur hardnekkige trots teruggedwing is, het in ‘n sterker gety van onderwerpende liefde teruggekeer. Maar hoewel hy verbaas en onthuts oor die ontdekking van sy skuld was, het Judas net meer vasberade geword. Vanaf die Nagmaaltafel het hy uitgegaan om sy werk van verraad te volbring. DKvDE 722.3
In die wee wat Hy oor Judas uitgespreek het, het Christus ook ‘n doel van genade vir sy dissipels gehad. So het Hy hulle die kroonbewys van Sy Messiasskap gegee: “Van nou af sê Ek dit aan julle voordat dit gebeur...” het Jesus gesê, “...sodat wanneer dit gebeur julle kan glo dat dit Ek Is.” Indien Jesus in oënskynlike onkunde oor wat oor Hom sou kom geswyg het, sou die dissipels gedink het dat hul Meester nie Goddelike versiendheid gehad het nie en dat Hy verras en verraai is in die hande van die moorddadige gepeupel. ‘n Jaar tevore het Jesus aan die dissipels gesê dat Hy twaalf gekies het en dat een ‘n duiwel was. Sy woorde aan Judas, wat getoon het dat Sy meester ten volle van sy verraad bewus was, sou egter die geloof van Christus se ware volgelinge tydens Sy vernedering versterk. En wanneer Judas aan sy afskuwelike einde sou kom, sou hulle die wee onthou wat Jesus oor die verraaier uitgespreek het. DKvDE 723.1
En die Verlosser het ‘n verdere doel gehad. Hy het nie Sy bediening van hom, wie hy geweet het ‘n verraaier is, weerhou nie. Die dissipels het nie Sy woorde tydens die voetwassing verstaan, toe Hy gesê het: “Julle is nie almal rein nie...” en ook nie aan tafel toe Hy gesê het: “Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig.” (Johannes 13:11, 18). Maar agterna, toe Sy bedoeling duidelik geword het, het hulle ‘n besef van die geduld en barmhartigheid van God teenoor die ergste sondaar gehad. DKvDE 723.2
Hoewel Jesus Judas van die begin af geken het, het Hy sy voete gewas. En die verraaier was bevoorreg om saam met Christus in die Nagmaal te verenig. ‘n Lankmoedige Verlosser het die sondaar aangespoor om Hom aan te neem, tot inkeer te kom en van die besoedeling van sonde gereinig te word. Dit was ‘n voorbeeld vir ons. As ons van mening is dat iemand in sonde en dwaling verkeer, moet ons nie afsydig van hom staan nie. Ons moet hom deur geen onverskillige afsydigheid aan homself oorlaat om ‘n prooi vir versoeking te word, of hom na Satan se slagveld te dryf nie. Dit is nie Christus se metode nie. Dit was omdat die dissipels gedwaal en verkeerdelik opgetree het, dat Hy hul voete gewas het en almal behalwe een van die twaalf tot bekering gebring het. DKvDE 724.1
Christus se voorbeeld verbied eksklusiwiteit by die Nagmaal. Dit is waar dat openlike sondes die skuldiges uitsluit. Dit leer die Heilige Gees duidelik. (Sien 1 Korinthiërs 5:11). Maar daarbenewens mag niemand oordeel nie. God het dit nie aan die mens oorgelaat om te sê wie hulself by hierdie geleenthede mag aanmeld nie. Want wie kan die hart lees? Wie kan die onkruid van die graan onderskei? “Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.” (1 Korinthiërs 11:28). Want “...wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.” (1 Korinthiërs 11:27). “Wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie.” (1 Korinthiërs 11:29). DKvDE 724.2
Wanneer gelowiges saamkom om die verordeninge te vier, is daar boodskappers, onsigbaar vir die menslike oog, teenwoordig. Daar mag moontlik ‘n Judas in die geselskap wees en indien wel, is die boodskappers van die vors van die duisternis daar, want hulle is bedag op almal wat weier om deur die Heilige Gees beheer te word. Daar is ook hemelse engele teenwoordig. Hierdie ongesiene besoekers is by al sulke geleenthede teenwoordig. Daar mag persone in die geselskap kom wat nie van harte dienaars van waarheid en heiligheid is nie, maar wat moontlik aan die diens wil deelneem. Hulle mag nie verbied word nie. Daar was getuies wat teenwoordig was toe Jesus die voete van die dissipels en Judas gewas het. Meer as menslike oë het die toneel aanskou. DKvDE 724.3
