Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 69—Op die Olyfberg *
Christus se woorde aan die priesters en owerstes: “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat...” (Mattheus 23:38), het hulle harte met vrees gevul. Hulle het onverskilligheid voorgegee, maar die vraag aangaande die belangrikheid van hierdie woorde, het voortdurend in hulle gedagtes opgekom. Dit was asof ‘n ongesiene gevaar hulle bedreig. Kon dit wees dat die manjifieke tempel, wat die glorie van die nasie was, binnekort ‘n puinhoop sou word? Die dissipels het hierdie voorgevoel van onheil gedeel en hulle het angstig op ‘n duideliker verklaring van Jesus gewag. Toe hulle saam met Hom uit die tempel gaan, het hulle Sy aandag op die stewigheid en skoonheid daarvan gevestig. Die stene van die tempel was van die wit, suiwerste marmer, spierwit en sommige van hulle fabelagtig groot. ‘n Gedeelte van die muur het die beleg deur Nebukadnesar se leër getrotseer. Die messelwerk was so perfek, dat dit gelyk het asof dit in een soliede steen uit die steengroef gegrawe is. Die dissipels kon nie begryp hoe hierdie magtige mure omvergewerp kon word nie. DKvDE 687.1
Wat moes die ongerepte gedagtes van Christus nie gewees het, terwyl hierdie Verwerpte Een se aandag op die grootsheid van die tempel gevestig was nie! Die toneel voor Hom was inderdaad aanskoulik, maar Hy het droewig gesê: Ek sien dit alles. Die geboue is inderdaad wonderlik. Julle verwys na hierdie mure as skynbaar onvernietigbaar, maar luister na My woorde: “Daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.” DKvDE 687.2
Christus se woorde is aan ‘n gehoor van ‘n groot aantal mense geuiter; maar toe Hy alleen was, het Petrus, Johannes, Jakobus en Andreas na Hom gekom terwyl Hy op die Olyfberg gesit het. “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees en wat is die teken van U koms en van die voleinding van die wêreld?” Jesus het nie in Sy antwoord, die vernietiging van Jerusalem en die groot dag van Sy wederkoms afsonderlik van mekaar hanteer nie, maar dit as ‘n geheel hanteer. Indien Hy die toekomstige gebeure vir Sy dissipels uiteengesit het soos Hy dit gesien het, sou hulle die gesig nie kon verduur nie. In genade teenoor hulle, het Hy die beskrywing van die twee groot krisisse saamgevat en dit aan die dissipels oorgelaat om die betekenis self te bestudeer. Toe Hy na die vernietiging van Jerusalem verwys het, het Sy profetiese woorde verby daardie gebeurtenis gestrek tot met die finale vernietiging, op daardie dag wanneer die Here uit Sy plek sal verrys om die wêreld vir hul ongeregtigheid te straf, wanneer die aarde haar bloed sal verklaar en diegene wat gedood is nie langer sal bedek nie. Hierdie hele toespraak was nie slegs vir die dissipels gegee nie, maar vir almal wat in die laaste tonele van die aarde se geskiedenis sou leef. DKvDE 687.3
Christus het Hom na Sy dissipels gewend en gesê: “Pasop dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.” Daar sal baie valse messiasse verskyn wat beweer dat hulle wonderwerke kan verrig en verklaar dat die tyd van die bevryding van die Joodse nasie aangebreek het. Hulle sal baie mense mislei. Christus se woorde is vervul. Tussen sy dood en die beleg van Jerusalem het baie valse messiasse verskyn. Maar hierdie waarskuwing geld ook vir diegene wat tans in hierdie wêreld lewe. Dieselfde misleidings wat voor die verwoesting van Jerusalem plaasgevind het, het deur die eeue heen plaasgevind en sal weer plaasvind. DKvDE 688.1
“En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.” Voor die vernietiging van Jerusalem was daar ‘n stryd om oppergesag. Keisers is vermoor. Diegene wat veronderstel was om naaste aan die troon te staan, is gedood. Daar was oorloë en gerugte van oorloë. “Alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde van die Jode as volk nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.” Christus het gesê: Wanneer die rabbi’s hierdie tekens sien, sal hulle dit verklaar as God se oordele oor die nasies omdat hulle Sy uitverkore volk in slawerny aanhou. Hulle sal verklaar dat hierdie tekens die teken van die koms van die Messias is. Moenie mislei word nie; dit is die begin van Sy oordele. Die volk het na hulself gekyk. Hulle het nie berou gehad en tot bekering gekom sodat Ek hulle kon genees nie. Die tekens wat hulle as tekens van hul verlossing van slawerny vertolk, is tekens van hul vernietiging. DKvDE 688.2
“Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van My Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.” Dit alles het die Christene gely. Vaders en moeders het hul kinders verraai. Kinders het hul ouers verraai. Vriende het hul vriende aan die Sanhedrin uitgelewer. Die vervolgers het hul doel verwesenlik deur Stefanus, Jakobus en ander Christene te dood. DKvDE 689.1
Deur Sy dienaars het God aan die Joodse volk die laaste geleentheid gebied om hulle te bekeer. Hy het Homself deur Sy getuies, in hul inhegtenisneming, in hul verhoor en in hul gevangenskap geopenbaar. Maar hulle regters het nogtans die doodsvonnis oor hulle uitgespreek. Die wêreld was hierdie manne nie waardig nie en deur hulle te dood, het die Jode die Seun van God opnuut gekruisig. So sal dit weer wees. Die owerhede sal wette afdwing om godsdiensvryheid te beperk. Hulle sal hulself die reg, wat alleenlik aan God behoort, aanmatig. Hulle sal trag om die gewete, wat God alleen kan beheer, te dwing. Hulle het reeds hiermee begin; en met hierdie werk sal hulle voortgaan, totdat hulle die grens wat hulle nie kan oorskrei nie bereik het. God sal, ten behoewe van sy lojale volk wat Sy gebooie onderhou, tussenbeide tree. DKvDE 689.2
Met elke geleentheid waar vervolging plaasvind, neem diegene wat dit aanskou, ‘n besluit vir, of teen Christus. Diegene wat meegevoel met hulle wat verkeerdelik veroordeel word betoon, betoon hulle gehegtheid aan Christus. Ander neem aanstoot omdat die beginsels van die waarheid direk teen hul praktyke strek. Baie struikel en val en raak afvallig van die geloof wat hulle eens voorgestaan het. Diegene wat in die tyd van beproewing afvallig word, sal, om hul eie veiligheid te verseker, valse getuienis lewer en hul broers verraai. Christus het ons hieroor gewaarsku, sodat ons nie verbaas moet wees oor die onnatuurlike, wrede gang van diegene wat die lig verwerp nie. DKvDE 690.1
Christus het aan Sy dissipels ‘n teken van die verwoesting wat oor Jerusalem sou kom gegee en Hy het hulle gesê hoe om te ontsnap: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word.” Hierdie waarskuwing is gegee, waaraan veertig jaar later gehoor aan gegee is. Die Christene het die waarskuwing gehoorsaam en nie een Christen het in die vernietiging van die stad omgekom nie. DKvDE 690.2
“Bid dat julle vlug nie in die winter of op die Sabbat mag plaasvind nie...” het Christus gesê. Hy wat die Sabbat gemaak het, het dit nie afgeskaf of aan Sy kruis vasgenael nie. Die Sabbat is nie deur Sy dood tot niet gemaak nie. Veertig jaar na Sy kruisiging sou dit nog geheilig word. Veertig jaar lank moes die dissipels bid dat hul vlug nie op die Sabbatdag sou plaasvind nie. DKvDE 690.3
Vanaf die verwoesting van Jerusalem het Christus vinnig na die groter gebeurtenis, die laaste skakel in die ketting van die aarde se geskiedenis, naamlik die koms van die Seun van God in majesteit en heerlikheid, oorgegaan. Tussen hierdie twee gebeure, het daar voor Christus se oë, lang eeue van duisternis gestrek, eeue wat Sy kerk met bloed, trane en pyn sou kenmerk. Sy dissipels sou hierdie tonele op daardie stadium nie kon verduur nie en Jesus het net met ‘n kort beskrywing daarvan melding gemaak. “Dan sal daar groot verdrukking wees...” het Hy gesê, “...soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” Vir meer as ‘n duisend jaar sou Christus se volgelinge aan vervolging, soos die wêreld nog nooit geken het nie, onderwerp word. Miljoene der miljoene van Sy getroue getuies sou gedood word. As God nie Sy hand uitgesteek het om Sy volk te bewaar nie, sou almal vergaan het. “Maar ter wille van die uitverkorenes...” het Hy gesê, “...sal daardie dae verkort word.” DKvDE 690.4
