Die Koning van die Eeue

71/88

Hoofstuk 70—“Die Geringste van Hierdie Broeders van My” *

“Wanneer die Seun van die mens in Sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op Sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word en Hy sal hulle van mekaar afskei.” So het Christus op die Olyfberg vir Sy dissipels die toneel van die groot oordeelsdag geskets. En Hy het te kenne gegee dat Sy besluit om een punt sal draai. Wanneer die nasies voor Hom versamel word, sal daar net twee klasse wees en hulle ewige bestemming sal bepaal word deur wat hulle vir Hom gedoen het of nagelaat het te doen in die persoon van die armes en die lydendes. DKvDE 700.1

Op daardie dag sal Christus nie die groot werk aan die mens voorhou, wat Hy, deur Sy lewe vir hul verlossing af te lê, vir hulle verrig het nie. Hy sal Hom toespits op die getroue werk wat hulle vir Hom verrig het. Vir diegene aan Sy regterhand sal Hy sê: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling en julle het My herberg gegee; Ek was naak en julle het My geklee; Ek was siek en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek en julle het na My gekom.” Maar die wat deur Christus aanbeveel word, sal nie bewus daarvan wees dat hulle Hom gedien het nie. Op hul verwarde navrae sal Hy antwoord: “Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. DKvDE 700.2

Jesus het vir Sy dissipels gesê dat hulle deur alle mense gehaat, vervolg en geteister sou word. Baie sou uit hulle huise verdryf en tot armoede gedwing word. Baie mense sou in nood verkeer weens siektes en ontbering. Baie sou in die gevangenis gewerp word. Aan almal wat huis of vriende ter wille van Hom verlaat het, het Hy honderdvoudig in hierdie lewe belowe. Toe het Hy almal wat hul broeders sou dien, van ‘n besondere eer verseker. In almal wat in My Naam ly, het Jesus gesê, moet julle My herken. Soos julle My sou dien, so moet julle hulle dien. Dit is die getuienis dat julle My dissipels is. DKvDE 700.3

Almal wat in die hemelse familie gebore is, is in ‘n besondere sin die broeders van ons Here. Die liefde van Christus bind die lede van Sy familie saam en waar daardie liefde geopenbaar word, word die Goddelike verhouding geopenbaar. “Elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.” (1 Johannes 4:7). DKvDE 701.1

Diegene wat in die oordeel deur Christus aanbeveel sal word, het moontlik min van teologie geweet, maar hulle het Sy beginsels gekoester. Deur die invloed van die Gees van God was hulle ‘n seën vir diegene om hulle. Selfs onder die heidene is daar diegene wat ‘n gees van goedhartigheid koester; voordat hulle die woord van die lewe gehoor het, het hulle met die sendelinge bevriend geraak en het selfs hul eie lewens in gevaar gestel om hulle te bedien. Onder die heidene is diegene wat God in onkunde aanbid, na wie die lig nooit deur bemiddeling van mense gebring is nie, maar tog sal hulle nie vergaan nie. Alhoewel hulle geen kennis van die geskrewe wet van God gedra het nie, het hulle Sy stem in die natuur tot hulle hoor spreek en gedoen wat die wet vereis. Hulle werke getuig daarvan dat die Heilige Gees hul harte aangeraak het en dat hulle as kinders van God erken word. DKvDE 701.2

Diegene wat in die oordeel deur Christus aanbeveel sal word, het moontlik geweet hoe verbaas en verheug die nederiges onder die nasies en onder die heidene sou wees om van die lippe van die Verlosser te hoor: “Sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Hoe verheug sal die hart van die Oneindige Liefde nie wees as Sy volgelinge met verbasing opkyk en hulle verheug oor Sy woorde van goedkeuring nie! DKvDE 701.3

Maar die liefde van Christus is nie tot enige klas beperk nie. Hy identifiseer Homself met elke kind van die mensdom. Hy het ‘n lid van die aardse familie geword sodat ons lede van die hemelse familie kan word. Hy is die Seun van die mens en dus ‘n broer vir elke seun en dogter van Adam. Sy volgelinge moet hulself nie van die verganklike wêreld rondom hulle losmaak nie. Hulle is deel van die groot web van die mensdom; en die Hemel beskou hulle as broers van sondaars sowel as van heiliges. Die liefde van Christus omvou die wat geval het, die dwalende en die sondige; en elke daad van goedhartigheid wat verrig word om ‘n gevalle siel op te hef en elke daad van barmhartigheid, word aanvaar asof dit aan Hom bewys is. DKvDE 702.1

