Die Koning van die Eeue

67/88

Hoofstuk 66 *—Stryd

Die priesters en owerstes het in stilte Christus se skerp teregwysings aangehoor. Hulle kon Sy beskuldigings nie weerlê nie. Maar hulle was net meer vasbeslote om Hom vas te trek en met hierdie doel voor oë het hulle spioene na Hom gestuur “...wat geveins het dat hulle regverdig was, sodat hulle Hom op ‘n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur.” Hulle het nie die ouer Fariseërs met wie Jesus dikwels te doen gekry het gestuur nie, maar jong manne wat vurig en ywerig was en wat nie, soos hulle gedink het, aan Christus bekend was nie. Hulle is deur sommige van die Herodiane vergesel, wat na die woorde van Christus moes luister, sodat hulle tydens Sy verhoor teen Hom kon getuig. Die Fariseërs en Herodiane was aartsvyande, maar in hul vyandigheid teenoor Christus was hulle verenig. DKvDE 654.1

Die belasting aan die Romeine het altyd aan die Fariseërs geskaaf. Die betaling van belasting was, volgens hulle, strydig met die wet van God. Hierin het hulle nou ‘n geleentheid gesien om vir Jesus ‘n strik te stel. Die spioene het met geveinsde opregtheid na Hom gekom en, asof hulle wou te wete kom wat hulle plig was, het hulle gesê: “Meester, ons weet dat U reguit praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer-is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?” DKvDE 654.2

Die woorde: “...ons weet dat U reguit praat en leer...” sou, indien dit opreg was, ‘n prysenswaardige erkenning gewees het. Maar hulle is geuiter om te bedrieg; nietemin was die getuienis waar. Die Fariseërs was terdeë bewus daarvan dat Jesus reguit praat en leer en dat hulle deur hul eie getuienis veroordeel sal word. DKvDE 654.3

Diegene wat Jesus ondervra het, het gedink dat hulle hul doel genoegsaam versluier het; maar Jesus het hul gedagtes soos ‘n oop boek gelees en regdeur hul geveinsdheid gesien. “Waarom versoek julle My?” het Hy gesê en hulle sodoende ‘n ongevraagde teken gegee dat Hy hul verborge motiewe kon lees. Hulle was nog meer verward toe Hy hulle vra: “Wys My ‘n penning.” Hulle het een te voorskyn gehaal en toe vra Hy hulle: “‘Wie se beeld en opskrif het dit?” Hulle antwoord en sê: “Die keiser s'n.” Jesus het na die inskripsie op die muntstuk gewys en gesê: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.” DKvDE 655.1

Die spioene het verwag dat Jesus hulle regstreeks op een of ander wyse sou beantwoord. Indien Hy sou sê dat dit onwettig was om aan die keiser belasting te betaal, sou hulle Hom by die Romeinse owerhede aangekla en laat arresteer het, omdat Hy rebellie aangehits het. Maar ingeval Hy dit wettig sou verklaar om belasting te betaal, was hulle van plan om Hom by die volk aan te kla dat Hy die wet van God teëstaan. Maar nou was hulle uitoorlê en verslaan. Hul planne was ontwrig. Die summiere antwoord op hul vraag het hulle woordeloos gelaat. DKvDE 655.2

Christus se antwoord was geen ontwyking nie maar ‘'n openhartige antwoord op die vraag. Terwyl Hy die Romeinse muntstuk waarop die naam en beeld van die keiser gestempel was in Sy hand hou, het Hy verklaar dat hulle, aangesien hulle onder die beskerming van die Romeinse mag verkeer het, die steun wat deur hulle vereis word aan hulle verskuldig was, solank dit nie in stryd met ‘n Hoër verpligting was nie. Maar terwyl hulle vreedsaam aan die landswette onderhewig moes wees, moes hulle te alle tye hul hoogste trou aan God bewys. DKvDE 655.3

Die Heiland se woorde: “Betaal ... aan God wat God toekom...” was ‘n ernstige bestraffing vir die listige Jode. As hulle hul verpligtinge teenoor God getrou nagekom het, sou hulle nie ‘n gebroke nasie, onderworpe aan ‘n vreemde moondheid, geword het nie. Geen Romeinse vaandel sou oor Jerusalem gewapper en geen Romeinse wag sou voor sy poorte gestaan het nie. Geen Romeinse goewerneur sou binne sy mure regeer het nie. Die Joodse volk het op daardie stadium die straf vir hulle afvalligheid van God uitgedien. DKvDE 655.4

