Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 71—'n Kneg van Knegte *
Christus het saam met Sy dissipels in die bovertrek van ‘n woning in Jerusalem, aan tafel gesit. Hulle het bymekaargekom om die Pasga te vier. Die Heiland wou hierdie fees graag alleen saam met die twaalf vier. Hy het geweet dat Sy uur gekom het; Hyself was die ware Paaslam en op die dag waarop die Pasga geëet sou word, sou Hy geoffer word. Hy was op die punt om die beker van gramskap te drink; Hy sou binnekort die finale doop van lyding ondergaan. Maar daar het nog ‘n paar rustige ure het vir Hom oorgebly en dit wou Hy graag tot voordeel van Sy geliefde dissipels deurbring. DKvDE 707.1
Christus se hele lewe was ‘n lewe van onbaatsugtige diens. “Nie ... om gedien te word nie, maar om te dien...” (Mattheus 20:28) was die les van elk van Sy dade. Maar die dissipels het hierdie les nog nie geleer nie. Met hierdie laaste Pasga-maaltyd het Jesus hulle Sy lering aan hulle deur middel van ‘n illustrasie herhaal, wat dit vir ewig in hul verstand en harte ingeprent het. DKvDE 707.2
Die gesprekke tussen Jesus en Sy dissipels was gewoonlik tye van kalm vreugde, wat baie deur almal waardeer is. Die Pasga-maaltye was tonele van besondere betekenis; maar by hierdie geleentheid was Jesus diep ontsteld. Sy hart was beswaard en ‘n skaduwee het oor Sy gelaat gerus. Toe Hy die dissipels in die bovertrek ontmoet, het hulle gewaar dat iets swaar op Sy gemoed weeg en hoewel hulle die oorsaak daarvan nie geken het nie, het hulle meegevoel met Sy hartseer gehad. DKvDE 707.3
Terwyl hulle saam om die tafel geskaar was, het Hy met ontroerende hartseer vir hulle gesê: “Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie Pasga met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie. En toe Hy ‘n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie.” DKvDE 707.4
Christus het geweet dat die tyd aangebreek het dat Hy die wêreld sou verlaat en na sy Vader sou gaan. En omdat Hy Sy eie mense in die wêreld liefgehad het, het Hy hulle tot die einde toe liefgehad. Hy was nou in die skaduwee van die kruis en die pyn het Sy hart gefolter. Hy het geweet dat Hy in die uur van Sy verraad verlate sou wees. Hy het geweet dat Hy deur die mees vernederendste proses waaraan misdadigers onderwerp word, tereggestel sou word. Hy het die ondankbaarheid en wreedheid van diegene vir wie Hy gekom het om te red, geken. Hy het geweet hoe groot die opoffering was wat Hy moes maak en vir hoeveel dit tevergeefs sou wees. Bekend met alles wat voor Hom gelê het, kon hy natuurlik met die gedagte van Sy eie vernedering en lyding oorweldig gewees het. Maar Hy het na die twaalf gekyk wat as Sy eie saam met Hom was en wie, nadat Sy skande en leed en lyding verby was, alleen sou agterbly om in die wêreld voort te worstel. Sy gedagtes oor wat Hy self sou moes ly, was voortdurend aan Sy dissipels gekoppel. Hy het nie aan Homself gedink nie. Besorgdheid oor hulle het Sy gedagtes oorheers. DKvDE 708.1
Op hierdie laaste aand saam met Sy dissipels, het Jesus baie vir hulle te sê gehad. Indien hulle gereed was om te ontvang wat Hy aan hulle wou meedeel, sou hulle hartverskeurende foltering, teleurstelling en ongeloof gespaar gewees het. Maar Jesus het gesien dat hulle dit wat Hy te sê gehad het nie sou kon verduur nie. Terwyl Hy na hulle kyk, het die woorde van waarskuwing en vertroosting op Sy lippe gesterf. Oomblikke van stilte het verbygegaan. Dit het voorgekom asof Jesus wag. Die dissipels was nie op hul gemak nie. Dit wou voorkom asof die meegevoel en teerheid wat deur Christus se smart in hulle ontketen was gewyk het. Sy hartseer woorde wat op Sy eie lyding gedui het, het min indruk gemaak. Die blik wat hulle op mekaar gewerp het, het jaloesie en twis weerspieël. DKvDE 708.2
“Daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees.” Hierdie geskil wat in die teenwoordigheid van Christus voortgesit is, het Hom diep bedroef en gewond. Die dissipels het aan hul gunsteling idee, dat Christus Sy mag sou bevestig en Sy posisie op die troon van Dawid sou inneem, vasgekleef. In hul harte het elkeen steeds na die hoogste posisie in die koninkryk gestreef. Hulle het hul eie waarde op hulself en op mekaar geplaas en in plaas daarvan om hul broers hoër as hulself te ag, het hulle hulself eerste gestel. Die versoek van Jakobus en Johannes om aan die regter-en linkerkant van Christus se troon te sit, het die verontwaardiging van die ander ontketen. Dat die twee broers hulself aangematig het om die hoogste posisie te versoek, het die tien so omgekrap, dat vervreemding gedreig het. Hulle het gevoel dat hulle onderskat word en dat hul getrouheid en talente nie waardeer word nie. Judas het Johannes en Jakobus die krasste veroordeel. DKvDE 709.1
Toe die dissipels die bovertrek betree het, was hulle met wrewel gevul. Judas het langs Christus aan die linkerkant ingedruk; Johannes was aan Sy regterkant. As daar ‘n hoogste posisie was, was Judas vasbeslote om dit in te neem en dit was vermoedelik langs Christus. En Judas was ‘n verraaier. DKvDE 709.2
'n Verdere oorsaak tot onenigheid het ontstaan. Tydens die fees was dit gebruiklik dat ‘n dienaar die gaste se voete was en by hierdie geleentheid is voorbereiding vir hierdie diens getref. Die kruik, waskom en handdoek was daar, gereed om voete te was, maar geen dienskneg nie en dit was aan die dissipels oorgelaat om te doen. Maar elke dissipel het aan sy gekrenkte trots toegegee en was vasbeslote om nie die rol van ‘n dienskneg aan te neem nie. Almal het stoïsynse onverskilligheid geopenbaar en onbewus geblyk te wees van die taak wat op hulle gewag het. Met hul stilswye het hulle geweier om hulleself te verneder. DKvDE 709.3
Hoe sou Christus hierdie arme siele op ‘n plek bring waar Satan nie ‘n besliste oorwinning oor hulle sou behaal nie? Hoe kon Hy aan hulle toon dat ‘n blote posisie van dissipelskap hulle nie dissipels maak nie, of vir hulle ‘n plek in sy koninkryk verseker nie? Hoe kon Hy aan hulle toon dat dit liefdevolle diens en opregte nederigheid is wat ware grootheid uitmaak? Hoe kon Hy ‘n liefde in hul harte laat ontbrand en hulle in staat stel om te begryp wat Hy graag aan hulle wou oordra? DKvDE 710.1
Die dissipels het geen poging aangewend om mekaar te dien nie. Jesus het ‘n rukkie gewag om te sien wat hulle sou doen. Toe staan Hy, die Goddelike Leraar, van die tafel af op. Hy het Sy bokleed, wat sy bewegings sou belemmer uitgetrek, ‘n handdoek geneem en Hom daarmee omgord. Met verbaasde belangstelling het die dissipels na Hom gekyk en in stilte gewag om te sien wat gaan volg. “Daarna het Hy water in ‘n bak gegooi en die voete van die dissipels begin was en afdroog met die doek wat Hy omgehad het.” Hierdie optrede het die dissipels se oë laat oopgaan. Bittere skaamte en vernedering het hulle harte gevul. Hulle het die onuitgesproke teregwysing begryp en hulself nou in ‘n heel ander lig gesien. DKvDE 710.2
