Die Koning van die Eeue

68/88

Hoofstuk 67—Wee die Fariseërs *

Dit was die laaste dag van Christus se onderrig in die tempel. Van die groot menigte wat in Jerusalem vergader het, was almal se aandag op Hom toegespits; die volk het die tempel-voorhowe stampvol gepak, die tweestryd wat aan die gang was gadegeslaan en elke woord van Sy lippe gretig opgevang. Nog nooit vantevore het hulle so ‘n toneel aanskou nie. Daar het die jong Galileër gestaan, sonder enige aardse eer of koninklike kenteken. Rondom Hom was die priesters in hul weelderige kleredrag, owerstes met klere en kentekens wat hul verhewe posisie aangedui het en skrifgeleerdes met boekrolle in hul hande, waarna hulle gereeld verwys het. Jesus het rustig voor hulle gestaan, met die waardigheid van ‘n koning. As Een wat met die gesag van die hemel beklee was, het Hy onwrikbaar na Sy teëstanders, wat Sy leringe verwerp en verag het en dorstig vir Sy lewe was, gekyk. Hulle het Hom in groot getalle aangedurf, maar hul planne om Hom te verstrik en te veroordeel was tevergeefs. Hy het een uitdaging na die ander met die suiwere, helder waarheid, in teenstelling met die duisternis en dwalinge van die priesters en Fariseërs trotseer. Hy het aan hierdie leiers hul werklike toestand voorgehou, asook die vergelding wat gewis sou volg indien hulle in hul bose weë sou volhard. Die waarskuwing is getrou gegee. Maar daar het nog ‘n taak op Christus gewag. Nog ‘n doel moes verwesenlik word. DKvDE 665.1

Die belangstelling van die mense in Christus en Sy werk het geleidelik toegeneem. Hulle is deur Sy leer geboei, maar hulle was taamlik verward. Hulle het die priesters en rabbi’s gerespekteer vir hul intelligensie en oënskynlike vroomheid. In alle godsdienstige aangeleenthede het hulle nog altyd hul gesag implisiet gehoorsaam. Tog het hulle aanskou hoe hierdie manne Jesus in ‘n slegte lig probeer stel, ‘n Leermeester wie se deug en kennis helderder na elke aanval geskyn het. Hulle het gesien hoe die priesters en ouderlinge hul hoofde in ongemak en verwarring laat sak. Hulle was verwonderd dat die owerstes nie in Jesus wou glo terwyl Sy leringe so duidelik en eenvoudig was nie. Hulle het self nie geweet watter koers hulle moes inslaan nie. Hulle het met gretige angstigheid die bewegings van die manne wie se raad hulle altyd gevolg het, dopgehou. DKvDE 665.2

In die gelykenisse was dit Christus se doel om die owerstes te waarsku en om die mense wat bereid was om te luister, te onderrig. Maar daar moes nog duideliker gepraat word. Die volk was deur hul eerbied vir tradisie en blinde geloof slawe van ‘n korrupte priesterdom. Hierdie kettings moes Christus verbreek. Die karakter van die priesters, owerstes en Fariseërs moes meer openlik aan die kaak gestel word. DKvDE 666.1

“Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses...” het Hy gesê. “Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie.” Die skrifgeleerdes en Fariseërs het beweer dat hulle met soortgelyke Goddelike gesag soos dié van Moses beklee was. Hulle het hulself in sy posisie as uitlegger van die wet en regter oor die volk aangematig. As sodanig het hulle van die volk die hoogste respek en gehoorsaamheid geëis. Jesus het Sy toehoorders aangeraai om te doen wat die rabbi’s ooreenkomstig die wet geleer het, maar om nie hul voorbeeld te volg nie. Self het hulle nie hul eie leringe uitgeoefen nie. DKvDE 666.2

