Die Koning van die Eeue
Hoofstuk 68 *—In die Buitenste Voorhof
“En daar was sommige Grieke onder die wat opgekom het om op die fees te aanbid; hulle het na Filippus gegaan wat van Betsáida in Galiléa was en hom gevra en gesê: My heer, ons wil Jesus graag sien. Filippus kom en sê dit vir Andreas en Andreas en Filippus vertel dit weer aan Jesus.” DKvDE 679.1
Op hierdie tydstip het die werk van Christus geblyk ‘n volslae mislukking te wees. Hy was die Oorwinnaar in die stryd met die priesters en Fariseërs, maar dit was duidelik dat hulle Hom nooit as die Messias sou aanvaar nie. Die finale skeiding het gekom. Vir Sy dissipels het die saak hopeloos gelyk. Maar Christus het die voleinding van Sy werk genader. Die groot gebeurtenis waarby nie net die Joodse nasie nie, maar die hele wêreld betrek sou word, sou binnekort plaasvind. Toe Christus die gretige versoek hoor: “Ons wil Jesus graag sien... ” wat die honger van die wêreld weerspieël, het Sy gesig verhelder en het Hy gesê: “Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.” In die versoek van die Grieke het Hy die erns van die gevolge van Sy groot offer gesien. DKvDE 679.2
Hierdie manne het uit die Weste gekom om die Verlosser aan die einde van Sy lewe te sien, soos die wyse manne aan die begin uit die Ooste gekom het. Ten tye van Christus se geboorte, was die Joodse volk so behep met hul eie ambisieuse planne, dat hulle nie van Sy koms geweet het nie. Die wyse manne uit ‘n heidense land het met hul geskenke na die krip gekom om die Verlosser te aanbid. So het hierdie Grieke, wat die nasies, stamme en volke van die wêreld verteenwoordig, na Jesus gekom. So sal die volke van alle lande en alle eeue deur die kruis van die Verlosser getrek word. So sal baie “...kom van [die] ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob...” en “...aansit in die koninkryk van die hemele.” (Mattheus 8:11). DKvDE 679.3
Die Grieke het van Christus se triomftog in Jerusalem gehoor. Sommige was van mening en het die tyding versprei, dat Hy die priesters en owerstes uit die tempel verdryf het en dat Hy die troon van Dawid sou bestyg en as koning van Israel sou regeer. Die Grieke wou graag die waarheid aangaande Sy sending te wete kom. “Ons wil Jesus graag sien...” het hulle gesê. Hul versoek is toegestaan. Toe die versoek aan Jesus gerig is, was Hy in die deel van die tempel waar net Jode toegelaat is, maar Hy het na die Grieke in die buitenste voorhof gegaan, waar Hy ‘n persoonlike onderhoud met hulle gevoer het. DKvDE 680.1
Die uur vir die verheerliking van Christus het aangebreek. Hy het in die skadu van die kruis gestaan en die navrae van die Grieke het aan Hom getoon dat die offer wat Hy op die punt was om te bring, baie seuns en dogters na God sou lei. Hy het geweet dat die Grieke Hom binnekort, in ‘n posisie waarvan hulle nie sou kon droom nie, sou sien. Hulle sou Hom langs Barábbas, ‘n rower en moordenaar, sien staan, wat bo die Seun van God vir vrylating gekies sou word. Hulle sou hoor hoe die volk, deur die priesters en owerstes aangehits, hul keuse sou maak. En op die vraag: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus?” sal geantwoord word: “Laat Hom gekruisig word.” (Mattheus 27:22). Deur hierdie versoening vir die sondes van die mens te maak, het Christus geweet dat Hy Sy koninkryk sou vervolmaak en dat dit oor die hele wêreld sou versprei. Hy sou die Hersteller wees en Sy Gees sou oorwin. Vir ‘n oomblik het Hy in die toekoms ingekyk en die stemme in alle dele van die aarde hoor verkondig: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Johannes 1:29). In hierdie vreemdelinge het Hy die belofte van ‘n groot oes, wanneer die skeidsmuur tussen Jood en heiden afgebreek sou word en alle nasies, tale en stamme die boodskap van verlossing sou hoor, gesien. Hierdie verwagting, die voleinding van Sy hoop, word in die volgende woorde uitgedruk: “Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.” DKvDE 680.2
Maar die wyse waarop hierdie verheerliking sou plaasvind, was nooit uit die gedagtes van Christus nie. Die insameling van die heidene sou op sy naderende dood volg. Slegs deur Sy dood kon die wêreld gered word. Soos ‘n koringkorrel, sou die Seun van die mens in die grond gewerp word; maar Hy sou weer lewe. DKvDE 681.1
Christus het sy toekoms geskets en met die verskynsels van die natuur geïllustreer, sodat die dissipels dit sou kon verstaan. Die ware resultaat van Sy sending sou deur Sy dood bereik word. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.” As die koringkorrel in die grond val en sterf, ontkiem dit en dra vrugte. So sou die dood van Christus vrugte vir die koninkryk van God oplewer. In ooreenstemming met die wet van die planteryk, sou lewe die gevolg van Sy dood wees. DKvDE 681.2