Toe die Fariseërs Christus se antwoord hoor, was hulle “...verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan.” Hy het hul huigelary en verwaandheid bestraf en hierdeur het Hy ‘n belangrike beginsel neergelê, wat die perke van die mens se plig teenoor die burgerlike regering en sy plig teenoor God duidelik bepaal. In baie gedagtes is ‘n kwellende vraag besleg. Sedertdien het hulle altyd die regte beginsel gehandhaaf. En hoewel hulle baie ontevrede daar weggegaan het, het hulle besef dat die beginsel onderliggend aan die vraag, duidelik uiteengesit is en hulle verwonder oor Christus se vêrsiende insig. DKvDE 656.1

Die Fariseërs was nouliks die swye opgelê toe die Sadduseërs met hul listige vrae opdaag. Die twee partye het in bitter opposisie teenoor mekaar gestaan. Die Fariseërs was streng aanhangers van tradisie. Hulle was nougeset ten opsigte van uiterlike seremonies, ywerig om te was, te vas en lang gebede te bid en was grootdoenerig in aalmoese. Maar Christus het verklaar dat hulle die wet van God kragteloos gemaak het deur die gebooie van mense te leer. As ‘n klas was hulle bedrieglik en skynheilig; tog was daar onder hulle persone van opregte vroomheid, wat die leringe van Christus aangeneem het en Sy dissipels geword het. Die Sadduseërs het die tradisies van die Fariseërs verwerp. Hulle het bely dat hulle die grootste gedeelte van die Skrif glo en dit as die reël van hul optrede beskou; maar in die praktyk was hulle skeptici en materialiste. DKvDE 656.2

Die Sadduseërs het die bestaan van engele, die opstanding uit die dode en die leerstelling van ‘n hiernamaals met sy beloning en straf ontken. Hulle het oor al hierdie punte met die Fariseërs verskil. Tussen die twee partye was veral die opstanding ‘n onderwerp van omstredenheid. Die Fariseërs was vas oortuig van die opstanding, maar in hierdie besprekings het hul siening aangaande die toekomstige toestand verward geraak. Die dood het vir hulle ‘n onverklaarbare raaisel geword. Hulle onvermoë om die argumente van die Sadduseërs die hoof te bied, het aanleiding tot voortdurende wrywing veroorsaak. Die besprekings tussen die twee partye het gewoonlik tot heftige geskille gelei, wat hulle verder uitmekaar as voorheen gedryf het. DKvDE 656.3

In getalle was die Sadduseërs baie minder as hul teenstanders en hulle het nie so ‘n sterk houvas op die volk gehad nie; maar baie van hulle was welgesteld, met die invloed wat rykdom meebring. Uit hul geledere was meeste van die priesters en gewoonlik ook die hoëpriester gekies. Dit was egter met die uitdruklike bepaling dat hulle skeptiese menings nie prominent moes word nie. Vanweë die getal en gewildheid van die Fariseërs, was dit nodig dat die Sadduseërs, wanneer hulle ‘n priesterlike amp beklee het, uiterlik aan hul leerstellings toegegee het; maar die blote feit dat hulle vir sodanige amp in aanmerking gekom het, het ‘n invloed op hul dwalinge gehad. DKvDE 657.1

Die Sadduseërs het die leer van Jesus verwerp; Hy is deur ‘n gees besiel, wat hulle nie, as dit sodanig sou manifesteer, erken het nie; en Sy leer aangaande God en die toekomstige lewe het hul teorieë weerspreek. Hulle het in God, as die enigste Wese wat meerderwaardig teenoor die mens was, geglo; maar het geredeneer dat ‘n oorheersende Voorsienigheid en Goddelike versiendheid die mens van sy vrye morele gesag sou ontneem en hom sou verlaag tot die posisie van ‘n slaaf. Hulle het geglo dat God, nadat Hy die mens geskape het, hom aan homself oorgelaat het, onafhanklik van ‘n Hoër invloed. Hulle het gemeen dat die mens vry was om sy eie lewe te beheer en die gebeure in die wêreld te vorm; dat sy lot in sy eie hande was. Hulle het ontken dat die Gees van God deur menslike pogings of deur natuurlike dinge werk. Tog was hulle van die oortuiging dat, deur die behoorlike aanwending van sy natuurlike kragte, die mens verhewe en verlig kon word; dat sy lewe deur streng optrede gesuiwer kon word. DKvDE 657.2