En hulle het baie dinge geleer wat in stryd met die Skrif was. Jesus het gesê: “Hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie.” Die Fariseërs het ‘n menigte reëls wat op hul tradisie gegrond was en persoonlike vryheid onredelik beperk het, neergelê. En sekere gedeeltes van die wet het hulle vir die mense voorgesit om te onderhou, maar wat hulle heimlik self geïgnoreer het en waarvan hulle, indien dit hulle doel gedien het, vrystelling geëis het. DKvDE 666.3

Dit was hul voortdurende strewe om ‘n vertoon van vroomheid voor te hou. Niks was te heilig om hierdie doel te dien nie. Aan Moses het God aangaande Sy gebooie gesê: “Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees.” (Deuteronomium 6:8). Hierdie woorde het ‘n diep betekenis. Namate die Woord van God oorpeins en uitgeoefen word, sal die hele mens veredel word. In regverdige en barmhartige optrede, sal die hande die beginsels van die wet van God as ‘n seël openbaar. Hulle sal rein van omkoopgeld en alles wat korrup en bedrieglik is wees. Hulle sal aktief in werke van liefde en deernis wees. Die oë wat op ‘n edele doel gerig is, sal helder en opreg wees. Die uitdrukkingsvolle gelaat, die sprekende oog, sal van die vlekkelose karakter van hom wat die Woord van God liefhet en eer, getuig. Maar deur die Jode van Christus se tyd het dit alles onopgemerk verbygegaan. Die opdrag wat aan Moses gegee was, was vertolk as ‘n opdrag dat die gebooie aan die persoon gedra moes word. Hulle is gevolglik op stroke perkament geskryf en opsigtelik aan die voorhoof en polse gebind. Maar dit het nie daartoe bygedra dat die wet van God ‘n vaster greep op die verstand en hart gekry het nie. Hierdie perkamente is bloot as kentekens om aandag te trek, gedra. Die indruk is geskep dat dit aan die draers ‘n houding van toewyding sou verleen wat die respek van die volk sou afdwing. Jesus het hierdie geveinsdheid sterk veroordeel: DKvDE 667.1

“En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges en die begroetings op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi! Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle Leermeester: Christus, en julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle Leermeester: Christus.” In sulke duidelike woorde het die Verlosser die selfsugtige ambisie, wat altyd met ‘n skyn van nederigheid na posisie en mag gestreef het, terwyl die hart met gierigheid en afguns gevul was, openbaar. Wanneer mense na ‘n fees genooi was, het die gaste volgens hul rangorde aangesit en diegene wat die mees eervolle plekke beklee het, het eerste aandag en spesiale gunste ontvang. Die Fariseërs was altyd besig om hierdie eer vir hulself toe te eien. Jesus het hierdie gebruik bestraf. DKvDE 667.2

Hy het ook die ydelheid om die titel van rabbi of meester te begeer, veroordeel. Hy het verklaar dat so ‘n titel mense nie toekom nie, maar Christus. Priesters, skrifgeleerdes en owerstes, uitleggers en administrateurs van die wet, was almal broeders, kinders van een Vader. Jesus het die volk op die hart gedruk dat hulle aan geen mens ‘n titel van eer, wat op sy beheer oor hulle gewete of hul geloof dui, moes gee nie. DKvDE 668.1

As Christus vandag op aarde was, omring deur mense met die titel “eerwaarde” of “hoogeerwaarde” sou Hy nie sy waarskuwing herhaal, “Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle Leermeester: Christus” nie? Die Skrif verklaar van God: “Sy Naam is heilig en vreeslik” (Psalm 111:9). Vir watter mens sou so ‘n titel gepas wees? Hoe weinig openbaar die mens die wysheid en geregtigheid wat hierdie titel te kenne gee! Hoeveel van diegene wat hierdie titel aanvaar, gee ‘n wanvoorstelling van die Naam en karakter van God! Helaas, hoe dikwels is wêreldse ambisie, despotisme en die grootste sondes onder die geborduurde klere van ‘n hoë en heilige amp verberg! Die Verlosser het vervolg: DKvDE 668.2

“Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees. Wie homself verhoog, moet verneder word en wie homself verneder, sal verhoog word.” Christus het herhaaldelik geleer dat ware grootheid aan morele waarde gemeet word. In die oë van die hemel bestaan grootsheid van karakter daarin dat ons vir die welsyn van ons medemens lewe en dat ons werke van liefde en barmhartigheid verrig. Christus, die Koning van heerlikheid, was ‘n dienaar van die gevalle mens. DKvDE 669.1

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.” Deur die Skrif te verdraai, het die priesters en regsgeleerdes die verstand van diegene verblind wat andersins ‘n kennis van die koninkryk van Christus en die innerlike, godgegewe lewe wat onontbeerlik vir ware heiligheid was, sou ontvang het. DKvDE 669.2

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op en doen vir die skyn lang gebede! Daarom sal julle ‘n swaarder oordeel ontvang.” Die Fariseërs het ‘n groot invloed op die volk gehad en het voordeel hieruit getrek om hul eie belange te dien. Hulle het die vertroue van vrome weduwees gewen en dit dan as hul plig voorgehou om hul eiendom aan godsdienstige doeleindes te wy. Nadat hulle beheer oor die geld verkry het, het die listige knoeiers dit vir hul eie voordeel aangewend. Om hul oneerlikheid te bedek, het hulle lang gebede in die openbaar gebid en ‘n groot vertoon van vroomheid gelewer. Hierdie geveinsdheid, het Christus gesê, sou ‘n groter oordeel oor hulle bring. DKvDE 669.3

Dieselfde teregwysing geld vir baie in ons tyd wat ‘n groot vertoon van vroomheid lewer. Hul lewens is deur selfsug en gierigheid beklad, maar tog bedek hulle dit met ‘n kleed van oënskynlike reinheid, waardeur hulle hul medemens tydelik mislei. Maar hulle kan God nie mislei nie. Hy sien elke motief van die hart en sal elkeen volgens sy dade veroordeel. DKvDE 669.4

Christus het misbruik meedoënloos veroordeel, maar was versigtig om nie die verpligtinge te verminder nie. Hy het die selfsug wat die gawes van weduwees uitgebuit en misbruik het bestraf. Terselfdertyd het Hy die weduwee wat haar offergawe na die skatkis van God gebring het geprys. Die mens se misbruik van die geskenk, kon nie God se seën van die gewer afwend nie. DKvDE 670.1

Jesus was in die voorhof waar die skatkiste was en Hy het diegene wat gekom het om hul gawes te bring, dopgehou. Baie van die rykes het groot bedrae gebring, wat hulle met groot vertoon aangebied het. Jesus het hulle met droefheid gadegeslaan, maar geen kommentaar oor hul liberale offers gelewer nie. Sy gelaat het egter opgehelder, toe Hy ‘n arm weduwee huiwerig sien naderkom, asof sy bang was om gesien te word. Terwyl die rykes en hoogmoediges verbybeweeg het om hul offergawes in te gooi, het sy teruggedeins asof sy skaars durf waag het om nader te kom. En tog het sy daarna verlang om ‘n bydra, gering soos dit was, vir die saak wat sy liefhet te maak. Sy het na die gawe in haar hand gekyk. Dit was baie gering in vergelyking met die gawes van diegene rondom haar, maar dit was alles wat sy gehad het. Toe sy haar kans sien, het sy haastig haar twee muntstukke ingegooi, omgedraai en weggehaas. Maar sodoende, het Sy Jesus se oog, wat ernstige op haar gevestig was, gevang. DKvDE 670.2