So het Christus uiting aan Sy liefde vir sy dissipels gegee. Hulle selfsugtige gees het Hom met droefheid vervul, maar Hy het nie met hulle getwis oor hul moeilikhede nie. In die plek daarvan het Hy aan hulle ‘n voorbeeld gestel wat hulle nooit sou vergeet nie. Sy liefde vir hulle was nie so maklik versteur of geblus nie. Hy het geweet dat die Vader alle dinge in Sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. Hy was ten volle bewus van Sy Goddelikheid; maar Hy het Sy koninklike kroon en gewaad neergelê en die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem. Een van Sy laaste optredes op aarde was om Homself as ‘n dienskneg te omgord en die rol van ‘n dienaar te vervul. DKvDE 710.3
Voor die Pasga het Judas ‘n tweede keer met die priesters en skrifgeleerdes ontmoet en die ooreenkoms om Jesus in hul hande oor te lewer, bevestig. Tog het hy agterna met die dissipels omgegaan asof hy onskuldig aan enige onreg was en belanggestel het in die voorbereiding vir die fees. Die dissipels het niks van Judas se voornemens geweet nie. Slegs Jesus kon sy geheim lees. Tog het Hy hom nie aan die kaak gestel nie. Jesus het na sy siel gehonger. Hy het dieselfde sielelas vir hom ervaar soos vir Jerusalem toe Hy oor die gedoemde stad geween het. Sy hart het uitgeroep: Hoe kan Ek jou prysgee? Judas het die dwingende mag van daardie liefde gevoel. Toe die Heiland se hande daardie stowwerige voete was en dit met die handdoek afdroog, was Judas se hart telkens met die impuls deurdring om sy sonde daar en dan te bely. Maar hy wou homself nie verneder nie. Hy het sy hart teen berou verhard; en die ou drange, wat vir ‘n oomblik onderdruk was, het weer beheer oor hom gekry. Judas het nou aanstoot geneem in Christus se daad om Sy dissipels se voete te was. As Jesus Homself so kon verneder, het hy gedink, kon Hy nie Israel se koning wees nie. Alle hoop op wêreldse eer in ‘n aardse koninkryk was vernietig. Judas was tevrede dat daar geen verdienste daarin was om Christus te volg nie. Nadat hy gesien het hoe Hy Homself, soos hy gedink het, afgekraak het, was Judas vasberade in sy voorneme om Hom te ontken en het homself as mislei beskou. Satan het besit van hom geneem en hy het besluit om die taak waartoe hy ingestem het om sy Meester te verraai, deur te voer. DKvDE 711.1
Toe Judas sy plek aan tafel gekies het, het hy gepoog om homself eerste te stel en dat Jesus hom, as dienskneg eerste sou bedien. Johannes, teenoor wie Judas soveel bitterheid gekoester het, sou tot laaste moes wag. Maar Johannes het dit nie as ‘n teregwysing of afjak beskou nie. Terwyl die dissipels Christus se optrede gadegeslaan het, was hulle diep ontroer. Toe Petrus aan die beurt kom, het hy met verbasing uitgeroep: “Here, gaan U my voete was?” Christus se neerbuigende houding het sy hart gebreek. Hy was met skaamte gevul dat een van die dissipels nie hierdie diens verrig het nie. “Wat Ek doen...” het Christus gesê, “...begryp jy nie nou nie, maar jy sal dit hierna verstaan.” Petrus kon dit nie verduur om te sien dat sy Here, wie hy geglo het die Seun van God is, die rol van ‘n dienskneg vervul nie. Sy hele wese het teen hierdie vernedering in opstand gekom. Hy het nie besef dat Christus om hierdie rede na die wêreld gekom het nie. Met groot klem het hy uitgeroep. “U sal my voete in der ewigheid nie was nie!” DKvDE 711.2