Toe, in onmiskenbare taal, het ons Here van Sy wederkoms gepraat en oor die gevare wat Sy koms na hierdie wêreld voorafgaan, gewaarsku. “As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar!-moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn-moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer-moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” As een van die tekens van die verwoesting van Jerusalem, het Christus gesê, “...sal valse profete opstaan en baie mense mislei.” Valse profete hét opgestaan en die mense mislei en groot getalle die woestyn in gelei. Goëlaars en towenaars wat beweer dat hulle wonderbaarlike mag besit, het die mense agter hulle aan na die afgesonderdheid van die berge getrek. Maar hierdie profesie is ook vir die laaste dae gegee. Hierdie teken word as teken van die tweede koms gegee. Daar is reeds valse christusse en valse profete wat tekens en wonders doen om Sy dissipels te mislei. Hoor ons nie die uitroep: “Kyk, Hy is in die woestyn...” nie? Het duisende nie die woestyn ingegaan met die hoop om Christus te vind nie? En uit duisende byeenkomste waar mense beweer dat hulle met die geeste van afgestorwenes gemeenskap hou, word die oproep nie gehoor: “Kyk, Hy is in die binnekamer...” nie? Dit is die aanspraak van spiritisme. Maar wat sê Christus? “Moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” DKvDE 691.1
Die Heiland verstrek die tekens van Sy koms en meer nog, Hy dui die tyd aan wanneer die eerste van hierdie tekens sal verskyn: “En dadelik na die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie en die sterre sal van die hemel val en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal Sy engele uitstuur met harde trompetgeluid en hulle sal Sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” DKvDE 692.1
Aan die einde van die groot pouslike vervolging, het Christus verklaar, sal die son verduister word en die maan sy glans nie gee nie. Daarna sal die sterre uit die hemel val. En Hy sê: “Leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” (Mattheus 24:32,33). DKvDE 692.2
Christus het tekens van sy koms gegee. Hy het verklaar dat ons kan weet wanneer Sy koms naby is, selfs voor die deur. Van diegene wat hierdie tekens sien, sê Hy: “Hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Hierdie tekens het reeds verskyn. Ons weet dus nou verseker dat die koms van die Here naby is. “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar My woorde sal nooit verbygaan nie.” DKvDE 692.3
Christus kom op die wolke met groot heerlikheid. ‘n Menigte glansende engele sal Hom vergesel. Hy sal kom om die dooies op te wek en die lewende heiliges van heerlikheid tot heerlikheid te verander. Hy sal kom om diegene wat Hom liefgehad en Sy gebooie onderhou het, te eer en na Homself te neem. Hy het hulle nie vergeet nie en ook nie Sy beloftes nie. Daar sal ‘n herkoppeling van die gesinsketting wees. As ons na ons afgestorwenes kyk, kan ons dink aan die dag wanneer die basuin van God sal weerklink “...en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word...”. (1 Korinthiërs 15:52). Nog ‘n klein rukkie en ons sal die Koning in Sy heerlikheid sien. Nog ‘n rukkie langer en Hy sal al die trane van ons oë afvee. Nog ‘n klein rukkie en Hy sal ons “...sonder gebrek voor Sy heerlikheid ... stel met gejuig.” (Judas 24). Daarom, toe Hy hierdie tekens van Sy koms gegee het, het Hy gesê: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.” DKvDE 693.1
Maar die dag en die uur van Sy koms het Christus nie geopenbaar nie. Hy het duidelik aan Sy dissipels gesê, dat selfs Hy nie die dag of die uur van Sy wederkoms bekend kan maak nie. Indien dit Hom vrygestaan het om dit te openbaar, waarom sou dit dan nodig wees om hulle te vermaan om ‘n houding van voortdurende afwagting te handhaaf? Daar is sommige mense wat beweer dat hulle die dag en die uur van ons Here se verskyning ken. Hulle is baie ernstig om die toekoms uit te lê. Maar die Here het hulle gewaarsku dat hulle op verbode terrein beweeg. Die presiese tyd van die wederkoms van die Seun van die mens is God se verborgenheid. DKvDE 693.2
Om die toestand van die wêreld met Sy koms te skets, sê Christus: “Soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” Christus skets nie hier ‘n duisendjarige vrederyk op aarde waarin almal hulle vir die ewigheid sal voorberei nie. Hy sê vir ons dat wanneer die Seun van die mens kom, dit soos in die dae van Noag sal wees. DKvDE 693.3