Die Heiland het Sy dissipels na Hom geroep en hulle aandag op die weduwee se armoede gevestig. Toe hoor sy Sy woorde van lof: “Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het.” Trane van vreugde het haar oë gevul toe sy besef dat haar daad verstaan en gewaardeer word. Baie sou haar aangeraai het om haar geld vir eie gebruik te hou; in die hande van die welgevoede priesters, sou dit onder al die duur geskenke wat na die skatkis gebring word, verlore geraak het. Maar Jesus het haar beweegrede verstaan. Sy het geglo dat die tempeldiens deur God beskik is en was gretig om haar uiterste bes te doen om dit te onderhou. Sy het gedoen wat sy kon en haar daad sou ‘n monument vir alle tye tot haar gedagtenis en tot haar ewige vreugde wees. Haar hart het saam met haar gawe gegaan; die waarde daarvan word nie volgens die waarde van die muntstukke geskat nie, maar deur liefde vir God en die belangstelling in Sy werk wat die daad aangespoor het. DKvDE 670.3

Van die arm weduwee het Jesus gesê: Sy “...het meer ingegooi as almal.” Die rykes het uit hul oorvloed gegee, baie van hulle om deur die mense gesien en geëer te word. Hul groot skenkings het hulle van geen gerief of weelde ontneem nie; dit het geen opoffering van hulle geëis nie en kon nie in waarde met die weduwee se muntstukke vergelyk word nie. DKvDE 671.1

Dit is die motief wat karakter aan ons dade gee en dit as minderwaardig of met hoë morele waarde bestempel. God beskou nie die groot dinge wat elke oog kan sien en elke tong kan prys as die kosbaarste nie. Nietige takies met blymoedigheid verrig, klein geskenkies wat geen indruk maak nie en vir die menslike oog waardeloos voorkom, staan dikwels die hoogste aangeskrewe by Hom. ‘n Hart van geloof en liefde is vir God kosbaarder as die duurste geskenk. Die arm weduwee het haar lewensmiddele gegee om die bietjie te doen wat sy gedoen het. Sy het haarself ontneem om die twee muntstukke vir die saak wat sy liefgehad het te skenk. En sy het dit in geloof gedoen en geglo dat haar Hemelse Vader nie haar groot behoefte sou oorsien nie. Dit was hierdie onselfsugtige gees en kinderlike geloof wat die Heiland se lof gewen het. DKvDE 671.2

Onder die armes is daar baie wat graag hul dank aan God vir Sy genade en waarheid wil betoon. Hulle wil baie graag saam met hul meer welvarende broers deelneem om Sy diens te onderhou. Hierdie siele moet nie afgestoot word nie. Laat hulle hul muntstukke in die hemelse bank belê. As dit uit ‘n hart vol liefde vir God kom, word hierdie skynbare onbenullige gewyde gawes kosbare offers, wat God laat glimlag en seën. DKvDE 671.3

Toe Jesus van die weduwee gesê het: Sy “...het meer ingegooi as almal...” was Sy woorde waar, nie slegs oor die motief nie, maar ook die gevolge van haar geskenk. Die twee geldstukke wat saam ‘n oortjie maak, het ‘n groter bedrag in die skatkis van God ingebring as die bydraes van daardie ryk Jode. Die invloed van daardie geskenkie was soos ‘n stroom wat klein begin het, maar algaande deur die eeue wyer en dieper gevloei het. Op ‘n duisende maniere het dit bygedra tot die versorging van die armes en die verspreiding van die evangelie. Haar voorbeeld van selfopoffering het in duisende harte in elke land en eeu reaksie uitgelok. Dit het beide die rykes en die armes aangespoor en hul offergawes het die waarde van haar gawe laat uitswel. Die seën van God op die weduwee se muntstukke het dit die bron van groot resultate gemaak. Dit geld vir elke geskenk en elke daad wat met ‘n opregte begeerte om God te verheerlik, uitgevoer word. Dit word aan die doelwitte van die Almagtige gekoppel. Die resultate ten goede kan geen mens bepaal nie. DKvDE 672.1