Hul idees van God het hul eie karakter gevorm. Volgens hulle siening het Hy geen belangstelling in die mens gehad nie, dus het hulle weinig belangstelling in mekaar getoon; daar was min samehorigheid tussen hulle. Omdat hulle geweier het om die invloed van die Heilige Gees op menslike optrede te erken, het Sy krag in hul lewens ontbreek. Soos die res van die Jode, het hulle baie op hul eersgeboortereg as kinders van Abraham geroem en dat hulle streng aan die vereistes van die wet voldoen; maar dit het hulle ontbreek aan die ware gees van die wet en die geloof en welwillendheid van Abraham. Hul natuurlike simpatie was in ‘n nou kompas saamgetrek. Hulle het geglo dat dit vir alle mense moontlik was om die geriewe en seëninge van die lewe te bekom; en hulle harte is nie deur die behoeftes en lyding van andere geraak nie. Hulle het vir hulself geleef. DKvDE 658.1

Deur Sy woorde en werke het Christus van ‘n Goddelike krag getuig wat bonatuurlike resultate lewer, van ‘n toekomstige lewe in die hiernamaals, van God as Vader van die mensekinders wat altyd oor hul ware belange waak. Hy het die werking van Goddelike krag in welwillendheid en ontferming, wat die selfsugtige afsydigheid van die Sadduseërs bestraf het, geopenbaar. Hy het geleer dat God die hart, deur die Heilige Gees, vir beide sy tydelike en ewige beswil beïnvloed. Hy het die dwaling, om op menslike krag vir die vernuwing van karakter wat slegs deur God bewerk kan word te vertrou, getoon. DKvDE 658.2

Die Sadduseërs was vasberade om hierdie leerstelling te diskrediteer. In hulle strewe om in ‘n geskil met Jesus betrokke te raak, was hulle vol vertroue om Hom in onguns te bring, selfs al kon hulle nie Sy veroordeling verseker nie. Die opstanding was die onderwerp waarop hulle besluit het om Hom te bevraagteken. Indien Hy met hulle sou saamstem, sou Hy die Fariseërs verdere aanstoot gee. Sou Hy van hulle verskil, het hulle beplan om Sy lering as belaglik voor te hou. DKvDE 658.3

Die Sadduseërs het geredeneer dat as die liggaam in sy sterflike en onsterflike toestand, uit dieselfde partikels van materie sou bestaan, dat dit dan, wanneer dit uit die dood opgewek word uit vlees en bloed sou bestaan en dat die tydelike lewe wat onderbreek was, in die ewige lewe hervat sou word. In daardie geval, het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat aardse verhoudings hervat sou word, dat man en vrou herenig sou word, dat huwelike voltrek sou word en dat alles, soos dit voor die dood was, sou voortgaan, terwyl die gebreke en hartstogte van hierdie lewe, in die hiernamaals voortgesit sou word. DKvDE 659.1

In antwoord op hulle vrae het Jesus die sluier oor die toekomstige lewe gelig. “In die opstanding...” het Hy gesê, “...trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.” Hy het getoon dat die Sadduseërs verkeerd was in wat hulle geglo het. Hulle voorveronderstelling was vals. “Julle dwaal...” het Hy bygevoeg, “...omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” Hy het hulle nie, soos met die Fariseërs, van huigelary beskuldig nie, maar van ‘n dwaling van geloof. DKvDE 659.2