Die engele van die hemel word uitgestuur om diegene, wat erfgename van die saligheid sal wees, te bedien. Ons weet nie nou wie hulle is nie; dit is nog nie bekend wie sal oorwin en die erfenis van die heiliges in die lig sal deel nie; maar engele van die hemel gaan deur die lengte en breedte van die aarde om die bedroefdes te vertroos, die wat in gevaar verkeer te beskerm en om die harte van mense vir Christus te wen. Nie een word afgeskeep of oorgeslaan nie. God is geen aannemer van persoon nie en is ewe besorg oor al die siele wat Hy geskape het. DKvDE 702.2

Wanneer jy jou deur vir die behoeftes en lydendes van Christus oopmaak, verwelkom jy ongesiene engele. Jy nooi die gemeenskap van hemelse wesens uit. Hulle bring ‘n heilige atmosfeer van vreugde en vrede. Hulle kom met lofprysing op hul lippe en ‘n beantwoordende klanke word in die hemel gehoor. Elke daad van genade veroorsaak musiek in die hemel. Van Sy troon af tel die Vader die onselfsugtige werkers onder Sy kosbaarste skatte. DKvDE 702.3

Diegene aan die linkerhand van Christus, hulle wat Hom in die persoon van die armes en die lydendes verwaarloos het, was onbewus van hul skuld. Satan het hulle verblind; hulle het nie besef wat hulle aan hul broeders verskuldig was nie. Hulle was selfbehep en het nie na ander se behoeftes omgesien nie. DKvDE 702.4

Aan die rykes het God rykdom gegee sodat hulle Sy lydende kinders in hul ontbering kon help en vertroos; maar te dikwels staan hulle onverskillig teenoor die behoeftes van ander. Hulle beskou hulself as verhewe bo hul arm broers. Hulle stel hulself nie in die arm man se plek nie. Hulle verstaan nie die versoekings en worstelinge van die armes nie en genade sterf in hul harte. In luukse wonings en sierlike kerkgeboue het die rykes hulle van die armes afgesluit; die middele wat God voorsien het om die behoeftiges te seën, word aan die vertroeteling van trots en selfsug bestee. Die armes word daagliks van die onderrig wat hulle oor die tere barmhartigheid van God moet ontvang beroof; want Hy het ruim voorsiening gemaak dat hulle van lewensbenodigdhede voorsien moet word. Hulle word gedwing om armoede te ervaar wat die lewe knel en word dikwels in die versoeking gebring om afgunstig, jaloers en met bose misleidings gevul te word. Diegene wat nie self die verdrukking van gebrek verduur het nie, behandel die armes minagtend en laat hulle voel dat hulle as armlastiges beskou word. DKvDE 703.1

Maar Christus sien dit alles en sê: Dit was Ek wat honger en dors was. Dit was Ek wat ‘n vreemdeling was. Dit was Ek wat siek was. Dit was Ek wat in die tronk was. Terwyl jy aan jou oorlaaide tafel feesgevier het, het Ek in ‘n krot of in ‘n leë straat honger gely. Terwyl jy gerieflik in jou luukse woning ontspan het, het Ek nêrens plek gehad waar Ek my hoof kon neerlê nie. Terwyl jou klerekas met duursame klere gevul was, was ek haweloos. Terwyl jy jou plesier nagestreef het, het ek in die tronk gekwyn. DKvDE 703.2

Toe jy daardie jammerlike stukkie brood aan die honger armes uitgedeel het, toe jy daardie klere wat deurgedra was gegee het om hulle teen die bytende ryp te beskerm, het jy toe onthou dat jy dit aan die Here van heerlikheid gegee het? Al die dae van jou lewe was Ek naby jou in die persoon van hierdie geteisterdes, maar jy het nie na My gesoek nie. Jy wou nie in gemeenskap met My tree nie. Ek ken jou nie. DKvDE 703.3

Baie voel dat dit ‘n groot voorreg sal wees om die tonele van Christus se lewe op aarde te besoek, om te loop waar Hy gewandel het, om oor die meer waar Hy graag onderrig het te kyk en oor die heuwels en valleie waarop Sy oë so dikwels gerus het. Maar ons hoef nie na Nasaret, Kapérnaum of Betanië te gaan om in die voetstappe van Jesus te wandel nie. Ons sal Sy voetspore langs die siekbed vind, in die armoedige krotte, in die nou straatjies van die groot stad en op elke plek waar harte van mense vertroosting benodig. Deur te doen soos Jesus toe Hy op aarde was, sal ons in sy voetstappe wandel. DKvDE 704.1