Die Heiland het voortgegaan met Sy veroordeling oor die skrifgeleerdes en Fariseërs: “Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel-dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig? En: Elkeen wat sweer by die altaar-dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die gawe, of die altaar wat die gawe heilig?” Die priesters het God se vereistes volgens hul eie valse en eng standaarde vertolk. Hulle het hulle hul aangematig om onderskeid tussen verskillende sondes te tref, waarvan sommiges gering geag is en andere, wat moontlik minder belangrik was, as onvergeeflik bestempel is. Vir geldelike oorweging het hulle mense van hul geloftes vrygestel. En vir groot bedrae geld het hulle soms ernstige misdade oor die hoof gesien. Terselfdertyd sou hierdie priesters en owerstes in ander gevalle ‘n ernstige oordeel oor onbenullige oortredings uitspreek. DKvDE 672.2

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle na: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.” Met hierdie woorde veroordeel Christus weer die misbruik van heilige verpligtinge. Hy stel nie die verpligting self ter syde nie. Die tiende-stelsel is deur God ingestel en is van die vroegste tye af waargeneem. Abraham, die vader van die gelowiges, het tiendes van alles wat hy besit het betaal. Die Joodse owerstes het die verpligting om tiendes te betaal erken en dit was korrek; maar hulle het dit nie aan die volk oorgelaat om hul verpligting volgens eie oortuiging na te kom nie. Arbitrêre reëls is vir elke saak neergelê. Die vereistes het so ingewikkeld geraak dat dit onmoontlik was om daaraan te voldoen. Niemand het geweet of hulle hul verpligtinge nagekom het of nie. Soos God dit ingestel het, was die stelsel regverdig en redelik; maar die priesters en rabbi’s het dit ‘n moeisame las gemaak. DKvDE 673.1

Alles wat God beveel is van belang. Christus het die betaling van tiendes as ‘n plig erken; maar Hy het getoon dat dit geen verskoning vir die versuim van ander pligte was nie. Die Fariseërs was baie presies in die betaling van tiendes van kruie soos kruisement, anys en koljander; dit het hulle min gekos, en aan hulle ‘n reputasie vir noulettendheid en heiligheid besorg. Terselfdertyd het hul nuttelose beperkings die volk onderdruk en eerbied vir die heilige stelsel van God vernietig. Hulle het die mense se gedagtes met onbeduidende onderskeidings besig gehou en hul aandag van noodsaaklike waarhede weggedraai. Die gewigtiger aangeleenthede van die wet, naamlik geregtigheid, genade en waarheid, is verwaarloos. “Hierdie dinge...” het Christus gesê, “...behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.” DKvDE 673.2

Ander wette is op dieselfde wyse deur die rabbi’s verdraai. In die opdragte wat deur Moses gegee was, was dit verbode om enige onrein ding te eet. Die gebruik van varkvleis en die vleis van sekere ander diere was verbode, omdat dit waarskynlik die bloed onsuiwer kon maak en die lewe kon verkort. Maar die Fariseërs het hierdie opdragte nie daar gelaat nie. Hulle het tot ongeregverdigde uiterstes gegaan. Die mense moes onder meer al die water wat hulle gebruik het filtreer, sodat dit nie die kleinste insek wat as onrein geklassifiseer was, sou bevat nie. Jesus het hierdie onbenullige optrede met die omvang van hul werklike sondes gekontrasteer en vir die Fariseërs gesê: “Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif maar die kameel insluk!” DKvDE 674.1

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.” Soos die gewitte en pragtig versierde grafte die ontbindende oorskot binne verberg het, so het die uiterlike vroomheid van die priesters en owerstes hul ongeregtigheid verberg. Jesus het vervolg: DKvDE 674.2

“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges; en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie. Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het.” Om hul agting vir die afgestorwe profete te toon, het die Jode groot ywer aan die dag gelê om hul grafte te versier; maar hulle het nie by hul leer gebaat of op hul vermanings ag geslaan nie. DKvDE 674.3