Hoe was dit in die tyd van Noag? “Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was...” (Genesis 6:5). Die bewoners van die antediluviaanse wêreld het van Jehova afgewyk en geweier om Sy heilige wil te doen. Hulle het hul eie onheilige verbeelding en verwronge idees gevolg. Vanweë hul boosheid is hulle vernietig en die wêreld volg vandag dieselfde weg. Dit bied geen vleiende tekens van ‘n duisendjarige glorie nie. Die oortreders van God se wet vul die aarde met goddeloosheid. Hul weddenskappe, hul perdewedrenne, hul dobbelary, hul losbandigheid, hul wellustige praktyke en ontembare hartstogte, is vinnig besig om die wêreld met geweld te vul. DKvDE 694.1
In die profesie van die vernietiging van Jerusalem, het Christus gesê: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Hierdie profesie sal weer vervul word. Die heersende ongeregtigheid van daardie dag vind sy teëbeeld in hierdie geslag. So ook met die voorspelling ten opsigte van die verkondiging van die evangelie. Voor die val van Jerusalem het Paulus, besiel deur die Heilige Gees, geskryf dat die evangelie “...verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel.” (Kolossense 1:23). So sal die ewige evangelie, voor die koms van die Seun van die mens, verkondig word “...aan alle nasies en stamme en tale en volke.” (Openbaring 14:6). God het ‘n dag bepaal “...waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel.” (Handelinge 17:31). Christus sê vir ons wanneer daardie dag ingelui sal word. Hy sê nie dat die hele wêreld tot bekering sal kom nie, maar dat “...hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Deur die evangelie aan die wêreld te verkondig, is dit binne ons vermoë om die koms van die Here te verhaas. Ons moenie slegs die koms van die dag van die Here verwag nie, maar ook strewe om dit te bespoedig. (Sien 2 Petrus 3:12). Indien die kerk van Christus die taak wat die Here aan haar opgedra het uitgevoer het, sou die hele wêreld gewaarsku gewees het en sou die Here Jesus met groot krag en heerlikheid na die aarde gekom het. DKvDE 694.2
Nadat Hy tekens van Sy koms verstrek het, het Christus gesê: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.” “Pas op, waak en bid.” God het die mens nog altyd teen komende oordele gewaarsku. Diegene wat geloof in Sy boodskap vir hulle tyd gehad het en hul geloof in gehoorsaamheid aan Sy gebooie uitgeoefen het, het die oordele wat oor die ongehoorsames en ongelowiges gekom het, vrygespring. DKvDE 695.1
Die woord het tot Noag gekom: “Gaan jy in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag.” (Genesis 7:1). Noag het gehoorsaam en is gered. Die boodskap het tot Lot gekom: “Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die Here gaan die stad verwoes.” (Genesis 19:14). Lot het homself onder die beskerming van die hemelse boodskappers geplaas en is gered. Aldus is Christus se dissipels teen die verwoesting van Jerusalem gewaarsku. Diegene wat op die teken van die komende ondergang gewaak het en uit die stad gevlug het, het die verwoesting vrygespring. So word ons nou oor Christus se wederkoms en die vernietiging oor die wêreld gaan kom, gewaarsku. Diegene wat ag op hierdie waarskuwing gee, sal gered word. DKvDE 695.2
Omdat ons nie die presiese tyd van Sy koms weet nie, word ons beveel om te waak: “Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom.” (Lukas 12:37). Diegene wat op die koms van die Here wag, wag nie in leë afwagting nie. Die verwagting van Christus se koms, moet tot gevolg hê dat mense die Here en Sy oordele oor oortreding vrees. Dit moet hulle opwek tot ‘n bewuswording van die groot sonde om Sy aanbod van genade te verwerp. Diegene wat op die Here wag, reinig hul siele deur gehoorsaamheid aan die waarheid. Hulle kombineer waaksaamheid met toegewyde arbeid. Omdat hulle weet dat die Here voor die deur is, is hul ywer aangewakker om met die Goddelike wesens saam te werk vir die redding van siele. Hulle is die getroue en wyse diensknegte wat aan die huis van die Here “...hulle rantsoen op tyd gee.” (Lukas 12:42). Hulle verkondig die waarheid wat spesifiek van toepassing is. Soos Henog, Noag, Abraham en Moses elkeen die waarheid vir hul tyd verkondig het, so sal die diensknegte van Christus tans die besondere waarskuwing vir hulle geslag gee. DKvDE 696.1
Maar Christus het die aandag op ‘n ander klas gevestig: “Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie.” DKvDE 696.2