Christus is deur die Heilige Gees daar teenwoordig, om die seël op Sy eie instelling te plaas. Hy is daar om die hart te oortuig en te versag. Geen blik of gedagte aan boetvaardigheid ontkom Sy aandag nie. Hy wag op die berouvolle en gebrokenes van hart. Alles is oorgehaal om daardie siel te ontvang. Hy wat die voete van Judas gewas het, verlang om die hart van elke vlek van sonde skoon te was. DKvDE 725.1
Niemand behoort van die Nagmaal af weg te bly omdat sommige onwaardige mense teenwoordig mag wees nie. Elke dissipel word gevra om in die openbaar deel te neem en so te getuig dat hy Christus as ‘n persoonlike Verlosser aanvaar. Dit is by hierdie, Sy eie instellings, dat Christus Sy volk ontmoet en dit met Sy teenwoordigheid bekragtig. Onwaardige harte en hande kan selfs die verordening toepas, maar Christus is steeds daar om Sy kinders te bedien. Almal wat met hul geloof in Hom gevestig kom, sal grootliks geseën word. Almal wat hierdie tye van Goddelike voorregte verwaarloos, sal verlies ly. Van hulle kan tereg gesê kan word: “Julle is nie almal rein nie.” DKvDE 725.2
Deur saam met Sy dissipels in die brood en wyn te deel, het Christus Homself aan hulle toegesê om hul Verlosser te wees. Hy het die nuwe verbond aan hulle opgedra waardeur almal wat Hom ontvang, kinders van God en mede-erfgename met Christus word. In hierdie verbond is elke seën wat die hemel vir hierdie en die toekomstige lewe kon uitstort vir hulle vervat. Hierdie verbondsakte moes met die bloed van Christus bekragtig word. En die waarneming van die sakrament was om die oneindige offer vir elkeen van hulle afsonderlik aan die dissipels voor te hou, as deel van die groot geheel van die gevalle mensdom. DKvDE 725.3
Maar die Nagmaaldiens moes nie ‘n tyd van droefheid wees nie. Dit was nie die doel daarvan nie. Wanneer die Here se dissipels om Sy tafel byeenkom, moet hulle nie aan hul tekortkominge dink en dit betreur nie. Hulle moenie by hul vorige godsdienstige ervarings stilstaan, hetsy dit verheffend of neerdrukkend was nie. Hulle moenie die verskille tussen hulle en hul broers onthou nie. Die voorbereidingsdiens het dit alles omvat. Die selfondersoek, die belydenis van sonde, die versoening van geskille, is alles reeds gedoen. Hulle is nou byeen om Christus te ontmoet. Hulle moenie in die skadu van die kruis staan nie, maar in die reddende lig daarvan. Hulle moet die siel vir die helder strale van die Son van Geregtigheid oopstel. Met harte wat deur die kosbare bloed van Christus gereinig is, in die volle bewussyn van Sy teenwoordigheid, alhoewel ongesiens, moet hulle Sy woorde hoor: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie.” (Johannes 14:27). DKvDE 726.1
Ons Here sê: Terwyl julle onder die oortuiging van jul sondes verkeer, onthou dat Ek vir julle gesterf het. As julle ter wille van My en die evangelie vervolg en verdruk word, moet julle My liefde, wat so groot is dat ek my lewe vir julle gegee het, onthou. Wanneer julle pligte swaar en moeilik voorkom en jul laste te swaar is om te dra, moet julle onthou dat Ek die kruis ter wille van julle verduur het en die skande verag het. Wanneer jul harte wegkrimp van die swaar beproewing, moet julle onthou dat jul Verlosser leef om vir julle in te tree. DKvDE 726.2
Die Nagmaal wys op Christus se wederkoms. Dit was bedoel om hierdie hoop lewendig in die gedagtes van die dissipels te hou. Telkens wanneer hulle saamgekom het om Sy dood te herdenk, het hulle oorvertel hoe Hy die beker geneem het “...en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.” In hul verdrukking het hulle vertroosting gevind in die hoop op die terugkeer van hul Here. Onuitspreeklik kosbaar vir hulle was die gedagte: “So dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.” (1 Korinthiërs 11:26). DKvDE 726.3
Dit is dinge wat ons nooit moet vergeet nie. Die liefde van Jesus, met sy dwingende krag, moet vars in ons geheue gehou word. Christus het hierdie diens ingestel sodat dit tot ons sinne van die liefde van God wat namens ons uitgedruk is kan spreek. Daar kan geen eenheid tussen ons siele en God wees nie, behalwe deur Christus. Die eenheid en liefde tussen broers moet deur die liefde van Jesus bevestig en verewig word. En niks minder as die dood van Christus kan Sy liefde vir ons doeltreffend maak nie. Dit is slegs as gevolg van Sy dood wat ons met vreugde na sy wederkoms kan uitsien. Sy offer is die middelpunt van ons hoop. Hierop moet ons ons geloof vestig. DKvDE 727.1