Diegene wat die grond bewerk, het hierdie illustrasie altyd voor hulle. Jaar na jaar bewaar die mens sy voorraad graan deur oënskynlik die beste deel daarvan weg te gooi. Dit moet vir ‘n tyd onder die grond geberg word, om deur die Here bewaak te word. Dan verskyn die sprietjie, dan die aar en dan die koring in die aar. Maar dit kan nie gebeur tensy die graan buite sig begrawe word nie, verborge en skynbaar verlore. DKvDE 681.3
Die saad wat in die grond begrawe is, bring vrugte voort en dit word weer geplant. So vermenigvuldig die oes. So sal die dood van Christus op die kruis van Golgota vrugte vir die ewige lewe dra. Die bepeinsing van hierdie offer sal strek tot die heerlikheid van diegene wat, as vrug daarvan, deur die ewigheid sal lewe. DKvDE 681.4
Die koringkorrel wat sy eie lewe bewaar, kan geen vrugte lewer nie. Dit bly alleen. Christus kon, as Hy dit sou verkies, Homself van die van die dood red. Maar indien Hy dit sou doen, sou Hy alleen moes bly. Dan sou Hy geen seuns en dogters na God kon bring nie. Slegs deur Sy lewe op te offer, kon Hy lewe aan die mensdom gee. Slegs deur in die grond te val en te sterf, kon Hy die saad van daardie ontsaglike oes word-die groot menigte wat uit elke nasie, stam, taal en volk vir God vrygekoop sou word. DKvDE 681.5
Met hierdie waarheid verbind Christus die les van selfopoffering wat almal moet leer: “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.” Almal wat vrugte as medewerkers van Christus wil dra, moet eers in die grond val en sterf. Die lewe moet in die akker van die wêreld se nood gegooi word. Liefde vir self en eiebelang moet vergaan. En die wet van selfopoffering is die wet van selfbehoud. Die landbouer bewaar sy graan deur dit weg te gooi. So ook in die lewe van die mens. Om te gee is om te lewe. Die lewe wat behoue sal bly, is die lewe wat vrylik in diens aan God en die mens gegee word. Diegene wat hul lewe ter wille van Christus in hierdie wêreld opoffer, sal dit vir die ewige lewe behou. DKvDE 682.1
Die lewe wat aan self gewy word, is soos graan wat geëet word. Dit verdwyn, maar daar is geen toename nie. ‘n Mens kan soveel moontlik vir homself versamel; hy mag lewe, dink en vir homself beplan; maar sy lewe gaan verby en hy het niks. Die wet van diens aan self is die wet van selfvernietiging. DKvDE 682.2
“As iemand My dien, laat hom My volg: en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.” Almal wat die kruis van opoffering saam met Jesus gedra het, sal met Hom in Sy heerlikheid deel. Die vreugde van Christus in Sy vernedering en pyn was dat Sy dissipels saam met Hom verheerlik sou word. Hulle was die vrug van Sy selfopoffering. Die uitwerking van Sy eie karakter en gees in hulle is Sy beloning en sal tot in ewigheid Sy vreugde wees. Hierdie vreugde deel hulle met Hom namate die vrug van hul arbeid en opoffering in ander harte en lewens gesien word. Hulle is medewerkers van Christus en die Vader sal hulle eer soos Hy Sy Seun eer. DKvDE 682.3
Die boodskap van die Grieke, wat ‘n vooruitskouing van die insameling van die heidene was, het Jesus se hele sending voor Sy gees opgeroep. Die verlossingswerk het voor Hom verbygeflits, vanaf die tyd toe die plan in die hemel gelê was, tot op die dood wat nou so naby was. Dit het voorgekom asof ‘n geheimsinnige wolk die Seun van God omhul. Die mense om Hom kon die somberheid daarvan aanvoel. Hy het in gedagte versonke gesit. Eindelik was die stilte deur Sy bedroefde stem verbreek: “Nou is My siel ontsteld en wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur?” Christus het reeds die beker van bitterheid gedrink. Sy menswees het voor die uur van verlatenheid weggedeins, wanneer Hy in alle waarskynlikheid van God verlate sou wees, wanneer almal Hom sal aanskou, verslaan, deur God getref en geteister. Hy het van die openbare blootstelling weggekrimp, van die feit om soos die ergste misdadiger behandel te word en van ‘n skandelike en eerlose dood. ‘n Voorsmaak van Sy konflik met die magte van die duisternis, ‘n besef van die verskriklike las van menslike oortreding en die toorn van die Vader weens die sonde, het die gees van Jesus laat verflou en ‘n doodse bleekheid het oor Sy gelaat gekom. DKvDE 683.1
Toe volg Goddelike onderwerping aan die wil van Sy Vader. “Maar hierom...” het Hy gesê, “...het Ek in hierdie uur gekom. Vader, verheerlik u Naam!” Slegs deur die dood van Christus kon die koninkryk van Satan omvergewerp word. Slegs op hierdie wyse kon die mens verlos en God verheerlik word. Jesus het tot die foltering toegestem; Hy het die offer aanvaar. Die hemelse Majesteit het ingestem om as die draer van sonde te ly. “Vader, verheerlik U Naam!” het Hy gesê. Toe Christus hierdie woorde spreek, het daar ‘n antwoord uit die wolk wat oor Hom gesweef het gekom: “Ek het dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” Christus se hele lewe, van die krip tot met die tyd toe hierdie woorde gespreek is, het God verheerlik; en in die komende beproewing sou Sy Goddelik-menslike lyding inderdaad Sy Vader se Naam verheerlik. DKvDE 683.2