Die bose dienskneg sê in sy hart: “My heer talm om te kom.” Hy sê nie dat Christus nie sal kom nie. Hy minag nie die idee van Sy wederkoms nie. Maar in sy hart en deur sy optrede en woorde verklaar hy dat die koms van die Here vertraag is. Hy verdryf die oortuiging uit die gemoed van ander dat die Here spoedig gaan kom. Sy invloed lei mense tot aanmatigende, onverskillige, versuim. Hulle word in hul wêreldsheid en bedwelming gesterk. Aardse hartstogte en korrupte denke, neem besit van die verstand. Die bose dienskneg eet en drink saam met die dronkaards en verenig met die wêreld in die jag na plesier. Hy verslaan sy medediensknegte en beskuldig en veroordeel diegene wat getrou aan hul Meester is. Hy meng met die wêreld. Soort groei saam met soort in oortreding. Dit is ‘n vreesaanjaende aanname. Saam met die wêreld beland hy in die strik. “Dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie ... en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak.” DKvDE 696.3
“As jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.” (Openbaring 3:3). Die koms van Christus sal die valse leraars verras. Hulle sê: “Vrede en veiligheid.” Soos die priesters en leraars voor die val van Jerusalem, strewe hulle na aardse welvaart en heerlikheid vir die kerk. Hulle vertolk die tekens van die tye as ‘n voorafskaduwing hiervan. Maar wat sê die Woord van Inspirasie? “Dan oorval ‘n skielike verderf hulle.” (1 Thessalonicense 5:3). Vir almal wat op die aarde woon, vir almal wat hierdie wêreld hul tuiste maak, sal die dag van God soos ‘n valstrik kom. Dit kom soos ‘n sluipende dief. DKvDE 697.1
Die wêreld, vol oproer, vol goddelose plesier is vas aan die slaap in vleeslike gerustheid. Mense stel die koms van die Here ver voor hulle uit. Hulle lag die waarskuwings af. Met trotse gespog sê hulle: “Alles [bly] soos dit was van die begin van die skepping af.” (2 Petrus 3:4). “More sal wees soos vandag, buitengewoon groot!” (Jesaja 56:12). Ons sal ons dieper in plesier begeef. Maar Christus sê: “Kyk, Ek kom soos ‘n dief...” (Openbaring 16:15). Dieselfde oomblik wanneer die wêreld spottend vra: “Waar is die belofte van Sy wederkoms?” word die tekens vervul. Terwyl hulle nog uitroep: “Vrede en veiligheid...” kom daar skielike verwoesting. Wanneer die spotter, die verwerper van die waarheid, aanmatigend geword het; wanneer die roetine van werk in die verskillende lyne van winsbedryf voortgesit word, sonder inagneming van beginsel; wanneer die student gretig op soek is na kennis oor enigiets behalwe die Bybel, kom Christus soos ‘n dief. DKvDE 697.2
Alles in die wêreld is in beroering. Die tekens van die tye is onheilspellend. Komende gebeure het hul skadu vooruitgewerp. Die Gees van God is besig om van die aarde te onttrek en ramp volg op ramp op see en land. Daar is orkane, aardbewings, brande, oorstromings en moorde van elke graad. Wie kan die toekoms lees? Waar is sekuriteit? Daar is geen sekerheid in enigiets wat menslik of aards is nie. Mense is besig om hulle spoedig onder die vaandel wat hulle gekies het te skaar. Hulle wag rusteloos en hou die bewegings van hul leiers dop. Daar is diegene wat wag en uitsien en werk vir die verskyning van ons Here. ‘n Ander klas val onder die aanvoering die eerste groot afvallige. Min mense glo met hart en siel dat daar ‘n hel is om te vermy en ‘n hemel om te beërwe. DKvDE 698.1
Die krisis is geleidelik besig om ons te bekruip. Die son skyn daarbo en doen sy gewone rondte en die hemele verkondig steeds die heerlikheid van God. Mense eet en drink steeds, plant en bou, trou en gee uit in die huwelik. Handelaars koop en verkoop steeds. Mense verdring mekaar in die strewe na die hoogste posisie. Plesierliefhebbers drom steeds saam by teaters, perdewedrenne en dobbelhole. Die grootste opwinding heers, tog is die proeftyd vinnig besig om ten einde te loop en elke saak is op die punt om vir ewig beslis te word. Satan sien dat sy tyd min is. Hy het al sy agentskappe aan die werk gesit sodat mense verlei, mislei en betower kan word, totdat die genadetyd verby is en die deur van barmhartigheid vir ewig gesluit sal wees. DKvDE 698.2
Plegtig kom die waarskuwingswoorde vanaf die Olyfberg, deur die eeue heen van ons Here tot ons: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien deur swelgery en dronkenskap en die sorge van die lewe beswaar word nie en dié dag julle nie skielik oorval nie.” “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” DKvDE 698.3