In die dae van Christus is ‘n bygelowige respek vir die rusplekke van die dode gekoester en is groot bedrae geld aan die versiering daarvan bestee. In die oë van God was dit afgodery. In hul oordrewe respek vir die dode het die mense getoon dat hulle God nie bo alles liefhet nie en ook nie hul naaste soos hulself nie. Dieselfde afgodery word vandag tot die uiterste gevoer. Baie is daaraan skuldig dat hulle die weduwee en wese, die siekes en die armes verwaarloos om duur monumente vir die dooies te bou. Tyd, geld en arbeid word vryelik hieraan bestee, terwyl pligte teenoor die lewendes-pligte wat Christus ons duidelik opgelê het-ongedaan gelaat word. DKvDE 674.4

Die Fariseërs het die grafte van die profete gebou en versier en vir mekaar gesê: As ons in die dae van ons voorvaders geleef het, sou ons nie met hulle verenig het om die bloed van die dienaars van God te vergiet nie. Terselfdertyd was hulle van plan om die lewe van Sy Seun te neem. Dit behoort vir ons ‘n les te wees. Dit behoort ons oë vir die mag van Satan, om die verstand van die lig van die waarheid weg te keer, te open. Baie volg in die spore van die Fariseërs. Hulle eerbiedig die wat vir hul geloof gesterf het. Hulle verwonder hulle oor die blindheid van die Jode om Christus te verwerp. As ons in Sy tyd geleef het, sê hulle, sou ons Sy leer met graagte aangeneem het; ons sou nooit deel gehad het aan die skuld van diegene wat die Verlosser verwerp het nie. Maar wanneer gehoorsaamheid aan God selfverloëning en vernedering vereis, onderdruk hierdie mense hul oortuigings en weier hulle gehoorsaamheid. Sodoende openbaar hulle dieselfde gees as die Fariseërs wat Christus veroordeel het. DKvDE 675.1

Min het die Jode die verskriklike verantwoordelikheid wat betrokke is by die verwerping van Christus besef. Sedert die eerste onskuldige bloed vergiet was, toe die regverdige Abel deur die hand van Kain geval het, is dieselfde geskiedenis met toenemende skuld herhaal. In elke eeu het profete hul stemme teen die sondes van konings, owerstes en die volk verhef, deur die woorde te spreek wat God aan hulle gegee het en hul eie lewens in gevaar gestel om Sy wil te gehoorsaam. Van geslag tot geslag het ‘n verskriklike straf opgehoop vir die verwerpers van lig en waarheid. Dit het die vyande van Christus nou oor hul eie hoof gebring. Die sonde van die priesters en owerstes was groter as die van die vorige generasie. Deur hul verwerping van die Verlosser, het hulle hulself verantwoordelik gemaak vir die bloed van al die regverdige mense wat vanaf Abel tot Christus gedood is. Hulle was op die punt om hul beker van ongeregtigheid tot oorlopens toe vol te maak. En binnekort sou dit in ‘n vergeldende geregtigheid oor hul koppe losbars. Jesus het hulle hieroor gewaarsku: DKvDE 675.2

“Sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Beregja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.” DKvDE 676.1

Die skrifgeleerdes en Fariseërs wat na Jesus geluister het, het geweet dat Sy woorde waar was. Hulle het geweet hoe die profeet Sagaria gedood is. Terwyl die woorde van waarskuwing van God nog op Sy lippe was, het ‘n sataniese woede die afvallige koning aangegryp en op sy bevel is die profeet doodgemaak. Sy bloed was onuitwisbaar op die stene van die tempelvoorhof ingeëts; en daar het dit as getuienis teen die afvallige Israel gebly. Vir solank die tempel sou bly staan, sou die vlek van daardie regverdige bloed daar wees wat tot God roep om wraak te neem. Toe Jesus na hierdie verskriklike sondes verwys het, het ‘n siddering van afgryse deur die skare getrek. DKvDE 676.2

In ‘n toekomsblik het Jesus verklaar dat die onboetvaardigheid van die Jode en hul onverdraagsaamheid teenoor die dienaars van God in die toekoms dieselfde as in die verlede sou wees: DKvDE 676.3

“Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg.” Profete en wyse manne, naamlik Stefanus, Jakobus en vele ander, vol van geloof en die Heilige Gees, sou veroordeel en gedood word. Met die hand na die hemel opgehef en ‘n Goddelike lig wat Sy persoon omhul, het Christus as Regter oor diegene voor Hom gespreek. Sy stem, wat so dikwels in sagmoedigheid en smeking gehoor was, is nou in teregwysing en veroordeling gehoor. Die luisteraars het gesidder. Die indruk wat deur Sy woorde en Sy voorkoms gemaak is, sou onuitwisbaar bly. DKvDE 676.4

Christus se verontwaardiging was teen die skynheiligheid en die verregaande sondigheid waardeur die mense hul eie siele vernietig, die volk mislei en God oneer aangedoen het. In die skoonklinkende, drogredenasies van die priesters en owerstes, het Hy die werking van sataniese magte onderskei. Sy veroordeling van sonde was skerp en deurtastend; maar Hy het geen woorde van vergelding geuiter nie. Hy het ‘n heilige toorn teenoor die vors van die duisternis gekoester; maar Hy het geen geïrriteerde humeur aan die dag gelê nie. Aldus sal die Christen wat in harmonie met God leef en die lieflike hoedanighede van liefde en barmhartigheid besit, ‘n regverdige verontwaardiging teenoor sonde koester; maar hy sal nie opgewerk word tot ‘n passie om teen diegene wat hom belaster uit te vaar nie. Selfs wanneer hy voor hulle te staan kom wat deur ‘n sataniese mag gelei word om valsheid te handhaaf, sal hy steeds kalmte van gees en selfbeheersing toepas. DKvDE 677.1

Goddelike ontferming het die aangesig van die Seun van God gekenmerk toe Hy ‘n lang blik oor die tempel en daarna oor Sy gehoor werp. In ‘n stem wat van foltering en bitter trane verstik, het Hy uitgeroep: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak en julle wou nie!” Dit was die worsteling van afskeid. In die klaaglied van Christus was die hart van God self uitgestort. Dit was die onbegryplike afskeid van die lankmoedige liefde van die Godheid. DKvDE 677.2

Beide Fariseërs en Sadduseërs is stilgemaak. Jesus het Sy dissipels ontbied en Hom gereed gemaak om die tempel te verlaat, nie soos Een wat verslaan en uit die teenwoordigheid van Sy teëstanders gedwing was nie, maar soos Een wie se werk afgehandel was. Hy het as Oorwinnaar uit die stryd getree. DKvDE 677.3

Kosbare waarhede wat op daardie gebeurtenisvolle dag uit die mond van Christus gehoor is, is diep in baie harte bewaar. Vir hulle is nuwe gedagtes vir die lewe ontketen, nuwe aspirasies opgewek en het ‘n nuwe geskiedenis begin. Na die kruisiging en opstanding van Christus het hierdie mense na vore gekom en hul Goddelike opdrag met ‘n wysheid en ywer uitgevoer, wat in ooreenstemming met die grootsheid van hul werk was. Hulle het ‘n boodskap verkondig wat die harte van mense aangespreek het en wat die ou bygelowe wat die lewens van duisende vir lank verdwerg het, verswak het. Voor hul getuienis het menslike teorieë en filosofieë soos leë fabels geword. Magtige resultate het uit die woorde wat die Verlosser voor daardie verbaasde, betowerde skare in die tempel van Jerusalem gespreek het, voortgevloei. DKvDE 678.1

Maar Israel as volk het hulself van God geskei. Die natuurlike takke van die olyfboom is afgebreek. Jesus het vir die laaste keer na die binnekant van die tempel gekyk en met droefheid gesê: “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Tot dusver het Hy die tempel Sy Vaderhuis genoem; maar nou, wanneer die Seun van God daardie gebou verlaat, sou die teenwoordigheid van God vir ewig uit die tempel, wat tot Sy eer gebou was, onttrek. Voortaan sou die seremonies betekenisloos wees en die dienste ‘n bespotting. DKvDE 678.2