Die Sadduseërs het hulself gevlei dat hulle, van alle mense, die Skrif die strengste nagekom het. Maar Jesus het aan hulle getoon dat hulle nie die ware betekenis geken het nie. Daardie kennis moet deur die verligting van die Heilige Gees in die hart tuisgebring word. Hulle onkunde aangaande die Skrif en die krag van God, het Hy verklaar, was die oorsaak van hul verwarring tussen geloof en geestelike duisternis. Hulle het probeer om die verborgenhede van God binne die kompas van hul verganklike redenasies te bring. Christus het ‘n beroep op hulle gedoen om hulle verstand vir die heilige waarhede oop te stel, wat hul begrip sou verbreed en versterk. Duisende word ongelowig omdat hul verganklike verstand nie die verborgenhede van God kan begryp nie. Hulle kan nie die wonderbaarlike betoning van Goddelike mag in Sy voorsienigheid verklaar nie en verwerp daarom die bewyse van sodanige mag en skryf dit aan natuurlike kragte toe, wat hulle nog minder kan begryp. Die enigste sleutel tot die verborgenhede wat ons omring, is om daarin die volle teenwoordigheid en krag van God te erken. Mense moet God as die Skepper van die heelal erken, Een wat alle dinge beveel en uitvoer. Hulle benodig ‘n breër beskouing van Sy karakter en die verborgenheid van Sy metodes. DKvDE 659.3

Christus het aan sy toehoorders verklaar dat indien daar geen opstanding van die dode sou wees nie, die Skrif waarin hulle beweer dat hulle glo, van geen nut sou wees nie. Hy het gesê: “En wat die opstanding van die dode betref-het julle nie in die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.” God beskou die dinge wat nie bestaan nie, asof hulle bestaan. Hy sien die einde vanaf die begin en aanskou die resultate van Sy werk asof dit reeds volbring is. Die dierbare afgestorwenes, vanaf Adam tot met die laaste heilige wat sal sterf, sal die stem van die Seun van God hoor en sal uit die graf tot die onsterflike lewe te voorskyn kom. God sal hulle God wees en hulle sal Sy volk wees. Daar sal ‘n hegte en tere verhouding tussen God en die opgestane heiliges wees. Hierdie toestand, wat in Sy doelwit verwag word, Sien Hy aan asof dit reeds bestaan. Die dode lewe in Hom. DKvDE 660.1

Die Sadduseërs is deur die woorde van Christus die swye opgelê. Hulle kon Hom nie antwoord nie. Daar was nie ‘n woord geuiter waaruit die geringste voordeel tot Sy veroordeling getrek kon word nie. Sy teëstanders het niks anders as die minagting van die volk gewen nie. DKvDE 660.2

Die Fariseërs het egter nog nie moed opgegee om Hom tot ‘n uitlating wat hulle teen Hom kon gebruik uit te lok nie. Hulle het ‘n sekere skrifgeleerde oorreed om Jesus te bevraagteken oor watter van die tien voorskrifte van die wet die belangrikste was. DKvDE 661.1

Die Fariseërs het die eerste vier gebooie, wat na die plig van die mens teenoor sy Skepper wys, van veel groter belang as die ander ses, wat die plig van die mens teenoor sy medemens omskryf, beskou. Gevolglik het hulle grootliks in praktiese godsvrug misluk. Jesus het die volk op hul groot tekortkoming gewys en hulle die noodsaaklikheid van goeie werke geleer en gesê dat die boom aan sy vrugte geken word. Om hierdie rede het hulle Hom daarvan beskuldig dat Hy die laaste ses gebooie voor die eerste vier verhef het. DKvDE 661.2

Die regsgeleerde het Jesus met ‘n regstreekse vraag genader: “Wat is die eerste gebod van almal?” Christus se antwoord was direk en kragtig: “Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.” Die tweede, het Christus gesê, is soos die eerste, want dit vloei daaruit voort: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.” “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” DKvDE 661.3

Die eerste vier van die Tien Gebooie word in die een groot beginsel saamgevat: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart...” Die laaste ses word in die ander opgeneem: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Albei hierdie gebooie is ‘n uitdrukking van die beginsel van liefde. Die eerste een kan nie onderhou en die tweede verbreek word nie en die tweede kan ook nie onderhou word terwyl die eerste verbreek word nie. Wanneer God sy regmatige plek op die troon van die hart beklee, sal die regte plek ook aan ons naaste gegee word. En slegs na mate ons God bo alles liefhet, is dit moontlik om ons naaste lief te hê. DKvDE 661.4