Die verordeninge wat op ons Here se vernedering en lyding dui, word te veel as vormgodsdiens aangeneem. Dit is met ‘n doel ingestel. Ons sintuie moet verskerp word om die verborgenheid van die godsaligheid te begryp. Dit is almal se voorreg om die versoenende lyding van Christus veel duideliker as wat ons doen, te verstaan. “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:14,15). Ons moet na die kruis van Golgota, wat ‘n sterwende Verlosser omhoog hou, kyk. Ons ewige belange vereis dat ons geloof in Christus moet betoon. DKvDE 727.2
Ons Here het gesê: “As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie ... want My vlees is waarlik spys en My bloed is waarlik drank.” (Johannes 6:53,55). Dit geld vir ons fisiese aard. Aan die dood van Christus is ons selfs hierdie aardse lewe verskuldig. Die brood wat ons eet, is met Sy gebroke liggaam gekoop. Die water wat ons drink, is met Sy verspilde bloed gekoop. Niemand, heilige of sondaar, eet sy daaglikse voedsel nie, of hy word deur die liggaam en die bloed van Christus gevoed. Die kruis van Golgota is op elke brood afgedruk. Dit word in elke waterbron weerspieël. Dit alles het Christus ons in die instelling van die simbole van Sy groot offer geleer. Die lig wat uit daardie Nagmaalsdiens in die bokamer uitstraal, heilig die voorsiening vir ons daaglikse lewe. Die gesinstafel word soos die tafel van die Here en elke maaltyd ‘n sakrament. DKvDE 727.3
En hoeveel te meer geld Christus se woorde nie vir ons geestelike lewe nie. Hy sê: “Hy wat My vlees eet en My bloed drink, het die ewige lewe.” (Johannes 6:54). Dit is deur die lewe wat vir ons op die kruis van Golgota uitgestort is te ontvang, dat ons ‘n heilige lewe kan lei. En hierdie lewe ontvang ons deur Sy woord te ontvang, deur die dinge te doen wat Hy beveel het. So word ons een met Hom. “Wie my vlees eet...” sê Hy “...en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.” (Johannes 6:56,57). Hierdie Skrifgedeelte is veral van toepassing op die heilige Nagmaal. Namate geloof ons Here se groot offer bepeins, vereenselwig die siel die geestelike lewe van Christus met homself. Daardie siel sal geestelike krag uit elke Nagmaal put. Die diens vorm ‘n lewende band waarmee die gelowige met Christus verbind word en sodoende met die Vader. In ‘n besondere sin vorm dit ‘n verbintenis tussen die afhanklike mensdom en God. DKvDE 728.1
Wanneer ons die brood en wyn, wat Christus se gebroke liggaam en verspilde bloed simboliseer ontvang, sluit ons in ons verbeelding aan by die toneel in die bovertrek. Dit is asof ons deur die tuin beweeg, wat deur die sielesmart van Hom wat die sonde van die wêreld gedra het geheilig is. Ons is getuie van die stryd waardeur ons versoening met God verkry is. Christus gekruisig, word aan ons voorgelê. DKvDE 728.2
Terwyl ons na die gekruisigde Verlosser kyk, kry ons ‘n vollediger begrip van die omvang en betekenis van die offer wat deur die Majesteit van die hemel gebring is. Die verlossingsplan word voor ons verheerlik en die gedagte aan Golgota wek lewende en heilige emosies in ons harte op. Lof aan God en die Lam sal in ons harte en op ons lippe wees; want trots en selfaanbidding kan nie in die siel, wat die tonele van Golgota helder voor die gees hou, floreer nie. DKvDE 729.1
Hy wat die Verlosser se weergalose liefde aanskou, sal in sy denke verhef word, van hart gereinig, omskep in nuwe karakter. Hy sal uitgaan om ‘n lig vir die wêreld te wees, om hierdie onverklaarbare liefde in ‘n sekere mate te weerspieël. Hoe meer ons die kruis van Christus oorpeins, hoe meer volkome sal ons die taal van die apostel besig wanneer hy sê: “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” (Galasiërs 6:14). DKvDE 729.2