Plegtig het Christus vir Petrus gesê: “As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie.” Hierdie diens wat Petrus geweier het, was die tipe van ‘n hoër reiniging. Christus het gekom om die hart van die smet van sonde te reinig. Deur te weier dat Christus sy voete was, het Petrus die hoër reiniging wat in die geringer reiniging ingesluit was, verwerp. Hy sou in werklikheid sy Here verwerp. Dit is nie vir die Meester vernederend om Hom toe te laat om ons te reinig nie. Opregte nederigheid is om met ‘n dankbare hart alle voorsiening ten behoewe van onsself te aanvaar en met erns diens vir Christus te verrig. DKvDE 712.1
Met die woorde: “As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie...” het Petrus sy trots en eiesinnigheid oorgegee. Hy kon die gedagte aan skeiding van Christus nie verduur nie; vir hom sou dit die dood beteken. “Nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof...” het hy geantwoord. “Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein.” DKvDE 712.2
Hierdie woorde beteken meer as liggaamlike reinheid. Christus praat steeds van die hoër reiniging soos deur die geringer reiniging geïllustreer. Hy wat uit die bad gekom het, is skoon, maar voete met sandale aan, het gou stowwerig geword en moes weer gewas word. So is Petrus en sy broers in die groot Fontein gewas wat vir sonde en onreinheid oopgegaan het. Christus het hulle as Syne erken. Maar versoeking het hulle tot boosheid gelei en hulle het steeds Sy reinigende genade nodig gehad. Toe Jesus Homself met ‘n handdoek omgord het om die stof van hulle voete af te was, wou Hy juis met hierdie daad die vervreemding, jaloesie en trots uit hul harte was. Dit was van veel meer betekenis as om hul stowwerige voete te was. Met die gees wat hulle toe gehad het, was nie een van hulle vir gemeenskap met Christus gereed nie. Voordat hulle in nederigheid en liefde kon verkeer, was hulle nie gereed om deel te hê aan die Paasmaal of aan die gedenkdiens wat Christus op die punt was om in te stel nie. Hul harte moes gereinig word. Hoogmoed en selfsug skep onenigheid en haat, maar Jesus het dit alles afgewas deur hulle voete te was. ‘n Verandering in gesindheid is teweeggebring. Terwyl Jesus hulle na hulle kyk, kon Hy sê: “Julle is rein.” Nou was daar eenheid van hart en liefde vir mekaar. Hulle het nederig en leerbaar geword. Met die uitsondering van Judas, was elkeen bereid om die hoogste posisie aan ‘n ander af te staan. Hulle kon nou met ingetoë en dankbare harte die woorde van Christus ontvang. DKvDE 712.3
Soos Petrus en sy broers, is ons ook in die bloed van Christus gewas, maar die reinheid van die hart word dikwels deur kontak met die sonde besoedel. Ons moet na Christus vir Sy reinigende genade kom. Petrus het daarvan teruggedeins om sy vuil voete in kontak met die hande van sy Heer en Meester te bring; maar hoe dikwels bring ons ons sondige, besoedelde harte in kontak met die hart van Christus! Hoe moet ons slegte humeur, ons verwaandheid en hoogmoed Hom nie grief nie! Tog moet ons al ons swakhede en besoedeling na Hom bring. Hy alleen kan ons reinig. Ons is nie gereed vir gemeenskap met Hom tensy ons deur Sy werking gereinig word nie. DKvDE 713.1
Jesus het vir die dissipels gesê: “Julle is rein, maar nie almal nie.” Hy het die voete van Judas gewas, maar sy hart was nie aan Hom oorgegee nie. Dit was nie gereinig nie. Judas het hom nie aan Christus onderwerp nie. DKvDE 713.2
Nadat Christus die dissipels se voete gewas het, Sy bokleed weer aangetrek en gaan sit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het? Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.” DKvDE 713.3