En aangesien al die gebooie in liefde tot God en die mens saamgevat word, volg dit dat nie een voorskrif verbreek kan word sonder om hierdie beginsel te oortree nie. So het Christus Sy toehoorders geleer dat die wet van God nie soveel afsonderlike voorskrifte is, waarvan sommige van groot belang is, terwyl ander minder belangrik is en ongestraf verontagsaam kan word nie. Ons Here stel die eerste vier en die laaste ses as ‘n Goddelike geheel voor en leer dat liefde tot God deur gehoorsaamheid aan al Sy gebooie betoon word. DKvDE 662.1

Die skrifgeleerde wat Jesus ondervra het, was goed gelese met die wet en hy was verbaas oor Sy woorde. Hy het nie van Hom verwag om so ‘n diep en deeglike kennis van die Skrif te openbaar nie. Hy het ‘n wyer begrip van die beginsels wat die heilige voorskrifte onderskraag gekry. Voor die vergaderde priesters en owerstes het hy eerlik erken dat Christus die wet reg vertolk het deur te sê: DKvDE 662.2

“Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God Een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers.” DKvDE 662.3

Die wysheid van Christus se antwoord het die skrifgeleerde oortuig. Hy het geweet dat die Joodse godsdiens uit uiterlike seremonies, eerder as uit innerlike vroomheid bestaan het. Hy was tot ‘n mate van bewus van die nutteloosheid van blote seremoniële offers en bloedvergieting sonder geloof vir die uitdelging van sonde. Liefde en gehoorsaamheid aan God en onselfsugtige agting vir die mens, het vir hom van meer waarde as al hierdie rituele voorgekom. Die bereidheid van hierdie man om die korrektheid van Christus se redenasie te erken en sy besliste en spontane reaksie voor die volk, het ‘n heel ander gees as dié van die priesters en owerstes geopenbaar. Jesus se hart het na hierdie eerlike skrifgeleerde wat dit gewaag het om die ontevredenheid van die priesters en die dreigemente van die owerstes te trotseer en die oortuigings van sy hart te bely, uitgegaan. “Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie.” DKvDE 662.4

Die skrifgeleerde was na aan die koninkryk van God, deurdat hy besef het dat dade van geregtigheid vir God aanneemliker as brandoffers en offergawes is. Maar hy moes die Goddelike karakter van Christus erken en deur geloof in Hom krag ontvang om werke van geregtigheid te doen. Die rituele diens was van geen waarde tensy dit in ‘n lewende geloof met Christus verbind was nie. Selfs die morele wet slaag nie in sy doel tensy dit in verhouding tot die Verlosser verstaan word nie. Christus het herhaaldelik getoon dat Sy Vader se wet iets dieper as blote gesaghebbende opdragte bevat. Dieselfde beginsel wat in die evangelie geopenbaar word, is in die wet vergestalt. Die wet wys op die mens se plig en wys hom op sy skuld. Hy moet hom na Christus wend vir vergifnis en krag om te doen wat die wet bepaal. DKvDE 663.1

Die Fariseërs het nader gestaan toe Jesus die skrifgeleerde se vraag beantwoord. Toe het Hy omgedraai en hulle gevra: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” Hierdie vraag was bedoel om hul geloof aangaande die Messias te toets-om aan te toon of hulle Hom bloot as ‘n mens of as die Seun van God beskou. ‘n Koor van stemme het geantwoord: “Dawid s'n.” Dit was die titel wat deur die profesie aan die Messias gegee is. Toe Jesus Sy Godheid deur Sy magtige wonderwerke openbaar het, toe Hy siekes genees en die dooies opgewek het, het die volk onder mekaar gevra: “Is dit nie die Seun van Dawid nie?” Die Siro-Feniciese vrou, die blinde Bartimeus en baie ander het tot Hom om hulp geroep: “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid!” (Mattheus 15:22). Toe Hy Jerusalem binnegery het, was Hy met die vreugdevolle geroep begroet: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Mattheus 21:9). En die kindertjies in die tempel het daardie dag die blye woorde weergalm. Maar baie wat Jesus die Seun van Dawid genoem het, het nie Sy Goddelikheid herken nie. Hulle het nie begryp dat die Seun van Dawid ook die Seun van God was nie. DKvDE 663.2

In antwoord op die verklaring dat Christus die Seun van Dawid was, het Jesus gesê: “Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees [die Gees van Ingewing van God] Here noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan My regterhand tot Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete: As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun? En niemand kon Hom ‘n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.” DKvDE 664.1