Toe die stem gehoor word, het ‘n lig uit die wolk gestraal en Christus omhul, asof die arms van Oneindige Mag Hom soos ‘n muur van vuur omvou. Die mense het die toneel met verskrikking en verwondering aanskou. Niemand het dit gewaag om te praat nie. Met swyende lippe en ingehoue asem het hulle met die oë op Jesus gevestig, gestaan. Nadat die getuienis van die Vader gegee is, het die wolk gelig en in die hemele verdwyn. Voorlopig was die sigbare gemeenskap tussen die Vader en die Seun beëindig. DKvDE 684.1
“En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag gewees het. Ander het gesê: ‘n Engel het met Hom gespreek.” Maar die ondersoekende Grieke het die wolk gesien, die stem gehoor, die betekenis daarvan begryp en Christus waarlik onderskei; Hy is aan hulle as die Gestuurde van God geopenbaar. DKvDE 684.2
Die stem van God is tydens die doop van Jesus aan die begin van Sy bediening gehoor en weer met Sy verheerliking op die berg. Nou, aan die einde van Sy bediening, is dit vir die derde keer gehoor, deur ‘n groter aantal mense en onder eienaardige omstandighede. Jesus het pas die mees plegtige waarheid oor die toestand van die Jode verkondig. Hy het Sy laaste oproep gedoen en hul oordeel aangekondig. Nou het God weer Sy seël op die sending van Sy Seun geplaas. Hy het die Een vir wie Israel verwerp het, erken. “Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie...” het Jesus gesê, “...maar om julle ontwil.” Dit was die kroongetuie van Sy Messiasskap, die teken van die Vader dat Jesus die waarheid gepraat het en dat Hy die Seun van God is. DKvDE 684.3
“Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld...” het Christus voortgegaan, “...nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek. En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.” Dit is die krisis van die wêreld. As Ek die versoening vir die sondes van die mensdom word, sal die wêreld verlig word. Satan se houvas op siele van mense sal verbreek word. Die beskadigde beeld van God sal in die mensdom herstel word en ‘n gesin van gelowige heiliges sal uiteindelik die hemelse tuiste beërwe. Dit is die gevolg van Christus se dood. Die Heiland het verlore geraak in die oorpeinsing van die oorwinning wat voor Hom opgeroep was. Hy het die kruis, die wrede, onheilspellende kruis, met al die gepaardgaande verskrikkinge, deur ‘n gloed van heerlikheid omring, gesien. DKvDE 684.4
Maar die werk van verlossing vir die mens was nie al wat deur die kruis bereik is nie. Die liefde van God is aan die heelal geopenbaar. Die vors van hierdie wêreld is uitgewerp. Die beskuldigings wat Satan teen God gebring het, is weerlê. Die smaad wat hy op die hemel gewerp het, was vir ewig verwyder. Engele, sowel as mense word na die Verlosser aangetrek. “Ek, as Ek van die aarde verhoog word...” het Hy gesê, “...sal almal na My toe trek.” DKvDE 685.1
Baie mense was om Christus geskaar toe Hy hierdie woorde geuiter het en een het gevra: “Ons het uit die wet gehoor dat die Christus tot in ewigheid bly; en hoe sê U dat die Seun van die mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die mens? En Jesus sê vir hulle: Nog ‘n klein tydjie is die lig by julle. Wandel so lank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie. En wie in die duisternis wandel, weet nie waar hy gaan nie. So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word.” DKvDE 685.2
“En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie.” Op ‘n keer het hulle die Heiland gevra: “Watter teken doen U dan, sodat ons kan sien en U glo?” (Johannes 6:30). Ontelbare tekens is gegee; maar hulle het hul oë gesluit en hul harte verhard. Selfs noudat die Vader self gespreek het en hulle geen verdere teken kon vra nie, het hulle steeds geweier om te glo. DKvDE 685.3
“Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie.” Hulle het die lof van die mense meer liefgehad as die goedkeuring van God. Om hulself van smaad en skande te red, het hulle Christus verloën en die aanbod van die ewige lewe verwerp. En hoeveel deur al die eeue heen het dieselfde gedoen? Vir hulle geld die waarskuwingswoorde van die Heiland: “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor.” “Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het Een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.” (Johannes 12:48). DKvDE 685.4
Helaas, vir diegene wat nie die tyd van hul besoeking geken het nie! Langsaam en met spyt het Christus die tempel vir altyd verlaat. DKvDE 686.1