Christus wou die dissipels laat verstaan dat alhoewel Hy hul voete gewas het, dit nie in die geringste afbreuk aan Sy waardigheid gedoen het nie. “Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.” En omdat Hy so oneindig meerderwaardig was, het Hy waardigheid en betekenis aan die diens verleen. Niemand was so verhewe soos Christus nie en tog het Hy Hom neergebuig om die nederigste taak te verrig. Hy het self die voorbeeld van nederigheid gestel, sodat Sy volk nie deur die selfsug wat in die natuurlike hart woon en deur selfbeheptheid versterk word, mislei hoef te word nie. Hy sou nie hierdie grootse onderwerp aan die mens oorlaat nie. Hy het dit so belangrik geag dat Hy, wat self gelyk aan God is, as Dienaar van Sy dissipels opgetree het. Terwyl hulle om die hoogste posisie gewedywer het, het Hy, voor Wie elke knie sal buig, vir Wie die glorieryke engele dit ‘n voorreg ag om te dien, neergebuig om die voete van hulle wat Hom Here noem te was; Hy het die voete van Sy verraaier gewas. DKvDE 714.1
In Sy lewe en lesse het Christus ‘n volmaakte voorbeeld van die onselfsugtige bediening wat sy oorsprong in God het, gestel. God leef nie vir Homself nie. Deur die wêreld te skape en alle dinge te onderhou, dien Hy steeds andere. “Hy laat Sy son opgaan oor slegtes en goeies en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.” (Mattheus 5:45). Hierdie bedieningsideaal, het God aan Sy Seun oorgedra. Jesus is gegee om aan die hoof van die mensdom te staan, sodat Hy deur Sy voorbeeld kon toon wat dit beteken om te dien. Sy hele lewe was aan ‘n wet van diens onderworpe. Hy het almal gedien, almal bedien. So het Hy die wet van God uitgeleef en deur Sy voorbeeld getoon hoe ons dit moet gehoorsaam. DKvDE 714.2
Jesus het herhaaldelik gepoog om hierdie beginsel by sy dissipels in te stel. Toe Jakobus en Johannes hul versoek vir die voorste plekke gerig het, het Hy gesê: “Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.” (Mattheus 20:26). In My koninkryk is daar nie plek vir die beginsel van voorkeur en oppergesag nie. Die enigste grootheid is dié van nederigheid. Die enigste onderskeid word in toewyding aan diens aan ander gevind. DKvDE 715.1
En nadat Hy die dissipels se voete gewas het, het Hy gesê: “Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” Met hierdie woorde het Christus nie net gasvryheid bepleit nie. Dit het meer behels as om die gaste se voete te was om die stof van hul reis te verwyder. Christus het hier ‘n godsdienstige ritueel ingestel. Deur die daad van die Here is hierdie vernederende seremonie as ‘n gewyde instelling ingestel. Dit moes deur die dissipels waargeneem word, sodat hulle altyd Sy lesse van nederigheid en diens in gedagte kon hou. DKvDE 715.2
Hierdie instelling was Christus se aangewese voorbereiding vir die Nagmaal. Terwyl trots, tweedrag en wedywering vir oppergesag gekoester word, kan die hart nie in gemeenskap met Christus tree nie. Ons is nie gereed om die gemeenskap van Sy liggaam en Sy bloed te ontvang nie. Daarom het Jesus dit ingestel, om die herdenking van Sy vernedering vooraf te gaan. DKvDE 715.3
Wanneer die kinders van God hierdie verordening onderhou, moet hulle die woorde van die Here van die lewe en heerlikheid in gedagte hou: “Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het? Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.” Daar is by die mens ‘n ingesteldheid om homself hoër as sy medemens te ag, om sy eie saak te bevorder en om die hoogste posisie na te streef; en dikwels lei dit tot agterdog en bitterheid. Hierdie instelling wat die Nagmaal voorafgaan, is om hierdie misverstande uit die weg ruim, die mens van selfsug te bevry, hom van sy stelte van selfverheffing af te bring, na die nederigheid van hart wat hom sal lei om sy broer te dien. DKvDE 715.4