Almal kan iets vind om te doen. “Die armes het julle altyd by julle...” (Johannes 12:8) het Jesus gesê en niemand hoef te dink dat daar geen plek is waar hulle vir Hom kan werk nie. Miljoene der miljoene siele wat gereed is om te vergaan, in kettings van sonde en onkunde vasgevang, het nog nooit van Christus se liefde vir hulle gehoor nie. Sou ons eie en hulle omstandighede omgekeer word, wat sou ons verlang het dat hulle vir ons moes doen? In al hierdie dinge, vir sover dit in ons vermoë strek, is ons onder die mees plegtige verpligting om dit vir hulle te doen. Christus se reël vir die lewe, waarvolgens elkeen in die oordeel sal staan of val, is: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.” (Mattheus 7:12). DKvDE 704.2

Die Heiland het Sy kosbare lewe gegee om ‘n kerk te stig wat in staat sou wees om vir die bedroefde, versoekte siele te sorg. ‘n Groep gelowiges kan arm, ongeletterd en onbekend wees; tog kan hulle in Christus ‘n werk in die huis, in die omgewing, die kerk en selfs daarbuite verrig waarvan die gevolge so vêrreikend soos die ewigheid sal wees. DKvDE 704.3

Dit is omdat hierdie werk verwaarloos word, dat soveel jong dissipels nooit verder as die alfabet van die Christelike ervaring gaan nie. Die lig wat in hul eie harte gegloei het toe Jesus vir hulle gesê het: “Jou sondes is jou vergewe...” sou hulle moontlik aan die lewe kon hou deur ander in nood te help. Die rustelose energie wat so dikwels ‘n bron van gevaar vir jongmense is, kan in kanale gelei word waardeur dit in strome van seën kan uitvloei. Hulle sal, in hul erns om aan ander goed te doen, van hulself vergeet. DKvDE 705.1

Wie ander bedien, sal deur die Opperherder bedien word. Hulle sal self van die lewende water drink en versadig word. Hulle sal nie na opwindende vermaak of na ‘n verandering in hul lewens smag nie. Die belangrikste onderwerp sal gaan oor hoe om die siele wat gereed is om te vergaan, te red. Sosiale omgang sal tot nut strek. Die liefde van die Verlosser sal harte in eensgesindheid saambind. DKvDE 705.2

Wanneer ons besef dat ons medewerkers saam met God is, sal Sy beloftes nie onverskillig uitgespreek word nie. Hulle sal in ons harte brand en ons lippe aanvuur. Toe Moses geroep was om ‘n onkundige, ongedissiplineerde en opstandige volk te bedien, het God die belofte gegee: “Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?” (Exodus 33:14). En gesê: “Ek sal met jou wees.” (Exodus 3:12). Hierdie belofte geld vir almal wat namens Christus vir Sy geteisterde en lydende kinders arbei. DKvDE 705.3

Liefde vir die mens is die aardse manifestasie van die liefde van God. Dit was om hierdie liefde in te plant, om ons kinders van een gesin te maak, dat die Koning van heerlikheid een met ons geword het. En wanneer Sy afskeidswoorde vervul word: “Dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het...” (Johannes 15:12); wanneer ons die wêreld liefhet soos Hy dit liefgehad het, dan word Sy sending vir ons volbring. Dan is ons toegerus vir die hemel; want ons het die hemel in ons harte. DKvDE 705.4

“Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie!-sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk.” (Spreuke 24:11, 12). Op die groot oordeelsdag sal diegene wat nie vir Christus gewerk het nie, wat slegs aan hulself gedink het en na hulleself omgesien het, deur die Regter van die hele aarde by die boosdoeners gegroepeer word. Hulle sal dieselfde oordeel ontvang. DKvDE 705.5

Aan elke siel word ‘n pand gegee. Van elkeen sal die Opperherder eis: “Waar is die kudde wat aan jou gegee is, jou pragtige trop kleinvee?” En “Wat sal jy sê wanneer Hy as hoof oor jou aanstel diegene wat jy self geleer het om jou vertroude vriende te wees?” (Jeremia 13:20,21). DKvDE 706.1