Die heilige Waker uit die hemel is by hierdie diens teenwoordig om dit een van selfondersoek te maak, van oortuiging van sondes en van die salige versekering van sondes wat vergewe is. Christus, in die volheid van sy genade, is daar om die stroom van gedagtes wat in selfsugtige kanale loop, weg te keer. Die Heilige Gees verhoog die sensitiwiteit van diegene wat die voorbeeld van hul Here volg. Wanneer ons die Heiland se vernedering vir ons onthou, skakel gedagte met gedagte ineen; ‘n ketting van herinneringe word voor die gees geroep, herinneringe aan God se groot goedheid en aan die guns en teerheid van aardse vriende. Vergete seëninge, misbruikte genade, goedgunstigheid wat versmaai is, word in gedagte geroep. Wortels van bitterheid wat die kosbare plant van liefde verdring het, word geopenbaar. Gebreke van karakter, versuim van pligte, ondankbaarheid teenoor God, kilheid teenoor ons medemens, word in herinnering geroep. Sonde word in die lig waarin God dit bejeën, gesien. Ons gedagtes is nie gedagtes van selfvoldaanheid nie, maar van ernstige selfveroordeling en vernedering. Die verstand word bekragtig om elke struikelblok wat vervreemding veroorsaak het, uit die weg te ruim. Bose denke en woorde word versaak. Sondes word bely en vergewe. Die onderwerpende genade van Christus neem besit van die siel en die liefde van Christus snoer harte in ‘n geseënde eenheid saam. DKvDE 716.1
Soos die les van voorbereidende diens geleer word, word ‘n drang na ‘n hoër geestelike lewe ontketen. Op hierdie verlange sal die Goddelike Getuie reageer. Die siel word opgehef. Ons kan die Nagmaal gebruik met die wete dat ons sondes vergewe is. Die sonskyn van Christus se geregtigheid sal die kamers van die gedagtes en die tempel van die siel vul. Ons aanskou “...die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Johannes 1:29). DKvDE 717.1
Vir diegene wat die gees van hierdie diens aanvaar, kan dit nooit ‘n blote seremonie wees nie. Die voortdurende les daarvan sal wees: “Dien mekaar deur die liefde.” (Galasiërs 5:13). Deur die voete van die dissipels te was, het Christus getuig dat Hy enige diens, hoe nederig ook al, sou verrig, wat hulle mede-erfgename van die ewige rykdom van die hemelse skatte sou maak. Deur dieselfde ritueel, onderneem Sy dissipels om hul broers op dieselfde wyse te dien. Wanneer hierdie instelling na regte gevier word, word die kinders van God in heilige verwantskap gebring, om mekaar tot hulp en seën te wees. Hulle kom ooreen dat die lewe aan onbaatsugtige diens gewy moet word. En dit nie net vir mekaar nie. Hul arbeidsveld is so wyd soos die van hul Meester was. Die wêreld is vol van hulle wat ons bediening nodig het. Die armes, die hulpeloses, die onkundiges, is oral om ons. Diegene wat saam met Christus in die bovertrek gemeenskap gehad het, sal uitgaan om te dien soos Hy gedien het. DKvDE 717.2
Jesus, wat deur almal gedien word, het die Dienskneg van almal geword. En omdat Hy almal gedien het, sal Hy weer deur almal gedien en vereer word. En diegene wat in Sy Goddelike eienskappe wil deel en met Hom die vreugde om siele verlos te sien te deel, moet Sy voorbeeld van onbaatsugtige bediening volg. DKvDE 717.3
Dit alles word in die woorde van Jesus verstaan: “Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” Dit was die doel van die diens wat Hy ingestel het. “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.” DKvDE 717.4